Читать книгу Mooier as Marilyn - Anita du Preez - Страница 6

2

Оглавление

Toe ek sake agterna bedink, besef ek hoekom ek Gloria nie regtig kan kwalik neem nie.

Eerstens, en ek wou dit nou nie hardop sê nie, maar … Gloria is nie baie slim nie. Actually, kom ons wees eerlik, Gloria is DOM. Daar. I said it. So. Dit spreek vanself dat dit nie van iemand soos sy verwag kan word om haar Gerald se minder opsigtelike bates, soos sy superieure intelligensie en sin vir humor, na waarde te skat nie.

Tweedens, Gloria is vlak. Ek glo nie sy kan dieper as die uiterlike sien nie. En haar Gerald, bless his soul, is nie veel vir die oog nie. Hy is maar ’n valerige ou mannetjie. Eerlik en opreg, maar taamlik onbeduidend.

Laastens, Gloria hou van bling en flash. Sy het ambisie. En dinge moet nou gou gebeur, want sy is pas verby dertig en op pad na nowhere.

En Gerald? Gerald is ’n bibliotekaris.

En my Vincent is nie.

Nee. My Vincent is ’n chirurg. En selfs op een en vyftig, met sy leeukop (meestal) nog vol gryswordende hare, sy breë skouers en veral daai loop van hom, kan hy nog ’n groot vertrek met sy teenwoordigheid vul. Om nie eens te praat van ’n denim en ’n hele paar ander dinge wat enige vrou graag gevul sou wou hê nie. Soos haar bankrekening.

Die ander een wat ek seker nie kan verkwalik nie, is hy. Vark wat hy is.

Dalk sal ek anderdag ordentlik kwaad word vir hom, maar nie nou nie. Ek is nou net lam. Miskien sou ek ook jonger grassies anderkant die draad wou gaan proe indien die rolle omgeruil was en hy soos ek geword het. Ek het mos geheel en al ingegee, en wie wil nou saam met so ’n tikkende tydbom leef?

’n Man soos Vincent het ’n rustige, ronde raakvat-vroutjie nodig. Een wat met entoesiasme erfgename kan verwek. En produseer. Flegmatiese temperament. En nie te hooggeleerd nie. Soos Gloria. Een van daais wat by vriende se buffettafel lieftallig vir hom sal vra: “Kan ek vir jou inskep, skat?” Anders as ek wat sal wil weet of sy handjies dan lam is. Geen wonder die man het uitkomkans gesoek nie.

Maar daardie besef help my nou veel. Want Vincent is weg, sak en pak, en ek het self daai sak vir hom gepak.

Die tonele wat hulself die afgelope paar uur afgespeel het, sedert ek Vincent en Gloria by Beleza onder die akkerboom gewaar het, was nie mooi nie. Nee. Not my best moments. Daar’s heelwat dingetjies wat ek anders kon hanteer het. Ek moes byvoorbeeld statig verby die verdomde twee verneukers gestap het, met swier in my kar geklim en weggery het. Met styl. Maar ek het nie.

In plaas daarvan het ek toetentaal my cool verloor en my moer gestrip. Hulle net daar bestorm en op hulle geskree. Grootskaals aangevuur deur dieselle hell that hath no fury like a woman scorned wat veroorsaak het dat siklone na ’n sekere spesie vernoem word.

En natuurlik het almal daar my skeef aangekyk. Dis mos hoe dit werk. Maak nie saak watse misdaad iemand teen jou gepleeg het nie, as jy die een is wat skel en vloek, is jy die baddie in mense se oë. Kant en klaar. Laat jou man jou belieg en bedrieg en oop en bloot met sy flooze daar sit terwyl jy dink siestog, hy is in Pretoria by ’n boring werkseminaar, en waag jy dit om sy glas vonkelwyn oor sy halfgrys kop uit te smyt en aan sy metgesel se hair extensions te pluk, en onmiddellik is sy die victim. En jy? Jy, skattie, is die varksog in die verhaal. Not rocket science, nè?

Stupid, stupid, stupid. Hoe kon ek, ’n vrou wat al ’n paar keer deur die lewe gerol is en met genoeg grade agter haar naam, so stupid gewees het?

Oukei. Help nie ek sit hier en kasty myself nie. Daarvoor het Christine tot oorverdowens toe gesorg toe sy per Uber kom kyk het of ek veilig by die huis aangekom het – nadat ek met skreeuende bande die pad gevat het voor iemand die polisie kon ontbied. Gelukkig was sy bitter kwaad vir my dat ek haar net daar by Beleza gelos het, anders was sy dalk nog hier vir die hele embarrassing spektakel toe Vincent kom probeer verduidelik het.

Nee. Nie verduidelik het nie. Vincent verduidelik nie. Vincent word onmiddellik die verontregte in enige tweespalt, duld geen teëspraak nie, lieg homself uit enige ding en verontskuldig homself met soveel grasie dat hy homself glo en jy begin dink dis dalk alles jou skuld. Dis verstommend.

En dan? Dan word jy so kwaad vir die skreiende onreg dat jy dit weer heeltemal verloor en lateraan gillend goed kwytraak wat jou laat twyfel aan jou eie DNS. En dan? O, dán staan hy daar met sy hoogheilige uitdrukking, soos in: Sien? Sién? Dis waarmee ek, arme man, te make het. Kyk hoe gaan sy tekere, soos ’n regte ou …

Verstommend, sê ek jou. Ek bedoel, ek is seker mens kan iets oorkom daarvan. Soos hartversaking.

En lateraan? Lateraan word jy nie eens meer kwaad nie. En dan? Dan is jy in die moeilikheid. Wanneer alles stil geword het, met slegs ’n leegheid waar daar eers woede was.

Maar ja, iets hét vanmiddag geknak. Tot hier toe en nie verder nie. Oopgeruk deur my onverwagse woede oor my man se blatante verneukery. Of dalk het iets net binne-in my verskuif? Hoe weet ’n mens?

Daarom sit ek nou hier op die bed se rand en staar na Vincent se oop hangkasdeure, die leë hangers en rakke, en dit voel asof ’n leeftyd verbygaan. Asof die heelal moet gaan stilstaan en kennis neem van vanmiddag se gebeure. Miskien dalk net ’n minuut van stilte vir die vergane huweliksverbintenis tussen Vincent Egbert de Lange en Desiree Helena van Vuuren? Dis mos nie moontlik dat elf jaar net so – poef – weg kan wees nie?

Selfs ’n enkele trompet wat ’n taptoe blaas oor dié afsterwe sou meer gepas wees as die middagstilte van ons rykmansbuurt. Maar dis bloot nog ’n Sondagmiddag om halfvier, wanneer dinge gewoonlik mos maar ietwat bleak lyk. Ek ken dit. Suicide hour. Maar hierdie een? Nee, kyk, hiérdie een is duidelik die moeder van alle Sondagmiddae.

Ek sug diep. Hier sal ek vergaan van ellende. Hier sal ek my net weer oorgee aan wanhoop en myself op ’n bondel neertrek, maar dié keer om nooit weer my kop te lig nie.

Soos Marilyn.

Tog kry ek tot my verbasing van iewers krag. Skynbaar is daar in my bloed darem nog ’n milliliter of twee van daardie Van Vuuren-vuur wat my voormoeders skoenloos oor die Drakensberge gedryf het. Ek tree ferm bo-oor ’n eensame swart sokkie en Vincent se favourite verbleikte slaapbroekie wat soos ’n beskuldiging op die vloer bly lê het nadat ek sy tasse hygend van wrewel en adrenalien help toeknip het.

Ek vat my karsleutel raak. Waarnatoe weet ek nie, maar wat ek wel weet, is dat ek hier moet wegkom.

Om die een of ander rede ry ek reguit Beleza toe. Back to the scene of the crime? Makabere mot wat weer wil gaan kyk hoe lyk die plek waar die gloeilamp haar geskroei het? Nee, ruk ek myself tot orde. Dis nie dít nie. Ek wil mos bloot my eie klere gaan haal. Omdat ek niks van my by daardie verdomde plek wil laat agterbly soos bewysstukke van my uitgediende huwelikstatus nie. Boonop wil ek die verspotte femme fatale outfit waarmee ek myself in daardie oomblik van malligheid uitgerus het, gaan teruggee. Of ten minste daarvoor betaal. Maybe all of the above. Wie sal ooit die vreemde weë van ’n pas verloënde vrou kan verklaar?

Allermins sy self.

Veral toe die kar se linkerwiele teen die sypaadjie se rand tot stilstand skuur en almal in die restaurant opkyk. Insluitend die lang donkerkopman met die bril wat ek vroeër so onnodig aangegluur het, wat by een van die tafeltjies sit met ’n glas rooiwyn. Ag, Vaderland. Sou hy dalk die plek se eienaar wees – met ander woorde die een in wie se kleedkamer my jeans en toppie nog hopelik lê? Die een vir wie ek geld of ’n verskoning skuld?

Toe klim ek maar uit met soveel grasie as wat die wiebelende katjiehakkies toelaat. Wat anders? Ek druk die Marilyn-bril reg, bestyg die paar trappies met soveel van my nuutgevonde styl as wat ek kan bymekaarskraap en stap nader.

Die man vat sy glas wyn en hou dit skynbaar beskermend teen sy bors. Hy frons. Seker te verstane. Hy kry natuurlik dikwels te doen met mense wat nie betaal vir sy goed nie. Toe merk ek die geamuseerde uitdrukking in sy bruin oë.

“Just in case you get the urge to pour some more on someone’s head,” sê hy toe ek nie ’n woord uitkry nie. Dit gebeur nie dikwels nie, maar nou ja, wat is daar vir my om te sê? Ek hét net mooi hier ’n lieflike spektakel van myself gemaak, en nou is ek terug.

Ek versamel ’n lekseltjie spoeg om woorde te vorm, maar my brein speel nie saam nie. Seker als opgebruik in my tirade teenoor Vincent. Of dalk is dit die feit dat ek tot my ontsteltenis voel hoedat al my beskikbare liggaamsvloeistof in my ooghoeke versamel. Flippit. Ek kan mos nie nou hier …

“Unless you’d rather want me to pour you some?”

Die uitdrukking in die bruin oë agter die brillense is vir ’n oomblik sag. Sonder spot. Ag nee, donner, meneer, moet tog asseblief net nie nou ’n enkele snaar binne my raak nie. Nie eens liggies nie. Alles in my is so rou geskaaf dat die kleinste bietjie deernis of understanding van enige menslike wese my net hier in yslike trane sal laat uitbars. En het ek nog nie vandag ’n groot genoeg bleddie aap van myself gemaak nie?

Ek herken myself nie. Ek huil lankal nie meer nie. Dis nie asof ek nie al probeer het nie. Almal sê jy moet huil om te kan genees. Nie ek nie. Tranetrekker-films kyk, Vicks snuif, niks het gewerk nie. Huil is nie soos fietsry nie; as jy eers opgehou het, vergeet jy hoe. Maar nou staan ek hier en is dit trane wat ek voel loskom?

Die bruin oë vonkel skielik weer en ek kan sien hy moet net so hard keer dat sy mondhoeke vertrek van die lag as wat ek die ekstra vog in my neus moet wegsnuif.

“It would be a helluva waste to pour this onto someone’s bald spot,” sê hy en beduie met sy glas.

Ek kry ’n bewerige smile uit. Vir die feit dat hy opgemerk het wat Vincent tog te hard probeer wegsteek. Sy bald spot. Do not go there! Het ek dan nie self net ’n ruk gelede sy versameling “German solutions for hair loss and other problems” in sy toksak gesmyt nie? Saam met die snorklaggie wat uit my borrel, loop die trane. Ek lek die soutigheid van my bolip af.

“Please, sit down. I think you need it.”

Ek kyk om my. Daar is nog net by twee tafeltjies mense oor, want die middag is amper verby. Ander getuies van my wangedrag is waarskynlik lankal weg. Seker besig om die hele storie met smaak vir iemand by die huis oor te vertel. Of oor die foon. Of op Facebook! Ek kan my indink.

Jeez, girlfriend, you won’t guess what I saw in Beleza today! You should have been there! It was awesome! There was this guy with his piece on the side, then wifey walked in and poured his wine over his head! Oh man, it was funny like …

Liewe genade, Desiree. Jy moes onder jou duvet bly wegkruip het, want kyk wat het jy aangevang – jouself Openbare Spektakel Numero Uno gemaak, dis wat. Ek probeer die gedagte afsluk en gaan sit op die stoel oorkant die man. Met ’n gemaklike beweging vat hy ’n glas van die rak naby hom en skink langsaam van die donkerrooi wyn, voor hy dit saam met ’n wit papierservet na my uithou.

“It’s on the house. I wish I could say the same about the items you took from my sister-in-law’s vintage collection, but she is worse than Attila the Hun when it comes to freebies. We can sort that out once you’ve calmed down, though. First drink this.”

“Dankie,” prewel ek en snuit my neus.

“Plesier.”

Ek kyk die man verbaas aan. “Hoekom het ons Engels gepraat?”

“My ma was Engels,” lag hy en neem ’n ruim sluk uit sy glas. “So my tong val maklik soontoe.”

“O.”

Hy leun effens vorentoe. “My fout. Ek het mos gehoor dat jy Afrikaans praat, toe …”

Ek vat ’n groot sluk uit my glas en keer met my handpalm. “Kan ek vra dat ons nie op hiérdie oomblik verwys na daardie flippen Jerry Springer remake waarin ek die hoofrol gespeel het nie? Ek sal later betaal. En om verskoning vra.”

Hy sit rustig agteroor. Betrag my met skrefiesoë en dieselfde lakoniese geamuseerdheid as vroeër.

“Dis oukei. Niks om oor jammer te wees nie. Ons het juis lank laas gratis live entertainment hier gehad!”

Ek vlieg op. My woede lê nog hopeloos te vlak. Die verdomde man kan skaars sy lag hou en ek wou tranerig raak oor ek dog hy’t ’n siel. Wys jou net hoe needy ek geraak het. Idioot. Hulle is almal dieselfde. Verstaan niks. Voel vere vir ’n vrou met bloederige, vernederde nerwe.

Die vent kyk my met boogwenkbroue aan. “Sjoe, episode twee?” vra hy sowaar as vet sonder om ’n oog te knip. “Ek hou asem op!”

Ek stamp my stoel agtertoe en plak die wynglas neer. “Laat ek liewer net my klere in jou kleedkamer gaan haal en my ry kry.” My wegstap is nie heeltemal in pas met my nuwe look nie en ek vererg my daarvoor ook. Die hele affêre is só nie ek nie. Boggher alles en almal, Desiree de Lange is klaar met als.

“En moenie worry nie,” voeg ek oor my skouer by, want my innerlike tiener is op ’n roll, “ek los liewer hierdie verdomde simpel tweedehandse klere van jou skoonsuster terug op die rak. Ek het nou net besluit dit pas my glad nie.”

“Dis bitter jammer!” roep die man agter my aan. “Ek dink dit pas jou asof jy daarvoor gebore is. Mooier as Marilyn self.”

Toe ek wegry, weet ek dat ek al weer lelik opgeneuk het. Wat is dit met hierdie nuwe Desiree de Lange wat ek nie ken nie? Sy gooi tantrums, tjank in die openbaar en gaan druk haar neus nog dieper in die bollie in.

Wat het ek gedink doen ek? Myself in die flippen voet geskiet, dis wat. Want hier sit ek weer met my ou flenter-jeans en iemand anders pronk binnekort in daai outfit waarin ek wéét ek mooi gelyk het. Mooier as Marilyn, het die man gesê. Dalk moet ek net hier omdraai en daardie amazing rok gaan haal. Dan het ek darem iets uit hierdie verdomde, vervloekte dag gekry. Ek kan tog nie ’n groter fool van myself maak as wat ek reeds het nie.

Ek trek van De Waal af by die ou meul. Dink oor die saak. Karre zoer verby. Almal is seker op pad huis toe. Met gesellige kaggelvure. Die vrou wat nog by die naaste tafeltjie die spulletjie sit en bekyk het, is dalk al huis toe met my outfit. Vonds van haar dag. Ek kon sien hoe eye sy dit toe ek dit op die klerehanger gaan terugsit het.

Dit het op daardie oomblik soos myne gevoel. En toe ek wegry, het ek voor my siel geweet dat ek nog iets opgedonner het.

En die man van Beleza? Ek was onnodig ongeskik met die skepsel. Hy het my nie meer omgekrap as wat ek reeds was nie.

Inteendeel, die vent het nogal ’n kalmte aan hom. Nee, dis nie kalmte nie. Meer iets zennerigs? Wag. Ek dink ek het dit. Meer soos: I have seen it all and I don’t really give a toss about small things anymore. So iets. Maar nou ja, dis tot daarnatoe.

Ek skakel maar weer die Corsa se enjin aan en ry stadig huis toe. Die pedale is koud onder my kaal voete.

My foon lê nog op die bed toe ek by ons kamer instap. Gaan ek sonder Vincent in dié moewiese bed slaap? Gewoonlik pla dit my glad nie. Ek het dit immers gewoond geraak. Die enigste sports wat die laaste tyd in hierdie bed gebeur het, was kussingboks of stoei om kombersbesit. Buitendien, Vincent snork. Maar vanaand? Vanaand is anders. Vincent is weg, en mens mis iets mos eers as jy dit nie meer het nie. Alles in die kamer lyk nou vir my verspot en onbenullig.

Ek gaan sit op die bed, tel die foon op en kliek uit gewoonte op Facebook. Blah. Op WhatsApp. Daar is boodskappe. Ek lees nie een nie. Blah-blah. Ek kliek lusteloos op Gmail. Natuurlik is daar ’n e-pos van Avaaz, wat wil hê ek moet help om die heelal te red. Boggher die heelal. Ek wil niks red nie. Daar’s nog heelwat e-posse. Mitula News, Indeed Job alert, Jobomas alerts. Selfs een van Jobrapido wat belowe daar is 10+ new jobs for teachers/United Kingdom. Só rol die werksgeleenthede waarin ek skynbaar belangstelling getoon het op die skermpie af. Wat op dees aarde?

Ek kyk in my argiewe na ouer e-posse en geleidelik word die prentjie duidelik. Dis nie ’n mooi prentjie nie. Dit spreek van wanhopige pogings om uitkoms te vind. Waarom het ek nooit agtergekom dat ek nie meer ’n lewe het nie? Hoekom sou ek byvoorbeeld op webwerwe rondgesurf het wat aanbied om jou verouderde CV reg te pluk? Wat het ek gedink? Dat dit só sou lyk?

PERSOONLIKE INLIGTING: Amper veertigjarige huisvroutjie. Wit.

ADRES: Duvetstraat 1, Constantia.

OPLEIDING: Nuttelose doktorsgraad in Geskiedenis. Ekstra tweejaarkursus in Film en Media.

DIENSREKORD: Nie veel sedert 2013 nie.

ONDERVINDING: Heelwat harde lewenslesse.

PRESTASIES: Een wankelende huwelik, twee miskrame en ’n stilgeboorte.

SPESIALE PRESTASIES: Niksdoen. Posttraumatiese stres en depressie.

VAARDIGHEDE: Wroeg. Wakkerlê. Kon voorheen lekker koek bak.

ISSUES: Heelparty.

STOKPERDJIES: Google. Heeldag. Werksgeleenthede, details van doodgaan, ou films en dooie fifties-filmsterre, veral selfdoodgevalle.

SPESIALE BELANGSTELLINGS: Niks op die oomblik nie.

VERWYSINGS: Niemand op die oomblik nie. Behalwe Siri (en my vriendin Christine).

Waddejoos het ek gedink sal ek tydens ’n onderhoud sê? Of sal ek doen as ek die werk kry? Die werk wat ek gehád het, het dan te veel vir my geword.

Vincent het my dalk ’n groot guns bewys. Dié wat weet, glo mos as mens kan kwaad word, is jy nog oukei, en dis duidelik ek was donners lank laas oukei. Dis uit suiwer woede dat ek na hierdie goed kan kyk en weer helder sien. Soos Creedence!

Ek soek dieper in my argiewe. Dit raak erger. Daar is talle bewyse van my obsessiewe romantisering van die makabere. Files op files daarvan gestoor. Deeglike navorsing oor alle aspekte van die dood. Die hiernamaals. Selfdood. En dooies. Veral afgestorwe ou filmsterre. Weke en weke al. Nee, maande. Soos ’n verslaafde. Sedert Benjamin … Nee. Ons wil nie daar gaan nie.

Alles dui op pogings om uit my selfopgelegde gevangenskap te ontsnap. Uit die veilige vierkant van hierdie bed vol toastkrummels en lekkergoedpapiertjies waaruit ek die laaste tyd al hoe minder wou opstaan. Dis asof ek deur middel van my foon uit die harde werklikheid wou wegbreek na die oneindige beloftes van die kuberruim, sonder om meer te doen as om ’n vinger te lig. Of dalk wou ek iewers heen gaan waar niks meer kon seermaak of saak maak nie.

Hoe meer ek krities kyk na wat voor my verskyn, hoe meer besef ek dat ek lankal afskeid geneem het van my lewe soos wat dit was. Van Vincent ook. Reality check, Desireetjie! Die afsterwe van jou huwelik vanmiddag was die gevolg van ’n lang siekbed en intense lyding. Dis nog net die begrafnis wat voorlê.

Ek druk-druk met my vinger en smyt die foon op die grond. Dit voel asof ek ’n lewensaar afgesny het toe ek sien hoe die skermpie flikker en swart word. Die bed is steeds yslik en die huis grafstil. En dis Sondagaand. Toe sluk ek ’n paar van my slaappille en krul my klein op.

Maar selfs terwyl ek die duvet oudergewoonte oor my trek, weet ek dat dinge nie langer so kan bly nie. Dis egter vir later, troos ek myself. Ek sal later planne maak. Laat ek net eers weer bietjie …

Mooier as Marilyn

Подняться наверх