Читать книгу Lobola vir die lewe - André P. Brink - Страница 5
proloog
Оглавление—verby; nou
in die mate waarin enigiets van dié of enige ander aard ooit verby kan wees of was of sal wees. Nee dit het nog nie begin nie—in die begin was die woord (voorwoord?) en die duisternis op die waters, Narayana—en ek wag daarvoor soos ek wag op dood of geboorte, op Antichris en Christus, Boeddhambrama, of enkele eenvoudige simbole: klip of kers of spieël—
of iets.
Iets moet mens hê, anders is dit kláár, het hy gesê. (Maar wat is moet waar moet nie moet kan wees nie?)
Moeg. God (God?) ek kan of wil of wil nie meer nie nou nie nooit nie meer nie. Die nag tas aan die vensters en die lig sal uitgaan aanstons, ek weet dit was so voorbestem miskien deur myself of deur die kwaadwil van my hospita of die voorsienigheid wat beter (!) weet. En dan sal ek ’n kers moet gaan soek, iewers: daar is soveel plekke om te soek en kry mens ooit wat jy soek en klop jy ooit en word dan ingelaat?
1. Vraag: Hoe weet ek dat die lig sal uitgaan en ek ’n kers sal moet gaan soek wat ek waarskynlik nie sal vind nie, en waarom moet ek in ieder geval gaan soek, waarom kan ek nie in die donker bly nie?
2. Vraag: Is daar nog enige lig om uit te gaan, is alle lig nie lankal uit nie?
3. Vraag: Wat beteken PHILIPS 125V 180V 450 Lm—40W—266U?
4. Vraag: Is daar iets anders wat dieselfde beteken?
5. Is daar iets wat nie dieselfde beteken nie?
Ek vra te veel vrae, het hy eens gesê: maar wie?—iemand in ’n verlore sprokiesboek (hoe jammer, want net sprokies of wondere sou nog antwoorde hê), of ’n kind—Maureen liewe Maureen liewe onskuldige klein jong Maureen—of Marie met jou ligte hare en jou vraaglose vragende oë en jou ronde appelborste—
hoe het hulle so gebly, lighaarnooi, ligtekooi?
—en die driehoekskaduwee van jou onderbuik en jou fluisterende enkele nagte (humor: dubbele nagte) in vreugde of trane by my, Marie, Maria Mater Dei ora pro nobis peccatoribus nunc en iets van ons dood, ek kan daardie laaste woord nie onthou nie; of woorde, dit maak nie saak nie—net meer asem.
En die klok slaan buite tampend in die reën en late buisligte en donker: slaan slaan slaan slaan—tien? elf? twaalf?—verloor. Tog moet dit ’n uur wees, dis net ure wat dié tyd van die nag slaan.
Hoeveel? Dis iets in die ruimte om aan vas te hou, dis al wat oorbly (was daar ooit iets: is ek fetus of kadawer, in baarmoeder of in graf, by alfa of omega? voortdurend vrae) maar hoe laat hoe laat
Wagter in die nag wat deur die strate loop en roep
hoe laat? My eie horlosie het gaan staan iewers lank gelede vanaand of vanoggend of gister of jare gelede eeue voor die geboorte van Maria en lank na my dood. Die versteende tyd glim op wysters agter glas onnosel soos ’n akwariumvis.
Ek moet uitgaan en die tyd gaan soek.
—Verloor die tyd dan soos ’n rooi serp in die wind?—
Soek? Wat anders doen ek heel my lewe nog:
soek jou hier
en soek jou daar
en soek dit oral deurmekaar
deurmekaar, die primordiale chaos, die woeste en leë niet—die nag wat aan my vensters klou. Soek—? Dis swaar so swaar so swaar—ek is so eindeloos moeg—was dit ooit anders?—wat wou ek soek—die tyd. Maar die tyd lê buite en spartel, en dit reën. Ek sal ’n jas moet aantrek maar ek het geen jas nie (corpus delicti) of dis ingepak, want ek staan op trek op gaan in transit iewers heen nach wem wohin die winde waai deur alle tyd en reën, die nag vergaan in vlae; en die wêreld, veilig soos ’n mummie in sy Tutankamenkis, die wag op Charon en sy skip.
1. Wie is Charon? | 3. Of is hy nie? |
2. Ek? | 4. En ek nie? |
Ek moet dus binne bly, al is dit sonder tyd (ontydig dus?) want hierdie laaste (eerste) nag met hierdie laaste lig met hierdie laaste kalorieë energie so sorgvuldig deur die slimmes afgemeet, moet ek terug—of vorentoe?—die lang pad in die duister loop: die stasies van my kruisweg een vir een soos krale aan ’n snoer.
My “naam” is François Raubenheimer.
Ek is een-en-dertig jaar oud.
Ek het geen vaste beroep nie omdat ek daarvan oortuig is dat daar niks “vas” is of kan wees nie.
Ek is voortvlugtig—nie van iets nie, maar na “iets”: noem dit die lewe.
Daar bly vorentoe niks oor nie: hier is die doodlooppunt. Ek kan nog net terug. (Die stasies van my kruisweg—)
Ek wil nie ek is moeg kan ek nie rus nie rus nie: of ís ek selfs nog moeg—ek is ook daar al lank verby na waar dit alles uitloop (ek, hy en sy, en heelal) in die niet, tot niks
O Niks wat in die Hemele woon
Hier kom ons soekend na Jou troon
(Heilsleërwysie) afgrond tot afgrond en niks tot niks tot niks moeisaam niks herhaal voortdurend niks. Maar waarom dan. En waarom nie. (Ek’s moeg en kan geen vraagtekens meer skrywe nie: waarom sal ek, as alles wat gesê word vrae is—met of sonder die meer of minder verspotte buiginkie aan die end van die sin.)
As dit maar eensaamheid sou wees want/maar dié kan ek verduur, ek het genoeg te veel te min genoeg gehad daarvan tot by die sperm-essensieelste eensaamheid, maar nou net niet, en niks wat oorbly nie
Behalwe: een enkele klein verlate houtskoentjie tussen my tasse en klere en komberse en wanorde oor vloere tussen mure oor stoele kas en enkelbed gesprei;
en iets—verskriklik, brandend, gruwelik, waarom ek my soos ’n moeë Dali-horlosie gedraai het, op reis met die tik-tik van ’n tydbom binnekant, op reis, voort, voort, moeër en moeër
as jy so moeg kon wees soos ek
dan sou jy
vrek
en skuifel tree vir tree die lang pad in die duister aan, draailoos en boomloos en sterloos allesloos aan en aan, en voor is dit soos agter en links soos regs wáár is links wáár regs wáár voor wáár agter voort en stadig voort slepender voort soos die nag self wat is en nie is nie tot ek óók nie meer is nie weg vort (waarheen) skoon weg; net dít nog oor: net dit:
hy, Hendrik Karel Serfontein, en wat hy my aangedoen het.
Net hy, verby alle tyd; en die skuld—in die begin was die skuld en die skuld was by my en die skuld was ek—maar dis ’n leuen, want voordat hy gekom het (of ek) of sy (of ek) kon daar geen skuld gewees het nie, tensy die hoender voor die eier voor die hoender was. Maar nou sluip dit van alle kante op my toe, verderf wat in die duisternis wandel en pyle wat bedags verwoes: waar sal ek skuil, en waar sal ek in hierdie duister deure vind of vensters vind; dit keer my vas en laat my tastend terugkruip na die hoek—
En dan die nugter telefoon op sy tafeltjie. Bont kleedjie met koffiekol. In die hoek, aljimmers in die hoek, ewigdurend in Die Hoek, alomteenwoordig en tog so nodig. Vir alle noodoproepe skakel 999: polisie. ambulans. brandweer.
Ek het ’n noodoproep vannag te maak, maar ’n ander een as een van dié: net om ’n stem te hoor, ’n mens, ’n wese, iets. Ek verwag nie dat ek hom sal verstaan of hy vir my nie, omdat ons net woorde sal hê om mee te praat: die groot swye, die groot leuen, die groot hardlywigheid van die gees.
Dwarsoor die skakelring staan die nommer potsierlik belangrik: onfeilbare genadegawe van ons drukke eeu, die groot antwoord op die tallose klein vrae, die iets in die niet rondom: 12-3456. Dít is reël, konkreet, dáár. Dit ís.
Dis lekker om ’n nommer te is, te is,
Dis lekker om ’n nommer te is
Dit is oorstelpend, onontkenbaar, onontkombaar dáár. 12-3456.
en om my kamer teen die donker vensters oor die dakke om die gebou die stad die sonnestelsel slinger die duisternis amorf verwilderend vereensamend
My vinger skakel panies-meganies swart syfer na syfer, in volmaakte wit sirkeltjies, omringende nulletjies, met die gons van die wieletjie, die nommer wat daar streng op aandag staan: 12-3456.
Beset.
verlatenheid teen die nag teen die verlede die tydelose skuldelas van alles wat gebeur het of nog mag gebeur
Probeer die sentrale; want ek moet deur.
Sentrale—nommer nul.
(Die gaatjie in die nul.)
Ek skakel nul.
Nul antwoord.
“Nul?”
“Nul.”
“Ek moet deurkom na 12-3456. Dis dringend. Die lyn is stukkend.”
“Wat is u nommer?”
“12-3456.”
“En u wil deurkom na—?”
“12-3456.”
“Maar—”
“Dis dringend, dringend, dringend!” (Skreeu.)
Sugtende antwoord: “Nou goed. U’s deur. Praat maar.” Sy stem verloor, word niet.
Ek vra: “12-3456?”
Ek antwoord: “Ja.”
“Is ek deur na jou?”
“Ja.”
“Ek wil met jou praat.”
“Ja.”
“Ek moet.”
“Waarom moet?”
“Glo my.”
“Daar word soveel van die geloof gevra.”
“Dit is miskien die laaste keer wat ek met jou sal praat.”
“Of die eerste.”
“Dis in elk geval alles verby.”
“Watter sekerheid het jy dat dit ooit wás?”
“Niks niks niks. Ek soek dit ook nie.”
“Soek jy iets?”
“Ja ja!”
“Wat?”
“Hoe moet ek weet voordat ek dit gevind het?”
“Waarom het jy my dan gebel?”
“Ek het gedink jy sou my kon sê.”
“Wat?”
“Wat ek kan doen.”
“Wat gaan jy doen?”
“Ek weet nie.”
“Wat hét jy gedoen?”
“Ingepak.”
“Hoe ver is jy daarmee?”
“Halfpad.”
“Presies halfpad?”
“Dit kan tweederdes wees.” (Sug; kyk om; bereken; sug.) “Of eenderde.”
“Wanneer gaan jy klaarmaak?”
“Vannag. Eendag. Een eeu na alle tyd.”
“En wanneer gaan jy vort?”
“Môre.”
“Oggend—middag—aand?”
“Oggend.”
“Waarom?”
“Die volgende huurder kom.”
“Wie is hy?”
“Ek weet nie.”
“Het jy probeer uitvind?”
“Nee.”
“Waarom nie?”
“Ek was—besig.”
“Waarmee?”
“Met niks.” (Kort ewigheid.) “En alles.”
“Alles?”
“Jy weet—wat gebeur het.”
“Ek weet nie.”
“Jy moes ten minste die koerant gesien het.”
“Wanneer?”
“Vanmiddag.”
“Waaroor?”
“Jy ken die name.”
“Wie was hulle?”
“Marie was een.” (Fluister.)
“En wie nog?”
“Serfontein.”
“Ekskuus?”
“Ser-fon-tein.” (Nag buite.) “Jy weet.”
“Was dit ’n lang berig?”
“Nee.”
“Waarom nie?”
“Sulke berigte is nooit lank nie.”
“Ek sal dit opsoek.”
Nag nag nag
Nag goddelose goddelike Marie
Nag klein Maureen, o Here, nag
Nag
Met toenemende tempo:
“Jy het gesê jy gaan weg.”
“Ja.”
“Jou hospita betaal?”
“Ja.”
“Hoeveel?”
“Ses pond elf en drie.”
“Dis min.”
“Dis ’n ellendige kamertjie.”
“Het jy ’n kwitansie gekry?”
“Ja.”
“Met ’n seël op?”
“Ja.”
“En het jy jou telefoonhuur betaal?”
“Ja. Dit was ingesluit by die kamer.”
“Afgereken met jou kruidenier?”
“Ja.”
“Jou rekening by die apteek vereffen?”
“Ja.”
“Jou pakkie FL’s ingepak?”
“Nee.”
“Waarom nie?”
“Ek laat dit vir my hospita. Dis haar verdiende loon.”
“Jou boeke afgesluit?”
“Ek het nie boeke gehad nie.”
“Figuurlik gesproke.”
Pouse, met nag.
“Ja, alles afgesluit.”
“En môre—die nuwe blaadjie?”
“Niks kan nuut wees nie.”
“Sal enigiets wees?”
“Was enigiets?”
“Beantwoord asseblief my vraag.”
“Ek weet nie.”
“Wat dink jy?”
“Ek glo nie.”
“Waarheen gaan jy?”
“Êrens.” (Nêrens.)
“Oorsee?”
“Wie weet?”
“Wat wil jy doen?”
“Niks.”
“Jy sal moet dink oor alles.”
“Ek kan nie.”
“Waarom nie?”
“Ek is self my dink. My dink is ék. En saam is ons nié.”
“Jy sal nie ver kom met slimmighede nie.”
Pouse.
“Jy weet dit tog?”
“Ek weet.”
“Dus—”
“Ek kan nie. Verstaan jy dit nie? Ek kan nie KAN NIE kan nie! Ek het genoeg daarvan gehad. Te vreeslik veel.”
“En tog is dit die enigste waaragtige MOET wat oorbly. Die rekenskap, die laaste eis, die onverbiddelike konfrontasie.”
“Dis verby.”
“Jy’t nog net rondom gesoek.”
“Is ek my broeders hoeder?”
“Is jy Kain?”
“Is ek Abel?”
“Is jy iemand?”
“Is ek iets?”
(Vroeër: die moontlikheid van engele en duiwels)
“Kan ek vir jóú iets vra?”
“Wat is dit?”
“My laaste groot vraagteken. Dis al wat ek besit.”
“Dit is?”
“Waarom het hy dit gedoen?” Stilte. “WAAROM HET HY DIT GEDOEN?”
“Wie?”
“Serfontein.”
“Ek weet nie.”
“Jy móét. Daar is geen uitdraai meer nie. Jy moet dit weet. Wáárom het hy—?”
“Jy sal dit self moet soek.”
“Wáár?”
“Dit hang af van waar jy wil uitkom.”
“Ek gee nie om nie.”
“Dan maak dit nie saak waarheen jy gaan nie.”
“—solank ek êrens uitkom.”
“Dit sal gebeur, mits jy lank genoeg aanhou.”
“Só het Alice en haar Kat ook geredeneer, en dit was ’n sprokie.”
“Is ons dan nie ’n sprokie nie?” Sug. “Soek maar net.”
“—en ek sal vind? Daar is ’n tyd dat tekste nie meer troos nie.”
“Ek probeer jou nie troos gee nie.”
“Wat dan?”
“Vuur en swaard miskien. Jy het tog nie gedink jy sal ooit weer rus kan hê nie: wie is daarvoor geskape?”
“Sal ek my in die woestyn gaan terugtrek? Klippe in brood verander?”
“Die tyd is dáárvoor ook verby.”
“Die antwoord is?”
“’n Vraag.”
“Tot siens.”
“Tot siens. Of: vaarwel.”
“Vaarwel. Amen.”
—die stasies van my kruisweg een vir een—