Читать книгу Skool is ’n riller - Antoinette Diedericks - Страница 8

Die orkesmeester

Оглавление

“EEEEEK!” Skrik skiet deur Lisa se brein toe Carla se gil soos ’n alarm bokant haar kop afgaan. Deurmekaar steier sy orent en staar na haar kamermaat wat histeries voor haar bed rondtrippel.

“Moenie vir my sê jy slááp nie! Dié tyd van die dag?” snak Carla terwyl sy met haar wysvinger op haar selfoon se horlosie tik. “Nog tien minute en dis tickets.”

Die middagson stroom helder deur die koshuiskamer se venster. Lisa sak terug teen die kussings en gooi haar arm oor haar gesig. “Maagpyn,” kreun sy en draai op haar sy. “Ek dink nie ek kan …”

“Nonsens!” Sonder seremonie pluk Carla die duvet weg. Sy gryp Lisa se gekreukelde skooljurk van die stoel af en gooi dit na haar. “Almal het maagpyn as dit tyd is vir ou Toonleer se les. Maar niemand is ooit – OOIT – laat nie.”

Teensinnig kry Lisa se trae ledemate lewe. Sy kruip uit die bed, gooi haar trui oor haar skouers en soek met lam hande onder haar bed rond na haar skoolskoene. Uiteindelik aangetrek, strompel sy na haar lessenaar. “Bladmusiek … bladmusiek …” mompel sy terwyl sy tussen die deurmekaarspul grawe.

“Hier!” Carla druk ’n verfrommelde papier in haar hand. Jy het dit in die gang laat val.” Haar oë vernou. “Weer nie geoefen nie, nè?”

Lisa antwoord nie. Sy sien haar musiektas nêrens en besluit om nie tyd te mors om daarna te soek nie. Met die bladmusiek onder haar arm vasgeknyp, vlieg sy by die deur uit.

Sy spring die koshuistrappies twee-twee af. Van daar is dit net ’n paar treë met ’n geplaveide paadjie, omsoom deur ’n laning eikebome, voor sy die klassieke lyne van die ou hoofgebou gewaar.

La Serenata Musiekakedemie, lees sy die sierletters op die gewel bokant die ingang. Instinktief word haar pas stadiger. Sy haat die crummy plek met sy witgekalkte mure en versiersuikerpilare. Prestige musiekskool se voet. Flippen martelhuis, as jy haar vra.

Gespanne spits sy haar ore. Luister vir die klank van klaviernote wat vanuit die oop skuifraamvensters in die vleuel links van die imposante houtvoordeur kom. Maar vandag hoor sy niks. Net die wind wat deur die droë boomblare ritsel.

’n Sprankie hoop fladder in haar bors. Tydens haar vorige les het ou Toonleer hoeka so ’n nare hoesie gehad. Miskien is sy siek. Longontsteking dalk. Afgeboek vir die res van die kwartaal. Sal dit nie great wees nie?

Ja, right. Asof sy só gelukkig gaan wees, raps Lisa haarself oor die vingers terwyl sy sleepvoet verder loop. Soos sy haar musiekjuffrou ken, sal sy uit die graf opstaan om les te gee.

Onder haar skoensole kraak die bruin herfsblare soos uitgedorde beentjies. Geraamtebeentjies, dink sy en ril. En ’n hopie beentjies is al wat gaan oorbly as Toonleer klaar is met haar, dit voel sy aan haar bas.

Carla was reg. Sy het nie ’n steek geoefen nie. Elke keer as sy agter die klavier inskuif en die musiekstuk uithaal, doem haar musiekjuffrou se witgepoeierde plooigesig voor haar op en vries haar vingers. As dit so aangaan, gaan sy die eksamen druip en in hierdie skool is daar nie plek vir losers nie.

Skielik gee die wind ’n wilde ruk. Lisa se skooljurk warrel op en ’n vlagie droë blare piets geniepsig teen haar kaal bobene. Toe sy skree en probeer keer, pluk die wind die bladmusiek onder haar arm uit en skep dit in die lug op.

“Nee!” Vervaard storm sy agterna. Sy gryp na die papier, maar dis of die herfswindjie haar aspris op sleeptou neem. Elke keer as sy die musiek raakvat, glip dit deur haar vingers.

Net-net buite haar bereik dwarrel dit in die paadjie af, al hoe nader aan die hoofgebou. Paniek skroei in haar bors terwyl sy dit agternasit. Sy móét dit in die hande kry voor dit bo-oor die dak vlieg.

Dit gaan erg genoeg wees om aan juffrou Kahlenberg te probeer verduidelik hoekom sy die mislike musiekstuk nie perfek kan speel nie. Sy wil nie eens dink wat sal gebeur as sy sonder die bladmusiek opdaag nie.

“Wow! En wat waai vandag hier rond?” Die ou kom so onverwags van agter een van die pilare te voorskyn dat Lisa briek moet aanslaan om hom nie onderstebo te loop nie. Hy hou sy hande uit om te keer. Die bladmusiek swiep in sy rigting en beland in sy handpalm, amper asof dit presies daarheen op pad was.

“Gee hier, dis myne!” hyg Lisa uitasem.

Die ou se bleekblou oë flits na haar en dan terug na die bladmusiek wat hy in sy hand het. “Hm, Bach se klaviersonate in E-mineur, sien ek.” Lisa kan nie agterkom of hy terg of beïndruk is nie.

“Komaan, man, gee hier! Ek’s flippen laat.”

“Wolfgang Amadeus Moore, tot u diens,” sê die ou en maak ’n teatrale buiging terwyl hy die bladmusiek na haar uithou.

Teen haar sin giggel Lisa. “Is jou naam regtig Wolfgang?”

“Cross my heart,” beaam hy terwyl hy die hoofgebou se deur oophou sodat sy eerste kan instap. “Duidelik het my pa gehoop hy sal die muse daarmee impress. Nou is ek verdoem om lewenslank haar slaaf te wees. En jy? Of wag, laat ek raai! Jy is ook een of ander wonderkind wat binnekort die wêreld aan jou voete gaan hê.”

Lisa sug. “You wish. My ma is eintlik die begaafde een, maar sy het als opgeoffer toe ek gebore is. Nou werk sy haar vingers deur om my in hierdie la-die-da skool te hou. Ek moet glo die kans kry wat sy nooit gehad het nie.”

“Hm,” Wolfgang vryf oor sy ken terwyl hy stip na haar kyk. “Jy wil nie rêrig hier wees nie. En jy is nie danig mal oor oefen nie. Nou moet jy twee maal per week by ou Toonleer hoor hoe jy arme ou Jan Sebastiaan se meesterstuk verwoes.” Sy stem verander in ’n komieklike falsetto. “Ek is sat van luiaards soos jy wat onsterflike komposisies verfomfaai! Wil jy hê Bach moet uit die dode opstaan?” boots hy die musiekjuffrou perfek na.

Verbaas kyk Lisa na hom. “Het jy ook by haar klas?”

“Gehad.” Hy ril oordrewe. “Brrr, as sy eers met daai koffieasem in jou nek blaas …”

“Of met haar vinger in jou sy pomp,” voeg Lisa met ’n senuweeagtige laggie by.

Wolfgang trek ’n kamstige bang gesig. “En jou dan dreig met die orkesmeester wat in die ou hoofgebou rondsluip,” borduur hy in ’n grilstem verder.

Lisa weet presies waarvan hy praat. Sy voel sommer hoe die musiekjuffrou se vinger in haar sy boor. Met elke steek blaas die nare koffieasem in haar gesig: “Al weer (steek) nie geoefen nie, nè? Besig om (steek) Bach te vermoor, nè? Wag tot ek jou vertel wat die orkesmeester met jou sal aanvang!” hoor sy die juffrou se stem asof sy langs haar op die klavierstoeltjie sit.

“Nou ja, die maestro begelei u vandag net tot hier,” onderbreek Wolfgang haar gedagtes.

Soos ’n galante dirigent lig hy haar hand en raak liggies met sy lippe daaraan.

Hy ruik vars, soos haar ouma se kruietuin as dit reën, en Lisa se kop draai effens. “Die skone diva kan net op my nommer druk as ek haar weer te hulp moet snel,” sê hy met ’n laggie voor hy omdraai en in die gang afstap.

Nog effens bedwelmd volg Lisa sy regop figuur met haar oë tot waar dit om die hoek verdwyn in die rigting van die trappe wat na die kelderverdieping lei.

Snaaks dat sy hom nog nie voorheen raakgesien het nie. Met sy witblonde hare en bleekblou oë is hy nogal sexy vir ’n nerd. Boonop is hy pret ook met sy kastige oudtydse maniere. Sy sal glad nie omgee as sy weer in hom vasloop nie.

Toonleer se klaskamerdeur swaai krakerig oop. ’n Skraal meisie sluip soos ’n hond wat geskop is na buite, haar oë op die grond. Sy druk die deur agter haar toe en vroetel senuweeagtig met die geel strikkie aan die punt van haar dik swart vlegsel.

Toe sy by Lisa verbyskuif, kyk sy skrams op. Haar lippe vorm woorde, maar voor Lisa kan uitmaak wat sy sê, glip sy uit by die voordeur uit. Shame, duidelik het Toonleer haar behoorlik uitgevreet, dink Lisa terwyl sy voor die toe deur staan. Aan wat nou op haar wag, wil sy nie eens dink nie. Sy trek haar asem diep in, lig haar hand en klop.

“Binne!” rasper die bekende stem.

Toonleer staan by ’n ronde tafeltjie voor die hoë skuifraamvenster, besig om louwarm koffie uit ’n blou warmfles te skink. Voor haar lê ’n boek oop. Dit lyk soos ’n plakboek. Sonder om haar oë daarvan af te haal, beduie sy vir Lisa om voor die klavier te gaan sit.

Met bewerige bene sak Lisa op die harde bankie neer. Die swart-en-wit klawers swem voor haar oë. Dit lyk soos draaktande wat haar wil verslind. Duidelik is die juffrou in ’n monsterbui.

Die meisie wat nou net hier uit is, het haar seker lelik omgekrap. En sodra Lisa gaan begin speel, gaan Toonleer dadelik hoor sy het niks geoefen nie. En dan …?

Gloemp, gloemp, gloemp, plons slukke koffie in die juffrou se keelgat. Dwa! klap die boek waarin sy geblaai het toe. Klik-klak, klik-klak kom haar voetstappe nader. Die silwer armbande om haar seningrige polse rinkel toe sy langs Lisa kom sit. “Nou toe, ek hoop jy gaan die muse bly maak vandag,” blaas sy en ’n donker glimlag skuif oor haar wit poeiergesig.

“Los my uit!” gil Lisa en wriemel toe die skerp vingernael in haar sy boor. “Ek wil nie vir Bach vermoor nie. Ek wil net …”

“Nie geoefen nie, nè?” blaas die warm koffieasem in haar gesig. “Wil nie hoor nie, nè? Soek die orkesmeester, nè?” Na elke “nè” volg ’n steek. Met elke steek styg die stem ’n oktaaf. En elke keer krimp Lisa al hoe kleiner.

Skielik is daar ’n geluid by die klaskamerdeur. Lisa verstyf. Beangs staar sy na die deur wat stadig oopswaai. Dis die orkesmeester, besef sy instinktief. Hy kom haar haal.

“Nee!” weergalm haar gil in haar ore.

En toe word sy wakker.

Verdwaas kyk sy om haar rond. Dankie tog! Sy is nie in ou Toonleer se mislike musiekkamer nie, maar veilig in haar bed in die koshuis. Oggendlig sypel deur die gordyne en in die bed langs hare haal Carla rustig asem. Alles was net ’n simpel droom.

Maar gister se musiekles was nie, onthou sy en sit vinnig regop. Dit was selfs nog aakliger as die nagmerries wat haar die hele nag rondgejaag het. As sy nie in mega moeilikheid wil kom nie, moet sy haarself regruk en begin oefen. Hoekom voel dit of haar lewe daarvan gaan afhang?

Vinnig glip Lisa uit die bed en begin aantrek. Dis Saterdag en niemand sal nou in die oefenkamers wees nie. As sy gou maak, kan sy nog ’n oefensessie inpas voor ontbyt.

Dis grafstil op die skoolterrein en die geknars van haar voetstappe op die droë herfsblare klink soos spykers wat in ’n doodskis gehamer word. Verbeel sy haar of roer die gordyne voor ou Toonleer se klasvenster? Nee, die juffrou sal mos nie op ’n Saterdag by die skool rondhang nie.

Toe sy die deur na die oefenkamers oopstoot, is die gang verlate. Spokerig verlate. Die wind huil om die hoeke soos ’n vasgekeerde gees wat uitkomplek soek. ’n Rilling glip teen Lisa se ruggraat af en sy kan die deur nie vinnig genoeg agter haar toedruk nie.

Iets in die stowwerige hoek langs die voordeur trek haar aandag. Sy buk en tel dit op. Haar voorkop plooi. Waar het sy dié geel strikkie al gesien? O ja, dit was mos aan die vlegsel van die verskrikte meisie wat gister by haar verbygeloop het.

Vir ’n oomblik lank staan sy besluiteloos daarmee in haar hand. Miskien het die meisie ook kom oefen? Maar nee, al is die oefenkamers redelik klankdig, sal sy tog weet as hier nog iemand is.

Lisa haal haar skouers op en glip by die eerste die beste kamer in. Sy sak op die klavierstoel neer en maak haar bladmusiek oop. ’n Benoude geluid ontsnap uit haar keel. Daar is dan geen musieknote op die bladsy nie! Sy skud haar kop dronkerig en kyk weer.

Hierdie keer is dit nog erger. ’n Onsigbare hand is besig om iets te skryf: Wag maar, jou beurt kom, lees sy die spinnekopskrif wat oor die bladsy krul.

Nee vrek, hier moet sy padgee, dink Lisa en vlieg so vinnig op dat die musiekstuk doer trek. Sy ken daardie handskrif! Daarvoor het sy genoeg kere gesien hoe Toonleer met ’n potlood op haar bladmusiek krap.

Sy storm na buite, net om in haar spore vas te steek. Wat gaan nou aan? Waar die skoolgrond netnou nog stil en verlate was, is dinge skielik in rep en roer. Polisievoertuie staan met flitsende blou ligte voor die koshuis. Kinders bondel in bang groepies saam. Sy sien Carla se gesig in die geroesemoes en woel ’n pad oop tot by haar. “Wat het gebeur?” fluister sy.

“Dis daai nuwe meisie in graad agt, fluister Carla en haar lippe bewe. “Die een met die swart vlegsel. Haar kamermaat het vanoggend ontdek sy het nie gisteraand in haar bed geslaap nie.”

Lisa voel hoe sy yskoud word. Die meisie se gesig doem voor haar op. Sy sien weer haar verskrikte oë. Haar lippe wat beweeg. Pasop! verstaan sy skielik wat die meisie vir haar wou sê. Pasop vir die orkesmeester.

Paniekerig kyk Lisa rond. Die meisie sou haar nie verniet gewaarsku het nie. Vir al wat sy weet, hou hy haar op hierdie einste oomblik dop. Maar wie is hy? Of is dit dalk ’n sy? Dalk Toonleer wat op die manier ontslae raak van haar losers? Ja, dit kan net die goor musiekjuffrou wees! Niemand anders praat ooit van die orkesmeester nie.

Maar hoe gaan sy dit bewys? Net toe gewaar sy Wolfgang se blonde kuif waar hy met lang treë uit die rigting van die ou hoofgebou aangestap kom. Fantasties, hy sal haar glo, dink Lisa verlig terwyl sy na hom drafstap.

Wolfgang luister in stilte. “Dalk moet ons in Toonleer se musiekkamer gaan kyk of ons enige bewyse kan kry,” stel hy voor nadat sy hom alles vertel het.

Geskok kyk Lisa na hom. “Is jy mal? As sy ons daar betrap, slag sy ons lewend af.”

Hy glimlag skeef. “Wat is die kans? Dis Saterdag, of het jy vergeet?”

Lisa byt haar onderlip vas en besluit om niks te sê van die klaskamer se gordyn wat vroeër die oggend geroer het nie. Dit was seker net haar verbeelding, en as sy wil weet wat aan die gang is, sal sy doodeenvoudig van haar bangheid moet vergeet.

Terwyl hulle onder die laning bome deurloop, loer sy onderlangs na Wolfgang. Hy is amper ’n kop langer as sy. Die oggendson toor goue vlekkies uit sy lang bleekwit wimpers en sy mond is sag. Kwesbaar.

Hoe sal dit voel as hy haar soen? skiet dit deur Lisa se gedagtes. Sy voel hoe haar wange warm word en kyk vinnig anderpad. Die ou doen iets vir haar, maar nóú is nie ’n goeie tyd vir muisneste nie. Sy moet haar kop bymekaarhou en uitvind wat aangaan voor sy ook geheimsinnig verdwyn. Intussen moet sy bly wees Wolfgang glo haar storie en is bereid om haar te help.

Uiteindelik staan hulle voor Toonleer se toe klaskamerdeur. Wolfgang druk sy oor daarteen. Luister fyn. Toe knipoog hy gerusstellend en draai die knop. Lisa betrap haarself dat sy wens dis gesluit. Toe nie. Stadig swaai dit oop …

Soos Wolfgang voorspel het, is die klaskamer verlate. Met die swaar donkergroen brokaatgordyne toegetrek is dit skemer binne en ’n bedompige reuk hang in die lug, amper asof hier jare laas ’n lewende wese was.

Die ronde tafel voor die venster waar Toonleer altyd haar koffie skink, is netjies met ’n kantdoekie toegegooi, maar daardeur kan Lisa die bekende blou koffiefles en die juffrou se geblomde koffiebeker sien. Ook die plakboek waardeur sy die vorige dag geblaai het.

Sonder om te huiwer stap Wolfgang na die tafel. Hy lig die kleedjie en maak die plakboek oop. Vasgenael staar Lisa na sy sensitiewe vingers terwyl hy deur die boek blaai.

Regte kunstenaarsvingers, dink sy. Kunstenaarsvingers wat elke bladsy streel terwyl hy duidelik geïnteresseerd daarna kyk. Wat sien hy? Lisa stap nader en kyk oor sy skouer.

Die vars geur van natgereënde kruie wat hom omring laat haar weer effens bedwelmd voel en dit vat ’n sekonde voor sy kliek wat sy sien.

Die plakboek is vol koerantuitknipsels! Van musiekleerlinge van dwarsoor die land wat die laaste jare geheimsinnig verdwyn het.

Lisa sluk swaar. “Ek het dit geweet,” fluister sy. “Dis ou Toonleer! Sy´ is die orkesmeester.” Haar stem word dun. “En die volgende slagoffer is ek.”

Voor Wolfgang kan antwoord, is daar ’n geluid by die deur. Lisa se lyf ruk toe sy omkyk en sien dis Toonleer wat die vertrek binnekom.

Die juffrou se oë pen hulle vas waar hulle langs haar tafel staan en ’n bose uitdrukking gly oor haar gesig. Seker omdat Wolfgang nog haar boek vol donker geheime in sy hande vashou, dink Lisa en haar knieë wil-wil knak van vrees.

Om regop te bly gryp sy Wolfgang se boarm vas en kyk paniekerig rond. Hulle moet hier uitkom! Maar hoe? Toonleer blokkeer die deur. Die venster is die enigste ander uitkomplek, maar sal hulle dit betyds oopkry?

Sy sukkel nog om die swaar gordyne weg te druk toe sy agterkom hoe stil dit is. Verskrik kyk sy oor haar skouer. Toonleer staan nog op die drumpel. Maar iets is nie pluis nie. Sy kyk na Lisa met ’n snaakse uitdrukking op haar gesig, amper asof sy haar jammer kry.

Haar mond beweeg. “Hoekom het jy nie geoefen nie?” hoor Lisa. “Hoekom?” Dan draai Toonleer se oë na Wolfgang. “Orkesmeester,” fluister sy skaars hoorbaar en maak ’n kniebuiging.

Verskrik kyk Lisa op na hom. ’n Gerusstellende glimlag plooi om sy lippe. “Moenie jou aan haar steur nie, sy is ’n regte pretbederwer,” sê hy en Lisa voel hoe sy regterarm om haar middel sirkel.

Hy stoot haar in die rigting van die deur. “Kom! Die ander losers wag vir jou. Diep in die donker kelder waar ek julle goed kan dophou. Van nou af gaan jy oefen. Dag en nag. Vir ewig en altyd– tot die muse uiteindelik tevrede is.”

Toe gooi die orkesmeester sy kop agteroor en sy lag stuur ysige rillings teen Lisa se ruggraat af.

Skool is ’n riller

Подняться наверх