Читать книгу Mooier as Marilyn - Anita du Preez - Страница 10

6

Оглавление

Kyk, Christine was nog altyd die meer voortvarende een. Sy beskik nou maar eenmaal oor die mag om my allerhande goed te laat doen wat ek gesweer het ek nie sal nie. Soos die keer toe sy my oorreed het om my hare met ’n botteltjie Gentian Violet af te spoel. Dit sou dan kwansuis my muisblonde stokkies sulke silwer ligstrepies gee wat my fabulous sou maak. Toe woon ek die matriekafskeid by met helderpers gestreepte hare lank voordat pers hare mode geword het. Toe dit nog skreeusnaaks was.

Daar was selfs ’n tweede geval met Gentian Violet. Ons het min resources in die koshuis tot ons beskikking gehad en moes elke produk se moontlikhede tot die uiterste beproef. En Christine was die queen of innovation and improvisation, en ek haar flippen onnosele proefkonyn. Of eerder dissipel. Praat van breinspoeling. Die Nazi’s sou ’n ding of twee by haar kon leer.

So mesmeraais sy my toe mos om nog ’n bottel van die verpestelik pers goed in my badwater te gooi. Haar argument was dat dit my ’n fabulous instant tan sou gee. En ek het haar sowaar as vet weer geglo, aangevuur deur die feit dat ons die volgende dag na somer-skooldrag moes oorskakel, sonder ons dik swart winter-pantyhose.

“Ja, Desiree,” het sy digterlik belowe terwyl sy die badwater intap en ek gefassineerd kyk hoe die vloeistof uit die piepklein botteltjie sulke wolkerige violet strominge in die water veroorsaak, “promise, promise and hope to die, hierdie goed maak jou hele lyf so bruin asof jy met vakansie in Hawaii was. Genuine.” Toe ek nog wou-wou huiwer, het sy bygevoeg: “Komaan, jong, jou beentjies lyk anyway terrible! Asof jy die hele winter in Jik gebad het!”

Sy het goed geweet van my enorme crush op Pieter Jurgens, Middelburg Hoër se bruingebrande donkerkop-eerstespanslot. Toe klim ek in.

Ek was die enigste graad twaalf wat die volgende dag moeilikheid opgetel het omdat ek steeds in wintersdrag was. Met dik, lang swart kouse in die hitte.

So kan ek die kere opnoem. En nee, ek verstaan dit ook nie. Ergste is, sy kry dit nog steeds reg. Dis waarom ek vanmôre vir die tweede Sondag in ’n ry oorkant Christine op Beleza se sonstoepie sit met ’n ontbyt voor my. Sy het die Sondagkoerant voor haar en daardie ontwerpersbrilletjie op haar neus asof sy nie ’n saak het nie. En om alles te kroon was sy dié keer reg. Die man is hier en hy hét my raakgesien, soos almal anders, kon ek agterkom toe ons instap. Of hy my herken het, is ’n ope vraag.

Nou sit en knaag ek aan ’n toastkorsie, so ongemaklik soos ’n bloederige steak tussen groentesosaties by ’n veganbraai. Almal om my lyk dood op hulle gemak in hulle Sondagoggend-gear, so fyn beplan om casual en understated te lyk soos wat net die cool crowd van Kaapstad kan regkry.

Ek sit soos iets wat roepstemme uit die fifties hoor in die outfit wat Liz my laat koop het, en waarop Christine vanoggend aangedring het. Belaglik! Met ’n bloes wat oorlede Joan Crawford palpitations sou gegee het, en die stywe Capri pants wat ’n fortuin gekos het en nou vir my lyk asof die ontwerper se lap opgeraak het voor hy die ding lank genoeg kon sny om tot by my skoene te kom.

Ek weet sowaar nie of hierdie nuwe blonde bom-ding by my pas nie. Om blond te word is nie net vir hare dye nie. Die wêreld kyk anders na so iemand. Vra maar vir oorlede Norma Jean Baker. Ek het al gelees hoe dié brunet aan die begin gesukkel het om in die vel van die blonde Marilyn Monroe te klim. ’n Blondine het ’n sekere houding en ek weet nie so mooi of dit in my broek sit nie. Plaas ek ten minste my ou jeans en een van my T-hemde met die slogans aangepluk het. Maar nee, dis mos alles uitgegooi. Stof- en polishlappe van gemaak. Dis om van te ween.

Ten minste is ek oukei met die skoene. Dis gelukkig die katjiehakkies waarvan Marilyn so baie sou gehou het en waarmee ek nog heeltyd soort van tuis voel. So asof hulle my geroep het die dag toe ek hulle hier van die rak af gegryp het. “Give a girl the right shoes,” het hulle haar woorde in my oor gefluister, “and she can conquer the world.”

Ek doen my bes om ongeërg te lyk, maar binne-in my woed dit. Ek bekyk kamtig verveeld my sagtepienk naels met die perfekte wit punte. “Very French – very you,” het Gloria se naelpersoon gesê. Ek vat net ’n groot sluk van my reeds koue koffie toe iemand langs my praat.

“Ek wou mos sê dis jy!”

Ek verstik half. Mors bietjie op my bloes, maar ek hou my pose, want dis die man.

“Dit is, ja,” antwoord ek soos ’n volslae idioot en Christine laat sak haar koerant en loer na my oor haar bril.

“Ek het jou amper nie herken nie!”

“Ek ook nie,” hoor ek myself sê en die man bars uit van die lag.

“Kan ek nog iets vir julle bring?”

“Nog koffie, asseblief,” versoek Christine. “Ek gaan solank gou hier buite rook.”

“Another two coffees here, please,” sê hy vir een van die jong kelnerinne en sak neer op Christine se stoel. “Gee jy om?”

“Voel vry.” Ek wens hard dat die stroom dom woorde wat uit my mond vloei om hemelsnaam moet opdroog.

Hy kyk my stip aan oor sy bril. “Wat ook al daardie dag hier gebeur het, het jou op die ou end goed gedoen. Jy lyk fantasties.”

Ek sluk. Komplimente rol mos altyd sonder rigting so in my kop rond.

“Sê net dankie,” sê hy asof hy my lees. Dit laat my nog meer ongemaklik voel, hoekom weet ek nie. Ek is nie regtig so onbeholpe nie. Moet seker maar al die dinge van die afgelope week of twee wees. Of die afgelope paar jaar? Hoe gou raak mens uit oefening? Nie dat ek ooit vreeslik in oefening was nie, maar jeez! Ek was darem altyd meer spontaan as nou.

“Oukei, dankie,” sê ek terwyl ek bid vir ’n skerp chirp.

Toe roep iemand hom van binne af en na ’n rukkie kom Christine terug.

Hy maak nie weer sy verskyning nie en toe my tweede koppie koffie leeg is, los ek geld in die bordjie en staan op. Genoeg is genoeg. Christine wil nog teëpraat, maar ek begin kar se kant toe stap en sy volg noodgedwonge.

“Hei!” roep iemand net toe Christine die sleutel in die aansitter draai en ek die ruit laat afgly.

Dis hy. Met die rok.

“Hier. Jy het dit laas hier gelos.”

Ek skud my kop. “Dis een van jou rokke.”

Hy hou dit deur die venster na my uit. “Nee, ek dra nie eintlik rokke nie.”

“Ha-ha,” sê ek sonder om dit te vat.

“Nee, asseblief.” Hy laat val dit op my skoot. “Hierdie rok was eensaam sonder jou.”

Christine laat die enjin doodruk. Waarom iemand soos sy nie vir haar ’n minder fênsie kar kry wat sy actually ordentlik kan bestuur nie, was nog altyd vir my ’n raaisel. Ek gryp na my handsak om my beursie uit te kry, maar al wat ek by my het, is die verspotte klein fifties-clutch in volstruisleer wat Liz in die een of ander designer antique shop opgeraap het en ek kry nie die dêm verroeste knippie oop nie.

“Nee, nee,” keer die man, “dis ’n present.”

“Van wie?” vra ek en ek gooi die handsakkie by my voete neer. Ek voel soos iemand wat net voorgee dat sy wou betaal.

“Van my. Steve.” Hy hou sy regterhand deur die venster. “Steve Beleza.”

Ek neem dit. Dis growwerig en warm.

“Bly te kenne, Steve, sy is Desiree,” sê Christine vir my part. “Desiree de Lange.”

Toe staan hy haastig terug, want sy het weer die enjin aan die gang gekry.

In die truspieël sien ek die man se spierwit glimlag terwyl hy ons staan en agterna kyk. Toe Christine die arme kar se ratte aan die begin van die draai laat kerm, ruk die paartjie by een van die buitenste tafeltjies se koppe om – onder die ou eikeboom waar Vincent en Gloria ’n week gelede sit en wegkruip het. Dis nie dié keer hulle nie.

En ek? Ek dink ook nie ek is meer ek nie.

“Houston, we have made contact!” roep Christine triomfantelik uit toe sy die kar wild in die rigting van die De Waal-afrit laat hop.

Toe ek die klammigheid onder my neus wegvee, ruik my hand na koffie. En meel. En iets bittersoets. Anders as Vincent se reuk.

Mooier as Marilyn

Подняться наверх