Читать книгу Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe) - Anchien Troskie as Elbie Lötter - Страница 9
ОглавлениеDie pad lê donker, eindeloos voor my. Soos my lewe. Nee, soos my lewe was. In die vroeë môreure gaan dit verander. Ek gaan dit verander. Voor die son môre opkom, sal dit soos ’n hergeboorte wees. Ek gaan hom in die oë kyk, ek gaan hom laat boet. My hergeboorte lê ’n paar uur vorentoe. Alleen, net met myself. So sal dit wees. Ek, Anna. Alleen. En gelukkig. Nog vier uur, ek is halfpad. Moet ek stop vir nog koffie? Ek gaan nie kan wakker bly nie. My kop moet môre oop wees, ek sal móét stop. Dis ’n klein dorpie en nêrens is iets oop nie. Selfs nie eens die petrolpompe nie. Deurdruk tot op Aliwal-Noord? Ja, ek sal moet.
My ma het my die volgende oggend een kyk gegee en teruggestuur bed toe. Daarna het sy die dokter gebel.
“Wat is fout, ounooi?”
Dokter Cloete was ’n ouerige man, hy het vir my gelyk soos die oupa wat ek nooit geken het nie, hy het ’n sagte stem gehad, soos oupas veronderstel is om te hê.
“My maag, dit swel sommer vir niks op nie. Ek oefen vir ’n balletopvoering, dis oor twee weke en ek kan nie so op ’n verhoog gaan nie.”
“Mm, en jou ma sê jy was vanoggend naar ook?”
Elke keer as ek aan die slymerigheid in my mond gedink het, het ek naar geword, ek kon dit net nie verhelp nie.
Ek het geknik: ja.
“Nou kom ons kyk.” Hy het sy stetoskoop om sy ore gehaak, met sy vingers op my maag getrommel, na my ma gedraai en gesê: “Ek sal solank iets vir die naarheid gee en ’n paar pynpille. Maar ek dink jy moet haar inbring, sommer môre al. Ek sou graag ’n sonar wil doen en ook wil kyk of daar nie enige blokkasies in haar dikderm is nie.” Toe na my: “Dis nie seer nie, miskien net ’n bietjie ongemaklik, ek belowe.”
My ma het, toe ons by die huis kom, dadelik my skoolhoof gebel om hom te sê dat ek die volgende dag nie by die skool sou wees nie en daarna Miss Dolly se ateljee met dieselfde storie.
“Sy is nie baie gelukkig nie, hoor! Sy sê julle is nog ver van volmaak af, en dat jy gou gesond moet word. Sy stuur groete.” My ma het in die deur bly staan om dit vir my te sê. Asof sy bang was dat sy sou aansteek.
Later die aand het sy tóg ’n paar maal kom kyk hoe ek vorder met die bekers vol aangemaakte vloeistof wat ek moes drink om my derms skoon te kry. Ek kon sien sy was besorg.
Ons het die volgende oggend vir Carli gaan aflaai by ’n vriendin van my ma wat ’n speelgroepie gehad het. Die sonar was nie erg nie, my ma het my vooraf verseker dat hulle dit met haar ook gedoen het om Carli se vordering te monitor toe sy swanger was. Die kolonoskopie was ’n ander storie. Hulle het my op my maag laat lê en ’n pyp (dink ek, ek kon nie sien nie) van agter af ingedruk. Dit was seer, en vreeslik ongemaklik. Vernederend ook.
“Daar is niks verkeerd nie,” het die dokter my ma gerusgestel. “Ek wonder tog of dit nie maar net spanning is nie.” Hy het na my gedraai. “Is jy nie maar net baie gespanne oor iets nie?” Soos in: jy mors ons tyd, wat is tog fout met jou?
“Nee.”
“Wel,” het my ma begin, “daar is die balletopvoering en sy is nou in standerd sewe, vir baie die moeilikste jaar op hoërskool en die eksamen is op hande, dalk is dit dit?”
“Mevrou, kan ek ’n oomblik alleen met haar praat? U kan gerus in die wagkamer vir haar wag.”
My ma het opgestaan, sy hand geskud en uitgestap. Hy het lank na my gekyk. Ek moes ’n paar keer afkyk.
“Is jou ma reg? Is dít wat jou pla?”
“Seker maar.”
“Daar is nie dalk iets anders waaroor jy met my wil gesels nie? Jy weet jy kan oor enige iets met my praat. Kyk, die kolon lieg nie. ’n Mens kan nog vir jouself lieg en sê dat daar niks verkeerd is nie. Jou kop kan jou dalk glo, jou kolon nie.”
Het hy maar geweet! Ek het my kop geskud: nee.
Stom Anna.
“Jou ma lyk na ’n baie streng vrou. Is jy bang vir haar?”
“Nee!”
“Is dit omdat jou pa dood is?”
Hy was ’n vriend van oom Danie, nie regtig huisvriend nie, eerder gholfvriend, hy het my en my ma se stories geken.
Ek het weer my kop geskud: nee.
“Of omdat jou ma weer getroud is? Of omdat jy ’n nuwe sussie het?” Sy redes vir my siekte het minder geword, het ek besef.
“Dis nie dit nie.”
“Anna, iets veroorsaak die maagswellings van jou. Vertel vir my wat dit is, dan kan ek jou help. Maar soos dit nou is, is daar niks wat ek vir jou kan doen nie.”
Ek het lank gedink, toe het ek besef dat daar niks was wat hy vir my sou kon doen nie. “Ek dink my ma is reg, dis skool, ek is so bang dat ek standerd sewe gaan druip, en dan natuurlik die ballet.”
“Is jy daarvoor ook bang? As jy bang is vir die opvoering, stel ek voor jy oorweeg dit om dit eerder dan te los.”
“Nee.” Dis al wat my nog aan die lewe hou! “Nee, dis nie dit nie, ek is mal oor ballet. Ek gee ook nie om om voor mense op te tree nie, dis net ’n moeilike stuk en die balleteksamens is ook nog om die draai. Dalk is dit net te veel op een slag.” Probeer jý ’n bietjie ’n jagse ou man van jou lyf afhou en aangaan met jou lewe. Want dit het ek my voorgeneem: hy sou nie my lewe vir my reël nie. Hy kon my gebruik, ek het nie ’n keuse gehad nie, maar ek sou eendag die beste ballerina in die wêreld wees, dít sou hy nie van my kon wegvat nie.
“Dalk. Ek kry tog die idee dat jy nie alles vertel nie, maar goed, ek gaan vir jou ’n ligte kalmeerpil voorskryf. Gebruik dit. Snags. Kom ons kyk hoe dit gaan.”
Helena het net ná skool kom inloer. “Wat sê die kwak?”
“Spanning.”
“Spanning? Van wat? Jy doen goed genoeg in die skool. Jy is fantasties in ballet! Watse spanning kan jy tog hê? Ek is die een wat ’n senu-ineenstorting gaan kry, ek kry nog steeds nie my pirouettes reg nie.”
“Jy doen dit goed genoeg.”
“In vergelyking waarmee?”
“Toe nou, Helena, dis nie so erg nie.”
“Sê jy!” Sy het ’n koevert na my uitgehou.
“Marnus, wat jou baie amptelik en formeel uitvra. Vir die sokkie.”
Ek het die brief versigtig, met bewende hande, by haar gevat. “Wat sê hy?”
“Hoe moet ek weet? Léés die brief.” Sy het in my kamer rondgekyk. “Hemel, elke keer as ek hier inkom, is hier iets nuuts.” Na my boekrak gestap. “Lees jy ooit al die boeke? Koop jy dit of is dit nog geskenke van jou vrygewige pa?”
“Hy is nie my pa nie!”
“Ek weet. Maar magtig, Anna, hy is goed vir jou. Ek het altyd gedink dat ek baie bederf is, maar dis nie ’n patch teen jou nie. Hier is elke dag nuwe goed by.”
“Darem nie elke dag nie.”
“Nogtans. Boeke, tapes, posters, klere. Jy is baie gelukkig om so ’n pa,” en toe sien sy my gesig, “oukei, stiéfpa te hê.”
“Ja.” Afkoopgeskenke.
Sy het my ’n vinnige piksoen op die wang gegee. “Ek moet weg wees, anders is ek laat vir klas. Dit gaan niks lekker wees sonder jou nie. Ek sal vir Miss Dolly groete sê. Bye!”
Ek het die brief versigtig oopgeskeur, dit was die fynste papier wat ek nog gesien het: Anna, teen dié tyd weet jy seker al hoe ek oor jou voel. Toemaar! Ek gaan nie my ewigdurende liefde aan jou verklaar nie, net dit: Anna, jy maak my knieë lam, ek wil die hele tyd net aan jou vat, ek wil ruik hoe jou hare ruik, ek wil voel hoe dit deur my vingers glip. Soos sy, glo ek. Ek bedoel niks kwaads met jou nie. Ek wil jou net graag beter leer ken. Ek glo die sokkie is die ideale plek. Ons is tussen vriende, wat dit vir al twee van ons makliker sal maak. Sê jy sal saam met my gaan, asseblief! Groete, Marnus. P.S. Ek hoop jy voel gou beter, die skool is leeg sonder jou!
My heel eerste love letter, het ek besef, as mens dit ’n love letter kon noem. En ek het geweet dat ek saam met Marnus wou gaan sokkie, dat ek Marnus graag beter sou wou leer ken. Ek was vyftien en ek het nog nooit ’n boyfriend gehad nie.
Ek is die volgende dag skool toe, al het my ma gesê ek moet nog ’n dag in die bed bly. Ek moes gaan sodat ek Marnus in die gesig kon kyk, sodat ek kon weet dat hy dit met my goed bedoel, ek wou dit so graag glo.
“Marnus!” Ek het al my moed bymekaar geskraap en eerste pouse na hom geroep. Gemaak of ek nie sy vriende se grinnike en gestamp aan mekaar sien nie. Hy het verras gelyk, het ek besef, dink hy regtig dat ek nie van hom sal kan hou nie?
“Kom ons gaan sit daar onder die bome.” Hy het vooruit gestap. Vinnig. Soos weghardloop. Ek agterna, ek kon nie besluit of ek my daaroor moes vervies nie.
“Jammer, maar ek wou nie hê dat jy my voor my pelle verneder nie, my ego, jy weet.” Hy het onder die naaste boom gaan sit-lê. “As jy nie saam met my wil gaan nie, is dit oukei. Ek verstaan.”
“Maar ek wíl.”
“Dit maak regtig nie saak nie, ek het net gedink as ek nie vra nie, sal ek nooit weet nie.” Toe eers het hy gehoor wat ek gesê het. “Sê wéér?”
“Ek wil, dankie dat jy gevra het, ek wil graag.”
’n Paar oomblikke was hy sprakeloos. “Dis wonderlik! Moet ek jou ma-hulle kom vra?”
“Nee.”
“Ek sal, ek is nie bang nie.”
“Jy hoef nie, ek gaan in elk geval sommer saam met Helena-hulle ry. Ek sal jou daar kry. Ek moet gaan, Helena wag vir my, ons moet gou ons wiskunde klaarmaak.”
Hy het my aan my arm teruggehou. “Anna, dankie!”
Nou moes ek nog net my ma oortuig. Maar sy was – voorspelbaar – nie ingenome nie.
“Onder geen omstandighede nie.”
“Asseblief, Ma.” Ek was na aan trane. Wat sou ek vir Marnus sê as ek nie meer kon gaan nie? “Dis ’n skoolsokkie. Daar gaan onderwysers wees wat toesig hou. Geen drank nie. Almal gaan daar wees. Seblief?”
“Jy is vyftien. Ek kan nie glo die skool laat dit toe nie. Jy is glads te jonk vir iets soos ’n sokkie. Kyk waar het paarties jou pa laat beland. Op jou ouderdom het ek nog nie eens van iets soos ’n partytjie geweet nie.”
Ek het omgedraai, in my kamer gaan huil.
“Hoe sal jy daar kom?” Ek het haar nie hoor inkom nie.
“Helena se pa vat ons. Bring ons terug ook,” het ek bygelieg.
“Nou goed dan, jy kan gaan.” Sy het my blyheid gesien en vinnig gesê: “Maar jy is elfuur terug by die huis. Ek sal vir jou wag. Ek wil nie drank of rook aan jou ruik nie.”
“Ja, Ma.”
Ek kon gaan!
Toe Helena se pa-hulle my nooi om die Desembervakansie by haar ouma op hulle plaas te gaan deurbring, het my ma sonder meer ingestem. Het sy geweet?
“Vars lug sal jou goed doen.”
“Ek gaan nie hier wees vir Kersfees nie,” het ek haar probeer voorberei.
“Dis nie so erg nie. Of wil jy nie gaan nie?” Onseker.
Natuurlik wil ek gaan, Ma! Vier weke sonder hom. Ek móét gaan. Kyk na my, Ma, sien my raak, sien hoekom ek kalmeerpille moet drink, sien hoe ek hom haat, hoe ek myself haat. Kyk, Ma!
My kop het dit gesê, my mond het gesê: “Ek wil!”
Die volgende paar weke was hel. Ek moes hard leer, hard oefen, hard seks hê met hom. Hoe ek daardeur is, weet ek nie, maar ek is. Ek moes. Die balletopvoering was ’n reusesukses, die gehoor was gaande oor ons. Natuurlik is ek die balleteksamen met lof deur. Dis al wat ek ooit wou doen, ek wou dans, en goed ook. Die skooleksamen was maklik genoeg, ek het darem geslaag.
“Dink net!” het Helena die middag na ons ons rapporte gekry het, uitgeroep. “Volgende jaar is ons in standerd agt! Wat trek jy vanaand aan? Het jy al gepak?” Sy kon gou van onderwerp verander.
“Ek weet nie, en ja, al lankal.”
“Jy gaan nie van jou koekerige klere dra nie.”
“Ek het nie koekerige klere nie.”
“Ha!”
Ek het geweet sy was reg. Dis al wat ek gehad het, en ek wou graag dié aand mooi lyk, vir Marnus, ook vir myself.
“Sal jy vir my van jou klere leen?”
“Dan is dit waar!”
“Wat?” Ek het onbegrypend na haar gestaar.
“Wonderwerke gebeur nog.” Sy het gelag, my aan die arm saam met haar getrek.
Helena het oplaas besluit dat ek die beste lyk in een van haar skintight jeans en ’n baie blink, baie rooi halternektop.
“Ek kan nie ’n bra by die top aantrek nie.”
“Jy het nie een nodig nie, jy’s klein.”
“Helena, ek weet darem nie.”
“Hou op moan. Jy lyk stunning. Ons sal Marnus moet vasbind vanaand.”
Ek wou dit nie hoor nie.
Haar pa het ons by die skoolsaal gaan aflaai; ons sou terugstap, saam met ons dates.
“Geniet dit! Nie te rof vry nie!”
Die saal was pragtig, soos ’n feëland, liggies orals. En Marnus. Marnus het goed gelyk. Groot. Dis die eerste keer dat ek hom in gewone klere sien, het ek besef. Nog altyd net in skoolklere of sportklere. Ma sou gesê het hy is ’n mooi seun. Mooi man. Hy wás groot. Ek was bang. Sê nou dit is waar dat dit al is waaraan seuns, mans dink? Dat as hulle eers daaraan gedink het, hulle mál raak? Sê nou hy gryp my en ek kan niks doen nie? Ek wou terug, ek wou huis toe. Helena moet iets aangevoel het, want sy het my stewig aan die arm beetgekry en reguit na waar Deon en Marnus staan en wag het, gestap.
“Haai!” het sy gegroet en Deon ’n soen gegee.
“Hallo, Anna!”
“Hallo.” Ek kon nie opkyk nie.
“Jy lyk verskriklik mooi.”
Ek het opgekyk en ’n goedheid in sy oë gesien. Geweet hy sou nie. Geweet ek sou dit nie toelaat nie. “Dankie, Marnus.”
Daar was tafels oral langs die kant van die muur gepak. Ons het in die verste hoekie gaan sit. Gedans. Gesels. Ek het moeilikheid sien kom tussen Helena en Deon. Hulle kon hulle hande nie van mekaar afhou nie.
“Ons gaan ná die sokkie bietjie rondry in die stad,” het Helena gesê, terwyl Marnus en Deon weg was om vir ons te gaan koeldrank koop.
“Hoekom het jou ma ’n tyd gegee vir inkom? Julle twee kon saamgekom het. Jy kon vanaand by my geslaap het.”
“Toemaar, van môre af het jy my vir vier weke. Dis al hoe ek my ma sover kon kry om my te laat kom. As ek elfuur by die huis is en by die huis slaap. Ek dink sy is bang ek drink.”
“Maar weet sy dan nie dat die onnies toesig hou nie?”
“Sy weet.”
Kwart oor tien het Marnus opgestaan. “Kom, Anna, ek vat jou huis toe.”
Deon het Helena aan die hand opgetrek. “Ons gaan ook nou waai.”
Buite die saal het ons hulle gegroet. Marnus het langs ’n motorfiets gaan staan.
“Joune?”
“Ja, hou jy daarvan?”
“Ek het nog nooit op ’n motorfiets gery nie.”
“Dan sal ek jou gou vir ’n ordentlike spin vat. Spring op.”
Hy het langs die kus afgery. Ver. Lekker. Die wind het deur my hare gewaai, ek het styf om sy lyf vasgehou. Kwart voor elf het ons voor my huis stilgehou. Afgeklim.
“Dankie!” Ek was uitasem.
“Anna.” Hy het my gesig met sy een hand opgelig, saggies met sy duim oor my mond gestreel, afgebuk en my saggies, so saggies dat ek gewonder het of hy hét, gesoen. Ekstase! Ek het nog nooit in my lewe so gevoel nie. Honderde, nee, duisende skoenlappers was in my maag. Weer! het my hart geroep. Hy het my hart gehoor. Weer afgebuk, my mond saggies met sy tong oopgedwing. Hy het eerste weggetrek. Na asem gesnak.
“Ek gaan vreeslik baie na jou verlang. Die vakansie is lank.”
“Nie te lank nie.” My mond was droog.
“Lank genoeg vir jou om op ’n boertjie verlief te raak. Sê jy sal nie. Sê jy sal na my ook verlang.”
“Ek sê dit.” Hy het my weer gesoen, liggies op my voorkop. Teen hom vasgedruk. Gegroet.
Ek het voordeur toe gesweef! Omgedraai, vir hom gewaai. Gekyk hoe hy op sy motorfiets klim, wegry. Voor ek my sleutel kon uithaal om die deur oop te sluit, gaan dit vanself oop. En hy staan daar. Rooi van woede.
“Jou donnerse klein slet!”
Ek verstar van skok.
“Wat gaan aan?” Ma het uit die kombuis gekom, drie koppies koffie op die skinkbord. Vir my, vir haar, vir hom. Vir gesels na my eerste partytjie.
“Sy staan en vry met so ’n smeertou op ’n motorfiets! Buite op straat!”
Marnus is nie ’n smeertou nie, jou ou vark.
“Anna!” Ma met die skinkbord nog in haar hande.
“Het jy my afgeloer?”
“Jy praat nie so met my nie!” Rooi, rooier, rooiste.
“Anna!”
“Ek het nie gevry nie, Ma, Marnus het my net gesoen. Soos in groet.”
“Jou klein liegbek! Julle het gevry. Seker gesteek ook. Jy het jou ma gesê dat Helena se pa jou sou kom aflaai, maar jy kom hier met ’n outjie op ’n motorfiets aan. En kyk hoe lyk jy. Dis geen wonder dat hy nie sy hande van jou kon afhou nie. Jy lyk soos ’n hoer met daardie klere aan.”
“Daan!”
“Ma!” Help.
Die hou het onverwags gekom. Ek het eers besef dat hy my slaan, met die vuis slaan, toe ek op die grond lê. Toe skop hy my. Weer en weer en weer.
“Danie! Los haar!” Ma. Die skinkbord het kletterend geval, sy het hom aan sy arm gegryp en weggeruk, toe by my gekniel.
“Gaan was jou gesig. Gaan kamer toe. Ek kom nou.”
Ek het badkamer toe gekruip. Gesig gewas. Kamer toe gekruip. Gehoor hoe hulle op mekaar skree. Ek was bly dat Klein-Danie nie daar was nie. Hy is ná skool na sy ma toe. Vir die vakansie. Gewonder hoe Carli dit regkry om deur die lawaai te slaap. Gewonder hoe ek die bloedvlekke uit Helena se hemp gewas gaan kry. Die rooi van my bloed het uitgestaan op die rooi van haar bloes. Myself in die spieël bekyk. Oog was klaar besig om blou te word. Daar het reeds weer druppels bloed op my stukkende lip gesit.
“Sy gaan nie saam met daardie Helena nie. Ek vertrou haar glad nie. Dis sy wat al die dinge in Anna se kop prent.”
“Sy moet gaan, dit sal die beste wees vir ons almal.”
Jaag Ma my weg?
Sy het die kamer ingekom met haar medisynetas. Langs my op die bed kom sit.
“Anna.”
“Ek het niks verkeerds gedoen nie, Ma. Hy het my net gesoen.”
“Ek glo jou.” Saggies salf aan my oog en lip gesmeer. My oog was ook oopgeslaan, ek kon dit aan die brand van die salf voel.
“Hoekom dan?”
“Hy is lief vir jou, asof jy sy eie dogter is.”
“Gmp!”
“Hy is. En pa’s raak kwaad wanneer hulle hul dogters die eerste keer met ’n seun sien.”
“Maar Ma –”
“Sjuut. Ek is jammer dat hy jou so geslaan het. Hy moes nie. Maar jy moet verstaan dat hy baie kwaad is. Jy kan nog saam met Helena-hulle gaan.” Soos troos.
“Hoe verduidelik ek dít?”
“Sê jy … het in ’n kas vasgeloop.”
“My lyf, Ma.” Oral op my lyf was daar rooipers, opgehewe kneusings. Van die skop.
“Sy gaan mos nie jou lyf sien nie. Jy bad darem seker nie meer saam met haar nie. Julle sien mekaar tog seker nie kaal nie. Julle is mos nou groot.”
“Ja, Ma.”
Vroegoggend, my polshorlosie het gewys dis twee-uur, het hy my kamerdeur agter hom toegemaak. Gesluit. My seer mond met sy een hand toegedruk. En hom in my ingeforseer. Gesteek. Soos in nooit weer ophou nie. My omgedraai. Sy hand stywer om my mond gedruk, my van agter gesteek. Hard. Seer.
Daarna: “Gedink ’n jonge is beter, nè? Ha! Sê vir die tou hy kan maar by my kom lesse vat. Beter as ek sal jy nooit kry nie. Help nie jy huil nie. En as jy ’n woord sê, bly jy net hier.” Uitgesluip.
Ek het gebloei, ek moes ’n doekie gaan haal om aan te sit.