Читать книгу Die staat teen Anna Bruwer - Anchien Troskie - Страница 6

Оглавление

2

Superintendent Windhond Webber het pas uit die stort geklim, die handdoek nog om sy onderlyf gedraai, toe die oproep deurkom. Hy trek vinnig aan, vat sy dienspistool en selfoon, buk af om sy slapende vrou op die voorkop te soen, en stap dan na sy Toyota Corolla.

Twee blokke verder hou hy voor die huis stil. Die son is net besig om die lug te begin verkleur. Hy kyk ’n oomblik na die tuin wat uitgestrek voor hom lê, laat sy oë oor die blomme en struike aan die linkerkant dwaal, die roostuin aan die regterkant. Daar staan reeds twee polisiemotors in die oprit, asook die motor van forensies.

Vyf-en-dertig jaar diens, dink hy toe hy uit sy motor klim, waarin hy die bynaam Windhond verdien het. Omdat hy ’n spoor kan vat, omdat hy sy sake vinnig oplos. Dalk ook oor sy vinnige humeur, moet hy erken. Vyf-en-dertig jaar diens en steeds moet hy hom geestelik voorberei vir elke moordtoneel. Want die kleur, die tekstuur, die reuk van bloed maak hom naar. Hy sluit sy oë ’n oomblik, haal diep asem.

Daar gáán bloed wees, sê hy vir homself, dit gaan daardie eienaardige metaalreuk hê. Daar gaan dalk meer as net bloed wees. Maar: dis ’n mens wat daar binne lê. En hy is hier om uit te vind wat die oorsaak is. Net dit. Moenie betrokke raak nie.

Hy stap die trappies na die voordeur op. Knik kop vir die ander polisielede, die man en vrou van forensies, die patoloog.

Die oorledene lê vlak voor die voordeur, op sy maag, pantoffels aan sy voete, lang pajamabroek, die regterpyp nat. Die reuk van urine gemeng met die reuk van bloed. ’n Kort wit frokkie, maer oumansarms, die een langs sy sy, die ander gebuig bo sy kop. Hy lê in ’n plas bloed wat al taai en klewerig geword het, sy gesig onherkenbaar vermink. Om hom en onder hom lê rooigekleurde glasstukkies en blomme, asof iemand die lyk wou versier, voortydig begrafnis wou hou.

Hy kyk op, na die tafel agter die lyk. Rooi glasstukkies besaai die oppervlak, ’n paar blomme lê nog daar, water wat drup-drup op die vloer plons.

“Sup.” Inspekteur Jantjies staan in die deur wat na die binnekant van die huis lei.

“Inspekteur.”

Jantjies kom nader, oop boekie in die hand, pen gereed om te skryf. “Sup, daar is agt skote in totaal. Dit lyk of die oorledene gestaan het toe die eerste ses skote afgevuur is. Dit het die versameling rooi blompotte agter hom getref. Hy moes homself neergegooi het en hom toe bepis het.”

Webber se kop ruk op.

“Skuus, Sup, hy moes toe geürineer het,” korrigeer Jantjies vinnig. “Daarna is twee skote van baie naby gevuur, kort na mekaar.”

Webber knik. “Ek sien dit ook so. Die wapen?”

“Geen wapen op die toneel nie. Konstabel Mbane het gebel, ’n vrou het haarself by die stasie gaan oorgee, met die pistool. Sê sy het die moord gepleeg. Die vrou van die oorledene sê dis haar dogter.”

Webber knik weer. Raak dan bewus van ’n gehuil, kyk vraend na Jantjies.

“Dis die oorledene se vrou. Sy wag in die sitkamer.”

“Laat weet vir Mbane ek is op pad. Ek wil net eers met die weduwee praat.”

“Sy het haarself sonder ’n prokureur gaan oorgee.” Jantjies skud sy kop. “Nog nooit van so iets gehoor nie.”

“Ek ook nie, maar daar’s seker ’n eerste keer vir alles.”

Webber stap deur na die sitkamer. Hy beduie met sy kop dat die konstabel wat langs die vrou op die bank sit maar kan gaan. Sy het ’n kamerjas aan, vermoedelik nagklere daaronder, slaapsokkies aan haar voete, hare deurmekaar geslaap.

“Mevrou?”

Sy lig haar kop stadig, staar na hom met rooi oë.

Sy kom vir hom bekend voor. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om haar uit te vra, besluit dan daarteen. Dis nie die tyd of plek nie, en daar is geen herkenning in haar oë nie.

“Ek is superintendent Webber. Die oorledene was u man?” maak hy seker.

Sy knik.

“Ek is jammer, mevrou, oor u verlies.” Hy voel altyd vreemd wanneer hy dit sê, asof hy die persoon moes ken om jammer te wees. “Ek moet u ’n paar vrae vra.”

“Dis reg.” Haar stem is toonloos.

“Mevrou, vertel asseblief vir my wat hier gebeur het.”

Sy wag tot hy gaan sit. “Ons het wakker geword van die voordeurklokkie wat lui.”

“Hoe laat was dit?”

“Ek weet nie. Drieuur? Vieruur?”

Hy knik.

“My man het opgestaan om die deur te gaan oopmaak. Ek het bly lê. Toe hoor ek sulke snaakse pop-geluide. Ek het kom kyk. Sy was hier. Anna. Sy het hom geskiet. Vóór my doodgeskiet.”

Hy maak ’n nota. “Anna?”

“My dogter.”

“Waar is sy nou?”

“Ek weet nie.”

“Het u die polisie gebel?”

“Ja.”

Die fluistering is skaars hoorbaar, sodat Windhond sy kop nader aan haar moet bring.

“Het u aan enigiets geraak?”

“Nee.”

“Kan u aan enige rede dink waarom u dogter haar pa sou skiet?”

“Hy was nie haar pa nie.”

“Stiefpa?”

“Ja.”

“Hoekom dink u sou u dogter haar stiefpa geskiet het?”

Sy begin rukkerig huil. “Ek weet nie, ek weet nie.”

Windhond maak sy notaboek toe. “Dis al vir nou, mevrou. Ek praat later weer met u.”

Want sy weet hoekom, daarvan is hy seker.

Windhond sien rooi toe konstabel Mbane verleë erken dat die verdagte, sý verdagte, haar hande gewas het. Daar is die PR-toets ook in sy moer. Hy sal forensies moet bel.

Hy beteuel homself met moeite. Hy het ’n allesoorheersende begeerte om die klein mannetjie aan sy uniform op te tel en uit sy klere te skud. Maar uit ondervinding weet hy dit sal net vir hom moeilikheid bring.

“Waar’s sy?” blaf hy.

“In die boonste kantoor, Sup.”

Windhond skrik toe hy die meisie voor die lessenaar sien sit. Sy’s klein van postuur, sy is ooglopend bang, en sy is vol bloed. Klewerige droë bloed. Die reuk is oral in die kantoor.

Hy moet sy asem diep intrek en uitblaas voor hy kan instap. “Juffrou Bruwer?”

Sy kyk verskrik na hom.

“Ek is superintendent Webber.”

“Ek het hom geskiet. Ek kon nie anders nie. Ek het dit vir Carli gedoen. Vir myself ook. Ek moes. Ek moes.”

Hy stap na die telefoon, skakel die forensiese afdeling, reël dat ’n vrouekonstabel boontoe gestuur word.

“Vir wie het jy geskiet?”

“Danie du Toit. Ek moes, superintendent, glo my, ek moes.”

“Waar het jy hom geskiet?”

Sy kyk onbegrypend na hom.

“In sy been, arm, waar?”

“In sy kop. Ek moes.”

Hy kyk verlig op toe die deur oopgaan. Dis konstabel Naudé.

“Sorg dat sy formeel in hegtenis geneem word. En ek soek al haar klere. Kyk ook vir trace onder haar naels, forensies wag daarvoor.”

Die vrou met die rooi hare lei my in die gang af, verby die toilet, af met die trappe na ’n deurmekaar kantoor waar stapels lêers op ’n lessenaar lê. Die konstabel met die sagte oë wat my in die badkamer gekry het, is ook daar. Hy glimlag bemoedigend vir my, maar ek kry dit nie reg om terug te glimlag nie.

Die vrou laat my staan, bied my nie ’n stoel aan nie. Ek wil omval van moegheid.

“Anna Bruwer, jy het die reg om stil te bly. Jy het die reg tot ’n prokureur. As jy nie ’n prokureur kan bekostig nie . . .”

Ek maak my ore toe, hou my oë oop, ek wil nie hoor nie. Nie dit nie, nie daardie woorde nie. Die reg om stil te bly. Die rég? Soms is dit al wat jy kan doen. Sjuut. Moenie praat nie. Moet niks sê nie. Sjuut. Stom Anna.

Die rooikop slaan ’n boek oop, kyk sonder belangstelling op na my. “Naam, geboortedatum, lengte, gewig, oogkleur, allergieë, medikasie, dokter?” rammel sy af.

Ek antwoord stadig, want ek moet elke woord bedink voor ek kan toelaat dat dit oor my lippe kom.

“Enige onderskeidende kenmerke?”

Toe ek stilbly, sê sy ongeduldig: “Tatoe? Geboortemerk?”

“Tatoe.”

“Waar, wat?”

“ ’n Dolfyn, regs op my skouer.”

Ek het eers engelvlerke oorweeg. Sodat ek elke dag in die spieël kon kyk en kon weet dat ek ook goed in my ronddra, nie net sleg nie. Maar dit sou lank vat, en ek het nie gehou van die idee van vreemde hande op my lyf nie. Die dolfyn was klein, vinnig. Die sierlike boog waarmee dit uit die water spring, het vir my vryheid versinnebeeld. Want toe het ek nog geglo ek is vry van die verlede.

Sy teken dit aan. “Handsak?”

“Nee.”

“Enige persoonlike items aan jou?”

My waardigheid? My trots? My klere? Die motorsleutels in my broeksak? My selfoon?

Ek reik na my sakke, maar haar hande skiet soos blits uit. “Nee, ek sal.”

Wat dink die vrou? Dat ek ’n pistool gaan uitpluk en begin skiet?

Natuurlik dink hulle dit. Moord is sonde. En sonde klou aan ’n mens. Soos ’n vlek wat jy nie kan uitkry nie, maar wat met elke probeerslag net groter word. Hulle sien dit, hierdie moordvlek op my vel. Hierdie vrou, die man met die sagte oë, die superintendent met die bulderende stem. Húlle sien dit. Hoekom sien ek dit dan nie?

Omdat dit reg was, dit wat ek gedoen het.

Ek kyk hoe my sakke omgedop word. Motorsleutels, selfoon en pepermente word op die tafel voor die rooikop gepak. “Waar’s jou beursie?”

“In my motor.”

“Ek sal gaan,” sê die konstabel met die sagte oë.

“Nee,” sê die rooikop, “jy’s klaar te diep in die kak. Laat forensies dit doen. Maar jy kan na haar huis ry en vir haar klere gaan haal. Haar klere moet ge-bag word, sy sal iets moet kry om aan te trek.”

“Ek bly in Knysna,” herhaal ek.

“Jy’t darem seker klere saamgebring?”

“Nee.”

“Jy ry al die pad van Knysna af sonder ekstra klere? Fok! Dis nie een of ander spa hierdie nie! Wat gaan ons nou maak?”

“Ek kan by my vrou gaan haal,” bied die konstabel aan.

“Nee, dit sal te lank vat, en Sup is klaar moerig.” Die rooikop sug, haal sleutels uit haar sak. “Kyk in my kar is ’n gymsak.”

Sy trek ’n inkkussing nader, sit ’n vel papier met blokke voor haar neer. “Kom nader.”

Vinger in die ink, dan in ’n blokkie op die vel papier. Al die vingers, palm, duim, kante van die hande. Sy draai om, tel ’n swart koki van die lessenaar op en reik na ’n witbord. Skryf daarop met haar rug na my gedraai, beduie my vorentoe en hang dit om my nek.

Sy tel ’n kamera op. “Kyk voor jou.” Kliek. “Draai skuins.” Kliek.

Ek kyk af na die bord, lees die woorde onderstebo: Saaknommer 232/2004, Anna Bruwer. Moord.

Dis dan dít, dink ek. Moord. Só lyk dit. Só voel dit.

“Maak jou skouer oop dat ek ’n foto van die tatoe kan neem.”

Ek doen dit.

Die konstabel kom in en sit ’n drasak en my beursie op die tafel neer.

Die rooikop maak die sak oop. “Jou geluk dat ek van plan was om te gaan gym, anders het jy kaalgat in die selle gaan sit,” sê sy sonder om na my te kyk. Sy haal ’n sweetpakbroek, T-hemp, broekie en sokkies uit. “Ek gee jou wragtig nie my tekkies nie.”

Sy pak alles in my beursie op die lessenaar uit, skryf dit in die boek, kyk op na my. “Alles is opgeskryf, sodat jy nie later kan sê ons het iets van jou gesteel nie. Check en teken.”

Ek kyk nie eens na die lysie nie, teken net bewerig waar sy wys. Sy skeur die bladsy netjies op die geperforeerde lyn langs en hou dit na my uit.

Sy haal die bord van my nek af. “Kom.”

Ons stap weer in die gang af, draai dié keer links en gaan by ’n badkamer in. Dis koud binne, ’n venster is op ’n skrefie oop sodat ek die wind buite kan hoor huil. Twee mans staan en wag.

Ek rem terug, maar die rooikop du my vorentoe. “Hulle sal nie byt nie.”

“Hou uit jou hande,” sê die een, nie onvriendelik nie.

Ek hou my hande uit, merk op dat hulle steeds liggies bewe. Hy skraap onder die naels van my linkerhand; die ander man skraap onder my regterhand se naels. Hulle krap versigtig van die droë bloed wat ek nie kon afspoel nie van my arms af.

Toe hulle uitstap, beveel die rooikop: “Trek uit.”

Ek huiwer, ek trek nie my klere voor ander uit nie.

“Toe, toe, dis laat, ek wil huis toe.”

Sy tel my klere van die vloer af op, sit dit in ’n sak. My tekkies ook. Onderklere. Gee dit deur die deur vir iemand buite aan.

Ek staan kaal voor die vreemde vrou, probeer so goed ek kan my skaamte toehou.

Sy rol haar oë. “Asseblief, dink jy regtig ek het dit nog nie voorheen gesien nie?”

Ek staar na die vloer, hoor hoe die latekshandskoene klap toe sy dit aantrek. Moet veg om die trane van vernedering binne te hou toe die vreemde, koue hande my betas. In my mond, my ore, my neus, my vagina, my anus.

“Trek aan,” sê die rooikop toe sy die handskoene in die vullisdrom laat val.

Ek staan besluiteloos met haar broekie in my hand.

“Dis skoon.”

Ek knik. Nogtans. “Ek verkies om dit nie te dra nie, dankie,” sê ek fluisterend.

Sy haal haar skouers op. “Jou loss.”

Die sweetpakbroek is hopeloos te lank. T-hemp en sokkies, geen skoene.

Die rooikop maak die deur oop. “Wil jy jou prokureur bel?” vra sy in die gang.

Ek skud my kop. Ek wil niemand bel nie.

“Nou kom dan. Sup Webber wag.”

Hy is in dieselfde kantoor as vroeër, maar hy is nie alleen nie. Oorkant hom sit ’n man met donker hare en donker oë wat ondersoekend op my gefokus is. Ek steek vas.

Die vreemde man staan op. Ek moet opkyk na hom.

“Ek is Joubert van Heerden. Ek is ’n prokureur.”

Toe ek stilbly, voeg hy by: “Ek is jóú prokureur.”

“Ek wil nie ’n prokureur hê nie.”

“Juffrou Bruwer,” onderbreek die superintendent hom, “jy het ’n prokureur nodig.”

“Nee. Ek wil nie een hê nie. Ek het ’n moord gepleeg, ek erken skuld. Ek het nie ’n prokureur nodig nie.”

Die vreemde man knik. “Nou goed, Anna. Mag ek dan net hier sit terwyl superintendent Webber jou ondervra?”

“Wie is jy?”

“Joubert van Heerden.”

“Wat maak jy hier?”

“Oom Retief het my gebel.”

“Oom Retief! Hoe weet hy . . .?”

“Jou ma het hom laat weet.”

My ma.

Ek knik. Hy kan bly.

Hy draai na die superintendent. “Kan ek ’n paar oomblikke kry om met my kliënt te konsulteer?”

Webber kom orent, beduie my na die stoel agter die lessenaar. “Ek wag buite.”

Joubert van Heerden leun oor na my. “Anna, ek is hier om te help.”

Ek skud my kop. “Dis te laat daarvoor. Ek glo nie iemand kan my meer help nie.”

Hy sug. “Maar ek kan probeer. Laat my toe om te probeer?”

Sy donker oë is nie vriendelik nie, ook nie vyandig nie. Sy groot postuur straal kalmte uit. Oom Retief het hom na my toe gestuur.

“Nou goed dan.”

“Hoekom het jy vir Danie du Toit geskiet?”

Ek kyk af na my hande. “Omdat hy dit verdien het.”

“Vertel my.”

Ek vou my hande oor my gesig, skud my kop.

Sy hand rus ’n oomblik op my skouer. “Ons kan later verder praat.”

Hy staan op en maak die deur vir die superintendent oop.

Windhond haal die diktafoon uit die boonste laai van sy lessenaar. Hy hou sy aksies met opset stadig, sodat hy kans kan kry om sy emosies onder beheer te bring. Sy het skoon klere aan, die bloed wat aan haar hande en lyf was, is weg. Tog bly die metaalagtige reuk in die kantoor hang.

Toe alles reg voor hom lê, maak hy keel skoon en skakel die masjien aan. Hy gee die datum, die saaknommer, sy rang en naam hard en duidelik. “Ook teenwoordig is die aangeklaagde se regsverteenwoordiger, meneer Joubert van Heerden.”

Hy kyk na Anna. “Naam?”

“Anna Bruwer.”

“Jy sal duideliker moet praat.”

Die woorde kom harder uit as wat hy bedoel het, hy sien hoe sy effens terugdeins. Hy skuif die diktafoon nader aan haar en vra haar om haar naam te herhaal. Toe sit hy gemaklik agteroor en vleg sy vingers inmekaar.

“Juffrou Bruwer, het jy ’n vuurwapen op Danie du Toit gerig?”

Sy knik.

“Jy moet die vrae antwoord, die masjien kan nie sien nie.”

“Ja.”

“Nog harder, juffrou Bruwer. Het jy dit gedoen op 9 Februarie 2004?”

“Ja.”

“Het jy dit in die oggend gedoen?”

“Ja.”

“Was die vuurwapen ’n 9 mm-pistool?”

“Ja.”

“Het jy hom met die vuurwapen vermoor?”

“Ja.”

“Het jy die opset gehad om hom te vermoor?”

Sy weifel ’n oomblik. “Ek weet nie.”

“Hoekom het jy dan die sneller getrek?”

“Omdat ek moes.”

Hy laat dit eers daar. “Woon jy in Knysna?”

“Ja.”

“Is jy hier met jou motor?”

“Ja.”

“Hoe lank is jy al in Bloemfontein?”

“Ek het vanoggend hier aangekom. Ek is baie moeg, superintendent. Kan ek nie asseblief gaan slaap nie?”

“Jy kan later slaap.” Hy leun verder agteroor, sodat die stoel kraak. “Jy het al die pad van Knysna af gery om hom te kom skiet?”

“Ja.”

“Vir geen ander rede nie?”

“Nee.”

“Daar is ’n aktetas in jou motor gevind, met handskoene, ’n klapmus en ’n flits.”

Sy antwoord nie.

“Juffrou Bruwer, verduidelik vir my hoekom jy die moeite gedoen het om dit alles in te pak, maar dit nie gebruik het nie.”

Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie.”

“Jou doel was om hierheen te kom en hom te kom vermoor.”

Sy antwoord nie.

“Was jou plan om dit geluidloos, ongesiens te doen?”

“Ek wou dit soos ’n rooftog laat lyk,” erken sy.

“Hoekom het jy nie?”

“Ek het net skielik nie meer die nut daarvan gesien nie.”

“Hoekom ’n knaldemper?”

“Sodat die skote nie gehoor kan word nie.”

Hy pen haar vas met sy oë, strek sy bene lank voor hom uit. “Hoekom het jy jouself kom oorgee?”

“Want ek het iemand doodgeskiet en julle sou my in elk geval gevang het.”

“Dis waar.”

Vir ’n oomblik is dit stil in die vertrek, met net die geruis van die vroegoggendverkeer wat deur die oop vensters kom. Eienaardig, dink Windhond, gewoonlik probeer verdagtes hulleself onmiddellik verontskuldig. Sy sit net daar, gelate en bang. Baie bang. Haar bewende hande en die feit dat sy kort-kort sluk, gee haar weg.

Hy leun vorentoe. “Hoekom, juffrou Bruwer? Hoekom het jy hom geskiet?”

“Ek moes. Vir Carli. En vir myself.”

“Wie is Carli?”

“My sussie.”

“Waar is sy?”

“Sy is dood. Hy het haar vermoor.”

“Hy het haar vermoor?”

“Sy het selfmoord gepleeg, maar dis net so goed hy het self die tou om haar nek gesit. Ek het nie ’n keuse gehad nie, ek moes dit doen.”

“Is die moordwapen, die pistool, jou eie?”

“Ja.”

“Waar kry jy dit?”

“Oom Retief het dit vir my gekoop, ’n paar jaar terug al. Sodat ek myself kon verdedig, indien nodig.”

“Het jy enige opleiding in die gebruik van wapens gehad?”

“Ja. Ek is moeg, superintendent, asseblief?”

Hy ignoreer haar gepleit. “Met ander woorde, jy weet hoe om ’n wapen te gebruik. Sou jy jouself as ’n goeie skut beskryf?”

“Ja. Ek is regtig baie moeg, superintendent.”

Hy knik sy kop langsaam. “Verduidelik dan aan my, juffrou Bruwer, hoekom dit vir jou nodig was om eers die blompotte agter meneer Du Toit stukkend te skiet.”

Sy antwoord nie.

“Kom ek verduidelik vir jou hoe ek dit sien. Jy kan my enige tyd reghelp. Jy lui die klokkie, Du Toit maak die deur oop. Jy staan daar, sonder jou klapmus, sonder jou handskoene, wapen in die hand. ’n Goeie skut. Jy skiet eers die blompotte agter hom flenters. Hy duik vorentoe, gaan op sy maag lê, sy arms beskermend oor sy kop. Jy kyk hoe hy homself natmaak van vrees, dan eers stap jy nader. Teen daardie tyd moes hy al probeer regop kom het, op sy knieë dalk?”

Toe sy nie antwoord nie, vervolg hy: “Eers dan skiet jy. En een skoot, deur ’n opgeleide skut, van naby met ’n 9 mil, is nie goed genoeg nie. Jy skiet hom twee keer, deur die kop.”

Joubert van Heerden sit vorentoe. “Superintendent.”

Windhond hoor die waarskuwende klank in die prokureur se stem, maar hy ignoreer dit. “Hoekom was dit nodig, juffrou Bruwer?”

Stilte.

“Hoekom was dit nodig, juffrou Bruwer?” herhaal hy. “Hierdie . . . drama vooraf?”

Sy kyk net af na haar hande, frommel die stukkie papier wat sy vashou.

“Juffrou Bruwer, is jy bereid om ’n bekentenis voor ’n landdros af te lê dat jy verantwoordelik is vir die dood van Danie du Toit?”

Joubert staan op. “Sup, as jy dink ek gaan toelaat dat jy haar hier uitsleep en voor ’n landdros bring vir ’n bekentenis, maak jy ’n fout. Die vraag is – soos jy behoort te weet – of sy toerekeningsvatbaar is. En daaroor – soos jy ook goed behoort te weet – moet ’n sielkundige besluit. Met ander woorde, die enigste plek waarheen Anna Bruwer nou gaan, is na die selle, totdat ek haar by ’n sielkundige of psigiater kan kry. En jy,” hy draai na Anna, “sê nie een woord verder nie.”

En dís die rede hoekom hy nie van prokureurs hou nie, dink Windhond en skakel die masjien af.

Eers dan kyk sy op. “Soms, superintendent, het jy nie ’n keuse nie. Om hom te skiet was my lot.”

Skielik is die vuur in Windhond geblus. Hy voel tam en dis nog oggend, die hele dag lê voor.

“ ’n Mens het altyd ’n keuse, juffrou Bruwer.” Hy reik na die telefoon, skakel ’n nommer en sê kortaf: “Kom haal haar.”

Die staat teen Anna Bruwer

Подняться наверх