Читать книгу Lobola vir die lewe - André P. Brink - Страница 8
derde stasie
ОглавлениеLasarus ek sê vir jou staan op en kom uit
Vervaarde hooggety en golwe in al kleiner deining
Roepend tussen bome en donker struike in die Tuin: Kom uit
rukkend om tot sin en helderheid te kom
Of dreunend uit die berg wat brand: My volk
verblindende pyne skielik in die laag van eerste bewustheid
Of in die grot: Gaan uit Mohammed en verkondig aan die wêreld
oproeiend, paniekerig, deur vlakke duisternis
Of in die donker tempel aan die kind wat slaap: Samuel
met helderder en helderder spatsels en plasse lig
En Zeus donder van die wolkomkranste berg Olimpus af
En also sprach Zarathustra
En die bronstige bul bulk na die koeie wat in die laagte wei
En bulk
En roep
En skud
(“Jy kan nou maar die viool vir my gee.”
Hy swaai vinnig om, die instrument soos ’n skild voor hom, hewige ontsteltenis in hart en oë: “Nee, Vader, ek—Ek het nie besef dis so laat nie. Ek sal dadelik gaan klaarmaak—”
“Dit is vyfuur. Jy het opdrag gehad om die meetkundeprobleem kwart-vóór-vyf na my te bring, maar jy kry mos altyd iets anders—toneel of viool of swem of dit of dat. Ek het jou tevore al gewaarsku. Vandag was die laaste keer.”
“Vader, asseblief—”
“Daar is niks om oor te redeneer nie. Gee die viool: ek sal sorg dat hy verkoop word, en die geld in jou spaarrekening deponeer.”
Stilte en groeiende eensaamheid.
“Bring asseblief stiptelik sesuur die meetkundeboek na my studeerkamer.”)
En laat hom eindelik rukkend, tastend orent peul.
“Kon jy my nie laat slaap het nie?” vra die jong man driftig, moedeloos, sy kop tussen sy bleek handpalms gestut, gepynig binne die kreukels van die swaar kakiejas, swaar en dof van ruslose slaap, sku vir die vroeë lig wat deur die vuil vensterruite inplons.
“Dè, hier’s vir jou koffie,” sê die oue meewarig. “Drink.”
Hy vat die beker soos ’n laaste sakrament, brand sy mond teen die rand, vloek, stort ’n paar druppels op sy oopgeknoopte hemp, vloek, en drink dan versigtiger verder; swart en sterk met dik moer onder, wasem teen sy oë. Eers dan kyk hy weer op, agterdogtig, byna venynig, na die oubaas wat op die rand van die ysterkateltjie met sý beker sit. Op die grond onder die wasbak staan ’n versameling leë bottels plegtig bymekaar: samesweerders; of ouderlinge oor ’n ontugsaak.
“Klaar?”
“Ja.” Hy sit die beker op die vloer voor hom neer en staar peinsend daarna, skraal Boeddha op sy gestreepte matras. Tot hy later weer opkyk en die ou man met die oë ondersoek soos ’n reliëfkaart van ’n vreemde land: Miskien sestig, miskien vyf-en-sestig, vervalle, met bewerige hande; tog met die suggestie van eens sterk en vierkante skouers; kalerig op die kop, en met ’n litteken skuins oor die een wenkbrou, en met perserige opgehewe aartjies om sy oë, en met ’n paar uit tande (die oorblywendes gevlek en hier en daar gebreek, aan’t verrot).
“Waarom het jy my juis saamgebring gisteraand?” vra hy eindelik aggressief. “Wat het jy gedink gaan jy daardeur bereik?”
“Ek probeer nie meer dinge bereik nie.” Die ou man sê dit sonder enige bitterheid, net volkome nugter; en sy tong soek ou oorgeblewe stukkies kos tussen sy voortande.
“Jy moes dit tog om ’n bepaalde rede gedoen het,” hou hy vol, bewus van ’n kloppende pyn in sy kop.
“Hoekom moet ek ’n uitsondering tussen ander mense wees?” Hy kyk nie op nie en bly stadig aan sy koffie drink.
“Wat is jou naam?”
’n Aarseling in die oubaas, dan ’n skouerophaal, en ewe nugter as tevore: “Serfontein. Hoekom?”
“Sommer.”
KLEIN BEDESNOER
Vierde Kraal
Sommer het nie rede nie
jakkals het nie klere nie
skilpad het nie vere nie
“Wil jy nog koffie hê?”
“Nee.” Met ’n agterna-gedagte: “Dankie.”
“Ek bring partykeer twee meisiekinders hiernatoe en laat hulle daar op die matras met mekaar speel,” sê die ou man gewoonweg.
Die jonge wikkel hom uit sy kakiekokon en maak aanstalte om op te staan.
“Hou jou stories vir jouself,” sê hy nors, dikhoofdig.
Die oubaas haal sy skouers op. “In Kaïro het ek eenkeer gesien dat ’n vrou en ’n donkie—”
“Hou jou bek.”
“Sal ek jou vertel?”
“Nee.”
KLEIN BEDESNOER
Vyfde Kraal
In die reën in die donker in die groot tuin, roepend, soekend maar daar is geen antwoord nie en die spore het lankal toegesif.
Eindelik vra hy agter my: “My hemel, kind, wat maak jy hier? Ek het net gedink sy’t jóú ook saamgeneem. Kom dadelik in.”
“Maar sal sy nie terugkom nie, Vader?”
“Sy sal haar voet nie weer hier sit nie!”
“Maar waarom is sy dan weg?”
Die reëlmatige presiese gesig plooi minagtend. “Nie tevrede met die naam en die huis en die geld wat ék haar kan aanbied nie. Party mense is met niks tevrede nie. Soos ’n teef agter hom aanloop—”
“Maar wáár is sy?” En die nag is rondom ons, die nag, die winderige stuifsel van die reën.
“Gaan doen jy maar jou huiswerk,” sê hy. “Daar is niks om jou oor te ontstel nie. Ek sal jou waarskynlik beter kan opvoed alleen.” En soos ’n los nagedagte: “’n Man moet iemand hê om ná hom oor te neem.”
Serfontein buk en tel sy beker op en dra die twee bekers na die wasbak waar die bottels staan. “Jy kan hier bly as jy nêrens het om heen te gaan nie,” sê hy en draai die kraan oop en begin was aan die bekers.
“Jy sal mý by niks ingesleep kry nie,” waarsku hy bitsig. Dan, tam: “Het jy aspirien?”
’n Kopgebaar na die kateltjie se kant. (Die hare in sy nek is lank en wollerig.) “Op die vensterbank daar.”
Hy steier na die verblindende lig en soek die pille tussen vuil sakdoeke en papbandboekies met veelkleurige omslae en leë pakkies sigarette en ’n paar verfomfaaide speelkaarte met blatante kaal prikkelpoppe op die agterkant.
“Ek was in die oorlog,” sê Serfontein agter hom, steeds by die wasbak, besig om die bekers met ’n vuil vadoek af te droog. “Italië. Egipte.”
“Ek het dit vermoed,” sê die jong man uitgeput, voor hy met nuwe ergernis omswaai: “Ek stel in elk geval nie belang in jou verdomde biografie nie, verstaan?”
“Hulle’t my vroeg-vroeg al vrekgeskiet.”
“Vir my part kan jy ’n Kartager wees wat teen Scipio gesneuwel het. Of ’n ridder in ’n kruistog na Jerusalem.”
Serfontein grinnik sonder dat sy flets oë enigsins verander en hy vat aan sy gulp. “Bomskerf hier reg in my dinges gekry. En toe moes hulle driekwart plasties regmaak.”
“Staan soontoe,” sê die jong man ongeduldig. “Ek wil water kry.”
“Maar ek het nou net die bekers gewas.”
“Te bliksem met die bekers. Ek sal uit die kraan drink.” Sterre splinter voor sy oë weg toe hy vooroor buk en hy moet hom ’n oomblik teen die muur stut voor hy uit sy bakhand begin drink en ysige koue water oor sy gesig en hare plets.
Die ou man gaan op die bed se rand sit, haal ’n bottel onder uit, buig met ’n enkele duimdrukking die prop af en laat die wyn in sy keel afklok, vee dan met ’n handrug oor sy mond, sy oë op skrewe geknyp.
“Jy’t klaar te veel in,” sê die jong man van die wasbak af en probeer sy gesig met ’n mou afdroog; van sy kuif loop klein straaltjies oor sy wange in sy nek af en maak hom woedend.
“En waarom nié?” vra Serfontein. “Toe, ses maande voor die end, laat hulle my weet Karel is geskiet. Hoogverraad, ’n Brug probeer opblaas naby Boksburg en toe trap hulle hom vas. My seun Karel. Hy’t my tweede naam. Ek is Hendrik Karel.” Hy beduie vaagweg met die bottel in sy gas se rigting, bedink hom, en neem weer ’n sluk. “Nou vra ek jou.” Sy oë traan. “Agter my rug het hy toe loop O.B. word.”
“Ek weet nie wat iemand soos jy in die eerste plaas in die oorlog loop soek het nie,” sê die jong man bitsig.
Serfontein begin lag, raak aan die stik, en hoes tot die litteken oor sy wenkbrou spierwit in sy rooi gesig keep. “Jy moes my gesien het, matie,” sê hy en vee sy mond met sy hand af. “Ek was majoor op my dag.”
“Hoor, hoor!”
“Ek vra jou nie om die waarheid te glo nie, my vriend,” sê hy byna plegtig. “Ek het jare voor die oorlog al by die leër aangesluit. Dis miskien die enigste sensible ding wat ek ooit gedoen het. Ek het net gewag dat my sieklike ou ma doodgaan. Ek het genoeg gehad van vasgekeer sit. En toe, sommer handomkeer, was alles anders. Dissipline, verantwoordelikheid, orde, vir die eerste keer in my lewe. Ai.”
(Die orde, die haarfyne planne vir elke dag en elke uur, die kindersielkundeboeke, die dril van die beleefde skugter klein outomaat, vriendelike klein robot wat meganies reageer en die daaglikse opdragte en projekte uitvoer en presteer wanneer daar op die knoppie gedruk word.)
“Maar die oorlog neuk ’n mens op,” sê Serfontein. “Jy’t nie juis iets oor as jy terugkom nie.”
“So sien ek.” Maar hy sê dit minder kwetsend as vaneffe.
“Ek sal jou iets wys.” Serfontein staan op asof hy ’n skielike besluit geneem het, kurk die bottel toe en bêre dit onder die bed, en loop dan na die klerekas. Hy duik daar in en kom eindelik met ’n bruin lêer tevoorskyn—’n windverwaaide reier met ’n padda in sy snawel. “Kom kyk,” sê hy.
“Wat is dit tog?” sug die jong man nukkerig.
Maar hy antwoord nie, bly net sit en blaai, lekkend aan sy duim, aandagtig, sy gesig guller as flus.
“Jy moenie dink ek sal—”
Serfontein begin skielik lees, dwarsweg teen sy woorde in: “Maanlig het deur die venster ingestroom, spookagtig en magies, uit ’n hemel waar die westergloor ’n uur gelede nog bloedig en sterwend gedraal het. Daar was geen wind nie, en alles was geurig en bloeiend. En hulle twee was binne, afgesluit van die wrede wêreld, afgesluit van alles behalwe mekaar, met die openhartige glans van liefde en vervulling in hul oë en liggame—”
“Kan ons nie eers eet nie?” vra die jong man sugtend.
’n Paar blaaie word omgeslaan.
“Luister eers nog hier,” sê Serfontein. “Grotesk blaker verblindende spatsels die heelal aan brokke. Atome en aarde en hemel word gesplits—”
Die jong man gaan weer op sy klapperhaarmatras sit, leunend teen die muur, sy oë toe, gelate voor pyn en alles wat mag kom.
“Wat dink jy daarvan?”
Hy maak sy oë oop. “Waarvan?” Dit dring tot hom deur. “Dis goed,” sug hy. “Dis uitstekend.” Ag, as sy kop net wil ophou pyn.
“Goed, hè?” Die lêer word toegemaak maar die bandjies hang nog los. Die ou man leun vertroulik vooroor. “Daar’s baie daarvan. Ek sal later vir jou nog lees. Ek wil eendag gaan sit en iets daarvan maak.”
“Ja gerus.” Laat my net met rus met rus met rus ek vrek van pyn.
“Dis snaaks, nè?—ek meen dat ek toe na die oorlog teruggekom het en al die tyd in die wêreld gehad het en net nie meer hieraan kon kom nie. En voorheen was dit net die tyd wat ontbreek het. Net die tyd. Ek wou altyd, sien. Net die tyd—Maar eendag sal ek nog gaan sit en deurdruk daarmee. As jy reken dis die moeite werd.”
“O, ongetwyfeld.”
“Ek meen: ’n mens het seker maar behoefte aan iets van dié aard. Ek het my lewe lank vir die kans gewag. En toe’s dit nes of die oorlog die drade geknoop het. Maar eendag sal ek nog gaan sit. Ek moet net eers opruim hier. Mooi aan die kant maak, want ek kon nooit werk as iets rondlê nie.” Hy strik eindelik die lêer toe. “Dis wat die militêre lewe met mens doen. Elke ding op sy plek. Alles presies. Alles deeglik en afgerond.” Hy staan op. “Dit maak ’n man van jou.” Hy sug en stryk met sy hand oor sy rug, koes dan weer by die kasdeur in om die lêer te bêre, en praat half gesmoor van binne af: “Net ’n slag deeglik opruim. Alles regpak en my tafel by die venster stoot—want mens moet goeie lig hê—en daar gáát ons.” Hy kom orent, kreun effens van sy stram rug, stoot die kasdeur halfpad toe en stap deur toe. “Ek kom nou,” sê hy en gaan uit.
’n Moeë klok slaan ver in die gebou.
Die jong man bly geleun teen die muur sit, bene oorkruis, sy oë weggeskuil teen die pynigende son. Maar vyf minute later is die ou man terug, steeds besig om met rumatiekerige vingers sy gulp vas te knoop; en hy sê: “Ken jy die Twee-en-dertig Posisies van die Liefde? Onthou dat ek jou eendag die foto’s wys. Wat is jou naam?”
Sonder om te roer, sê hy: “Ek weet nie.”
“Nou toe. Só erg is dit darem seker nie.”
“Waarom nie?”
“Jy moet tog ’n naam hê. Wat noem mens jou?”
“Jy kan my die Wandelende Jood noem, of die Vlieënde Hollander as jy wil. Dit skeel mý wragtig nie.”
“Ek wou nie my neus in jou sake steek nie,” sê Serfontein en gaan hurk by ’n primusstofie langs die wasbak. “Wil jy pap hê?”
“As jy maak.” Hy staan skielik op en gaan maak die kasdeur behoorlik toe. “Jy pla my glad nie,” sê hy toe hy die knip probeer vashaak. “Maar dit bly nietemin waar. Ek het g’n naam nie.”
Serfontein tel ’n eetlepel van die vloer op, beskou dit, lek dit af, en begin die mieliemeel daarmee uitskep.
Hy gaan by die venster staan, opsetlik, om sy oë seer te maak, en hoor naderhand die stofie amegtig aan die blaas gaan agter hom. Kinders flikker in lig en koelte onder in die straat. (Die onbenullige speletjies, die waardelose diefstalletjies, die afloeravontuurtjies, die kleiner wreedheidjies, en alles agter hulle rûe, modelkind vóór hulle; en hoeveel méér nog ná haar vortgaan daardie dag.)
“My vrou kon nie sleg pap maak op haar dag nie,” sê Serfontein. “Sy was orraait tot die kind gebore is. Toe’s dit nét so.” Hy klap sy vingers. “En van toe af maak ek dit al met klonte.” Hy sit ’n rukkie sy gas aandagtig en betrag. “Hoe oud is jy?”
“Een-en-dertig, sy dit jare of eeue. En ek mag ’n paar tussenin verloor het.”
“Karel sou nou ’n bietjie ouer gewees het. Ook ’n skralerige outjie. Maar so taai soos ’n sening. Jy moes hom gesien het.”
MIDDELJARIGE MAN (L op; waardige figuur met grys hare; steek vas as hy JONG MAN by lessenaar gewaar): Ek het jóú nie hier in my kantoor verwag nie.
JONG MAN (staan vinnig op; bleek; hou ’n lêer tussen sy hande): Vader—
MIDDELJARIGE MAN: Wat het jy daar?
JONG MAN: Hier. (Gee lêer aan hom.)
MIDDELJARIGE MAN (Vinnig): Waar het jy dit gekry? Het jy in my private dokumente rondgesnuffel?
JONG MAN (Beweeg na deur L): Verskoon my asseblief.
MIDDELJARIGE MAN: Waar gaan jy heen?
JONG MAN (Kalm): Na die naaste aanklagkantoor.
MIDDELJARIGE MAN (Gryp hom aan die mou): Bly hier. Moenie gek wees nie!
JONG MAN: Moet my asseblief nie probeer keer nie.
MIDDELJARIGE MAN: Dink jy vir een oomblik ek sal jou laat gaan? Is jy van jou sinne berowe?
JONG MAN: Los my! (Woedend.) Nie jy nie, niemand sal my vandag keer nie. Ek sal niks meer verduur nie! (Byna met ’n snik.) Al die jare en jare wat jy my gedryf het, my in jóú smal vormpie gegiet het, my ’n robot gemaak het—! Ek het al die jare tóg aan jou bly glo. Jy was vir my ’n afgod, al het jy alles wat ek ooit besit het stuk-stuk afgebreek. Miskien daaróm—Ek het geglo aan jou, verstaan jy dit nie? En nou—dít—! (Stik.)
MIDDELJARIGE MAN: Wag, my seun. Jy verstaan verkeerd.
JONG MAN: Verkeerd! As ek hier in my hande die bewys gehad het van vyftienduisend pond wat jy vir jou eie sak verdien het uit die skandalige verkoop van die Trust-gebou! As ek terugblaai en sien dat al jou vernuf en briljantheid eintlik maar oëverblindery was vir bedrog, gruwelike, misdadige bedrog!
MIDDELJARIGE MAN: Bly stil!
JONG MAN: Probeer my keer! Hoekom probeer jy my nie liewer omkoop nie, jy ken die kuns tog al goed—!
MIDDELJARIGE MAN: Ek waarsku jou—
JONG MAN: Ses weke lank werk ek nou al hier in jou kantoor. Ses weke lank sidder ek by die gedagte aan wat jy sal doen as jy uitvind wat in die eindeksamen gebeur het. Sidder, omdat dit vir my die grootste skande denkbaar was om te dink dat ek moes druip, jou moes teleurstel, selfs al was dit jy wat my gedwing het in ’n rigting waar ek nooit wóú in nie. En nou—dít—en jý—!
MIDDELJARIGE MAN (Buite homself): Dan het dit tóg gebeur. Dan het jy op die ou end tóg maar jou ware, verfoeilike afkoms met jou saamgedra —!
JONG MAN: My afkoms—?
MIDDELJARIGE MAN: Ek kon dink dat geen kind van mý so ’n gemors van alles sou maak nie. Ék het jou ’n huis gegee, ék het jou ’n opvoeding en ’n toekoms gegee, ek het jou ’n naam gegee! Maar nou kan jy in jou maai in loop en moenie weer by mý iets kom bedel nie, verdomde optelkind!
“Die pap is gaar,” sê Serfontein en stoot die bord oor die vloer na hom toe aan.
“Dankie.” Hy buk en tel dit op. “Terloops,” sê hy, “as jy dit nodig vind om met my te praat: jy kan my François noem.”
“Dis goed.” Hy proe aan die klontjiespap. “En bly jy nou hier?”
“Dalk. Maar as jy weet van ’n goedkoop kamer naby—”
“Het jy geld?”
“Ek kan kry.”
“Hoe?”
“Daar is maniere.”
(Maniere om aan die lewe te bly hardnekkig klouend soos ’n neet aan enigiets wat vatplek het dis beter noudat alle dinge gelyk geword het nul gelyk aan nul gelyk aan nul maar al die tyd van soek sonder vind klop sonder oopmaak roep sonder antwoord verskoon my asseblief maar weet jy dalk wie ek is ek het myself verloor ek weet nie waar nie en dis nogal ongerieflik en nêrens spore nie in reën of wind soos hare vanslewe die duisternis langs afgronde deur eeue—moenie weer met my die loop neem nie.)
“Nog suiker?” vra Serfontein.
Hy skud sy kop en stoot sy bord weg; duik dan met sy hand onder die bed in en soek ongenooid sy gasheer se halwe bottel; sy oë vra gretig—Mag ek?—en dan keer hy dit in sy keel om en laat dit deur hom sprei, behaagliker, behaagliker.
En later klim hy bottel in die hand op die bed, druk teen die muur om staande te bly, en sê: “Dames en here, ons het geen gode en afgode meer oor nie, ook nie meer onsself nie en selfs die aarde is nie wat hy was nie.” Hy buig effens, kuif oor sy voorkop, en sê: “Laat ons sing.”
Bring weer die bottel na sy mond, maar probeer gelyktydig sing, en verstik, en struikel, en die ou man help hom terug op sy voete en slaan hom op die rug tot hy boosaardig losruk.
“Ek sal een van die dae opruim en begin werk,” sê Serfontein toe hy bedaarder eenkant sit. “Een van die dae. Maar wat sal ek dan met die meisiekinders doen—?”