Читать книгу Gerugte van reën - André P. Brink - Страница 6

Оглавление

Muggies. ’n Hele swerm muggies vasgepleister teen die voorruit en die veër wat nie wil werk nie. Dit is, verspot genoeg, die eerste beeld wat my opkom as ek aan daardie naweek dink. En dit is net nie meer genoeg nie. Laat ek dit so stel: dit is tyd dat ek nou duidelikheid kry oor wat presies daardie paar dae, Vrydag tot Maandag, gebeur het. Wat eienaardig mag klink, want ek was tog die hele tyd by my positiewe. Maar iets, het ek deurgaans bly voel, iets moet aan my verbygegaan het, ’n onderwaterse iets – soos wanneer mens wakker word en baie goed weet jy het ’n droom van groot belang gedroom, as jy dit net weer kan opspoor, as jy teen daardie water in kan terugroei: maar jy kan net-net nie weer die droom vasgevat kry nie.

Wat nog altyd ontbreek het, was doodgewoon die tyd. As mens twaalf of vyftien uur per dag besig is met verslae en voorleggings, memoranda, samesprekings, besluite, reëlings of reise, dan is die tyd vir ’n “private bestaan” of vir die terugsoek na betekenisse ’n luukse en herinneringe byna ondenkbaar. Nou sit ek heeltemal onvoorsiens met dié nege dae in Londen, soos in ’n transitowagkamer tussen die konferensie van die United Nations Association waar ons sending vanoggend moes uitstap en my volgende onderhandelinge wat eers aanstaande Donderdag in Tokio begin.

Ek weet nie wanneer laas dit gebeur het, wanneer laas ek so gevoel het nie. Dis so heeltemal onverwags dat ek, om eerlik te wees, oorstelp voel. As ek my dit die afgelope tien jaar af en toe veroorloof het om ’n week of veertien dae verlof te neem, dan het die hele gesin saamgegaan – Elise en Louis en Ilse – meestal plaas toe. En dan het ek gewoonlik weer alleen vroeër teruggekom om werk in te haal. Selfs dáárdie naweek het ek Louis saamgeneem. Toegegee, daar was soms ’n gesteelde dag of dae, maar dan bereken en met ’n doel: met Bea. Een keer, twee jaar gelede, die hele week in Mosambiek, die laaste keer voor Lourenço Marques Maputo geword het. Die sandpad suide toe, die bougainvillea oordadig en onbehoorlik pers, flentertuintjies en skrophoenders, maer swartmense wat wuif en gryns deur ons stof, en in die skemeraand die rooi en geel van Ponta do Ouro se vakansiehutjies. Ek onthou die onaardse afsondering sonder koerant of radio, en die afdeling Portugese soldate in hul rommelige kakievragmotors, met die klein swart kreupel seuntjie wat hulle as gelukbringer oral met hulle saamgeneem het; en snags, as die dag se opgegaarde hitte ons uitdryf uit die hut, het ons op die strand geslaap en bytplekke opgedoen van muskiete en sandvlooie en God weet wat nog.

Maar hierdie keer is dit anders. Ek is heeltemal alleen. Sonder berekening of beraming sit ek nou met nege dae wat uit die niks van nêrens in my skoot geval het. Op ’n manier is dit amper skrikwekkend, maar ook ’n sensuele weelde wat my duiselig laat voel. Ek is hier met niemand om aan verslag te doen en niemand om in ag te neem nie. Geen dooies om te begrawe, geen reëlings om te tref, geen skuld om te besweer nie. Net ek. En niemand weet eens in watter hotel ek oorbly nie.

Ek kon natuurlik vroeër vanaand saam met die ander lede van die handelsending teruggevlieg het Johannesburg toe, soos ek ’n jaar gelede sonder aarseling sou gedoen het. Maar dit beteken twee ekstra reise binne ’n week en daar is iets in my wat teë is daarop, ’n ongedurigheid, ’n onlus. Miskien word mens eenvoudig ouer. Maar dit kan ook wees dat jy ’n stadium bereik waar jy nie kan of wil verder gaan voor jy ’n keer opgeruim het wat agter jou lê nie en nou het hierdie toevalligheid gebeur wat my skielik kans gee om my dié ongewone weelde te veroorloof. Of is dit eerder nood as weelde? Ek verstaan my eie vasgekeerdheid nie: ek moet my daar uitskryf. Dis glo ’n vorm van terapie.

Lyk dit net retrospektief so, of was daar daardie naweek al iets onwerkliks omtrent wat gebeur? Ek huiwer om te sê: iets apokalipties. In my meer romantiese jare, toe ek nog ernstig aan skryf as ’n loopbaan gedink het, sou ek miskien gepraat het van “die laaste naweek voor die ondergang van die bekende wêreld”, of iets in dier melodramatiese voege. Maar ek is lankal nie meer romanties nie en selfs my humorsin is glo, volgens Bea, hoogstens die positiewe kant van my sinisme.

Wat op die spel was, was die toekoms van die plaas. Maar dan nie net as ’n stuk grond nie. As ek mag sistematiseer, sou ek in dié vroeë stadium wou beweer dat dit gegaan het om ’n verlies. (Soveel kan tegelyk tot ’n einde kom, selfs al besef mens nie dadelik dat dit ’n einde is nie.) ’n Viervoudige verlies. ’n Vriend, ’n vader, ’n seun, ’n vrou. Iets van dié aard. En dalk nog meer.

Maar ek wil niks vooropstel nie, en dis nogal moeilik. Want dit plaas seker ’n halwe leeftyd se kondisionering op die spel (syfers en statistiek, programme, prognoses; al die projekte van die vrye onderneming). Ek moet probeer om by iets duidelikers anderkant die diverse feite uit te kom as dit kan. Maar sónder die ingrawery in die ek en die selfontbloting wat in sekere kringe mode is, want my Calvinistiese erfenis frons teen so ’n ontkleedans van die siel.

Ek wil net – uitsluitlik vir myself, vir niemand anders nie – bestek opneem van wat ek het en kyk wat gebeur. Intellektuele oefening, soos skaak. (My “fotografiese geheue” het baie mense al verbaas en my meermale in onderhandelinge ’n voordeel bo ’n opponent besorg.) Of kom ons noem dit ’n vorm van geestelike massering wat die geknoopte spiere laat ontspan, die senuweepunte streel en uiteindelik met flinke tydsberekening tussen vaardige hande die sogenaamde “complete relief” bring wat, sónder nadraai, ’n nuwe begin moontlik maak.

Die Thailandse meisietjie (dis te sê ás sy van Thailand is, hulle lieg ook so; maar onmiskenbaar Oosters, en nogal aantreklik) is ’n driekwartier gelede uit met ’n diskrete klik van die deur. (Do not disturb.) Op die dik grysblou hotelmat het ek haar sagte voete nie eens hoor beweeg nie en toe-oog en weldadig op my rug bly lê, met net die klein wit handdoekie oor wat Ma my “ellende” sou genoem het.

(Hoe sou so ’n masseuse ’n kliënt onthou? Net aan die grootte en fatsoen van sy voël? Of sou sy meer oplettend wees? “Middeljarige man, korterig maar met – hoe sê hulle? – gedistingeerde voorkoms, donker hare gryserig aan die slape, professorale bril op die sogenaamde ‘Romeinse’ neus, ’n bietjie swaar om die middel …”? Mens boet iets in sonder klere.)

Meestal kry mens te doen met ’n veinsery: hulle beweer hulle is “sekretaresses” of “verkoopsmeisies” of selfs “studente” wat saans ’n paar pond ekstra met massering wil verdien. Die Oosterlinge is nugterder, deegliker, én meer simpatiek: daarom dring ek gewoonlik op hulle aan. En vanaand se meisie uit Thailand – haar naam het ek nie gevra nie – had werklik die vaardigheid van ’n beroepsmasseuse. Ek hou nie van praat terwyl sy met my besig is nie (wat ís daar eintlik om te sê?), maar party beskou dit mos as deel van hul taak om die kliënt aan die praat te hou. Sy nie. Terwyl ek eers op my maag lê en daarna op my rug, het sy stilswyend en rustig en deeglik haar gang gegaan. Teen die einde ook met net die regte mate van subtiliteit ’n keer of wat “toevallig” teen my ereksie verbygestryk sodat die voortsetting met ’n blote glimlag, ’n hoofknik en die minimum woorde in verband met tarief beklink kon word. Sy is sonder omhaal badkamer toe en ek het hoor water tap; vyf minute later het sy kaal teruggekom, so sonder klere nog kleiner as wat sy tevore voorgekom het. ’n Delikate voëltjie van ’n meisie met dun gewrigte, smal heupe, ’n netjiese swart kwassie tussen die bene, en skaars geswolle borsies soos van ’n veertienjarige, met ’n kruisie aan ’n goue kettinkie om haar nek. Ek het haar tepels lui-lui gelê en streel en sien verstyf terwyl sy sedig haar gang met my gaan, haar hare in ’n donker gordyntjie oor haar gesig.

Die luukse van volslae pasjaskap, die arrogansie van die reddelose male chauvinist? Of die gerieflikste oplossing vir ’n man met ’n “hartprobleem”? (Ek het nog geen seks weer gehad ná daardie middag met Bea nie.) Tog wil ek beweer dat daar vir my méér is in hierdie passiewe oorgawe aan ’n vrou wat behalwe haar fooi niks verder van jou verg nie en buite die gedempte uur van julle samesyn (mooi romantiese frase dié) nooit weer oorweeg hoef te word nie. Dit is een van die min situasies wat mens heeltemal vry laat omdat dit geen enkele verantwoordelikheid aan enige van die twee betrokkenes oplê nie. Jy hoef niks te bewys nie, niks te staaf nie, niks te probeer nie; jy hoef niks voor te berei of af te rond nie; jy hoef jou geen inspanning te getroos om enigiets omtrent haar of haar geskiedenis of haar gemoedstoestand te wete te kom nie: dis by voorbaat uitgeslote, nie ter sake nie. Daar is in haar geen bedreiging vir jou status of jou integriteit of jou selfgenoegsaamheid nie, want sy verwag niks en eis niks verder van jou nie. Jy hoef geen rol teenoor haar te speel nie, jy hoef haar nie te probeer imponeer nie, jy hoef haar tot niks te oorreed nie. Sy is volledig tot jou beskikking, en mits jy haar fooi betaal is sy bereid om letterlik alles, en enigiets, te doen wat jy van haar wil hê.

As ek haar vra wat haar naam is, sal sy tien teen een ’n valse verstrek. As ek haar uitvra oor haarself, sal sy sekerlik lieg, net soos ek as sy iets oor mý sou wou verneem. En tog is daar iets in ons situasie van ’n volstrekte eerlikheid essensiëler as biografiese gegewens. Oor die aard van ons ooreenkoms en die implikasies van ons aanraking bestaan daar geen dubbelsinnigheid nie; aanvraag en aanbod staan in perfekte ewewig. Daarom is bedrog of verraad nie denkbaar nie en selfs die moontlikheid van teleurstelling uitgeskakel.

Dit beteken nie dat ons mekaar minag nie. Eerder, sou ek wou aanvoer, dat ons mekaar in hierdie wedersydse blootstelling en terughouding respekteer. En ek het inderdaad al soms gevoel dat ek in so ’n uur nader aan ’n vrou gekom het as in die loop van ’n hele verhouding. Omdat daar in verhoudinge soveel ander dinge op die spel is wat jou teen wil en dank probeer betrek of skeeftrek; omdat dit jou nooit werklik met rus laat nie; omdat dit verpligtinge aan jou opdring en jou vryheid inhibeer. Waarmee ek nie probeer om, byvoorbeeld, Bea te ontken of te verminder nie. Miskien moet ek eerder erken, hoe onwaarskynlik of inkriminerend dit ook al klink, dat ek haar nog steeds nie verstaan nie. En van al die elemente wat daardie naweek saamgeloop het, bly sy een van die onbegryplikste, die ongrypbaarste.

In my portefeulje het ek – hier is dit – kleurfoto’s van Elise en Ilse, my vrou en dogter (in samesprekings met Latyners het dit al ooreenkomste help verseël); maar dit is Bea wat ek hier die onmiddellikste kan oproep. Bea in haar los trui en denimromp, met stewels of sandale; haar kort deurmekaar swart hare en haar smal gesig met die hoë wangbene, met haar smeulende groot oë agter die donker uilglase van ’n sonbril waarmee sy haar effense bysiendheid verskans; reguit neus, breërige mond, sterk ken; hande met lang vingers en kort gebyte naels. Seker nie “mooi” volgens konvensionele maatstawwe nie (ek was een jaar op die paneel van beoordelaars wat Mejuffrou Suid-Afrika moes aanwys), maar met ’n intensiteit en, nou ja, ’n andersheid waaraan mens nie sommer ontkom nie.

Bea die hartstogtelike. Sy sou ’n Simbionese leër kon gelei het, het ek vóór daardie naweek al gedink; sy sou skares op barrikades kon aangespoor het of bomme in Belfast gegooi het – ás sy ’n saak kon vind waaraan sy onvoorwaardelik kon glo. Maar daarby doodgewoon te intelligent om enigiets so te verabsoluteer dat sy haar heelhartig daar kón inwerp. Verwoed, opstandig, kompromisloos, en – seker – verlore.

Is dit daarom dat ek my nie daarvan kon weerhou om haar te probeer beskerm nie? ’n Volstrek misplaaste gesindheid. Want diep in haar binneste was sy heeltemal onafhanklik: “Jy probeer my verniet annekseer. Julle Afrikaners is almal imperialiste. Wil altyd baas wees, tot in die liefde.”

Julle Afrikaners. Hoeveel keer moes ek dit nie aanhoor nie? Partykeer geïrriteer, anders skouerophalend: sy’t baie dinge so berekend en moedswillig gedoen. Tog het ek al gewonder of sy my nie op ’n manier beny nie. Want wat was sý? Sy het dieselfde groen paspoort gehad as ek (met watter aaklige foto daarin!). Maar haar ma was Italiaans, haar pa glo ’n Duitse soldaat wat op ’n kritieke tydstip in Perugia aangekom en weer verder getrek het; ná die Oorlog het die familie uitgewyk na neefs in Amerika; en kort ná Bea se sewende verjaardag – haar ma was toe al dood – het sy saam met ’n Hongaarse stiefpa na Suid-Afrika geëmigreer. Die enigste sekuriteit van haar jeug was haar Katolieke geloof. Totdat sy haar met ’n baie bewuste wilsbesluit ook daarvan losgeworstel het: “Mens moet alleen kan staan en alleen kan loop. Ek wil nie krukke hê nie. En ek wil die wêreld oop in die oë kyk.” Al het sy dan so pal die donkerbril gedra.

Dié vrees vir krukke of verblinding of bedwelming, vir maklike uitweë, het veel van ons verhouding bepaal. Seks het byvoorbeeld nooit ’n deurslaggewende rol gespeel nie. Terwyl dit in my ander vlugtige verbintenisse oor die jare eintlik die enigste bestaansgrond was. Ek het al gewonder: ás daar meer seks tussen ons was, sou alles nie vroeg al doodgeloop het soos met ander nie? en dan sou ek vryer gewees het. Die seksuele was daar, maar net op die agtergrond. Seker nie omdat ék dit so gewil het nie, maar Bea het haar eie onversetlike wil en haar eie neuroses gehad. En tog het ek nooit ’n meer hartstogtelike vrou geken nie, die paar keer dat sy haar werklik laat begaan het. Eintlik vermoed ek dit is ómdat sy so goed geweet het hoe hartstogtelik sy is, dat sy bang was om vrye teuels daaraan te gee. Miskien was sy bang om heeltemal daardeur (en dus ook: deur iemand anders) meegesleur te word. Sy wou altyd beheer oor ’n situasie behou.

Behalwe die paar kere. Ons eerste nag – die aand van die rasende party, die drank en sweet en rumoer van die tagtig-of-hoeveel mense in tant Rienie se klein woonstel, kletterende stoele en brekende bottels, en die sjarmante ou vroutjie wat onbewus van alles in die middel van die vloer staan en Blake voorlees terwyl die trane oor haar wange loop; en baie later die geruis van die wind in die platane voor die oop venster, en die besef dat Bernard langsaan lê en slaap. (Kyk hoe vlot hanteer ek die romantiese frases. Miskien móét ek probeer om my aantekeninge te kombineer met die roman wat ek nog altyd wou skryf! Ek hét mos “talent” gehad.)

En dan natuurlik die dag toe ons mekaar vir middagete by die gat ontmoet het. Dit het gereeld gebeur dat ons mekaar daar by Dullabh’s Corner ingewag het as ons afgespreek het om êrens heen te gaan, na ’n kerrieplek in die buurt of ’n diskrete restaurantjie in Hillbrow of buite die stad. Ek kan nie meer onthou hoe dit gekom het dat ons oorspronklik juis dáárop besluit het as “ons” plek nie: waarskynlik was dit beïnvloed deur die rumoer en kleur van die buurt, want Bea is altyd gestimuleer deur dié soort straatlewe. (Onthou Diagonaalstraat.) Toe was daar, soos soms gebeur het, ’n onderbreking van ’n maand of twee. Ek was onder meer ’n ruk weg – New York toe, en via Brasilië terug – en ander sake het tussenbeide gekom; en toe ek dié middag volgens afspraak by Dullabh’s Corner aanland, was daar net ’n gat waar die gebou gestaan het. Eers later het ek dit in verband gebring met koerantberigte van ’n paar weke tevore: dat die Regering ’n groep Indiërhandelaars in die buurt aangesê het om pad te gee na ’n kompleks wat elders vir hulle opgerig is; dat die winkeliers gesamentlik besluit het om die uitsetting teen te staan en dat hulle toe met geweld uitgesmyt is (gelukkig nie te ernstig nie: net ’n paar is beseer en twee kinders is deur polisiehonde gebyt).

Niks om op hol oor te raak nie. Inderdaad het dit my ook nie erg ontstel nie – mens raak tog immuun – maar Bea was werklik geskok. Daar was iets verbasends omtrent die heftigheid van haar reaksie, wat ek skaars kon rym met die vrou wat ek, soos ek regtig gemeen het, goed geken het. (Maar natuurlik: die oorlog. Moenie dit vergeet nie. Sy was maar drie toe sy saam met haar ma na die VSA is, maar wie weet wat bly steek in die onderbewuste van ’n kind van drie? En daar was seker baie bombardemente in Italië gewees daardie laaste jaar.)

Toe ek by Dullabh’s Corner aankom, was daar nog nie ’n teken van haar nie. Danksy die sloping was daar heelwat parkeerplek; ek het uitgeklim en deur ’n gleuf in die sinkheining om die gat gaan loer na stootskrapers en trekkers en manne met oranje helms tussen die rommelhope. Die soort bedrywigheid waaraan ek my van kleins af kan vergaap. Eers toe Bea my driftig aan die arm vat, het ek besef dat sy ook opgedaag het.

Sy het iets gesê soos: “Hier staan jy al die tyd. Ek dag jy kom nie meer nie.”

En ek: “Hoekom sou ek nie kom nie? Ons het tog afgespreek.” Ek wou haar soen, maar sy het net haar wang gedraai.

Ek kan natuurlik nie ons dialoog in besonderhede onthou nie, net die algemene koers. Moet ek maar oefen vir my roman? – ek kan probeer.

Sy: “Ek het gedag jy’t miskien verbygery.” En toe ek my kop skud: “Ek het. Ek was al ’n paar blokke verder toe ek skielik besef … Toe’t ek omgedraai en teruggekom, en wéér verbygery. Ek kon dit nie glo nie. Hulle kan tog nie sommer …”

“Daar was mos iets in die koerante.”

“Ja, maar ek het nie besef … Martin, dit was tog óns plek gewees.”

Ek kon nie help om te glimlag nie. “Hulle kon kwalik eers by ons verlof kom vra het.”

“Jy weet goed wat ek bedoel.” Deur die groen glase van die donkerbril kon ek die donkerder smeuling van haar oë sien. “Dis of hulle iets van ons afgeneem het.” En bietjie stroewer: “Ons het min genoeg.”

“Ons is nog dieselfde, ek en jy.”

“Is ons? Weet ons selfs dit?” Sy het haar kop gedraai asof sy na die afgrond wou kyk, maar toe weer straat toe gekeer. “Ons kom maar hier verby, so een maal elke paar weke, en dan gaan ons weer weg. Maar Dullabh’s Corner … Ek is seker verspot, maar hy was altyd hier, altyd dieselfde lelike ou baken, so gerusstellend, so ’n stukkie sekerheid. Ek het partykeer gedink: Eendag sal ek en jy daarmee heen wees, maar party dinge sal darem agterbly en iets van ons bly vashou. Dullabh’s Corner sal nog daar wees. Nou’s dit net ’n gat.”

“Mens moet maar met gate leer saamleef,” het ek moedswillig lig geskerts. “Intimations of mortality.”

Snaaks dat ek dit toe gesê het. (Het ek regtig? Of fabriseer ek dit nou?) In die lig van wat later die middag gebeur het, toe sterflikheid so reëel geword het.

Om met die dialoog voort te gaan:

“Kom ons gee pad,” het sy aangedring. “Ek wil nooit weer hier kom nie. Ek ry saam met jou.”

“Wat van jou motor?”

“Ek het hom daar anderkant gelos.” Sy het beduie. “Ek kan wel later reël, dit maak tog nie saak nie. Op die oomblik voel ek te bewerig.”

“Stap ons nie sommer hier na ons kerrieplek toe nie?”

“Nee, kom ons gee so ver as moontlik pad. Uit die stad uit.”

In die motor het sy ’n sigaret aangesteek en lank stilswyend gerook. Die verkeer was druk en ons het maar stadig gevorder tot ons die M1 bereik het.

“Snaaks,” sê sy naderhand, kalmer, “hoe mens tog maar vashouplek buite bly soek. Getuies vir die oomblikke wat verbygaan. Maar jy leer nooit dat ’n spieël nie sy beeld kan vashou nie. Simpel, nè?”

“Maak die spieëltjie aan die wand regtig so saak? As jy self weet wie jy is …”

“Weet jý dit so seker?” vra sy.

“Ek dink so.”

“Ek dink nie so nie.” Met ’n glimlaggie blaas sy rook uit. “Dis maar deel van jou illusie, of van jou arrogansie. Dis dié dat jy my so moedeloos maak. En miskien is dit dié dat ek jou liefhet.”

“Ek is ten minste nie so ’n deurmekaarspul soos jy nie!”

“Nee,” sê sy en kyk my deur die donkerbril stip aan. “Maar jy’s ’n Afrikaner. En dis amper net so erg.”

“Ons is Afrikaners. Dié identiteit sal ons bewaar. En ons sal ons deur niemand laat voorskryf nie. Laat die wêreld soos Gadareense swyne in die afgrond van permissiewe identiteitloosheid instorm. Ons sal ons nie van ons koers laat afbring nie.” Aldus (vryelik geparafraseer) minister Calitz, ná ons sending vandag uit die konferensiesaal moes padgee.

Ons het bietjie moeilikheid gehad met Sy Edele. Dit mag anders verloop het as hy gisteraand se onthaal vir die afgevaardigdes bygewoon het, want daar kon die een en ander nog onderhandel word. Maar by die Ambassade se private cocktailparty net vóór die onthaal het hy hom – ten spyte van ’n paar van ons se verbete pogings – aan die KWV te buite gegaan en toe vroegtydig na sy hotel teruggekeer. (Waarvandaan hy later uitgeglip het na Raymond’s Revue Bar: so iets gaan ongelukkig nie onopgemerk verby nie.) Daarmee was ons deelname aan die konferensie vir goed die nek ingeslaan.

Ek moet ons sending verduidelik. Die Britse United Nations Association het die konferensie oor die ekonomiese ontwikkeling van die Derde Wêreld gereël, met nadruk op die benutting van minerale hulpbronne. En vir ons by die Afrikaanse Handelsinstituut het dit na ’n goeie geleentheid gelyk om Suid-Afrika se leidende rol op die gebied te “stoot”, terwyl mens tegelyk die kans kon gebruik om ’n paar minerale-uitvoerkontrakte te beding en veral om nuwe beleggingskapitaal te probeer werf. As voorsitter van die AHI se mynkamer het ek die saak heelhartig gesteun en ook voorlopig begin reël om met ’n paar groot invoerders in Stockholm, ensovoorts, te gaan onderhandel. Maar toe Calitz van die konferensie te hore kom, het hy op sy taamlik onsubtiele manier te kenne gegee dat hy graag die sending wou vergesel – met die lofwaardige doel om onder die dekmantel van ’n handelstog ook ’n bietjie politieke lobbying te gaan doen. En uit die aard van die saak het die president van die AHI toe vir hom teruggestaan as leier van die sending.

Eers by ons vertrek uit Johannesburg is dié verwikkeling wêreldkundig gemaak, met onmiddellike reperkussies in Londen: beskuldigings dat ons ’n byeenkoms van sakelui die skyn van ’n interstaatlike onderhandeling wou gee, ensovoorts, die soort argument waarvoor die Engelse Arbeidersbewind natuurlik taamlik kwesbaar is. Daarvandaan was die verloop voorspelbaar. Calitz het geen geloofsbriewe vir die byeenkoms gehad nie maar het klaarblyklik aanvaar dat ons Ambassade dit sonder meer vir hom sou reël. Toe dit onmoontlik blyk en hy derhalwe sitting geweier word, moes ons hele sending uit “lojaliteit” onttrek. Die soort insident wat mense soos Calitz so gereeld veroorsaak, op ’n tydstip dat ons dit waaragtig nie kan bekostig nie.

Wat anders kon mens van die man verwag? Toe hy Minister geword het, was sy enigste onderskeidende kenmerk ’n Hitlersnorretjie wat met die jare kleiner en gryser geword het totdat dit deesdae by oningewydes die indruk skep van twee silwer snotstrepe op sy bolip.

Hy het darem uit die staanspoor sy bes gedoen om die Suid-Afrikaanse ekonomie te dien en spoedig ’n noemenswaardige aandeel bekom in diverse maatskappye, asmede ’n wynplaas in die Boland, ’n veeplaas in die Vrystaat, ’n jagplaas in Suidwes en ’n paar strategiese lappe grond in die Oos-Kaap.

Nadat Calitz gisteraand na sy kaalklub vertrek het, het ’n paar van ons ander afgevaardigdes saam met die Ambassadeur tentatief ’n diplomaties bewoorde verklaring opgestel wat uitgereik kon word as ons ons vandag aan die konferensie moes onttrek. En toe dit inderdaad gebeur, het ek die dokument aan Sy Edele oorhandig. Miskien moes iemand anders dit liewer gedoen het, aangesien ek en Calitz – soos al sou geblyk het – nie baie erg aan mekaar het nie (vergelyk hierná, wanneer die Oos-Kaapse storie ter sprake kom: want op die praktiese vlak was juis dit die motivering vir daardie hele “apokaliptiese” naweek). Gevolglik het hy hom glad nie aan ons versigtige formulering gesteur nie en besluit om – met die oog op die “galery” tuis – uit die vuis ’n perskonferensie toe te spreek, “dat die donners ’n slag kan sien ons laat nie op ons trap nie”.

Ek moes my ergernis sluk: ek weet beter as om in die openbaar met so iemand te bots, en ek sal hom wel weer later kan bykom soos ek hom dáárdie naweek bygekom het. Maar ek erken reguit dat sy optrede my in die wiele gery het. Die referaat wat ek by die konferensie sou lewer (Die Strategiese Waarde van Suid-Afrika se Minerale Hulpbronne vir die Weste) was ingestel op die soort reaksie, ook tuis, wat my sou help om binne die volgende twee jaar president van die AHI te word. Byna twintig jaar al beplan ek my loopbaan soos skaakspel vooruit, vandat ek en Elise van oorsee teruggekom het. Regsadviseur; skakelhoof by die mynhuis. En toe die kans kom om vinnig uit te spring en ondernemer in my eie reg te word (die besonderhede is nie ter sprake nie), was ek daarvoor gereed. Daarvandaan stap vir stap verder: die oorneem van klein uitgewerkte myntjies wat vir die groot maatskappye onlonend was; prospekteer en opsies uitneem tot ek my eie span geoloë in die veld kon stoot; aandele; hier en daar op geleë oomblikke inbeweeg met oornames of konsortiums; grond opkoop vir dorpsgebiede net betyds vir proklamering, in die dae van die groot eiendomsbloei: elke keer, ook danksy my kontakte in en om die Kabinet, net een stappie vóór bly. En die versigtige maneuvers binne die AHI. Berekening: in die mynkamer staan die Afrikaner nog swak, die mededinging is gering – daarom het ek dít my kanaal gemaak: jaarvergaderings bywoon en “gesien” word, voorstelle sekondeer, die regte mense lobby, mettertyd my eie beskrywingspunte voorlê, tot ek die hoofbestuur gehaal het. Soos ’n generaal sy strategie op die slagveld beplan. Tot waar ek nou is. My hoofkwartier op die elfde en twaalfde verdiepings van die gebou in Mainstraat. My eie gebou (dit was een van my grootste coups by ’n oorname), al gebruik ek self net die twee verdiepings. Die res word verhuur. My domein. Die groot kantoor gemoderniseer met matte en perspex en potplante, beskerm deur my valk van ’n sekretaresse (veertig en bekwaam: sedert die episode met Marlene verkies ek middeljarige dames in dié pos), en met my personeel binne bereik. Maatskappysekretaris, hoofrekenmeester, personeelbestuurder, raadgewende geoloog, raadgewende ingenieur; die juniors, van klerke en tekenaars tot tiksters (húlle is jonk, en mooi, en beskikbaar vir “Meneer”). Niks hiervan het ek verniet gekry nie. Niks het toevallig gebeur nie. Alles was vooruitbeplan. En dié konferensie sou my die volgende stoot gegee het, as Calitz dit nie met sy kriminele onnoselheid verongeluk het nie. (En dis nie net ek wat daardeur gekortwiek word nie: dit is die land wat ly.)

Maar goed: in die openbaar is mens “lojaal”. Ons Afrikaners het ons formules. En voor die oë van die wêreld het ons almal by hom gestaan. Net ná die perskonferensie is die ander lede van die sending saam met Sy Edele terug Suid-Afrika toe.

En ek het verskuif na hierdie hotel. Nie dat ek veel teen die vorige in fashionable Mayfair gehad het nie: behalwe moontlik dat hulle, teen £25 per dag (plus VAT), nie eens ’n koppie oggendtee gratis voorsien het nie (net die kakkerlakke was kosteloos). Maar met wat ek in my vroeë romantiese fase ’n “verblindende helderheid” sou genoem het, het ek eenvoudig besluit dat ek nou alleen en incognito wou wees tot ek na Tokio moet verskuif.

Met ’n ongewone gevoel van opwinding oor onverwagte vryheid het ek ’n kabel aan my sekretaresse gestuur om te laat weet dat ek adresloos op ’n kort vakansie gaan en eers ná Tokio sou rapporteer. En toe my vrou geskakel om te sê dat ek vir ’n paar dae na die Lake District vertrek. Sy was nie heeltemal so inskiklik as wat ek verwag het nie.

“Hoekom kom jy nie liewer huis toe nie, Martin?”

“Dis te naby die kantoor. Hulle sal my nooit met rus laat nie. Jy weet mos.”

“Maar ons kan vir ’n paar dae weggaan.” Met ’n ongewone klank van aandrif in haar stem. “Dis so lank laas dat ons –”

“Wees nou redelik, Elise, man. Die end van volgende week moet ek in Tokio wees.”

“As jy vanaand se vliegtuig haal, is jy môreoggend hier.”

Ek het gesug. “Ek sien eenvoudig nie kans vir nog reis nie, Elise. Ek is moeg. Ek word ook nie jonger nie.”

“Ag, nonsens, Martin. Jy’s vyf-en-veertig. Wat is dit nou?”

“Jy weet wat die dokter gesê het.”

“Asof jy jou al ooit aan dokters gesteur het.” En, onverwags: “Of aan enigiemand anders.”

“Dis ’n unkind cut,” het ek stroef geantwoord.

“Ek is jammer, ek het dit nie so bedoel nie. Maar ek raak óók partykeer vasgekeer hier.”

Ek het geraai wat sy bedoel. “Is Ma weer moeilik?”

“Soos jy kan verwag. Sy bedoel daar niks by nie. Maar sy wil net alles uit my hande neem en ek kan dit nie verdra nie. Ek dink nog dit was die verkeerdste ding gewees om haar van die plaas af te gebring het. Sy’s te selfstandig om in iemand anders se huis te aard.”

“Dít het ons tog lankal uitgepraat, Elise.”

“Het ons? Jy het gesê wat jou mening oor die saak is en ons het daarby ingeval.” ’n Kort pouse. “Ag, Martin, moet tog nie dat ons nou weer oor die foon oor alles praat nie. Dit help nie. Ek is maar net oorstuur oor ek gehoop het jy sou –”

“En Ilse?” het ek doelbewus gevra.

“Met ’n klomp maats in die swembad aan die jakker. Luister vir niemand. Sy weet mos jy sal niks verkeerds van haar glo as jy terugkom nie.”

Ek aarsel voor ek vra: “Daar is seker nog nie nuus van Louis nie?”

“Natuurlik nie.” Haar stem klink gesmoord. “Ek wonder of ons ooit weer van hom sal hoor. Tensy iets … Maar jy mors nou jou geld, ons moet aflui.” Met nuwe dog beheerste gevoel: “Pas jou tog op, Martin.”

“Ek sal.” Ek het getalm en toe met skielike berou – maar waaroor? – gesê: “Elise …”

“Ja?”

“Nee, sommer niks. Moet jou nie bekommer nie. Voor jy jou kom kry, is ek weer terug.”

“Ek weet. Tot siens, Martin.”

Met ’n eienaardige gevoel van onbevredigdheid het ek na die telefoon bly sit en kyk en my voorgestel hoe sy tuis die gehoorbuis terugplaas – maar waar was sy nou: in die slaapkamer? in die studeerkamer? – en haar deur die huis gevolg. Die skoon klipkoelte wat nou in die somermaande rustig om mens lê en in die winter onmerkbaar deur ondervloerse verhitting warm word. Die volvloermatte in die slaapgedeelte en teëls van terracotta en keramiek elders. Die boogdeure van Kaapse geelhout; die paar antieke meubelstukke wat met Elise se netjiese aanvoeling aanpas by die gemaklike moderne modulestukke. ’n Paar van haar potte op rakke of in alkowe; haar grof geweefde wolgordyne voor die vensters. Teen die mure Maggie Laubser en Domsaitis en Irma Stern, die twee vroeë Pierneefs en die Wenning, ’n lito van Picasso en die Klee-waterverf wat ek in Stockholm raakgeloop het. Slasto om die kaggel, ingeboude boekrakke weerskant.

Van buite die “vloeiende lyne” wat die meeste van my broer Theo se ontwerpe kenmerk, funksioneel en bevredigend, waarskynlik Marokkaans van inspirasie. En dan die tuin rondom met struike en terrasse en sierbome eenkant (strelitzia, ’n klompie proteas, bloureën oor die pergola, die drie kosbare broodbome wat ons jare gelede stilletjies op Pa se bakkie van die plaas af ingesmokkel het: toe hy nog gelewe het, vóór die kanker en die begrafnis, toe ons nog die plaas gehad het, vóór daardie naweek). Die tennisbaan agter die ry populiere, die akwamaryn kurwes van die swembad. Waar Ilse en haar maters nou joel en spat.

Die koddige oomblik op haar vorige verjaardag, haar veertiende, toe sy en die dosyn meisiekindertjies in en om die swembad te kere gaan in hul onhebbelike klein tangatjies (Ma: “Dis ook net ’n koeklappie en twee doilies deesdae”), terwyl ek patriargaal in my lêstoel met die Sondagkoerante lê en die donsdosies beloer. Toe ek skielik opkyk en sien hoe Louis hulle ook dophou. (Dit was vóór Angola, vóór alles.) Ons oë momenteel in mekaar s’n, hy wat onverwags bloos en tog nie kan help om te glimlag nie. Die eerste keer dat ek besef: Liewe Here, my seun is agtien, ons kyk al saam. En eienaardig dat dit iets gewek het wat ek byna ’n skuldgevoel kan noem, asof ek iets van myself aan hom verklap het.

Daar was ’n minder aangename afloop. Want terwyl ek en Louis bly sit, hy met sy Coke en ek met my bier, en maak of nie een van ons regtig van mekaar of die gladde kinders bewus is nie, het ek aan die oorkant van die swembad agter struike en bome iets sien roer en die tuinier herken. Wat óók staan en kyk, sy graaf vergete in die grond, ’n Brutale jong. Ons het hom net ’n week tevore gehuur ná ons vorige weggeloop het. As ek hom beter geken het, sou ek hom graag nog ’n kans gegee het, maar deesdae kan ’n mens nie risiko’s loop met ’n opgeskote dogter in jou huis nie. Daarom moes ek hom ontslaan. In elk geval, ek het hom twee maande vooruitbetaal, dus kon hy nie klae nie.

Dit was wel nie maklik om ’n plaasvervanger te kry nie, hulle vra deesdae sulke onbehoorlike lone en doen ook niks in ruil nie. Vroeër kon mens nog bandiete huur. Dis hoe ons die tuin oorspronklik kon uitlê en aan die gang kry. So ’n span van twaalf een maal ’n week werk dat jy ’n tuin sienderoë uit niks uit sien vorm kry. In my kinderdae ook, toe was dit net een maal ’n maand: in daardie dorre Griekwaland-Wes was daar nie eintlik méér aan ’n tuin te doen nie. Alles verdor tot stof en gruis en klippers as die reën wegbly. Veertien duim ’n jaar, as dit ’n goeie jaar is. Baie jare drie. En net die doringbome hou. In dié skadetjie het die bandiete dan smiddae hul halfuurtjie uit die son uit probeer rus as hulle hulle snye bruinbrood sit en eet. Partykeer, onder die wag se oë uit, het hulle by ons kinders kom bedel: gewoonlik ’n sigaret of twee wat ons uit Pa se dosie C to C moes gaan steel. En brandspiritus vir die een. Hy het die bottel net so in sy keel omgekeer en dit afgeklok. Daarna, het hy gesê, bang hy niks. Dan kan hulle maar kom: wat hy ook al daarmee bedoel het. Tot die dag dat hy probeer weghol het. Wie het nou ooit gedink een sou probeer ontsnap in daardie dorpie met sy breë stofstrate en sy peperbome, en die vlaktes van klip en withaak rondom? Maar hy het, waaragtig. En net toe hy oor die slap heining klim, kom die wag terug uit die kleinhuisie, nog besig om sy lyfband vas te knoop. Ek was in die agterdeur met ’n sny brood en stroop; Theo was nog binne in die kombuis besig om syne te smeer. Die bandiet het omgekyk en begin hol. Die wag agterna. Rumoer op die werf. Ma se rooi en swart hoenders wat aan die kekkel gaan waar hulle oopvlerk onder ’n besembos lê en gaap het, hul geel ooglede half toe. Die wag was te lywig om die bandiet in te haal. Toe skiet hy. Die ou spiritusdrinker het net daar in die stof geval en soos ’n keelaf skaap bly krul. Geluidloos. Die wag het tot by hom gedraf – in die draad het hy ’n winkelhaak in sy uniform geskeur – en hom begin skop, net daar waar hy met sy af rug lê, en aangehou skop tot ek gevoel het ek gaan opgooi en in die kombuis in terug is. Daar was ’n deurmekaarspul van mense en stemme. Later die vangwa. Ek het deur die kombuisvenster gesien hoe hulle hom optel en soos ’n sak aartappels ingooi, dié bloederige stowwerige hopie wat hy toe was. Toe ek omdraai, het ek gesien hoe swart sit die vlieë in die taai drel vlieëpapier wat van die gloeilamp af hang.

“Vir wat het hy hom so geskop, Pa?” het ek dit eers ’n dag later gewaag om te vra. “Hy’t tog klaar daar gelê.”

“Mens kan nie ’n kans vat met ’n kaffer nie, my boet.” Sy goedige, weerlose oë het my blou-blou deur sy bril aangekyk. “Hy’s ’n misdadiger, hy wou ontsnap. En as jy in ons geskiedenis teruggaan …”

Dit was sy verweer en sy oplossing vir alles. As jy in ons geskiedenis teruggaan. Nou ja, dit was sy vak gewees; hy was een van die min mense wat ek ooit geken het wat volkome gelukkig in sy werk was. Hoe min buitestanders ook kon begryp dat mens plesier daaruit kon put om jaar na jaar aan klas na klas dieselfde geskiedenis te leer. Die ander kinders op skool het hom vervelig gevind; en hulle was bang vir die rottang waarmee hy op seuns en dogters probeer indruk maak het – iets wat ek self altyd vreemd gevind het, iets wat eintlik glad nie by hom gepas het nie. Vir mý het hy op ’n manier begeester. Ek weet nie of dit oor die geskiedenis was of oor hóm nie. Want in ’n sin was hy altyd ver van ons af; met daardie afwesigheid in sy oë, asof hy by ons verbykyk na die vervloë veldslae en groot manne wat vir hom ’n beduidenis van sin aan die lewe gegee het; die oorsake en gevolge van oorloë, die nalatenskappe van beskawings, wat soveel planmatiger en programmaties op ’n afstand was as die onhanteerbare verwarring van die daaglikse koerant. Die geskiedenis was skoon van lyn en bedoeling, soos die fatsoen van ’n vis; vandag was wild en rigtingloos en onvoorspelbaar. Iets van hierdie houding van hom, dink ek, hét my eerlik aangegryp. Daarby was dit moontlik om, déúr die geskiedenis, af en toe die indruk te kry dat ek deurbreek na hom, dat ek iets van sy stiltes en sy afwesigheid begryp, dat die woord “pa” ’n skielike betekenis aanneem. Ek dink die geskiedenis het vir hom ’n metafoor geword van alles wat hy rondom hom nie kon verstaan nie. En die dag toe Pa die boerdery moes gaan oorneem, het iets in hom begin verlep. Hy het aangehou lees; week na week het hy sy stapeltjie boeke van die biblioteek af aangery na sy buitekamertjie op die plaas, en wat hy daar nie kon kry nie, het hy bestel. Maar dit was asof dit hom begin verwilder het. Daar was niks meer wat hy met al sy feite kon doen nie, geen klasse aan wie hy dit meer kon oordra nie. Uiteindelik het die kanker hom graf toe gestuur. Maar myns insiens was dit eintlik toevallig. Was dit nie kanker nie, sou dit ’n ander vorm aangeneem het. Sy eintlike dood was die plaas self, daardie geil stuk heuwelgrond in die Oos-Kaap met sy aalwyne en sy blou lappe syselbos, sy donkergroen ruigtes en die bloedrooi van sy modder. Snaaks hoe fel ek dit nou skielik hier uit die verte onthou.

“Ons” plaas. Nou natuurlik nie meer nie. Nou het ek net daardie mooi tuin, beskut deur die twee meter hoë wit klipmure (bottelstukke bo-op) wat dit soos ’n outydse ringmuur omsluit; en die dubbele ysterhek met die speerpunte bo. En, natuurlik, die honde, ons twee Alsatians, so gedwee soos lammers by die kinders, maar wolwe wat jou uitmekaar sal skeur as jy ongenooi probeer indring. Net Ma kom nie met hulle klaar nie. Maar dit is oor Ma haar eie drie groot raasbek-plaasbrakke met haar wou saambring. Daarom moes ek teen wil en dank die drie aan die slaap laat maak toe Ma van die plaas weg is.

As ek nou terugdink – uit dié weelderige hotel met plush en velvet, blougrys en ougoud, Victoriaanse afdrukke teen die mure van my kamer, en waaragtig selfs sir Joshua se Age of Innocence – kom dit my voor, hoe ver en onwaarskynlik ook in dié omgewing, of ek my lewe lank nog altyd omring was deur geweld. Maar op ’n ander manier as die vroeër Mynhardts, al my ou pionier-voorsate wat hul velskoenspore deur die geskiedenis oopgetrap het: die opstand van Graaff-Reinet, Grensoorloë en Groot Trek, Vryheidsoorloë, Rebellie en Ossewabrandwag. Sonder uitsondering was hulle self die daders, die pleërs, en meermale onvermydelik die slagoffers: manne wat in die Kasteel se Donker Gat beland het of gesneuwel het aan die asgaaie van Kaffers of die koeëls van Kakies, wat hul plase gestroop en hul huise verkool moes sien en van voor af moes begin – en dit ook elke keer, min of meer met die Bybel op die hart, reggekry het. Met my is dit anders. Ek is omring deur geweld, maar onaangeraak daardeur. En teenoor “die lydensweg van ons mense” waarvan Pa so graag gepraat het, besef ek terdeë: behalwe daardie middag by Bea toe die ding my oorval het, het ek self nog altyd skotvry gegaan.

Wat des te eienaardiger is in die lig van wat al in my teenwoordigheid gebeur het. Ek het al bietjie sinies gedink: dalk is dit wat Ma ’n “gawe” sou noem, om so ’n wandelende katalisator vir die gebeur van gewelddadige dinge te wees.

Sou daardie bandiet weggehol het as ek nie in die agterdeur gestaan het met my brood en stroop nie? ’n Verspotte gedagte, natuurlik: as dit ’n geïsoleerde insident was. Maar dit was nie. Theo en ek speel Tarzan in die peperboom; ek spring van ’n tak af en daag hom om agterna te kom, en hy breek sy been. Ons seuns in die rivier onderkant die dorp: swem deur die drif, duik bo uit ’n wilger uit. Net Willem wil nie. “Toe man, moenie ’n ou meid wees nie!” roep ek vir hom. En hy duik, en kom nie weer op nie. Daar was ’n stomp in die modder onder die water. Ons het hom uitgehaal en hy het deurgekom, maar hy was gedeeltelik verlam. Die grusaamste, en op ’n makabere manier ook die snaaksste: die keer, in my derde jaar op universiteit, toe ek Kaap toe ryloop en duskant Bellville teen die pad staan. Daar kom ’n lorrie van voor af aan, hoog gelaai met rommel; teen die kant steek sinkplate uit. En ’n motorfiets steek hom van agter af verby, maar die arme bliksem het nie die sinkplate gewaar nie. En toe ek daarvan bewus raak, kom hier ’n man sonder kop op ’n motorfiets by my verbygejaag met ’n rooi fontein wat uit sy nek uit spuit.

Greta, my universiteitsmeisie, wat op haar fiets by my verbyry dorp toe. Dit is kort nadat ons dit uitgemaak het. Sy draai skielik om – om vir my iets te roep? – en swenk, en tref die trekker met die sleepwa vol kissies druiwe.

Charl Kamfer, briljante dosent (Kunsgeskiedenis), skerp en sinies en homofiel. Die aand toe ek op ’n “onverklaarbare impuls” hom skakel en vra of ek kan kom kuier; en die huis vol lig toe ek daar aankom, al die deure en vensters oop, maar doodstil; en hy in die sitkamer op sy rug op die mat, sy polse gesny en ’n blou sirkel mooi netjies op sy kaal maag om sy naeltjie geverf.

Op Parkstasie, die vrou wat voor die trein inspring, tussen ons almal uit, net ná sy my gevra het of ek haar kan sê hoe laat dit is.

Ná die mynopstand, die klein stukkies mens wat met brandslange van die strate afgespuit word – soos mens muggies van ’n motor se voorruit afwas; soos reën wat die littekens van droogte probeer wegspoel (maar iets bly altyd agter).

Dan seker ook nog die moord, daardie naweek op die plaas. En, natuurlik, as mens dit so wil beskou, ook Bernard; ook Bea. Of raak dit nou vergesog?

Die hele naweek is by wyse van spreke in geweld ontvange en gebore. Miskien moes ek dáárin al die tekens van die apokalips gelees het. Ek sal dit maar neerskryf: dis so ’n “romansituasie”.

Die vorige nag het ek nie veel geslaap nie. Normaalweg sou ek die oggend teen sesuur al in die pad geval het, want dis ver plaas toe: by die agthonderd kilometer. Maar ek het geweet ek sou nie van die hof kon wegbly nie. In die begin kon ek nog daarin slaag, maar teen die end nie meer nie (behalwe wanneer die onluste by Westonaria my weggehou het). Net die slot het nog voorgelê, dié Vrydag. Aan Elise het ek gesê daar was nog werk wat ek moes afhandel, want ek kon nie so ver kom om enigiets omtrent die saak met haar te bespreek nie. Vir Louis sou ek in Pretoria by die parkeerplek oplaai. Om die een of ander rede sou hy die vorige dag al soontoe gaan. Ek het nie probeer vra nie: aan sy norse geslotenheid het ons al begin gewoond raak vandat hy Februarie uit Angola teruggekom het. Dat hy hoegenaamd ingewillig het om saam te ry plaas toe was al verbasend genoeg. Eintlik sou ek verkies het om alleen te gaan. Maar ek het nou eenmaal teenoor Elise onderneem om versigtig te wees. (“In my toestand.”) Bowendien het mens iets soos ’n “vaderlike plig”.

Die wêreld is soos ’n vreemde wildernis so vroeg. Dit kon op ’n ander vasteland gewees het, ’n ander planeet. Dit was nog lank voor sonop, en baie koud, met ’n digte vuilvaal rookmis waardeur net hier en daar iets dring: ’n gebou, ’n verkeerslig, ’n laning toiingrige bome. En dan Ben Schoeman, ’n breë baan in die mis, met glad niks van die Hoëveldse vaalgeel landskap sigbaar nie, net af en toe dowwe gloeiende koplampe wat op die regterbaan van voor af aankom en geluidloos verdwyn. Afdraai by die Monument, Unisa soos die boeg van ’n swaar skip, ’n Vlieënde Hollander wat gou weer verdwyn. En dan die logger teenwoordigheid van die stad rondom. Verkeersligte wat heeltemal sinloos by die kruising van leë strate hul groen en geel en rooi, groen en geel en rooi staan en flits. ’n Paar vragmotors. Putco-busse wat honderde swart bondels uitbraak; oomblikke van joel en roer, en dan weer stilte. Vroeë kafees waar goed in- of uitgedra word, skerms en tralies wat voor vensters verwyder word. Die gesuis en gekletter van melkwaentjies wat verbykom. Skielike walms van fish-and-chips; koerantflardes teen sypaadjies.

Ek het my motor op die leë parkeererf teen Vermeulenstraat ingetrek. Die opsigter het my herken en met dik oë in sy kakiejas nadergestrompel om my ’n geel kaartjie te gee, en met ’n flambojante maar lui gebaar gesalueer. Ek het na Kerkplein toe begin aanstap, Hooggeregshof toe, my voete geprikkel deur die koue en my gesig brandend. Onderweg ’n paar koerante gekoop by ’n ou wat teen ’n konka sit en op sy bakhande blaas, en my aangluur sonder om te praat, sy oë bloedbeloop en geswolle. Seker gisteraand se skokiaan. In vlugtige wit wolkies het my asem voor my uitgestoot. Koffie by ’n kafeetoonbank, bedien deur ’n Griek met vuil vingernaels.

Daar was ’n paar ander bejaste mense in die kafee: die boemelaar met stoppelbaard; die bleek kêrel in sy onvanpaste aandpak met verlepte strikdassie en al (waar het hý oorgeslaap?); die paar ouens in blou oorpakke, kosblik onder die arm; die swartman wat wou witbrood koop maar deur die Griek uitgeboender word: “Where you think I get change for two rand, bladdy fool?”

“I know you got change in the till.”

Die Griek wat om die toonbank kom, borshare deur sy oopknooptrui en los geruite hemp.

“You look for trouble?”

“I want my bread.”

“Go get the right money first. Now you fuck off.”

Toe die swartman bly staan, kom die Griek nader. Maar met dié dat hy gryp, word hy gepootjie. Hy val-val teen die toonbank, gryp na vashouplek en klap ’n ronde bottel met gekleurde lekkers van ’n glaskas af. Toe hy terugswaai, staan die swartman gebukkend voor hom en wag, mes in die hand.

Die paar manne in blou oorpakke het tegelyk nader gekom, asof dit lankal so afgespreek was. Een het die Griek teëgehou; die ander twee het op die swartman toegesak. Daar was ’n kort, kwaai stoeiery. Nog iets het gebreek – die glas aan die toonbank se voorkant is uitgeskop – maar toe buk die swartman onder hulle uit en weg is hy. Met Griek en al is hulle agterna, maar toe hulle in die deur bondel om almal gelyk uit te kom, was daar g’n teken van hom buite nie.

“I phone the police,” sê die Griek en kom blasend, soos ’n hartlyer, met roeiende dik getatoeëerde arms terug toonbank toe.

“Los, man,” sê een van die werkers. “Hulle is nog kapabel en vat jóú hier weg. ’n Witman se woord tel mos nie meer vandag nie.”

Die Griek bly eenstryk deur skakel – stellig verkeerde nommers, want hy is te boos om op te let in watter gate hy sy dik vingers steek. “You all see it,” sê hy oor sy skouer. “You witness for me.”

“Ek moet gaan,” het ek gesê en die regte kleingeld vir my koffie uitgetel en op die gekraakte piering langs die kasregister neergesit. Daar was tog genoeg ander getuies. Bowendien was dit nie so ernstig nie. En ek verkies om nie in sulke dinge gemoeid te raak nie. (Wat sou die uitlander hom in elk geval verbeel? Hulle het altyd hul monde vol oor óns.)

Maar dit het iets omtrent die dag vertroebel. En toe nog daardie laaste ure in die Hooggeregshof.

Bernard, maerder en bleker as wat ek hom ooit gesien het – heeltemal sonder rede het ek met ’n skok onthou: sy skraal, gespierde, bruingebrande rug op die kano voor my in die rasende water – maar oënskynlik onverstoorbaar kalm. Daar was iets amper soos die atmosfeer in ’n kerk, iets gewyds, toe die regter begin praat. Geen ander geluid nie, behalwe die joernaliste se balpuntpenne wat glip oor hul notaboeke; ’n kosyn wat kraak toe ’n Veiligheidsman wat daarteen leun, sy gewig van een been na die ander verskuif sonder om sy gevoude arms oor sy bors te verroer of sy oë van die toeskouers weg te neem.

En toe die onverwagse van die swart toeskouers wat onmiddellik ná die vonnis soos een man opstaan en begin sing: “Nkosi sikelel’ iAfrika”. Tot dit onderbreek is deur die regter se hamer en hofordonnanse wat roep: “Maak skoon die hof! Maak skoon die hof!” En polisie wat oor die relings spring.

Ek het hom nie gaan groet nie. Waarskynlik sou hulle my in elk geval nie onder in die selle by hom toegelaat het nie. Wat sê mens nou ook? Tog het dit my bly hinder. Miskien moes ek maar. Maar met dié Nkosi sikelel’ in my ore was ek eintlik te diep ontsteld om hom ook nog te sien – al sou dit seker vir laas gewees het.

Op pad terug deur die strate, nou kant aan wal van ongeduldige verkeer en mense, het ek dit moeilik gevind om op te let. Telkens het ek teen iemand gebots. Een keer selfs ’n vrou se stapel pakkette oor die sypaadjie laat saai, sodat ek verbouereerd moes buk om dit op te tel terwyl sy aanhou sê: “Can’t you look where you’re going, hey?” Daarom het ek nie dadelik besef wat aangaan toe ek vlak teen die parkeererf voorgekeer word deur ’n skare wat die verkeer opdam nie. Eers toe dit tot my deurdring dat die mense te dik staan om verby te kom, het ek bewus geraak van die getoeter en die gebalk van ’n polisiemotor, van ’n skreeuery, van iets buitengewoons wat aan die gang was.

Nege of tien verdiepings op teen ’n nuwe gebou het ’n swartman op ’n lysie gesit, sy bene oor die rand. Uit hoër vensters het trosse mense halflyf uitgeleun om te kyk; onder het hulle bankvas gestaan rondom ’n oopte wat ’n kordon konstabels voor die gebou afgebaken het.

“Wat maak hy daar?” het ek iemand gevra.

“Hy sit al van elfuur af daar, hulle sê hy wil spring.”

Uit die venster vlak bo die lysie het ’n polisieoffisier geleun en met die swartman probeer praat. Dit was te hoog om te hoor wat gesê word. Maar die swartman het sy bene opgetrek en vasgeskop, klaarblyklik reg vir spring.

En toe begin die mense onder die sypaadjie en op die betonvierkant voor die gebou skreeu: “Spring! Komaan, spring!”

Ek sien hom huiwer en balanseer oor die afgrond. Sien hom sy kop skuins draai. En selfs op dié afstand sien ek die wit van sy oogballe soos ’n dier s’n.

“Spring, man, spring! Komaan! Spring!”

Hy huiwer op die kantjie. En leun dan weer agtertoe met sy kop teen die muur. Miskien is hy duiselig.

Bokant hom praat die polisieman weer. Hy reageer nie.

“Spring!” brul die skare. Dis soos ’n rugbywedstryd. “Nou! Nou! Nou!”

Die man daar bo beweeg weer. Hy skuifel ’n voet of twee verder links, nader aan die hoek van die gebou. En onder hom rumoer die skare en maak vir hom ’n nuwe kol beton oop. Hy stoot een voet oor die rand, soos iemand wat wil swem en die water met sy tone toets. ’n Paar meisies gil ekstaties. Hy trek die been weer terug.

“Spring!” bulder die mense.

Nou hurk hy op die lysie. Dit is so smal dat sy tone oor die rand verbysteek. Hy is kaalvoet: sy skoene staan vier, vyf tree verder op die lys.

Hy leun verder vooroor. Ek kan nie sien of sy oë oop of toe is nie.

’n Gejuig gaan onder hom op. Woorde kan ek nie meer onderskei nie, dis net ’n rou gebrul.

En toe spring hy. Tussen die juigende mense in. Wat eers na ’n halfminuut skyn te besef wat gebeur het en dat dit verby is. En toe begin dit stadig stil word, so stil dat mens ’n vrugteventer op die volgende straathoek kan hoor skree: “Bananas! Bananas!”

Van die agterkant van die mense het ek begin verbydruk.

Eers toe hy my aan die arm vat, het ek opgekyk.

“Louis! Hoe’t jy hier gekom?” Maar natuurlik: ons het tog so afgespreek.

“Het Pa gesien?”

“Ja. Feitlik net toe ek hier aankom, het hy …”

Ek het hom aangekyk asof ek ’n teken in sy oë verwag, ek weet self nie eintlik wat nie. Daardie dag by die swembad, toe ons mekaar daarop betrap het dat ons saam na die meisietjies kyk, toe al was hy vir my vreemd gewees. Nie “my seun” nie, nie die kind wat voor my grootgeword het nie, maar iemand wat ek nie kan peil of aanraak nie: ’n teenstander, ’n ander. Nou het daar maande en droogte en dooies tussenin gekom. En tog was ons ook eensklaps eenders, in gelyke mate aangeraak, gebrandmerk deur wat ons saam aanskou het. Ek het met ’n vorm van hartstog wat ek nie meer in my verwag het nie, gewens dat hy nié daar moes wees nie, dat hy dit nié moes gesien het nie. (Wat tog heeltemal onsinnig was: hy het ’n oorlog deurleef.) Of as hy dit moes sien, dat hy dit dan nie saam met my gesien het nie. Dat ek dalk, met onredelike outydse sentimentaliteit, kon glo dat één van ons nog onskuldig was, één van ons nie besmet deur ons teenwoordigheid in daardie skare nie.

“Kom ons gaan eet,” het ek kortaf gesê, sonder om weer na hom te kyk: asof ek hóm verkwalik. “Ons moet in die pad val. Dis ver plaas toe.”

Na die kwessie van onskuld moet ek nog later weer terugkom. Ook in Bernard het mens dit herken. Dit is nie maklik om te formuleer nie. Wat ek probeer sê, is dat Bernard, in weerwil van die skerpte van sy intellek, sy kompromislose denke wat jou van loopgraaf tot loopgraaf teruggedryf het, in weerwil van wat ek sy “beskawing” sou noem, eintlik primêr die indruk gemaak het van, nou ja, van iets so natuurlik en elementeel as wind of water. (Noem dit weer ’n regressie na die terminologie van my vroeë romantiese fase. Dit wil my voorkom asof die skrywery my teen wil en dank soontoe terugneem. Goed dan. Enigiets wat wil uitkom, moet uitkom. Selfs al voer dit my ’n bietjie mee: ek wil mos nou skrywer speel.)

In sy liggrys klere en blou das was hy die verfynde wêreldburger, tuis in die geledere van internasionale diplomate; in sy advokatetoga het hy, seker ook danksy die bos blonde krulhare, ’n waardigheid vertoon wat mens laat dink het aan die howe van ’n ouer wêreld, Franse galanterie en spieëlsale, die Florence van die Medici, of so iets. Maar selfs dan had hy iets van die natuurmens. Iets wat opvallend geword het wanneer hy aan sport deelneem of ontspan: daardie kanovaart wat soveel vir ons beklink het; op die tennisbaan of in die swembad, maak nie saak nie. Een van die boys. Dié boy.

En vir vroue het dit seksueel aangespreek. Bea self, wat haar so min aan die liggaamlike gesteur het, het gesê: “Ek weet nie wat dit is nie. Maar as hy na mens kyk, is dit of iets in jou maag omkeer, of jou bene water word.” O, Bernard kon kus en keur. En hy hét ook. Nie dat hy ooit die lastige indruk gemaak het van vrouejagter, ’n Don Juan op soek na sekuriteit in bed na bed nie. Hy het ook nooit daarmee te koop geloop nie. Mens het maar net soms, toevallig, agtergekom, as ’n vrou ter sprake kom, dat hy al, by wyse van spreke, “kennis geneem” het. Daarvoor sou sy indruk van hoflikheid, van konsiderasie, ten dele verantwoordelik wees: Bernard het die vermoë gehad om elke mens, man of vrou, met wie hy te doene kry, te laat glo dat hy volledig in jou belangstel, dat jy vir hom belangrik is, dat jy ’n avontuur met hom meemaak.

Dit, en dan ook seker die eienaardige indruk – miskien is dít op stuk van sake wat ek wou sê? – dat hy eintlik seun gebly het. Niks kinderagtigs nie. Net dat hy iets van die onbelemmerdheid, die kaalvoetheid van ’n seun behou het. Dat hy selfs middeljarig nog iets van die enfant terrible gebly het. Dat hy dit werklik bedoel het as hy sê: “Leipoldt moet maar sy somer en sy son en sy saffier en goed vat as hy wil. Al wat ék wil hê, is dat ek nooit te oud moet word om ’n heilige koei in die balls te skop nie.”

Was daar ook wensdinkery by toe ek negentien jaar gelede, by Louis se geboorte, vir Bernard gevra het om sy peetvader te wees? Want van my eerste LLB-jaar af, toe ek nog na hom opgesien het as dosent in Romeins-Hollandse Reg, was Bernard my “held”. Dit was ook hy wat my aangemoedig het, toe hy agterkom van my belangstelling, om te skrywe. En na hóm, eerder as na die literatuurdosente soos professor Pienaar, het ek my eerste romantiese pogings geneem vir kommentaar. Waarmee hy tegelyk vernietigend eerlik en simpatiek kon wees. Een keer het hy selfs my enigste kopie van ’n kortverhaal in die latrine afgespoel.

Wesenlik was sy houding (ek kan nie nou dialoog vind daarvoor nie): As jy ’n ding wil aanpak, dan doen jy hom óf goed óf glad nie. Op die oomblik is jy nog besig om jou ambag te leer ken en om jousélf te leer ken. Maar as jy ernstig genoeg is, sal jy nog eendag jou roman skryf, moenie worry nie. Daaroor kan net jy besluit.

Ek het toe nooit. Die naaste wat ek daaraan gekom het (afgesien van ’n klompie kortverhale), was toe ek stapels en stapels aantekeninge gemaak het ná ons kanovaart. Dáárin het ek iets aangevoel wat ek wou beetkry, iets omtrent hom en my, iets omtrent die romantiese konsep van “menswees”. Maar iets het my ook bly ontglip. Ek het dertig bladsye getik en weggegooi; ’n jaar later weer begin en tot iets in die vyftig gevorder. Toe sat geword vir die hele spul en besluit om te wag tot eendag. En sakeman geword. Ensovoorts. (En nou skielik!)

Ek weet nog steeds nie of ek daardie onderneming met die kano heeltemal begryp nie. Dis ook so lank gelede en ’n mens groei weg van jou vorige selwe. Miskien is dit beter om dit met rus te laat. En was dit nie vir dié nege dae en die kans, of die nood, om te sorteer en te organiseer en te rangskik nie, sou dit bly lê het. Maar sedert daardie naweek is niks meer vanselfsprekend of maklik nie. Ek het dit ook al gesê. (Dis baie laat; ek is moeg; selfs die hande van die Thailandse meisietjie weinig meer as herinnering.)

Ons het op universiteit al gepraat oor so ’n kanovaart, maar dit het nie gebeur nie. Toe is hy weg om aan die Kaapse balie te praktiseer en ek self is ná my LLB oorsee. Nie een van ons was ’n danige korrespondent nie. Ek het die eerste jaar nog min of meer literêre briewe aan hom geskrywe (en deurslagkopieë gehou “vir eendag”). Toe nog net met Kersfees of verjaardae.

’n Paar maande ná ek uit Londen terug was, het hy sonder waarskuwing by my opgedaag. Deur die jare sou dié skielike verskyning (gewoonlik wanneer hy vir sake Transvaal toe moes kom) kenmerkend van hom word. En die besondere was altyd dat ons by elke herontmoeting eenvoudig kon voortgaan asof ons mekaar nog die vorige aand gesien het. Inderdaad die enigste blywende vriendskap van my lewe.

Ek en Elise was pas gevestig toe hy daardie eerste keer so kom kuier het, en dit was nie maklik om by haar verby te kom nie. Sy was swanger (die kind het sy verloor; en toe was dit meer as ’n jaar voor Louis gebore is) en wou my by haar hê. En wat Bernard voorgestel het, wás eintlik buitensporig. Ek kan dit só rekonstrueer: “Daardie kanostorie waaroor ons altyd gepraat het: stel jy nog belang?”

“Natuurlik!” het ek, seker uit gewoonte en bygelowigheid, geantwoord. “Ons moet regtig nog eendag …”

“Nee. Nie ‘eendag’ nie. Ek het jou kom haal. Jy vat twee weke vakansie en ons ry môre Aliwal toe.”

“Maar jy’s mal in jou kop, Bernard.”

“Goed, dan is ek mal in my kop. En jy? Of het jy al te respektabel geword?”

“Natuurlik nie. Maar mens kan tog nie sommer so …”

“Hoekom kan mens nie sommer so nie? Dis die enigste manier om iets gedoen te kry. Jy besluit; en jy doen dit. Want as jy eers begin wik en weeg en pas en meet …”

“Ek moet darem eers met Elise …”

“Ek wil weet wat jý wil doen.”

“As dit van mý afhang …”

“Nou goed, dan’s dit nie ’n kwessie nie. Ons gaan.”

“Maar Bernard …”

“Wag nou.” Hy het sy blonde hare geskud om hulle van sy voorkop weg te kry. Sy oë was vol van die laggende erns wat ek al die jare geken het. “Dink nou bietjie, Martin: ek is oor ’n jaar dertig. Jy is besig om ’n huisdier te word. Een van die dae is dit net eenvoudig te laat. Dis nou, of anders is dit nooit.”

Ek het geweet dat hy gelyk het. Ons het diep in die nag in gepraat; toe moes ek dit nog met Elise regmaak. En sy wou ons nie groet toe ek en hy die volgende middag ry nie. Ek het, eerlik, amper weer omgedraai. Waarom het ek nie? As ek moet probeer rasionaliseer, sou ek sê: Nóg Bernard nóg ek het ooit iets buitengewoons beleef. Goed, hy het die vermoë gehad om uit alles avontuur te maak, maar objektief beskou was ook sy lewe betreklik voorspelbaar en gewoon. Nie een van ons het ’n oorlog deurgemaak nie. Vir ons was die Wêreldoorlog beperk tot nuus oor die radio saans, pratery van grootmense: “Duitsland”, “die Russe”, “Churchill”, “’n bom”; en vlaggies in die strate, V-dag – en ek het pak gekry toe ek huis toe kom, oor ek met ’n klein Union Jack in die straat geloop het. Alles was beperk tot gerugte, ons lewe lank eintlik. Miskien hét mens behoefte om darem een keer in jou lewe jou nietigheid, jou hele bestaan, alles wat jy het, op die spel te plaas teenoor iets geweldigs. Ander mense, ander generasies, in ander omstandighede, word teen wil en dank daarin gedompel. Ons kennis was tweedehands; ons moes op soek gaan na ’n werklikheid. In destyds se stapels aantekeninge, dink ek, het die nadruk vir my geval op die soek na heroïek, die nodigheid om te wéét van iets groots en ontsettends. Nou lyk dit my eerder of die teendeel ter sake was: nie ons heldhaftigheid nie, nie die ekstase van heroïek nie, maar juis die beleef van ons eie verskriklike kleinheid.

Daar was één stroomversnelling, so ’n vier dae nadat ons van Aliwal af weg is, waar die rivier van ’n lui, breë plaat water baie skielik tussen regop rooi kranse deur vernou het tot seker nie meer as vyftig tree nie, ’n rasende stroomversnelling van spierwit skuim tussen skerp rotsriwwe deur. Ons het die ongewone dreuning van ver af gehoor, maar nie behoorlik besef wat dit voorspel nie. Toe ons ons kom kry, is ons om die draai in die voorloper van die versnelling. Vir die eerste keer het ek besef: dis nou g’n avontuur nie, g’n gewone gevaar nie: hier kan mens jou lewe verloor. Maar dit was onmoontlik om koel te dink. Gedagtes is opgeskort toe ons daardie noute inskiet. Angs? Seker, onvermydelik. Eerder ’n soort doodsekstase. Daar was werklik niks dappers omtrent nie. Júís nie. Dit was so ’n nietigheid om in daardie skeur in te pyl, so ’n totale sinloosheid, dit was amper obseen. Ons kón nog die kano’s kant toe stuur en uitklim en oorland gaan tot anderkant die versnelling, maar nie een van ons het dit eens oorweeg nie. Ek weet nie van Bernard nie, maar ek het byna gevoel ek wil hê dat as daar ’n ongeluk gebeur, die mense moet sê: “Maar my God, vir wat was hulle so dêm onnosel?”

Na die eerste stuk of vyftig tree was daar ’n bog in die ravyn. Bernard was ’n entjie voor my. Ek het net gesien hoe sy kano vorentoe skiet asof ’n hand dit beetkry en wegsmyt. En eensklaps was die branders sewe voet, agt voet hoog. In daardie oranjebruin maling in het hy om die draai verdwyn. En miskien is dit die één beeld wat ek altyd van hom sal behou, lank ná die toneel in die hofsaal uit my weggesak het: die regopheid van sy lyf, sy smal kaal rug en die donkerblou baaikostuum, en die nat wit hare, en die spiere op sy skouers soos hy sy spaan swaai om sy ewewig te probeer behou.

Toe hy voor my om die draai wegraak, toe weet ek net: Nou’s dit ek.

En daar is ek ook in die versnelling in. Ek kon niks sien deur die stortende water nie; niks hoor nie, behalwe daardie dreuning asof daar donderweer onder die aarde rammel. En onderkant die bog het die stroom ons uitgesmyt in ’n kuil waar alles in die rondte tol tussen nat moswande so hoog dat die son jou nie onder bykom nie. Iets het geskreeu – ’n visarend, het ek agterna gedink, so ’n onaardse geluid: tog seker nie ek of Bernard nie – en tussen die wande het dit weergalm soos ’n splinter wat in jou oortrommel steek.

Bernard was nog daar voor my, sy kano ’n oomblik soos ’n tol aan die tol voor hy dit weer onder beheer kon kry. Daar was ’n boomstomp ook, skuins voor hom, ’n yslike wilger wat êrens met wortel en tak uitgeruk is. En ons het gesien hoe dié ’n keer traag in die rondte draai en toe inpyl na die hart van die kolk in die kuil en doodeenvoudig verdwyn en nie weer opkom nie.

Ek het iets vir hom geroep; en hy vir my. Ons het met verspotte geweld begin roei. Verniet, natuurlik. Teen daardie malende water was ons minder as okkerneutdoppies. Maar op die een of ander manier het dit tog gebeur dat ons by die kolk se oog verby is, net-net teen die rand verby. En sonder dat ons eintlik bewus was van hoe dit gebeur het, het ons verder afgedryf, in ’n nuwe breedte in, tot die water ons vanself teen die kant uitgestoot het. Daar het ons uitgeklim en die kano’s op die wal gesleep, en ons nat goed losgeskud, en in die son gaan lê en bewe. Nie een van ons het ’n woord gepraat nie. ’n Halfuur later het ons begin vuur maak, rooster opgesit, wors gebraai. En toe gaan sit en eet. Nog steeds kon nie een van ons praat nie, want daar was niks van wat gebeur het waar ons met woorde kon bykom nie.

Dit was ons enigste artikulasie van alles wat ons deurlewe het: om daar te sit en wors eet.

Nou sit ek hier, in dié blou en ougoud kamer, met ’n hele leeftyd in ’n noute en ’n kolk. Die noute van één naweek toe alles op die spel was. En ek weet nie hoe om daarby uit te kom nie: net dat ek moet.

Wat ek wil weet, is: Waarom laat jy my nie met rus nie, Bernard Franken? Ek het daar tog niks mee te doen nie. Niemand kan mý verantwoordelik hou vir wat gebeur het nie.

Charlie Mofokeng: “Natuurlik hou ek jou verantwoordelik. Vir jou en vir elke ander witmens in die land.”

“Nou’s jy onredelik, Charlie. Ek het vandag se situasie geërf net soos jy. Nie een van ons is tog te blameer vir wat ons voorvaders gedoen het nie.”

“Dis nie waarvan ek jou beskuldig nie. Wat ek jou verwyt, is dat die geskiedenis jou niks geleer het nie.”

“My geskiedenis het my daarvoor toegerus om in hierdie land te oorleef!”

“Dink jy so? Jou geskiedenis het jou hoogstens geleer om ander te wantrou. Jy’t nooit geleer om met ander saam te leef of te deel nie. As jy in ’n noute gedryf is, het jy jou wa gepak en weggetrek of met jou geweer dooierus op die Bybel geneem en geskiet. Op ’n oop vlakte het jy laer getrek. En as jy grond wou hê, het jy dit gevat. Met of sonder die voorwendsel van ’n ‘kontrak’.”

Dié soort skerp eensydigheid was kenmerkend van Charlie Mofokeng. Ek het hom nooit heeltemal ernstig opgeneem nie – net so min, seker, as wat hy my sonder ’n knippie sout geneem het. Tussen ons was dié soort argument, so het ek my dit altans voorgestel, ’n intellektuele oefening. Knap man. Wat in party kringe met waardering en in ander met argwaan ’n “slim kaffer” sou heet. BCom van Fort Hare; en toe nog ’n graad aan Cambridge. Klein mannetjie, biltongmaer, ietwat koddig van postuur soos ’n boompie wat een winter deur ryp geknou is en eers na ’n ruk weer skewerig verder gevorder het. Met Cassius se lean and hungry look verskans agter ’n bril veels te groot vir sy gesig. En met ’n glimlag wat pal soos ’n rou wond oor sy gesig lê.

Ek dink as ons mekaar oorsee ontmoet het, sou ons groot vriende kon geword het. Soos ek en Welcome Nyaluza destyds: nie net oor die gebrek aan sosiale druk dit moontlik gemaak het nie, maar oor ’n soort spontane neiging wat ons, soos ystervylsels wat mens met ’n magneet uit ’n sandmengsel onttrek, in dieselfde spanningsveld laat beland het. Goed, ons het ’n gesamentlike renons in die Engelse gehad (Charlie ook). Maar ook (as ek nou, soos destyds, mag romantiseer): in daardie noordelike atmosfeer het ons in mekaar en vir mekaar ons suidelike wêreld werklik gehou. Daar ver oorsee was ons verbind deur dié land; en tog ook, eienaardig, daarvan bevry. Binne-in ons, soos gene, was die bitter bossies van die Karoo, die stroewe heide van die berge, bloeiende sonsondergange en nagte vol sterre, boorde en wingerde en windverwaaide mielielande, klippe aangevreet deur duisend eeue, die oopgeskopte mierneste van stede, die stof van stofstrate in dorpe, die blou lampe voor polisiekantore en die onbesonne gejubel van kwêlafluite, die klik-klik-draf van tarentale in droë gras en die trippelspoortjies van strandlopertjes, die ruik van boegoe en rookvure: ons het saam daarna verlang, en daaroor gepraat as ons soms eenuur snags by ’n slotmasjien kartonnetjies melk koop en dit op die sypad sit en drink.

Iets hiervan het ek op Charlie oorgedra. Ek weet nie presies waarom nie, miskien het sy onverwagte groot basstem my aan Welcome herinner; miskien maar net oor hy die enigste swartman is wat ek min of meer “ken”, sodat ek my moet beroep op wat ek voorheen van so iemand geken het. Maar dit het nooit heeltemal oopgeraak tussen ons nie. Vanselfsprekend nie. Ons kom by die werk met mekaar in aanraking en korswel soms, of redeneer of hou beraad. Daar was natuurlik ook die keer in Soweto. En ek het hom ’n paar keer oorgenooi as ons besoekende buitelanders moes onthaal. Maar dit is bietjie moeilik met die bediendes. Hulle verstaan nie so iets nie en mens probeer ongemaklike situasies vermy.

Maar ek en Charlie kom goed klaar. Ek dink ek kan sê dat ek as Afrikaner my swartman ken. Ons het tog in hoë mate dieselfde agtergrond, dieselfde plaasherkoms; ons het oor ’n paar honderd jaar met die land en die elemente self kennis gemaak en nie maar later agternagekom en verower soos die Engelse nie; en ons is albei, hoe detribalised ook al (dit is sy eie argument dié), gekondisioneer deur dieselfde stambewustheid. Op ’n manier respekteer ons mekaar.

Is daar een van die groot Engels-georiënteerde mynmaatskappye in die land wat ’n swartman soos Charlie sou aangestel het op die tydstip dat ek vir hom die pos in my onderneming geskep het? (Toegegee, dit was Bernard wat hom na my toe gebring het en van geen teenpraat wou hoor nie: “Ek gee nie om wat jou verkrampte bestuurskollegas sê nie, jý sorg dat julle vir Charlie Mofokeng ’n pos kry. En ek praat nie van bode of iets nie. Skakelman tussen julle wit base op Olimpus en die gatgrawers daaronder. Voor hulle vir julle in julle eie gate begrawe.”)

Ek het dit gedoen omdat Bernard se voorstel aangepas het by my eie sienswyse. Ek is nie ten gunste van swart vakbonde nie: dié mense is in die huidige stadium eenvoudig nog nie ontwikkeld genoeg om so ’n gesofistikeerde Westerse organisasie te kan behartig nie. ’n Kwessie van evolusie. Hulle moet eers die verband tussen inspanning en verdienste leer snap. Hulle moet opgelei word. In ons ekonomiese stelsel moet hulle leer om verbruikers te word ten einde produksie te help opstoot. Dáár lê myns insiens die enigste rasionele beginpunt vir die behoorlike ontginning van menslike hulpbronne in hierdie land. Daarom het ek dadelik die moontlikhede van ’n pos vir Charlie Mofokeng ingesien. ’n Skakel in die ketting; ’n stap in die regte rigting.

Dit het ook inderdaad vrugte afgewerp. Deur agtien maande van toenemende nywerheidsonrus in die land het mý kompleks van maatskappye verbasend vreedsaam en gestadig bly ontwikkel. Dit wil sê, tot Meimaand vanjaar.

Die gebeure is so bekend uit die koerante dat ek dit nie weer uitvoerig wil herkou nie: ek is in elk geval hier besig met ’n meer private, persoonlike ondersoek, waarby die openbare net belang het in die mate waarin dit ’n dieper en innerliker neerslag gekry het. (Ek klink al meer soos ’n skrywer.)

Daar was die loonkwessie wat by die meeste van my ondernemings gou opgelos is maar by die myn op Westonaria bly voortsloer het. Ek het al tevore dié soort moeilikheid gehad: ’n konflik tussen die trekarbeiders en die plaaslike sjebeenmense. Die arbeiders kom op die myn werk om geld te verdien wat hulle kan terugneem huis toe: vir hulle gaan dit om die koop van ’n vrou of so iets, vir my om die ontwikkeling van die tuisland deur kapitaal in daardie rigting te kanaliseer. Maar wat gebeur? Die arbeiders mors hul hele verdienste uit op drank en hoere. Die hele ekonomiese situasie word daardeur gestrem. Daarom het ek bepaal dat die helfte van die trekmanne se lone voortaan direk na die werwingskantore in hul tuislande gestuur moet word, waar hulle dit ná hul terugkeer kan kry. (Dit ís tog die doel waarvoor hulle in die eerste plaas kom werk het!) Uiteraard moes ’n paar sent in elke rand by wyse van administrasiefooi gehef word, met die gevolg dat die arbeiders uiteindelik ’n ietsie minder as vroeër uitgekry het: maar gesien die feit dat dié geld vroeër in elk geval vermors was, kan ek nie begryp waarom só ’n kleinigheid hulle so buitensporig moes ontstel nie.

Agitators, waarskynlik. Dit gebeur gereeld. Of anders het die mynbestuurder op Westonaria net nie die saak reg gehanteer nie. Ek weet hoe nodig dit is om in onderhandelinge met swartes baie geduldig en uitvoerig te verduidelik; en ek vermoed die mynkaptein was oorhaastig. Daarom is ek self vroeg in Junie, toe die tekens dreigend begin lyk het, saam met Charlie soontoe om persoonlik met die arbeiders te gaan praat.

Dit was doodstil in die kampong – een van daardie bleek, oop Wes-Transvaalse winterdae wanneer dit so stil raak dat jy in ’n windroering elke afsonderlike wit grassprietjie kan hoor skuur – toe ek en Charlie uit die motor klim. Die mynkaptein en sy paar wit personeellede het ons ingewag, hul gesigte stroef en vermoeid asof hulle lank laas geslaap het. Agter die sinkkantore het die myn se paar honderd arbeiders in ’n grimmige falanks gestaan en wag. Daar was net ’n effense lae gemor toe ons met ons megafoon op die stofgetrapte oopte voor hulle verskyn; soos ’n bynes in ’n miershoop.

Ek het met die grootste omslagtigheid en heelwat beeldspraak die saak uiteengesit en Charlie gevra om te tolk. Om hulle aan die verstand te bring dat selfs met die paar sent wat hulle inboet, hulle uiteindelik meer kontant sou oorhou in hul eie gebiede. Dit het byna ’n uur in beslag geneem. Eers toe ek baie seker was dat daar geen twyfel omtrent die regverdigheid van die stelsel kon bestaan nie, het ek strawwer begin praat: want ek weet ’n swartman hou nie van weifeling nie. Die taal wat hy verstaan, is fermheid, gesag, ’n harde maar regverdige hand. Dit het hy uit sy stamtradisie, wat nie so ver van ons eie Ou-Testamentiese ondergrond is nie.

“Nou wil ek nie meer moeilikheid hê nie,” het ek gesê, of woorde met daardie strekking. “Die myn se produksie begin daaronder ly en dit kan nie geduld word nie. Op die ou end is dit julle self wat die spit afbyt. Dié wat nie môre vir die oggendskof aanmeld nie, kan maar solank reëlings tref om huis toe te gaan.”

Ek het Charlie weer gevra om te tolk. Hy het ’n rukkie kop onderstebo gestaan voor hy begin praat het, seker ’n kwartier lank. Danksy ons plaas in die Oos-Kaap verstaan ek ’n bietjie Xhosa, maar Charlie se Sotho kon ek nie volg nie. Ek het hom egter laat begaan, want ek ken hom as ’n gebore onderhandelaar.

Toe hy uiteindelik na my toe terugdraai, vra ek: “Is hulle tevrede?’

“Nee,” sê hy. “Hulle wil hulle geld voluit hê.”

“Sê vir hulle reguit dis onmoontlik. Dis in hul eie belang dat hulle geld terugneem. Hoe dink hulle gaan die tuislande ooit verder kom as hulle alles hier uitmors?”

Charlie het weer oor die megafoon begin praat. Aanvanklik was daar ’n heftige woordewisseling tussen hom en party van die arbeiders; maar stadigaan het hulle stil geraak voor sy oortuigende retoriek. En toe hy afsluit, is hy toegejuig met ’n donderende: “Siya vuma!”

Ek het tevrede gevoel toe ek ná ’n koppie tee in die mynbestuurder se kantoor terugkom by die liggrys Mercedes waar Charlie intussen gesit en wag het.

“Nou ja,” sê ek. “Dit wys jou mens moet net weet hoe.”

“Ja.” Hy wag tot ons by die groot hek in die dubbele omheining uit is, op pad terug na die hoofpad van Potchefstroom na Johannesburg, toe sê hy: “Die moeilikheid lê nog voor.”

“Wat bedoel jy?”

“Ek het nie vir hulle gesê wat jy gesê het nie.”

“Wat?!”

“Ek het gedink jy wil seker lewendig daar uitkom.”

“Maar jy kan mos nie sommer …”

“Jy weet nie hoe kwaai daardie manne is nie.”

“Dit maak nie saak nie.”

“Dit maak saak!” Ek glo nie hy het al tevore op daardie toon met my gepraat nie, en ek het my vererg. “Kyk,” het hy gesê, “dis erg genoeg vir dié wat in Johannesburg werk. Hulle sit ook daar in die kampongs soos in ’n dieretuin. Maar hulle kom darem partykeer uit, hulle sien bietjie stad, hulle doen bietjie shopping, hulle dans vir julle toeriste op die mynhope Sondae. Maar dié lot hier – Jesus, man, hier sit hulle agter doringdraad en dis net stof en gras tot waar mens ophou sien. Hulle wil drank of vrou hê. Hulle wil iets hê.”

“Wat het jy vir hulle gesê?”

Hy het sy glimlag na my gedraai dat ek die ligroos van sy tandvleise sien. Agter sy bril het sy oë soos ’n verkleurmannetjie s’n gelyk. “Moenie vir my vra nie,” sê hy. “Jy weet wat die mense sê: moenie by die kampvuur loop vertel van die nes wat jy gekry het nie, want die voëls sal hulle kleintjies versit.”

Ek het by ’n toegeeteken stilgehou en gewag op ’n groot meubelwa voor ek die rem laat skiet en die Mercedes vanself geruisloos links in die hoofpad indraai.

“Wat het jy vir hulle gesê, Charlie?”

“Ek het gesê jy weet hoe ontevrede hulle is. Jy weet dat hulle reg het om so te voel. Jy gaan die saak regmaak. Maar jy moet eers met die indoenas die hele ding uitpraat. Hulle het gesê dis goed. Maar hulle moet voor die naweek weet, anders werk hulle nie verder nie.”

“My God, Charlie!”

“Die meeste van hulle het kieries by hulle gehad,” sê hy kalm. “Party koevoete of kettings. Onder hulle jaste.”

Ek was bereid om die administrasiefooi af te skaf – op voorwaarde van hoër produksie en ’n onmiddellike afsien van alle verdere betogings. Op stuk van sake kon ek my nie laat afdreig nie.

Die besluit is na die mynkaptein op Westonaria getelefoneer. Dit was die Donderdag. Vrydagoggend het die werkers begin staak. Die skaars tien persent wat na bewering bereid was om te werk, is deur die ander geïntimideer; twee is met ernstige beserings hospitaal toe geneem.

Saterdag het die geweld begin uitbrei. Oral van die Rand af het polisieversterkings begin saamtrek op Westonaria. Nog voor hulle volledig kon mobiliseer, het die mynkantore in ligte laaie gestaan. Gelukkig het die mynbestuurder daarin geslaag om net betyds weg te kom. Daarop het die stamgroepe – Xhosa’s, Zoeloes, Tswanas en Sotho’s – mekaar begin toetakel. Dit gebeur mos altyd. En eers teen Sondagmiddag kon die polisie dit waag om te gaan opruim.

Maandag het ek Charlie Westonaria toe gestuur om te gaan bestek opneem van die situasie, en die volgende oggend het ek self gaan kyk. Die polisie – daar was nog ’n stuk of honderd man met outomatiese wapens ’n ent van die ingang af op wag – was nie danig gediend met die gedagte dat ek my op die terrein waag nie.

“Dit sal nie die eerste keer wees dat ek met ’n spul oproeriges praat nie,” het ek my verweer.

Maar ek was tog nie baie op my gemak toe ek voor die groot hek stilhou en toeter nie. In die verte was mense in blou oorpakke besig om die teer skoon te spuit. Net doodkalm bly, het ek besluit. Wat jy ook al voel, moenie dat hulle agterkom jy voel ongerus nie. Dis soos ’n kwaai hond: as hy sien jy’s nie bang nie en jy kyk hom in die oë, dan kry hy respek.

Dit was Charlie wat hek toe gekom het. Maar op sy hakke was daar ander – ’n voorhoede van tien of twintig, en ’n ononderskeibare gepeupel in die verte. Nou nie meer soos die vorige week gehul in jasse nie, maar kaal of halfkaal in weerwil van die Juniekoue. Die skokkendste was om Charlie self so soos ’n barbaar te sien lyk.

Ek het by die venster uitgeleun.

“Maak oop, Charlie. Ek wil met hulle praat.”

“Nee!” het hy teruggeroep.

Agter hom het die voorhoede effens nader gekom.

Ek het die Mercedes afgeskakel en uitgeklim om hulle te wys ek is manalleen en ongewapen en nie bang nie.

Weer daardie gemor van bye van die ander dag.

“Hulle wil jou nie hier hê nie,” het Charlie gesê.

“Ek kan mos nie net hier omdraai soos ’n papbroek nie! Wat sal oorbly van my gesag?”

“Daar’s klaar niks oor nie.”

Agter sy bril het sy oë my weer opgeval: nou meer opgehewe, bloedbelope as gewoonlik. Het hy die nag nie geslaap nie? Of die een of ander onnoemlike brousel saam met die spul gedrink?

“Charlie, maak oop die hek!” het ek gebied.

Hy het die slot oopgesluit, maar die hek net op ’n smal skreef oopgestoot en met sy maer, skewe lyf uitgekom na my toe. Agter hom het die drom mense nog nader gestoot.

Toe vang hy my heeltemal onverhoeds. Hy draai half om na hulle toe en stoot sy vuis in die lug en skreeu iets. ’n Oomblik later buk hy en tel ’n baksteen op. En terwyl hy my aankyk, sy gewone glimlag verstrak tot ’n grimas, smyt hy met albei hande die baksteen dwarsdeur my voorruit. In die kampong gaan ’n geskreeu op. En ’n ent agter my hoor ek polisiemotors in beweging kom.

Ek het nie langer gewag nie. Ek het in die Mercedes gespring, ’n stuk van die versplinterde ruit uitgestamp en gemaak dat ek wegkom. Tussen my en die hek het ’n wolk stof in die lug bly hang.

“Wat het jou besiel?” het ek verwoed gevra toe Charlie die volgende oggend gehawend en uitgeput by die kantoor terugkom. “Het jy weer ’n bleddie barbaar geword of wat?”

Dié keer het hy nie geglimlag nie. “Wat wou jy hê moes ek doen?” het hy gevra. “As ek jou nie skrikgemaak het nie, het hulle jou daar uitmekaar geskeur. En nie net vir jou nie, maar vir my ook.”

“Wás dit toneelspel, Charlie?” het ek gevra, met ’n strammigheid in my keel.

“Ek wil bedank,” het hy skielik gesê. “Ek kan nie so aanhou nie. Ek is ’n sell-out, dis al. Ek knoei al glad saam met julle.”

“Jy is net oormoeg, man. Daar’s tog g’n sprake van sell-out wees as jy help om bietjie rus en vrede te stig nie.”

“Deur my eie mense uit te verkoop?”

“Dis net ‘uitverkoop’ as jy dink in terme van groep teen groep. Hier is tog iets belangrikers op die spel, man.”

“Wie het ons geleer om te dink in terme van groep teen groep?”

“Wees nou redelik, Charlie.”

“Ek is gatvol vir redelikheid.”

“Wil jy regtig soos een van daardie spul word?” vra ek en kyk hom stip aan. “Jý?”

Deur sy ou, moeë, verkleurmannetjie-oë kyk hy my aan, asof hy my oor ’n groot afstand skaars kan sien. God, besef ek: die man ís gedaan.

“Sal jy my help?” vra hy. Sy stem klink soos droë gras wat skuur oor klippers. “As ons saam iets uitwerk, kan ons miskien deurbreek. Hulle het nou begin bedaar.”

“Ons kan. Natuurlik. Ek sal Maandagaand terug wees – ek moet die naweek weg.”

“Dit sal beter wees as ons die saak eers regsien.”

“Dis onmoontlik, Charlie. Ek móét Oos-Kaap toe. Dis dringend. En jy sê self hulle is nou uitbaklei.”

“As dit dan nie anders kan nie.” Hy glimlag uit blote gewoonte, totaal vreugdeloos. “Maar dis jammer. Dis bliksems jammer.”

Dit was eienaardig hoeveel teenstand ek moes oorkom om daardie naweek weg te gaan plaas toe, asof allerhande mense en dinge my wou belet. Charlie. Bea natuurlik, die dringendste van almal. Maar ook Elise, wat tog deur twintig jaar getroude lewe aan my kom en gaan gewoond moes geraak het.

“Ek kan nie verstaan wat jy vir ’n naweek daar wil gaan doen nie, Martin. As jy nou behoorlik vakansie wil neem vir ’n paar weke, dan kan ek en die kinders ook saamgaan.”

“Dis onmoontlik.”

“Maar dis so ver vir ’n naweek. In jou toestand.”

“Hou in vadersnaam tog op om so van my ‘toestand’ te praat asof ek swanger is of iets.”

“Maar dis nog skaars drie maande vandat jy –”

“Wat daarvan? Ek gaan tog nie die res van my lewe ’n invalide bly nie.” Ek het ’n ingewing gekry: “Buitendien wil ek vir Louis saamneem.”

Dit het haar verras. “Louis?”

“Dis hoog tyd dat ek en hy ’n slag alleen by mekaar uitkom. Hier lê hy nou al van Februarie af rond. Wil nie terug universiteit toe nie, wil niks meer doen nie. En dit help nie om hom trompop te loop nie, dan slaan hy net toe. Maar as hy saamgaan, dan kan ons ’n slag die saak tussen mansmense uitpraat.”

“Belowe jy?”

“Ek sê jou mos.”

Sy het my ’n rukkie stil sit en aankyk. Ons was nog aan tafel; die leeslamp in die hoek het gebrand. Ilse het vroeg al verskoning gevra en in haar kamer gaan leer, dit was eksamentyd. Louis was – êrens. Hy het nie ingekom vir aandete nie. Dit was ongewoon dat ek en Elise so alleen was vir aandete: gewoonlik het ek laat gewerk en sommer iets in die oond gekry as ek terugkom; anders was daar ’n partytjie of ’n onthaal of iets. Maar ek het direk van Westonaria af huis toe gekom, moeg en ontsteld ná wat daar gebeur het, en nie lus vir argumenteer nie.

In die stilte moes ek na haar kyk, van haar kennis neem. Miskien was dit die lig so van die kant af wat my vir die eerste keer pertinent laat besef het: sy word ook ouer, sy lyk haar jare, twee-en-veertig. Met hier en daar ’n grys strepie in haar donkerblonde hare, argeloos in ’n bolla agter haar kop vasgemaak. ’n Ou, vormlose trui los oor haar skouers, hoewel die binnenshuise verhitting dit eintlik onnodig gemaak het: sy het dit buite in die tuin aangehad, en versuim om dit uit te trek met die binnekom. Maar haar oë was nog die intense blou van hoeveel jare gelede, die Sondag op die plaas. Dieselfde blou, maar seker nie dieselfde uitdrukking nie. Weer ’n kwessie van Songs of Innocence – Songs of Experience? Eerder, eintlik: glad geen song meer nie. Ek dink dit is wat my die aand getref het. Vroeër het ek soms gewonder watter van die pole in haar die oorhand sou kry: die domineesdogter wat in daardie vroeë vyftigerjare, toe so iets minder denkbaar was as nou, doodluiters kaal saam met my geswem het, of die een wat die aand van ons troue gesê het: “Ons moet eers saam bid en die Here se seën op die nag vra”? Maar dié aand, in ons ongewone afsondering aan weerskante van die geelhouttafel, het sulke herinnerings onwerklik voorgekom, eintlik irrelevant. In wrede eerlikheid moet ek beken: vandag is Elise nog steeds ’n mens met sterk oortuiginge, behalwe dat sy nie meer weet waarvan sy oortuig is nie; ’n mens wat haar nie sal laat onderkry nie, behalwe dat sy nie weet wat haar bedreig nie; iemand wat haar pad verbete loop, al weet sy nie waarheen dit lei nie.

Die noodwendige vraag moes sy vroeër of later ná die stilte stel: “Maar wáárom gaan jy plaas toe? Tog nie ter wille van Louis nie.”

“Nee. Ek moet met Ma gaan praat.”

Sy het swyend gesit en wag op meer, haar oë op my.

“Sy kan nie so alleen daar bly nie,” het ek voortgegaan. “Sy word te oud vir so ’n bestaan.”

“Ons het al hoeveel keer met haar gepraat. Jy weet goed sy sal nie daar padgee van al die grafte af nie.”

“Maar nou word dit gevaarlik. Die plaas lê daar teen die rand van die Ciskei.”

“Hy’t nog altyd daar gelê.”

“Maar die swartes raak woelig. Ek voel nie meer gerus oor haar daar alleen nie. Die plaas moet verkoop word en sy moet hiernatoe kom.”

Weer so ’n lang stilte, voor sy vra, sonder om ’n lid te verroer: “Hoeveel kry jy vir die plaas?”

“Dis tog nie ter sake nie. Die kwessie is …”

“Natuurlik is dit ter sake. Die enigste rede waarom jy die plaas sal verkoop, sal wees as jy ’n goeie prys kry.”

“Ek sê jou dit gaan om Ma.”

“Martin.” Met ’n klein verdieping van die keep langs haar mond. “Jy dink jy kan alles regpraat met woorde. Jou lewe lank kry jy dit nog reg om alles te plooi soos jy dit wil hê net oor jy weet hoe om met woorde te goël.” Sy begin afgetrokke met ’n swaar silwermes speel maar haar oë bly op my. “Nou toe? Wat is die prys?”

“Tweehonderd-en-vyftigduisend.”

“Die plaas is nooit soveel werd nie!” sê sy geskok. “Nie ’n kwart daarvan nie.”

“Dis wat ek kan kry.”

“En daarvoor sien jy kans … My Here, Martin, jy kan dit nie doen nie. Nie die plaas nie.” Dit was die eerste keer dat sy harder gepraat het; en sy het die mes op die tafel teruggedruk.

“Dis klaar gereël. Ek moet nog net met Ma gaan praat.”

Op daardie oomblik het die voordeurklokkie gekrys. Elise het met ’n ergerlike gebaar opgekyk, maar ek was verlig.

Dit was Neels Jansen, ons ouderling. Nie op huisbesoek nie, maar op een van sy periodieke “henewere”: die man het ’n spesiale sintuig gehad wat hom onfeilbaar in kennis gestel het wanneer ek ’n bietjie behoefte aan stilte gehad het, sodat hy dit kon kom ontwrig. ’n Groot dik bees van ’n man, soos ’n slagter, met ’n borselkop en ’n goedige gesig, ongesond gelerig van kleur. Nie die soort mens wat normaalweg in my vriendekring beland nie, maar hy het die eerste keer in diens van die Kerk by my huis aangekom, vergesel van die dominee; en om die een of ander rede het hy dadelik van my gehou. Dit was laterig een middag, terwyl ek besig was met die swembad se filtreerpomp wat vasgebrand het. Ek het toe al ’n uur met die ding gesukkel en ek was moerig; toe ek opkyk, staan Neels agter my in ’n swart pak klere wat hom knel en ’n boordjie wat onder sy los nekvelle inwurg.

“Wag, gee hier,” het hy gesê. “Jy’s besig om daardie skroef te strip.” Met duidelike behae het hy die baadjie en onderbaadjie afgestroop en die skroefsleutel by my oorgeneem; en ’n halfuur lank het ek gefassineer staan en kyk hoe sy groot sagte hande die hele pomp uitmekaar haal en weer aanmekaar sit. Toe die ding begin werk, het hy my met sy slagterspoot tussen die blaaie geklap, weer sy formele klere aangetrek, en my huiswaarts vergesel na waar die dominee en Elise in gesprek was.

Ek is nie wat bekend staan as “kerkvas” nie: so ’n drie, vier keer per jaar getroos ek my die opoffering en dan gewoonlik – ek erken dit eerlik – omdat dit ook in sakekringe goed is om daar gesien te word (vooraanstaande gemeente: al wat kortkom, is ’n wynlys met nagmaal). Maar Elise probeer gereeld gaan, hoofsaaklik omrede die kondisionering van haar pastoriejeug, en ook ter wille van die kinders – veral Ilse.

Ná daardie dag het Neels Jansen uit eie beweging – want aangemoedig het ek hom nooit – min of meer gereeld oorgekom, gewoonlik om hom te vergewis dat die filtreerpomp nog werk, dat die pH en chloorgehalte van my swembad nog na wens is en dat alle ander meganiese installasies op my werf in werkende toestand verkeer. En ook om, op sy logge maar opregte manier, die welstand van my siel te opper (“Man se siel is soos ’n kar se engine, hy moet gereeld ’n overhaul kry”).

Hy was toe nooit slagter nie, maar lid van die Veiligheidspolisie en niks minder as ’n majoor nie. Sy twee groot belangstellinge in die lewe was motors en vroumense: en die redes vir sy belangstelling was in albei gevalle identies. Namate hy die beheer oor my masjinerie oorgeneem het, het hy ook begin om sappige nuusbrokkies uit die “binnekringe” oor te dra, gewoonlik afgerond met ’n raaiselagtige knipoog voordat enige noemenswaardige punt bereik is. En soos mens teen wil en dank van ’n groot, lastige optelhond leer hou, het ek ook ’n sagterige plekkie vir die groot, goedige lummel ontwikkel.

En dit was dan die deus ex machina wat my die aand by Elise se bitter inkwisisie laat verbykom het. Sy het vinnig verskoning gevra en gaan koffie maak (onnodig, want albei bediendes was nog in die kombuis aan die opwas); en hy het hom sitlêend in ’n dik stoel tuisgemaak met ’n glas dop-en-dam. Soos gewoonlik wanneer hy nie op ’n “ampsbesoek” was nie, het hy sy rooi sweetpak aangehad. Ek het gou agtergekom dat hy weer met my siel op sy mou daar aangekom het en geraai waarom: die vorige Sondag se nagmaal, waar ek nie was nie. Maar hy wou dit omsigtig benader en ek het die ongemak probeer uitstel deur hom uit te vra oor sy regterhand wat tot bokant die gewrig in gips gehul was.

“O dié?” Hy’t gesnork en aan sy drank gesluk. “Afgeslaan op ’n koelie.”

“Wat?” Ek het probeer agterkom of hy korswel. “Jy speel.”

“Nee, genuine.”

“Het jy hom seergemaak?”

“Seergemaak? Hy’s in sy heppie kanon in, man. Zap, one time.”

“Maar Neels!” Ek het nog nie mooi geweet hoe om hom te hanteer nie. “Dan is dit mos groot moeilikheid.”

“Nee wat,” sê hy kripties, “moenie worry nie. Ons het dit klaar gesquare.” Hy het een groot been oor die ander gekruis. Tussen die onderpunt van sy sweetbroek en die rand van sy seilskoene het ’n stuk harige skeen uitgesteek. “Maar vergeet nou daarvan, ek sê jou dis ’n minor. Wat ek oor wil praat, is dié dat jy nie laas Sondag by die nagmaal was nie.”

Die nag, lank ná Elise al in haar bed aan die slaap was, het ek nog ’n verbode sigaret gerook en gewonder: Behoort mens nie iets omtrent die saak te doen nie? Maar natuurlik nie. Dit het tog niks met my te doen gehad nie. Mens meng jou nie met so iets in nie. Ek het my werk om aan te dink. Ek het my sigaret doodgedruk. Ek was bly Elise het niks verder teen die naweek geopper nie.

Ek weet nie of ek heeltemal gelukkig is met dié willekeurige manier van alles neerskryf wat by my opkom nie. Maar ek moet eers die terrein verken: ek moet myself toelaat om agter te kom oor watter gebied my herinneringe wil loop voordat ek in daardie naweek indelf. Dan sal ek probeer om meer doelbewus te organiseer en bymekaar te bring wat bymekaar hoort. Tot waar dit my ook al mag voer: dit is die ooreenkoms wat ek met myself aangegaan het toe ek met dié mal projek begin het. Ek het as ondernemer sukses behaal omdat ek nie tou opgooi as ek eers iets aangepak het nie. Ek is dit aan myself verskuldig om nou ook deur te druk.

Dit is tyd dat ek iets sê oor my opvattinge, want dáár moet geen onduidelikheid oor bestaan nie. Ek is ’n Afrikaner. Ek is ’n Nasionalis. En ek het nog nooit rede gehad om my daaroor te skaam nie. Inteendeel.

My politieke geheue strek hoofsaaklik terug tot 1948 toe ek sewentien jaar oud was, en in matriek. Ek het dwarsdeur die nag saam met my pa-hulle voor die draadloos gesit: die regop outydse Atwater Kent met die krulmotief oor die materiaal, en die oranje halfmaan waaroor die naald verbydraai. Daar was ’n hele paar ander mense ook, wat heelnag saam koffie gedrink het. Toe Standerton se uitslag kom, het hulle begin skreeu en spring en stoele omgestamp; en waar ’n paar van die vloerplanke van boorwurm voos geword het, het oom Hennie die skrynwerker ’n gat dwarsdeur die vloer gespring en tot by sy middellyf ingesak. ’n Paar dae later is ons hele familie in Pa se ou blou ’42-Mercury die sinkplaatstofpad Kimberley toe om daar op die stasie vier ure in die moordende son te staan en wag dat doktor Malan se trein moet verbykom. Rondom die stasie het die motors ’n plaat gestaan. Ook nie net motors nie: kapkarre en donkiewaentjies in hul tientalle, van boermense wat myle en myle ver gery het, party dwarsdeur die nag, net om dié dag daar te wees as Doktor verbykom. Die trein het nie lank stilgestaan nie, seker skaars tien minute.’n Burgemeester met ’n ketting om die nek en ’n paar ander vername manne het Doktor in sy wa gaan haal en hom na die verhogie toe begelei waar die stasiemeester altyd staan as hy die drywer se briefie in die draadring vir hom aangee. Doktor het ’n paar woorde gesê: wát, onthou ek nie meer nie, ek weet nie of iemand eintlik geluister het nie. Dit was genoeg om net te sien dat hy daar is. En al die mans het hul hoede afgehaal en op hul borse vasgedruk en die vrouens het opgestaan van die kosmandjies waarop hulle gesit het. Vir my jong gemoed was daar net één analogie gewees: Jesus wat Jerusalem binnekom. En daar was van die ou ooms daar, met hulle baarde en gesigte vol twaksop en trane, wat soos Simeon sou kon gesê het: Laat nou, Here, u dienskneg in vrede sterwe, want nou het ons hom met ons oë gesien.

En toe ons terugry huis toe, het Pa net gesê: “Kinders, van nou af hoef ons Afrikaners nie meer met ons koppe op die bors te loop nie. Nou is ons baas in ons eie land.”

Natuurlik, Agt-en-veertig lê vandag ver. Baie van daardie fut is uit. Dis vandag ’n harder en ’n dringender wêreld. Mens kan ook nie altyd kaalkop in die son op ’n stasie staan nie.

Maar ons is nog hier, ’n kwarteeu later: hier waar ons driehonderd jaar gelede aangekom het. En ons het gekom om te bly. Ek sê nie dis alles goed en reg wat om ons gebeur nie. Daar is baie wat opgeruim moet word. Maar om ook sommer boedel oor te gee aan al wat swart is, dit is om die wind vir die warrelwind te verruil. Kyk hoe lyk die res van Afrika. Kyk hoe lyk die wêreld, “vry” ofte nie.

Wat ek glo, is dit: revolusies verander politieke mag, maar aan die lot van mense verander dit niks. Daar bly nog altyd party wat het en ander wat nie het nie. Die oplossing lê nie daarin dat jy jou koek gelykop tussen almal moet verdeel nie. Dit klink mooi in teorie, maar as mens in die praktyk staan soos ek, lyk dit anders: mense wil meeding, en dáártoe het hulle nie dieselfde vermoë nie, daarom kan hulle ook nie op dieselfde manier daarvoor vergoed word nie. Die enigste raad is dat jy jou koek groter moet maak, dan kry elke man ’n groter aandeel – sonder dat almal s’n ewe groot hoef te wees.

Hoe maak jy jou koek groter? Deur opleiding en aanmoediging, deur aanloklike beloning te koppel aan groter inspanning, stoot jy produksie op en maak jy jou ondernemings winsgewender. En as die swartman die dag dié ekonomiese stelsel kan hanteer, dan sal ek ook nie op politieke gebied in sy pad staan nie.

Al die “politieke bewuswording” van swartes waarvan vandag soveel gemaak word, is wesenlik net ’n politieke bewusmakery deur blankes. (Hoe kan die swartman sulke gesofistikeerde konsepte behartig as hy deur al die eeue van sy verblyf in Afrika nog nie eens by die wiel uitgekom het nie?) Die eerste prioriteit is ’n mengsel van sterk dissipline en soveel opleiding as wat die swarte van die een stadium na die volgende in staat is om te absorbeer.

Ek glo dat dit allermins gaan om blote magsug. Dit gaan om ’n behoud van waardes. Die vrede wat so lank in Suider-Afrika bly heers het (in vergelyking met die deurmekaarspul op die res van die vasteland, waar die blanke sy verantwoordelikheid en voogdyskap skandelik prysgegee het), is daaraan toe te skryf dat die Boer die land verower het met die geweer in die een hand en die Bybel in die ander. Die twee vul mekaar noodwendig aan. Deur die verkondiging van die evangelie word waardes in stand gehou (demokrasie, die prestasie van die individu, moraliteit, ons hele Westerse protestantse erfenis). En ons mag eenvoudig nie die geweer prysgee voordat die ander man ons waardes aanvaar het nie. Juis ook óns waardes – daaroor het ek geen illusie nie. Kyk hoe lyk dit in Mosambiek waar hulle ’n ander stelsel op die mense probeer afdwing.

Ek raak altyd ’n bietjie meegevoer as ek oor hierdie onderwerp begin praat of skryf (ek het dit al so dikwels voor die Rapportryers en elders gedoen), maar dit is vir my die kern van die saak. Daarom is my ekonomiese beleid, in my ondernemings, ingestel op die kanaliseer van kapitaal na die tuislande. Dáár lê die wortels. Dáár moet die lewenstandaard verhoog word. Dit is die enigste logiese manier om iets soos die geboortesyfer te laat daal: die man wat heel onder staan, teel soos ’n konyn aan; eers as hy groter ekonomiese sekuriteit verwerf, kan sy getalle beheer word.

Dit is waarom ek Bernard se standpunt moet verwerp. Ek ken baie Liberale: dit lê op die vlak van my werk. En vir party van hulle het ek groot waardering, by geleentheid selfs agting (ek praat nou nie van dié in Houghton en omstreke wat hulle “veilig” genoeg ag om hulle die weelde van liberale gebare te veroorloof terwyl hulle hul bediendes swakker behandel as enige Afrikaanse staatsamptenaartjie nie). Maar sulke mense voer myns insiens ’n futiele veldtog: hulle is besig om ’n morele stryd te stry in ’n wêreld wat deur ánder, ekonomiese, magte beheers word. En al wat hul optrede op die duur meebring, is slagoffers. Volkome irrelevante slagoffers soos Bernard, op die periferie van vandag se werklikhede.

Daarom kan ek my ook nie steur aan my Liberale vriende se verwyt dat ek kamma teer op die vettigheid van die land nie. Wat ek het, het ek verwerf. Dit is die beloning waarop ek geregtig is kragtens my ekonomiese kontrak met die land: dat ek uit hom haal wat ek kan kry; en dat die kapitaal wat ek met my vernuf en my harde werk vergader, die onderontwikkelde help om ekonomies te vorder tot waar hy groter verantwoordelikheid vir homself kan aanvaar. So baat die hele land dan daarby.

Dis ’n lang pad wat ek en my mense moes uitworstel tot hier – ek sal nog daarby kom – en dis ’n pad wat ons enduit sal bly oopbaklei as dit moet. Ons weet wat dit is om bywoners in ons eie land te wees. Dis tyd dat ons ook begin om die vrugte op ons arbeid te geniet. En ek is bereid om enige redelike toegewing of aanpassing te maak wat kan verseker dat ek behou wat ek met soveel moeite in die hande gekry het.

Dit is nie ’n abstraksie nie. Ek beleef dit daagliks self. Partykeer is dit regtig met iets soos wellus dat ek my skoene uittrek en kaalvoet oor die ongelooflike dik sagte mat van my hotelkamer loop. Of ek bestel eenuur in die nag ’n ligte ete, of iets te drinke. En soms, natuurlik, skakel ek ’n agentskap om ’n masseuse te stuur. Want al het ek nou deur hoeveel jare gewoond geraak aan dié soort luukse, iets in my kan nooit vergeet dat ek ’n kaalvoetseun was wat met gebarste voetsole winters oor die rypgrond skool toe is, of somers in hoendermis getrap het, of my knieë nerfaf geval het in die erosiesloot tussen die peperbome nie. As ek my glas whisky vertroetel, onthou ek nog Ouma se tuisgemaakte lemoenstroop op die plaas. Ek onthou hoe ek ’n koei se speen oor my gesig gehou en in my mond gemelk het; en hoe ons kleiosse gemaak het om ons visblikkarretjies te trek. Ek onthou vetkoek en gouestroop, en eiers uithaal; ek onthou skaapkop bak in ’n miershoop, en spookstories, en kaal swem in die kleidam saam met al die swart en wit seunskinders op die plaas en die buurplase, en draadtrek agter die wal om te sien wie skiet die verste, en Oupa se basstem en hadde de liefde niet.

In daardie einste kleidam het ek die naaste aan my dood gekom wat ek tot vanjaar toe nog was: toe ek ’n Sondagmiddag te diep ingeloop het agter ’n plankieskuitjie aan – die ander het my gewaarsku maar ek wou nie hoor nie – en skielik net gevoel het die modder kry my beet en ek sak weg. Ek het begin skree. Hulle het weggehol van skrik. Toe die modder my aan die heupe vat, het ek histeries geraak. Één kind het teruggekom en deur die water gespartel na my toe: ’n klonkie, sy naam was Mpilo, maar ons het hom sommer Pieletjie genoem, heeltemal gepas ook want hy’t op twaalf-dertien al ’n ding gehad wat, sweer ek, slap-slap tot halfpad by sy knieë gehang het. Hy het my beetgepak. Ons het amper saam versuip in die modderwater. Maar op die end het hy my tog daar uitgekry en ek het amper vir hom my knipmes gegee maar toe liewer op ’n sjieling besluit, baie geld vir daardie tyd. Dit alles is myne, en ek verloën dit nie. Ek kán trouens nie, al sou ek probeer. Dit is saam met my hier. Daarsonder sou ek nie kon gewees het wat ek is nie. Selfs as ek droom, kom dit terug na my.

Dit sou “ons” naweek gewees het. Wat ons eintlik nodig gehad het, was weer ’n week soos die week in die rooi vakansiehut op Ponta do Ouro. Maar ons was altwee te besig (sy het, soos by ’n paar vorige geleenthede, tussen haar werk by die universiteit deur uitgehelp met Afrikaanse klasse in ’n skool in Soweto); en net ’n naweek sou al paradyslik wees. Toe het dit noodsaaklik geword dat ek plaas toe gaan voordat die transaksie deur Sy Edele minister Calitz gefnuik word, en ek moes haar bel om ons reëlings te kanselleer.

Sy het dadelik gevra: “Is dit oor die onluste by Westonaria?”

“Nee. Ek moet dringend plaas toe.”

“Jou ma siek?”

“Nee. Dis … besigheid.”

Toe was daar ’n baie lang stilte voor sy ingetoë sê: “O.”

“Ek sal jou alles vertel.”

Sy sê niks.

“Maandagaand is ek weer terug. Ek sal jou Dinsdag sien.”

“Ja.”

“Hoekom klink jy so negatief?”

“Ek is nie negatief nie. Ek is mos daaraan gewoond om tweede viool te speel: dit is tog my ‘rol’, dan nie?”

“Asseblief, Bea!”

“Ek is jammer. Ek het nie bedoel om – as jy moet gaan, dan moet jy gaan, ek weet.”

Sy was in haar woonstel in die ou gebou in Berea, agter die jakarandabome teen die stil, smal opdraandestraatjie; by die venster. Dit was of ek haar so met haar rug na my toe kon sien staan. (Ek probeer weer kyk soos ’n “skrywer” sou kyk:) Die buiging van haar nek, die smal skouers, skraal heupe, lang bene; kaalvoet seker. Haar oë in dié vertroude omgewing onbeskut deur die donkerbril. Die “vrou van dertig jaar”, deurwinter en deursomer, met al die oorbodigheid van jeug en lente van haar afgestroop; sonder omweg of versinsel, nie skaam vir die eerlikheid van begeerte of drif nie. Nakend, eintlik, oop vir lig of pyn, en nie bereid tot bedrog of selfbedrog nie. Tog is dit vreemd hoe so ’n vrou wondbaar is. ’n Andersoortige wondbaarheid as dié van die adolessent, maar volstrekter blootgestel – nie aan buig nie maar aan breek of splinter. Elke litteken sit kaal, verhard en ontoegeeflik. Kyk, ek kan ly, ek ly, ek gee nie om om te ly nie. Wat anders? Want ek lewe. Ek is uitgelewer aan die lewe: en tóg tot niemand se beskikking nie.

“Ek is net so jammer, Bea,” het ek aangedring. “Jy weet hoe ek uitgesien het na die naweek. Maar ons kan tog nog altyd later – oor ’n week, enige tyd. Ons is aan niks gebonde nie.”

“Natuurlik.” Met ’n doodse tamheid in haar stem. En ek kon die stroewe verset van haar skouers teen die venster sien: Hoekom lui jy nie maar in godsnaam af nie? Moenie probeer “goed” of “bedagsaam” wees met my nie.

“Asseblief, Bea, glo my.”

“Ek sê mos dit maak nie saak nie.”

“Maar ek kan aan jou stem hoor.” Ek het die telefoon vervat. “Bea, sê my wat dit is.”

’n Kort stilte, asof sy eers haar asem intrek. “Daar’s iets wat ek jou wil sê. Maar nie oor die foon nie.”

“Ek sal jou Dinsdag sien.”

“Ek weet. Dis net … Ek het gedink dis nogal dringend, maar dit kan seker wag. Alles kan mos wag.”

“Pas jou op. Dis tog net ’n paar dae.”

Skielik vra sy, ’n drif wat seker opgedam het en nou losbreek: “Martin, is dit hééltemal onmoontlik om die plaasding ’n week uit te stel? Ek móét jou sien.”

“Ek sê jou mos.”

“Nou ja, as dit nie anders kan nie.” En effens gesmoord, asof dit nie vir my ore bedoel is nie: “Ag, God.”

“Tot siens, Bea. Tot Dinsdag.”

Sy het net afgelui.

Mens onthou elke woord van so ’n gesprek. Want dit was ons laaste.

Daar is ’n dam met ’n waterlelie in die middel wat al groter en groter word. Ek wil ingaan om dit te pluk vir Bea wat aan die oorkant staan en wag. Maar net as ek aan die stingel vat, begin my voete in welsand wegsak. Ek kan nie loskom nie en skree om hulp. Op die duskantse wal staan ’n swart gedaante. Dit moet Pieletjie wees, maar hy lyk soos Charlie. “Help my!” skree ek. “Help my, ek sak weg!” Maar hy staan net met sy arms oor sy bors gekruis en kyk hoe ek dieper en dieper onder die modderwater wegsak en verdrink. Natuurlik, dis net ’n droom.

Gerugte van reën

Подняться наверх