Читать книгу Lobola vir die lewe - André P. Brink - Страница 9

vierde stasie

Оглавление

En nou: wat omtrent Marie? Dis tyd dat jy van haar praat.

—Nee. Dit spyt my innig, maar ek het nie die geringste idee van waar sy vandaan gekom of van waar ek haar gesien het die eerste keer nie.

Was dit wel die eerste keer?

—Dit kon ook ’n ander keer gewees het.

Die hoeveelste?

—Die laaste, byvoorbeeld.

Of?

—Of enige ander.

Kan jy dit toelig?

—Met die kringe van die glas se boom die nat glas se boom die glas se nat boom.

Hoeveel kringe?

—Twee of drie of enige denkbare getal oormekaar.

En het jy in elkeen van die kringe ’n aparte bestaan?

—Ek het, na die beste van my oordeel en vermoë.

Hoe groot is jou oordeel en vermoë?

—Nie baie groot nie.

En in elkeen ’n aparte realiteit?

—Ja; ek vermoed so, glo so.

Of wel ook nie-bestaan en on-realiteit?

—Dit kan wees.

En het jou bestaan in een kring enigiets te doen met jou bestaan in enigeen van die ander of al die ander?

—Nee, dit is heeltemal afsonderlik.

Behalwe?

—Behalwe dat dit ook ek is wat in die ander bestaan.

Jy kan egter geen bewyse aanbied nie?

—Geen.

Het jy enigiets om aan te bied—in verband met Marie se eerste koms?

—Enkele hipoteses.

Hoeveel?

—’n Paar.

Hoeveel?

—Vyf.

Gaan asseblief voort.

(a) KAMER

Wakkerword in die môre in die oubaas se kamer.

(Die kuiken wat pik aan die kosmiese eier om gebore te word en pik pikpikpik pik pikpik dan stil en luisterend na die wêreld buite en moedswilliger weer pikkepikpikpik stilte pik al dringender en dwingender pik en pik en tiktiktikketaktik van ’n tikmasjien wat in ’n perskantoor aanhoudend ratel en sy spastiese staccatostorietjie van skande of skandaal uitknetter met ’n laaste paar dawerende slae die swaar hout op die verhoog agter die skerm voordat die spel begin dieselfde spel van gister (matinée op Sondag en teater gesluit op Woensdag) en eergister en ses maande gelede en oor sewe weke dag vir dag soos die kweeldeuntjie van die versierde draaiorrel oor en oor piktikdoef piktikdoef pikketikkeDOEF doef en die groot swaar dreun van Thor)

“Waarom kon jy my nie laat slaap het nie? Wat de duiwel bedoel jy daarmee om my wakker te maak met hierdie lawaai van jou?” (Toneel immer dieselfde met hamerslae van die lig teen sy pynende oë en om hom die heuwels en dale van die kakiejas maar die ou man is weg verdwyn het hy deur ’n gat in die heelal geval of het die engele of muise hom weggedra? hy sal met die opsigter moet praat dat hy die gate heelmaak waardeur ons arme sterflike wesens so maklik tuimel sedert Lucifer.)

Sy staan bo sy matras laggend teen die oorverdowende lig van die venster met ligte wanordelike hare en met donkerrooi trui en ronde borste (nie foppertjies nie ’n mens leer baie gou onderskei) besem in die hand en ’n bruin romp met ’n verspotte klein voorskoot bo-oor.

“Ek het gedink jy word nooit wakker nie.”

“Wat maak jý hier? Wie is jy? Wie het jou hiernatoe gestuur?” (Is jy die boerin wat na die kuiken uit sy dop kom kyk; die jong aktrise van die eerste toneel; die tikster van die nuusredakteur?)

“Moet ek vir jou koffie gee?” Sy lag asof hy ’n grap is. “Foei, jy lyk maar mistroostig.”

“Wat máák jy hier? Wie is jy?” vra hy moorddadig.

Sy loop weg van hom na die primusstofie by die wasbak met die suggestie van tergende boudbeweginge soos die gees wat swewe oor die waters. “Ek maak maar net aan die kant hier,” sê sy oor haar skouer toe sy by die stofie kniel.

“Waar kom jy vandaan?”

Haar rooi skouers roer. “Miskien het die wind my ingewaai. Wat maak dit saak?” Met skamper nágedagte: “Jy moet net nie dink ek het om jóú ontwil gekom nie.”

“Daar is ek dankbaar voor.” Skielik bitsig: “Jy neem my seker kwalik dat ek jou slaapplek afgeneem het? Of slaap julle altwee op die enkelbedjie?”

Sy lag opnuut en begin die koffie skink. “Ek dag jy weet dat hy impotent is?” sê sy. “Kan ek vir jou suiker ingooi?”

“Hy kan jou altyd gebruik vir sy smerige speletjies!”

“Ja?” Haar oë spot onkeerbaar. “Jy vlei my nie juis nie, nè?”

“Of is jy maar net huishoudster hier?”

Sy roer die twee bekers met een lepeltjie om, sit syne voor hom op die grond neer en gaan op ’n stoel sit, bene onder haar ingevou, skoene uitgeskop. “Allermins,” sê sy. “Ek sorg heeltemal goed vir myself.”

Hy staar na sy beker koffie waar die lig op slinger. “Wat maak jy dan hier?” vra hy.

“Moet mens nou juis iets doen omdat jy ’n rede daarvoor het? Drink jou koffie, dit word koud.”

“Ek wens jy wou liewer loop en my laat slaap.”

“Jy’t klaar te lank geslaap. Hy’t my gesê dat hy jou dadelik in die bed kom sit het nadat hy jou gisteraand gekry het. En dis nou al amper elfuur.”

“Wáárom het hy my hiernatoe gebring—weet jy miskien?”

“Waarom dra ’n klein hondjie goed in die huis in?”

“Jy’s verskriklik snaaks,” sê hy bytend en tel sy beker op. Die ergste hitte is weg en wat oorbly, swart en salwend, vloei genadig oor die hewigste pyn en neem die ergste puntenerigheid weg.

“Hy is uit om vir jou ’n kamer te gaan soek,” sê sy ongevraag. “Iewers in die buurt. Is jy nie bly nie?”

“Nee.” Hy bedink hom. “Dalk tóg. Wie weet. Ek is moeg. Ek is verskriklik moeg.”

“Ek sal gaan,” sê sy simpatiek. “Ek sal vir jou ’n paar pille gee.” Sy swaai haar bene van die stoel af met ’n vlugtige dyeskemering onder die bruin romp, en bring ’n dosie aspirien van die vensterbank af.

“Dankie,” sug hy. “Miskien is jy ondanks alles tóg ’n goeie engel. Laat my nou slaap.”

“Jy sal nie sleg lyk as jy jou hare gekam het nie, weet jy?”

Hy hoor haar deur toe gaan. Sy gaan daar staan, en sê: “En moenie wakker lê en raaisels probeer uitrafel nie. Daar is niks geheimsinnigs omtrent my nie.”

Die toeknip van die deur spat nuwe splinters pyn in hom los. Waar gaan sy nou heen? wie en wat en waarvandaan is sy? en toe swig hy voor die pyn en slaap.

VRAELYS

1. Hoe rym jy hierdie hipotese met jou vroeëre verklaring dat dit die oubaas was wat jou die eerste môre wakker gemaak het?

2. Hoe sou hy geweet het om vir jou ’n kamer te gaan soek?

3. Hoe sou jy uitgevind het van sy speletjies?

4. Hoe verklaar jy haar laaste opmerking?

(b) STRAAT

Slenter-slenter straataf in die ligte reën verby groente en vrugte en sykouse en pelse en drank en sambrele wat te koop aangebied word, venster na venster, die hele mallemeulelewe te koop, sê net jou prys (Kom al die dorstiges en koop en eet wyn en melk sonder geld?) en dink: ek sal self die een of ander tyd weer ’n redakteur moet gaan opsoek en ’n storietjie uitkraam en aan hom verkoop sodat hy dit soos flou té soete tee kan uitplets oor die blaaie van sy blad en ek die kamer kan betaal as hy dit vir my kry of dalk ’n gedig ’n brok poësie met baie rym want die massa glo nie aan rymlose verse nie:

my buurvrou sit plat

in die bad

en word nat

(so what?)

en sterrekonstellasies spat

daar bly waaragtig nou nie veel meer oor nie.

Op daardie oomblik hoor sy waaksame ore die verskrikte uitroep van ’n me-

Tussen die grys geluide van die bedrywige môre ineens ’n ander

lodieuse jong stem wat hom die teuels laat intrek om gespanne te luister. Dood-

klank. Stilstaan ’n oomblik en dan nuuskierig naderslenter na die

se stilte begroet hom. Nee, daar is dit weer, hierdie keer die onmiskenbare

dromming op die hoek (enigiets solank dit net iets nuuts is). Duwend

hulpgeroep van ’n beeldskone jong maagd. Hy druk met geoefende hand op

tussen die jillende bruinmense en kinders deur, lustelose glimlag om sy

die sierlike nek van sy swart ros, steek sy spore in die fiere dier se glimmende

mond. Die banale jongste weergawe van die ewigdurende een-

flanke en galop teen duiselingwekkende vaart voort. Dit duur ’n ewigheid voor-

derse storie: Meisie met ligte hare teen ’n lamppaal, woedend, in rooi

dat hy op die toneel verskyn waar ’n afgryswekkende gesig sy staalblou oë be-

jas met klammigheid op die skouers, gesig bleek—voor ’n langhaarge-

groet. Met haar slanke rug aangedu teen ’n ruwe boomstam, staan ’n jong

drog uit Seepunt of Openbaring. Dié jank: ‘Wat sal jy jou nou so

meisie met goue hare die kleur van ryp graan, en met groot blou oë soos stil

‘square’ probeer hou? Jy probeer verniet vir my weghol. Kom, hoe

poele water op ’n oop dag, geklee in ’n lang wit kleed wat grasieus die sagte

lyk dit met ’n soentjie?’ Sy mik ’n woedende klap na die sigaret in sy

rondinge van haar maagdelike liggaam beklemtoon. Voor haar staan ’n man

slap mond, maar hy gryp baie vinnig haar gewrig beet. ‘Oppas nou,

met woeste, bebaarde gesig en ’n afgryslike blink dolk in sy opgehewe hand.

duckie, as jy jou snaaks hou, dan kry jy dit!’ Hý staan alles en beskou,

Net betyds, dink die fiere jong man. “Laat staan haar!” roep hy moedig en

tam, half geamuseer, steek later sy arm uit en trek die eendstert aan

jaag met doodsveragtende onverskrokkenheid reg op die booswig af, buig laag

’n swart leerskouer terug: ‘Toe, jy’t nou genoeg haantjie gespeel. Kry

vooroor en lig die meisie met een behendige beweging voor hom op die saal.

jou koers!’ Woedende puisiegesig: ‘Hou jou bleddie gevreet uit my

Die geoefende dier se agterpote skiet verbysterend uit en tref die gemene skurk

sake uit!’ Die leerarm tas na ’n mes. Maar hý vererg hom ook, klap

vol teen die bors sodat hy wanhopig agteroorsteier en hulpeloos neersyg terwyl

die slenter dwarsweg deur die gesig sodat hy steier, die sypad mistrap

die moedige dier met donderende hoewe met sy kosbare vrag voortsnel.

en val. Hy neem die meisie se hand. ‘Kom. Dis beter om pad te gee.’

Sy loop langs hom aan met ’n driftige skud van haar deurmekaar kop, loer op na sy kant, maar sê niks.

“Nou ja?” vra hy eindelik.

“Het jy ’n sigaret?”

Hy haal ’n voos pakkie uit sy sak, bied haar een aan en skuil dan met ’n bakhand die flikkerende vuurhoutjie teen die motreën en die flenterwind.

“Waarom het jy dit gedoen?” vra sy onverwags, en blaas die rook deur haar neus uit.

“Veronderstel ek sou weet—sou dit enige saak maak?”

Sy trek haar skouers op.

“Moontlik geniet ek dit om weerlose meisies van lastige skurke op straat te red,” sê hy sinies. “Dis al wat in ons tyd oorbly van ridders en drake. En maagde.” Hy druk sy vuiste in sy sakke en vra ergerlik: “Dalk het jy verkies om by hom te bly?”

“Wie weet?” tart sy terug.

“Waar kom jy vandaan?” vra hy kortaf.

Sy lag onverwags. “Dit maak nie veel saak nie.” Kyk hom dan skamper aan: “Dis jy wat by Serfontein ingetrek het?”

“Hoe weet jy dit?”

“Hy’t my gesê.”

“Ek kon ook dink dat jy hom sou ken,” sê hy venynig. “Jy pas goed in die prentjie.”

“Jy is nie juis daarop uit om my te vlei nie, nè?” Hulle steek saam ’n straat oor en sy moet vinnige treë gee om by te bly. Sy beduie vorentoe: “Ek kry my bus dáár.”

Hy reageer nie, maar gaan nietemin saam tot by die halte en bly daar staan.

“Jy sal nogal nie sleg lyk as jy jou hare kam nie, weet jy?” sê sy toe die bus stilhou. Sy vat die blink reling. “Tot siens, vreemdeling. En dankie—nietemin.” Sy gaan met die trap op en haar reënjas swiep skielik in ’n windvlagie om haar bene op.

Daar gaan die bus (waarheen, van waar, bowenal: waarom?). Toe draai hy tam om en loop die triestige môre in.

VRAELYS

1. Hoe rym jy jou handelswyse met die feit dat jy nog altyd ’n hewige afkeer van enige fisieke optrede gehad het?

2. Hoe verklaar jy die feit dat sy jou herken het?

3. Hoe verklaar jy die gerieflike manier waarop die eendstert van die toneel verdwyn het?

(c) SLAAP

met ligte deining op die groot fluïdum van ruimtelose tydlose rus en Vishnu slaap sy ewige eeue op Ananta deur nie meer inferno nie niks meer nie purgatorium miskien en eindelik kom Beatrice my tegemoet iets ligs wat sweef moontlik maar net ’n herfsblaar wat jou kan laat wens verborge wense van die wil uit vroeër tye van hoop waarvan daar niks meer oorgebly het nie Lilith die grote sondares wat aan haar seun verskyn terwyl hy slaap of die hemele wat open en ek Ignatius Loyola in my groot vertwyfeling en pyn by Pamplona en die Maagd wat met haar heilige Seun verskyn en alle twyfel en onsekerheid van my neem soos vroeër as Franciskus van Assisi in my swym gegroet Maria moeder van God vol genade en barmhartigheid soos jy verskyn het aan die boeremeisie Jeanne en in die grot aan Bernadette Aphrodite wat neerdaal van die kruine van Olimpus en in my drome kom na my Anchises vader van die groot Aeneas soos nagtelik die maan ook aan Endymion of nederiger tartender gedaante voor die jong seun in sy lusdroom as die eerste lewe uit sy lende skiet so kom jy met jou losse ligte hare stromend soos maanlig swewend êrens vandaan van waar en waarheen gaan jy later weer en wie is jy met jou lag en die vlugge sorgelose grasie van jou beweginge ligweg soos ’n kind en tog ook baie eeue wys en waarom antwoord jy my hunkerende vrae nie ek sou wou weet ek sou so graag wou weet en hoe het jy vermoed dat jy my hier sou kry slapend en wagtend dat jy moet kom na al die jare soek en swerf jy kom soos reën op die hard gebakte oopgebarste aarde op my neer soos nuwe genade op die sittende Gautama onder sy heilige wildevy Christus aan sy elf en later twaalf dissipels bymekaar kan ek jou glo en kan jy my enige bewyse van jouself verskaf jou hande na my uitsteek of net maar praat of lag dat ek kan hoor kan glo kan weet kom oor my soos die ligte wolk wat op die tabernakel rus die sagte wind wat oor Elia tas kom soos alle bekende en hoë heilige naamlose dinge en gee my iets net maar enigiets dit maak nie saak hoe min of vreemd nie net maar iets dat ek van jou kan weet of het jy werklik geen geheime nie ek weet jy glo my nie en daar is geen nodigheid voor nie kom soos enige muse na haar sukkelende kunstenaar kom Helena uit jou simmetriese verlede uit na Faust en as ek eendag weer my hare kam dan sal jy sien ek lyk nie regtig so onaardig nie maar waarheen nou onrustige gees van die gestorwe koning met jou wye dun kleed wat vou en opswaai om jou bene bly nog as jy wil ek wil van waar en waarheen eindelik en wie en wie

en eindelik slaap hy diep en droomloos voort.

VRAELYS

1. Hoe sou jy hierdie ontmoeting verklaar in die lig van alles wat hierná gebeur het?

2. Watter rol speel die effens belaglike verwysing na jou deurmekaar hare in die opset van die hele toneel?

3. Kan ’n droom enige deurslaggewende waarde hê in ’n moderne kroniek?

4. In watter mate kan die bonatuurlike ’n sensuele konnotasie hê?

(d) KAFEE

Kat op sinkplaatdak in haelstorm: musiek uit jukebox in die hoek.

Weekblad met gekleurde buiteblad: meisie met kaal ledemate uitgestal soos slaghuisvenster.

Lusteloos, bladsy na bladsy, op sy geel-en-chroomstoeltjie by sy rooi-en-chroomtafeltjie by sy halwe koppie koffie en sy moedelose worsbroodjie (want as die oubaas hom ontbyt gegee het—en dit sy eerste môre en ná die ellende van gisteraand—dan was dit nie nou nodig om hier te sit nie). Flets verhaaltjies, flets briefies-aan-die-redakteur, flets stukkies raad aan Eensaam op A. en Teleurgestel op B. en Sekswolf op Z., flets advertensies (Laat Hulle van jou Hou en jou Lief hê. Trek Populêrheid aan en Kweek ’n MAGNETIESE PERSONALITEIT. Volledige Kursus SLEGS 11/3 Verkry Pragtige Buuste en maak ’n SUKSES van u Vakansie. Volledig geïllustreer—16/-, met GRATIS Gids oor Seksuele Aangeleenthede.)

Toe skuif die geel-en-chroomstoeltjie oorkant sy rooi-en-chroomtafeltjie weg en die meisie met die suèdebaadjie en die swart langbroek kom daar sit. Hy kyk vlugtig op, verbaas, bewus van leë tafels alkant, dan weer af op sy tydskrif en koffie en broodjie.

(Diana. Miskien was dit onvermydelik, maar in ’n openbare banale kafee?)

“Jy sal heeltemal goed lyk as jy jou kuif ’n slag kam, weet jy?” sê sy skielik nonchalant, en lag.

“Jy het seker nie hier ingekom om my dít te kom sê nie, juffrou,” sê hy gebelg, snedig.

“Ek het. Waarom nie?”

“Wie is jy miskien?”

“Is dit so belangrik?”

(Hy: ‘Dit is tog nog dieselfde jý, dieselfde ék!’

Diana: ‘Dis wensdinkery, François.’ Sy lag kortaf. ‘Hoe kan ek jou trouens selfs nog “François” noem? Dit het álles verander, begryp jy nie?’)

“Kyk, juffrou: ek het niks met jou uit te waai nie; en jy nie met my nie. Laat my asseblief in vrede hier sit en lees.”

“Vind jy my nie interessant genoeg nie?” vra sy en glimlag oor die rand van sy tydskrif.

Hy sit dit vinnig neer. “Kan jy my asseblief sê wát jy presies daarmee bedoel het om hier by my te kom sit?” vra hy.

“Gesels.” Sy kyk na haar naels. “Is daar iets verkeerd mee?”

“Luister,” sê hy ergerlik, “dis hopeloos te vroeg in die môre vir dié soort ding.”

“Dis nie juis ’n kompliment nie.” Sy draai om en wink die kelner om te kom, bestel tee, en leun weer met haar elmboë op die tafel. Haar hoë borste terg teen die baadjie. “Ek het vanoggend gesien toe jy van arme ou Serfontein af kom,” sê sy.

Hy vra: “Waarom ‘arme ou’ Serfontein?”

“Waarom nie? Arme ou siel in sy eensame skemerwêreldjie.”

“Verskil dit soveel van enigiemand anders s’n?”

“Jy’s glad te jonk om só te praat.”

“Ek het ewewel genoeg rede.”

“Jy weet, sy seun was ál wat hy gehad het,” sê sy.

“Raak dit my?”

“Miskien nie. Maar vir ons skyn die son darem nog.” Sy wag dat die kelner die tee voor haar neersit en begin dan skink.

(Diana: ‘Jy besef dit tog, François: my ouers—my toekoms—ons planne, alles—al ons sekerhede—’)

Maar halfpad deur die takie kyk sy skielik op en vra: “Dink jy ek is mooi?

“Watter saak sou my opinie maak?”

“Ek voel mooi vandag.” Sy skud haar ligte hare, deurmekaar, oor haar ore terug.

“Waarop stuur jy af?” vra hy reguit.

“Op jou, miskien.”

“Jy’s gek.”

Haar oë glim. “As jy my nie hier wil hê nie, dan gaan ek maar.” Sy staan op. “Ek gaan betaal.”

“Moenie verspot wees nie. Ek sal.”

Maar sy het klaar die geld op die toonbank gaan neersit—vir sy ontbyt ook—en verdwyn by die deur uit met die slank beweging van haar lang bene in die smal broek. Waarheen gaan jy, dink hy, tussen die mense deur, en wat het jy juis kom soek en waar kom jy vandaan en waarom laat jy skielik vrae agter waar voorheen niks was nie?

(Hy: ‘Ek verstaan dan.’ Hy steek sy hand uit. ‘Dan—groet ons maar.’

Haar lippe begin onverwags roer. ‘François, ek—dis nie dat—’

‘Tot siens, Diana. Dit gaan jou goed.’)

VRAELYS

1. Wat het jy tevore daarmee bedoel dat jy wel die eerste oggend in Serfontein se kamer ontbyt geëet het?

2. Waarom het jy dit as vanselfsprekend beskou dat sy Serfontein ken?

3. Waarom het sy nooit by ’n ander geleentheid weer tee gedrink nie?

4. Waarom het haar sonderlinge uitgesprokenheid jou nie meer verbaas nie?

(e) NIET

Sy het nooit verskyn nie, nie toe nie en nie later nie, en in geen gedaante nie.

VRAELYS

1. Waar kom jy dan

2. hoegenaamd aan haar

3. gedagte en

4. haar naam?

Lobola vir die lewe

Подняться наверх