Читать книгу Die staat teen Anna Bruwer - Anchien Troskie - Страница 3

Оглавление

Met die skryf van Dis ek, Anna (2004) het ek ’n woede in my kon losskryf, en ek kon ’n (fiktiewe) moord pleeg. Die verhaal eindig met bloed aan Anna se hande. En daarna voel ek skuldig. Want ek het nou die “normale” lewe waarna ek as kind so gesmag het. Ek het ’n man wat nie net in my lyf belangstel nie; ek het twee pragtige kinders. Wat het die fiktiewe Anna? Wat het ná die moord op haar stiefpa met haar gebeur? Dis ’n vraag wat deur baie van Dis ek, Anna se lesers geëggo word.

Ná Die besoeker doen ek navorsing vir ’n nuwe manuskrip. Ek is gereed om daaraan te begin skryf. Maar die vraag bly in my kop: Wat hét van die ander Anna geword? Dit weier om my te los. So skuif ek my navorsing opsy en begin met die fiktiewe Anna. Sy is nie ek nie. Maar ek kon – as ek my fantasie uitgeleef het – sý gewees het.

Nou dra ek hierdie Anna op aan al die lesers van Dis ek, Anna. En spesiaal aan julle wat die vraag gevra het en my aan ’n antwoord laat dink het.

Ook aan Antoinette Louw – omdat jy Anna so uitstekend vertolk het in die verhoogproduksie van die boek.

En aan Lafras, Chris en Joice – dankie dat julle my die ruimte gee om te doen wat ek moet doen.

Die skrywer

Die staat teen Anna Bruwer

Подняться наверх