Читать книгу Kleur kom nooit alleen nie - Antjie Krog - Страница 12

5. narratief van klip

Оглавление

’n landskap soos dié maak my bang

reeds tussen Brandkaros en Bloeddrif steek dit jou onder klip

‘dè ek is klip,’ sê dit

‘net klip

in sy lelikste klipste klip

ja vatso, ek is fokkenklipdiklelik

ék smyt die eerste klip en donnerswil trash wat jy dag berg is of klip

of klip of God is

om teen my uit te hou nodig jy

God én Jesus en ’n fokken klomp gees

óf drank

jy nodig verskriklik drank

so skiet ek mense oor die kranse weg

of skroei hulle godswart maer in die klipwoestyn’

ek tree terug op die parkeraad se stoep

klip is onsmeebaar lees ek

onoplosbaar

onbepaald

klip het ’n enkele identiteit

gee my taal vir klip pleit ek

na ’n dag roepend in die Richtersveld bergwoestyn

ek soek taal

soos: die skitterende wit gebit van klip

soos: klipwaterval kanteldam

hoe lê die klipkraag van verdriet

skrobbeer vandag die hanekam

‘dit bliksemswil rym!

ek’s ding, hoor jy!

kyk my in die oghe, face my

ek is ding

ek verweer brutaal

tot klipskilfers teen kaal helse skuinstes

vieslike deurmekaar klipbleddievlokke

geen klipwoorde gaan jy ooit uit my tap nie

nooit my tot taal kap en kaap nie

ek van hier

jil verby jou slagyster van skeurklip of deurmekaarklip

kots van ’n reël met smoltklip lekklip of striemklip

ek hoon die klipliewenheid van streelklip

die drolsagte bruikbaarheid van slypklip breiklip wasklip en hangklip

ek kak kliphard op jou skielik ontluikende kliphart

ek’s my eie ding

ek verweer brutaal

ek’s klipbefok

in my klipveld is ek

stoned’

dis lelik hier, dink ek by myself

in die laaste bog wat die Oranje maak voor hy see in bloei

‘jy staan nou op die mooiste plek in die Richtersveld’

sy stem trek my skoene van my voete

verby die fasade van klipretoriek

wys hy my pluime van magma

en olifantvelverwering op dolomiet

ek spoor doloriet op wat soos donker tandepasta die aardkors inpeul

ligter graniet wat afskil in reëlmatige kliplae

anderkant die verskuiwing lê dolomiet

uit die bymekaarkom van yspens en moddermatriks

‘daar is basies drie soorte klip,’ sê hy

‘dit wat gestol het soos ysterklip en graniet

dit wat deur afsettings kom lê het

soos sandklip, skalie en moddersteen

dit wat ’n metamorfose ondergaan het soos marmer en kwartsiet’

daardie aand

skep die bot koppe vir die eerste keer lig

anderkant die tabeeboom

KAMEEGeologist to Paul Kruger in 1886‘Mr President, the conglomerate gold beds and enclosingsandstones and quartzites were sea-shore deposits formedduring the subsidence of a coastline in …’Kruger to his wife: ‘Mama, meet the gentleman who was there when God made the earth.’Thomas Pakenham: The Boer War
Kleur kom nooit alleen nie

Подняться наверх