Читать книгу 'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo - Страница 6
ОглавлениеA
abakus — telraam
Die pretensieuse abakus van vandag met sy blink drade en gekleurde krale was oorspronklik ’n sandskinkbord. Klippies is in kolomme in die sand gelê waarmee getel en somme gemaak is. Die ding se naam het ’n geskiedenis uit verskillende lande: Die Romeine, wat minstens altyd wou weet hoeveel brons asse (munte) hulle in hulle sakke het, het dit al ’n abacus genoem — maar die woord by die Grieke gehoor, die abakos. Dié volk het iets uit Hebreeus daarmee gemaak, waar dit abaq was wat “stof” beteken het; of Fenisies abak met dieselfde betekenis. In sommige Turkse skole word die apparaat nog gebruik; → KALKULEER.
abdikeer — van ’n kroon afstand doen
Die posisie van ’n Engelse koning is soos dié van ’n rugbyspeler in die Springbokspan – jy kom makliker daarin as daaruit. Die abdikasie van koning Eduard VIII van Brittanje in 1936 het groot opslae gemaak, want hy was die enigste Britse koning in die geskiedenis wat vrywillig van die troon afstand gedoen het. Om die waarheid sê: hy het dit “weg verklaar” — die regte betekenis van abdikeer. Sy liefde en hartstog vir ’n hoogs ongewilde, twee keer geskeide Amerikaanse vrou (sommige bronne weier om haar ’n dame te noem), Wallis Simpson (voorheen Spencer, gebore Warfield), het hom laat besluit om die huweliksbed bo die troon te kies. Hy was so ongewild, ook oor sy vriendskap met die Nazi-leiers in Duitsland, dat hy en sy vrou na Frankryk uitgewyk het. (Latyn abdicare uit ab- “weg” + dicare “verklaar”, dus verklaar dat jy die troon weggooi)
abdomen — buikdeel van ’n mens of dier
Die Romeine het geglo dat alles wat geëet word, in die onderbuik weggesteek is. Daarmee saam het gehang die wegsteek ook van die ingewande wat ontbloot nie aptytwekkend sou wees nie – die woord beteken dus eintlik “verborge”. Maar die opvallendste kenmerk van die abdomen is die geronde vorm: die eerste betekenis van die woord was inderdaad “vet pens, boepens”. (Uit Latyn abdere “wegsteek”, of adeps “vet”)
aberrasie — afwyking van die normale, veral gesê van sterre, plante
Iemand wat hieraan ly, is die kluts letterlik kwyt. Hy het van die reguit paadjie afgedwaal en verdwaal – reeds in die Romeinse tyd. Latyn is aberrare “die weg byster raak”, uit ab- “weg” + errare “ronddwaal”.
ablusie — afwassing
Die Romeinse baddens was groot en besonder gewild; daar was selfs professionele masseurs wat met salf en olie gewerk het. Latyn abluere het “afwas” beteken, uit ab “af, weg” + luere “was”. Maar dit was vir die gewone ouens: ablusie het later ook beteken “rituele reiniging”. Vandag dink ’n mens meer aan ablusieblokke by woonwa- of ander kampeerterreine (wat gewoonlik gewas behoort te word nadat iemand daar gewas het). Die woorddeel lu- van luere sit ook in alluviaal “wat deur ’n rivier na ’n plek gewas is”. ’n Wisselvorm daarvan, la-, het ons vandag nog in latrine, maar ook laventel. Laventel en afwas? Die naam van die plant met die delikate geur kom uit die gebruik daarvan in wasserye: dit is van die vroegste tye af op vars gewaste katoen gelê om dit vars te laat ruik.
abnormaal — effens gekrenk in geestesvermoëns; misvorm
As ’n mens nie die aanvaarde sosiale reëls nakom nie, word jy dikwels as ‘eksentriek’ en ‘eienaardig’ bestempel, maar selde as ‘abnormaal’. Tog is dit waar die woord vandaan kom: Latyn abnormis “wegbreek van die reël” uit ab- “weg, af” + norma “reël”. Dit was die beleefde verduideliking: abnormaal het ook “kranksinnig” beteken, want iemand wat só optree, handel ook buite die norma.
abolisie — staking, opheffing, afskaffing
Soos ’n eiesinnige rankplant, het die woord oorspronklik beteken “weggroei”, dit wil sê in ’n rigting groei waar die oorspronklike bestel agtergelaat word. Die woord se betekenis het mettertyd versterk en ander betekenisse aangeneem. Slawerny is byvoorbeeld geaboleer, maar met groot lawaai en protes in sekere kringe – dit het nie sommer net mettertyd gekwyn nie. (Latyn ab- “weg” + olere “groei”)
abominabel — iets afskuweliks
Voorbodes dui op dinge wat nog moet gebeur en word dikwels met vrees bejeën, want dit slaan gewoonlik op onheil. Selfs die stoere Romeine het die goed gevrees. As iemand byvoorbeeld genies het, het hulle uitgeroep: Absit omen!, dit wil sê: “Wyk, voorbode!” omdat hulle geglo het dat die nies die voorteken van die plaag was (dit was een van die eerste simptome). ’n Abominasie was iets om van weg te kom, te vermy en dus ’n haatlike, afskuwelike ding (Latyn ab- “weg (van)” + omen “voorteken”). Dié betekenis is versterk deurdat die Engelse teoloog, filosoof, kerkhervormer en voorloper van die eerste volledige vertaling van die Bybel in Engels, John Wycliffe (c. 1330–1384), hom met die Latyn vergis en ’n volksetimologie vir die abominasie geskep het, naamlik abhominable, asof dit “weg van die mens” (ab- + homen “mens”) beteken het. Die betekenis het toe dus ook “onmenslik, beesagtig” ingesluit. Dié verwikkeling was bekend genoeg dat William Shakespeare in sy werke die woord 14 keer soos Wycliffe gespel het, byvoorbeeld in As you like it (IV, i, 6).
aborsie — afdrywing van die onryp fetus
Die Romeine het dié woord onder andere vir sterftes en sonsondergange gebruik. Die sonaanbidder wat sy gesig van die ooste na die kant van die sonsondergang wegdraai, sou volgens hulle aborteer. Die Latynse woord abortus het later “verdwyn, ’n miskraam kry” beteken, uit ab- “weg, verkeerd” + oriri “verskyn, gebore wees, opkom”.
abrakadabra — seën die voorwerp
Kul jou hier, kul jou daar! Dié woord is volgens sommige bronne ’n verbrouing van die geheime, kabbalistiese Hebreeuse habrahar dabar wat “seën die voorwerp” beteken het. Maar moderner uitsprake is dat dit van die naam van ’n mitiese Persiese songod kom wat deur die towenaar tot hulp geroep word wanneer hy sy kunsies uitvoer, dus ’n towerwoord. Dit word miskien ook gestaaf deurdat die letters van die woord in die getalleleer die som van 365 het, wat dus die hele jaar dek en ook die krag van die 365 dienende geeste van die god aanroep. Die woord is ook op ’n stukkie perkament geskryf en aan ’n linnetoutjie om die nek gedra. Dit sou kouekoors, diarree en tandpyn onmiddellik genees, maar na nege dae moes dit in ’n rivier gegooi word. Daar is ook gemeen dat dit die naam van die Assiriese hoofgod was.
abrup — kortaf
As iemand kortaf, bot, nors is, voel dit soms of iemand sy nek moet afbreek. Die Romeine sou daarmee akkoord gegaan het, want in Latyn het abruptus “afgebreek, gediskonnekteer” beteken. Die herkoms is uit ab- “af, weg” + rumpere “breek”.
absint — alkoholiese likeur
Wildeals is goed bekend as ’n volksgeneesmiddel, maar as dit saam met wyn of brandewyn gedistilleer word, maak dit siektes gesond wat net in die drinker daarvan se kop bestaan – maar ook net tot die volgende oggend. Absint is eintlik wildeals, maar dié naam was nie deftig genoeg nie. Die bekendheid van die likeur in talle Europese lande is moontlik te danke aan die Franse impressionistiese skilders soos Henri de Toulouse Lautrec (1864–1901) wat dit met prostitute in Parys vereenselwig het. Die uitwerking van die likeur was so erg dat die Nederlandse Absintwet van 1909 ’n verbod geplaas het op die invoer, vervoer, vervaardiging, verkoop, aflewering of besit daarvan; → AMETIS.
absoluut — heeltemal, volkome, volstrek
As iemand jou geabsoluut het, was jy heeltemal en volkome vry (in kerkverband van sonde en skuld). Vir die Romeine het dit voortgespruit uit die werkwoord absolvere “vrymaak” (vandag nog in Engels absolve, om van skuld vry te maak). Dit is eers later wat die woord die huidige betekenisse verkry het. Latyn solvere het “losmaak” beteken.
abstinensie — onthouding, byvoorbeeld van sterk drank of geslagsomgang
Dié woord het stewige militêre familie. Dit kom uit Latyn abstinere uit ab- “van, weg” + tenere “hou”. Iemand wat dus abstinensie beoefen, hou hom weg van die verleidings. Ons woord luitenant is verwant daaraan: die lui- is ’n ander vorm vir die Franse lieu “plek” + tenant “houdende” (uit dieselfde tenere “hou”). Die luitenant is dus iemand wat die plek hou van iemand (byvoorbeeld sy kaptein as dié weggeglip het om vir ’n aandjie nie abstinensie te beoefen nie); → MAARSKALK.
terug na → LUITENANT
abstrak — losgemaak van die werklike konteks of bestaan
Abstrak is nie net ’n abstrakte begrip nie. Vir die Romeine was dit ware stokkiesdraai, ’n wegtrek van die werklikheid. ’n Abstrakte skildery is dus een wat nie die fisieke wêreld uitbeeld nie, maar ’n toneel wat daarvan verwyder is. In die betekenis van “opsomming” (byvoorbeeld van ’n artikel) is dit ook ’n “uittreksel” van die werklike teks. Die woord se gees leef ook nog in afgetrokke, gesê van ’n persoon wie se gedagtes dwaal, dus weg is van die werklike situasie. (Latyn abstractus “wegtrek” uit ab(s)- “weg” + trahere “trek”)
absurd — dwaas, onverstandig, onsinnig, belaglik
In Romeinse tye is ’n doofstom persoon as absurd beskou. Daarmee is nie bedoel dat daar vir hom gelag moet word nie, maar dat hy as sinneloos geag is, dit wil sê nie by sy normale sinne soos regskape mense nie. In Latyn het absurdus “van wysie af, sinneloos” beteken, uit ab- (intensiveerder “baie”) + surdus “bot, doof, stom” — en dus buite die orde, abnormaal.
adamsappel — vooruitstekende, boonste deel van die strottehoof, by mans meer ooglopend as by vroue
Vertel dit vir die ou mense. Die adamsappel was die stuk appel wat in Adam se keel vasgesteek het toe hy vreesbevange besef het watter sonde hy en Eva gedoen het. Gelowiges glo dat Adam wel bestaan het, maar die berugte vrug word nêrens in Genesis ’n appel genoem nie en steek ook in g’n man, antiek of modern, se keel vas nie. Die vyeblare in die verhaal dui moontlik op ’n vy, want dié vrug aard in die klimaat van Mesopotamië (die vermeende setel van die Paradys). Dit is ’n oorlewering van rabbi’s dat aan Adam en sy nakomelinge die keelknobbel tot ’n blywende skandteken gegee is.
Die appel is nie die enigste nalatenskap van ons oerouer nie: In die suidweste van Sri Lanka naby Ratnapura is daar ’n berg met die naam Adam se piek wat deur die Portugese so genoem is. Volgens hulle het Adam 200 jaar lank op een voet daar gestaan en sy verbanning uit die Paradys beklaag totdat God hom vergewe en weer met Eva (teen daardie tyd erg verrimpel) verenig het. Die spits is bo afgeplat in ’n plato van ongeveer 22 by sewe meter waarop daar ’n groot holte soos ’n mens se voetspoor is. Dié is sowat 1,64 by 0,77 m groot. Die holte word deur Boeddhiste, Moslems en Hindoes vereer: hulle beskou dit onderskeidelik as die voetspoor van Boeddha (op die plek van waar hy na die hemel opgevaar het), Adam en Shiva.
adekwaat — bekwaam, toereikend
’n Adekwate persoon is iemand wat gelyk is aan dit wat van hom verwag word – dus bekwaam. (Latyn ad- “om” + æquare “maak gelyk”)
admiraal — hoogste rang in ’n (oorlogs)vloot
Miskien is dit die prag en praal van sy uniform wat die -d- in admiraal te lande laat kom het, asof hy daarvoor geadmireer moes word. Die woord kom eintlik uit Arabies amir of emir “prins, vors” of Hebreeus amir “hoof, kop” en is vroeër gebruik vir ’n bevelvoerder op land of ter see. (Hy was eintlik maar net hoof van die vervoerafdeling.) In die Nederlands van so ses eeue gelede was die spelling inderdaad nog amirael – ’n bevelhebber in die Saraseense leër. As ’n mens die vlootaanvoerder bedoel het, moes “van die see” agter sy titel gevoeg word. Die werkwoord amara het “beveel” beteken, iets wat ’n admiraal goed kan doen.
Volgens vroeëre bronne is die woord amir deur die Turke of Genuese in die 12de eeu gekoppel aan die Arabiese lidwoord al. Daaruit het ontstaan Amir-al-ma (“bevelvoerder van die water”), Amir-al-Omra (“bevelvoerder van die leërs”) en Amir-al-Muminim (“bevelvoerder van die gelowiges”). Dié herkoms word egter deesdae betwyfel. Die admiraal is werd om geadmireer te word.
admireer — bewonder, vereer
As jou span nie heel onder op die punteleer eindig nie, is ’n mens verbaas, maar die manne behoort eintlik geadmireer te word. Die stam van die woord, naamlik mir, kom van die woord mirus “wonderlik” waarvan mirakel “wonderwerk” bloedfamilie is. (Latyn admirari: om verbasing te voel of uit te druk)
adopsie — aanneming, veral van ’n kind
Die oorspronklike betekenis “keuse, wens” maak dit duidelik dat die aanneming van ’n kind jou keuse is en dat jy die wens daartoe uitgespreek het. (Latyn ad “tot, aan” + optare “kies)
adresseer — ’n adres op iets skryf of sê
Dit klink vandag mak: oorspronklik was die betekenisse “reguit maak, rig”. Die idee was om ’n brief of ’n persoon se pad na ’n adres reguit te maak deur hom die kortste roete te beduie – hom dus daarop te rig. Dit kon ook beteken om jou om ’n rede tot iemand te rig (vir byvoorbeeld hulp). (Latyn de “af, na” + regere “reguit sit”)
adulasie — matelose vleiery
Honde sit al eeue lank langs etenstafels en swaai hulle sterte in afwagting van ’n los gelukkie in die vorm van ’n stukkie beeshaas of ander lekkerny. Om te aduleer is om te bedel soos ’n hond. Die woord kom oorspronklik uit Latyn ad “om” + ulos “stert”; die Grieks daarvoor, sainein, het saam met stertswaai ook “vleiery” beteken.
adultereer — egbreuk pleeg
’n Man se skelm se naam word dikwels deur hom verander, vervals of gekorrupteer totdat vroulief dit uitvind. Dit is wat adultereer oorspronklik beteken het. Die ding wat tydens adulterasie verander word, is die verhouding tussen getroude man en vrou. Die skuldige party ontken op ’n valse manier dat daar iets aan die gang is tussen hom of haar en die derde persoon in die driehoek. Wanneer alles uiteindelik op die lappe kom, is die huwelik gekorrupteer. Maar daar is ’n tweede betekenis aan die woord, naamlik “iets minderwaardigs maak deur die byvoeging van ’n stof”. Melk wat met water verdun is, is geadultereer. Dit geld eweneens die huwelik. Sommige bronne maak ’n onderskeid tussen enkel adulterasie “seksuele verhouding buite die huwelik met ’n ongetroude persoon”, en dubbele adulterasie (met ’n ander, getroude persoon — as jy dan regtig vir moeilikheid lus is). (Latyn ad “om te” + alter “ander, verskillend, korrup”)
adverteer — bekend maak; die vermoedelik goeie eienskappe van iets aanprys
Die oorspronklike Latynse advertare het beteken “waarsku, draai” – dit moes iemand sy kop laat draai sodat hy aandag aan die saak gee. Maar reeds in die 16de eeu het mense besef dat nie alles wat geadverteer word, is soos wat dit behoort te wees nie. Mense is dus gewaarsku om op hulle hoede te wees.
Die Engelse skrywer John Milton (1608–1674) beskryf in sy Paradise Lost hoedat God die aartsengel Rafael gestuur het om Adam te adverteer (lees waarsku) teen die gevaar van die bose gees wat hom bedreig.
advokaat1 — regsgeleerde wie se beroep dit is om regsadvies te gee en sake voor die hof te bepleit
Die oorspronklike advokaat in die tyd van die vroeë Romeine was maar net ’n getuie wat geroep was om die aangeklaagde by te staan (Latyn ad “om te” + vocare “roep”). Eers tydens die keiserryk het die betekenis meer in ooreenstemming met vandag s’n gekom.
Twee advokate wat besondere posisies in die Katolieke Kerk beklee, is die Duiwel se advokaat en God se advokaat. Wanneer ’n Katoliek se naam vir heiligverklaring voorgelê word, word eersgenoemde (Advocatus Diaboli) opgeroep om alle moontlike swak eienskappe of dade teen die kandidaat in te bring. Die Advocatus Dei daarenteen lê weer alle moontlike bewyse van die onbesproke lewe van die kandidaat voor.
advokaat2 — alkoholiese drank
Advokaat was oorspronklik ’n oggenddrank van brandewyn, eiers, suiker en gerasperde neutmuskaat en is beskou as goeie middel om ’n advokaat se keel mee te smeer, ’n keelsmeerder dus. Hy moes per slot van rekening die hele dag in die hof gaan staan en praat. Dat die brandewyn hom dalk twak laat praat het, sou nie opgemerk word nie, want die gewone beskuldigde was in elk geval totaal onkundig wat die regsproses behels het.
affiliasie — opneem van ’n kleiner vereniging by ’n grotere
Die Latynse oorsprong van die woord was affiliatus wat spesifiek beteken het om ’n seun aan te neem: ad “aan” + filius “seun”. In so ’n geval is ’n kleiner persoon deur ’n grotere aangeneem – wat die moderne betekenis so effens weerspieël. In kerklike terme het dit verwys na die voorreg waardeur persone wat deur ’n kloostergemeenskap as verdienstelik beskou is, in die gebede, goeie werke en geestelike verdienste van die klooster kon deel.
affliksie — hartseer, beproewing, lyding
As jou gees deur teenspoed vermorsel is, het jy ’n affliksie. Dit is ’n verskriklike toestand, maar fisiek nie so erg soos in Romeinse tye nie. Die Latynse herkoms (ad + fligere) het ook “beskadig, teister, neerslaan, neergooi, vermorsel” beteken.
affodil — geel blom met ’n trompetvormige kelk
Vir die Grieke was die affodil ’n heilige plant wat aan die dooies gewy is en wat in begraafplase geplant is: ’n doodsplant dus. (Volgens die Griekse geskiedskrywer Homeros in sy verhaal van Odusseus wandel die skimme van die oorlede helde in die onderwêreld op ’n vlakte wat met affodille beplant is.) Volgens die Griekse mitologie was ’n dogter van Zeus, Proserpina, eendag besig om lelies in die Vallei van Nusa in Sisilië te pluk toe die god van die onderwêreld, Pluto, haar gegryp en met sy strydwa ontvoer het sodat sy met hom moes trou. In haar vrees het sy tydens die tog die lelies laat val en hulle het toe affodille geword.
affronteer — beledig, in die eer krenk
Maar nie so mak in Romeinse tye nie – die dief het al weer die kers van betekenis bygekom. In Latyn het frons onder meer “(plooi op die) voorkop” beteken. (Dié woord se oorsprong kan dalk ook Gallies frogna “neusgat” wees, maar met die idee van ’n snork van verontwaardiging.)
Affronteer was om iemand op die voorkop te slaan. As die persoon nie oor die klap beledig voel of minstens woedend word nie, het hy ’n varkie weg. Die minste wat hy kan doen, is om te frons om sy afkeer te kenne te gee. Beter was dat die geklapte daarop sou aandring om die klapper douvoordag met pistool of rapier te konfronteer.
Die werkwoorde frons en konfronteer is duidelik familie: laasgenoemde beteken om voorkop tot voorkop met iemand te staan sodat jy hom onder vier oë kan sien.
’n Ander vroeëre betekenis was “stelling inneem teenoor ’n vyand voordat die geveg begin”. Dit was veral die geval by onbeskaafde volke. Hulle sou eers mekaar tart en treiter deur gesig te trek of onbeskofte klanke of woorde te laat hoor. Miskien sou ’n diep grom soos in die diereryk die vyand afskrik. As hierdie voorspeletjies verby was, het hulle mekaar stormgeloop.
terug na → FRONS, KONFRONTEER
aggravasie — verswaring, oordrywing; irritasie
Latyn gravis beteken “swaar” en om iemand te aggraveer, is om hom met ’n ekstra las te belaai, veral as hy reeds soos Martie Martelaar rondloop. Dit sou hom ook irriteer. Die woord aggravasie is ook in verband met siekte gebruik as ’n pasiënt sy simptome erger voorstel as wat dit regtig is. (Latyn ad “om” + gravare “’n gewig op iemand plaas”)
aggregaat — ongelyksoortige dele saamgevoeg tot ’n geheel
Latyn aggregatus (ad “na” + gregare “kudde trop”) het letterlik “verenig in ’n kudde of trop” beteken. Die ongelyksoortige dele van iets is dus gelei tot waar hulle ’n geheel gevorm het: die totaal van die som. Op dieselfde manier het segregasie “afgeskeide van die kudde” beteken (Latyn se “apart” + gregare “kudde”) – wat ook die herkoms van ons vermaledyde woord apartheid verklaar. ’n Nederlandse betekenis van aggregaat was dan ook “opneem in ’n gemeenskap”.
aggressie — onuitgelokte aanval
Om tot die aanval oor te gaan, beteken dat jy nader aan die vyand sal moet stap. Agressus in Latyn het beteken “benader, aanval”, maar die oorsprong was eintlik baie meer gematigd, naamlik “nader stap”. Natuurlik was dit nie ’n stappie ter oefening nie, maar om iemand ’n taai klap te gee. Die gressus steek ook in die woord progressie, wat dan letterlik “vorentoe stap” en “vooruitgang” beteken.
agiteer — opjaag, aanstook
Ja, maar eintlik het Latyn agere “dryf, aandryf, heen en weer skud” beteken. As iemand heen en weer geskud word, gaan hy beslis opgerui, opgejaag wees – dalk selfs tot raserny gedryf word. In dié toestand lei hy dalk selfs ’n betoging.
agonie — doodstryd, groot pyn
Behalwe masochiste is daar min ouens wat plesier uit pyn sal put. Maar die oorspronklike betekenis van agonie het plesier eerder as pyn in gedagte gehad. Uit Grieks agein “lei” het agon gekom: dit waarheen iemand gelei word. Agonie was dus die inlei van iemand in ’n vergadering. Dit is in die besonder toegepas op die samekomste van mense wat die groot Griekse Spele, atletiek en dramawedstryde bygewoon het – en genot daaruit geput het. In talle verhale is daar ’n held en ’n skurk: eersgenoemde is die protagonis, laasgenoemde die antagonis, wat “mededinger” beteken. Dié woord was in Grieks eers agonistes waaruit agonie later ’n pynlike betekenis verkry het (die skurk ly altyd teen die einde). Die woord agonia het toe die stryd tussen die twee hooffigure beskryf – en in die Griekse mitologie en drama was dit gewoonlik tot die dood toe. Later is dit oorgedra op die geestelike en morele stryd van die mens, die fisieke en geestelike angs, benoudheid wat ’n mens moontlik kan verduur. Dit was wat Christus in die tuin van Getsémané moes deurmaak, sy agonie.
agorafobie — vrees vir oop ruimtes
Hoe ongelooflik dit ook al mag lyk: waar ’n skare is, is gewoonlik nie oop ruimtes nie. Hierdie oënskynlike teenstelling lê daarin dat die Griekse oop ruimte tipies die markplek was. Die oorspronklike woord ageirein het “versamel” beteken en dit is op die markplein waar die kopers en verkopers versamel het. Die vrees vir die markplein se verlatenheid was die eerste betekenis, maar later sou sommige mense die vrees beleef, selfs al was daar ’n gedrang. Dit het dus eintlik skarevrees beteken.
Dié vindingryke verklaring word voldoende weerlê deur die Griekse woord agros wat “veld” beteken het (en wat ons vandag nog sien in die woord agronomie, dit wil sê “veldkunde, teorie van die landbou”). Agorafobie was dus ’n samestelling van agora “veld” + phobia “vrees”. ’n Veld is per slot van rekening ’n groter oop ruimte as ’n markplek (en bied ook meer ruimte as jy wil weghardloop).
akademie — opleidingsinstansie, vereniging vir bevordering van wetenskappe en die kunste
Die benaming akademie slaan terug op die olyfboord op die eiendom naby Athene van ’n legendariese boer met die naam Akademos. Hy was bekend as ’n held van die Trojaanse Oorlog (al beteken sy naam kalmweg “van ’n stil buurt”). Die tuin was so bietjie meer as ’n kilometer van Athene af geleë waar Plato (c. 427–347 v.C.) sy volgelinge onderrig het. Akademos se naam is om ’n besondere rede in die tuin met bome verewig: ’n Ongelukkige jong dame, Helena, is in haar jeug van Sparta af deur die held Theseus ontvoer. Haar broers, Kastor en Polluks (die huidige Tweelingsterre Gemini), het haar gaan soek en die boer, Akademos, het hulle in die regte rigting kon stuur. Daarna is die boord op sy plaas beskerm, die stad het daaromheen gegroei en Plato het die stilte benut om daar sy leerlinge voor te gaan. Ongelukkig was hy net in staat tot Platoniese liefde, sodat die stil, skaduryke hoekies van die tuin geen wilde tonele aanskou het nie.
akker1 — verafrikaanste vorm van ’n Engelse grondmaat effens kleiner as ’n halwe hektaar
Hoe sou ons oerouers geweet het hoe groot ’n hektaar was? Nee, hulle het ’n baie praktieser manier gehad as dié skelm moderne beskrywing. ’n Akker was ’n stuk ploegland, die oppervlakte wat twee (flukse) osse in ’n dag kon ploeg Nederlands het akker verbind met Latyn ago wat “dryf” beteken het. Die grond sou dan die plek wees waarheen die vee gedryf is om te gaan wei.
Dié woord het ’n besondere verband met die geskiedenis van Judas Iskariot. In Matteus 27:5 en verder lees ons hoedat Judas die silwerlinge in die tempel gaan neergooi en hom buite aan ’n boom gaan ophang het. Die priesters het besluit dat hulle nie die geld kon aanvaar nie, want dit was bloedgeld. Hulle het toe daarmee ’n stuk veld buite Jerusalem van ’n pottebakker gekoop as ’n begraafplaas vir vreemdelinge. Die naam daarvan was toe Bloedgrond. Dié soort begraafplaas het later die naam godsakker of akker van die Here gekry – en die besondere betekenis is veralgemeen sodat dit enige kerkhof of begraafplaas beteken het; → AKKER2.
terug na → akker2
akker2 — vrug van die akkerboom
Die benaming kom uit die oeroumagrootjie van Afrikaans, naamlik Goties (wat tussen die 4de en die 9de eeu n.C. in Wes-Europa gebruik is). Daar was dit akr en die betekenis was “vrug van die oop veld”; → AKKER1.
terug na → akker1
akkolade — toekenning, aanprysing
Die oorspronklike betekenis was baie lekkerder as die huidige. Dit was “omhelsing om die nek” en is gebruik wanneer iemand tot ridder geslaan is. Hy kon ook deur die koning of (verkieslik) koningin gesoen of liggies met ’n swaard teen die nek getik word. Om ’n bloedbad deur ’n onbehendige monarg te voorkom, is die skouer in plaas van die nek later getik. In sekere gevalle is die nek ook net met die hand aangeraak. Oorspronklik uit Frans van Vulgêrlatyn accolare uit ad “aan, tot” + collum “nek”. Deur collum is die woord ook familie van décolletage, die ontbloting van die nek (en deesdae die melkweg tussen die boesems) deur ’n dame met ’n laehalsrok.
akkommodeer — geskik vir gebruik maak, aanpas, vir iemand krediet beskikbaar stel
Die woord het oorspronklik niks met verblyf (soos in akkommodasie) te make gehad nie. Die Latyn accommodatus het “geskik” beteken, met die gedagte dat iets by iets anders gevoeg is om dit vir gebruik aan te pas en reg te maak. In antieke tye het modus beteken “maat” – om ’n toonleer in Griekse musiek aan te dui; daarna “deuntjie”, toe “manier om te sing” en uiteindelik “manier om enigiets te doen”. Accommodatus het dus bestaan uit ad “aan, met” + com “saam” + modus “maat”. As dinge dus goed bymekaargekom het, kon die gaste maar kom. Om iemand te akkommodeer, het ook beteken om in ’n behoefte te voorsien, soos om geld te leen.
akkoord — ooreenstemming
Die oorspronklike Latynse en Franse woorde (accordare, accorder) het letterlik “harte klop met dieselfde ritme saam” beteken. As twee mense van dieselfde dinge hou of nie hou nie, was hulle hart tot hart eens oor sake. Die -cor- in die oorspronklike woorde het “hart” beteken. Dit is waarskynlik beïnvloed deur concord wat in musiek ook “saamklink” en figuurlik “hart saam met hart” was. Op dié gebied is die koord waarskynlik ontleen aan cord (uit Grieks chordon) wat “katderm” beteken het – wat die snare tot die verdriet van die DBV vir ou musiekinstrumente verskaf het.
akkumulasie — versamel
In Latyn was cumulare “’n klein hopie maak” en cumulus “’n hopie”. As iemand dus ’n fortuin geakkumuleer het, het hy letterlik ’n hoop geld versamel. Die cumulus-wolk is inderdaad ook familie: dit is die naam van die donderwolk wat tot op groot hoogte ’n hoop wolke is.
akkuraat — noukeurig, korrek
As ’n mens iets akkuraat doen, ly jy pyn. So altans het die Romeine dit gesien, want Latyn accurare het “sorg vir, pyn ly” beteken (cura het “pyn” beteken). Iemand wat vir iets sorg, se benaming is familie hiervan, naamlik kurator (Latyn ad “to” + curare “take care of”)
akrobaat — koorddanser, tuimelaar in sirkus
Eintlik beteken die woord oorspronklik “iemand wat op sy tone loop of net die punte van sy tone en vingers gebruik om te beweeg”. Die twee Griekse woorde waaruit dit saamgestel is, is akros “punt (van die tone)” + bainein “loop, gaan”. Die akrobaat moet sy kunsies ook op groot hoogte (akros) uitvoer (sonder enige platvloersheid).
Familie hiervan is akrofobie “morbiede vrees vir hoogtes” en akropolis (veral die een in Athene) wat uit akros “hoogste, boonste punt” + polis “stad” saamgestel is.
aksent — klemtoon
Die woord het sy ontstaan gehad in die Romeine se vertaling van die Griekse prosodie (pros “byvoeg” + ode “lied”) as ad “aan” + cantus “sang”. In Grieks het dit die toonhoogte van ’n spraakklank in gedigte beskryf. Lettergrepe met ’n gravisaksent gemerk is met ’n diep stem gesing; die akuut het ’n musikale vyfde hoër aangedui; ’n kappie het beteken dat hoog begin en dan ’n vyfde laer gesing word. In taal het die klem later op die luidheid eerder as die toonhoogte of lengte van die noot geval, en daaruit het die klemteken ontwikkel. Aksent beteken dus eintlik “sang by spraak voeg”.
aksident — ongeval
As jy probeer ski en jy breek ’n been, moet jy hoop dat dit nie joune is nie. Oorspronklik was dit nie jy wat geval en allerlei bene gebreek het nie: dit was hoe die sterre in die firmament geval of uitgeval het wat jou lot bepaal het. As hulle aan die verskiet was, sou jy ongetwyfeld tot ’n nare voorval of ongeval gebring word. (Latyn ad “tot” + cadere “val”)
akupunktuur — naaldprikking van die liggaam
Die oorspronklike betekenis was “afmerk met klein stekies”. Dit klink asof dit ’n vroeëre vorm van tatoeëermerke was, maar eintlik was die naaldstekies op baie besondere punte van die liggaam. Dat dié soort medisyne baie oud is, blyk daaruit dat die Romeine reeds ’n woord daarvoor gehad het. Acus was ’n naald (afgelei van die werkwoord wat “skerpmaak” beteken het) en pungere was “steek”. Die behandeling teen pyn en siektes het voor 2500 v.C. in China ontstaan en oor die wêreld versprei; → akuut.
akuut — hewig, vinnig
Akuut het beteken “met ’n naaldsteek”. ’n Naald is skerp, en “skerpmaak” is ook een van die betekenisse van die Latynse acuere (uit acus “naald”). In geneeskundige verband dui dit op ’n siekte wat van die aanvang snel verloop en vererger totdat dit genees word of die dood intree.
akwamaryn — blougroen soort beril, ’n halfedelgesteente
Die kleur van die steen het die vroeë naamgewers aan die kleur van seewater laat dink en hulle het dit dus so genoem (Latyn aqua “water” + marinus “see”).
akwarium — groot glasbak, gebou waarin lewendige waterdiere en plante gehou word
Die Romeine het al die woord geken, maar dit het vir hulle “drinkplek van vee” beteken. Die aqua “water” is maklik te verklaar en die -rium het moontlik onder invloed van vivarium (letterlik “visdam”) bygekom.
alarm — noodsein, waarskuwing
Wat eens ’n gevreesde militêre bevel was met die vooruitsig van bloed en kanonne, is vandag net ’n waarskuwing, of ten beste die verskriklike lawaai van ’n stelsel wat nagtelike besoekers aan jou huis hopelik hulle melk laat wegskrik. Alarm was ’n krygsoproep van burgers (Ouditaliaans all’arme, Frans alarme: ’n oproep om die wapen op te neem).
albakoor — soort tornyn
Hoe bring ’n mens die kloutjie van ’n jong kameel by die oor van ’n soort seevis? Ons woord kom oorspronklik uit Portugees albacora wat dit uit Arabies al bakara verkry het – die bakara was die meervoud van buko “jong kameel”. Die vis is waarskynlik so genoem vanweë die grootte daarvan: dit is ’n tandwalvis wat tot die familie van die dolfyne behoort.
albaster — fyn soort marmer
Die Latynse woord vir albaster het “gekleurde klip waarvan dose en houers vir salf of olie gemaak word” beteken. Die Grieke het dit ’n “vaas vir reukwater” genoem. Die herkoms is uit Egipte a-labaste wat “kruik vir die godin Bast” beteken het. Die Egiptenare het geglo dat sy in die vermomming van ’n swart kat saam met hulle geloop het wanneer hulle na haar tempel toe gaan. Die Woordenboek der Nederlandsche taal meld ook Egipte as moontlike land van oorsprong, maar dat dit dalk na die stad Alabastrum in Thebaïs genoem is waar dit gedelf is. Hoe ook al: die delikate, bykans deursigtige kleur van die stof is in Victoriaanse tye dikwels met die gelaat van ’n mooi jong dame in verband gebring. (Moontlik was sy so kil soos die klip.)
albatros — groot soort seevoël
Die oorspronklike naam van die voël in Spaans of Portugees is alcatraz wat “pelikaan” beteken het en miskien uit Arabies al-ghattas (“see-arend, duiker”) kom. ’n Ander moontlikheid is Portugees alcatruz “die bak van ’n waterwiel”, na aanleiding van die bek van die pelikaan waarin dit volgens oorlewering water na die kleintjies gedra het. (Dat die arme pelikaan in hierdie verhaal figureer, is ook duidelik uit die eiland Alcatraz in die baai van San Francisco: dit is genoem na die pelikane wat daar in redelik groot getalle gebroei het.) Dié woord is deur die Latynse albus “wit” beïnvloed en is deur ontalige Engelse matrose verbrou tot albatros. Die grootte van die voël het tot die byname Kaapse skaap, hamel gelei. Die Nederlandse woordeboek teken dit as ’n reusagtige meeu met ’n groot, dik bek wat in ’n haak uitloop, met kragtige vlerke soms tot oor die drie meter breed, veral by die Kaap die Goeie Hoop. Hulle is goed aan die matrose bekend omdat hulle skepe dikwels weke lank honderde ure se vlug van die kus af volg.
album — vroeër ’n boekie vir persoonlike soeweniers; houer vir musiekitems soos plate, CD’s
Die Romeine het dié woord gebruik vir ’n tafel of stuk muur wat met gips wit gemaak is (Latyn albus “wit”) en waarop die kronieke van die hoëpriesters, die wette van die pretors (goewerneurs, amptenare met die hoogste regterlike gesag) en die voorskrifte vir siviele sake aangeteken is. Die Latynse woord vind ook neerslag in woorde soos albino (“persoon sonder pigmentskleurstof, daarom met wit vel en hare, rooi oë”), albumen (“wit van ’n eier”) en die ou naam vir Engeland, Albion, wat deur die Romeine gegee is vanweë die wit kalkkranse by Dover. Latyn albus is moontlik ook verwant aan Hittiet alpasj wat “wolk” beteken en wat ook op die kleur wit dui.
alfabet — letters van ’n taal in volgorde
Ons ABC kan net sowel die os, huis genoem gewees het. Grieks alpha, beta was in Hebreeus alef (“os”), beth (“huis”), na aanleiding van die Fenisiese simbole vir die letters. Dié verruimende inligting is wyd bekend, maar daar is ’n Engelse stertjie aan. Talle der talle kere word die naam van ’n Engelse winkel as Ye olde shoppe aangedui. Die ou Engelse alfabet het ’n ekstra letter gehad, naamlik thorn. Dit het die th-klank soos in die woord this verteenwoordig en het só gelyk: þ. As dit geskryf is met die ringetjie van die þ oop, het dit na ’n Y gelyk en vandaar die Ye, in plaas van The (þe).
algebra — onderafdeling van wiskunde
Die oorspronklike betekenis van die woord was om die pype van gebreekte bene te heg. Arabies al-jebr beteken om dinge weer bymekaar te bring. In die 16de eeu was wiskundiges die kluts kwyt en het gedink dat die woord algebra vernoem is na die Arabiese chemikus, Geber (die al beteken “die”). Op die gebied van die wiskunde is die herkoms ’n verkorting van die frase ibr al-jebr wa’lmugabalah: die naam van die wetenskap van hereniging en gelykstelling.
alias — aangenome naam, dikwels om straf vir ’n misdaad te ontduik
Die Latynse bywoord alias beteken eintlik “op ’n ander tyd, by ’n ander geleentheid, iemand anders” en hang dus nou saam met alibi. In Nederland was dit vroeër ’n skertsende bynaam wat net spottend gebruik was; → ALIBI.
alibi — verweer van ’n beskuldigde dat hy elders was toe ’n misdaad gepleeg is
Alibi is eintlik die verkorting van die Latynse ali-ubi “ander plek”. In Engeland het ’n oorlosie wat ’n sekere uur slaan maar waarvan die wysers ’n ander tyd aandui, in die 19de eeu die naam alibiklok gedra.
terug na → ALIAS
alimenteer — geld betaal aan ’n geskeide gade ter onderhoud
Oorspronklik het alimenteer net te make gehad met die verorbering van voedsel wat langs jou alimentêre weg hulle pad moes vind sodat jy nie ondervoed raak nie. Ongelukkig ken jou gewese vrou nie dié betekenis nie en vra nog ’n klomp onverteerbare geld daarby wat sy met jou gewese motor kom haal as jy ’n dag laat is – en dit meestal op ’n maandelikse basis. Sommige geskeide mans is selfs bereid om die hoogste kulinêre offer te bring, soos om sy eks daagliks met sjampanje en oesters te bederf, as sy van die maandelikse geld sou vergeet. Die alimentêre kanaal is die vakterm vir die spysverteringskanaal waardeur ’n mens gevoed word (Latyn alere “voed”).
alkohol — suiwer wyngees deur distillasie verkry
G’n dame wat haar maskara werd is, sal alkohol aan haar oë smeer nie. Maar eeue gelede was die Arabiese woord vir fyn oogpoeier al-kuhl. Die kuhl is in Afrikaans kohl “fyn donker poeier van die element antimoon gemaak” en dié is ter verfraaiing en verleiding om die oë gebruik; → antimoon. Omdat dit so suiwer was, is die woord alkohol later deur die alchemiste aan enigiets gegee wat gesuiwer is, veral deur distillasie – en vandaar ons verbasende moderne betekenis (wat ’n mens soms dronkslaan).
allegorie — ’n simboliese vertelling of voorstelling met ’n dieper betekenis van iets wat werklik plaasgevind het of bestaan
Dié deftige definisie beteken eintlik maar net “vergaderingspraatjies”. In die meeste vergaderings word warm lug heen en weer gebesig – wat met die koelte van die volgende oggend verdwyn. Byvoorbeeld: Die minister van landbou sal jou met ’n mooi storietjie probeer oortuig dat die rioolsloot oor jou grond drinkwater na jou vee vervoer. Dit omvat die betekenis van allegorie: ’n gepraat oor een ding terwyl ’n ander bedoel word. In Grieks het allos onder meer “ander” beteken en daarby is agora “vergaderplek, veral die markplek” gevoeg. Maar hoekom juis die mark? In vervloë dae was die mark die plek waar die skinderpraatjies uitgeruil is. Sommige van dié stories kon ’n mens in die moeilikheid laat raak — en daarom het jy liewer jou sappige nuus indirek oorgedra. Die mense wat hierdie agterbakshede verkondig het, het eintlik oor “ander dinge” gepraat. Later is die woord met agora verenig.
alligator — soort Amerikaanse krokodil
Die vorm en grootte van ’n akkedis het die Romeine aan die vorm van die boarm laat dink en hulle het wat vandag die Engelse lizard is, lacertus “boarm” genoem. In Spaans was dit el lagarto wat later die wisselvorm alligarter gekry het.
In die VSA word die avokadopeer dikwels alligatorpeer genoem. Die oorspronklike Asteekse naam daarvoor was ahuacatl met die wisselvorm aouacate wat die Spaanse veroweraars se swaar tonge as avocado uitgespreek het; → AVOKADO. Die Engelse matrose kon dit nie namaak nie en het dit toe alligator genoem.
allure — aantrekking
As jy die meisies laat omdraai van bewondering, is jy niks meer as ’n stuk aas wat vir ’n jagvalk uitgehou word nie. Die woord kom uit Oudfrans aleurer wat bestaan het uit à “na, toe” + loirre (Latyn luere) “aas vir ’n jagvalk”. In latere Frans beteken dit “manier van loop, houding” – en dit is jou gepronk wat die dames so aantrek. In Nederlands het dit ook verwys na die gang van ’n perd.
almanak — lys met dae, maande en ander inligting vir die jaar
Die Spanjaarde en die Arabiere het glo saamgesweer om dié woord te maak: dit lyk soos al + manakh – maar ongelukkig is daar nie ’n woord soos manakh in een van die twee tale nie. ’n Moontlike herkoms is uit Angel-Saksies al-mon-aght wat beteken het “maankyker” na aanleiding van die rekords van die nuwe en volmaan wat deur die Saksers gehou is.
altaar — plat vlak om op te offer
Die Romeine reeds het gode by plekke aanbid wat verhoog was sodat die gebede makliker na die hemel daarbo kon weerklink. Altus beteken “hoog” in Latyn en altaar het dus “verhoog” beteken.
amalgaam — verbinding van ’n metaal met kwik
Die Middeleeuse dokters het dalk in hul mediese onkunde ook die Griekse taal verkrag. Vir hulle was amalgaam ’n strelende, helende pleister. Hulle het die naam moontlik van malagma “sagmaak” gekry en ’n a- vooraan gesit om nie net die woord nie, maar ook hul rekeninge bietjie te laai. Soos gewoonlik is die ander herkomste so droog soos ’n seer keel: dalk kom dit uit Arabies al-jamsa “vereniging” of Grieks ama “saam” + gamos “huwelik”.
amandel — pitvrug met eetbare pit
Dié kliere in ons keel word in Nederlands amandels genoem, dieselfde woord as vir die neut, en volgens hulle herkomsboeke kom dit van die Franse amygdale wat “mangel” beteken. (Die Frans vir amandel is amande, en het dus niks met die mangel te doen nie; die Italianers het ook twee woorde daarvoor, naamlik amigdala vir die klier en mandorla vir die vrug. In Duits is albei Mandel.) Dié Nederlandse naam amandel vir die mangel kom klaarblyklik van die amandelvorm van die klier.
Die sogenaamde Jordaan-amandel het niks met die Bybelse rivier te make nie: die Jordaan is ’n verbrouing van die Franse jardin “tuin”, dit wil sê die gekweekte plant en nie die wildeamandel nie.
terug na → MANGEL
amarant — sierplant met persrooi blomme
Die amarant se naam het “onsterflikheid” beteken. Die romantiese digters (wat niks van tuinbou geweet het nie) het geglo dat die blom die groot liefde simboliseer: dit verwelk nie soos ander blomme nie, maar behou die kleur tot op die laaste. In die klassieke gebruik was dié blom die simbool van onsterflikheid (uit Grieks amarantos, van a- “nie” + stam van marainein “wegsterf”).
In 1653 het koningin Kristina van Swede (1626–1689) die Orde van die Ridders van die Amarant ingestel, maar dit het in teenstelling met die blom na haar dood ophou bestaan.
amasone — heldhaftige, mitiese vrouevolk
Amasone: die borslose. Die legendes oor dié antieke vroue wat erger as mans kon baklei, is lank reeds bekend. Hulle het in Midde-Europa naby die Kaukasusberge (of in Afrika) gewoon en het mans as die laagste vorm van lewe beskou. Maar so af en toe het hulle ’n deel van die mans nodig gehad om seker te maak dat hulle nie uitsterf nie. Daar word vertel dat hulle hul buurvolk, die Gargariërs, jaarliks besoek het – tot dié se groot opwinding, want hulle was nou weer ’n volk wat net uit mans bestaan het. Volgens sommige oorlewerings het die amasone die mans ontvoer, verkrag en vermoor (meestal sonder klagtes van die slagoffers). Dit is meer waarskynlik dat die vroue die dogters uit hierdie fornikasies behou en die seuns aan die mans gegee het. Hulle baklei soos manlike spierpaleise met pyl en boog en die dubbele byl. Volgens oorlewering het hulle juis die regterbors afgebrand om die boog makliker te kan span – vandaar hulle naam: die Grieks a mazos beteken “sonder bors”. (Geen lid is skynbaar toegelaat om links te skiet nie.)
Nie almal stem met hierdie algemeen aanvaarde herkoms saam nie. Miskien was die naam ’n verbrouing van die naam van die Oosterse maangod Mazu wat deur maagde as hulle beskermheilige beskou is.
amateur — iemand wat minder bedrewe as ’n beroepspeler of -vakman is
Die oorspronklike betekenis van amateur was gewoon liefhebber. Almal ken die Franse woord amour vir die liefde: amateur is duidelik familie daarvan en beteken dan ook iemand wat ’n liefde vir iets het — sonder om na die moontlike wins daaruit te kyk.
ambidekster — iemand wat albei hande ewe goed kan gebruik
Om links te wees, was vir eeue ’n skande. As ’n mens ambidekster was, was dit nie heeltemal so goed as om net regshandig te wees nie. Jy was regshandig aan albei kante en vandaar dat selfs so ’n vuige daad as om omkoopgeld met albei hande te vat aan diegene toegeskryf is wat met sulke vaardigheid in albei hande geseën was (Latyn ambi “albei” + dexter “regshandig”).
ambiguïteit — dubbelsinnigheid
As iets jou gedagtes in twee rigtings laat tol sodat jy naderhand nie weet of jy Andries of Adriana is nie, is jy die slagoffer van ambiguïteit. Latyn het die herkoms, naamlik ambi “rondom” + iguus uit agere “dryf”. Jy kon iemand dus met jou redenasie al in die rondte dryf. Die ambi is gelyk aan die Grieks amphi (Afrikaans amfi-) soos in amfiteater, letterlik “toeskouers rondom”.
ambisie — byna onbedwingbare drang om jou baas se kop in te slaan om sy pos te kry.
Ja, maar nie die oorspronklike betekenis nie: toe was iemand met ambisie ’n wandelaar van huis tot huis. As ’n man in Rome hom vir ’n openbare amp (soos die Senaat) beskikbaar wou stel, moes hy soos in die ou Suid-Afrika voor ’n verkiesing van huis tot huis loop om stemme te werf. Dit was die letterlike betekenis van die Latynse woord ambitio (ambo “rond” + itus “gaan”). Die ambo- vind ook neerslag in ons woord ambulans: ’n rondlopende hospitaal; → KANDIDAAT.
terug na → AMBULANS
ambrosia — kos van die mitiese gode op die berg Olimpus
Hoekom sou die gode hulle kos so ’n deftige naam gegee het? Enigiets wat heerlik op die tong of welriekend is, word ambrosia genoem vanweë die opvatting dat net die gode iets so uitstekends sou verorber. Maar dit is nie die oorsprong van die woord nie: dit kom uit Grieks a “nie” + brotos “sterflik”. Die gode het dus die ambrosia geëet sodat hulle nie sou sterf en die hele Griekse mitologie daarmee verongeluk nie; → NEKTAR.
Die Romeinse wetenskaplike Plinius die Ouere (23–79 n.C.) het hom nie juis aan die heerlikheid gesteur nie en sekere kruie ambrosia genoem. Later is gewone vrugtedranke ook as ambrosia (dit wil sê kos, in teenstelling met nektar, die gode se drank) geklassifiseer.
ambulans — voertuig vir die vervoer van siekes
Letterlik ’n lopende hospitaal; → AMBISIE, KANDIDAAT. Die woord het tydens die Krimoorlog (1853–1856) inslag gevind.
ametis — pers edelgesteente
Diegene wat soggens met ’n kop sit wat voel of dit deur ’n hemp se knoopsgat gedruk is, moet in die toekoms liewer uit ’n beker of bokaal van ametis drink. Dit was oorspronklik ’n voorbehoedmiddel teen dronkenskap. Die woord kom uit Grieks a “nie” + methustos “dronk” van methus “wyn”. Uit die newelagtige verlede kom ’n oorlewering dat ’n paar Kapusynerpriesters een aand etlike bekers wyn (in plaas van hulle soort koffie, cappuccino) gedrink het om iets te vier, indien nie te fuif nie. Die volgende oggend het almal gehoop dat die vroeë gebede, die mette, kort sou wees sodat hulle hul hoofpyne kon gaan vertroetel, maar een van die makkers was so vrolik dat hy sy maats ’n pyn op ’n ander plek besorg het. Eers later in die droewige dag het hulle uitgevind dat hy uit ’n bokaal van ametis gedrink het.
’n Spelling in die laat Middeleeue amatis het gemaak dat daarna as die liefdesteen verwys is na aanleiding van die Latyn amare wat “liefhê” beteken het. Dit is waarskynlik ’n oorblyfsel uit die antieke Romeinse tyd: dit was die mees geliefde steen van die ou vrouens vanweë die bygeloof dat dit die liefde van hulle mans onsterflik sou maak.
(Die steen is reeds solank bekend dat dit in Eksodus 28:19 as deel van die borssak van die hoëpriester vermeld word, asook in Romeine en Openbaring.)
terug na → ABSINT
amfibie — dier wat op land en in water lewe
As jy elke dag jou baas in die gebou sien waar jy werk en dan skielik in ’n gesellinklub, is hy ’n amfibie, ’n dubbelganger wat op albei plekke ewe tuis is. Die woord is vroeër deur dierkundiges gebruik om allerhande soorte tweeslagtige verskynsels in die natuur te beskryf, soos otters en robbe. (Grieks amphi “van albei soorte” + bios “lewe”)
amfora — antieke vaas of ander houer met twee handvatsels
Die Griekse inhoudsmaat amphora was nege gellings, dus so amper 41 liter. Om dit te kon dra en vir die drinkers wyn te skink, moes ’n man murg in albei jou armpype gehad het, want die kruik moes aan albei kante gedra word (Grieks amphi “aan albei kante” + phoreus “draer”). (Lui Romeine wat geen fees met harde werk wou bederf nie, het hulle amfora met net 27 liter gevul.)
ammoniak — vlugsout; sterk ruikende soort gas uit ’n sout
In die Middeleeue is op plekke selfs die ontlasting van die heiliges as relikwieë beskou. Ammoniak is amper daaraan verwant. Die naam is in 1782 deur die Sweedse chemikus, Torbern Olof Bergman (1735–1784), gegee aan gas wat van salammoniak verkry is. Dit was soutneerslae van ammoniumchloried wat in Libië aangetref is naby die tempel van Jupiter Ammon (die Romeinse naam van die Egiptiese god Amoen – die Romeine was besonder toeskietlik om die gode van vreemde, verslane volke in hulle godehemel op te neem). Die tempel was baie oud, want die Griekse geskiedskrywer Herodotus het reeds in die 5de eeu v.C. daaroor geskryf. Die sout is voorberei uit die sand waar die kamele gewag het terwyl hulle eienaars vir goeie voorbodes gebid het. Die diere se blase kon nie wag tot die eienaars se fortuine vertel is nie en het ongetwyfeld gehelp om die geur te laat posvat. Ammoniak het dus “kameelurien” beteken. Die god Amoen het waarskynlik sy naam te danke aan die Griekse woord ammos (“sand”) omdat die tempel in die woestyn was.
amnestie — kwytskelding van straf vir politieke en ander misdade
Amnestie was “vergetelheid”: As jy amnestie van ’n goedhartige regering ontvang, beteken dit dat hy al jou slegte dade teen sy land vergeet. Die woord is duidelik familie van amnesie “geheueverlies”, maar ook van mnemonies “wat met die geheue te make het”. Die a- vooraan is Grieks en beteken “nie”, dus “nie onthou”.
amok — toestand van raserny
Geskiedkundig sou ’n amok (’n kranksinnige Javaan) jou verwoed aanval – veral op straat waar hy so veel mense moontlik wou doodmaak. So lui ’n Portugese bron van ongeveer 1516 – dié noem die rasende amouco uit Maleis amok.
Die woede of raserny het iemand soms aangegryp as hy deur wraaksug of ’n ander hartstog (soos die Woordenboek der Nederlandsche taal sê) verbyster is en waarby hy deur die onmatige gebruik van opium opgewonde met sy Oosterse dolk in die pad afloop, enigeen wat hy teenkom verwoed aanval en probeer vermoor. Om die mense van die omtrek te waarsku, is daar met houtknuppels op uitgeholde houtblokke geslaan (wat dikwels groter amok as die malle veroorsaak het).
amuseer — aangenaam besig hou
Ons het die woord amuseer uit Frans amuser wat bestaan uit à “na” + muser “staar, peins”. As ’n dame jou aanstaar, beteken dit nie noodwendig dat jy haar amuseer nie – jou snor sit dalk skeef of dalk dink sy maar net diep. Die betekenis het gaandeweg verswak tot “die aandag behou”; later om die aandag op iets anders te laat val sodat jy jou ware voornemens kon wegsteek. (Die Franse generaal (Hermann-) Maurice Saxe (1696–1759) het byvoorbeeld ’n ligte kanon ontwerp wat hy die amusette genoem het omdat die vyand nooit sou kon raai dat iets met so ’n naam jou troepe ernstige liggaamlike letsel sou kon berokken nie. Vra die personeel van die veldhospitaal).
anakonda — reuseslang van Suid-Amerika, wat sy prooi dooddruk
Met dié reusagtige dier slaan jy nie ’n sweepslag nie, maar ’n sweepslang soos ’n weerligstraal (wat dit waarskynlik oorspronklik beteken het). Die naam is moontlik ’n verlatynsing van die Singalese henacandaya wat “sweepslang” (maar letterlik “weerlig-stam”) beteken. ’n Ander prettige raaiskoot is dat dit uit Tamil anaikkonda kom – wat “het ’n olifant doodgemaak” beteken.
analise — ontleding, kritiese ondersoek
As iets ontleed moet word, moet ’n mens dit uitmekaarhaal en losmaak sodat jy die samestellende dele (lede) daarvan kan sien. Die Grieke het dié handeling as ’n losmaking of opbreek van die geslote geheel gesien. (Grieks ana “op, deur en deur” + lusis “losmaking”)
anargie — wetteloosheid
Wanneer die mense soos mal goed in die strate rondhardloop en winkelvensters breek, lyk dit of hulle leierloos is (al voer die leier soos ’n generaal hulle van ’n veilige afstand agter aan). Dit is anargie. (Grieks an “sonder” + archos “leier”)
anatomie — studie van die vorm en bou van ’n diereliggaam
Die enigste regte manier om uit te vind of jou nier na ’n niervormige swembad lyk is om jou oop te sny en te kyk. Dit is wat die woord anatomie beteken: uit Grieks ana “op” + tome “sny”. Voordat elektrone en al daardie klein dingetjies ontdek is, is aanvaar dat die atoom die kleinste ondeelbare partikel was wat nie gesny kon word nie (Grieks a- “nie” + tome “sny”). Die Afrikaanse agtervoegsel -(ek)tomie word in die geneeskunde gebruik om aan te dui dat iets gesny gaan word (hopelik nie iets wat jy nie kan bekostig om te verloor nie). Die paar taalpuriste onder dié soort snyers dring daarop aan dat ’n blindedermoperasie ’n appendisektomie is en nie appendektomie nie – hulle argument is dat die appendiks uitgesny word, nie die append (wat jy in elk geval nie het nie).
anekdote — kort, prettige storie
Anekdotes was vroeër ongepubliseerde geheime uit mense se lewe wat nie aan ander meegedeel is nie (Grieks an “nie” + ekdotos “gepubliseer”). Die mens synde wat hy is, wou natuurlik graag weet watter geraamtes in die kas van ander was en het nie gerus voordat hy nie agter die kap van die byl gekom het nie. Die sesde-eeuse Bisantynse geskiedskrywer Procopius se Anecdota, die ongepubliseerde memoirs van keiser Justinianus (483–565) wat ryp hofskinderpraatjies bevat het, het aan die woord die betekenis van “openbaring van geheime” gegee. Eers het hierdie sappige brokkies net oor die lewe van beroemdes gegaan, maar later het dit ook die oorlewering van amusante storietjies oor gewone mense beteken.
terug na → ANTIMOON
anemoon — ranonkelagtige plant
Die Grieke het gesien dat dié blom se kroonblare maklik in die wind wegwaai en het dit dus die windblom genoem (van anemos “wind”) wat niks met ranonkel te make gehad het nie. Maar dalk het die naam al vroeër in Hebreeus bestaan waar dit letterlik “plant van aangenaamheid, prettigheid” beteken het. Die seeanemoon beweeg lui heen en weer in die seestrome sodat dit lyk asof dit deur ’n onsigbare wind geskommel word.
anofeles — malariamuskiet
Ongelukkig is daar nie genoeg Van der Merwes om dié muskiet se lang suigsnuit te knoop nie. Die naam beteken “nutteloos” – wat dit natuurlik is. Dit is ook die knaap wat malaria oordra en die Grieke het reeds al sy streke geken, vandaar sy naam uit an “nie” + ophelos “hulp, voordeel”.
anomalie — ongerymdheid, onreëlmatigheid
As iets nie reg lyk of is nie, is dit ’n anomalie: dit wil sê ongelyk (Grieks an “nie” + homalos “gelyk” uit homos “dieselfde”) en is die speelvelde ongelyk.
antiloop — wildsbok
Die jagter wat die antiloop mis skiet, is waarskynlik verblind deur die pragtige oë van die dier, eerder as sy sierlikheid van beweging. Altans, so het die Grieke geglo toe hulle die wildsbok anthos-ops “pragtige oog” gedoop het.
antimoon — soort blouwit metaal
Hierdie metaal se naam kom moontlik uit Grieks antimonachos “monniksgif” of “nadelig vir monnike”. Die anekdote is dat sint Valentyn (oorlede 3de eeu) van dié mineraal aan sy varke gevoer het; → anekdote. Hulle het daarop gefloreer en spekvet geword. Omdat die monnike van sy klooster effens motgevreet daar uitgesien het, het hy toe van die mengsel aan hulle voorgesit. Hulle is dood. Valentyn sou gesê het: “Nou ja, goed vir varke; nadelig vir monnike.” Dié fabel is in die 17de eeu deur die Franse skrywer Antoine Furetière (1619–1688) versprei. Anders as die gelowige Valentyn is daar ongelowiges wat die woord toeskryf aan die Grieks anti monos “teen alleen wees” omdat die mineraal gewoonlik in kombinasie met fosfor, silwer of ’n ander element aangetref word. Maar die antimonos kan ook “nie alleen” beteken omdat die leke geglo het dat die kwaliteite van die mineraal te veel is om deur een mens beskryf te word.
terug na → kosmetiek
antipode — plek op die aardbol diametries teenoorgesteld aan ’n ander plek
Die Romeine het die antipodes beskou as die mense wat aan die ander kant van die wêreld gewoon het. Maar soos gewoonlik het die Grieke die saak raakgevat: daardie knape se voetsole kyk na ons s’n (anti “teenoor” + pous “voet”), dus ’n teenvoeter in die letterlike sin van die woord.
Antwerpen — Belgiese hoofstad van die Antwerpen-provinsie aan die Schelderivier
Die stadswapen van Antwerpen vertoon ’n kasteel met ’n hand aan weerskante wat van die arm afgesny is en daarom word volgens oorlewering gesê dat die plek se naam eintlik “hande weggooi” beteken. Volgens oorlewering het die reus Druon Antigoon eeue gelede daar gebly en die regterhand afgekap van skippers op die Schelderivier wat nie die belaglik dure tolgeld kon betaal nie (wat’s nuut?). Dié hand is dan in die rivier gegooi. Antwerpen sou dan opgemaak wees uit die hant + werpen “gooi”. ’n Romeinse soldaat, Silvius Brabo, het die reus tot ’n tweegeveg uitgedaag en hom van sy eie medisyne laat proe deur sy hand af te kap en in die rivier te gooi. Dit was die einde van die reus se tirannie. (Die Brabofontein voor die stadhuis beeld dié legende uit.) Lekker storie, maar volgens ander bronne ’n samestelling van aan ‘t werf (kaai), dus die stad wat aan die kaai begin het. Ook dit lyk na versinsel: die Franke en Friese het waarskynlik die naam aan die stad gegee, bestaande uit die Germaanse anda “teen” + ’n selfstandige naamwoord uit die werkwoord werpen “gooi”. Dit sou dan verwys het na ’n gebou wat teen iets of iemand opgerig is – miskien ’n voorloper van die negende-eeuse kasteel aldaar, die Steen.
apokalips — openbaring of voorspelling
In die Odussee van die Grieke digter Homeros (8ste of 7de eeu v.C.) het Kalipso, die dogter van die reus Atlas, ’n towersluier aan Odusseus gegee waarmee sy gehoop het om hom by haar te hou. Na sewe jaar het Zeus die god Hermes gestuur om die sluier te lig sodat die arme, uitgeputte man kon huis toe gaan. Haar naam is verewig in die apokalips wat kom uit Grieks apo “af” + kaluptein “bedek”. Die apokalips is dus eerstens ’n ontbloting van iets wat verborge is asof ’n sluier daaroor gelig is.
apokriewe — verdag, twyfelagtig
Hierdie boeke se oorspronklike naam beteken “verborge, geheim” omdat hulle in die geheim gelees is. Die leser sou in groot moeilikheid by sy kerk beland het as dit rugbaar geword het. Die kerk het hulle naamlik nie as geskik geag vir die lidmate nie. Een betekenis was “boeke waarvan die outeurs nie bekend is nie”. (Grieks apo “weg” + kruptein “wegsteek”) Aangesien hulle egtheid en gesaghebbendheid betwyfel word, word hulle in byvoorbeeld Protestantse kringe as nie deel van die kanon beskou nie.
arbiter — iemand wat ’n geskil besleg
Die Romeine het nie omgegee wat jy op ’n plek gaan doen of gedoen het nie: vir hulle was jy as arbiter net ’n reisiger (uit ad “om te” + baetere “kom, gaan”).
arena — strydperk
Die Romeinse strydperke was sandputte: die oppervlak was met sand bestrooi om die bloed op te vang, net soos eeue later saagsels in kroeë gebruik is om allerhande vogte (soos pruimtabakspoeg) onskadelik vir die skoensole te maak. (Latyn harena “strydplek, sandplek”)
Arktika — noordelike poolgebied
Dié koue plek se naam het die Romeine by die Grieke gekry waar arktos “’n beer” was. Dié beer was die konstellasie van die Groot Beer wat in die noordelike sterrehemel sigbaar was en die landstreek is daarna vernoem. Die naam kom uit Latyn arcticus wat “noordelik” beteken het.
arpeggio — akkoord waarvan die note opmekaarvolgend gespeel word in plaas van gelyktydig
Die Italiaans vir ’n harp is arpa en arpeggiare het gewoon, sonder tierlantyntjies, “op die harp speel” beteken. Enige perd by ’n harp kon dus ’n arpeggio voortbring. Eers later is die hedendaagse musiekterm daaruit gevorm met die opeenvolgende gepluk van die harpsnare ingedagte. Skelm, nè?
arriveer — aankom
Die woord kom uit Latyn ad “na” + ripa “kus” + appellere “bring/kom”. Die Romeine was te besig om oorlog te maak om die drie woorde te gebruik en het hulle toe saamgesmelt in arribare. Dit het spesifiek beteken om aan land te kom – nie net aankom nie. Arriveer was om uit die see na die kus of hawe toe te kom (veral ná ’n lang reis), wat ’n mens net met ’n boot kon doen. Jy kon vroeër dus nie met ’n kameel of trein arriveer nie, net met ’n skip of boot. Toe die woord die eerste keer in 1523 in Nederlands opgeteken is, was dit ook die eerste betekenis daarvan. Eers in 1540 kry ons dit met die betekenis “aankom in die algemeen”.
arsenaal — plek om ammunisie te berg
Die Venesiërs het vrede gehad met die woord as opslagplek, Vir hulle was dit ’n groot skeepswerf of werkplek in hul stad. Italiaans arzenale het dit uit Arabies gekry waar dit as dar as-sinah “huis waar iets gemaak word” beteken het.
asbes — onbrandbare minerale delfstof
Ongebluste kalk stoom as koue water daarop gegooi word: hoe meer water, hoe meer stoom. Dit het dus vir die Grieke gelyk asof die klip soos ongebluste kalk was: onblusbaar (a “nie” + sbestos “blus”). Dié oorspronklike benaming was eintlik ’n flater wat later ook nog verder gevoer is. Dit het die naam geword van ’n soort vlas wat dan nie sou kon brand nie. Plinius die Ouere het in die 1ste eeu die verkeerde stof die naam gegee.
Die gelag van die gode is volgens die Grieke digter Homeros (c. 8ste eeu v.C.) asbestos – onblusbaar omdat hulle die mens se sothede aanskou.
askeet — iemand wat hom afsonder en ’n streng, vroom lewe sonder enige sinlike genot lei
Kluisenaars is bekend daarvoor dat hulle hul afsonder van die wêreld – maar vroeër was hul eintlike taak om te oefen om die drange van die vlees uit te dryf. Die Griekse woord askein beteken “om te oefen” (soos atlete) en hoop dat die fisiese inspanning jou losse maar lekker gedagtes sou verdryf.
aspek — oogpunt
Ja, maar nie enige oogpunt nie – dié van die sterrekyker. Dit was vanuit dié een wat die Romeine die relatiewe stand van die planete beskou het (Latyn ad “om te” + specare “kyk”) en moontlik kon sien of hulle die volgende veldslag sou wen.
aspiek — gekruide vleisjellie om koue vleis- en ander geregte te laat styf word
Sommige mense sal liewer deur ’n adder gebyt word as om dié drillende, gekruide vleis- of ander soort jellie te eet. Hulle gevoel is in die kol – die woord kom van die aspis, ’n ander naam vir die adder. Die Franse is die skurk in dié gastronomiese verhaal: hulle het ’n uitdrukking: froid comme un aspic, dit wil sê koud soos ’n slang (’n koudbloedige dier). Hierdie (vir hulle) komiese uitdrukking ten opsigte van ’n vrou het die naam aspiek aan daardie koue gelatiengereg gegee. Gelatien self beteken “gevries” en gelu in Latyn is “ryp” (die koue).
aspireer → INSPIREER.
assassin — sluipmoordenaar
’n Assassin behoort eintlik nie gevrees te word nie – hy is maar net ’n hasjisj-eter. Genoem na die Persiese Nizari Isma’ili-sendeling Hassan ibn Sabbah (c. 1050–1124) wie se volgelinge se naam, die Hasjasjin, in die Alborzberge van Noord-Iran foneties tot assassin verdraai is.
Volgens oorlewering is ’n voornemende assassin eers aan rites onderwerp wat hom moes laat glo dat hy enige oomblik kon sterf. Maar hulle het die hele kultiese proses verfyn: die voornemende assassin is bedwelm om ’n soort “dood” voor te stel, en is daarna “opgewek” in ’n tuin met stortvloede wyn en kos wat deur maagde voorgesit is. Hy was oortuig daarvan dat hy in die hemel aangekom het en dat Sabbah die verteenwoordiger van die god was wat hulle onder alle omstandighede, selfs tot die werklike dood, moes gehoorsaam.
Ander bronne beweer dat jong seuns na die tuin gebring is waar hulle met hasjisj in bedwelming gehou is. Op ’n sekere tydstip is die dwelm onttrek en is hulle gekerker. Hulle is daar in kennis gestel dat hulle die paradystuin net weer sou sien as hulle bereid was om Sabbah tot die dood te volg, al het dit die grootste selfopoffering en selfs moord vereis. Die hasjisj sou dan hasjasjin opgelewer het – die basis vir die woord assassin.
Die dweepsieke Islamitiese sekte het hom dalk ook in Palestina gevestig en berug geword as gevolg van die moorde wat sy lede gepleeg het. Die manne het opdrag van Sabbah (bekend daar as “die ou man van die berge”) gehad om alle Kruisvaarders uit te moor. Volgens oorlewering het hulle dit onder invloed van hasjisj gedoen, of is hulle agterna met dié dwelm beloon. Die Mongole het hulle (gelukkig) in die 13de eeu uitgemoor.
atlas — boek met landkaarte
Die boek met kaarte het niks met die herkoms van die benaming te make nie – ook nie die mitologiese spierpaleis (Atlas) wat die wêreld op sy skouers dra nie. Atlas is ’n soort satynsy wat uit die Verre-Ooste gekom het en het in Arabies “glad” beteken. Die werkwoord talasa beteken “glad vryf” – maar die eerste kaartboeke is op materiaal gedruk en het toe dié naam gekry.
atleet — sportman in atletiese oefening
Al het iemand van jou ’n standbeeld gemaak waar jy (naak) ’n diskus aan ’t gooi is, is jy nog nie ’n atleet nie. Jy moes eers aan ’n kompetisie deelgeneem en gewen het, soos die Olimpiese Spele, want die Grieke het jou dan met ’n athlon “prys, trofee” beloon. Atleet was dus eerstens ’n prys.
atoom — stofdeeltjie wat net deur radioaktiwiteit verdeel kan word
Toe dié naam toegeken is, het niemand nog geweet dat die atoom nie die kleinste van die boustene van die heelal is nie. Die Grieke het geglo dat dit onsnybaar was, vandaar die naam (a “nie” + tomos “’n snit” van temnein “sny”).
atrium — voorhof
In Romeinse tye was die atrium die sentrale kamer van ’n antieke huis. Sommige bronne meen dat daar ’n gat in die dak was waardeur die rook uit die vuurherd kon ontsnap. In die veronderstelde antieke taal Proto-Indo-Europees het ater “vuur” beteken en atrium skoorsteengat in ’n dak – dit het niks met die voorhof te make gehad nie. (Proto-Indo-Europees was die oertaal waaruit die mees antieke Indo-Europese tale gestam het.)
atropien — verdowingsmiddel
Die Grieks mitologiese skikgodin Atropos kon baie vinnig jou noodlot bepaal, net soos atropien wat uit die dodelike belladonna verkry word en na haar genoem is. En jy sou niks daaraan kon doen nie, want haar naam beteken “onbuigbaar”. As sy haar tande vasgebyt het oor jou toekoms, was jy jou eie verlede. (Maar omdat dit vir senusiekte ingespan word, sou jy darem hopelik kon kalm bly.)
atrositeit — afskuwelikheid
In Proto-Indo-Europees waarskynlik ’n vuurvreter – maar beslis nog nie afskuwelik soos vandag nie. In Nederlands het atroos “wreed, barbaars” beteken net soos in Latyn atrocitas.
au pair — gewoonlik ’n meisie wat by ’n gesin inwoon om die kinders op te pas en te versorg
Die Franse herkoms is letterlik “eweknie (van die moeder), op gelyke voet”, dit wil sê met toegang tot alle voorregte en genietinge van die gesin. Die feit dat sy ook die moeder se eweknie was, het in talle huise (en sal nog in talle huise in die toekoms) veroorsaak dat sy van matras verander het.
aura — subtiele uitstraling om lewende wesens
’n Deftige definisie vir ’n gewone windmaker (uit Latyn aura “bries, wind, lug”).
avokado — peervormige tropiese vrug
Die oorspronklike betekenis van die woord laat ’n mens sommer besluit om dit nooit weer te eet nie. In die 16de-eeuse Asteketaal Nahuatl van Sentraal- en Wes-Meksiko is dié vrug die ahuacatl genoem. Dit het “testikel” beteken en is so genoem na aanleiding van die vorm van die vrug, of omdat geglo is dat dit ’n afrodisiakum is. Toe die Spanjaarde daar aangekom het, het hulle ’n wisselvorm aouacate gehoor wat hulle as avocado uitgespreek het. Engelse matrose was nog meer deur die war en het van die alligatorpere (alligator pears) gepraat. Maar die bloukouse bederf dié herkoms met die prosaïese verduideliking dat die skil van die vrug donkergroen, dik, leeragtig en knopperig is – omtrent soos die vel van die alligator; → ORGIDEE.
terug na → ALLIGATOR
avontuur — voorval, opwindende gebeurtenis
Volgens die Romeine was ’n avontuur iets wat ’n mens nie sou kon vermy nie en wat gaan kom. Aventura het “(iets) wat gaan gebeur” beteken (uit ad “om” + venire “kom”).