Читать книгу Kleur kom nooit alleen nie - Antjie Krog - Страница 8
1. die Groot Gariep
Оглавлениеtoe was die pole nie ys nie –
die see ’n stadig sirkulerende werweling van loue
water rondom Gondwana
– tot met die skeuring
die kontinent wikkel haarself saggies los
van ander
en sien hoe’t wegdryf as horisonne
dis die geboorte van die Groot Rivier
die Oer-Oranje
‘ons noem hom nie Gariep nie,’ sê oom Jakobus de Wet
‘ons noem hom die Oranje
maar ientlik vir ons is hy: Die Rivier’
los van ander skiet suider-Afrika die lug in
bibberend van losse vryheid
mere en seë dreineer die opgetilte landskap langs
afgeplat weggevreet
die oerrivier stroomroof deur trôe
gletsergleuwe lemme van kwartsiet
die rivier tel spoed op skuim verby Gloriegat se knakpunt
en roei uiteindelik met sliksagte fluweelafsettings
op die oewers af see toe
‘die eentlike reddende ding is die mis,’
beweer Dawid Links
‘dis hy wat ons as Namas: Huries noem
hy stoot uit die koue trogte van die Benguela
aan wal gewaai deur wind, en begint veldoor sleep hientoe
die koppe onderskep dit
so jy weet: bossies, klippe – ammil drink dou
maar te veel Huries maakie veld blou
daarom verkies ons landsweer – so vir die vlotter natmaakslag’
Dwyka-ys is ’n naam in my taal
en graniet van die Vioolsdrifsuite!
die slang
(sjuut! moet sy naam nie noem nie
hy figure fyn uit wie’t jy is)
en as hy jou eers gehou en gehad het
kom jy nimmernooit los
moet jy terug
dieselle tyd, dieselle plek, elke jaar dring jy water toe terug
bak staan of bo leef
trug sal jy trug
soos die ander vrou
bak sy brood
sit sy kerk
as sy hom hoor fluit
staan sy op ’n loop
slaap-loop sy rivier toe
’n verskriklike krag is dit as die slang jou vat
soos dwing soos droom
daarna onthou jy niks
net die diamant op die voorkop
en dat hy snags uitkom om te wei
party sê hy krul in die Wondergat
waarvan niemand nog die bodem gekry het nie
(dis nou behalwe die man van Kubus
wat afgegaan en nog dieper afgegaan het
toe’t opkom was sy hare spierewit
en sy stem weg
tot sy dood weet niemand wat hy’t sien nie)