Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 5 - Annelize Morgan - Страница 7
4
ОглавлениеDie seerowerskip kom vinnig nader. Dis gou duidelik dat hulle wil aanval en Da Silva gee die bevel dat die twee kanonne in posisie geplaas moet word. Dan gaan hy terug na sy uitkykpos en bestudeer die ander skip aandagtig. Hy kan hulle astrantheid nie begryp nie. Dié klomp is gewoonlik uitgeslape en baie versigtig dat die prooi nie lont ruik voordat hulle taamlik naby is nie.
Die wind skep die El Mar se seile en bol hulle uit. ’n Ruk lank vaar hulle so voor die rowerskip uit en kan die matrose aan boord weer asem skep. As hulle Porte Pongara wil bereik, moet hulle roer. Op die oomblik seil die skepe min of meer teen dieselfde spoed, hoewel die El Mar ’n bietjie stadiger is as gevolg van die vrag aan boord. Die probleem gaan later kom, wanneer hulle dwars teen die wind moet seil om die land te bereik. Hulle spoed sal vinnig afneem en dit sal die rowerskip die geleentheid gee om hulle in te haal.
Pablo hou egter die stuur in een rigting. Hy besef maar te goed dat dit hulle enigste kans is om van die rowerskip af weg te kom. Land toe kan hulle nie vaar nie, want dit sal die geveg net bespoedig.
Nicole kyk bekommerd by die patryspoort uit. Daar buite lyk die see kalm en dit kon ’n ideale dag gewees het om hulle reis voort te sit en ’n dag of wat van die verlore tyd in te haal. Sy besef ook teen hierdie tyd dat hulle nie meer na Porte Pongara gaan nie. Hulle sal die soutvleis en droë bone maar nog ’n rukkie langer moet verduur.
Haar kajuitdeur gaan skielik oop en Consuelo kom in.
Nicole kyk verbaas na haar.
“Wat is verkeerd?”
“Ek het gedink dat jy dapper is, maar nou sien ek jy kruip weg.” Die minagting is duidelik in Consuelo se stem te bespeur.
“Ek kruip nie weg nie. Ek gehoorsaam net bevele.”
Consuelo lag sonder vreugde, veragting op haar gesig te lees.
“Dan is hy bekommerd oor jou? Hy het nie die moeite gedoen om mý na my kajuit te stuur nie.”
Nicole haal haar skouers op.
“Miskien kan jy jouself verdedig … ek kan nie. Ek het nog nooit in my lewe met iemand ’n geveg aangeknoop nie. Ek sal nie weet hoe om te begin nie.”
“’n Mens begin nie iewers om jou eie lewe te red nie. Jy veg met al die vuil maniere wat jy aan kan dink.” Sy hou haar kop skeef en beskou Nicole. “Verwag jy van hom om jóú lewe te beskerm?”
Nicole kyk onbegrypend na haar.
“Dis belaglik, Consuelo, jy kan nie wil hê dat ons daar op die dek moet uitgaan en soos twee matrose die swaard moet opneem nie. Dis ’n geveg vir mans hierdie. Bly daaruit.”
“Jy’s bang,” tart Consuelo haar.
Nicole haal haar skouers op.
“Enigeen is bang daarvoor om deur ’n seerower gevang of gedood te word. Daar is niks lafhartig daaromtrent nie.”
“Jy maak op Ramirez staat om jou lewendig hier uit te kry,” antwoord Consuelo beskuldigend.
Nicole vererg haar.
“Hy is die kaptein van die skip en ek verwag van hom om my lewe te beskerm, ja! Is daar nog iets?”
Daar is skielik ’n oorverdowende slag. Een van die kanonne word afgevuur. Die twee vroue luister na die gefluit van die kanonkoeël. Hulle is albei snaarstyf gespanne terwyl hulle in hulle gedagtes die vlug daarvan volg. Dit plons iewers in die see ver van die teiken.
“Hulle skiet maar vrot,” meen Consuelo.
“Die kanonne moet eers op die teiken ingestel word,” sê Nicole kalm. “Dit neem ’n rukkie.”
Nog ’n kanon bulder en kort daarna ’n ander. Teen hierdie tyd kan hulle egter die geraas op die rowerskip hoor.
“Alle matrose op die dek!” bulder Da Silva en Pablo laat die wiel net daar. Hy gryp na sy swaard en hardloop op die dek uit.
Nog ’n kanon bulder en die koeël tref die agterstewe van die ander skip. Aan boord van die El Mar juig die matrose. Hulle weet hoe moeilik dit is om die bewegende skip raak te skiet.
Die rowerskip is kleiner as die El Mar en beweegliker. Dit is ’n tweemasbrik met ’n stomp voorkasteel. Sy besonderse beweeglikheid het hy hoofsaaklik te danke aan sy groot mas wat langskeeps getuig is. Op dié manier kan hy ten volle gebruik maak van die dwarswinde wat vir die galjoen gevaar inhou.
Da Silva besef dat indien hulle die hawe probeer haal, hulle gouer in ’n geveg betrokke sal raak. Hy stuur Pablo terug na die stuur en beveel hom om die skip reg voor die wind in seil te hou.
Nicole kan die rowerskip nou deur die patryspoort sien. Sy skrik toe sy sien hoe naby hy is.
Consuelo luister skewekop na die gebulder van die kanonne. Nog net drie koeëls het hulle merk getref en dit lyk nie asof dit veel skade aan die brik aanrig nie. Sy draai skielik om en gaan weer uit die kajuit.
Nicole voel vasgekeer in die klein kajuit. Hier sal sy geen kans hê as die rowers na die ruim kom nie, maar, dink sy, as hulle die ruim haal, is die geveg in elk geval vir die El Mar verby.
Sy onthou wat Esmara die oggend gesê het en sidder liggies. Die ou vrou was reg in haar sinistêre voorspelling. ’n Hand-tot-hand-geveg is nou onvermydelik en net ’n kwessie van tyd. Die galjoen vaar teen volle spoed, maar die kleiner brik gaan hom beslis nie laat afskud nie. Hy kom astrant en doelgerig nader.
Sy kan die geraas buite op die dek hoor. Die matrose skreeu op hulle teenstanders in ’n soort poging om hulle eie veglus op te sweep. Dan word Nicole byna van haar voete geslinger toe die twee skepe teen mekaar stamp en die groot gryphake oor die reling gegooi word. Haar hart bons benoud in haar keel. Langs haar lê die dun kris en dit lyk skielik nietig en belaglik.
Seerowers stroom oor die kant en loop hulle vas in ’n geveg wat in alle erns begin. Die matrose op die El Mar veg verwoed. Hulle weet dat daar geen genade aan hulle betoon sal word nie. In die ruim van die skip lê ’n paar kiste goudstawe en ook ’n klomp silwerstawe, en dit is die prys waarna die rowers soek.
Pablo hou die skip op volle vaart en dit bemoeilik die rowers se taak. Hulle word gedwing om hulle skip beman te hou en by te bly en die galjoen nie te verloor nie. Dus kan hulle nie in volle sterkte veg nie.
Met kromswaarde en sabels en elke denkbare ander wapen klouter hulle oor die rand van die El Mar. ’n Reus van ’n man met ’n swaaiknuppel waaraan skerp metaalpunte is, saai verwoesting onder die matrose totdat iemand hom met ’n swaard deurboor.
Da Silva staan op die voorkasteel en weer sy aanvallers met redelike gemak af. Daar is net een plek waar hulle na die voorkasteel kan kom en dit is met die trap op. Hulle hou aan met kom totdat daar twee deurglip en dan is hy alleen met hulle op die voordek. Hy het al sy vernuf as swaardvegter nodig om dié twee van hom af weg te hou.
Hulle kring om hom en probeer hom teen die relings vasdruk, maar Da Silva het te veel ervaring om dit toe te laat. Hy hou hulle in die middel van die voorkasteel en dwing hulle om só te veg.
Hulle kom nie een-een nie, maar storm tegelyk. Die punt van ’n swaard steek deur sy hemp en die bloed vloei uit ’n vlak wond in sy skouer. Hulle grynslag. Dit gaan tog nie so moeilik wees om die beroemde kaptein Da Silva van die gras af te maak nie. Dan kom hulle weer, maar hierdie keer is hy reg en hy dryf terug na die reling. Die een rower verloor sy balans en val oor die kant van die voorkasteel tot op die dek waar Pablo hom staan en inwag. Dan gaan die geveg voort tussen Da Silva en die oorblywende rower.
Nicole luister gespanne na die geskreeu op die dek. Sy hoor die matrose kerm wat gewond is en elke nou en dan hoor sy van die rowers wat juig. Haar hande is klam van spanning.
’n Matroos stort oor die reling met ’n mes in sy bors. Sy aaklige gil dring deur tot waar Nicole geskok sit en luister. Dan staan sy vinnig op en gaan na die trap wat na die dek lei. ’n Oomblik aarsel sy, maar dan vat sy die kris stywer in haar hand en gaan versigtig nader.
’n Grusame toneel begroet haar. Bloed vloei oor die dek en oor die toue. Matrose en rowers gil en kreun van pyn terwyl hulle met hulle hande die bloed wat uit hulle wonde vloei, probeer stop. ’n Tree van haar af lê ’n matroos met dooie, starende oë en sy kyk vinnig weg. Dan sien sy Da Silva tussen die ander en sy skrik toe sy die bloed aan sy skouer sien. Hy veg verbete teen twee rowers wat hom geen oomblik se ruskans gee nie. Haar blik dwaal verder oor die verwoesting op die dek na waar Pedro nou met sy linkerhand veg. Sy regterarm hang aan sy sy en die bloed sypel vinnig deur sy hemp.
In die takelwerk is daar twee matrose wat alles probeer om die rowers af te skud. Die een het die swaaiknuppel opgetel waar die rower dit laat val het en nou swaai hy dit woes om hom heen. Terwyl sy staan en kyk, sien sy hoe die dodelike punt ’n rower teen die kop tref en dit byna vergruis. Hy stort agteroor op die dek sonder om ’n geluid te maak.
Nicole kyk weg. Sy het die man se skedel hoor breek en die gedagte maak haar siek. Sy sien hoe Pedro sy swaard deur sy aanvaller se maag dryf en haar knieë word lam. Sy het nog altyd ’n afkeer van geweld gehad en nou skok dit haar tot in haar diepste siel. Haar blik val op Da Silva wat onverpoosd voortveg. Hy ken al die fynere kunsies van ’n swaardgeveg en bemoeilik die taak van sy aanvallers. Hulle is ruwe seemanne wat net veg om dood te maak. Vir hulle is sy bewegings te vinnig en dit verwar hulle. Ten spyte van haar ontsteltenis, kan sy tog nie help om bewondering vir Da Silva te voel nie. Daar is ’n harde, ysige uitdrukking op sy aantreklike gesig terwyl hy veg. Vir geen oomblik verslap sy konsentrasie nie, al lyk dit asof die wond aan sy skouer hom las gee.
Sy sien die rower agter Da Silva op die agterkasteel en dan versteen sy. Die man het ’n gooimes te voorskyn gehaal en hy mik dit reguit na Da Silva se rug. Nicole se keel trek toe. Die man lig sy hand stadig, mik versigtig en gebruik al die tyd tot sy beskikking om seker te maak dat hy die kol gaan tref.
“Ramirez!” gil Nicole voordat sy haarself kan keer. “Pasop!”
Hy ruk orent, staar net ’n breukdeel van ’n sekonde na haar en swaai blitssnel om om die verraderlike aanvaller te ontduik. Die mes fluit teen sy gesig verby en die vlymskerp lem gly deur die vleis van sy wang. Die bloed begin dadelik vloei en Nicole draai haar kop weg.
Sy ruk om toe iemand haar hardhandig aan die arm beetkry en uit die skuiling van die ingang pluk. Sy kyk geskok na die grynsende seerower en dan word sy oor die bebloede dek gesleep na die reling waar die brik lê. Sy gil om hulp, maar al die matrose is by die geveg betrokke en daar is nie een wat haar kan kom help nie. Magteloos word sy na die reling gesleep.
Da Silva skud sy aanvallers af en snel haar te hulp. Die ander matrose volg hom en nou verskuif die geveg na waar die twee skepe nog aan mekaar gekoppel is. Da Silva bereik Nicole net voordat sy oorgesleep word na die ander skip. Die seerower laat haar los om eers met die kaptein af te reken. Da Silva gaan wydsbeen voor haar staan sodat sy ’n kans kan kry om weer die veiligheid van die ruim te bereik.
Nicole vorder nie ver voordat ’n volgende seerower haar beetkry nie. Hierdie keer sluit hy sy arm stewig om haar keel sodat sy skaars kan asemhaal. Da Silva se nabyheid gee haar egter moed en sy onthou van die dun kris wat sy nog steeds in haar hand vasklem. Sy steek wild daarmee na agter en die man se greep verslap om haar keel. Hy brul van pyn en voordat hy haar weer kan beetpak, strompel sy weg na die ingang van die ruim. Daar bly sy op haar hoede staan, die bebloede kris gereed in haar hand.
Net so vinnig as wat hulle oorgeklim het, klouter die seerowers terug na die dek van hulle eie skip om hulle wonde te gaan lek. Op die dek van die El Mar is daar verwoesting gesaai. Toe die gryphake afgehaal word, juig die klompie matrose wat oorgebly het op die El Mar. Dan is dit skielik asof hulle besef wat gebeur het en ’n stilte sak oor die groep toe.
Terwyl hulle verder van die brik af wegvaar, begin hulle tussen die dooies na die gewondes soek en hulle word na die ruim van die skip gedra. Die dooies word in die see gegooi terwyl die kaptein met ’n somber gesig staan en toekyk. Elke keer wanneer daar een van sy eie manne in die golwe verdwyn, is daar ’n pyntrek om sy mondhoeke en skitter sy oë van haat teenoor die rowers. Eindelik draai hy om en stap na die ingang van die ruim. Hy steek vas toe hy Nicole nog bewend daar sien staan.
“Ek is jammer, monsieur, ek moes na u geluister het.”
“Jy het jou lewe gewaag, señorita … vir die tweede keer om my te red.” Die moegheid is vlak in sy stem en hy leun uitgeput teen die trapreling.
“Ek … het nie so daaraan gedink nie. U skuld my niks, monsieur … U het my lewe ook gered deur my te kom help.”
Hy glimlag effens.
“Jou inmenging het die einde van die geveg bepaal. Daarvoor behoort ek jou te bedank.”
“Hulle sou in elk geval padgegee het.”
Hy skud sy kop stadig.
“Jy het hulle kaptein in die maag gewond. ’n Gewonde kaptein kan nie meer ’n geveg lei nie.”
Sy kyk grootoog na hom.
“Ek het nie geweet nie … Hy was besig om my te verwurg en ek wou hom net afskud.”
“Jy het dit besonder doeltreffend gedoen.” Sy blik val op die bebloede kris. “Daardie ding pas nie by jou nie.” Hy neem dit by haar en skiet dit na buite oor die dek. “’n Vrou behoort haarself nie op daardie manier te verdedig nie.” Dan stap hy by haar verby na sy kajuit. Die bloed sypel nog uit die wond aan sy wang en vorm ’n groot, rooi kol op sy hemp.
“Monsieur!” roep sy hom net voordat hy by sy kajuit kan ingaan.
Hy kyk op.
“Wat is dit?”
Sy voel effens verleë toe sy praat.
“Ek sal u wonde verbind … as u wil.”
Daar is ’n flikkering in sy donker oë.
“Dankie, señorita, maar Pedro sal daarna kyk.” Dan gaan hy sy kajuit binne.
Sy bly alleen in die loopgang staan met ’n vreemde gevoel van verlies in haar. Sy sal nooit tot hom kan deurdring nie, want hy wil dit nie hê nie. Hy sluit hom af van mense om hom en raak nooit betrokke nie. Sou hy dan werklik koud soos graniet wees met geen menslike emosies nie?
Nicole gaan eers twee dae later weer na die dek. Teen hierdie tyd is die dek reeds skoongeskrop en net die bloedkolle op die seile getuig van die geveg wat daar plaasgevind het.
Langs die weskus van Afrika lê die woestyn ononderbroke en onherbergsaam vir so ver as wat die oog kan sien. Oor ’n paar dae sal hulle die Kaap bereik en dan sal hierdie nagmerrierit ook tot ’n einde kom. Tog sien Nicole nie uit na die einde van die reis nie. Ramirez da Silva sal vertrek en dan sal sy hom nooit weer sien nie. Sy sal die ruwe matrose en die eenvoudige Pedro ook mis. Hierdie lewe is ver verwyder van die soort waaraan sy gewoond is en hoewel dit haar aan die begin geskok het, het sy stadigaan daaraan gewoond geraak en sy wonder hoe sy weer by die fyn dametjies gaan aanpas.
Die wilde lewe op die see het sy eie bekoring, dink sy. Die gedurige moontlikheid van gevaar verskerp ’n mens se sintuie en jou gevoel vir waardes verander. Sy sal nooit weer kan sit en gesels oor die nuwe modes of wat dié of daardie een aangehad het nie. Dit is net nie meer vir haar van belang nie. Die ses weke wat sy nou al op die El Mar is, het baie dinge in haar verander. Voorheen was sy op die uitkyk vir ’n man wat vir haar kan sorg sodat sy in gerief kan lewe, maar dit is nie meer die geval nie. Sy sal nooit kan trou met ’n man wat sy nie liefhet nie … en sy het Ramirez da Silva lief.
“Jy het weer ’n keer sy lewe gered,” praat Consuelo agter haar.
Nicole draai om.
“Dit was toevallig.”
“Dit bind hom aan jou.” Consuelo se stem is vol donker geheimsinnigheid.
Nicole weier om deur die geheimsinnigheid ontstel te word.
“Dis nie waar nie, en jy weet dit.” Sy kyk weg. “Dit was bloot ’n daad van menslikheid. Sonder die kaptein sou ons nou in die hande van die rowers gewees het.”
“’n Mens se dade bind jou aan ander. Hy is nie een van jou volk nie en daarom is die bande wat jy smee gedoem om te vernietig. Jy gaan hom sowel as jouself in die proses vernietig.”
Nicole draai terug na Consuelo.
“Jy is ook nie van sy volk nie. Jou voorvaders kom uit Egipte.”
Consuelo se donker oë is hard en koud.
“Ons is van nêrens en ons het nie ’n vaste tuiste nie. Die Raj van my stam is in Engeland uitgemoor en dus is ek nou vry om na ’n tuiste te soek. Ek het geen bande meer iewers nie behalwe met die Romani … hulle is nog my volk.”
Nicole kyk stip na Consuelo.
“Jý sal hom ook kan vernietig … Jy wil almal van hom af weghou, maar jy kan nie. Hy het ook bande waaraan hy getrou wil bly en jy sal dit nie toelaat met jou jaloesie nie. Jy en Esmara kan nie ál die Franscesca de Cabreiras van die wêreld doodmaak nie.”
Consuelo verstyf.
“Dit was nie ek nie … Dit was Esmara.”
“Jy het haar aangesê om dit te doen.”
“Ek het nie. Esmara was bang dat ons weggejaag sou word as Ramirez met Franscesca trou. Sy het net ons toekoms verseker.”
Nicole glimlag effens.
“Het sy? Daar sal geen rus vir haar wees voordat jy en Ramirez getroud is nie. Franscesca de Cabreira sal nie die laaste een wees nie.”
Consuelo kyk ondersoekend na Nicole.
“Sy het nog niks aan jóú gedoen nie.”
Nicole haal haar skouers op.
“Miskien omdat ek nie in die kaptein belangstel nie.”
Consuelo sit haar hande op haar heupe.
“Jy het die robyne gedra.”
Nicole kyk verbaas na haar.
“En hoe weet jy dit?”
“Esmara weet alles. Daardie robyne bring ongeluk. Nege mense het al gesterf in hulle soektog na die geheim. Dis noodlottig om hulle te dra as jy nie die contessa Da Silva is nie. Dis waarom Esmara haar nie oor jou bekommer nie. Die robyne sal hulle wraak neem.”
’n Koue rilling gaan langs Nicole se ruggraat af.
“Dis pure bygeloof,” sê sy, maar sy klink vir haarself nie baie oortuigend nie.
Consuelo glimlag stadig.
“Jou liggelowigheid gaan jou nog duur te staan kom. Franscesca het ook gedink dat dit bygeloof was. Tog het sy geweier om die robyne te dra.”
Nicole glimlag.
“Wel, daar is niks wat ek nóú meer daaraan kan doen nie, is daar? Ek het die robyne gedra en ons sal maar moet sien wat gebeur.”
“Esmara is altyd reg … Jy sal sterf as die geheim nie ontrafel word nie … en hoe gaan jý dit doen as nege ander voor jou dit nie kon doen nie?”
Consuelo laat Nicole op die dek agter met ’n koue gevoel van onheil in haar binneste. Moet sy na Ramirez gaan en sy raad vra? Sou hy dalk weet dat daar ’n vloek op die robyne rus? Maar sy glo nie dat hy hom aan so iets sal steur nie. Hy is nie die soort man wat hom deur bygelowe sal laat voor-skryf nie. Sy skud die lastige gedagte van haar af. Dis alles net praatjies van ’n seniele ou vrou. Esmara was wel reg wat die geveg met die rowers betref het, maar wie sê sy is altyd reg soos wat Consuelo wil voorgee?
Pedro moes baie goed vir sy meester gesorg het, want Da Silva se wonde neem nie baie lank om te genees nie. ’n Hele paar van die matrose wat tydens die geveg gewond is, is weer op die been en kan voortgaan met hulle take. Daar is nog net drie wat nie kan opstaan nie en dit kan dalk lank neem voordat hulle weer fiks sal wees.
Nicole is nou elke middag op die dek van die skip. Daar is vir haar nie veel in haar kajuit te doen nie en die spasie is te min om genoeg lewensruimte te bied. Hier op die dek onder die warm son voel sy beter en kan sy dink aan wat daar vir haar in die Kaap voorlê.
Esmara kry haar een middag daar. Nicole probeer wegkom, maar die ou vroutjie keer haar voor. Sy hou haar knopperige hand na die meisie uit.
“Ek wil sien wat die toekoms vir jou inhou,” sê sy in haar krakerige stem. “Gee my jou hand.”
Nicole huiwer. Sy wil wegvlug, maar sy wil ook graag weet wat die ou vrou te sê het … veral na wat Consuelo aan haar gesê het.
Esmara draai Nicole se hand met die palm na bo. ’n Lang ruk tuur sy na die fyn lyne daarop, haar gesig vol plooie van konsentrasie. Eindelik kyk sy op na Nicole.
“Ek sien ’n man in jou lewe met bloed op sy hande … Ek sien ’n donker grot met ’n deur vol robyne … Ek sien ’n nag sonder maan of sterre en swaar kettings … Jy gaan donker ure tegemoet, donker, donker ure … Vir baie lank sal jy nie veilig wees nie … as jy dit gaan oorleef …” Daar is skielik ’n vreemde lig in die ou vrou se oë toe sy wegkyk. “Dis die einde van ’n lang, lang pad … vir almal van ons.”
Sy draai vinnig om en loop skuifelend oor die dek na die ingang. Haar rug is ’n bietjie meer geboë as voorheen, die skouertjies krommer asof die las wat sy dra, swaarder geword het.
’n Sagte lag laat Nicole vinnig omdraai. Da Silva staan geamuseer na haar en kyk.
“Het sy jou laat skrik?”
“Sy het vreemde dinge gesê … oor grotte en kettings.”
Hy lag weer.
“Steur jy jou dan aan haar gebrabbel?”
Sy haal diep asem.
“Ek weet nie meer wat om te glo nie. Sy was reg oor die geveg … so miskien kan sy tog in die toekoms sien.”
Hy knik.
“Dit weet ek. Sy het al baie akkuraat voorspel, maar of sy sommer so uit die vuis vir iemand kan vertel dat sy weet wat met hom of haar gaan gebeur, dit kan ek nie glo nie.”
Nicole aarsel, maar sy weet dat sy dalk nie weer die geleentheid gaan kry om dit te vra nie. Dus skraap sy al haar moed bymekaar en sê: “Consuelo sê dat daar ’n vloek op die robyne rus. Is dit waar?”
Sy gesig verstrak.
“Ek glo dit nie. Sy het jou seker ook vertel dat nege mense al gesterf het in die soektog na die geheim van die robyne?”
Nicole knik.
“Sy het, ja.”
“Maar sy het jou nie vertel dat die eerste een ’n ou man was wat in elk geval reeds aan ’t sterwe was nie. Twee van die nege is in swaardgevegte dood, ’n ander het verdrink toe die skip waarmee hy gereis het, gesink het. Drie van die oorblywendes het in oorloë gesterf en die ander twee is twee jaar uit mekaar dood aan pokke. Daar is niks onnatuurliks omtrent enigeen se dood nie. Hulle dood het niks met die robyne te doene gehad nie.”
Nicole glimlag.
“Dis in elk geval gerusstellend. Maar sy het nog iets anders gesê.” Nicole aarsel en sê dan: “Dis net vir die contessa Da Silva veilig om die robyne te dra. Ek het hulle aangehad en sy sê dat die vloek nou vir my geld.”
“Dis louter onsin!” sê hy woedend. Sy oë is koud en hard. “Francesca het ook met daardie lawwe idee by my gekom!” Hy bly skielik stil asof hy te veel gesê het.
“Ek weet van Franscesca de Cabreira,” sê sy sag. “Ek weet dat sy dood is voordat julle kon trou. Ek is jammer as ek daardie herinnering teruggebring het.”
Hy kyk vinnig na haar.
“Dis iets van die verlede. Sy is al meer as vier jaar dood en ek kan haar nie terugbring nie.”
“Ek is nogtans jammer. Ek wou net die versekering hê dat die storie onsin is.”
Sy aantreklike gesig het ’n ysige uitdrukking.
“Ek sal jou vertel hoe sy gesterf het en dan sal jy verstaan hoekom ek sê dat die vloek net ’n storie is! Sy was nie baie gesond toe ek aan haar verloof geraak het nie. Sy het by die dag meer agteruitgegaan en is uiteindelik dood. Sy het nooit die robyne gedra of veel van hulle geweet nie. Hoe kon dit enige invloed op haar lewe gehad het?”
Nicole bly stil. Sy onthou dat Consuelo erken het dat dit Esmara was wat Franscesca vermoor het, maar sy weet ook dat sy dit nooit aan Ramirez sal kan vertel nie. Dis dinge wat verby is en sy wil nie hê dat hy nou, vier jaar later, van voor af oor sy geliefde moet rou nie. Hy sal Esmara en Consuelo van sy skip afstuur en al is sy ’n bietjie bang vir die ou vrou, sal sy nie graag wil sien dat sy weer haweloos gelaat word nie.
“Ek verstaan, monsieur,” sê sy eindelik. Laat dit wat in die verlede gebeur het, met rus gelaat word, dink sy.
“Oormôre bereik ons Tafelbaai en dan is dit adios, señorita.”
Sy kyk weg.
“Dit klink so finaal, monsieur.”
“U sal teruggaan na die lewe wat u ken, señorita. Die lewe op ’n skip is nie vir ’n vrou bedoel nie.”
Sy glimlag half treurig.
“Nee, seker nie.”
Hy kyk na haar.
“U klink nie baie vrolik nie, señorita.”
“Miskien is ek nie, monsieur. Die Kaap is ’n vreemde plek vir my en dalk keer ek nooit terug na Frankryk nie.”
“Wil u?”
Sy haal haar skouers op.
“Dis nou te laat om daaroor te wonder, monsieur. Ek kan nie met my verstand in die Kaap en my hart in Frankryk leef nie. Dan sal ek nooit my nuwe tuiste kan aanvaar nie. Frankryk mag nie meer vir my bestaan nie.”
“Hoekom gaan u dan Kaap toe?”
Sy aarsel net ’n oomblik voordat sy hom antwoord: “My pa het alles in Frankryk verloor. Ons kon nie ’n nuwe begin daar maak nie, want ons het niks gehad om dit mee te doen nie. Die Kaap was ons enigste uitweg en ons moes die kans waag. Hy het net genoeg gehad om vir ons reis te betaal … daarom kon hulle nie vir my wag nie. Hulle sou nie hulle geld terugkry wat hulle reeds betaal het nie.”
“Ek sien.” Hy is baie lank stil voordat hy sê: “Ek hoop dat u gelukkig sal wees in die Kaap. Daar is baie ander Franse en dit sal nie moeilik wees om vriende te maak nie.”
Sy glimlag effens om haar gevoelens weg te steek.
“Ek hoop u is reg, monsieur. Esmara se voorspellings het my ’n bietjie ontsenu en dit help nie juis om my te laat uitsien na my verblyf in die Kaap nie.”
“Ek sal sorg dat sy u nie weer lastig val nie.”
Nicole frons liggies.
“Ek kry haar jammer. Sy en Consuelo is die enigste oorblywendes van hulle stam. Hulle het nie ’n tuiste waarheen hulle kan teruggaan nie.”
“Daar is plek vir hulle in Spanje, maar hulle verkies om te reis. Dit was nog maar altyd in die Gitanos se bloed. Hulle was ’n nomadiese volk sedert hulle hul ontstaan gehad het.”
Later, toe hy haar weer alleen laat, kyk sy hom half verwonderd agterna. Hy was so pas ver van die wilde seeman wat sy so goed leer ken het. Sy kon hom nou eerder as ’n heer bestempel. Sy skud haar kop stadig. Sy sal hom seker nooit verstaan nie.
Die volgende is die laaste dag op die oop see aan boord van die El Mar. Die dag daarna sal hulle Tafelbaai bereik en as alles goed gaan, sal hulle voor donker in die baai kan anker gooi.
Daar is ’n opgewekte stemming onder die matrose noudat hulle die einde van hulle reis bereik het. Da Silva beplan om ’n rukkie in Tafelbaai te bly voordat hulle die lang reis na Oos-Indië begin. Dit was ’n vermoeiende rit tot hier en die matrose het ’n bietjie afleiding en gesonde kos nodig.
Nicole pak haar reissakke met ’n tikkie hartseer in. Daar was benoude oomblikke op die skip, maar daar was ook die mooi oomblikke wat sy nooit sal vergeet nie. Van die matrose wat sy leer ken het, het in die geveg met die seerowers gesterf en nou voel sy haar deel van hierdie mense, omdat sy hulle makkers se dood aanskou het. Elkeen van hulle het vir haar ’n kosbare individu geword en nie maar net nog ’n matroos nie. Ook hulle het hulle hoop en verwagtings, geliefdes en gesinne na wie hulle verlang.
Die son begin stadig water trek, gooi sy geel goud mildelik oor die see uit, baai die skip daarin en vonkel in die kruine van die golwe. Dis ’n mooi, weemoedige tyd van die dag en Nicole gaan oudergewoonte na die dek om na die son te kyk.
’n Koel wind streel haar wange toe sy uitkom. Die matrose is almal op die dek bymekaar en op die voorkasteel staan Da Silva en Consuelo en afkyk op die bedrywighede onder hulle.
’n Matroos begin op sy kitaar te speel en die ander klap hulle hande ritmies saam. Dis ’n vreemde, vrolike ritme wat ’n mens onwillekeurig jou voete liggies laat stamp op die maat daarvan. Twee jong matrose begin ’n wilde dans, hulle tol in die rondte, spring in harmonie heen en weer, klap hulle hande en pronk soos swierige hane al om mekaar.
Nicole staan betowerd na hulle en kyk. Hulle volmaakte ritme en sinkronisasie verstom haar. Hulle dans nie op die maat van ’n lied nie. Dis net die ritme wat op die kitaar uitgetokkel word en al vinniger en vinniger word. Hulle voete stamp met ’n ongelooflike snelheid op die dekplanke en dan skielik, sonder waarskuwing, hou die dans op. Die Spanjaarde lag en klap hande.
Consuelo kom heupswaaiend nader. Sy roep die kitaarspeler iets in Spaans toe en hy lag. Dan buig hy weer oor die kitaar terwyl Consuelo vir haar ’n dansmaat uitsoek.
Nicole staan eenkant teen die reling die dansers en dophou.
Da Silva verlaat die voorkasteel en kom sluit by Nicole aan. Hy staan ook ’n rukkie swyend na die dans en kyk voordat hy na haar draai: “Sy dans die Seguidilla Gitanas. Dis die sigeuners se variasie van die Andalusiese dans.” Hy lag. “Sy sal enige Spaanse danseres die loef afsteek met haar kastanjette.”
“Ek het nog net een keer tevore Spaanse danse gesien, monsieur. Ek weet niks daarvan af nie.”
“Dis ook nie nodig om iets te weet nie. Dis daar vir die toeskouer en danser om te geniet.”
Nicole kyk na Consuelo wat onbewus van die wêreld om haar die wilde dans uitvoer. Haar voete trap met ’n verbysterende ritme terwyl die kastanjette onophoudelik skril om net so skielik weer stil te raak, sodat net die geklap van die skoene op die dek gehoor kan word. Nicole kyk na Da Silva.
“Ons was ses weke op die see en hulle het nie eens een keer gedans nie.”
“Môre vaar ons Tafelbaai binne en dis ’n goed genoeg rede tot vrolikheid. Vyf van my manne het in die geveg gesneuwel, maar die ander treur nie baie lank nie. Hulle lewe nog en dit is vir hulle die belangrikste.”
“Wat het van die matroos geword wat gekielhaal is?”
“Hy het dit oorleef … Hy sal nog ’n goeie matroos word as hy ’n bietjie dissipline leer.”
“Jy het ’n vreemde manier om mense te dissiplineer.”
“Soms is dit nodig.”
Hulle staan ’n lang ruk in stilte en kyk na die dans van Consuelo en haar maat. Oplaas kom dit tot ’n einde. Consuelo kom reguit in hulle rigting gestap, haar oë gloeiend van woede op Nicole gerig. Dan kyk sy na Da Silva en praat vinnig met hom in Spaans. Hulle het ’n kort, hewige woordewisseling en dan draai Da Silva om en stap van hulle af weg.
Nicole kyk onbegrypend van hom na Consuelo.
“En nou?”
“Ek het nie nodig om aan jou te verduidelik waaroor ons gepraat het nie,” sê Consuelo uitdagend.
Nicole haal haar skouers op.
“Ek wil ook nie weet waaroor julle gepraat het nie.” Dan keer sy haar rug op Consuelo en gaan terug na haar kajuit.
Die volgende oggend gaan sy vroeg op die dek uit. Dis ’n mooi, stil dag in Oktober en ’n ligte wind dryf hulle na die vasteland wat net ’n blou streep op die horison is.
Nicole verwonder haar aan die plat berg en die natuurlike holte wat die hawe vorm. Hierdie wêreld gaan my tuiste wees van nou af, dink sy vol onsekerheid. Sou haar ouers weet dat die El Mar netnou in die hawe sal wees? As hulle haar nie kom ontmoet nie, sal dit vir haar so goed soos die einde van die wêreld wees.
Hulle vaar die hawe binne en ’n rukkie later hoor sy die ketting van die anker oor die rand skuur. Die seile word ingehaal en die dek in orde gebring.
Nog bly sy by die reling staan en kyk na die vreemde land met sy dieppers berge, smaraggroen plantegroei en haelwit strande. Dis ’n mooi land, byna so mooi soos haar geliefde vaderland. Miskien sal sy hier gelukkig kan wees …