Читать книгу Die Potlooddief en die engel - A.S. van Straten - Страница 10
Toneel 3
ОглавлениеDie twee engele loop direk na ’n bioskoop. Daar’s net een ry sitplekke van voor gesien. Tonie, Ouma en Ma neem hul plekke van regs af in. Langs Tonie is daar ’n oop sitplek, dan is daar ’n mooi nooi en haar kêrel. Almal kyk na die rolprent. Ouma het sjokolade op haar skoot. Tonie se aandag is verdeel – hy maak ook ogies vir die nooi naby hom. Haar kêrel hou haar regterhand vas, haar linkerarm rus op die leuning. Tonie skuif sy regtervoet nader om haar meer as halfpad tegemoet te gaan, maar dit lyk of sy dit nie opmerk nie. Hy vat ’n lekker uit Ouma se verskeidenheid, skil die papier bo-om af en plaas die oop lekker op die oop sitplek, maar die nooi ignoreer dit. Met sy regterhand maak hy ’n lomp insek na wat na die lekker toe steier op vier pote. Die middelvinger vorm ’n nek en kop wat die lekker ondersoek. Die nooi is geamuseer en loer uit die hoek van haar oog. Die insek gryp die lekker en verorber dit. (Tonie steek die lekker in sy mond.) Die insek word siek, steier rond en val om – met sy bene stuiptrekkend in die lug. Dan lê hy doodstil. Die meisie se linkerhand kom aangestap tot by die dooie insek, streel Tonie se hand wat taamlik gou lewe kry en die streling beantwoord. Haar knieë bly behoorlik bymekaar, maar sy skuif haar linkervoet tot teenaan Tonie se regtervoet. Hulle twee hou handjies en speel voetjie-voetjie en kyk weer na die rolprent. Die engele staan aan een kant en kyk na die ry fliekgangers wie se gesigte almal dieselfde reaksies, dieselfde emosies vertoon.
ENGELA:Hy’s soos ’n sestienjarige skoolseun! Wat gaan jy doen?
WILHELMUS:Ek het al my hoop op jou Lena gevestig, maar as jy nie wil help nie, weet ek nie wat anders ek –
ENGELA:Hoekom doen jy nie aansoek om Spesiale Mag nie?
WILHELMUS:Ek kán nie, jy wéét ek is nog nie ’n volwaardige beskermengel nie ... Dalk word ek nooit een nie ... Jy sien ... hy’s mý seun, ek het hom en sy ma verlaat toe hy twaalf was.
ENGELA:(nie vreeslik verbaas nie) En hoe kom jy toe hiér? Versagtende omstandighede of spesiale genade?
WILHELMUS:Eintlik beide ... maar as loutering moet ek nou aanskou hoe my seun dieselfde foute maak as ek. Dié dat ek so opgewonde geword het toe jy my vertel van jou Lena. Ek was seker sy sou, jy weet ... die vrou wees wat hy nodig het ... Laat ek haar te siene kry, ’seblief ...
TONIE:(Haal ’n notaboekie uit sy sak, beduie hy soek ’n skryfding.)
MEISIE:(Gebruik haar linkerhand om ’n potlood op te diep uit haar handsak. Sy gee dit vir Tonie en fluister haar naam en telefoonnommer.)
OUMA:(Geniet Tonie se flankeerdery.)
TONIE:(Skryf die besonderhede neer en steek die notaboekie én die potlood in sy sak, hou weer haar hand vas.)
ENGELA:Hy’s absoluut skaamteloos. Dit spyt my, Wilhelmus, maar daar’s geen rede vir jou om Lena te sien nie.
WILHELMUS:Asseblief, Engela, net een keer ...
ENGELA:Dit sal net jou lyding vergroot.
WILHELMUS:Dis hoekom ek hier is.
ENGELA:Nou goed. Sy gaan môremiddag stad toe, dan kan jy haar ’n rukkie sien ...