Читать книгу Gerugte van reën - André P. Brink - Страница 8

1

Оглавление

’n Hele swerm muggies vasgepleister teen die voorruit. Ek begin weer daar, want om die een of ander rede bly dit vir my belangrik. Op sigself was dit tog niks buitengewoons nie, dit gebeur dikwels op ’n lang reis, veral voor die reën kom. Maar skielik was daar net dié wolk van wirrende vlerkies en hul olierige geelgroen smeersel oor die ruit, bespikkel met bloed. En toe ek die veërs aanskakel en die waterspuit se knoppie druk, gebeur daar niks. Eintlik was dít die rede vir my ontsteltenis. Mens verwag dit eenvoudig nie van ’n 350 SE nie. Ek weet daar is mense wat ’n Mercedes koop met bymotiewe, maar ek het daarop besluit omdat sy tegniese byna-volmaaktheid my bevredig; omdat ek bereid is om duur te betaal vir dié vorm van geborgenheid, dié belofte van onfeilbaarheid, dié estetiese beheerstheid. En toe, ewe skielik, wil ’n nietige onderdeel soos die ruitveërs nie werk nie. Daarmee is alles wat ek op ’n reis as vanselfsprekend aanvaar, bevraagteken. As die veërs nie reageer nie, kon enigiets anders my ook in die steek laat. (En selfs die pistool wat ek altyd op reis in my paneelkissie saamry: as ek dít eendag nodig kry?) Dit is nie waarvoor ek betaal het nie. Bowendien het dit my te ontstemmend herinner aan die middag, drie maande tevore, by Bea: toe ons mekaar by die gat ontmoet het, en daarna in die woonstel. Waar die liggaam, nóg ’n meganisme waarop mens jou so sonder nadenke verlaat, ook sy feilbaarheid bevestig het. En nou ’n spul muggies, op die stuk pad anderkant Theunissen. Wie het voorspel dat wanneer die mens uiteindelik van die aarde af verdwyn, die insekte sal oorneem?

Heel moontlik is die defek veroorsaak deur die garagemense wat die ruit vervang het wat by Westonaria verpletter is, ’n herinnering wat ek liefs gespaar sou gebly het. Soos ander. Maar ek het nou eenmaal hiermee begin.

Om te vergeet en om weg te kom: dít het, deur die rommel van die voorafgaande dae, vir my die oorheersende motief geword van daardie naweek waarna ek begin verlang het soos ’n boer na reën in ’n droë tyd. (En dit wás ’n droë tyd. Die hele land soos ons gery het, was stof en vaalte en wit wintersgras.) Ek móés gaan om Ma tot verkoop te oorreed (vir so ’n delikate onderneming was die telefoon, veral die plaas se partylyn, te openbaar; en Ma ook te koppig: ek het haar eenvoudig ’n telegram gestuur om te sê dat sy my moet verwag). Sonder dié motivering sou niks anders gebeur het nie. Maar ek het inderwaarheid opgehou om aan die naweek te dink as ’n projek waar iets uitgerig moes word. Dit het al meer gelyk na uitkoms en ontkoming om terug te gryp na die plaas se skyn van vastigheid ná die woelinge van die afgelope tyd: die spanninge tuis, rondom Louis; en Bernard se saak. Oor hom moet ek eerste uitpraat, dat ek hom kan opruim.

Ek sou wou wegkom van daardie hofsaal. Maar ek het die beeld met my saamgedra. Die vuilgeel mure en die houtbeskot agter die regbank met die baldakyn daarbo, die rooi leer van die stoele, die lang tafels met relinkies aan die voorkant, die vaalgetrapte bruin mat, die grou gordyne teen die panele agter die bank en teen die symure, die twee hoë dakvenstertjies met geel glas, die waaier met die drie lemme aan ’n lang stang wat wikkel as die ding begin te draai, die groot lugter met lelike blomskermpies oor die gloeilampe. (Daar was net so ’n blomskerm oor die lampie in my kamer toe ek ’n kind was. Ek onthou hoe hy teen die muur gerinkel het die aand toe ek dronkerig orent kom om water te drink; en hoe die dokter oorhaastig by die deur ingekom het en daar half omgedraai het na Ma-hulle om te sê: “Nou kan julle maar ontspan, hy sal lewe.”) En Bernard wat in die beskuldigdebank ’n hele sittingsdag lank met vaste, egalige stem sy verklaring voordra. Ek het ’n kopie in my briewetas saamgeneem. Ek wou dit lankal vernietig, maar ek kon om die een of ander rede nog nie so ver kom nie. Selfs hier na Londen toe het ek dit saamgebring – dit lê hier langs my waar ek sit en skryf.

Wanneer ’n mens aangekla word op grond van jou politieke oortuigings en optrede, dan is daar vir jou twee weë oop. Jy kan óf jou oortredinge bely en om vergiffenis of genade smeek, óf jy kan jou oortuiginge verantwoord en jou optrede verduidelik. Ek sou verraad pleeg teenoor alles waaraan ek glo as ek vandag hier om genade moet pleit, want ek glo dat wat ek gedoen het, reg was.

Ek aanvaar die algemene reël dat dit vir die behoud van ’n samelewing nodig is om wette te hê wat gehoorsaam moet word. Maar wanneer wette self immoreel geword het en van die burger verwag dat hy – al is dit net deur stilswye of sy apatie – moet deelneem aan ’n georganiseerde stelsel van verdrukking, dan ontstaan daar ’n hoër verpligting: naamlik om te weier om sulke wette te erken. En daarom het ek onskuldig gepleit, selfs al sal hierdie hof my moet skuldig vind. Daarom sal ek ook die geleentheid van die hand wys om versagting te vra wanneer u my vonnis en veroordeel. Ek doen dit in die oortuiging dat die toekoms, die geskiedenis self, aan my kant sal wees.

Ek sou dit wou ontken, dié dag in die motor op pad plaas toe; verkieslik sou ek heeltemal daarvan wou vergeet, al was dit net vir daardie een naweek. Maar hoe kon ek, met Louis daar langs my? Saam met hom het ek eintlik álles met my saamgeneem. Ek het skuins na hom gekyk, maar hy het reguit déúr die besmeerde ruit voor hom sit en uitstaar, al moet hy van my blik bewus gewees het. ’n Profiel soos my eie, eintlik onthutsend dieselfde; net, natuurlik, baie jonger. (Dit op sigself moes al mens se gemoedsrus versteur.) Daarom koppiger, arroganter. Bowenal geslote en vreemd, soos toe ons mekaar ’n paar uur tevore in die skare om die selfmoordenaar raakgeloop het.

Negentien jaar oud. Op dié leeftyd behoort hy soos ander van sy jare te wees: die ene emosie en oorywerigheid, oorhoops met die eerste eksperimente met sy eie seksualiteit, die brawade en vertroebeling van nog onverwerkte ligaamlikheid; en die roeringe van die onheimlike, die amper-wil-huil oor ’n maan agter takke, of die vorm van ’n meisie se oor; alles storm, alles drang. Maar hý nie. In sy oë was daar iets ouds, iets antieks. Moegheid? Ontgogeling? Sinisme? Op negentien? Dit alles, ja, maar méér. Asof heeltemal niks hom meer óf kon skok óf kon bly maak nie. Asof hy eintlik anderkant beland het. Anderkant alles wat ek self ken, anderkant die landskap waarvoor ek hom ’n kaart sou kon gee. Ook nie eintlik eers anderkant iets nie – doodgewoon anderkant. En dit was vermetel om te dink ek sou in ’n naweek saam plaas toe iets van die afstand tussen my duskant en sy anderkant afgelê kry. Nie net vermetel nie, absurd.

Ek wou nie stilhou oor die muggies nie; mens kon tussen die smeersel deur darem iets van die pad uitmaak en dit was nog lig buite, nog nie vyfuur nie. Ek hou nie van stilhou as ek ry nie; ook nie destyds toe die kinders klein was en op die onmoontlikste tye of plekke moes uitklim nie – nooit tevrede om net vyf minute, net ’n minuut te wag nie: dit moes nóú wees, op die daad, op die plek. Wanneer ek ry, wil ek aanhou: die blote momentum van die beweging is op sy eie manier sinvol. As jy ’n emmer water in die rondte swaai en skielik ophou, dan stroom dit alles oor jou uit. Net deur aan te hou, aan te hou, bly alles in ewewig. As jy eers toelaat dat jou ritme versteur raak, loop alles baie gou verkeerd en skielik is jy nie meer in beheer nie.

“Ons ry maar so,” het ek probeer spot. “Mens kan darem nog sien. Through a glass darkly.”

Links van my het Louis voor hom bly uitkyk en nie geroer nie. Miskien het hy my nie eens gehoor nie.

Gerugte van reën

Подняться наверх