Читать книгу 'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue - Anton F. Prinsloo - Страница 7
ОглавлениеB
bakatel — kleinigheid
In Latyn het baga “vasbind (in bondels)” beteken wat later in Frans bagage “bagasie” sou word. Maar as moeder na vader luister en nie die hele huishouding plus die kat op vakansie saamneem nie, is daar net klein pakkies in die bagasie – kleinighede wat as bakatelle beskou kan word. Bagasie het later na onbelangrike bondels verwys wat kort daarna as vullis beskou is. In hierdie sin het die Franse bagasse gebruik vir ’n nuttelose vrou wat agter die soldate se kamp aangetrek het en ongetwyfeld haar rantsoen horisontaal verdien het.
In Italiaans was bagatella ook onder meer ’n bessie — iets kleins dus.
bakterie — eensellige organisme
Die eerste bakterieë wat met die mikroskoop gesien is, het soos stokkies gelyk en is dus daarna vernoem (Grieks bakterion “staffie”).
bal — gewoonlik formele dansparty
Dit is maklik om die woord terug te voer na die Latynse ballare “om te dans” – maar daar is ’n stertjie aan. In die Middeleeue is op verskeie plekke in Europa (veral Napels in Italië) ’n eienaardige speletjie in die kerk deur die deken van die kerk en die koorseuns gespeel. Dit is die Gekkefees genoem. Die seuns het om die deken gedans en gesing terwyl hulle ’n bal vang wat hy na hulle toe gooi. Daar is ook gespot met die kerklike instellings. Die bal is agterna weggegooi, maar die dansritme is ballade genoem – as ’n mens die bron kan glo.
balalaika — Russiese driehoekvormige snaarinstrument
Waar ’n mens deesdae in ’n musiekuitvoering nie op jou tande mag kners sonder dat die geluid jou buurman aanstoot gee nie, het die vroeë spelers van die balalaika ’n gebabbel om hulle verdra. Altans, so lyk dit as ’n mens in ag neem dat die instrument sy naam van ’n Russiese woord gekry het wat waarskynlik verwant was aan balabolit wat “praatsiek, klets, babbel” beteken.
balein — stof wat uit walvisbaard gemaak word
Die Grieke se verbeelding het dikwels om die mens en sy liggaamsdele gedraai. Miskien het hulle in die vorm van die walvis ’n geswolle orgaan gesien, want Oudfrans balaine “walvisbeen” was verwant aan Grieks phallos “geswolle penis”.
balkon — oop uitbouing aan ’n verdiepinghuis; galery in ’n teater
Dit was nie naastenby argitektonies so spoggerig nie. Balkon se oorspronklike betekenis (in Italiaans balcone) was maar net “stellasie”.
ballistiek — leer van die baan van ’n koeël
Die antieke ballista was ’n militêre masjien, ’n rotsgooier wat die massale klippe selfs oor ’n stadsmuur met ernstige liggaamlike letsel binne-in kon gooi (Grieks ballistes uit ballizein “gooi”).
balloteer — met geslote stembriewe stem
Die woord kom uit Italiaans balla en het “bal gooi” beteken. Dit was omdat geheime stemming in die ou dae deur middel van balletjies was wat in ’n houer gegooi is. Dit is dikwels (en word dalk vandag nog) gebruik om byvoorbeeld nuwe lede van ’n snobklub te keur. As een van die lede van die komitee ’n swart balletjie ingegooi het, is die aansoeker afgewys. Dit kom tot uiting in die Engelse to blackball someone.
balustrade — hekwerk van ’n balkon, trap en dergelike
In sommige vroeë ontwerpe het die hekwerk ’n dubbele liervorm vertoon wat aan die blom van die wildegranaatstruik herinner het. Die oorspronklike herkoms is dan Grieks balaoustion of Aramees balatz “wildegranaatblom” – wat niks van die hekwerk gesê het nie.
banaal — alledaags, kleinlik
As jy in Frankryk onder die ban is, beteken dit dat jy vir verpligte militêre diens moet aanmeld. Dit was dus die eerste betekenis van die woord. Sulke persone was banaal – maar omdat hulle nie altyd die wet gehoorsaam het nie, het die woord later beteken die “straf wat dié ongehoorsames opgelê is”. Om iemand te verban, was om hom as skurk te brandmerk. Ban het ook verwys na die openbare oonde of meulens wat aan die slawe behoort het en tot die beskikking van almal was. Hieruit het die woord gemeenplasig ontwikkel wat later die hedendaagse betekenisse verkry het. Familie van banaal is duidelik bandiet: ook iemand wat uit die maatskappy verban is.
bandelier — breë leerband met houers vir geweerpatrone
Dié woord het aanvanklik geen gevaar ingehou nie. In Spaans bandolera was dit ’n skouerband vir ’n geldsak, maar dit was maar net die verkleinwoord van banda “’n serp”. ’n Soldaat met ’n serpie aan was te erg om aan te dink.
banier — vaandel, standaard van ’n vors of edele waaronder ’n stryd gevoer word
Die veredeling van ’n stuk lap (die oorspronklike betekenis) tot ’n kenteken van ’n vername iets of iemand het eers in die Middeleeue gekom. Toe is dit deur vrye stede, kerklike instellings en baanderhere gebruik om hul gesag te wys. Die baanderhere was edelmanne wat die reg verkry het om adellike mans onder hul eie baniere in veldslae te lei, in plaas van die land of gebied s’n.
bank — finansiële instelling
Die Italianers se meubels sou by ons net verwarring veroorsaak het. Banca was die “geldskieter se bank of tafel waar hy sy sake doen”. Daar was geen toonbanke, tralies, alarms (stil of lawaaierig) of ander tellers nie. Die Bybel vertel ons Jesus het die geldskieters uit die tempel gejaag – nog ’n plek waar hulle nie ’n gebou beset het nie. Ons woord bankrot kom direk uit die Italiaans banca rotta “gebreekte bank” – as dié arme bankier geen geld meer gehad het om sake doen (en veral sy skuld te vereffen nie) nie, is sy bank of tafel onseremonieel deur die vroeë mafia gebreek.
banket — deftige ete
’n Banket was vroeër ’n droewige affêre: net so ’n versnaperinkie wat nie ’n mossie se maag sou vul nie. Dit is ook sommer soos ’n elfuurtjie verorber terwyl jy op ’n bankie gesit het – dus geen tafels wat onder die kosse kreun nie. Banket is oorspronklik ’n Franse verkleiningsvorm van bank – die betekenis het mettertyd dus heeltemal teenoorgesteld ontwikkel.
barbaar — onbeskaafde, wilde mens
Die Grieks barbarus het “vreemdeling en onkundige” beteken. Die Attiërs het geen simpatie met vreemdelinge gehad nie omdat hulle nie hul manjifieke klassieke Griekse taal kon praat nie. Die vreemdelinge se taal het onbeskaafd geklink: ’n onverstaanbare gebar-bar. In die antieke tyd het barbarisme verwys na ’n woord wat nóg klassieke Grieks nóg Latyn was. ’n Barbaar was dus so ’n taalgestremde persoon. In die Middeleeue het die Engelse Christene die kusstreek van Noord-Afrika begrens deur Egipte, die Atlantiese Oseaan, Saharawoestyn en die Middellandse See Barbarye genoem omdat dit deur Moslems bewoon was. (Ander bronne meen dat die naam van die Berbers kom wat die oudste bewoners van die gebied was – maar veral uitgeblink het deur hulle seerowers wat die skepe op die Middellandse See geteister het.)
’n Twyfelagtige (maar interessanter) herkoms is Latyn barbarus “bebaard” – die Romeinse stedeling het geskeer en neergesien op die minder gesofistikeerde, bebaarde plattelanders. Maar die Romeinse konserwatiewe senator Cato die Jongere (95–46 v.C.) het die gladgeskeerde manne uitgetrap as verwyfd. Aleksander die Grote (356–323 v.C.) het sy soldate laat skeer sodat die vyand hulle nie aan die baard kon gryp nie.
Die Grieke en die Romeine het alle vreemdelinge barbare genoem; die Jode heidene en die Russe ostiakke (na die antieke Romeinse dorp aan die mond van die Tiberrivier).
In die taalkunde vandag is ’n barbarisme ’n woord of uitdrukking wat uiterlik inheems is, maar in betekenis of vorming in stryd met die taaleie is; → RABARBER.
barok — onnatuurlike styl in die kunste en argitektuur
Dié arme woord het deur die geskiedenis van ’n lelike pêrel (Portugees barroco) tot ’n vratjie (Spaans berruca) beteken. En as dit jou laat grynslag, pasop!: Italianers het die betekenis van “tande van ongelyke grootte” aan die woord geheg.
baron — adellike titel in rang net onder ’n graaf
Latyn baro het skynbaar “domkop” beteken, ook “leërkneg”. Dié soort soldaat het hom so onderskei dat die woord later vir “sterk, dapper man” gebruik is wat toe in “man” geëindig het. Volgens Engelse oorlewering is baro eers vir ’n soldaat gebruik, toe ’n leërhoof en uiteindelik ’n lord. Net mooi die omgekeerde steek in ons woord slaaf wat in die Slawiese tale “adellik, roemryk” beteken het, maar nadat hulle aan die Romeine onderwerp is, bloot “kneg” geword het; → IDIOOT, SLAAF.
barrikade — versperring, verskansing
Vaatjies (leeg of vol) was nog altyd nuttige goed. Op 12 Mei 1588 het die Franse volk in Parys teen koning Henri III in opstand gekom. Die koning het sy Switserse soldate ontbied om hom te beskerm. Die Parysenaars was so kwaad dat hulle die sypaadjies opgekap, kettings oor die strate gespan en vaatjies met grond en klippe as skans opgestapel het. ’n Barrikade was dus eintlik ’n vaatjie. ’n Franse edelman, Henri de Guise (1550–1588), het die gepeupel se woede laat bedaar en die koning kon na die stad Chartres ontsnap. By sy terugkeer het die koning dié goeie daad met verraad beloon – De Guise is deur een van die paleiswagte met ’n dolk doodgesteek. Een ouer Franse woord vir “vat” was barrique en vandaar die naam barrikade.
basiliekruid — geurige kruieplant
Sou jy ’n basilisk se gif met dié kruid kon neutraliseer? Skynbaar het die Romeine so gedink want hulle het die Griekse basilikon “koninklike plant” (uit basileus “koning”) met die basiliscus verwar; → BASILIKA, BASALISK.
basilika — kerkgebou
Die basilika (of basiliek) het in antieke Grieke tye niks met die kerk te make gehad nie. Dit was die hofgebou in Athene waar die sogenaamde argon (die beampte wat regspraak lewer en basileus, dit wil sê “koning”, genoem is) sy sittings gehou het. Die ou Romeine het soos met baie ander Grieke dinge die gebou nagemaak as ’n langwerpige geregsaal. Daar was ’n skip, gange, voorportale en suile – en later kon die Christene óf die gebou met min verandering gebruik óf ’n ander op dieselfde plan bou; → BASILIEKRUID, BASALISK.
basilisk — fabelagtige slang wat ’n mens dood kan kyk
Dié skrikwekkende dier is ’n “koninkie” genoem omdat dit dan ’n kuif of merk op die kop sou gehad het wat aan ’n kroon herinner. Sy asem en blik was fataal. Volgens sekere opvattings was dit as gevolg hiervan die koning van alle slange. Die naam is uit Latyn basiliscus van die Grieks basiliskos wat “koninkie” beteken. Volgens oorlewering word dit deur ’n slang uit die eier van ’n haan gebroei; → BASILIEKRUID, BASILIKA.
baster (neerhalend) — kind buite die eg gebore; dier uit ongelyksoortige ouers
Die oorspronklike betekenis was “seun van ’n pakdier”. Die implikasie was dat die kind verwek is deur ’n rondswerwer of daklose – dit is vroeër nie spesifiek met buite-egtelikheid verbind nie. Só ’n verhouding kon immers permament wees, nie net een nag van passie en toe verdwyn pa nie.
belladonna — geneeskragtige plant verwant aan die nagskade
Belladonna was ’n kompliment vir ’n vrou: in Italiaans beteken dit “mooi dame”. Vroeër eeue, voor Elizabeth Arden, het vrouens die sap uit die plant in hul oë gedrup omdat dit die pupil laat vergroot en blink (en hulle gedink het dat dit mans soos motte na ’n kers sou lok). Dit is die romantiese rede: omdat dit gif is, is dit miskien gebruik om die kompetisie van mooi nooiens uit die weg te ruim.
berserker — sterk man van die Oudnoorse sagas wat sonder pantser geveg het; woestaard; onredelik woedende persoon
Die Noorse vegters van eeue gelede het moontlik in beervelhemde baklei omdat hulle geglo het dat dit hulle onoorwinlik sou maak (bere se krag is deur die eeue met groot ontsag behandel). In Noors is hulle berserkr genoem, moontlik uit ber “beer” + serkr “hemp”. Die krygers het vrouens verkrag en mans vermoor, selfs in die gemeenskappe waar hulle teenwoordigheid verdra is (en het dus berserk geraak). Hierdie onsosiale gedrag en hulle voorkoms het moontlik bygedra tot die legendes oor weerwolwe wat in Europa ontwikkel het. Dié verklaring word nie oral aanvaar nie: miskien was die oorsprong die Oudnoorse woord bær-serce wat “sonder harnas, pantser” sou beteken.
beskuit — gebak wat in die oond uitgedroog is
Die Romeine het al beskuit geken maar dit as ’n soort brood beskou. Die Engelse het die Franse woord daarvoor, biscuit, oorgeneem: die woord het bestaan uit bis “twee” + cuit uit die werkwoord cuire “kook”, bak”. Soos vandag is beskuit twee keer gebak. Die Duitse Zwieback beteken duidelik dieselfde.
bidet — lae ovaalbad waarin die geslagsorgane en anus gewas kan word
Die sjarmante en diplomatiese Franse het dié soort gemak sy naam gegee. Dit het toe letterlik “perdjie, ponie, vulletjie” beteken omdat dit so bestyg is dat ’n mens dwars daaroor, soos op ’n perd, gesit het.
bisar — grillig, vreemd
Die Baske is astrante Spanjaarde wat gedurig aan die baklei is. Hulle het vroeër voor die voet baard (bizar) gekweek wat hulle vir die Franse dames fier, astrant, aantreklik en dapper laat lyk het. Die jaloerse mans het die naam oorgeneem, maar mettertyd toegeskryf aan eienaardige, vreemdsoortige persone – die Franse was te verfyn om ruwe baarde aan te lê. ’n Ander onromantiese en misplaaste bron meen die woord kom van Italiaans bizarro wat “kwaad, vurig, opvlieënd” beteken het.
blatant — onbeskaamd, openlik
’n Gebabbel en geskinder word gewoonlik agterbaks gedoen, maar die woord het nooit dié betekenisse in Engels gehad (van waar ons dit kry) nie. Die Engelse digter Edmund Spenser (1552/3–1599) het die woord in sy beroemde gedig “The faerie queen” geskep. Dit het ’n monster met ’n duisend tonge beskryf (simbool van laster) wat onbeskaamd sy vals stories oorgedra het. Blatant het dus eintlik “babbel, skinder” beteken.
boek — gebinde blaaie papier
Volgens geskiedkundiges het veral Engelse priesters vroeg reeds gladde beukeboombas gebruik om hulle runes daarop te kerf. Die klank van boek is redelik herkenbaar daarin. Daar is ook ’n woord in Sanskrit bhurja wat die naam was van beukebas wat vir skryf gebruik is. Papier kom van papirus, die soort Nylbiesie waarvan die eerste papier gemaak is. Perkament kom uit die stad Pergamum waar vel die eerste keer as plaasvervanger vir papier gemaak is. Die Duitse Buche is duidelik familie.
boekanier — seerower, vrybuiter
Waar daar ’n vuurtjie is, is daar ’n rokie, soms met ’n geur van die dood. Die Franse boucanier was die gebruiker van ’n boucan, ’n rooster wat deur inboorlinge van die Wes-Indiese Eilande gebruik is om hulle wilde-osvleis op te braai. Die Franse het vleis daarop gerook en aan Nederlandse skepe verkoop. Oorspronklik is die woord gebruik vir Franse setlaars wat as jagters en houtkappers in die Spaanse Wes-Indiese Eilande gewerk het. Nadat die Spanjaarde hulle verdryf het, het hulle as seerowers ’n bestaan gemaak. Nie almal was so beleefd by die rooster nie – sommige boorlinge was kannibale wat hulle menskarmenaadjies daarop gerooster het: ’n boekanier was dus ’n braaikok.
boeket — bos blomme
Die woord kom uit Frans wat dit by Italiaans geleen het waar dit eers “boskasie” en later “klein bossie” beteken het. Hedendaags sal ’n man nie sommer ’n boskasie aan die geliefde gee nie.
boeljon — vleisekstrak
’n Boeljon was ses eeue gelede ’n staaf van die een of ander edelmetaal, maar ook die plek waar munte gemaak is. Dalk het die Oudfranse bouillir “kook” met die smelt van die metaal verband gehou. Dit sal die rede verskaf vir vandag se skelm betekenis waar die vleisekstrak verkry word deur ’n kooksel te maak.
boesel — skepel, dit wil sê een derde van ’n mudsak, 36–37 liter
Ongeveer 700 jaar gelede was ’n boesel ’n hand vol graan, dus net wat op jou handpalm kon sit. Die woord kom waarskynlik uit Gallies bosta “handpalm”. Dit het nie in die praktyk gewerk as die graan afgemeet en verkoop moes word nie – om ’n sak gou vol te kry, sou ’n paar honderd man soos demone moes werk. In Nederlands was die koringmaat eintlik ’n skepel, ’n inhoudsmaat vir droë stowwe.
bombardier — onderoffisier by die artillerie
Die bombardier was so vyf eeue gelede nie noodwendig soos vandag die onderoffisier by die artillerie nie, maar iemand wat die vroeë soort kanon moes afvuur. Die herkoms is uit Grieks bombos wat “neurie” beteken het – die geluid van ’n bom wat deur die lug trek voor dit ontplof, het daaraan herinner.
bombasties — hoogdrawend
’n Bombas is iemand wie se spraak so opgeblase is dat dit klink asof dit met katoen opgestop is om belangrik te klink (Latyn bombax “katoen”). Vroeër is katoen dikwels gebruik om klere op te stop, veral dié van ’n dame wat bolangs meer af- as opgeblase was. In Grieks het bombux “sywurm” beteken – bombastiese spraak is dikwels ook so uitgerek soos die sydraad om ’n kokon (wat terloops tussen 600 tot 900 meter lank kan wees). Dit gee ’n nuwe betekenis aan die woord langdradig.
bonanza — voorspoed, geluk
Die Spaanse seevaarders het met bonanza begryp “mooiweer” en kalmte na ’n hewige storm (en waarskynlik bakleiery in ’n seegeveg om ander skepe te beroof). In Matteus 8:26 word verhaal hoedat Jesus die storm op see laat bedaar het en “dit het doodstil geword” – wat in Spaans vertaal word met una grande bonanza. Ons woord bonus (Latyn “goed”) is nie net familie nie, maar ook die oorsprong waarop bonanza gebou is.
boord — die kant van ’n skip
In ou Europese tale soos Oudfrans, Teutonies en Middelengels was die boord eintlik ’n plank (Engels board) en dit is oorgedra op die kant van die outydse houtskepe. Om aan boord te gaan, was eers om na die kant van die skip te gaan, soos in die vroeëre seegevegte. As die skepe langs mekaar was, is die een met gryphake aan die ander vasgehou en kon die matrose aan boord van die ander skip gaan. Dié boord het ons vandag nog in die woorde bakboord en stuurboord. Aanvanklik was eersgenoemde die kant van die boot of skip wat agter jou bak (“rug”) was, want in die wêreld waar regterhanders die botoon voer, het die skipper agter gesit en die roerstok met sy regterhand beheer terwyl sy rug na die see gekeer was. Aan sy voorkant was die stuurkant. Die woord bak vir die rug van ’n persoon vind ons ook nog in die woord agterbaks, met ander woorde “agter jou rug”, waar ’n vuilis dinge doen sonder dat jy daarvan weet. In Oudfrans was bord ’n “plank, tafel”. Die bord waaruit geëet word, was vroeër inderdaad ’n stuk plank, soos vandag se broodbord; vandaar ook die verband met tafel. In Middelnederlands (wat tussen ongeveer 1250 en 1500 in Nederland gepraat is), het bord ook die wisselvorm boord gehad.
bottel — houer, fles vir ’n vloeistof
Vandag is dit van glas, maar vroeër eeue was die houer vir wyn, die bottel, ’n velsak. Dit was in elk geval praktieser as om uit oordrewe romantisisme uit die skoen van ’n skone dame te drink. Die Engelse bottle het boot (skoen) as voorgeslag — wat natuurlik ook uit vel of huid gemaak is. Die woord bottel is in Nederlands eers laat gebruik vir fles.
botter — vetstof uit room verkry
Daar word vermoed dat botter uit Skithies kom (Skithië was al die lande noordoos van Wes-Europa en die noordkus van die Swartsee). Die Grieke het die woord bouturon waarskynlik geleen: bous “os, koei” + turos “kaas”. Botter was dus os- of koeikaas. Die koei- of os- is waarskynlik vooraan gevoeg om die produk te onderskei van bokooi- of skaapooikaas. Botter is in antieke tye in Indië, Iran en Noord-Europa gebruik, maar nie deur die antieke Romeine of Grieke nie. Die antieke Romeinse geskiedskrywer Herodotus noem botter as een van die eienaardighede van die Skithiese bevolking (saam met dagga!).
boudoir — slaapkamer
As madame haar vererg het, het die heer van die huis hom nie daaraan gesteur nie, maar haar beveel om haar dikbek in die slaapkamer te gaan afblaas. Die Franse werkwoord bouder beteken “pruil” en boudoir “pruilkamer”. Koning Lodewyk XV (1710–1774) se minnaresse het die een ná die ander (daar was ’n hele aantal) hulle misnoeë met sy sekskapades te kenne gegee deur hulle onderlippe uit te stoot. Die bekendste een was die berugte madame De Pompadour (1721–1764) wat koningin Marie as ’t ware uit die koninklike lakens gelig het. Marie self het agt, nege of tien kinders by haar man gehad, voordat sy hom meegedeel het dat sy nie langer in hulle boudoir belang gestel het nie.
terug na → KABARET
boulevard — boomryke straat vir wandelings
Soos wat die verskillende volke hulle barbarismes afgegooi het, het stede nie meer skanse, dit wil sê boulevards of bolwerke, nodig gehad nie. Maar in plaas van hulle plat te slaan, het hulle die mure as (verhoogde) paaie gebruik waar mense rustig kon wandel. Die Nederlandse woord bolwerk het hom ook in ander tale as Frans tuisgemaak, byvoorbeeld Engels bulwark, Deens bolværk, Sweeds bàlverk; Pools bolwark, Russies bolverk en Italiaans baluardo.
brassière — buustelyfie, bra
In Frans het die bra as armskut onbeskaamd manlik die arm (Frans bras) beskerm en nie ander, losweg gesproke, dele gestut nie.
bravo — uitroep van bewondering
In Italiaans het bravo “dapper” beteken (soos Engels brave), maar vroeër was dit die naam vir ’n sluip-, huur- of enige soort moordenaar (wat in elk geval dapper sou moes wees). Nie almal was nie: een bron (net met die naam Florio) beskryf die bravo as ’n vuurvreter wat jou vir geld sou beskerm; maar as gevaar gedreig het, was hy die eerste wat sy skurwe hakskene sou wys.
bruid — vrou wat trou
’n Bruid was eeue gelede skoondogter genoem. Dié eienaardige betekenis kom uit die Gotiese taal wat tussen ongeveer die 4de en die 9de eeu deur die Gotiese volk in veral Wes-Europa gepraat is. In die antieke Indo-Europese tradisie het die getroude vrou by haar man se familie gaan woon. Die enigste pasgetroude vrou (die bruid) in so ’n familie sou die skoondogter wees. Sommige taalkundiges meen ook dat die woord terugslaan op die Proto-Indo-Europese stam bru- wat “kook” beteken het, want dit was die plig van die skoondogter.
Die bruidsruiker is ’n oorblyfsel van die sogenaamde corona nuptualis (’n kopkrans wat deur die Grieke en Romeine gebruik is om oorwinning aan te dui).
Die troukoek spruit uit ’n soort huwelik wat net deur die boonste lae van die Romeinse samelewing aangegaan kon word. Dit is voor tien getuies deur die Pontifex Maximus (die hoogste hoëpriester) bevestig en die bruidspaar moes saameet aan ’n koek wat van sout, water en meel gemaak was. Die snobs het ook bepaal dat net mense wat so getrou het, vir die hoogste godsdienstige ampte in aanmerking kon kom. By hierdie seremonie het die bruidegom stom daar gestaan en kyk hoe sy ongetroude vriende die bruid inbring en agterna deur getroude mans huiswaarts begelei word. Dalk sou hy eerder met een van hulle se skoondogters wou trou. (Die -gom van bruidegom was ’n ou betekenis van “man”: dus bruidsman.)
terug na → TROUKOEK
bruidegom → BRUID.
bruidsruiker → BRUID.
bulimie — sieklike eetsug
Die ongelukkige mense wat aan dié siekte ly, word so honger dat hulle voel of hulle letterlik ’n os sal kan opeet. Die woord kom uit Grieks boulemia “oshonger” en is saamgestel uit bous “os” + limos “honger”.