Читать книгу Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe) - Anchien Troskie as Elbie Lötter - Страница 7
ОглавлениеQueenstown. Ek sal moet stop vir petrol. En ek is dors. Ek kyk weer op my horlosie, daar is genoeg tyd om in die Wimpy te gaan sit. Dis koud. Ek sal koffie drink, iets eet. Ek kry ’n plekkie naby die kombuis. Ek hou daarvan naby die kombuis, die stemme laat my altyd gerus voel, asof ek nie so alleen is nie. Vanaand het ek dit meer as gewoonlik nodig. Ek’s bang. Moenie! keer ek myself. Moenie. Konsentreer. Ek mag nie nou bang word nie. Ek moet deurdruk. Ek moet doen wat gedoen moet word. Wat ek lankal moes gedoen het. ’n Vakerige jong meisie kom neem my bestelling. Dis laat, ek wonder tot wanneer sy nog moet werk. Die plek is stil, dis net ek en ’n ouerige man wat kliphard aan sy koffie slurp. Wonder waarheen hy op pad is. Dis asof daar skielik lewe in die spul in die kombuis gekom het. Ek hoor die ge-tjie-tjie. Sien die onderlangse blikke na my kant toe. Ek behoort al daaraan gewoond te wees, maar ek is nie. Almal kyk, altyd. Omdat ek, ’n vrou, bid jou aan, vormlose klere dra en verkies om sonder grimering te loop. Van my lang hare het ek jare gelede afgesien. Afgeskeer. Met ’n knipper. Borselkop. Jeans, oorgroot hemde, tekkies, dis my uniform. Ek is die androgene wese waarteen my ma so hard baklei het. Een van my gereelde kliënte het eendag reguit vir my gevra hoekom ek, wat myself met soveel mooi goed omring, nie ook mooi aantrek nie, nie ligstrepies in my hare laat sit nie, nie grimering dra nie. Ek het net gelag. En die waarheid diep binne-in my gebêre: sodat geen man, jonk of oud, ooit weer na my sal kyk met lus in sy oë nie.
Dis ’n ander meisie, wakkerder, wat my toebroodjie en koppie koffie voor my neersit, terwyl sy onderlangs na my loer.
Ek het vroeg al geleer om die verlede in die verlede te los. Om vorentoe te kyk, vir vandag te lewe. Dís hoekom hierdie terugreis vir my so moeilik is. Hoekom ek die dood op elke telefoon- of kragpaal sóék. ’n Uil. My pa het geglo dat ’n uil die dood voorspel. Tot dusver het ek nog nie een gesien nie. Ek eet my toebroodjie klaar, sluk hard teen die bitterheid wat in my keel opstoot. Die laaste bietjie koffie is te soet. Ek roer nooit my koffie goed genoeg nie, daar bly altyd te veel soetigheid vir die laaste sluk oor. Sou hulle in die tronk vir ’n mens soet koffie gee? Lekker sterk, soet koffie? Moenie. Los dit.
“Sal Pappa weer trou?” vra ek terwyl ons besig is om sy nuwe bakkie te was.
“Trou? Ek? Nee, my skat, nie maklik nie.”
“Hoekom nie? Mamma gaan tog weer trou.”
Hy het stil gaan staan, die nat, skuimerige spons in sy hand. Ons het sy nuwe bakkie elke Saterdagoggend gewas. Hy was heilig daarop. “Ek wou nog altyd ’n bakkie gehad het, maar jou ma het ’n gesinsmotor verkies,” het hy trots gesê toe hy my die eerste keer daarmee kom oplaai. “’n Man moet ’n bakkie hê waarop hy sy visstokke kan laai.”
“Pappa?” het ek versigtig gevra. Hy het na my gekyk, toe stadig geglimlag asof hy van ver weg terugkom.
“Het sy gesê sy gaan trou?”
“Nee, maar ek weet mos. Nie nou al nie, sê Klein-Danie, eers wanneer hulle mekaar beter ken.”
“Kom ons spuit die bakkie af,” het hy gesê, skielik stroef.
Hoekom sê ek sulke goed vir hom, het ek gewonder, ek weet tog dit maak hom seer. Halfpad deur die afspuit het hy weer sy ou self geword, my skielik begin natspuit, terwyl ek gillend probeer wegkom. Ons was albei natter as die bakkie toe ons klaar is.
“Gaan trek gou iets anders aan, dan gaan haal ons jou geskenk.”
Hy het belowe dis iets moois. Ek het ’n jean en ’n bloedrooi toppie aangetrek omdat ek geweet het hy sou daarvan hou. Omdat ek hom graag wou troos. Rooi was nog altyd sy gunstelingkleur. My nat hare het ek so goed ek kon drooggevryf; hy het dit uitgekam, my kuif uit my oë gevee.
“Jy lyk pragtig. Kom ons ry.”
Ons is na my pa se vriend Willem toe. Ek het altyd daarvan gehou by oom Willem en tannie Marta. Hulle het nie kinders gehad nie, maar hulle het baie speelgoed gehad. En tannie Marta het nie omgegee as ek in die huis speel of koeldrank mors nie. “Is my geskenk hier? Wat is dit, Pappa?”
“Jy sal nou sien, ou agie.”
Ons is agterom die huis, saam met oom Willem.
“’n Hond!” het ek gegil toe die twee Alsatians op my afstorm.
My pa het gelag. “Ja, een is oom Willem s’n, die ander een is joune.”
“Dankie, Pappa!” Ek het my arms om hom gegooi voor ek afgebuk het na die wollerige hond wat my stertswaaiend dopgehou het. Ek het my arms ook om hom geslaan, en hy het my met ’n nat tong deur die gesig gegroet.
“Hy hou klaar van jou,” het oom Willem gesê.
My pa het langs my gehurk. “Jy moet vir hom ’n naam gee.”
“Wat van Vlooi?” het ek voorgestel.
“Dis ’n mooi naam,” het my pa gehuiwer, “maar onthou, hy is nou nog net ’n baba. Dink jy nie dit sal verspot wees as hy groot is en hy het so ’n poep naampie nie?”
“Dan noem ek hom Sersant, soos Pappa.”
“Liewer Kaptein, dan is hy jou pa se baas,” het oom Willem gelag.
“Ja!” het ek uitbundig saamgestem.
Op pad huis toe, met Kaptein styf langs my op die sitplek, het ek hom dít gevra wat my toe al heeltyd pla van ek die honde gesien het: “Pappa, dink jy Mamma sal my toelaat om ’n hond aan te hou?”
“Ek glo nie, en daarom het ek gedink dat Kaptein maar by my moet bly, dan het hierdie ou man ook darem geselskap.”
“Dis nie lekker om ’n hond te hê wat nie eers by jou bly nie,” het ek dikmond geprotesteer.
“Ek weet,” het hy gesug, “maar dis beter as niks.”
Ek het gedink hoe swaar dit elke Sondagaand gaan wees om Kaptein agter te laat.
Ek en my pa het nooit Sondae kerk toe gegaan nie, tot my ma se ergernis. Maar my pa het voet by stuk gehou, in ’n kerk sou hy nie weer kom nie, nie lewend of dood nie. Sondae het ons rondgery. Strand toe, of as dit koud en nat was, is ons na die ysskaatsbaan. My pa kon ure lank daar bly. Terwyl ek bibberend smeek om huis toe te gaan, sou hy sê: net nog ’n rukkie. Hy het nie geskaats nie. Hy het op die rand bly staan en hom slap gelag vir die ouens wat val. As ons dan eindelik daar uitstap, het sy oë getraan. Of dit van die koue of die lag was, was ek nie seker nie.
Die Sondag nadat ek Kaptein gekry het, is ons strand toe. Met Kaptein by ons was dit lekkerder op die strand as by die ysskaatsbaan. Ons kon ure kyk hoe hy rondhardloop, hoe hy na die branders hap. Hy het vir eers voor by ons gery, maar my pa het belowe hy gaan agterop ry as hy eers groot is.
“Dink net hoe spoggerig ons dan gaan lyk,” het hy gelag.
Dit was op pad terug na my ma toe, die Sondagaand, dat ek die moed bymekaar geskraap het om my pa te vra of ek by hom kon kom bly.
“Hoekom?” het hy verbaas gevra. “Ek dag dan jy en jou ma bly so lekker daar?”
“Dis nie dit nie. Dis oom Danie, ek hou nie van hom nie.”
“Ek dag dan jy het gesê hy is so goed vir jou en Mamma? Is hy nie?”
Ek het lank gedink. Ek sou jok as ek sê dat hy nie goed vir ons is nie. Moet ek my pa die waarheid sê? Wat sou sy reaksie wees? Dis waar dat ek nog altyd met my pa kon praat, maar oor só iets? “Hy ís goed vir ons.”
“Nou toe. Dit is net nie moontlik om by my te kom bly nie, Anna. Jy weet tog dat ek soms nagdiens werk, wie sal dan na jou kyk? ’n Ma kyk tog die beste na haar kind. En dink net hoeveel jy na haar sou verlang. Is ek nie reg nie?”
Ek het geknik: ja.
“Ek is lief vir jou, Anna,” het hy gesê toe hy my voor die meenthuis aflaai.
Maar nie lief genoeg om my hier weg te vat nie, het ek gedink.
My ma het my kopskuddend ingewag. “Ek kan nie glo jou pa koop vir jou ’n hond nie. Ek hoop nie julle dink die ding gaan hier kom bly nie.”
“Nee, Mamma.”
“Ons kan nie ’n hond in die meenthuis aanhou nie, Anna. Die erfie is te klein, en jy het mos ’n kat.” Asof sy jammer is.
My standerddriejaar het maar soos die voriges begin. Maar omdat my skoolwerk puik was, het die onderwysers my anders as die res behandel. Nie noodwendig beter nie, net anders. En natuurlik was ek die bleeksiel in die klas. Die een wat altyd haar huiswerk doen, die een wat nie veel erg aan sport het nie, wat eerder twee keer ’n week haar balletpassies oefen. Dit was nie asof ek nie van sport gehou het nie, ek het. Maar ek sou eerder rugby of krieket wou speel, nie netbal nie. Die baan was te klein, die bal te rond, en dit het my eindeloos frustreer dat jy nie daarmee mag hardloop nie. Ná al die moeite om die bal in die hande te kry, moet jy gaan stílstaan om uit te gee? Dit het nooit vir my sin gemaak nie.
“Was Pappa goed in sport?” vra ek een naweek terwyl ons wag vir die pizza in die oond om warm te word.
“Hoe dink jy?” Hy was besig om borde uit te haal. “Gooi solank vir ons iets in om te drink.”
Ek het glase uitgehaal, koeldrank vir my, ’n bier vir hom. “Pappa wás seker goed.”
“Goed genoeg.”
“Was Ma goed?”
“Nee,” het hy gelag, “sy was nooit die sportiewe soort nie.”
“Nie eens op skool nie?”
“Veral nie op skool nie. Sy het geleer, dís waarin sy goed was.”
Hulle was saam in die klas, my pa en ma. En ’n paar jaar ná skool is hulle getroud. Hulle was vyf jaar getroud voor hulle my gehad het.
“Ek is ook nie goed nie.”
“Nee wat, ek dink jou belangstelling lê dalk net elders.” Hy het die pizza uit die oond gehaal, tafel toe gedra. Ons het ingeskep, pizza en chips.
Na my eerste mond vol vra ek: “Wat beteken ambisieus?”
“Hete, maar jy is vol vrae vandag.” Hy het sy skyf pizza laat sak. “Dit beteken ’n mens wil graag verder vorder in jou werk of sport. Verstaan jy?”
“Is Pappa nie ambisieus nie?”
“Hoekom vra jy?”
“Mamma sê jy sal nooit verder as ’n sersant vorder nie, want jy is nie ambisieus genoeg nie.”
Hy het sy glas bier opgetel, ’n vinnige sluk gevat. “Anna, kom ek vertel vandag vir jou iets belangriks. Om gelukkig met jouself te wees is soms belangriker as ambisie. Jou ma is seker reg, ek sal nooit meer as ’n sersant wees nie. Ek het ’n polisieman geword omdat ek gedink het ek kan ’n verskil maak. Die waarheid is ek kan nie. Hoekom moet ek streef na meer as wat ek het? Ek is tevrede om ’n sersant te wees. Dis iets wat jou ma nooit kon verstaan nie. Dis al wat ek ooit wou wees. ’n Sersant en ’n pa. Ek het vir jou, my bakkie, Kaptein, die huis,” en hy beduie met sy hande, “kos in die kaste, klere aan my bas. Wat meer wil ’n man hê? Behalwe nog ’n bier?” Hy het geknipoog, die glas vir my aangegee. “Anna, mense met ambisie het gewoonlik te veel geld, en te veel geld is ’n onding. Geld kan nie geluk koop nie. Onthou dit.”
Ek het ja geknik, ingeskink en sy glas vir hom aangegee. “Pappa?”
“Nóg ’n vraag?”
“Wie is die tannie in die foto op jou bedkassie?”
Hy het in sy bier verstik, woes begin hoes. Ek het opgespring en hom op sy rug geklap. “Genoeg,” het hy hees gesê, “dis oor.” Hy het nog ’n sluk bier gevat. “Ek wou jou nog van haar vertel. Haar naam is Cecilia.”
“Is sy Pa se meisie?”
“Sy is.”
“Bly sy hier by Pappa?”
“Nee, anders as jou ma en oom Danie, glo sy nie aan … saambly voor die huwelik nie.”
“Hulle bly nie by ons nie. Dis te ver van Klein-Danie se skool af. Hulle kom bly net naweke by ons.”
“Mm.”
Ons was klaar met die ete, ek het die borde bymekaar gemaak. Ek het skottelgoed gewas, my pa het afgedroog en weggepak. “Pappa, is jy lief vir Cecilia?”
“Ja, Anna, ek is.”
“So lief soos vir Mamma?”
Hy het ’n oomblik opgehou met afdroog, die bord in sy hand. “Ek sal nooit weer vir iemand só lief kan wees nie. Maar ek maak jou ma ongelukkig en Danie nie. Cecilia maak weer vir my gelukkig.”
Ek kon dit sien. Die geluk was terug in sy oë. “Gaan jy met haar trou?”
“Dis nog te vroeg om te sê,” het hy geglimlag.
“Ek wil haar graag ontmoet.”
“Moet ek haar nooi vir ete, môre?”
“Ja!”
“Nou goed, dan maak ons so.”
Ek het van Cecilia gehou. Sy was kort, effens rond, met lang bruin hare en lang rooi naels. En sy was vriendelik. Sy het met my gepraat soos my pa met my praat. Nie soos my ma nie. Asof sy my maat is. Sy het my uitgevra oor my skool en ek het haar alles vertel. Waarvan ek hou en nie hou nie. Wie my vriende is. Van my ballet. En sy het my pa Hennie genoem, nie Hendrik, soos my ma, nie.
My pa kon nog altyd lekker kos maak. My ma het baiekeer gesê hy is tuis in ’n kombuis, dat hy sy ware roeping gemis het, dat hy ’n kok moes geword het. Dit was een van die min kere dat sy iets goeds van hom gesê het. Vir die ete met Cecilia het hy kerriehoender en groente gemaak. Ek het die tafel gedek, vir die mooiheid wynglase uitgehaal.
“Slim kind,” het my pa gesê en ’n bottel wyn uit die yskas gehaal. Toe vir hom en Cecilia elk ’n glas geskink. Vir my ’n halwe. Dit was my eerste glas wyn, ek het baie groot en belangrik gevoel.
Na ete het sy die borde bymekaar gemaak en vir my pa gesê: “Ek weet jy brand om na die krieket te luister, ek en Anna sal opwas, sit jy maar solank jou radio aan.”
“Dankie.” Hy het geglimlag en haar ’n drukkie gegee. Hulle het dit heeldag al gedoen, mekaar drukkies gegee.
Terwyl ons skottelgoed was, het ek haar gevra of sy kinders het.
“Nee, ongelukkig nie.”
“Is jy ook geskei?”
“Nee, my man is twee jaar gelede dood.” Daar was hartseer in haar oë.
“Dan is jy ook alleen.”
“Nie meer nie.”
“Is jy lief vir my pa?”
“Baie.”
“Ek is bly.”
Sy het vir my geglimlag. Cecilia was iets goeds wat met my en my pa gebeur het. My standerddriejaar was ’n tevrede jaar. Behalwe een aaklige nuwe vak wat ek geháát het. Naaldwerk. My hande en my kop wou nooit saamwerk nie, sodat die onderwyseres, ’n lang, maer skerpneusvrou, meer as een keer ’n periode oor my gebuk en “Knoeiwerk! Dis omdat jy sit en droom!” uitgeroep het.
Sy was reg. Terwyl ek moes ryg en stik (hoekom moet jy altyd ryg voor jy kan stik, asof jy jouself nie genoeg vertrou nie?), wás my kop by ander dinge. By my pa en Cecilia, ballet, my ma en oom Danie, Klein-Danie. Soms het ek aan dáárdie aand gedink. Dit het so lank terug gevoel dat ek my dit netsowel kon verbeel het. Maar sou ek myself so iets kon verbeel? Hy het daarna nie weer aan my geraak nie, ek het ook gesorg dat ek uit sy pad bly, dat ons nooit alleen saam was nie. Dit was nie so moeilik nie, ons meenthuis was klein genoeg, en ons het nooit na sy huis gegaan nie. Miskien moes ek my ma vertel het, het ek gedink, sy sou tog net met my kon ráás, sy sou my nie kon doodmaak nie. Dalk sou sy vir ’n ruk nie met my gepraat het nie, maar daaraan was ek tog ook gewoond. Dit was haar manier van straf, en dit het gewerk, ’n pak maak nie so seer soos ’n stom ma nie. Maar sê nou ek sê haar en sy los vir oom Danie? Vir my sou dit wonderlik wees, maar wat van haar? Sy sou weer verander in die ongelukkige vrou wat sy was vóór oom Danie. Die huilende een. En ék sou die skuld daarvoor moet dra. Ek het geweet ek sou nie kan nie. Nee, ek sou stilbly, dit was tog net een keer, dalk gebeur dit nooit weer nie, het ek myself getroos. En die jaar het inderdaad verbygegaan sonder dat so iets weer gebeur het.
Aan die einde van daardie jaar het ek met ’n arm vol trofees vir akademiese prestasies huis toe gegaan.
“Anna, ry gou saam met my kafee toe.”
Ek het verskrik opgekyk van waar ek op my bed lê en lees het. Dit was die Junievakansie van my standerdvierjaar, oor ’n paar maande sou ek twaalf word, die laaste treë na tienerstatus.
“Ek kan nie nou nie, oom, ek moet my kaste regpak.”
Ek was nie regtig van plan om dit te doen nie, al het my ma my al twee keer daaroor aangespreek, maar dit was al verskoning waaraan ek kon dink. Ek wou nie saam met hom ry nie. In ’n motor is daar nie wegkomkans nie, ek het so hard daaraan gewerk om nie alleen saam met hom in ’n vertrek te wees nie, nou moes ek saam met hom ry.
“Anna, ry maar gou saam. Jy kan jou kaste regpak as julle terugkom,” het my ma uit die kombuis geroep.
“Maar Mamma het al gister gesê ek moet regpak.”
“Hemel, Anna! Ry tog nou saam. Jou kaste sal nie weghardloop nie.” Sy het nie geskree nie, net baie hard gepraat.
“Wil Mamma nie ook saamry nie?” het ek probeer.
“Ek kan nie, ek het ’n koek in die oond.”
Op pad na sy motor het ek gewens dat Klein-Danie daar was, hy sou definitief wou saamry, dit sou dalk nie eens vir my nodig gewees het om saam te gaan nie. Maar hy het die vakansie by sy ma gekuier.
Oom Danie het niks gesê terwyl ons ry nie. By die kafee het hy my saam ingenooi. Saam met die brood en melk het hy lekkergoed, chips en koeldrank, alles vir my, in die mandjie gepak.
“Kom ons gaan sit bietjie by die Punt,” het hy gesê toe ons die pakkies in die motor laai, “gee jou ma kans om klaar te woel daar in die kombuis.”
Omdat dit ’n reënerige dag was, was daar min motors by die Punt. Al was dit vakansie. Hy het op ’n plek van die ander gaan stop. ’n Ruk lank het ons oor die see sit en uitstaar.
Skielik draai hy skuins sodat hy na my kan kyk. “Ek sien die bytjies begin steek.” Met ’n groot glimlag.
“Oom?” Ek het geen benul gehad waarvan hy praat nie.
“Hierso.” Hy het met die palm van sy hand oor my borsies gestreel. Ek het probeer wegskuif sodat ek buite reikafstand was, maar hy moet baie lang arms gehad het, want hy het weer aan my gevat. Met sy duim oor my tepel gevryf, sy ander hand op my bobeen. Hóóg op my bobeen.
Ek het sy hand van my bors weggestoot. “Dis seer.”
“Jy is die mooiste meisiekind wat ek nog ooit gesien het. Selfs mooier as jou ma.”
Ek het nie geantwoord nie, net hard gesluk teen die knop in my keel. My lyf snaarstyf gespan.
“Anna, kyk vir my.”
Ek het opgekyk, maar nie vir hom nie, die vlug van ’n paar meeue dopgehou.
“Moenie vir jou ma vertel nie. Ook nie vir jou pa nie. Dis óns geheim. Myne en joune. Verstaan jy?”
Ek het geknik: ja.
“Jy sal nie vertel nie?”
Ek het my kop geskud: nee.
Ek sou nie vertel nie. Ek was te skaam, te bang. My ma sou dit nie verstaan nie. Vir my pa was die lewe op ’n manier ’n grap, dalk sou hy dit nie ernstig opneem nie, dink ek oordryf, vir my lag. Nee, ek sou nie vertel nie. Ek sou stilbly. Ek sou stom wees.
Stom Anna.
Hy het nie ’n woord gesê terwyl ons terugry nie. Net hard asemgehaal. Ek het myself so klein moontlik probeer maak, so ver moontlik van hom probeer sit.
“Nou kan jy jou kaste regpak,” het my ma gesê toe ons die huis instap. “En doen dit ordentlik.”
Ek het niks gesê nie, net verbygeloop na my kamer toe en die deur agter my toegemaak; my ma het nie omgegee as ek die deur toemaak nie, maar ek mag nooit my deur gesluit het nie. Dit het sy my ten strengste verbied. Ek het Spokie van die bed afgetel, op my skoot vasgehou. Die trane wat wou opstoot, het ek teruggesluk. Spokie het saggies begin spin, hom lui uitgestrek en toe op my skoot verder geslaap. Hy moet die luiste kat in die wêreld wees, het ek vlugtig gedink, net om nie dááraan te dink nie.
Ek sou nie huil nie.
Ek sou stom wees.
Stom Anna.
Ek onthou my ma se woorde ’n paar dae later toe sy in my kamer kom. “Nee, my magtig, Anna! Wat gaan deesdae met jou aan? Jy luister net nie meer nie.” Sy het haar vinger teen my neus gedruk. “Jy pak jou kaste nóú reg. Dadelik. En ruim jou kamer op. Ek gaan oor ’n rukkie terugkom, dan beter dit netjies wees.”
Sy het omgedraai, al my klere uit die kas gegooi. “Begin nou!” En toe gewag dat ek opstaan en die eerste klomp klere bymekaar maak voor sy uitstap. By die deur omgedraai met: “Wat ís dit met jou?”
Stom Anna.
Dit was my verjaardagnaweek. “Jou ma het gevra dat ek met jou moet praat oor jou skoolwerk,” het my pa gesê. Ek het geweet dit was oor my Septemberpunte. Hy het verleë gelyk én geklink. Hy was nooit goed met praat nie. “Sy sê jy doen nie meer so goed soos altyd nie.”
“Ek doen nog steeds goed.”
Ons het in die sitkamer gesit. My pa met ’n blikkie bier, ek met ’n glas Coke. Die radio was sag in die agtergrond. ’n Vrou se opgewonde stem het vertel hoekom jy ’n sekere waspoeier moet gebruik.
“Maar nie meer uitstekend nie.”
“Skool is nie meer lekker nie.”
“Skool is nie veronderstel om lekker te wees nie. Dit was nooit vir my lekker nie. Maar dit is nou maar iets wat jy moet doen. Goed moet doen.”
“Ek kom nog steeds al my vakke deur.” Biep, biep, biep, agtuur. Tyd vir die nuus. Ek het gedink my pa sou die praatjie los tot na die nuus, maar hy het nie eens agtergekom dat dit eintlik al my slaaptyd was nie.
“Behalwe naaldwerk. En jou tale se punte is ook af.”
“Behalwe naaldwerk,” moes ek toegee, “en my punte vir taal is af omdat ons moet mondeling doen. Ek skryf altyd hierdie mooi stukkie, maar as ek moet opstaan en praat, bewe ek so dat ek nie ’n woord kan uitkry nie.”
“En naaldwerk? Hou jy nie daarvan nie?”
“Ek haat dit.”
Hy het gelag. “Wel, ons is nou in die vierde kwartaal. Probeer harder werk. Onthou, alles wat mens doen, doen jy na die beste van jou vermoë. Meng die ballet nie dalk te veel in met jou skoolwerk nie?”
“Maar ek doen net twee maal ’n week een uur lank ballet, Pappa.”
“Mm, hou jy daarvan? Of doen jy dit omdat jou ma wil hê jy moet?”
“Nee, Pappa! Ek is mál oor ballet. Ons het volgende naweek ’n konsert, gaan jy kom kyk? Ons doen die Scarecrow. Ek is een van die piekniekmeisies.”
“As ek nie werk nie, kom ek beslis.”
“Jy kan vir Cecilia ook saambring.”
“Sy sal dit geniet. Kom ons praat oor aangenamer dinge. Wat gaan ons môre doen? Besef jy dis die eerste keer dat jy by my verjaar? En nogal jou twaalfde.”
“Ek weet nie.”
“Ek kan nie ’n paartie hou nie, ek sal nie weet waar om te begin nie.”
“Ek wil nie ’n paartie hê nie. Kan ons nie gaan eet nie? Hamburgers, chips én milkshake!”
“Deal!”
“Pappa, kan net óns gaan? Of sal Cecilia kwaad wees?”
“Cecilia word nooit kwaad nie.”
Ons het die volgende middag gaan eet. Ek en my pa. Hy het ’n bier gedrink in plaas van die milkshake, maar dit het my nie gepla nie. My ma sou woedend wees, maar ek het geweet wanneer om stil te bly. Sy sou dit nie van my hoor nie. Na ons ete het ons vir Cecilia gaan oplaai. Sy sou die res van die middag en aand by ons kuier.
As Cecilia by was, het ek en Kaptein altyd agterop die bakkie gery. My pa het dan my hare in ’n bolla vasgemaak. “Anders waai dit die hele wêreld vol, en dan sukkel ek vanaand om die knope uit te kry.” Sy bollas was nooit netjies nie, nie soos dié wat my ma gemaak het nie, maar hy het probeer.
Ek was die aand net besig om my pajamas aan te trek na ek gebad het, toe ek my pa en Cecilia hoor fluister in die sitkamer. Ek het op my tone gangaf gesluip en agter die deur gaan staan. Sodat hulle my nie kon sien nie, en ek hulle kon hoor.
“Dis haar skuld dat die kind so deurmekaar is. Nou wil sy hê ék moet haar skoolpunte laat styg. Plaas sy trou met die fokken man.” My pa het selde gevloek, net as hy baie kwaad was. “Nou bly hulle so in sonde saam.”
“Ek dog hy bly nie by haar nie?”
“Nie in die week nie, maar wel naweke. Kan jy dit glo? Johanna die heilige, wat nooit haar bene vir my wou oopmaak nie, bly in sonde saam met ’n man.”
“Ai, Hennie.”
“Jammer, Cecilia, ek wil jou nie opsaal met my probleme nie.” Hy het hard gesug. “Wil jy nie gaan kyk waar Anna so lank bly nie?”
Ek het op my tone so vinnig as wat ek kon badkamer toe gehardloop.
Daar het groot opgewondenheid geheers in die saal waar ons ons balletopvoering sou hou. Dit was maar die tweede keer dat ek op ’n verhoog sou dans, omdat – so het my ma gesê – ons juffrou te lui was om meer aan te bied. Dié keer was dit ’n kompetisie tussen die onderskeie balletskole. Ons het almal dieselfde stuk gedans en almal het meegeding om die goue diploma wat aan die einde van die aand uitgedeel sou word.
Ek het alreeds my rok aangehad toe ons in die kleedkamers kom, ’n bloue met groot wit kolle op. Lae en lae netonderrok wat die rok laat boepens het. My hare in ’n netjiese bolla vasgemaak met ’n blommekrans om die bolla. Ma het onderlaag dik oor my gesig gesmeer; bloedrooi appelwange geteken; maskara en rooi lippe die lot. Ek het soos ’n grootmens gevoel, maar toe ek in die spieël kyk, gou besef ek lyk nie soos een nie. Te veel van alles, te dik. Dit het darem getroos dat die ander net so gelyk het. Met die vorige opvoering was ek ’n spook, gesig wit gesmeer, hierdie was my eerste kennismaking met grimering.
Met ons finale buiging het ek tussen die mense na my pa gesoek. Ek kon my ma en oom Danie sien, maar nie my pa nie. Hy moes iewers tussen die mense wees! Hy het gesê hy gaan kom. Maar hy was nêrens nie. My oë het begin traan, so hard het ek na hom gesoek.
Ons het ’n silwer diploma gekry.
“Toemaar,” het my ma getroos, “julle het net verloor omdat die ander régte appels in hul piekniekmandjies gehad het.”
’n Silwer diploma is goed genoeg vir my, Ma, wou ek sê, ek huil omdat ek nie my pa kon sien nie, nie oor ’n simpel diploma nie.
“Het Mamma vir Pappa gesien?”
“Hy het nie gekom nie.”
“Anna, bring die wasgoed!”
Saterdae was wasgoeddag. My ma het Paulina vertrou met die strykwerk, met haar enigste kind, maar nie met die wasgoed nie.
“Ek lees!” het ek teruggeroep.
“Bring dit nou!” Haar stem het gestyg.
Ek het traag van my bed opgestaan. Ek het nog gebaai in die gloed van die vorige aand se opvoering. Ek was nog hartseer oor my pa wat nie daar was nie, en omdat hy nog nie eens gebel het nie. Ek was nie lus vir wasgoed nie.
Dis toe ek oor die wasgoedmandjie buk dat die houe op my boude begin reën het. “Jy-moet-luister-as-jou-ma-met-jou- praat!” Woord vir woord, hou vir hou. “Jy-is-nog-nie-te-groot- vir-’n-pak-slae-nie!” Hy het nie omgegee of die houe oor my bene of oor my rug val nie.
Ek het soos ’n maer vark begin skree; ek was gewoond aan raas, skel, selfs stilstuipe, nie aan pak nie.
My ma het my later kom troos. Sy het langs my op die bed kom sit. Deur die venster agter haar kon ek sien dat dit al begin donker word. “Hou nou op huil, dit was nie so erg nie. Jy sal daaraan gewoond moet raak. Oom Danie gaan jou pa word. En hy glo aan lyfstraf.”
“Hy sal nooit my pa wees nie! Ek hét ’n pa!” het ek gesnik.
“Jou pa kan nie eens opdaag vir ’n balletkonsert nie. Hy is nie die naam pa werd nie. Hou nou op huil, Anna.” Sagter, sodat dit soos troos klink. “Ek moet nou ry. Een van die vrouens by my werk gaan trou. Ons hou vir haar ’n kombuistee. Ek sal nie lank bly nie. Ek belowe. Oom Danie bly hier by jou.” Ek het harder begin huil. “Nee, regtig, dis nou genoeg, Anna.”
Sy het uitgestap sonder om haar verder aan my te steur. Ek het gewens Klein-Danie was daar, maar hy was na sy ma toe vir die naweek. My trane het later vanself opgedroog. Daar was nie meer genoeg water in my lyf oor om te huil nie, het ek gedink.
Ek het later my pajamas bymekaar gemaak om te gaan stort. Ek kon die televisie hoor speel, oom Danie het seker daar gesit. Ek het die stortkrane groot oopgedraai, my boude het nog steeds gebrand.
Ek het hom nie hoor inkom nie, net sy asem hortend oor sy lippe hoor kom. Toe ek omdraai, staan hy na my en kyk met daardie selfde iets in sy oë. Hy het met sy hande én sy oë oor my lyf gestreel. Van bo tot onder. My tieties seer gekneus, tussen sy duim en wysvinger. “Jy is so mooi.” Terwyl ek staan, stíl staan, my lyf wou nie na my kop luister nie. “Ek wil jou nie pak gee nie, meisie. Jy moenie weer stout wees nie. Moenie terugpraat nie. Nie met my nie, nie met jou ma nie. Doen wat ek vir jou sê, en alles sal goed gaan.” Hy het eers omgedraai toe ons die voordeur hoor klap.
In daardie week het ons ’n partytjie by die balletklas gehou. Ons klasse sou voorlopig stop sodat ons op ons skoolwerk en die eksamen kon konsentreer.
“Wie gaan weg vir die vakansie? Of vir Kersfees?” het Juffrou gevra.
’n Paar kinders het vertel dat hulle na hul oumas toe gaan. Skielik het ek oor my ouma gewonder. My pa se ma. My ma se ma en pa was lankal dood. My pa se pa ook. Maar sy ma het nog gelewe. Ek het nie eens geweet wat haar naam was nie. My ma het my vertel dat my pa uit ’n baie slegte huis kom. Sy wou nie sê hóé sleg nie. En dat sy, my ma, altyd met my ouma so gepraat het dat dit nie nodig vir haar was om haar Ma te noem nie. Ek het haar jare laas gesien, my ouma. Selfs nog voor my ma en pa geskei is. My pa het nie baie gaan kuier nie. Miskien moet ek hom vra om my na haar te vat, het ek gedink. Maar dit toe tog nie gedoen nie.
Die toeter het die Vrydagmiddag skel buite geblaas en ek het my sak opgewonde gegryp, maar my ma het my gekeer. “Wag eers binne, ek wil met jou pa gaan praat.”
Ek het kombuis toe gesluip en bo-op die kas geklim om deur die venster te kan loer.
“Waar was jy Vrydagaand?” Sy het met dié woorde die glimlag van sy gesig gevee.
“Ek kon nie kom nie, jammer, ek moes gebel het.”
“Ja, jy moes. Maar so was jy nog altyd, Hendrik, jou meisies en jou drinktyd was nog altyd meer belangrik as jou kind. Of jou vrou.”
“Jo.”
Ek het dit gehaat as my ma só met my pa praat. Hy het net daar gestaan, kop onderstebo; hy kon homself nooit verdedig nie.
“Moenie my Jo nie. Jy is nie die een wat haar trane moes afdroog nie. En moenie haar Sondag weer so laat kom aflaai nie. Dis eksamen, kyk dat sy leer.” Toe sy omdraai, het ek van die kas afgespring en kamer toe gehardloop. Sy het my daar kom roep, haar mond was styf en koud toe sy my groet.
My pa was stil in die bakkie op pad huis toe. Net Kaptein het vir almal langs die pad geblaf. “Pappa, ek het nie gehuil toe jy nie daar was nie,” het ek gejok.
“Ek’s jammer, my kind, ek kón nie kom nie.”
“Dis orraait, Pappa.” Ons het in stilte verder huis toe gery.
Ek en Kaptein het ’n stoeigeveg op die mat voor die televisie begin, sodat my pa later saam moes lag. Soms moes ek baie hard werk om die lag in my pa se oë terug te sit. Nie eens Cecilia kon dit meer regkry nie. Oom Willem en tannie Marta het later die aand kom inloer, hulle was op pad na nog ’n vriend se verjaardagbraai. My pa wou nie saamgaan nie.
“Wanneer trou jou ma?” het tannie Marta gevra.
“Ek weet nie.”
“Kom jy goed oor die weg met die oom?”
“Hy het my geslaan.”
“Wat!” Pa het opgespring.
“Ek het nie gedoen wat Ma gevra het nie en ek het teruggepraat, toe slaan hy my.” Ek wou hom nog vertel van die stort en die kar en die video, maar my pa was te kwaad. Sy gesig was bloedrooi, soos my wange met die opvoering, so rooi dat ek bang was hy bars. Ek het geskrik en eerder stilgebly.
“Gaan kamer toe.”
Ek het vir Kaptein geroep; ons was nog in die gang, toe hoor ek my pa: “Ek sal hom doodmaak!”
Oom Willem het gewaarsku: “Hendrik, los dit. Jy is nie meer daar nie, Johanna het ’n ander man in haar lewe. En Anna is op ’n moeilike ouderdom, onthou dit.”
“Dit gee hom nie die reg om aan my kind te slaan nie. En Anna was nog nooit moeilik nie. Hulle is nog nie eens getroud nie. Ek sal hom doodbliksem!” Toe my pa al hoe harder skree, het ek en Kaptein kamer toe gehardloop.
Hy het die hele naweek nie weer daaroor gepraat nie. Net met ’n donderwolkgesig rondgesluip. Ek was bang vir Sondag se aflaai. Bang hy slaan hom regtig dood, bang hy slaan hom nié.
Lekker, jou bliksem, het ek gedink toe ons voor die meenthuis stilhou en sy motor in die oprit staan, vandag gaan jy jammer wees, my pá is hier!
Maar my pa het my net afgelaai en gery, terwyl Kaptein sy kop deur die venster steek en weemoedig huil. Soos ek graag sou wou. My pa het níks gedoen nie. Hy was nes ek. Te bang om ons monde oop te maak.
Die week ná die skool daardie laaste kwartaal gesluit het, het Klein-Danie saam met sy pa by ons meenthuis opgedaag. Ons huisie was nie te klein nie, maar met hulle daar het dit altyd oorvol gevoel. Tog was ek bly wanneer Klein-Danie saamkom. Hy moes by my in die kamer slaap, en soms kon ons tot laatnag lê en gesels.
“Ek dog jy kuier by jou ma?”
“Haar nuwe boyfriend het haar vir ’n week berge toe genooi.”
“Hoekom het jy nie saamgegaan nie?”
“Ek was nie lus nie.” Dit het nie oortuigend geklink nie.
“Ek moes ook die naweek na my pa toe gaan, maar omdat dit vakansie is en almal weggaan, moet hy werk.”
Klein-Danie het skaars geglimlag.
“Toemaar,” het ek getroos, “nou kan jy saam na die partytjie gaan.”
“Watse partytjie?”
“Jou pa en my ma se werkspartytjie. Ons gaan geskenke ook kry, van Kersvader!”
“Daar is nie so iets soos ’n Kersvader nie.”
“Ek weet.” Hoekom kon daar nie maar een wees nie? En ’n paashaas, en ’n tandmuis? Hoekom moet ouers altyd vir hulle kinders lieg? “Maar dit gaan tog lekker wees.”
“Miskien,” het Klein-Danie gesê en hom omgedraai om te slaap.
Die Kerspartytjie was by ’n oord net buite die stad. Daar was baie mense; my ma en oom Danie het vir ’n groot boumaatskappy gewerk, en selfs oom Danie se hoofde was daar. Daar was ’n yslike Kersboom en onder die boom het Kersvader gesit. Ek het geweet dis net ’n ou oom met rooi klere en ’n vals baard, maar hy het soos ’n ou vriend gevoel toe hy my nader roep en ek my geskenk gaan haal. Dit het gevoel soos destyds toe my ma en pa nog getroud was en ons elke jaar na die polisie se Kersboom is. My ma het my nie toegelaat om later saam met my pa na sy Kerspartytjie te gaan nie, omdat sy bang was hy drink te veel en vergeet dan van my.
Ek het my geskenk in die motor gaan sit sodat ek dit later in my kamer kon oopmaak. Ek, Klein-Danie en die ander kinders het buite gespeel: blikaspaai, wegkruipertjie, aan-aan.
Dit was al donker toe my ma ons kom roep om ons kos te kom haal waar dit op lang tafels uitgepak was. Ek en Klein-Danie het alreeds met ons vol borde staan en wag dat my ma haar en oom Danie s’n klaar inskep, toe hy aangestap kom. Mens kon sien hy het gedrink, te veel gedrink, maar anders as my pa, wat dan meer lag, was sy gesig stroef. Ek kon nie hoor wat hy vir haar sê of wat sy sê nie, net gesien hoe hy die borde uit haar hand klap, gesien hoe Klein-Danie syne laat val en hardloop. Oom Danie was besig om driftig vir my ma te beduie. Sy het vinnig omgedraai, my aan die hand beetgekry en uitgestap.
“Johanna! Johanna!” het hy agterna geroep, maar sy het net vinniger geloop. Dit was doodstil in die saal. Al wat ek kon hoor, was oom Danie se geroep na my ma.
“Sit neer jou bord.”
Ek het nog steeds my bord vasgehou, het ek besef, en dit laat val op die gras. Toe hardloop ons. Ek en my ma. Tussen die rondawels deur, terwyl hy ons in sy motor agtervolg en bly roep. Ek dink as my ma wou, sou ons nog vinniger kon gehardloop het. Dit was asof sy ’n speletjie speel. Sy wou hê dat hy ons moes vang. Ons het lank so bly wegkruip, hardloop, wegkruip, tot hy ons voorgekeer het.
“Ek is jammer, Johanna, ek is jammer,” het hy gehuil en op sy knieë voor ons neergeval. “Dis wat drank aan my doen, dis hoekom ek nie drink nie. Dis daardie spul van finansies wat my máák drink het. Ek is jammer. Trou met my, Johanna.” Hy was nou nugter geskrik. “Ek weet hoe haat jy drank, gee my ’n jaar kans om aan jou te bewys dat ek nie só is nie. Trou dán met my,” het hy gesnik.
My ma het my hand gelos, by hom gaan kniel en hom in haar arms geneem.
Dis ék wat later moes vra waar Klein-Danie is.
“O Here! My kind!” het hy uitgeroep.
Ons het hom eers die volgende oggend in die swembad se kleedkamers gekry. Hy was yskoud en baie honger. Hy wou nie met my praat nie.
Die aand, met die beskerming van die donker om ons, het hy tóg gepraat: “Pas op vir my pa, Anna. Hy is ’n vark. ’n Fokken vark. Ek haat hom.”
Ek het nie gevra hoekom nie. Ek was te bang om te hoor watse onheilighede daar nog in oom Danie se kas skuil.
Vroeg in die nuwe jaar, my standerdvyfjaar, het my ma en oom Danie na huise begin kyk. Dit het hom nie lank gevat om haar te oorreed om saam met hom in te trek nie. “Ek gaan nie dieselfde fout weer maak nie, jy sal sien.”
Sy het steeds onseker gelyk.
“Ek wil jou nie dwing om vroeër met my te trou nie, Johanna, ons bly by ons datum van 5 Desember. Kom ons koop solank huis, bly saam. Werk dit nie uit nie, hou jy die huis, ék sal ander blyplek soek.”
So begin ons toe weeksmiddae huis soek. Ek en Klein- Danie opgewonde op die agterste sitplek van sy pa se luukse motor. Ná elke huis, terwyl my ma-hulle die voor- en nadele van die huis bespreek, het ek en Klein-Danie die inhoud van die huis, en soms die mense, bespreek. “Het jy gesien hoeveel tapes daai meisiekind het?”
“Het jy gesien hoeveel Huisgenoot-middelprente daar teen sy muur is?”
“Hulle moet seker elke week ’n Huisgenoot koop.”
“Het jy gesien hoe lank die tannie se naels is?”
“Het jy haar hare gesien?”
“Sy groot boep?”
Die huis wat almal van ons se hart gesteel het, was in ’n spogwoonbuurt. “Ruim,” het my ma gesê. Daar was ook ’n swembad en die mooiste uitsig oor die see.
Ons sou begin Maart intrek. My ma het solank bokse bymekaar gemaak, metodies begin pak. Die ekstra linne is gewas, drooggemaak en dan gepak. So ook ons winterklere. Die breekgoed wat sy net met spesiale geleenthede uitgehaal het, is in groot velle borrelplastiek toegedraai en dan in die bokse gepak. My hande het gejeuk om ’n vel daarvan tussen my vingers te laat bars, maar my ma se waarskuwende oë het my daarvan weerhou. Spokie het die pakkery geniet. Tussen die bokse rondgehardloop, die velle papier bestorm, tot my ma gegil het: “Vat tog die kat van jou uit, Anna! So sal ek niks gedoen kry nie.”
Soms het ek gewonder of my ma ooit kind was, sorgeloos. Sy was so streng oor alles, dit kon tog nie vir haar lekker wees om altyd bemoerd te wees nie?
Ek het daardie selfde nag, dit moet ’n Vrydag gewees het, hulle het tog net naweke na ons toe gekom, wakker geword toe my bene begin ruk, toe die lamheid deur my lyf trek. Hy het oor my gebuk gestaan, sy hand by my broekie uitgetrek, my op die voorkop gesoen, omgedraai en geloop. Ek het lank wakker gelê. Was hy regtig hier? Hier in my kamer, met Klein-Danie wat op die ander bed lê en slaap?
Dit was naweek. Paulina sou eers weer Maandag kom, ek sou die volgende twee nagte in dié nat bed moes slaap, het ek die volgende dag besef toe ek my bed opmaak. Ek sou maar snags ’n dik sweetpakbroek moes aantrek teen die nattigheid.
“Pappa?”
Ons het op die strand geloop. Altans, my pa het geloop, ek het tussen hom en Kaptein, wat ver vooruit gehardloop het, gedraf. “Hoekom is Mamma altyd so kwaad?”
“Kom ons gaan sit, ek is darem nou lus vir ’n sigaret.”
“Kaptein!” het ek geroep; ek wou nie hê hy moes so ver vooruit hardloop nie, netnou kry ek hom nie weer nie.
“Los hom,” het my pa gekeer, “laat hy homself moeg maak, dan blaf hy dalk vanaand minder.” Ek het langs hom gaan sit en my kaal voete in die sand ingegrawe. My pa het ’n sigaret uit die pakkie geskud, dit opgesteek. “Miskien moet ek jou van jou ma vertel, dalk verstaan jy haar. Die hemel weet, ék verstaan haar nie,” het hy moedeloos gesê. “Jou ma kom uit ’n huis waar haar pa gedrink het.”
“Soos Pappa?”
“Nee,” het hy gelag, “baie erger as ek. Hy het so gedrink dat hy nooit ’n werk lank kon hou nie. Daar was baiekeer nie kos in die huis nie, jou ma het baie kere honger gaan slaap. Dit het natuurlik ook nie gehelp dat die kinders by die skool jou ma gereeld gespot het nie.”
“Hoekom?”
“Omdat sy altyd ou klere moes dra, soms nie skoene vir skool gehad het nie. Nie bruinpapier kon bekostig om haar boeke oor te trek nie. Nie broodjies kon inpak nie. Daai soort ding,” het hy met sy hande beduie.
“Arme Mamma.”
“Ja, arme Mamma. Sy het haarself al vroeg belowe dat sy nooit so armlastig sal wees nie. Dat sy beter sal lewe as haar ma.”
“Maar hoekom is sy kwaad?”
Kaptein het aangehardloop gekom, ek het my arms vir hom oopgemaak, hy het my amper onderstebo gehardloop.
“Ek dink sy is kwaad vir haarself. Omdat sy dit nie kon regkry om ’n ware man te kry nie. Een wat die broek in die huis dra. Letterlik en figuurlik. Sy wil nie besluite neem nie. Sy wil hê haar man moet alles namens haar besluit. Sy wil sy slaaf wees, soort van. Ek was nie goed genoeg vir haar nie, nie mans genoeg nie.”
“En jy drink.”
“En ek drink.”
My pa het sleg gelyk, hy het baie gewig verloor, sakke onder sy oë gehad, het ek opgelet.
“Oom Danie het vir ons ’n huis gekoop met ’n swembad,” het ek die gesprek verander.
“Trou hulle dan?” het hy verbaas gevra.
“Eers Desember.”
“Jou ma is seker bly oor die huis. Sy wou nog altyd haar eie huis gehad het. Het nie daarvan gehou om in ’n huurhuis te bly nie.” Hy het gesug. “Sy is baie lief vir jou, Anna. Dís hoekom sy so streng met jou is, omdat sy jou liefhet.” Hy het die sigaret weggeskiet. “Kom ons gaan na ons ou huurhuisie, sónder die swembad, toe.”
Ons was besig om die laaste goed in te pak, ons sou die volgende dag intrek.
“Mamma, Pa lyk nie vir my so goed nie.”
Ek het al twee weke gesukkel om dit vir haar te sê.
“Wat verwag jy? Ek is nie in die minste verbaas nie. Hy drink te veel, hy rook te veel. Gee daardie boks aan.”
Hoe kan sy so harteloos wees? het ek gedink. Sy ken hom al só lank, maar sy kan nie ’n enkele goeie ding van hom sê nie.
Ons het die volgende oggend vroeg begin trek. Die hele dag lank uitgepak. Klein-Danie het vir my die grootste kamer gegee. Hy het die kleiner een langs my vir homself uitgekies. Dit was lekker om my goed uit te pak soos ék dit wou hê. My ma het gesê ek was nou groot genoeg om dit self te doen.
Toe my ma eindelik verklaar dat ons klaar is vir die dag, het ek en Klein-Danie ons swemklere aangetrek en in die swembad gaan spring. Die water was koud, maar dit het gehelp om die ergste lyfseer van die dag se harde werk te verdryf. Klein-Danie het die swembadlig aangeskakel sodat die water blou geskitter het. Ek was besig om ’n bal uit sy hande te probeer kry, toe die lig in die swembad doodgaan. Kort daarna was daar ’n plons agter ons. Dit was oom Danie wat ingeduik het. Ons het hom nie onder ons luide gille en gelag hoor aankom nie.
“Hoekom sit Pa die lig af?” het Klein-Danie gevra.
“Dis lig genoeg buite, en ons moet maar krag bespaar waar ons kan,” was sy verweer.
Ek het so ver moontlik van hom probeer wegkom, was net aan ’t uitklim, toe hy my terugtrek die water in.
“Gaan Pa saamspeel?” het Klein-Danie gevra.
“Ek dink jy moet gaan bad.”
“Maar Anna swem dan nog.”
Hy het my met sy een arm stewig teen hom vasgedruk, met sy ander hand my bikini-broekie weggetrek. Sy hand was vuurwarm teen my koue vel. Hy het my begin streel, eers saggies, toe harder. Sy asem het gejaag, en die soet reuk van Old Spice was in my neus. Ek het iets hards teen my rug voel lewe.
“Pa?”
“Klim nou uit, Danie! Gaan bad solank, dan kan Anna ná jou bad. Toe-toe!”
Klein-Danie het druipstert uitgeklim. Ek was nou alleen saam met hom! “Ek kry koud,” het ek deur geklemde kake gesê, “ek wil ook nou uitklim.”
“Kak.” Hy het opgehou om my te streel. Hy het sy hand ín my gedruk sodat ek hard gekreun het. “Eina! Dis seer!”
“Sjuut!”
“Kom nou in, julle twee! Kos is reg!” het my ma vrolik uit die deur geroep. Hy het my gelos, en ek kon uitklim.
“Ek wil nie eet nie, Ma. Kan ek maar môre bad?” het ek in die verbygaan geroep.
“Is jy dan nie honger nie?”
Ek het my kop geskud en verbygeloop na my kamer toe.
“Tieners!” het ek hom en my ma hoor lag.
My hart het met dowwe slae teen my ribbes gebons. Ek het van kop tot tone gebewe. Tóé al het ek hom begin haat.
My ma moes die vorige maand vir Paulina laat gaan. Dit was vir my baie hartseer. Oom Danie het daarop aangedring dat Maria Cupido, sy huishulp, by ons werk. Ek het van haar gehou, maar nie so baie soos van Paulina nie. Ek moes haar die volgende dag smeek om nie vir my ma van my nat bed te vertel nie. Sy het nie. Sy het die nat lakens afgehaal, die matras omgeruil, nuut oorgetrek. Ek weet nie hoe sy dit reggekry het om die nat lakens te was sonder dat my ma weet nie. Miskien was my ma net te besig met die uitpakkery om om te gee.
Die middag het daar ’n radio op my bed gelê.
Van oom Danie.
“Hy bederf jou vreeslik, Anna!” het my ma bly gesê.
Omdat ons nou nie meer binne loopafstand van my skool gewoon het nie, moes ek ná skool saam met al die ander kinders wie se ouers werk, by nasorg bly. Toe my ma die voorstel maak, was ek woedend. Ek wou nie daar wees nie. Ek wou by die huis wees, by my kat, in my kamer. Dit was die enigste tyd van die dag dat oom Danie nie daar was nie. En toe is dit al die tyd lekker by nasorg. Ek het die maats wat ek daar gemaak het, geniet. Kans gehad om my punte bietjie op te stoot. Skool het sy bekoring vir my verloor, tog het ek gedoen wat ek moes om deur te kom, om nie in die moeilikheid te beland nie. Nie by my ma óf by die skool nie.
My pa het my die Vrydag sommer by die skool opgelaai. Hy moes Kaptein soos gewoonlik vashou, anders het hy tussen die ander kinders deur op my afgestorm. Dit was my rusnaweke, dié by my pa, niemand wat pla nie, niemand wat in die nagte jou deur oopmaak en oor jou buk nie. Dit het nie eens gehelp dat ek my deur toesluit nie, my ma sou die volgende oggend net vreeslik met my raas omdat sy nie in my kamer kon kom om my vir skool wakker te maak nie. Natuurlik het oom Danie my ook met verskriklike goed gedreig as ek dit durf waag om my deur te sluit.
My pa het daardie naweek vir my so ernstig gelyk.
“Anna, Pappa is lief vir jou, jy moet nooit daaroor twyfel nie.”
“Ek weet, Pappa.”
“Is hy goed vir julle?”
Ek het getwyfel, maar uiteindelik tog ja gesê.
“En jou ma? Is sy nou rustiger? Baklei sy nog so baie met jou?”
“Nie meer so baie nie.” “Ek is bly. Onthou, as jy wil praat, oor enige iets, ek’s altyd hier.”
“Ek weet, Pappa.”
Stom Anna.
Hy het my hare deurmekaar gekrap en opgestaan. Sommer gaan koffie maak of iets.
Toe hy my die Sondag gaan aflaai, het hy my lank vasgehou en gehuil. Ek het half verward probeer troos. Myself voorgeneem dat ek hom die volgende keer alles sou vertel. Hy is my pa, hy sou iets moes kon doen. Ek sou by hom kon gaan bly … Nie nou vertel nie, nie terwyl hy so huil nie, maar definitief volgende keer.
“Toemaar, Pappa, dis nog net twee weke.”
Dit was nie. Hy het dieselfde aand sy dienspistool gevat en homself in sy badkamer geskiet. Oom Willem het die volgende oggend die nuus gebring. My ma het my kamer toe gestuur, maar ek het bly staan, en dié keer het sy my gelos.
“Hy was baie af die laaste tyd. Het behandeling vir depressie gekry.”
“Depressie?”
“Ek weet ook maar nie veel nie, Johanna. Ek is jammer.”
“Wie gaan die reëlings tref?”
“Cecilia het gevra of sy kan.”
My ma het geknik. “Dis goed.”
“My pa wil veras word.”
“Sy weet, Anna,” het oom Willem gesê.
Terwyl my ma haar werk en my skool bel, het ek kamer toe geloop. Met my skoolklere op die bed gaan lê. Ek het nie gehuil nie, nie toe nie. Net toegelaat dat my ma by my kom sit.
Sy het oor my hare gestreel. “Ek is jammer, Anna.”
Eers tóé kom die trane. Soos ’n sluis wat oopgemaak word. Sonder ophou. Sodat sy my teen haar getrek het, my in haar arms gehou het.
Die diens was so onnatuurlik. Sy kis is buite in die bloedige warm son gelos. Dit was sy wens dat sy kis nie die kerk ingebring word nie, dat die preek nie oor hom gaan nie, maar vir ons moet wees. Die predikant het my pa glad nie geken nie, nooit lewend of dood gesien nie.
Cecilia het ná die diens na ons oorgestap, haar hand uitgesteek. “Hallo, ek is Cecilia,” het sy vir my ma gesê.
My ma het haar hand gevat. “Johanna. My verloofde, Danie.”
“Hennie se as word volgende week aan my oorhandig. Sal dit reg wees as ek Anna kom haal sodat sy dit saam met my kan bêre?”
“Natuurlik.”
Daar was ’n stroefheid tussen die twee vrouens.
“Dankie.” Cecilia het na my gekyk. “Anna, jou ouma is hier. Sy wil jou graag sien. Wil jy saamkom?”
Ek het haar hand gevat en saam met haar na my ouma geloop. Ek het haar nie herken nie, my ouma. Nie geken nie. Sy was net nog ’n ou vrou met ’n moesie op haar linkerwang. Sy het my op en af gekyk en gesê: “Jy lyk net soos jou ma. Daar is niks van jou pa in jou nie.” Toe het sy omgedraai en weggestap.
Cecilia het my teruggevat na my ma toe. My gesoen voor sy loop.
Sy het my die volgende week kom haal. My pa was op die agterste sitplek. In ’n klein boksie. Die tuin van herinnering was ’n indrukwekkende muur met klein vakkies waarin die boksie net-net gepas het. Een van die werkers het my pa binne-in toegemessel. Ons het nie gepraat nie, net gekyk tot hy klaar was.
Cecilia het na my hand gesoek, dit styf vasgehou. “Hy was baie lief vir jou, Anna,” het sy gesê.
“Ek weet. Hy was vir jou ook lief.”
Sy het geknik en die trane van haar wange gevee.
“Hoekom het hy dit gedoen?”
Sy het lank stilgebly, haar stem was onvas toe sy eindelik praat: “Depressie is ’n lelike ding, dit bekruip jou so onverwags. Ek het hom nie die Sondagaand gesien nie, hy wóú my nie sien nie. Ek dink dit was vir hom te moeilik om die mooi in die lewe bo die pyn raak te sien. Hy was moeg om dit altyd te moet soek. Ek glo nie dat hy regtig wou selfmoord pleeg nie, ek dink hy wou net hê die pyn moes stop.”
Die vrae het onverwags by my opgekom. Is my pa in die hemel? Sou God ’n man daar toelaat wat nie eens as dooie in die kerk wou ingaan nie? En dit omdat hy ongemaklik was om voor ander te bid. Die kerk sê selfmoord is sonde: sou God hom tog, omdat hy depressie gehad het, in die hemel toelaat? Mý antwoorde op al die vrae was nee. En dít het beteken dat hy in die hel was. Saam met die duiwel. Hoe kon ek trots wees op ’n pa wat in die hel is? het ek gedink. Hoe kon ek my vader eer? En dis ’n gebod, eer jou vader en jou moeder. Ek het daar langs die muur, met my hand in Cecilia s’n, geweet dat ek hom slegs sou kon onthou, sou kon eer vir die wonderlike pa wat hy vir my was. Anders as my ma, het hy nie aan lyfstraf geglo nie. Hy het met my gepraat, of ek iets verkeerds gedoen het of nie. Ek sal hom onthou omdat ek vir hom lief was. Die liefste vir hom was. En omdat hy vir my lief was.
Cecilia het ingekom toe ons by die huis stop. My ma was dié keer minder stroef, sy het koffie aangebied, Cecilia het dit aanvaar. “Ek moes die huis gister ontruim, ek het al Anna se klere saamgebring. Dis in die kattebak, as jy dit wil gaan haal, Anna.”
“Klere?” het my ma verbaas gevra.
“Pappa het vir my ’n paar goedjies gekoop.”
Cecilia het ’n slukkie van haar koffie geneem. “Dan is daar die kwessie van die hond.”
“Kaptein,” het ek haar gehelp.
“Dis reg, Kaptein.”
My ma het na my gekyk. “Ai, my kind, dit kan nie. Hier is nie genoeg plek nie, en so ’n hond het spasie nodig.”
Sy was reg, die erf was nie baie groot nie. Die swembad het die meeste van die spasie gevat. “Maar –”
“Anna,” het sy my in die rede geval, “verstaan tog, my kind. En jy het mos vir Spokie.”
“Ek sal nie omgee om hom te vat nie, as jy nie omgee nie. Ek wou nog altyd ’n hond gehad het,” het Cecilia aangebied.
Ek het geknik: ja, en uitgeloop om die tas in die motor se kattebak te gaan haal. Met die terugkom het Cecilia opgestaan. “Miskien kan jy vir my kom kuier, dan kan jy darem vir Kaptein sien.”
“Dit sal lekker wees.”
Met die uitpak van die klere het ek afgekom op foto’s van my en my pa wat Cecilia ook ingepak het. En my pa se polshorlosie. Dit was die polshorlosie wat my bors weer laat brand het, wat die trane uit my oë gepers het. Dit was die tweede keer dat my pa van my weggevat word, en elke keer verloor ek ’n troeteldier. Hoekom, Pappa? Hoekom het jy dit aan jouself, aan my, gedoen?
’n Paar maande later, toe die seer oor my pa nie meer so vreeslik séér was nie, het ek en ’n vriendin, Esmé, uit die studielokaal gesluip, kafee toe. Albei van ons was lus vir iets soets. Ons het na die tapes op die staander gekyk. Daar was nie juis iets wat my getrek het nie.
Esmé het egter met die nuwe Queen-tape in haar hand gestaan. “Ek wil só graag die tape hê.”
“Ek hou ook nogal van Queen.”
“Kom ons vat elkeen een.”
“Hû?”
“Kom nou, Anna, moenie so prim wees nie. Kom ons vat dit. Niemand gaan ons tog sien nie.” Ons het die tapes voor by ons bloese ingedruk, lekkers gekoop en uitgestap. En net tot op die sypaadjie gevorder.
“Kom saam. Gee die tapes vir my.” Die eienaar was ’n groot man. Hy het sy hand uitgehou en ons het dit gegee. “En ek soek julle telefoonnommers.”
Esmé was die een wat in trane uitgebars het en haar telefoonnommer gegee het. Ek het geweier. Botstil bly staan. Dit was nog altyd my probleem: as ek skrik, as ek bang is, vries ek. Kan ek geen woord uitkry nie. Dié keer het ek uit beginsel stilgebly. My ma sou my dóódmaak. Aan oom Danie wou ek nie eens dink nie. Daar was nie ’n manier hoe ek die nommer vir hom kon gee nie. Hy was tevrede met net Esmé s’n, en ons is druipstert terug skool toe, waar ek bewend van angs vir my ma gewag het. Ek kon nie glo dat sy nie op my gesig kon sien wat ek gedoen het nie.
Dit was al laat toe die telefoon lui. Ek het genael om eerste daar te wees. Dit was Esmé se ma, sy wou met my ma praat. Ek kon nie vinnig genoeg aan ’n verskoning dink nie en moes my ma roep.
“Het julle baklei?” het my ma gevra toe ek die telefoon na haar uithou. Sy was spierwit toe sy die gehoorstuk terugplaas. “Hoe kon jy?”
“Mamma …”
“Gaan kamer toe.” Sy was kortasem, asof sy baie lank, baie ver gehardloop het.
Kort daarna het oom Danie met sy belt ingestap. Die eerste houe het op my boude geval, daarna het hy nie meer omgegee wáár hy my tref nie, solank dit net tref. Bene, boude, rug.
“Donnerse kind! Ek maak nie ’n dief groot nie!” het hy geskree toe hy uitstorm.
Dit was weke voor my ma weer vir my kon kyk.
Een aand – ek het al vroeër kamer toe gegaan – was ek op pad kombuis toe om vir myself ’n glas koeldrank te gaan haal. Ek het hulle hoor praat. Van my hoor praat.
“Hoe kón hy dit aan haar doen?” My ma se stem. Gedemp.
Ek het voor die deur vasgesteek, stadig agteruit geloop voor hulle my kon sien.
“Hy was ’n lafaard, jy het self so gesê.”
“Ja, maar wat dink jy het in sy kop aangegaan? Hy het vir geen oomblik aan Anna gedink nie, wat dit aan haar gaan doen nie.”
“Hoe weet ’n mens ooit wat in iemand se kop aangaan?”
“Dis Hendrik wat haar so deurmekaar gemaak het, dis sy skuld dat sy dinge soos dié diefstal doen. Sy is tog nie so nie.”
“Jy is reg. Gelukkig vir Anna is ek darem nog hier. Sy is nie totaal pa-loos nie.” Hoe durf hy, het ek gedink.
“Miskien moet ek haar na ’n sielkundige vat, so iets vreet maar aan ’n mens. Dalk het sy nodig om met iemand daaroor te praat, al behoort sy eintlik met mý oor dié soort dinge te praat.”
“Skat,” het hy gelag, “jy het nie genoeg geduld vir so ’n kind nie, en nee, ek dink nie dis ’n goeie plan om haar na ’n sielkundige te vat nie.”
“Hoekom nie?”
“Ek dink dis onnodig. Sy het vir jou en vir my; as sy dan nou móét praat, kan sy met ons praat.”
“Jy’s reg. Natuurlik is jy reg.” Sy het verlig gelag. “Jy is altyd reg. Maar ek gaan haar tog vra of sy nie wil gaan nie. Anders voel dit vir my of ek my ouerlike plig verwaarloos.”
“Jy mors jou tyd. Sy sal nie wíl gaan nie.”
Maar my ma het tóg anders gedink.
“Anna, Mamma het gewonder, wil jy nie maar na ’n sielkundige gaan nie?” Dit was later die aand. Sy het, vandat my pa dood is en vandat sy weer met my begin praat het, vir my kom nagsê asof ek skielik ’n baba was.
“Nee.” Ek het gehaat om dit te erken, maar oom Danie was reg, ek wou nie na ’n sielkundige gaan nie. Ek wou nie voor ’n vreemde sit en derms uitryg nie. En buitendien, wat sou oom Danie aan my doen as ek tóg sou gaan? Hy sou dit mos nie net so los nie.
“Liefie, dit sal jou goed doen, daar kan jy oor jou pa praat. Dit sal help vir die dae wanneer jy so vreeslik na hom verlang.”
Daar het so wraggies ’n traan oor haar wang geloop. Sy het nooit gehuil oor my pa nie, nie toe oom Willem ons kom sê het nie, nie by sy diens nie, nóú wou sy kamstig emosioneel raak. Ek het koppig geweier om na ’n sielkundige te gaan, ek was mos nie mal nie. My ma het later handdoek ingegooi.
Ek weet nie hoe ek deur my standerdvyfjaar gekom het nie maar ek het, sonder my pa. Ek het op ’n dag die jeans wat my pa vir my gekoop het, aangetrek. My ma het my op en af gekyk, maar niks gesê nie.
Cecilia het my twee maal kom haal om by Kaptein te gaan kuier, maar sonder my pa was dit nie dieselfde nie. Ek wou nie weer gaan nie.
Ek het skool toe gegaan, huis toe, en snags stokstyf in my bed gelê en bid dat hy nie sal kom nie. Maar hy het. Die deur het keer op keer geruisloos oopgegaan, sy hand het by my broekie ingekruip, my lyf het begin ruk.
“Jy praat met niemand hieroor nie,” het hy gewaarsku. Gedreig.
My skande het ek die volgende oggend in die wasgoedmandjie gaan gooi. Godsgeluk het my ma Maria met die wasgoed vertrou.
Hoekom hét ek nie gepraat nie? Omdat ek bang was? Omdat ek skaam was? Of omdat dit so vernederend was? Tot vandag toe weet ek nie. Ek weet net ek kon nie. Met niemand nie.
Daardie jaar, 1981, die jaar toe my pa dood is, die jaar toe my ma weer getroud is, het ek dertien geword, ’n tiener.
Amper ’n week ná my verjaardag kom my ma by die huis met ’n pakkie en nooi my kamer toe om te kom kyk. Ek voel hoe die opwinding deur my trek toe sy die pakkie oopwikkel. Sy begin klein kleertjies op die bed uitpak. “Vir my pop?” het ek ongelowig gevra. Ek het mos nie eintlik meer pop gespeel nie, net as niemand my sien nie, én dit was ongewoon om sommerso iets by my ma te kry.
“Nee, liefie,” het sy goedig gelag, “dis vir my. Jy gaan ’n bababoetie of -sussie kry.”
“’n Boetie of ’n sussie?” Na al die jare se alleenkind? Ek was tóg opgewonde.
Op 5 Desember is hulle toe getroud. Nie in die kerk soos my ma graag wou nie, maar in ’n vriendin van my ma se huis. Tannie Karen, wat ’n landdros was. Tannie Karen was erg op haar senuwees. Dit was haar eerste troue en haar stem het gebewe. Ek moes ’n aaklige groen blommerok met valletjies om die moue en hals dra. Lang wit kouse, swart skoene. Soos vir kerk. Klein-Danie en sy pa het pakke gedra. My ma het mooi in ’n pienk rok en hoed gelyk. Dit was gou verby, die troue. Tien oogknippe lank, ek het getel. Hulle sou nie op wittebrood gaan nie. “Wat van die kinders?” was albei se verweer.
Klein-Danie het van daardie dag af my ma Ma genoem. Hy het sy belofte nagekom. Ek kon nie. Die woord Pa het in my keel vasgesteek as ek na hóm kyk. Dit wou nie uit nie.
My ma het gesmeek: “Noem hom Pa, my kind, hy is tog nou jou pa en dit laat ons darem na ’n normale huisgesin lyk.” Normaal, Ma? “Dit klink so aaklig as ons gaste het en jy ‘oom’ hom.”
Ek het geweier. Toe los sy dit. My ma wat soos ’n boerboel aan ’n been kon klou, los dit. Dalk was sy tog lief vir my.
Die begin van die nuwe skooljaar het die begin van my hoërskooljare beteken. Die hoërskool was slegs twee blokke van die huis af, dus binne loopafstand. Vir die eerste keer was ek en Klein-Danie in dieselfde skool, gelukkig nie in dieselfde klas nie. En omdat ons vanne verskil het, het bitter min mense geweet dat ons eintlik amptelik broer en suster was. In die begin was dit moeilik, ek het gesukkel om maats te maak, gesukkel om in te pas. Sover dit my aangaan, is hoërskool net lekker as jy jou laaste matriekvraestel voltooi en ingelewer het.
Saam met die nuwe skool moes ek ook na ’n nuwe balletskool gaan, die oue was te ver, dié een was binne loopafstand. Maar anders as by die skool, het ek daar dadelik tuis gevoel. Miss Dolly, ons onderwyseres, was gek oor my.
“Look at her body. Look at the way she holds herself. Her technique is beautiful. She will one day become the prima ballerina!” het ek haar ná ons eerste klas aan die pianis hoor sê. Met die volgende les het sy my eenkant geroep en voorgestel aan ’n baie aantreklike meisie.
“This is Helena, Anna. I want the two of you to work together, from now on. When next we have a show, I want both of you centre stage. You are ideally suited to each other!”
So leer ek toe vir Helena ken.
En ’n bietjie later ook haar ouers.
“Mamma, ek het iemand by die balletskool ontmoet, haar naam is Helena. Hulle bly net in die volgende straat. Haar pa het ons genooi om daar te kom tee drink. Vir my en Ma. Hulle wil graag vir Ma ontmoet. Sy is ook in my skool, maar nie in dieselfde klas as ek nie. Kan ons gaan, asseblief?”
My ma het gelag, sy het deesdae baie meer gelag. “Sjoe! Jy het lanklaas so baie te sê gehad. Natuurlik kan ons. Ek sou self graag jou vriendin en haar ouers wou ontmoet. Wanneer moet ons gaan?”
“Wel, hm, nou.” Asseblief, voor hy by die huis kom en dit in sy kop kry om saam met ons te gaan.
“Anna, is jy seker? Ek wil nie die mense onkant vang nie.”
“Natuurlik, Ma. Helena het my nou net gebel. Haar pa is al by die huis, en toe sê hy ons moet kom tee drink.”
“Nou maar toe, gee my vyf minute om myself respektabel te maak, dan kan ons ry.”
Daar was niks fout met my ma nie. Soos altyd was sy perfek gegrimeer. Al wat anders was, was haar groot maag; mens kon nie meer haar ongelooflike dun middel bewonder nie.
Ek kon sien dat my ma aangenaam verras was met die huis toe ons in die oprit stilhou. Dit was ’n mooi huis, siersteen, ’n groot dubbelverdieping. Bo in die dak kon ek die rye klein venstertjies soos dié van ’n kerk sien. Dit moet haar ma se heiligdom wees, het ek geweet. Helena het gesê haar ma skilder en sy het haar ateljee bo in die dak ingerig. Voor in die oprit het ’n luukse Mercedes gestaan, daarnaas ’n afgeleefde Toyota-bakkie en ’n minibus. ’n Perse!
Helena moet vir ons gewag het, want sy kom haal ons by die motor.
“Ek is bly julle is hier! Hallo, tannie, ek is Helena.”
“Aangename kennis, Helena. Ek moet sê dat ek verras was oor die uitnodiging, maar ek is bly om hier te wees.”
“Kom gerus in, ek gaan gou my pa haal.”
Sy het ons na die sitkamer beduie, en ek het verskrik na my ma gestaar. Soveel van deurmekaar het ek nog nooit gesien nie. Oral het lappe gelê, selfs die banke was oortrek met ’n bonte mengelmoes van lap. En op die vloer, sodat ons nie mooi geweet het waar om te trap nie, wat nog waar om te sit.
“A! Die baie mooi, baie begaafde Anna. En haar mooi ma. Aangename kennis, ek is Hannes Malherbe, Helena se pa. Kom sit gerus.” Hy het met ’n wye handgebaar na die banke om hom gewys. Hy moes ons verwarde gesigte gesien het, want hy het goedig gelag, sy kop geskud en gesê: “Verskoon die gemors, sit sommer bo-op, of gooi af, ek doen dit. Dis my oudste, Angelica, hulle groepie moet ’n modeparade beplan, klere maak en so, jy weet, en ek lei af dis waar hulle besluit het om te werk, voor hulle gou stad toe is vir ’n pizza.”
My ma het gelag, nie heeltemal oortuigend nie, en die lappe versigtig eenkant toe gevee voor sy gaan sit het. Van Helena was daar nie ’n teken nie. Ek het maar half verdwaas om my gestaar terwyl my ma en oom Hannes gemeenplasies uitruil.
Die gesels wou nie mooi op dreef kom nie. “Ek is ’n ouditeur, glo dit as jy kan. Gewoonlik dink almal wat my vir die eerste keer by my huis ontmoet dat ek ook met die kunste doenig is, maar glo my, ek het geen kuns in my nie. Ek laat dit maar alles in die vroue van die huis se hande oor.”
“Vroue?”
“My vrou, Sara, is ’n kunstenaar, miskien het jy al van haar gehoor? Sy skilder onder haar nooiensvan, sy is baie gewild hier en oorsee.” Hy het gewag vir erkenning, maar wat die kunste betref, was my ma ’n leek. Sy het gehou van mooi prentjies, het sy gereeld gesê; wie dit geteken of geskilder het, was bysaak. “Ek het vier dogters, almal van hulle beoefen een of ander kunsvorm. Helena is natuurlik die danser, stel glad nie in enige ander sport belang nie, sy wil net dans.”
“Anna ook!” My ma het verlig geklink dat daar iets was waaroor hulle kon gesels. “Ek het al soveel kere probeer om haar te oortuig om tennis te speel, dis so ’n mooi spel, maar nee, sy wil net ballet doen. En as ek sien hoeveel tyd die ballet in beslag neem, is dit ook maar seker goed dat sy niks anders doen nie.”
“Jy het ’n pragtige dogter, sy is besonders.”
Ek het dit gehaat as iemand na my verwys as mooi. Wat ek ook al probeer het, almal het my “besonderse” skoonheid raakgesien. Ek het toe al die stywe jeans wat my pa nog vir my gekoop het, afgesweer en net wye jeans, rompe en bloese begin dra. My lang hare het ek óf in ’n bolla óf in ’n stertjie gedra, nooit meer los nie. Hoe minder mense sien wat hý sien, hoe beter, het ek geredeneer.
Helena het teruggekom met die mooiste vrou wat ek nog ooit gesien het, sy het soos iets uit ’n sprokiesboek gelyk. ’n Kruising tussen ’n elfie en ’n sigeunerin. Kort en donker met lang gitswart hare wat los gehang het, die mooiste gepunte oortjies, groot hoepeloorbelle en ’n lang laag-op-laagrok. Sy het nie lank gebly nie, slegs tee gemaak en haarself toe verskoon – sy was besig om aan ’n uitstalling te werk – maar sy moes tog ’n indruk op my ma gemaak het. Met die terugry kon sy nie genoeg praat van die mooie vrou nie, en hoe ooglopend lief sy en haar man vir mekaar was nie. Die gesin Malherbe, hoe deurmekaar hul sitkamer ook al was, het my ma se goedkeuring weggedra. My vriendskap met Helena was veilig.
Ek het nooit vir Helena genooi om oor te slaap nie, ek weet dat dit vir haar ’n teer puntjie was, maar hoe kon ek? Self het ek baie aande langs haar in haar dubbelbed – haar kamer moes ook as gastekamer dien – deurgebring. Ek was so bang dat hy met haar ook iets sou doen. Daarom het ek vroeg-vroeg al besluit om haar slegs by ons toe te laat wanneer hy by die werk was, wanneer dit veilig was. Hoe groter my ma se maag geword het, hoe meer gereeld het hy snags my deur oopgestoot.
“Ek is bang vir die geboorte.”
My ma was besig om aartappels te skil vir middagete. Haar maag was nou so groot dat sy gesukkel het om die krane van die wasbak by te kom. “Help tog gou hier.” Ek het die koue kraan oopgedraai sodat sy die aartappels in die water kon afspoel. Sy het nooit toegelaat dat ek haar in die kombuis help nie. “Jy is tog meer in die pad as wat jy help.” Maar vandat sy swanger was, het sy my soms geroep om te kom help.
“Hoekom is Ma bang?” het ek verbaas gevra. Ek het rede gehad om verbaas te wees. My ma het nooit met my praatjies gemaak nie. Veral nie as dit enige iets met seks te doen het nie.
“Met jou het ek nie geweet wat om te verwag nie, nou weet ek. Dit gaan maak dat dit seerder is as wat ek kan onthou. Ek het altyd geweet ek gaan swanger raak as ek al amper te oud is. Ek en jou pa het vreeslik gesukkel om swanger te raak met jou.”
Dit was die eerste keer dat sy iets oor my pa gesê het vandat hy dood is. Dit het my goed laat voel.
My sussie is in Julie gebore, ’n pragtige engel van ’n baba. Carli. Ek het onmiddellik halsoorkop op haar verlief geraak. ’n Mens kon nie anders nie, al was sy die monster se kind. Carli was ’n maklike baba volgens my ma, en sy het vroeg al almal om haar pinkie gedraai. Ek het selfs vir Klein-Danie betrap dat hy met leepoë ghoe-ghoe-geluide maak. Carli was die vredemaker in ons huis. Weke lank kon ek slaap sonder die vrees dat hy gaan kom. Het God eindelik my gebede verhoor? Of was dit omdat my ma snags moes opstaan vir Carli? het die waarheid my getref. Want ek het opgelet: as hy met my klaar was, het hy altyd die toilet in die gang, nié hulle s’n nie, gespoel. Sodat hy ’n verskoning kon hê as my ma sou wakker word.
Wat ook al die rede vir sy afwesigheid was, ek het tóé eers begin lewe. Dit was asof ’n hand wat versmorend om my mond geklem was, skielik weggevat is. So goed het ek gevoel dat ek selfs ingestem het om saam met Helena te gaan hokkie oefen. Uiteindelik.
“Kom ons begin ook met hokkie,” het sy op ’n dag gesê. Die onderwysers het pas tevore die nuwe buitemuurse rooster vir die winter uitgedeel.
“Ek weet darem nie,” het ek probeer keer, “ek is nie eintlik ’n ou vir spansport nie.”
“Ek ook nie,” het sy erken, “maar dit lyk na pret.”
Ons was op pad huis toe ná skool, en soos gewoonlik het ons eers by die kafee op die hoek koeldrank gekoop.
“Ons hoef nie eens hokkiestokke te koop nie, daar by ons lê ’n paar rond. Een van my susters het in ’n stadium gespeel,” het Helena aangehou.
“Goed,” het ek besluit, “kom ons gaan.”
“Deal! Dan kry ek jou drie-uur by die skoolhek.”
Dit wás pret, moes ek erken. Dit was ’n sportsoort wat ek kon doen. Ons het op dié eerste dag baie aan ons fiksheid gewerk.
“Ek dag ek’s fiks!” het Helena uitasem uitgeroep.
“Ek ook,” het ek gesug en langs haar op die gras gaan neerval. “Is dit iets wat ons gaan aanhou doen?”
“Ja. Ek hou daarvan, en jy?”
“Baie, solank ek net nie die goalie is nie.”
Dit was vir my ’n besonder vreedsame tyd, die eerste weke na Carli se geboorte.
Saam met Carli het daar aanvanklik ’n stroom besoekers opgedaag. Kollegas, vriende van my ouers. Terwyl hulle tee drink na hulle om Carli gefuss het, sou die vrouens se gesprek altyd na hul mans draai.
“My man kan my so kwaad maak,” sou die een vrou sê, “hy vergeet altyd om die deure te sluit, dan moet ek opstaan om seker te maak dat hulle ons nie wegdra nie.”
“Regtig?” sou my ma verbaas vra, “ek hoef nooit daaroor bekommerd te wees nie. Danie doen dit elke aand.”
Of: “My man en dogter, sy is nou sestien, sit so vas die laaste tyd.”
“Danie kom wonderlik oor die weg met Anna. Hy bederf haar so! Sy sal nog met my kanse vat, maar nie met hom nie.”
En: “Wanneer kom jy terug werk toe?”
“Weet jy nog nie? Ek gaan nie weer terug werk toe nie. Met Anna het ek so baie van haar grootword gemis omdat ek móés werk. Ek sien uit daarna om Carli net vir myself te hê. Ek is so geseënd om so ’n wonderlike man te hê. Hy het daarop aangedring dat ek van nou af by die huis bly.”
Asof hy die alfa en omega van haar bestaan was.
Ek en Klein-Danie het gou maats met die bure se seuns gemaak. Die een was bietjie ouer as ons, die ander een ’n jaar jonger. Engelse kinders, wat nie in ons skool was nie, maar na ’n privaat skool gegaan het. Ek het net saamgespeel as ek en Helena nie planne vir die dag gemaak het nie. Ons het een Saterdagmiddag touch-rugby buite op die grasperk gespeel. Ek het net vir Klein-Danie getackle, toe ek ’n nattigheid tussen my bene voel. In die badkamer het ek die bloed gesien en gedink dit is hoe die Here my straf. Ek sou my doodbloei. Nogtans het ek uitgegaan om verder te speel en dit eenvoudig geïgnoreer. Die aand in die bad het ek my ma geroep en na my broekie gewys.
“O, nou word my meisiekind groot!” het sy uitgeroep. Wat dit veronderstel was om te beteken, sou ek nie kon raai nie. Ek dog ek gaan dood, nou moes ek hoor dat ek grootword. Sy het vir my doekies gebring, gewys hoe ek dit moet gebruik, geglimlag en geloop. Vir my het sy met meer vrae as antwoorde gelos.
En hy was terug. Carli het deurgeslaap op ses weke, die sewende week het hy my kamerdeur oopgestoot. Hy het nie eens die feit dat ek bloei, dat ek ’n doekie tussen my bene het, ontsien nie.
Oktober. Die maand waarin ek veertien geword het, is Carli gedoop. Sy het pragtig gelyk in ’n baie lang, wit dooprok. My ma het net so mooi gelyk. Sy het die meeste van haar ekstra gewig afgeskud en al was daar nog ’n effense swelling oor haar maag, was sy amper weer so maer soos vroeër. Ek het vir die eerste keer broekiekouse gedra, nie die aaklige wit kouse van vroeër nie. ’n Mooi wye pienk-en-wit rok. Ek het vir Carli die kerk ingebring, Klein-Danie het haar uitgedra. Ons twee moes na haar kyk terwyl ons wag vir die diens om klaar te maak. Sy was stroopsoet, het deur die hele plegtigheid geslaap, soms verbete aan haar fopspeen begin suig, maar nooit haar oë oopgemaak nie. Ná die diens was daar tee by ons huis, waar my ma wéér aan almal vertel het hoe bevoorreg en geseënd sy was.
Ek het die ware storie oor waar babas vandaan kom, en hoekom ons menstrueer, by Helena gehoor, sy het alles van alles geweet wat verbode was. Haar ma het in ’n baie oop verhouding met haar kinders geglo, en Helena het geglo dat sy my ook daaroor moes inlig, aangesien my ma haar moederlike pligte so skaamteloos verwaarloos het.
“Hoekom bloei ek een maand, en dan weer twee nie?” het ek bekommerd vir Helena gevra. Ons was op die strand. Die luilekker, lang Desembervakansie was eindelik hier.
“In die begin is dit maar so ongereeld. Dit sal nog regkom.”
“Ek haat dit om te menstrueer. Dit voel so … vuil!”
Sy het gelag. “Dis deel van vrouwees.”
“Ek haat dit om vrou te wees,” het ek gemompel.
Ek het geweet wat hy doen is sonde. Maar ek kon nie besluit of dit vir my ook sonde was nie.
Dit was in ons standerdsewejaar. Ek en Helena het pouses teen die muur van die badkamer aan die agterkant van die vierkant, waar ons eintlik veronderstel was om te wees, gesit.
“Wat doen jy en jou pa as julle alleen is?” het ek haar gevra.
“Jy behoort te weet dat dit maar swaar is om alleen met enige iemand in ons huis te wees.” Sy het haar skoolrok nog hoër opgeskuif sodat die son haar lang bene beter kon bykom.
Dit was waar, elke keer wat ek daar gekom het, was daar mense: maats van haar susters, kollegas van haar pa, kunstenaars wat vir haar ma kom kuier. Tot vandag toe is ek nog steeds nie seker dat ek wéét watter van die klomp meisies haar susters was nie.
“Ja, maar wat doen jy en jou pa saam, sonder die ander?”
“Gesels, jy weet mos dat ek meer met my pa gesels as die ander, hy is al een wat reg is.” Sy het met haar vinger teen haar kop getik. Haar pa het net sy kop geskud oor die vreemde mense wat soms daar opgedaag het. Dan sou hy vir ons knipoog en skalks lag. Hy het nooit gekla nie, nie eens as hy op die vloer moes sit en koerant lees omdat al die ander sitgoed oortrek staan van verf en kwaste of lap nie. Hy was so lief vir sy vrou.
“Ja, maar …” So moeilik.
“Anna, wat wil jy nou eintlik weet?”
Sy was nie dom nie.
Ek het weer stilgebly, kon haar nie vertel van daardie middag nie.
Dit was die middag toe ek later as gewoonlik van die skool af gekom het. Ons het ’n besonder strawwe balletklas gehad, en my ma was weg na haar stokperdjieklas. Sy het elke Maandagmiddag vyfuur na haar vriendin gery om haar stokperdjie, kersmakery, te gaan beoefen. Hy het my na die eetkamer geroep.
“Waar is Klein-Danie?” het ek dadelik gevra.
“Hy en daai vriend, wat is sy naam tog, het gaan draf. Jy moet my help om na Carli te kyk.”
“Ja, maar Helena het my genooi om daar te gaan eet, ek moet nog bad en aantrek, Ma het gesê dis reg. Jy hoef my nie te vat nie, ek ry sommer met my fiets en haar pa sal my terugbring.”
“Bel haar en sê jy kan nie kom nie, dis laat, jy moet huiswerk doen, en ek kyk nie alleen na Carli nie.”
“Maar my ma het gesê dis reg.”
“Praat jy teë? Bel haar nou, jy is nog nie te oud vir ’n pak nie. Nou. Voor ek jou donner.”
Ek het gaan bel, in trane; hy het my eetkamer toe geroep toe ek klaar was.
“Ek wil jou eers iets wys. Sit.”
Hy het na die eetkamertafel gewys en ek het gaan sit. Hy het baie opgewonde geklink en ek was nuuskierig. ’n Boek! het my hart gejuig toe hy ’n slapbandboek uit sy aktetas haal. Ek was, ís, mal oor boeke en het gehoop dat dit nie weer ’n cowboy-boek was soos die een wat hy laas vir my gebring het nie. Toe hy dit voor my neersit, het my hele lyf begin bewe. Dit was ’n fotoverhaal. Soos in die Keur. Maar ook glad nie, want die “akteurs” het stadig, bladsy vir bladsy van hulle klere ontslae geraak. Ek wou opstaan, maar ek kon nie, ek was lam. My bene wou nie na my kop luister en net wegloop nie. Hulle het die vreeslikste dinge gedoen in die foto’s. Hy het opgewonde na elke nuwe foto gewys en dinge gesê soos: “Dit moet ons net probeer, dit wil ek vanaand doen, dink jy jy sal dit kan regkry?”
My verstarde liggaam het lewe gekry en ek het opgespring, maar hy het my aan my arm teruggehou.
“Moenie vir jou ma vertel nie, jy weet wat sal gebeur.”
Dit was ’n dreigement waarmee hy vroeg reeds gekom het: as ek durf waag om my ma te vertel, sou hy ons uit die huis jaag. Waarheen sou ons kon gaan? My ma het nie familie gehad nie, sy was die enigste kind en my oupa en ouma was lank reeds dood. Hy sou vir Carli hou, het hy gesê. My ma sou haar doodtreur. “Onthou, sy werk nie meer nie, wie gaan vir haar werk gee, onthou, werk is skaars.” Ons sou op straat moes bly … En sy troefkaart: “Jy het nie meer ’n pa nie, onthou.”
Hoekom het hy die moeite gedoen om my te dreig? Het hy regtig gedink ek sou kon vertel? Want dit was nie net vrees wat my mond gesnoer het nie, dit was ook verleentheid. Hoe vertel jy jou ma, wat die grond aanbid waarop hy loop, dat hy dít doen? Ek sou nie kon nie, sy sou dit nóóit glo nie.
“Anna,” het hy hervat, “los jou gordyne vanaand oop wanneer jy gaan slaap. Dan trek jy stadig voor die venster uit. Onthou om jou lig aan te sit, en stádig uit te trek. Ek sal uitgaan as jy kamer toe gaan, maar ek wil sien, ek wil waarde vir my geld hê.” Hy het twee vyftigrandnote na my uitgehou.
Ek het nie die geld gevat nie, net omgedraai en gaan stort. Die water was so warm dat dit my gebrand het, maar ek het bly staan, bly skrop. Ek wou sy vuil gedagtes van my lyf afskrop.
Ek het hom dié keer ook nie hoor inkom nie, net skielik sy hande oral oor my lyf gevoel. Gelukkig het Carli in daardie stadium begin huil en hy het vinnig omgedraai en uitgestap.
“Hoe het ek in hierdie gemors beland?” Terwyl ek stadig op my knieë sak: “Hoe?” Terwyl die warm water met die trane meng: “Hoe, Here? Hoe?”
Daardie aand het ek nie soos gewoonlik vir almal naggesê toe dit tyd word om te gaan slaap nie, ek het weggesluip. Nie my lig aangesit nie, nie my gordyne oopgetrek nie. Plat op die vloer, met die bed tussen my en die venster, het ek gaan lê en my pajamas aangetrek.
Hy het later as gewoonlik die deur saggies oopgemaak. Toe ek my oë oopmaak – dit het nie meer gehelp dat ek maak of ek slaap nie – staan hy in die halfdonker met sy ding in sy hand. Styf, regop.
“Stoute meisies moet gestraf word,” het hy saggies gefluister, “jy wou mos nie uittrek nie, wou nie my geld vat nie, ek gaan jou straf.”
Hy was vrolik! Vir hom was dit ’n avontuur, het ek besef.
“Wat gaan jy doen?”
“Jou ma vertel my mos dat jy nou ’n groot meisie is. Groot meisies doen nie net wat ons altyd doen nie, groot meisies doen wat hulle ma’s ook doen.”
“Asseblief, moenie, los my uit. Ek sweer ek sal vir niemand ooit vertel nie, los my net.”
“Anna, ek help jou. Hoe sal jy ooit vir jou man ’n goeie vrou kan wees as jy nie die fynere kunsies ken nie? Mans hou van vrouens met ondervinding. Ek wil net die beste vir jou hê. Ek sal jou nie seermaak nie, jy sal dit net so baie soos ek geniet.”
“Ek sal skree!” het ek in desperaatheid uitgeroep, al het ek geweet hy weet ek sou dit nie waag nie.
Hy het die komberse van my weggetrek, toe omgedraai deur toe. Ek het gehoop, gegló, dat hy hom bedink het, maar hy het slegs seker gemaak dat hy die deur agter hom gesluit het. Hy het sy slaapbroek stadig laat sak. Hy sou tog nie? Hy kón tog nie …
“Trek uit. Alles,” het hy sissend gefluister, “en as jy durf waag om te huil of te skree en jou soos ’n kind te gedra, is dit verby met jou en jou ma.”
Ek het geweet hy was ernstig. ’n Man wat so iets aan ’n kínd, sy vrou se kind, doen, het nie ’n gewete nie. Ek het my nagklere met rukkerige bewegings uitgetrek. Eenkant gegooi. Gewag op wat sou kom. Die pyn toe hy homself in my indruk, was die ergste wat ek nog beleef het. Ek sou kón geskree het, as dit nie was dat hy met sy een hand my mond toegedruk het nie. Hy het met ’n kreun gekom, ’n rukkie op my bly lê. Ek het gevoel of ek versmoor. Ek kon sy hart hoor klop, vinnig. Die naarheid in my keel het ek teruggesluk. Hy het sonder ’n verdere woord opgestaan, sy klere aangetrek. Toe ek die toilet hoor spoel, hulle kamerdeur hoor oopgaan, het ek stadig opgestaan. Die slymerigheid in die badkamer gaan uitwas.