Читать книгу Mooier as Marilyn - Anita du Preez - Страница 8

4

Оглавление

“Goed, lyk my ons stem almal oor een ding saam,” sê Christine terwyl sy gewigtig haar plek inneem op die Queen Anne-stoel waaruit Liz pas opgestaan het. Die hondjies spring van die bed af en gaan sit onderdanig by haar voete.

“En dit is?” vra Liz half vanuit die hoogte waar sy die ys staan en klingel in haar vodka-en-lemoensap wat Christine uitgedeel het.

“Wel, dis pretty obvious,” sê Christine, wat van iewers af ’n pen en notaboekie opgediep het, “dat dinge nie so kan aangaan nie. Vincent de Lange moet in die bek geruk word!”

Almal praat skielik gelyk, asof sy ’n genie uit ’n bottel losgelaat het. Soos vinke.

“Wow, dames. Wag. One at a time, please!” keer die selfaangestelde leidster van hierdie nuwe klub vanuit haar voorsitterstoel.

Maar almal praat weer op een slag.

“Wag nou, wag nou, julle!” keer Liz met gesag in haar stem, en almal bly stil. “Kyk, dis hoe ek die saak sien.”

“Ja, maar …” val Christine haar in die rede, maar dit help nie. Christine mag dalk haar klere in Parys koop en haar skoene in Italië, maar al laat sy nou ook haar naels in Peru doen, Liz laat haar nie afsit nie. Mens kan sien sy was al voorvrou op verskeie komitees.

“Laat ek klaar praat, asseblief. Ons het elkeen ons eie appeltjie te skil met Vincent. Hy is Desiree se man – is dit steeds – en my eks, Caz se pa en Gloria se …” Haar mondjie plooi vieserig. “Wel, julle weet wat ek bedoel.”

“Not really.” Christine skribbel verwoed in haar boekie. Skynbaar is dit ’n bleddie vergadering waar iemand notule moet neem.

Liz kyk in haar rigting. “O ja, en dan is daar jy, Christine. Hoe presies sou jy jou rol hier verduidelik?”

“Ek?” Christine sit regopper om die uitdaging af te weer. “Ek is hier as … jare lange vriendin … e … wat veg vir vroueregte in die algemeen en meer spesifiek in hierdie konteks. Om dit reguit te stel … ek voel dat Vincent nie langer hiermee kan wegkom nie.”

“Dan is ons daaroor ten minste op dieselfde bladsy,” antwoord Liz. “Enige voorstelle?

Gloria en ek en Caz trek weer gelyk weg.

“Wag nou, meisies. Dink mooi,” sê Christine. “Vincent is lief vir geld en vrouens. Dis waarop ons moet fokus.”

Nou praat niemand nie. Jy hoor net ys wat teen glas rinkel.

“Stem julle saam?” vra Christine.

Almal laat weer gelyk van hulle hoor.

“Raait,” sê sy, “dié storie gaan nie werk nie. Ons vat dit van oud na jonk. Reg so? Liz, jy begin.”

Liz kyk haar taamlik giftig aan, maar sy kom dit sigbaar te bowe. “Foonseks,” antwoord sy.

Ek kyk verbaas op en Caz los haar foon. Gloria gee ’n aardige giggel.

“Nee,” verwerp Christine die voorstel, “te common.”

“Jy’s dan volgende, Desiree,” sê Liz.

Ek skud my kop woes. Die hele ding gee my ’n migraine. “Sorry, julle, ek bly buite stemming. Dis te gou. Te rou.”

Niemand stry nie. Dankie tog. Ek gaan sit weer op my bed en trek die duvet teen my op.

“Gloria?” vra Christine, seker omdat dit duidelik is dat Liz haar nie ’n kans gaan gee nie.

“Internet dating?” stel Gloria voor. Sy rem haar truitjie affer oor haar middel en haar gesigsuitdrukking verklap dat sy uit ondervinding praat. “Dis mos groot deesdae, nie waar nie?”

Liz skud haar kop. Lyk suur. Skynbaar verteenwoordig Gloria vir haar op die oomblik alle slette wat getroude mans verlei – ook die een met wie Vincent haar destyds verneuk het. “Te algemeen,” maak sy dit met dun lippies af.

“Oukei.” Gloria se wangetjies begin bloedrooi vlam van ergernis, of dalk die vodka. “Wat van as … e …” Sy kry skynbaar ’n ingewing. “As Christine hom probeer verlei?” Dit lyk asof sy skrik vir haar eie briljante idee.

“Laat ek dit so stel: Néé,” kom dit van Christine. “Ek laat eerder naalde in my oogbolle indruk, orraait?”

Dis toe dat Caz haar hand lig, en ek voel hoe my ore warm word toe sy my vol in die oë kyk. “Dan bly daar net een plan oor. Ek weet wat sal werk. Wat hom die seerste kan maak.”

“Ons luister.” Christine hou op skryf.

“Dis eenvoudig,” sê Caz. “Desiree moet dit self doen.” Daarmee druk sy ’n oorfoontjie in haar een oor asof dit die saak afhandel.

Ek weet nou wat my migraine veroorsaak het. Somehow het ek geweet die ding gaan my kant toe draai en eintlik wil ek boggherôl met hulle bose plannetjies te doene hê. Eintlik wens ek hulle wil hulle goed vat en loop. Maar niemand loop nie. Almal kyk na my, maar asof ek nie nog heeltyd betrokke was nie en hulle my nou vir die eerste maal behoorlik raaksien.

“Natuurlik,” sê Christine. “Desiree is die een!”

“Huh?” wil ek weet. “Ek?” Sou hulle van hulle gesamentlike trollie af wees? Hoe de hel moet ek vir Vincent terugbetaal? Hy het my after all so pas verneuk. Watter power of revenge het ek?

Maar vir eens is húlle almal in ooreenstemming.

“Uitstekende plan, Caz,” merk Liz op, wat klaarblyklik vir die oomblik vergeet het dat Vincent haar arme dogter se pa is.

“Maar sy sal dan moet op en uit – só sal dit mos nooit werk nie,” wys Gloria met die pers-geglitterde oorblyfsel van ’n gekoude vingernael na my.

“Ek stem,” sê Liz tot my verbasing, “só kan sy nie lyk nie. Hier kort een enorme makeover.”

“Excuse me?” probeer ek keer.

“Asseblief!” Caz pluk die enkele oorfoontjie driftig uit. “Hoor ek reg? Wil julle my vertel daar’s iets verkeerd met hoe Desiree lyk? Dat dit háár skuld is dat –”

“Dis wat ek ook wil weet!” tjip ek in, aangevuur. “Met ander woorde, as ek beter gelyk het, sou Vincent nie rondgekuier het by die een of ander flooze nie?”

“Hei!” roep Gloria uit. “Moenie my hier kom –”

“Van watter patriargale planeet is julle?” onderbreek Caz haar.

“Nee, nee, my kind,” paai Liz, “dis glad nie wat ons bedoel nie, dis –”

“Dis presiés wat julle bedoel. Die dag as ’n bles vrou met ’n boep en sloffies en ongeskeerde been- en kieliebakhare by ’n vertrek kan instap en glo sy is sexy en begeerlik, is die dag van ware emansipasie. Want dis wat mans doen, so moenie my kom vertel Desiree moes –”

“Bedaar, Caz, bedaar. Ons hoor wat jy sê,” paai Christine, “maar dis nie wat hier aan die gang is nie.”

“Verklaar dit dan, asseblief, want dis exactly hoe dit nou vir my ruik.”

“Nee, luister na my.” Liz kap met haar wysvinger na Gloria, na my en teen haar eie bors. “Jou pa het al drie van ons afgetakel. Op tipiese chauvinistiese wyse oor ons geloop. Ons is juis besig om die saak reg te stel. En daarvoor het ons elke wapen nodig wat vir ’n vrou beskikbaar is.”

“Exactly,” beaam Christine.

“Ek verstaan nie,” laat Gloria hoor, “moet Desiree dan nou ’n bles en ’n boep kry en ophou om haar beenhare te skeer om vir Vincent –”

“Ag, sharrup, Gloria!” roep Liz en Christine gelyk uit.

“Bottom line, Desiree is nie goed genoeg soos sy is nie?” hou Caz ergerlik vol.

“Natuurlik is sy,” verduidelik Liz, “maar sy’t haarself laat gaan. Wat ons hier sien, is nie die ware Desiree nie. Sy moet haarself herontdek. Ek kan haar help. Nie vir enige man nie. Vir haarself. Ons praat van selfrespek. Bemagtiging van die vrou. En as daar as gevolg daarvan ’n nuwe liefde in haar lewe kom, is dit bloot ’n bonus. Dis nie die primêre doelwit nie!”

“Oukei! Oukei dan, Ma, case closed.” Caz prop weer haar oorfoontjie in.

Dit lyk vir my Liz het die drang om iemand verder te oortuig – dalk haarself? “Jy sien, in enige oorlog gebruik jy die wapens tot jou beskikking. En Desiree het …”

“So bietjie die draad verloor?” stel Christine voor.

“Die hele bol wol en sommer die jersey ook, soos dit vir my lyk,” las Gloria by.

Die koppe draai weer na my en ek bespeur geen versagtende omstandighede in hulle uitdrukkings nie. Skynbaar is ek die toonbeeld van hoe enige vrou nié moet lyk nie.

Christine keer darem: “Hei, julle, moenie die girl so vat nie. Ons het gister major vordering gemaak. Shame, sy’t net bietjie van ’n fall-back gehad.” Sy beweeg na my hangkas, ruk die deure dramaties oop en begin met een hand deur die klere blaai. “Wag tot julle die outfit sien wat ons vir haar by Beleza raakgeshop het!” Oom Piet en Antie Soes sluit stertswaaiend by haar aan; blykbaar gaan hier nou iets gebeur? Tot hulle ounooi na my toe omswaai. “Waar’s jou fifties-rok dan, Desiree?”

Ek is amper dankbaar om ’n slag direk aangespreek te word en antwoord sonder om te dink: “Teruggevat. Gister.”

Sy klap haar tong spytig. “Stupid move. Maar toemaar, not a problem, ons kan dit weer gaan haal. Jou enjin het nie gister op al sy pistons gefire nie, girl. Maar al wat saak maak, is dat hy ’n slag weer geloop het, of hoe?”

Ek besef dat almal nou diep in my privaatheid staar, gefassineer deur die skamele versameling in my kas. Asof ’n rare argeologiese vonds aan die publiek se oë blootgestel word. Ek spring op en pyl op die kas af.

“Komaan, julle! Maak net my flippen hangkas toe, asseblief!”

Die eerste reaksie kom van Oom Piet en Antie Soes, wat skuiling agter Christine se enkels soek, dalk net so ontsteld oor die inhoud van my hangkas soos die ander.

“Jeez!” glip dit uit Gloria se mond, “geen wonder Vincent …”

“Gloria!” maak Liz haar stil. “Jy’t gehoor wat Caz gesê het. Hou jou in. Nie almal van ons loop rond soos ’n afslag-Krismisboom nie.”

Ek kyk verbaas na Liz. Soms kom mens se hulp so wragtig uit vreemde oorde. My verligting is egter van korte duur toe sy byvoeg terwyl sy gebiedend met ’n elegante hand na die kas beduie:

“Maar dis duidelik dat alles, ja, álles hier verkeerd gekies is.”

“Exactly,” spring Christine terug na die voorkant van die wa. “Presies soos wat ek gister vir haar gesê het! Dit lyk kompleet asof sy goed van Pick n Pay Clothing, Mr Price of PEP se rakke af gegryp …”

“Nee, nee, nee,” praat Liz haar dood. “Dis nie die probleem hier nie, dit is baie meer fundamenteel. Ek praat van kleurkodering. Ek is immers die kenner onder ons? Wat hier nodig is, is ’n wetenskaplike benadering van haar …”

Gloria waai haar foontjie rond. “Oh no, tog net nie colour coding nie. Dis so last century! Laat ek net gou …” Almal kyk tot sy weer die foontjie swaai. “Ek het gegoogle en hoor net wat sê hulle hier oor colour coding. Hulle sê …”

Liz kyk Gloria aan asof sy iets is waarin sy op ’n sypaadjie getrap het. “Goeiste, ek is immers ’n ten volle opgeleide, hoogs gekwalifiseerde kleurkonsultant. Dis my werk! So, asseblief …”

Gloria sak pruilmond op die Queen Anne-stoel neer en kap met haar vinger op haar foontjie vir nog ammunisie. Niemand steur hulle aan my wat my hangkas se toe deure bewaak nie.

“Refill, enigiemand?” Christine hou die bottel vodka omhoog. “Want dit lyk my hierdie paartie kom nou eers op dreef!”

“Verskoon my!” My stem klink vir my skril. “Kan julle asseblief julle paartie iewers anders gaan voortsit? Dit is per slot van sake my slaapkamer dié. My priváte slaapkamer! So, skoert!”

Alle oë draai na my, maar niemand loop nie. Selfs Caz laat sak haar foon en laat val die oorfoontjie.

Christine kom sit haar arm om my. “Ai, vriendin, hoe kan jy dan nou verwag dat ons jou in jou uur van nood alleen moet los, huh? Wat dink jy ís ons?”

Voor ek kan sê wat ek dink hulle is, tjip Gloria in: “Hier is nog ’n baie interessante artikel op die internet, julle. Die hele zen-ding. Baie in nou. Dit gaan oor hoe ’n mens van jou goed moet ontslae raak … minimaliseer. Marie Kondo glo as ’n ding jou nie happy maak nie, gooi jy hom uit! Briljant, nè?”

“Net mooi wat ek gister gedoen het,” mompel ek.

“Wat het jy nogal uitgegooi?” vra Christine en wys na my kas.

“Vir Vincent.”

Almal bars uit van die lag. Ek inkluis. Enige ys wat opgebou het, is gebreek.

“Nog ’n ronde?” vra Christine en almal hou hulle glase uit.

“Op sweet revenge,” sê Liz en neem twee yslike slukke.

“Hier is die cuteste quote dáároor,” sê Gloria oomblikke later. “Luister bietjie. ‘Revenge is a dish best served cold.’”

“Gloria,” sug Liz, “as jy nog een bleddie holrug geryde cliché uit daai foontjie van jou aanhaal, dan druk ek hom vir jou dwars in –”

“Wow-wow-wow, dames!” keer Christine en sit haar arms om die twee.

En net daar begin ek dink dat Vincent se eks eintlik ’n oulike vrou is van wie ek dalk kan hou. En Gloria? Snaaks genoeg is dit asof ek nou minder seergemaak is oor háár as oor al die ander van wie ek nie weet nie.

Mooier as Marilyn

Подняться наверх