Читать книгу Kleur kom nooit alleen nie - Antjie Krog - Страница 10

3. narratief buite die park

Оглавление

Susara Domroch van Kubus

‘nee Oupa Mandela vir hom stem ek

hoekom is om Nama te wees vandag om iets te wees?

omdat ons nou ons eie woord is

onder die ou regerings was ons hulle woord

oor jarre is ons uitgedryf na die bar plekke

Kleurling Reserves

ons was niks

maar vandag is ons iets

en dis hy, daai Ouman Mandela, dis hy

nee Mandela-goed het my stem gekry’

Kubus se kerk staan wit teen die kwartsietlug

en stoot stem teen die rante uit

‘o God blaas en bloei u liefde oor ons,’

sê oom Adam

hand op die hart sing die gemeente

‘ja Jessus is ’n rots

in ’n dorr-stigge land

’n dorr-stigge land

’n dorr-stigge land’

‘U is soos wasem vir my

Hiesus Hie-ie-ie-sus’

Kubus háng aan die rante van Rosyntjieberg

dit vra baie God om hier te hou

Mev Farmer van Eksteenfontein

‘ek’s mos vreeslik vás aan vee

’n huis is vir my niks

maar die ope veld

ek het grootgeraak so in die ope veld

in ’n ronde huisietjie

toe ons hier kom, reën dit

en die gousblom staat so hoog

as ek hurk sit ek onder ’n blommevloer

daarvandaan het ek die plek aangeneem

dat ek hom nou nog liefhet

vir die aard

vir die veld

die park-se-man het ons eendag kom oplaai

om ons die park te wys vroeër waar ons bees geloop het

hy wys ons die halfmens

maar dies ek mos gewoond

my oë bly net steek-steek

vir daai pol wat ons altyd geëet het in die veld

hy’t sulke vingers gehad

en ek en Kowa was so lus vir hom

Kowa het nogals ’n mes gevat om skoon te maak die dorings en so

ons loop en loop terwyl die anders die halfmens kyk

hier kry ek hom, die pol, en breek hom af

toe sê die man jy mag nie goed afbreek nie

en ek sê die man

nou wat moet ek dan maak, ons eet hom hoeka

toe sê hy dit moet bly vir ons kinders

toe sê ek maar ons kinders eet nie polle nie

toe sê hy ek en Kowa kan elk enetjie kry

Kowa kon darem nog so ’n ou ekstra enetjie ingedraai kry

maar nou’s ek tevrede – dit groei nog hier by’

Kleur kom nooit alleen nie

Подняться наверх