Читать книгу Gerugte van reën - André P. Brink - Страница 10

3

Оглавление

Teen wil en dank moet ons by Brandfort stilhou om die ruit te laat skoonmaak. Dit is weer nie soseer die tydsverlies wat my pla nie as die versteuring van ’n ritme en ’n patroon. Dit maak inbreuk op my planne, want ek het beraam dat ons Reddersburg kan haal vir petrol voor die vulstasies sesuur sluit. Met dié oponthoud mag ons dit net-net misloop, daarom moet ek die twee groot plastiekhouers in die bak ook laat volmaak, waarvan ek nie hou nie want dit is ’n onnodige risiko. Gelukkig werk die Mercedes se lugreëling, sodat ons darem nie van petroldampe bewus hoef te wees nie.

Dit is koud as mens uitklim. Die son sit nog ’n span bokant die vaal kliprante en die lug is vaalwit; maar die koue sny skoon en sekuur in jou in. Op dié vlakte is daar geen skuiling nie. Vierkantige huise staan op kaal erwe met droë bome en slap heinings; sinktenks in die agterplase, party deurgeroes; kleinhuisies en hoenderhokke; ’n paar duiwe sit koulik en kroeserig op ’n nok. Op die kliprant agter die dorp staan die kort stomp FM-toring. Gewoonlik jaag mens hier verby op die nasionale pad wat teen die dorp verbybuig. Nou is dit asof die afwyking van die skema my probeer dwing om nader kennis te neem – van wat? Want die toneel bly irrelevant en sonder samehang, selfs nou hier in my Londense weelde.

Teen die hoek van die garage, in ’n kolletjie son beskut van die yswind, staan ’n klompie opgeskote klonge op ’n bondel teen mekaar vasgedruk vir warmte, hul stemme luidrugtig skel; twee kleineres is besig om in ’n vullisblik tussen ou fish-and-chips-papiere te grabbel. ’n Meid kom verby met ’n paraffienblik op haar kop gebalanseer. Sy is al ’n blok ver, dan skree-praat sy nog, sonder om haar kop te draai, met die klomp voor die garage.

In die straat voor ’n afgeskilferde wit hekkie is ’n dogtertjie besig om met ’n frons van konsentrasie tou te spring, aanhoudend, sonder afwisseling of pouse; en aangeleun teen ’n paal op die stoep van ’n huis oorkant staan ’n ou oom haar met ’n dooie pyp in die mond en dophou. Ook hy is besig om op sy manier “kennis te neem” – waarvan? Dis Bernard wat vertel het van sý oupa in die Noordweste wat so op sy stoep sit kyk het na die opgeskote buurmeisiekind wat touspring terwyl haar rokkie al hoër wip en wip; en sy had glo nie ’n broekie aan nie. Oupa Bêrend het bly kyk en net sy kierie vaster gevat tot die kneukels naderhand wit deurslaan. Tot hy dit nie meer mooi kon hou nie en Bernard se ouma moes uitroep stoep toe:

“Vrou, kom verwiller hierdie meisiekind met haar kale affêring hier uit my pad uit.”

“Maar vir wat sit kyk jy dan?” vra sy.

Waarop oupa Bêrend sy gevleuelde woord gespreek het: “Help niks. Daai ding is soos die bliksem. Jy kyk hom nie, maar jy siet hom.”

Dit is wat ek nou wonder: Het ek daardie naweek, tóg, gesien wat ek nie gekyk het nie?

Louis, wat ’n draai gaan loop het, het weer teruggekom, sy hande in sy sakke gedruk.

“Koud, nè?” vra ek.

“Hoe laat sal ons op die plaas wees?” vra hy.

Ek kyk op my horlosie. “So na elfuur se kant toe. Is jy moeg?”

“Dis mos niks dié nie,” sê hy neerhalend. “Daardie dag toe ons by Sá da Bandeira verby is –”

“Jy weet, jy’t nog amper niks vertel van jou hele besigheid daar bo nie.”

“Wat is daar eintlik om te vertel? Julle mense hier sal tog niks daarvan verstaan me.

Ek vererg my oor “julle mense hier”, maar ek dring op niks aan nie. Ek wil hom nie so gou al in die harnas jaag nie. Maar ek weet klaar dit gaan op niks uitloop nie.

Die garagejoggie is nog altyd besig met die muggiegemors. Met ’n gieter in die een hand gooi hy ’n dun straaltjie water oor die ruit terwyl hy met ’n bondel koerantpapier in die ander vrywe.

“Gaan jy dit ooit skoon kry?”

Hy gryns. “Hy sit vas, baas.”

Manne in blou oorpakke besig om stukkies mens van die teer af te spuit. Charlie het my vertel hoe dit gelyk het. Die lyke met pangas uitmekaar gekap. Tonge uitgepluk en oë uitgegrawe, die jelliegesigte besmeer met ekskresie. Dalk ook maar goed dat dié soort geweld ingeperk word agter die doringdraad van kampongs. Vir ’n beskaafde gemeenskap is dit onhoudbaar.

Ek het heel in die begin al vir Charlie gesê: “My liewe Here man, hoekom het jy ooit teruggekom na dié land toe? Daar in Engeland het jy alles gehad wat jy wil hê. Selfs ’n universiteitspos. Hoekom het jy nie daar gebly nie?”

Hy het met tande en tandvleise geglimlag. “Jy was ook mos oorsee: sou jý dan wou gebly het?”

“Nee, natuurlik nie. Maar –”

“Nou ja?”

Op ’n sekere vlak, goed, kan ek dit begryp. Maar dit bly ’n emosionele reaksie, dit is nie rasioneel nie. Ek weet mens is geneig om emosioneel op Afrika te reageer, maar tog.

Die dag in Gibraltar, op ’n vakansiereis, eintlik die stertkant van ons wittebroodsreis: ons het op die rots gestaan en uitkyk na Afrika se blou kuslyn teen die ligter blou van die lug. Nooit in al die tyd dat ek weg was, het ek só terugverlang nie.

Naderhand het ek Elise se hand gevat en gesê: “Kom.” Want ons moes die aand nog Málaga haal. Toe eers, met die wegdraai, sien ons die swartman wat ook oor die see staan en kyk. En met ’n onverwagte openhartige soort trots, soos ’n kind wat ongevraag vir vreemdelinge aankondig dat hy vandag verjaar, het hy gesê:

“Dis my land daardie.”

“Marokko?”

“Nee, Afrika. Ek woon verder suid. Nigerië.”

“Dis my vasteland ook.”

“Dis nie goed om weg te wees nie.”

Dit was ons hele gesprek. Maar daardeur het ek eintlik vir die eerste keer in my lewe regtig bewus geraak van dié Afrika: dié vasteland wat my op die een of ander manier verbind aan soveel geslagte van die aarde, ver verby homo sapiens tot terug by homo habilis, tweemiljoen of hoeveel jaar gelede; my land en daardie man s’n.

Miskien moet ek nie te hard oordeel oor die myn se gepeupel nie. Wat het hulle nou eintlik geweet van ’n lewe agter doringdraad, enkelkwartiere, ’n kampong, of ’n stad? Ná hutte en mielielande en die heuwels van Transkei of Lesotho, vroue wat werk in die landerye, kalbasse suurmelk, daggapype, besnydenis, danse, bokke, beeste?

Ek self was op universiteit voor ek geleer het hoe ’n hysbak werk. As ek of Bernard so skielik uit die dorpies van ons kinderdae geruk moes word? Vir ons was dit nog maklik, en klaar swaar genoeg.

Ek het daarom ’n verpligting teenoor hierdie hof om te verduidelik waarom ek my besondere oortuiginge huldig, hoe ek daartoe gekom het, en waarom ek dit met verloop van tyd noodsaaklik geag het om tot die daad oor te gaan.

Ten aanvang moet ek benadruk dat ek gebore is uit ’n familie wat deur hul deelname aan die Tweede Vryheidsoorlog, die Rebellie van 1914 en naderhand selfs die bedrywighede van die Ossewabrandwag in die Tweede Wêreldoorlog bo alle twyfel hul besondere Afrikanerskap bewys het. Tot sowat my vyf-en-twintigste jaar was ek self ’n oortuigde Nasionalis. Soos baie ander Afrikaners van my generasie het ek op ’n plaas grootgeword, in die Suid-Vrystaat. Soos hulle, was ek in baie opsigte eensaam. Broers het ek nie gehad nie, net vier susters, almal ouer as ek. In daardie streek was die plase groot en ver uitmekaar. Behalwe die buurkinders wat saam met my in die plaasskooltjie was, was my enigste konstante maats die swart kinders van ons plaas. Daar was veral een, met wie ek nou nog bevriend is (eintlik moet ek sê: met wie ek later opnuut bevriend geraak het). Ongelukkig kan ek sy naam nie hier noem nie, want ek wil nie dat die blote noem daarvan vir hom probleme veroorsaak nie. Ons twee het dag vir dag saam gespeel, kleiosse gemaak, meerkatte en hase gejag, voëlneste gesoek, kattekwaad aangerig; baiemaal het ek saam met hom en sy familie voor hulle rooi modderhuisie gesit en poetoepap uit die drievoetpot geëet. Ek glo nie een van ons het ooit eens daaraan gedink dat die een wit en die ander swart was nie.

Die Aprilvakansie van my finale jaar het Bernard my saamgeneem plaas toe. Ek het rede om daardie twee weke te onthou! Ons het trein gery, wat herinneringe uit my prilste kinderdae teruggebring het: die reuk van die groen leersitplekke; die geratel aan die deur as kelner of kondukteur verbykom; die afslaan van die tafeltjie oor die sinkwasbak om padkos te eet: die snye skaapvleis, eiers, tamaties, biltong, growwebrood; die Jeyes Fluid in die toilet.

Drie- of vieruur in die nag is ons by die kompartement uitgeboender deur die kondukteur wat onderneem het om ons betyds wakker te maak en toe self verslaap het: sonder sy pet, met dun grys hare verwilderd oor sy bles, sy wenkbroue deurmekaar gekoek bokant sy jakopeweroë, het hy ons kom opjaag. Toe ons ons kom kry, staan ons met slaapklere aan op ’n donker perron en vat die koffers wat die oubaas deur die venster aangee; en terwyl ek nog regpak, fluit die trein al weer en trek met ’n geratel van waens die nag in.

Dit was nie eens ’n behoorlike stasie nie, sommer ’n plekkie in die veld. ’n Stukkie geteerde perron, ’n rooibaksteengeboutjie met leë brandweeremmers aan ’n dwarspaal, ’n wagkamertjie met ’n bruin bank en een van die outydse swart stofies; ’n Dames en Here links onder ’n peperboom; en oorkant die spoor ’n sinkgeboutjie vir swartes.

Daar was niemand om ons af te haal nie, nie eens ’n stasieman nie. ’n Possak wat uit die kondukteurswa gegooi is, het doer op die punt van die perron bly lê. Eenkant het ’n ry melkemmers gestaan en wag, seker op ’n later goederetreintjie.

In die wagkamer het ons aangetrek – nie sonder hilariteit nie, toe ons agterkom dat een van Bernard se skoene op die trein agtergebly het. Ná ’n draai agter die peperboom – die kleinhuisie self het te erg na vis gestink – het ons aan die voorkant van die geboutjie op ’n trap gaan sit en wag.

Daar is ’n vreedsaamheid in so ’n nag waarmee niks anders vergelyk kan word nie. (Ek begin agterkom waarom skrywers deur sulke tonele verlei word.) Die slaap het ons afgeskud; ons was onder die kleinhuisie se wind uit; die trein se dreuning het in die verte weggeraak. Dit was doodstil, net ’n geritsel van wind af en toe in die flenterige takke van die peperboom, ’n haan hier en daar, ’n hond wat blaf. En die ongelooflikheid van daardie sterre, so groot en vlak by mens dat jy gevoel het jy kan hulle aanraak. Die dorp, het Bernard gesê, lê twee myl verder, agter rantjies. Nêrens was daar ’n liggeknipper nie, glad niks.

Ons het nie gepraat nie. Naderhand – seker maar so ’n kwartier later, maar dit het langer gevoel – het ’n liggie van ver af padlangs begin aankom en ’n gedreun het duideliker geword.

“Seker Pa wat nou kom,” het Bernard gesê.

’n Ou regop Austintjie het langs ons kom stilhou en die oom het uitgeklim terwyl die enjin bly staan en snor. ’n Groot mooi man, heelwat ouer as wat ek verwag het, seker sewentig, met ’n maanhaar weerbarstige grys hare, ’n pyp tussen die tande, ’n gesig vol plooie van kommer en lag, en twee jong oë wat jou kamma-kwaai en deurtastend bespied.

“O,” sê hy ná hy my deurgekyk het. “En waar kruip dit uit?”

“Dis Martin Mynhardt, Pa. Ek het mos geskryf.”

“Jy’t net gesê jy bring iemand saam. Maar jy’t g’n dooi woord gesê of dit mannetjieskind of vroutjieskind gaan wees nie.” Weer die oë wat my deurkyk. “Nee, hy lyk darem reg. Maar mens weet deesdae mos nie meer nie. Ek hoop jy eet pepoen?”

“Nou hoekom pampoen, oom?” vra ek verleë.

“Oor ek met ’n hele vrag pepoene van die mark af sit. Al die boere het mos nou weer gelyk loop pepoene plant, nou’s die prys in sy moer. Klim in, laat ons ry.”

Hy het die ratte laat knars en met weinig ontsag vir die motortjie of sy passasiers weggetrek. Die grootste gedeelte van die reis plaas toe het hy heeltemal aan die verkeerde kant van die pad gery: goddank dit was nag. En onderweg het hy inkwisisie gehou:

“Wat doen jy vir ’n lewe?”

“Ek is nou in my laaste LLB-jaar, oom.”

“O, nog ’n wetsman. Nog ’n plaas in die mark.”

“Nou verstaan ek nie?”

“Julle neuk mos almal weg stad toe agter die geld en die nooiens aan en die plase dié moet maar sien kom klaar. Soos ons s’n ook.”

“Maar Ousus en haar man gaan mos op Vlakfontein kom boer,” maak Bernard beswaar.

“Ja.” Die oubaas spoeg by sy oop ruit uit; nat spikkeltjies waai agter in ons gesigte vas. “Haar man is mos nie ’n Franken nie.”

Maar ek het tog gou agtergekom dat die oom eintlik baie groots was op sy wederstrewige seun; en sy ma het, tot Bernard se onuitspreeklike ergernis, dag vir dag gepraat oor sy prestasies op skool en universiteit, en my al die geraamde diplomas gewys wat sy teen sy uitdruklike bevele in teen haar slaapkamermuur op ’n ry gehang het.

Die hane het sterker gekraai toe ons oor die donker werf ry en onder ’n geblaf van honde lewensgevaarlik tussen die koelkamer en die agterdeur verbydruis en vlak by ’n ou stukkende wa tot stilstand kom. Van die agterdeur af – die sifdeur se toeslaan het soos ’n skoot oor die nagwerf geknal – het ’n klein skraal vroutjie in ’n kamerjas aangekom, gaslamp in die hand. Sy het haar man gesoen; toe het Bernard haar soos ’n meisietjie opgetel en liefderyk karnuffel.

“Maar kind, tog, voor die mense en al,” maak sy hygend beswaar toe hy haar weer neersit.

“Dis g’n mense nie, Ma, dis net Martin.”

“Dag, Martin. Dis nou al lank dat ons wag om die seun te sien van wie Bernard so skrywe. Kom, julle is dors. Die koffie staan en wag.”

Koffie en beskuit by die geskropte tafel in die kombuis, teen die swart stoof wat dié tyd van die môre al dreun van vuur soos ’n hoogoond; met drie of vier swart ousies wat geluidloos, soos katte, op kaal voete verbyskuifel en stook en aandra en wegdra. Die oom wou ons opsluit saam met hom in die nag uitneem werf toe, maar Bernard se ma het beswaar gemaak. Klein en stil soos sy was, het sy die huis regeer, het ek agtergekom. En in die vreemde donkerte, waar ek sedert die skokkende wakkerword in die trein nog altyd verdwaal gevoel het, het sy ons by die agterdeur uitgeneem na ’n buitekamer toe om eers uit te slaap. Snaaks hoeveel besonderhede ek ná al die jare nog onthou. Twee ysterkatels met gehekelde bont dekens; ’n waskom en lampetbeker op die tafeltjie agter die deur; seepbakkies met pers blommetjies; ’n gladde misvloer koel onder mens se kaal voete; ’n string vlieëpapier teen die deurkosyn. Teen die mure modelvliegtuigies en ’n paar motortjies vernuftig uit hout en draad gefabriseer; ’n versameling bene op ’n lang rak (kopbene van voëls, hase, ’n aap, skape, ’n perd): die kamer van die seun Bernard, klaarblyklik onaangeraak deur die jare. En ’n koel nagwindjie wat van die gaasvenster af by die oop deur uitwaai; ’n logge ou boerboel wat hom met ’n sug op die drumpel tuismaak; hoenders wat ontstellend naby kraai.

Dit is wat my bo alles bygebly het: hoe Bernard voor my oë, in die teenwoordigheid van dié twee oumense, eensklaps seun geword het. Die briljante regsdosent van my universiteitsmilieu, die skerp redenaar, die voordanser, die sjarmante vryer onder die meisies: nou net ’n seun, Ja Pa, ja Ma! Nee Pa, dis goed, Pa.

Veral oor die Paasnaweek het dit my opgeval. Op universiteit het ek aan hom gewoond geraak as die vlymskerp aanvaller van Christendom en kerk en alles wat sonder meer op tradisie berus: dit was hy wat die eerste twyfel in my gewek het. Maar op hierdie plaas het hy hom gedienstig geskik na die gebruike van die oumense: oggendgodsdiens, aandgodsdiens – lees uit sy pa se Hollandse Bybel, sing, kniel by die riempiestoele tot jou knieë pyn op die vloer – die seën vra aan tafel: hy het sy eie beurt sonder teenstribbeling waargeneem en gebid soos ’n predikant. En die naweek is ons na elk van die lang rits Paasdienste op die dorp. Ons het Donderdagmiddag al met die Austin ingery tuishuis toe (nog steeds aan die regterkant van die pad: maar dit het gelyk of die distriksmense die oom al ken – as ons nog ver aankom, het ander motors al oorgeswenk om ons aan die verkeerde kant verby te gaan; of anders veiligheidshalwe sommer veldlangs gehou). Vroeg die oggend is ’n voorman ingestuur met ’n sleepwa volgelaai met voersakke vir die ko-op en ’n heirskaar bediendes om die tuishuis in orde te bring; en toe ons die middag in die groot koel voorhuis instap, was alles agtermekaar. Die meeste van die meide is laatmiddag weer met die sleepwa terug plaas toe. Net twee het agtergebly – hulle het snags in die kombuis geslaap – om vir ons huis te hou. En daarvandaan het die dienste begin. Goeie Vrydag se oggenddiens. Saterdag twee voorbereidingsdienste. Sondagoggend en -aand (net die Kinderdiens die middag het ons vrygespring). En toe het darem Maandagoggend oorgebly om ’n stuk van die boeresport mee te maak voor ons, kerkversadig, huis toe is. Deur dit alles was daar nie ’n mor of ’n knor van Bernard nie. En as ek hom soms skuins in die kerk beloer het, het hy daar so vroom gesit soos die diaken wat hy glo inderdaad tot ’n jaar of drie tevore was.

Vir my het die naweek iets heeltemal anders ingelui. Ek het die meisie die Sondagoggend die eerste keer by die diens gewaar (en my dadelik verwyt dat ek nie Vrydag en Saterdag beter opgelet het nie). Lank, donkerblond, met die soort koppige houding van die kop wat my uitdaag en aantrek. En toe ek na haar kyk, het sy van oorkant af teruggekyk met ’n skroomlose direktheid wat my so onkant betrap het dat ek my gesangboek laat val het; toe ek verleë weer orent kom, het sy my nog steeds ewe koelkop sit en kyk. Maar in die gedrang ná die diens het sy weggeraak. Ek het die gedagte afgeskud; maar ek het tog bekaf gevoel en selfs vir Bernard oor iets afgejak. Toe ek haar die volgende dag by die boeresport sien, het my slape dadelik begin klop. Sy het heeltemal anders gelyk as die vorige dag met die sedige lang kerkrok en wit handskoene en breërandhoed: nou het sy ’n wye bont somersrok aangehad en sy was kaalvoet, bo-op die dwarspaal van die kussingslaners, waar sy met ongelooflike akkuraatheid teenstander na teenstander grond toe geslaan het. Totdat Bernard haar uitgedaag het. Ek het nog gedag hy staan hier langs my toe gewaar ek hom laggend langs haar opduik; en die volgende oomblik sit hy oorkant haar. ’n Minuut later slaan hy haar bo van die paal af dat die stof so trek, met ’n dwarreling van lang bruin bene onder haar rok.

Ek kon dit van Bernard verwag het. Só het hy keer op keer meisies onder al die ander se oë uitgeraap. Maar ek het my tog misgis. In dié blonde meisie het hy nie belanggestel nie. Altans nie op die manier wat ek gevrees het nie. Want pas ná hy haar van die paal afgeslaan het, het hulle saam by my aangekom, sy nog vol stof en sweet, met ’n paar haartoutjies vasgepleister teen haar slape en wange.

“Dis Martin,” het hy gesê. “Elise.”

“Ek het jou gister in die kerk gesien,” sê ek.

“Ja, jy’t jou gesangboek laat val. Ek het vir Bernard gesit en kyk, toe …”

Vir Bernard. Natuurlik. Die bekende ou storie. En in my brawade het ek gedink …

“Ek het nie geweet julle hou sulke goed hier in dié gevrekte dorpie aan nie,” het ek probeer korswel.

“Het jy haar dan nie op Stellenbosch al gesien nie?” vra hy.

“Wat soek jy daar?”

“Ek is in Denneoord. Ek is nie so gelukkig soos julle nie.”

Sy wóú universiteit toe gaan, het dit geblyk: maar haar pa – niemand anders as die dominee nie! – het gemeen dis te ver, te onnodig, en te gevaarlik vir sy ooilammetjie. (“Hy het sy ooilammetjie maar sleg geken!”) Toe sy aandring, het hy teësinnig toegegee: maar net kollege toe, nie universiteit nie.

“Kom julle nie kuier nie, Bernard?” het sy gevra. Die “julle” was klaarblyklik blote hoflikheid: dit was net vir hom wat sy oë gehad het.

“Ons moet vanmiddag weer plaas toe,” antwoord hy. “Jy weet, ek kom maar min by die huis deesdae.”

“Dis so vervelig om hier alleen op die dorp te sit,” sê sy dikbek. “Hier’s niemand.”

“Ag, ek sal jou net so verveel,” terg hy. “’n Ou man soos ek.”

“Jy’s g’n oud nie. Jy’s nog nie naby dertig nie.”

“In jou oë is ek horingoud,” sê hy moedswillig en hy kyk na my. “Toe sy en haar pa-hulle hier aangekom het, was sy maar twaalf of so. En ek was twintig. Sy’t vir my ‘oom’ gesê.”

“Ek is lankal nie meer twaalf nie.”

“Jy lyk nog niks ouer nie.”

“Ek is negentien.”

Hy trek sy skouers op en soen haar tergerig, soos ’n broer, op die punt van haar neus.

Ons het nog ’n rukkie gesels. Toe ons loop, sê sy pront: “Ek sal julle sê: Pa gaan mos volgende Sondag vir buitekerk na julle plaas toe. Ek sal saamkom.”

“Goed,” sê hy. “Ons wag vir jou.”

Hy het dit van hom afgeskud. Miskien was dit uit noodweer. Want die manier waarop die distrik se boervroue daardie vakansie met hul hubare dogters op die plaas uitgeslaan het (“om vir tant Lenie te kom kuier”) was behoorlik skaamteloos. Die meerderheid van die dogters sou nie ’n nadere ondersoek deurstaan nie: selfs ek, jagser en jonger as Bernard, sou my nooit deur party van hulle laat verlei nie. Maar ander was verloklik mooi en reg om gekneus te word. Bernard het egter met verbasende diplomasie deur alles geskipper sonder om óf betrek te raak óf aanstoot te gee.

Die volgende Sondag het Elise gekom. Ons het diens gehou in die groot voorkamer: seker veertig stuks boere van die verder plase in die distrik. Tee gedrink op stoep en kweek, terwyl die kinders rumoer oor die werf en hoenders en varke en honde op hol ja. Daarna het die meeste mense begin aanstalte maak. Die klompie wat vir middagete aangebly het, is ook vort in hul motors van wisselende grootte en jare. Net Dominee en gesin het die uitnodiging aanvaar om eers te rus. Bernard se ouers is na hul slaapkamer; Dominee-hulle vrykamer toe. Ons drie “jongmense” het die middag op die stoep begin. Darem nie met die “stigtelike leesstof” wat in my kinderjare Sondae op mens afgedwing is nie, maar met dieselfde gevoel van loomheid, luiheid, verveling.

Dit was Bernard wat voorgestel het ons moet ’n ent gaan loop. Ek en hy het ons baadjies en dasse op die stoep laat lê. Elise het, vir die son, haar kerkhoed opgehou; selfs haar handskoene het sy behou, ingeval haar ouers beswaar het as hulle haar daarsonder sien. Traag en sonder om juis te gesels, het ons in die warm Aprilson oor die werf geloop. Die stukkende wa, ploegskare, onherkenbare stukke gereedskap, ’n ou vleishokkie, die omgekeerde bak van ’n afgeleefde motor, al die rommel het in vriendelike wanorde daar rondgelê. In die skuur het ons ’n ruk sit en gesels onder die hoë hanebalke waar honderde duiwe roekoer en pronk en paar op onbereikbare lysies; met die skerp geur van hawer en lusern en mis in mens se neus; die skielike gekekkel van ’n weglêhen agter die bale; die geblaas van makoue in ’n morsige plassie voor die wye deur waar die son verblindend inval.

Die hele tyd was ek oorbewus van haar, so half uitsoortig in haar Sondagsklere. Toe het ons weer aangestap, óm die skuur en die perdestal waar die vosmerrie oor die onderdeur loer en saggies runnik as ons verbykom; verby die koeistalle wat nou leeg in die son lê en gons van brommers; blinkgeskuurde onderstebo-emmers op ’n ry teen die afleivoortjie daarbuite. Deur die toiingrige boord – want dit was ’n droë jaar – en verby die granate, af na die leidam: ’n onooglike sementkonstruksie onder die windpomp, met plate kweek teen die voor aan die onderkant. Ons het op die wal gesit en granate eet en die son oor ons voel brand, met die wal se warmte wat van onder af opslaan.

“Hel,” sê Bernard, “vir wat het ons nie swemgoed gebring nie?”

“Dis Sondag,” sê ek sedig.

“Wat daarvan?” vra Elise.

“Maar jou pa –”

“My pa lê en slaap die slaap van ’n regverdige man. En ek dink nie ’n bietjie water op ’n warm dag sal mens in die hel laat beland nie.”

Sy leun oor en skep ’n hand vol water en laat dit deur haar vingers uitloop, skitterend in die lig. Ek kyk na haar hand wat blink van nat, haar lang vingers, die patroon van aartjies op haar hand se rug.

“Swem julle altyd hier?” vra sy.

“Van kleins af,” sê Bernard. “Ek en my maters het hier geboer.”

“Jy’s gelukkig,” sê sy met dieper, wranger stem. “As mens so grootword soos ek, so heeltemal allenig, jou lewe lank tussen reg en verkeerd, alles vir jou uitgemeet … Selfs om te gaan verder leer was ’n prestasie. Want wat wil ’n vroumens nou met geleerdheid doen?”

Bernard het met ’n klein glimlaggie sy granaat verder oopgebreek, rooi pitte in ’n bakhand uitgeskud en vir haar gehou: “So ’n bek moet iets kry,” sê hy.

Elise lag, net bietjie heftig; en terwyl sy sy hand met albei hare vashou, eet sy die soet pitte daaruit en kyk met ’n rooi besmeerde mond op. Toe wip sy skielik ligvoets van die wal af en skop haar skoene uit. Met daardie oergebaar van grasie onder vroue steek sy haar hande onder haar rok in, en stroop haar kouse een vir een oor haar gepunte tone af. Ek waag dit nie om na Bernard te kyk nie. Eintlik is ek ook sku om na háár te kyk. (Maar mens sien mos sonder kyk!) Sy haal luiters haar kerkhoed af, knip haar armbandjie en horlosie en halssnoertjie los, en draai haar rug na my.

“Sal jy vir my die knippie losmaak?” vra sy.

My hande sukkel maar. Nog met haar rug na ons, trek sy die ritssluiter oop, stroop haar rok af en skop-skop dit van haar voete los. Die onderrok ook, en die kousophouer. (Wat vroue nie daardie jare alles gedra het nie.) Ek het verwag – en Bernard seker ook? – dat sy haar onderklere sou behou. Maar sonder ’n oomblik se aarseling, so nugter asof sy alleen in ’n badkamer is, bring sy haar hande agter haar bruingebrande rug en knip die bra los. Sy trek die klein wit broekie uit. Skielik is sy kaal.

Bo van die wal af kyk sy om. Son op haar borste.

Op die een of ander manier het ons haar gevolg: ek half skuins van die wal af dat sy my voorkant nie moet sien nie, want toe staan ek al styf.

Ons het laf in die water rondgebuitel en na ’n ruk nie mooi geweet wie eerste moet uitklim nie. Uiteindelik was dit weer Elise. Maar sy het nie, soos ek eintlik gehoop het, agter die wal padgegee om te gaan aantrek nie. Nat en kaal het sy op die sementrand bly sit, met haar rug na ons, haar kop agteroor om haar hare te laat droog word of die son op haar gesig te voel. Verleërig het ons toe maar by die oorkantse wal uitgeklouter en eers gaan aantrek. Met die een of ander voorwendsel wat ek nie mooi gehoor het nie, is Bernard tussen die vrugtebome in. Ek het agter die wal bly talm en nie eintlik geweet wat om te doen nie.

Tot sy my roep: “Martin! Waar is jy?”

“Kan ek maar kom?” Toe ek om die hoek kom, het ek vasgesteek. “O, ekskuus. Ek dag jy –”

“Hier is vir jou ’n stuk granaat.”

“Dankie.”

Ek het nader gekom tot by haar. Haar knieë, soos sy op die wal bo my gesit het, het teen my bors gedruk. Sy het ’n hand vol pitte na my uitgehou, soos Bernard vroeër na haar (was dit wraak wat sy op hóm neem?). Ek het klein spatseltjies sap rooi oor haar palm sien afloop, en taaierig oor haar vol borste. Ek het die pitte uit haar hand geëet en toe impulsief die hand bly vashou en gesoen. Toe ek opkyk, was haar oë op my, met dieselfde onverstoorbare kyk van die kerkdiens. En met ’n onverduidelikbare durf het ek teruggekyk: na haar gesig, en na haar lyf.

“Jy nog nooit ’n meisie gesien nie?”

Uit my onvoorspelbare keel het ek ’n geluid gemaak wat moes sê: “Nie soos jy nie.”

Sy het haar klam hare oor haar skouers teruggeskud asof sy weer haar gesig wou oplig na die son, ongeërg oor my teenwoordigheid en my kyk.

“Ek verstaan jou nie, Elise.”

“Is daar dan soveel om te verstaan?” En toe, eintlik kortaf: “Gee nou pad, ek wil aantrek.”

Sy het bly sit en wag tot ek weg was: ek weet, want ek het omgekyk. En toe maar gewuif, om my lugtig voor te doen. Maar sy het nie gereageer nie.

Daarna het Bernard ons agter die huis om teruggeneem, waar Elise eers in die badkamer haar hare kon borsel voor ons weer by die oumense terugkom. En ná die stigtelike koffiegesprek is sy en haar ouers terug dorp toe, hul motor tot barstens toe volgelaai met wortels en mielies en kool (én pepoene), twee hoenders en ’n halwe slagskaap. By die afskeid het sy my ook met ’n soen gegroet, haar koel lippe slu en brandend teen myne.

Die dag lyk onmoontlik ver, veral hier in ’n hotelkamer in Londen: onbegryplik, daardie lang donkerblonde meisie wat my granate uit haar hand gevoer het en onbeskaamd kaal by my was. En nou my vrou. Waar het dan, tussenin, dié meisiekind verdwyn? En is dit sy wat iets verloor het, of ek?

“Lyk my jy’s beenaf,” het Bernard die aand in ons buitekamer gesê toe die swaar wasreuk van die kers nog ná die uitblaas in die donkerte bly hang.

“Sy’s beenaf op jóú,” het ek my probeer verweer.

“Ek het jou gesê sy’t ’n bogkind voor my grootgeword.”

“Jy kan nie regtig dink sy’s ’n bogkind nie!” Die oë, die borste, daardie oerwys mond. “Here, man, sy’s pragtig. Ek kon my oë nie vanmiddag glo nie.”

“So het ek opgelet.” ’n Laggie in die donker. “Daardie ou dam, lelik soos hy is, sal jou baie kan vertel. Vandat ek sommer nog so opgeskote was. En dit was altyd juis Sondae dat dit gebeur het, met buitekerk soos vandag, of as daar bure kom kuier. Of Dingaansdae, die beste van almal. Dis waar ek die eerste keer ’n meisiekind se hemelvleisies geproe het. Die koeltekossies.”

“Hoekom steur jy jou nie aan Elise nie?” vra ek weer. “As ek jy was, het ek haar wragtig nooit met rus gelaat nie.”

Hy antwoord nie.

“Natuurlik,” sê ek weer, met net ’n tikkie wrewel, “jy is ook seker daaraan gewoond om alles uit vroue te kry wat ’n man kan begeer.”

“Dis iets anders,” sê hy. “Dis heeltemal anders. Niks verkeerd met so bietjie plesier na weerskante toe nie. Op voorwaarde dat nie een van die twee daar bedroë uitkom nie. Maar ek weet mos: die dag as ek vir Elise probeer bykom, dan gaan sy dink ek bedoel dit ernstig. Sy gaan dink ek het haar liefgekry, de lot. En dan word dit ’n manier van moord pleeg. Daarvoor sien ek nie kans nie.”

“Het jy nog nooit aan trou gedink nie?” vra ek reguit.

“Natuurlik. Maar ek wil nie nou al ’n huisdier word nie.”

“Nou spot jy.”

“Ja, seker. Maar ook nie heeltemal nie. Dit is goed en wel as twee mense vir mekaar ’n onmisbare gewoonte kan word. As die een bereid is om die ander as voorwaarde vir sy eie lewe te aanvaar. Maar ek het nog te veel wat ek alleen wil doen. Ek kan nie nou al my keusevryheid beperk nie.”

“Jy’t ’n groter verskeidenheid om uit te kies as enigiemand anders wat ek ken.”

Hy lag stilletjies. “Dis nie wat ek bedoel nie, man. Ek praat van die vryheid om te kies, om oomblik vir oomblik met oop oë te kies. Die soort keuse wat dit die moeite werd maak om te leef, omdat jy jou nie toelaat om enigiets te ontwyk of uit te sluit nie.”

“Wat het trou daarmee te doen?”

“As mens trou, sluit jy vanself ’n hele reeks keuses uit omdat jy ’n verpligting het teenoor iemand anders se geluk. Dan maak jy dit vir jouself te maklik om verantwoordelikhede te ontduik. Want dan kan jy sê: Kyk, ek is getroud, ek het kinders, julle kan nie nou dít of dát van my verwag nie.”

“En as ek jou nou sê,” vra ek impulsief, “dat ek vanmiddag besluit het ék gaan met daardie meisie trou?”

“Is jy seker dis nie net jou voël wat jou rondja nie?”

“Bernard!” Ek stoot my verontwaardig op my elmboë op. “Hoe kan jy so sê?”

“Oor jy nog bleddie jonk en romanties is. Dan probeer mens natuurlike drange met mooi ideale verdoesel.”

“Ek is ernstig.”

“Dis ’n wilde kind daardie.”

“Ek dink ek kan haar mak maak,” sê ek braaf.

“Ek is seker jy kan. Jy kan ’n perd ook inbreek as jy die slag het. Maar dan, daarna? As jy jou sin gekry het en die perd vat ewe gedwee die saal? Dan is dit dalk juis daardie eerste wildigheid waarna jy terugverlang. As dít eers weg is, is dit weg.”

“Jy’s ’n pessimis.”

“Of ’n realis,” sê hy. “’n Idealistiese realis.”

Hy het vanuit dieselfde standpunt geredeneer toe ek hom op een van ons baie wandelinge oor die plaas – op soek na afdwaalskaap, of deurkomplekke in die jakkalsdraad, of sommer net – uitvra oor sy inskiklikheid teenoor sy ouers oor godsdienskwessies: waarom hy, wat gewoonlik so uitgesproke was, hom dit laat welgeval het om soos ’n gehoorsame seun met hulle mee te doen aan wat vir hom betekenisloos of selfs griewend was.

Hy het sy skouers opgehaal: “Waarom nie? Jy weet goed genoeg hoe ek oor dié sake dink. En ek bly ook nie stil as ek by mense kom met wie ek kan argumenteer nie. Maar watter nut het dit nou om iemand onnodig seer te maak? Hulle is my ouers, hulle is oud, ek het hulle lief, ek respekteer hulle.”

Oor die politiek het hy tóg soms met sy pa vasgesit, hoewel hy ook daar gesorg het dat dit nooit te ernstig raak nie. Waaroor hy dit veral gehad het, was Malan se oorywerigheid om die Kleurling op ’n aparte kieserslys te kry.

“Niks minder as verraad nie,” het hy dit genoem. “En dit dieselfde man wat in die jare Dertig vir die Kleurlinge gesê het om Nasionaal te stem oor hulle ook mos Afrikaners is. Watse soort van ’n ‘godsman’ praat so?”

Die oom was kriewelrig, maar kon nie heeltemal by sy seun se beskuldiginge verbypraat nie. “Ja, daar’s fout in ons volkslewe,” het hy een aand ná Boekevat toegegee (die Bybel het nog op die tafel gelê, en sy bril daarop). “Ons maak nie aldag reg nie. Dis met ons soos met die Jode. Jy weet, nes dit bietjie goed gaan, dan neuk ons. Die Afrikaner se beste plek was nog altyd in die woestyn.”

“Dan stem Pa saam dat mens die saak nie maar so moet laat lê nie?” vra Bernard.

“Nie laat lê nie, nee. Maar daar’s ’n regte manier om ’n ding te doen en ’n verkeerde manier. Dit betaam ons nie om teen ons leidsmanne te murmureer nie, hulle is deur die Here aangewys en as ons reg bid, sal Hy wel die pad wys.”

“Pa het darem self in die oorlog teen Pa se regering geknoei en in die kamp gaan sit daaroor,” herinner Bernard met terglustige oë.

“Ja, maar dis oor Jan Smuts afgedwaal het van die Boere se pad af om met Engeland te loop lepellê.”

“En as Malan nou ook afdwaal?”

“Toe, bog met jou!” sê sy pa en hou hom kwaad. Hy draai met ’n knipoog na my toe: “Ek weet nie hoe ek dit met dié seunskind van my het dat hy altyd so wederstrewig is nie,” sê hy. “Van kleins af al. Jy weet, hy’t mos ’n slag, hy was so agt gewees, daar in die dam loop induik en te laat gesien die ding staan amper leeg. Hulle het hom meer dood as lewendig hier aangedra, die spul klonkies wat saam met hom gerumoer het. En hy was maande lank siek gewees, half verlam en nie mooi reg in sy kop nie. Tot ek hom eendag weer aansê om vir my iets te doen – my twaksak te bring of so, ek onthou nie meer nie – en daar kyk hy op en hy sê vir my: ‘Ek sallie.’ Dis toe dat ek vir die vrou sê: ‘Ma, jy kan maar ophou met so ’n lang gesig rondloop. Bernard is gesond want hy praat al weer teë.’”

Bernard grinnik, maar hy is soos ’n jong hond wat ’n stuk sak beetgekry het: hy laat nie los nie. “Pa praat nou weer flink by die ding verby,” beskuldig hy. “As dit oorlogtyd reg was om teen die regering te rebelleer, dan is dit mos nou ook.”

Die oubaas sit ’n ruk en afkyk na sy groot growwe hande in die lamplig op die tafel. “Ek sal nie sê nee nie,” sê hy na ’n ruk, “en ek sal nie sê ja nie. Want dis ’n swaar ding wat mens nie met nee of ja kan uitpraat nie.”

“Wanneer het mens reg aan jou kant?” dring Bernard aan.

“Wat struwel julle tog so?” vra die klein ou vroutjie oorkant die tafel, besig met hekel; die pennetjie flits en flits in die lamplig. “Die Bybel is nog nie eens gebêre nie.”

“Nee, ek wil ’n antwoord van Pa hê,” sê Bernard.

Die oubaas kyk op, sy groot bos grys hare woes op sy ou leeukop. “Al antwoord wat ek jou kan gee, is dit: dat mens nooit vooruit weet watter pad jy moet neem nie. Jy weet net dat watter pad jy ook al neem, jy versigtig moet wees. En dat jy met wat jy ook al doen – of jy nou opstaan en of jy op jou gat bly sit – dat jy vir jou neerlê in die hand van die lewende God.”

Tant Lenie weet sekuur wanneer ’n argument lank genoeg aangehou het. Sonder dat haar hekelpen ’n oomblik talm of struikel, sonder om eens op te kyk, roep sy kombuis toe in ’n stem wat mens behoorlik verskrik uit dié tingerige mensie: “Ragel!” En toe een van die drie binnemeide op die drumpel verskyn: “Bring maar die aandkoffie.”

Bernard bly vanaand moeilik. “Vir wat kan Ma die mense nie maar vroeër saans laat loop nie?” vra hy en hy gluur haar onder die hanglamp deur aan.

“Hulle sit lekker daar by die stoof en eet,” sê sy onverstoorbaar.

“En môreoggend vyfuur is hulle terug in die kombuis.”

“Hoe gaan jy anders jou môrekoffie kry?”

“Ek kan maar self maak.”

“Moenounie so ’n gatkalfakter wees nie, man,” brom sy pa en begin met ’n vuurhoutjie in sy dooie pypkop krap.

“Daar is dinge waar mens nie mee moet lol nie,” sê tant Lenie hekel-hekel. “Die Here het vir ons hier in ’n harde land neergesit om in die sweet van ons aanskyn te bewerk. En toe’t Hy vir ons kaffers gegee om die werk makliker te maak.”

“Hard, ja,” beaam die oom tussen kort blasies deur sy pypsteel deur. “Maar ons moenie kla nie.” Sy seunsoë kyk my onder sy besembos-wenkbroue uit aan: “Dour in die Noordwes waar ek grootgeword het – my oudste broer het nou die plaas geërwe – dáár het dit gatstamp gegaan. Ek onthou ’n jaar wat dit so droog was, die skaap het al die safte klippe ook opgevreet.”

“Toe nou, Pa,” maan tant Lenie sonder veel aandrif.

“Hier het ons nog oors te veel,” gaan hy voort, “en die boorgat spou nog. Die ding met die Here is net: jy moet Hom vat soos jy Hom kry. Hy’s nie ’n man wat hom laat rondjae nie. As Hy jou wil laat bars, dan bars jy. En as Hy jou die dag wil laat wegspoel, dan is dit ’n sondvloed.”

Dit wás ’n droë jaar. ’n Hele paar keer het ek en Bernard in die buitekampe op skape afgekom wat sommer net gaan lê het. Gewoonlik kon die volk hulle agter op die bakkie laai om terug te neem werf toe, na voer en water toe; maar partykeer was ons te laat, dan moes mens hulle eenvoudig keelaf sny.

Maar meestal was die dae aangenaam, met ’n rustige intimiteit omtrent ons vriendskap. Eet, swem, dut, stap. Af en toe dorp toe ry. Partykeer het daar kuiermense plaas toe gekom, gewoonlik boere wat kom “besigheid” praat of koffie drink: dan het die mans in ’n groot kring van luidrugtige stemme gesit en rook en beduie terwyl die vroue ver op die agtergrond in die skemering van die koel binnehuis roerloos sit en luister en af en toe geluidloos skommel van die lag oor wat een van die mans gesê het. Onderbreek deur bediendes wat binnekom met skinkborde koffie en vars plaasroom, bolletjies en beskuit en fyngebak.

Die ondergrond van die vakansie was ons lang gesprekke bedags, maar veral saans en snags in die buitekamer ná die uitblaas van die kers. Oor godsdiens en seks en politiek, oor die plaas en die universiteit en die land, oor mense en boeke, oor die hede, oor die verlede; en dikwels oor die toekoms.

Bernard: “Nou goed, dan gaan jy volgende jaar oorsee. Maar wat is jou plan as jy terugkom?”

“Ek weet nog nie eens hoe lank ek gaan wegbly nie.”

“Maak nie saak nie. Eendag kom jy tog terug, nie waar nie?’

“Natuurlik. Ek sal seker maar ’n akademiese pos probeer kry. Soos jy.”

“Nee, man. Dis ’n te kunsmatige, waterdigte bestaan. Mens raak afgesonder van wat werklik in die land gebeur.”

“Waarom bly jy dan by die universiteit?’

“Ek bly nie daar nie,” sê hy. “Net tot die end van die jaar, dan gee ek pad.”

“Dit het jy my nog nie gesê nie.”

“Ek het maar eers hierdie vakansie finaal besluit.”

“Wat gaan jy doen?’

“Balie toe. Jy weet tog ek het die laaste paar jaar al af en toe sake in die Kaap verdedig. Nou wil ek maar die sprong waag en kyk wat gebeur.”

“Maar al die sekuriteit wat jy prysgee?’

“Ek kan klaarkom sonder sekuriteit. Daar’s belangriker dinge as dit.”

“Soos wat?’

“Om self te begin deelneem aan wat daar in hierdie land gebeur. Voordat dit net ’n soort lot word wat mens ondergaan sonder dat jy verantwoordelikheid daarvoor hoef te aanvaar.”

“Daar sal wel verandering kom mettertyd,” het ek gesê.

Anderkant die brandende kers het ek sy skaduwee groot teen die muur sien spring toe hy regop sit om na my te kyk. “Martin,” het hy gesê, “ek wens mens kon dit regtig wéét. Maar die soort verandering wat ons in dié land nodig het, verandering wat tot in die wortels toe ingryp … daarmee, lyk dit vir my, gaan dit maar net soos met die reën. Dit bly by gerugte.” Toe glimlag hy skielik: “Maar natuurlik, ás die reën die dag kom, dan is dit soos Pa gesê het: ’n vloedwater wat alles wegspoel.”

Eers later, toe ek in my twaalfde jaar weggestuur is koshuis toe om op die dorp skool te gaan, het ek bewustelik begin reageer op die verskille tussen wit en swart. Vakansies op die plaas het my verhouding met my gewese speelmaats as ’t ware vanself verander tot dié van baas teenoor kneg. Die enigste uitsondering was, in ’n mate, die maat na wie ek tevore verwys het; maar ook teenoor hom het ek anders opgetree as vroeër. Ons het nie meer saam geswem of gespeel nie. As ons jag, was hy my handlanger. Bowenal het ek myself beskou as leermeester en vir hom as leerling, om hom in die vakansie alles te leer wat ek op skool gehoor het. Dit het uiteindelik daartoe gekom dat my ouers met ’n sendeling gereël het om hom skool toe te stuur en mettertyd ook universiteit toe. Teen daardie tyd was ek lankal in sy oë die baas en hy hoogstens die ontvanger van aalmoese.

Op universiteit het ek kennis gemaak met die filosofie van rasseskeiding, wat op daardie tydstip vir my die ideale oplossing vir Suid-Afrika se probleme voorgekom het. Ek het dan ook voorsitter geword van die Nasionale Jeugbond se tak aan ons universiteit. Toe ek ná die verkryging van my graad in die regte my navorsing aan die Universiteit van Leiden gaan voortsit, het ek daar vir die eerste keer op gelyke voet sosiaal kennis gemaak met swart studente. Vir die eerste keer in my lewe moes ek by geleentheid saam met ’n swartman aan tafel eet. Dit het ek net met die allergrootste moeite reggekry. Inderdaad was dit vir my, emosioneel en kultureel gesproke, een van die grootste skokke tot op daardie oomblik in my lewe. Dit het my egter gedwing om van voor af die hele saak te deurdink. Ek het onthou hoe maklik ek met my jeugmaats oor die weg gekom het. Teenoor húlle het ek nooit dié soort ongemak of weersin gevoel in die dae toe ons saam gespeel het nie. Met ander woorde, as iemand verander het, dan was dit nie hulle nie, maar ek. Ek het eenvoudig ’n antagonisme teenoor die swartman ontwikkel wat ek op geen redelike grond kon verdedig nie. Ek wil nie die hof belas met persoonlike herinneringe nie. Maar dit was die begin van ’n proses wat ek filosofies, moreel en uiteindelik ook op die praktiese vlak moes deurvoer.

Gerugte van reën

Подняться наверх