Читать книгу Skool is ’n riller - Antoinette Diedericks - Страница 10

Kyk diep in my oë

Оглавление

Okerbruin. Kastaiingbruin. Sy oë is bruin. Waarom? Skenkers se oë is gewoonlik groen of blou?

“Enige probleme die afgelope week, Nommer …?”

Dokter Cyrus Abravo probeer ongemerk na sy rekenaarskerm loer. “Nommer 53?”

“Alles gaan goed, Dokter.” Beweeg die skandeerder oor my maag, meet my temperatuur, voel aan die kliere agter my ore, ontleed die urienmonster wat ek in die blou bottel geskenk het, dan sal jy weet, Dokter. Alles reg. Die projek is nie in gevaar nie.

“Jou keel is rooi. Is dit seer as jy sluk?”

En sy oë is bruin. Ek kyk na die glasvenster agter die dokter se rug, waar hy nou net verbygeloop het. Waarom het ek hom nie voorheen opgelet nie?

“Ek voel gesond, Dokter.”

Die stetoskoop lê koud teen my bors, ek haal diep in en uit asem.

“Onthou om dadelik aan te meld as jy siek voel. Jy kan maar aantrek.” Dokter Abravo draai terug na sy rekenaar en tik ’n paar vinnige notas.

Ek rits my silwer baadjie toe, trek my stewels se gespes vas en loop uit die vierkantige glaskamer. Ek wonder hoe dit met Tazmin se ondersoek gegaan het? Sy het gister gekla sy het oorpyn. En dit net drie weke voor haar veertiende verjaarsdag. Amper tyd.

“Haai! Kyk waar jy loop!”

Die meisie se hare is blond en swaai parmantig om haar kop. Sy skuur ongeduldig verby my en verdwyn in die gang op pad eetsaal toe. Ek ken haar gesig, maar nie haar naam nie. Reël nommer 7: Skenkers sal nie hegte vriendskappe vorm in die jaar voor skenking nie.

Maar dis anders met Tazmin. Ons het saam by die program aangesluit toe ons twaalf was. Saam moeg en deur die slaap uit die vlugkapsule gestrompel een koue nag, op pad na ons nuwe lewe by die Akademie. Beide ons ouers het in die gasoorloë gesterf toe ons maar vier was. Ek sug. En nou gaan ek háár oor drie weke verloor. Maar dis goed so. Dit hoort so. En my veertiende verjaarsdag? Oor ses weke. 12 Augustus 2055. Dan is dit my beurt.

“Wat het die dokter oor jou gesê?” vra ek.

Tazmin skuif verby my in die skoolbank en sit haar geskiedenistablet sag neer. “Ek is gesond. Alles op skedule. Ek is só verlig, sal vanaand weer kan rustig slaap.”

Juffrou Lexy Valkenburg skuif haar duur nagemaakte perlemoendopbril agtertoe oor haar perfekte spitsneus en vee ’n blonde krul agter haar fyn oor in. Sy is ons skoolhoof, saam met tien onderwysers, wat skoolhou vir tweehonderd Skenkers. Sy bedryf die program effektief, werf gereeld nuwe deelnemers, bestuur kalm dié van ons wat reeds deel van die program is.

“Goeiemore, Skenkers. Het julle die afdeling oor die Gasoorloë van 2045 voorberei soos ek gevra het?”

Tazmin skakel haar tabletrekenaar aan en knipoog vir my.

Natuurlik, juffrou Valkenburg. Reël nommer 10: Skenkers sal alle skoolwerk getrou en stiptelik doen.

“Nommer 62, wie was verantwoordelik vir die ondergang van die beskawing soos ons dit in 2045 geken het?” Juffrou Valkenburg stap arms gevou tussen die rye skoolbanke deur.

’n Seun staan op. Hy lyk soos ons almal– wit spanbroek, knielengte silwer baadjie met ’n hoë kraag en breë lapelle, grys stewels met silwer gespes. Maar daar is ook iets anders aan hom.

“Dit was die inwoners van die planeet Lukarna wat die Aarde met gifgas oorweldig het. Driekwart van die bevolking het gesterf.”

Ek is gewoonlik verveeld in die geskiedenisklas. Maar vandag mis my hart ’n slag. Dis hy! Dis sy bruin oë wat anders is. My wenkbroue lig. H’m. Nommer 62. Ek wonder wat sy naam is?

Dis stil in die slaapsaal. Al wat ’n mens hoor, is die rustige asemhaling van Skenkers. Ek lig die klap van my slaapkapsule, kom regop en swaai my voete af. Ek voel na Tazmin onder my. Haar kapsule se deksel is ook oop. Toe ek aan haar skouer raak, weet ek sy is wakker.

“Kom,” fluister ek.

Ons sluip uit die slaapsaal en gaan sit buite in die helderverligte gang.

“Hoekom slaap jy nie? Is jy bang?”

Tazmin vee deur haar kort rooi hare. Die sproete op haar wange lyk dof in die skerp neonligte, maar sy glimlag.

“Is jy´ bang, Ember?” vra sy.

Ek skud my kop. “Nee. Ons doen dit vir ’n goeie rede. En ons hou mos een oog.”

Ons is Skenkers. Ons skenk ons oë. Vandat ons twaalf is, gaan ons skool in die Akademie vir Skenkers. Kom nooit buite die Akademie nie, want dis nie nodig nie. Ons liggame word geoefen, ons verstande geskool, ons gesondheid gemonitor, ons oë elke week getoets. Ons is perfekte, gesonde tieners.

En dan, op ons veertiende verjaarsdag, word ons na ’n operasieteater geneem. Een oog word geoes. Geskenk aan die jong kinders wat blind gebore is ná geenmutasies in hulle ouers wat blootgestel was aan die gasse.

Ons het almal groen of blou oë. Sterker visie as bruin oë. Maar lyk my daar is tog skenkers met bruin oë? Ek het blou oë wat soms pers lyk teen my swart hare.

“Ja, ons sal regkom met een oog. En dan het ons ’n huis en kan universiteit toe gaan op regeringsonkoste!” Tazmin steek haar hand uit en trek my op. “Kom ons gaan slaap, voor die naginspekteurs ons hier vang.”

My lyf gly glad deur die blou water. Ons kies almal een sportsoort wat ons elke dag mag beoefen, net soveel ure as wat ons wil. Myne is swem.

Dis stil, my asem en die geluid van my arms wat die water ritmies klief, is die enigste klanke in die warm lug van die binnenshuise swemsaal.

Maar toe my kop weer bo die water uitkom, is ek nie meer alleen nie. Hy staan op die rand van die swembad, ’n wit handdoek oor sy skouer. Nommer 62.

“Swem jy altyd alleen in die aand?”

Ek voel skielik ontbloot en sak dieper in die water. Hy is so naby, ek kan fyn haartjies op sy voorarms sien blink.

Hy steek sy hand na my uit om my uit die water te trek en ek neem dit instinktief, sonder om te dink.

“My naam is Daneel Oon, joune?”

“Em- … Ember Taylor.” Ek stotter soos ’n dogtertjie. My wange word warm.

En so vind ek uit wat sy naam is. Ek vind uit hy is twee weke gelede na my afdeling oorgeplaas sonder dat enige rede gegee is. Reël nommer 11: Skenkers sal nie die bestuur van hulle daaglikse roetine bevraagteken nie en hulle volle samewerking gee. Dat hulle hom aanvaar het, al is sy oë bruin, omdat sy Toegangspunt bogemiddeld was. Ek vind uit hy kan vinniger as ek swem. Ek vind uit sy bruin oë lag in myne en ek hou daarvan.

Ek soek na hom in die eetsaal en is bly as ek sy goudbruin kuif herken. Ek stuur vir hom briefies in die geskiedenisklas. Ek swem saam met hom saans. Ek raak verlief. En hy? Sy oë word sag as hy na my kyk.

Reël nommer 13: Skenkers sal nie verhoudings met die teenoorgestelde geslag begin in die jaar voor skenking nie.

Ons begin ’n verhouding.

Drie weke na ons eerste aand in die stil swembad voel dit of ek nie meer kan asem kry waar ek in my slaapkapsule rondrol nie.

Tazmin … sal ek haar ooit weer sien?

Ek swaai my voete oor die slaapkapsule se rand, mis haar onder my, haar leë slaapkapsule oop en donker soos ’n doodskis. Ek sluip oor die koue vloer en lig die stukkende vensterknip wat die naginspekteurs gelukkig nooit hoor nie.

Buite in die tuin sak ek neer op die bank waar ons altyd gesit het. Om my is dit stil. ’n Kat loop op die hoë muur rondom die Akademie, aan die verste punt van die tuin. Tazmin het altyd die rondloperkatte gevoer.

Trane vloei warm oor my wange, my kop op my bors. My rooikopvriendin met die groen oë …

“Hoekom is jy so hartseer?”

Ek ruk. Daneel. Hy moes gesien het hoe ek deur die venster klim. Kon hy ook nie slaap nie?

“Tazmin. Sy is vandag teater toe. En al sê hulle ons sal mekaar weer sien wanneer ons in die Gemeenskap terug is … voel dit vir my of sy … weg is.”

Daneel skuif nader en sit sy arm om my.

Ek sug en ontspan teen sy bors. Dankie tog hy is nog hier! Ek gaan drie dae voor hom teater toe.

Sy vingers trek deur my kuif en druk my hare agter my oor in. “Jy sal haar weer sien. Ons doen die regte ding. Dit moet so wees. Ons eie behoeftes is nie nou belangrik nie.” Sy hand vou om my nek, sy vingers verstrengel in my hare.

Skielik verstar hy. “Wat is dit dié?” Sy vingers voel nou doelbewus onder my hare, hoog teen my nek. Hy frons. Pluk aan iets.

Ek gil. “Eina!” Ek vryf agter my nek.

Ons staar na die inplanting tussen sy vingers, duidelik in die maanlig. ’n Stukkie silikoon. Twee klein naaldjies.

“Die ding kom uit jou nek!” Skielik word sy oë donker. “Moenie my sê …”

Hy voel agter sy eie nek, hoog op. Sy vingers word stil. Hy pluk en snak na asem van die pyn. Dieselfde silikooninplanting lê in sy handpalm.

“Hulle beheer seker ons denke deur ’n rekenaarprogram, sodat ons hulle nie bevraagteken nie!” Daneel se fluisterstem klink vies. Ons dryf op ons rûe in die warm water. Daar is vanaand meer kinders in die swembad as gewoonlik en ons kan nie gesels soos altyd nie. “En waarom moet óns ons oë skenk? Waarom vat hulle nie platannas en kloon oë uit optiese stamselle nie? Moet dit nou juis ons s’n wees?”

Ek lag. “Dalk is daar nie meer platannas in die Gemeenskap oor nie? Dalk het hulle ook almal in die gasoorloë uitgesterf, onthou jy?” Maar ek stem saam met hom. Skielik maak die program nie meer sin nie. Skielik wil ek beide my eie oë hê, vir ewig. En wanneer is daar ’n silikooninplanting in my nek gedoen? Waarvan ek nie weet nie?

“Ek dink ons moet by die skoolhoof se kantoor inkom. Probeer uitvind wat die plan met die silikooninplantings is. Ek is seker daar sal antwoorde wees.”

Ons het niemand vertel dat ons die inplantings gekry het nie. Deesdae lyk almal vir my soos glimlaggende plastiekpoppe, wat spring om juffrou Valkenburg en haar onderwysers gelukkig te hou. Was ek ook so? Waarom is almal in die Akademie so vriendelik en voortreflik en gedienstig? Is Daneel reg dat dit iets met die inplantings te doen het?

Daneel draai op sy maag en swem na die kant van die swembad. Sy stem is skor. “Vannag.”

Ek knik.

My flits se lig bewe dun oor die vloer. Langs my lyk Daneel kalm, maar my hart klop in my keel. Die naginspekteurs patrolleer saans die skoolhoof en personeel se kantore. Sê nou hulle betrap ons in juffrou Valkenburg se kantoor? Hoe sal ons verduidelik waarom ons nie in die slaapsaal is nie?

Ek sluk. Dis te laat. Voor my stoot Daneel juffrou Valkenburg se kantoordeur oop.

Ons huiwer. Dit voel te maklik. Het gedink daar sal ’n ingewikkelde slotmeganisme wees. Is daar nie enige geheime weggesteek in die gestroopte, kil kantoor nie? Of is hulle seker niemand sal rondsnuffel nie?

“Lig vir my,” fluister Daneel.

Ek kyk verbaas hoe hy agter juffrou Valkenburg se rekenaar inskuif en sekuur ’n kodewoord intik.

“Hoe weet jy wat dit is?” fluister ek.

“Sekretaresse Costella omgekoop. Belowe om haar volgende week Toneeldag toe te neem.”

Ek slaan hom speels teen sy agterkop. Natuurlik. Daneel kan enige meisie om sy pinkie draai. “Ek hoop jy kan haar vertrou, jou swaap!”

Die volgende oomblik trek Daneel sy asem in. “Kyk, lêers oor die Akademie-skoliere!”

My mond word droog. Ek herken ’n lêer met die titel “Tazmin Santio”. Ek wys na die skerm. My stem bewe. “Maak haar lêer oop.”

My oë flits oor die netjies getikte woorde. Tazmin se geboortedatum, haar geskiedenis voor sy by die Akademie aangesluit het, haar ouers se rekords. Skoolrekords, sportprestasies die afgelope twee jaar.

Ek trek my asem in toe ek die laaste inskrywing lees. “Oftalmologiese eksisie 22 Julie 2055. Beide oë geskik vir oorplanting. Raadslid Juru Karof. Silikooninplanting effektief tot met eksisie. Geskik vir Magda Pasqua, inplanting 23 Julie 2055.”

Daneel gryp my aan die skouer en druk my agter juffrou Valkenburg se lessenaar plat. Sy vinger lê oor sy lippe. “Sjuut …” fluister hy. Sy lyf is soos ’n boog gespan en ek kan sy hart in die kuiltjie van sy nek sien klop.

Ek verstar toe ’n lig oor juffrou Valkenburg se oop kantoordeur val. ’n Naginspekteur! Hy staan stil voor die deur. Die flitslig skuif deur die kantoor.

Ek bewe soos ’n riet, seker die naginspekteur kan my tande hoor klap. Daneel sit asemloos langs my, druppels koue sweet op sy slape.

Die naginspekteur brom iets onhoorbaars, skakel sy flits af en trek die kantoordeur toe.

Verligting bars deur my are. Dit was amper! Ons wag ’n paar minute om seker te maak hy kom nie terug nie. Staan met lam bene op. Sluip terug deur die neonverligte gange na ons slaapkapsules.

Maar ek wonder die hele nag. Wie is raadslid Juru Karof? En waarom die woorde “beide oë”?

Ontbyt. Ek eet alleen omdat ek en Daneel nie wil hê die daginspekteurs moet agterkom ons is baie in mekaar se geselskap nie. Die vars aarbeie en pere proe soos semels, die melk te dik om te sluk. Ek moet by Daneel uitkom. Hom vra of hy dit ook gesien het, of ek reg gelees het, of my oë my bedrieg het?

Die dag se klasse sleep voort. My senuwees is rou. Ek kan die vals glimlagte van die onderwysers nie meer verdra nie.

Juffrou Valkenburg kom in die wetenskapklas agter ek gee nie aandag nie.

“Nommer 53, wanneer is dit weer tyd vir jou besoek aan dokter Abravo?” Haar stem is skerp. Sy tik met ’n perfek gemanikuurde nael teen haar wang.

“Eh … ek … dink … oor twee dae.” Ek is nie seker nie. Laas was hy self siek, het my nie deeglik ondersoek nie. En dan tref dit my soos ’n beker yswater. Dokter Abravo maak seker die inplantings is nog daar elke keer wanneer hy ons ondersoek! Ek voel weer sy vingers agter my ore, teen my haarlyn. Tastend soos spinnekoppote. As hy my ondersoek, sal hy weet ek het my silikooninplanting uitgepluk … en weggegooi!

Ek verwens myself dat ek so dom was.

Ek glimlag vir juffrou Valkenburg. “Ek sien uit na die ondersoek, Juffrou. Ek wil graag seker maak ek is gesond en my oë geskik vir die program.” Beter om haar te laat dink ek is steeds die gedienstige plastiekpop.

Sy lig haar wenkbroue. Knik haar pragtige kop. Haar goue lokke golf liggies om haar slanke skouers.

Later die aand sit ek en Daneel uitasem langs die swembad. Ons het tien lengtes geswem, so vinnig soos ons kon. En vir tien lengtes kon ek vergeet wat ek in Tazmin se lêer gelees het.

Ek vryf my hare driftig droog. “Ons moet wegkom uit die Akademie. Dokter Abravo gaan uitvind ons inplantings is weg en juffrou Valkenburg hou jou nou ook dop. Jou gesig is seker te nors deesdae. Ek wil nie meer ’n skenker wees nie! En wie is raadslid Karof? Ek dink ook nie ons oë word aan kinders geskenk nie. Dit lyk of dit vir regeringslede gegee word. Iets is verkeerd aan hierdie sogenaamde program.”

Ons besluit om te ontsnap. Vannag nog.

Dis doodstil in die slaapsaal. My hart klop in my keel, koue sweet op my palms. Ek voel na my flits, lig op my polshorlosie. Kwart voor twee. Tyd om Daneel in die gang te kry.

Stadig steek ek my hand uit na die slaapkapsule se knip. Probeer dit geluidloos oopmaak, soos elke aand wanneer ek uitglip. Die metaal voel koud onder my vingers. Ek draai saggies.

My hand word stil op die knip. Dit wil nie oop nie. Ek probeer weer. Pluk nou aan die knip. My hart klop wild in my ore en ek byt op my lip. Iemand het die kapsule gesluit! Ek kan nie uitklim nie!

Vroegoggend klik die knip sag. Iemand sluit my slaapkapsule oop.

Ek vryf my oë, sukkel om wakker te word na ek die grootste deel van die nag rondgerol het. Toe ek die deksel oplig, lê die slaapsaal rustig en geluidloos in die grys oggendlig. Almal om my slaap nog.

In die ontbytsaal skep ek appels en jogurt en eiers en wors, en kry ’n glas lemoensap. Ek soek na Daneel se lang lyf. Ons word in elk geval nou dopgehou, geen rede meer om voor te gee ons is nie vriende nie.

“More.” Sy bruin oë het donker sakke onder hulle en hy lyk bleek. Sonder dat ons veel tussen die plastiekpoppe kan sê, weet ek hy kon laasnag ook nie uit sy kapsule kom nie.

Ons sit stil langs mekaar, eet woordeloos. Onder die tafel vou sy vingers myne vas. Ek voel dat hy bewe. Hoe het hulle agtergekom ons weet iets? Hoe gaan ons wegkom?

Die volgende oomblik skel ’n aankondiging oor die interkom. “Nommers 53 en 62, meld direk na ontbyt by juffrou Valkenburg se kantoor aan.”

Daneel staar na my met sy groot bruin oë. My asem verdwyn diep onder in my keel. Ons gaan nié in daardie kantoor instap nie. Hulle weet ons word nie meer deur hulle rekenaar beheer nie. Wat beplan hulle vir ons? Ons moet oor die muur kom! Maar ek weet nie eens waar die deur is nie! My knieë word lam, my mond droog.

“Weet jy of daar ’n deur in die muur rondom die Akademie is?” My stem is skor.

Ons maak of ons rustig eet, maar ek moet konsentreer dat my hand nie bewe voor ek die vurk in my mond steek nie. Tyd om kalm te bly. Die oë van nuuskierige Skenkers brand in my rug.

“Ek dink die muur is eintlik ook ’n ry kamers. Ek het gistermiddag gaan rondkyk. Daar is ’n deur waar ek ’n verpleër sien ingaan het. Ons sal daar moet probeer, ek kon niks anders kry nie.” Daneel sluk swaar aan sy kos.

Dit voel soos ’n ewigheid voor ons klaar geëet het. Ek probeer stadig en diep asemhaal. Daar’s nie ’n ander plan nie. Dis die muur … of niks. Juffrou Valkenburg wag in elk geval.

Daneel staan op. Stoot sy stoel onder die tafel in en neem my hand.

Ons stap in die gang af, in die rigting van die slaapsaal. ’n Daginspekteur verskyn aan die punt van die gang. “Sal ek julle na die skoolhoof se kantoor vergesel?” Hy staan dreigend nader.

Ek antwoord vinnig, my stem soet. “Ek wil sommer ook my gasoorlogtaak inhandig by haar. Ek kry dit net gou uit my kapsulekas.”

Hy frons agterdogtig, maar laat ons die slaapsaal binne.

Ons storm na die venster. Ek lig die knip met dom vingers en ons tuimel tot in die tuin. Die gekoer van ’n tortel klink kliphard in my ore, my asem fluit in my keel. Ons hardloop na die onderkant van die tuin, die muur hoog en donker voor ons.

Ek kan my oë nie glo toe ek die wit uniform van die verpleër sien nie. Die deur gaan toe agter hom en ons storm met jagende asems nader.

Die handvatsel lê koud in my palm. Die deur is oop! Ons glip in en maak die deur sag toe. Ons sak uitasem neer teen die muur van die donker gang voor ons. Buite hoor ons die geloei van sirenes en die koue stem van juffrou Valkenburg wat alle personeel waarsku oor die twee voortvlugtendes. Hoe gaan ons ooit ontsnap?

Ek ruk toe ek voetstappe hoor aankom. Pluk Daneel aan sy arm en sleep hom by die deur aan die oorkant van die gang in.

Die reuk van ontsmettingsmiddels tref my tussen die oë. Rye slaapkapsules met stywe wit lakens teen die mure. Enkele stoele staan rond. Teen een muur ’n lang tafel, stoele netjies onder die tafel ingestoot.

Ek trek my asem in en gryp Daneel se hand vas.

In die slaapkapsules sit tieners in wit jurke. Tieners met geskende gesigte. Tieners sonder oë.

Ek wil vorentoe storm, maar Daneel druk my teen die muur vas. Ons staan versteen in die skemerdonker en hyg na asem. En dan sien ek haar. Tazmin.

Ek kan myself nie keer nie. “Tazmin!”

Sy herken my stem en swaai haar kop in my rigting. Vars wonde oor haar blinde oogkasse.

Ek hardloop na haar en gryp haar in my arms vas. My trane drup op haar skouer.

Sy klou my krampagtig vas. Blinde kinders maal om ons, angstig om te weet wat aangaan.

Ek kyk rond. Sien ’n badkamer. Ek vat Tazmin se hand en ek en Daneel lei haar soontoe. Ons sak op die koue teëlvloer neer.

Haar stem bewe. “Hulle … het gejok oor die huis en studies. En … ons oë is maar net die begin. Hulle gaan in die volgende maand al ons organe oes.” Sy ril en vou haar arms om haar skraal skouers. “En dis nie vir kinders nie. Dis vir siek regeringslede! Hulle navorsing oor orgaankloning is onsuksesvol sedert hulle stamselpopulasies jare gelede met ’n virus besmet geraak het. So nou … werf hulle gesonde tieners. Juffrou Valkenburg is kop in een mus met die regering! Sy was hier, ons smalend kom vertel ons tyd is verby!” Die woorde breek oor Tazmin se bleek lippe. Sy snik teen my bors, haar vingers geknel om my skouers.

Die koue vrou moes dit geniet het om die waarheid uiteindelik te vertel. Ek vee oor Tazmin se hare en kyk na Daneel wat met gekruiste arms teen die badkamermuur staan.

Sy stem is hees. “Ons het nie tyd nie. Hulle soek na ons. Ons sal so gou moontlik uit hierdie saal moet kom.”

Ek lag skor. “Nie dalk êrens weer ’n stukkende vensterknip nie, Tazmin?”

Sy vee oor haar blinde oë en glimlag wrang. “Nee. Maar ek hoor die kostrollie deur ’n deur agter by die saal inkom. Ek ruik kos, so daar moet ’n kombuis naby wees.”

My brein beweeg blitssnel. ’n Kombuis moet ’n skag vir vullis en afvalkos hê! ’n Skag na buite … Dalk kan dit ons redding wees? “Ons sal moet wag tot vanaand, die kombuis gaan te besig wees in die middel van die dag.” My maag draai op ’n knop. Sê nou hulle kry ons voor dan?

Ek kyk in die badkamer rond. Ons besluit om ons in een van die toilette toe te sluit vir die dag. Gelukkig het niemand ons gesien nie. Ek grinnik histeries. Almal om ons is blind …

Potte glim in die maanlig wat deur die nou kombuisventers val. Blink staaloppervlakke weerkaats die lig. Die bek van die afvalskag gaap swart voor ons. My hart klop in my keel. Dis ons enigste kans.

“Dit sal wel uitwerk.” Daneel glimlag dapper na my en Tazmin. “Ek gaan eerste. Kry julle buite!” Hy klouter in en verdwyn in die swart skag af. My hart klop wild. Ek hou Tazmin se hand vas, help haar voor my by die skag in. Dan klim ek in.

Ek land met ’n hik. Langs my swets Daneel en ek hoor Tazmin hyg.

“Ons is buite!” Ek staan op en vee sand van my silwer baadjie af.

“Wat …?” Daneel sluk na sy woorde.

Ek voel oor my wange, klam van die mis. Mis wat oor donker rotse aangeseil kom en slierte om my vou. Mis vanaf die see. Wit branders wat voor ons teen donker rotse slaan.

Ons is op ’n eiland. Die Akademie is op ’n eiland gebou. Ek voel asof die aarde onder my padgee, asof ek val.

Ek kyk na Daneel.

Sy oë kyk diep in myne.

“Ons kan mos swem.” My stem is kalm.

Ons neem Tazmin se hande en stap die donker water in.

Skool is ’n riller

Подняться наверх