Читать книгу Die staat teen Anna Bruwer - Anchien Troskie - Страница 5
Оглавление1
My bene bewe rukkerig terwyl ek met die tuinpaadjie opstap na die voordeur. My hande bewe toe ek die klokkie lui. Ek hoor voetstappe. Hoor hom aankom.
“Wie’s daar?”
’n Ou man se stem.
“Dis ek, Anna.” Terwyl ek die pistool oorhaal.
“Ek, Anna.” Terwyl hy die deur oopsluit, oopstoot.
“Ek, Anna.” Terwyl ek die pistool op hom mik.
“Ek, Anna.” Terwyl ek begin skiet en skiet enskietenskietenskietenskiet.
“Ek, Anna.” Terwyl die wêreld om my rooi raak.
Ek is Anna.
Niemand sal dit ooit weer aan my doen nie. Hy sal dit nooit weer aan enige iemand kan doen nie. Mag God my en hom vergewe.
Hy val voor my voete neer. Die rooi blompotte agter hom is aan skerwe. Ek kry die skerp reuk van urine wat van hom af opslaan, sien hoe die vlek op sy broek al groter word. Onder normale omstandighede sou ek hom dalk jammer kon kry, maar ek besef ek geniet elke oomblik van sy vernedering. Die ongemak, die vertwyfeling, die vrees op sy gesig. Ek geniét dit.
Hy draai stadig op sy rug, trek sy bene op, ’n patetiese poging om die skandvlek weg te steek. Steek sy hande in die lug terwyl hy smekend na my kyk. “Asseblief, Anna, asseblief!”
Ek hou die pistool op hom gerig. “Hoeveel keer het ek dit vir jou gevra? Asseblief, oom, moenie, asseblief, dis seer. Asseblief, oom, asseblief, moenie! Hoeveel keer het jy Carli dit hoor vra? Het jy na ons geluister? Het jy ooit vir ons simpatie gehad? Hoekom moet ek vir jou simpatie hê?”
Ek mik sekuur voor sy kop, tussen sy oë. My hand bewe so dat ek die ander een moet gebruik om die pistool stil te hou. Al wat ek moet doen, is om weer die sneller te trek. Net dit. Ek kan selfs my oë toeknyp as ek wil, want ek kan nie mis nie, nie van waar ek staan nie. Ek moet net die sneller trek. Ek verstewig my greep op die pistool.
Ek kan nie.
Ek kan nie die sneller trek nie. Ek kan nie eens meer die pistool omhoog hou nie.
Ek kan nie moord pleeg nie.
Toe ek die pistool laat sak, sien ek my ma. Sy het agter hom in die deur verskyn.
“Anna?”
Sy het oud geword, is my eerste gedagte. Selfs deur die waas van trane kan ek dit sien. Dan het Carli se dood tog ’n merk op haar gelaat.
Die vrou wat ek liefhet en terselfdertyd haat, in gelyke dele; dis my tweede gedagte. Liefhet omdat sy my ma is. Haat omdat sy die mag had om te keer en verkies het om dit nie te doen nie.
Ek wil haar vra, ek wil wéét hoe sy dit kon regkry om hom toe te laat om so met haar dogters te mors. Hoe sy dit reggekry het om al die jare anderpad te kyk. Maar ek kan nie. Ek het nie meer die krag nie. Ek staan net daar – verslaan. Hy het dit weer eens reggekry om van my ’n huilende, smekende agtjarige te maak.
Hy moes dit agtergekom het; dit lyk asof dit hom moed gee. Hy kom regopper.
“Nee,” beduie ek, “net tot op jou knieë.”
Hy doen dit.
“Sit jou hande agter jou kop. Vleg jou vingers inmekaar.”
Hy doen dit.
Ek kyk op na my ma. “Ek wil jou nie skiet nie. Ek wil hóm nie eens skiet nie. Maar ek sal. As jy, as hý enigiets probeer doen, sal ek. So help my God.”
Sy bly doodstil staan, knip net haar oë.
“Jy het ’n keuse,” sê ek vir haar. “Draai om, stap slaapkamer toe, sluit die deur. Of bly staan.” Ek lig die pistool weer op. “Maar moenie probeer om my te keer nie.”
Sy bly staan, hande langs haar sye in vuiste gebal, bang trek om haar mond. Maar sy staan.
Ek kyk weer af na hom. “Hoekom het jy dit gedoen? Hoe kón jy? Jou eie dogter!”
Hy antwoord nie, lig net sy kop na my. Hy is nie meer bang nie, dit kan ek duidelik sien. Hoekom nie? Omdat ek huil? Omdat my ma by is?
Vrees, dís wat ek wil sien. In sy oë, op sy gesig. Dieselfde vrees wat ek en Carli gevoel het elke keer wanneer hy die slaapkamerdeur oopgestoot het. Dis waarom ek hier is. Om daardie vrees te rúik.
“Ek wens ek het genoeg moed gehad om aan jou te doen wat jy aan ons gedoen het. Nie seksueel nie,” keer ek vinnig, “emosioneel. As ek kon, sou ek jou dae lank gevange gehou het. Ek sou jou stadig, stukkie vir stukkie gemartel het. Maar nou kan ek jou nie eens skiet nie. Omdat ek die patetiese mens wat jy is jammer kry.”
“Jy,” spoeg hy, “jy en Carli. Jy maak asof julle onwillig was, asof julle slagoffers was. Maar ons weet van beter, of hoe, Anna? Julle het daarvoor gevra met julle kort broekies en rompies, die hemde wat skaars julle borste toemaak.”
Ek hoor hoe my ma haar asem skerp intrek, maar ek kyk nie na haar nie. “Ek was ágt.”
Hy lag net, ’n smalende uitdrukking om sy mond.
“Het jy geweet?” vra ek sonder om na my ma te kyk.
“Hy is my mán.”
“Ons is jou kínders.”
Sy stry nie.
Hy laat sak sy hande stadig, die smalende uitdrukking steeds daar. Druk-druk met sy palms op die koue teëls om regop te kom. Met sy rug na my gedraai. Omdat hy weet ek het nie die moed om die sneller te trek nie. Omdat hy kan sien hoe my hande bewe.
“Jy het dit geniet,” sê hy, steeds op sy hande en knieë. “Jy wou dit net soveel hê as ek. Elke keer wanneer ek aan jou geraak het, was jy sopnat. Kon ek voel jy was rég daarvoor.”
Die bewing in my hande raak stil.
Ek doen dit stadig.
Tydsaam.
Lig die pistool op, beduie daarmee dat my ma eenkant toe moet staan. Ek rig dit op sy agterkop, min of meer tussen sy ore.
“Jy sal dit nooit weer aan enigeen doen nie.”
Ek trek die sneller. Sien hoe hy vooroor val, hoor my ma se uitgerekte gil.
“Nooit weer nie.” Ek trek die sneller ’n laaste keer.
Ek hoef nie in te gaan nie. Ek hoef myself nie oor te gee nie. Met die knaldemper aan het die 9 mm skaars ’n geluid gemaak.
My ma sal praat. Ek weet dit. Sy het nooit vir ons opgekom nie, nooit vir ons gekeer nie, hoekom sal sy nou? Sy sál praat. Maar: dis haar woord teen myne.
Nee, hulle sal my tog vang. Die tyd vir weghardloop en wegkruip is verby. Vir altyd.
My bene ruk, ek moet aan die reling vashou toe ek die swak verligte trappies na die aanklagkantoor opstap. Doen ek die regte ding? Die lewe bestaan uit keuses. Hierdie is mý keuse. En dis mý verantwoordelikheid.
Die deur staan oop en ek stap in. Dis stil in die aanklagkantoor, net een konstabel agter die hoë bruin toonbank. Voor hom staan ’n groot vrou wat met ’n hees stem praat.
“Ek sê jou, Jimmy, as jy nie iets doen om hom te keer nie, gaan ek.”
“Ja, antie.”
“En dit gaan nie mooi wees nie, Jimmy, glad nie mooi nie.”
“Ja, antie.”
Die konstabel kyk net vlugtig op toe ek voor die toonbank kom staan, luister dan verder na die vrou se tirade.
Toe sy asemskep, kyk sy sydelings na my kant toe. Staan dan verskrik ’n paar treë terug. “Gotta, Jimmy, help die vrou, sy bloei!”
Toe eers kyk hy behoorlik na my. Na my bloedbevlekte klere, na my hande waaraan die bloed, nou amper droog, nog kleef. Na die pistool wat ek op die toonbank neersit.
“Ek het hom geskiet. Vir Danie du Toit. Ek kon nie anders nie, ek moes. Vir myself. Vir Carli.”
’n Ander konstabel tree nader. Hy moes iewers gesit het waar ek hom nie kon sien nie. “Adres?” vra hy.
Ek gee dit.
Hy skryf dit neer, skuif die papiertjie oor na Jimmy. Dan kom hy om die toonbank na my toe. Hy vat my aan die arm en lei my na die binnedeur. In ’n gang af, op met ’n stel trappe, na ’n kantoor aan die verste punt van nog ’n gang.
Hy beduie na ’n stoel. “Sit, mevrou, ek kry iemand.”
“Ek is nie ’n mevrou nie.”
Hy knik net, trek die deur met ’n ferm klikgeluid agter hom toe.
Ek snuif aan die kantoor se reuke: papier, ink, sigaretrook. Bedompige reuke. Kyk oral in die kantoor rond; hou my oë doelbewus aan die beweeg, links, regs, boontoe. Oral sodat ek nie áf kyk en die bloed aan my hande raaksien nie.
Ek raak meteens van die moegheid bewus. Agt ure agter die motor se stuur. Die tyd daarvóór, die tyd daarná. My oë is krapperig, dit voel soos skuurpapier wanneer ek hulle knip. En my blaas brand. Hoekom het ek nie voor die tyd toilet toe gegaan nie? Hoe laat is dit? Sou dit al vyfuur wees?
Ek bewe darem nie meer so erg nie. Maar my hart klop omtrent hoorbaar, my asem kom vlakkerig, my oë wil toeval van die moegheid. As ek net kan slaap, ’n bietjie kan rus, my blaas kan leegmaak. Onder in die gang het ek ’n toilet gesien, die prentjie voor op die deur van ’n vroutjie wat ’n sambreel vashou. Durf ek? Ek sal vinnig wees, voor iemand my kan mis, sal ek terug wees.
Ek staan stadig op, versigtig, asof ek my ledemate nie meer kan vertrou nie. Hou aan die tafel vas vir ondersteuning. Skuif voetjie vir voetjie nader aan die deur. Ek luister voor ek die deur oopmaak; die gang is stil.
Toe ek my blaas geledig het, is die bewing terug. My lyf ruk onbeheers. Ek gaan staan voor die wasbak, staar na die vreemde vrou in die spieël.
Sy lyk soos ek; sy het my klere aan. Maar ek weet dis nie ek nie. Hierdie vrou in die spieël is ’n ander Anna. Dalk is sy die werklike Anna. Die een sonder die masker.
Ek maak my oë toe sodat sy nie so na my moet kyk nie. Hierdie vreemde Anna.
Ek hoor weer die skote klap, my ma se beangste gille. Sien die bloed. Sy wou vorentoe, na hóm toe. Nee, het ek haar gekeer, gaan kamer toe. Ek het een koeël oor; moenie dat ek dit op jou gebruik nie. Ek het my ma gedreig, die pistool op haar gerig. Tot sy geluister en omgedraai het.
Toe ek by hom buk, gly ek in die bloed wat uit hom loop. Ek val langs hom neer, voel hoe die nattigheid deur my jeans syfer tot op my bene. Taai aan my hande klou. Ek kom sukkelend op my knieë, druk my hand teen sy keel. Geen pols nie.
Hy is dood. Goddank.
Toe ek my oë oopmaak, sien ek die bloed aan my hande. In die spieëlbeeld lyk dit amper swart. Ek gril opeens daarvoor. Omdat dit sýne is.
Ek draai die warmkraan oop, kyk rond vir seep. Niks. Laat die water brandend oor my hande spoel. Kyk hoe die water rooi verkleur. Kyk hoe die bloed wegloop.
Weer en weer en weer.
Ek skrik toe ’n hand op my skouer druk. Ek het nie die deur hoor oopgaan nie.
“Jy mag nie jou hande was nie!” Die konstabel lyk verskrik.
“Ek is jammer. Ek het nie gedink nie. Ek is jammer.”
“Sup Webber gaan die moer in wees!” Hy sê dit meer vir homself as vir my. “Kom.”