Читать книгу Die Potlooddief en die engel - A.S. van Straten - Страница 12

Toneel 5

Оглавление

Sitkamer van huis. Koffietafel met ’n hoop skoolskrifte daarop. Die engele is nog steeds “in die lug”.

MAX:(Hy merk taaltoetse met ’n rooi pen. By hom staan ’n halfbottel whisky en ’n blikkie sodawater. Na hy een boek klaar gemerk het, skuif hy dit eenkant en drink ’n groot mondvol whisky sommer uit die bottel, dan ’n mondvol sodawater uit die blikkie. As hy iemand hoor aankom, draai hy gou die prop op die bottel vas en steek dit weg agter ’n kussing op die rusbank.)

LENA:Hoe vorder dit? (Sy soen hom op die wang, snuif agterdogtig aan die blikkie, glimlag verlig oor dit net sodawater is.)

MAX:Goed, hulle spelling is baie beter. Ek maak vir jou ’n lys van die dinge wat jy nog moet dril ... Gaan haal vir my water asseblief, Lena. (Wyl Lena uit is, gooi hy gou whisky by die sodawater en steek weer die bottel weg.) Waar was jy so lank?

LENA:Hokkie-oefening vir die standerd sewes. En toe’s ek stad toe.

MAX:Kyk wat het ék vir jou gekry. (Hy gee haar ’n pakkie toegedraai in geskenkpapier.) Maak dit oop.

LENA:(vou dit oop: ’n bottel parfuum) Dankie, Pa! Ai, Pa moes nie sulke dures gekoop het nie. (Sy lig die doppie en adem die fyn geur in.) Hmmmm ... (Soen hom op die wang.) Baie dankie.

MAX:Jy gebruik dit, hoor! En sorg dat mans naby genoeg kom om dit te ruik. Asseblief, Lena, en dra tog jou hare los. Daardie rekkies is seker baie nuttig in die klaskamer, maar móét jy hulle in jou háre ook gebruik? (Hy drink “sodawater”.)

LENA:(glimlag) Kom ons begin nie weer dáármee nie. Wat wil Pa hê vir aandete?

MAX:Ek neem jou uit na ’n deftige restaurant. Dis jou verjaardag en –

LENA:Ek’s moeg, Pa. Ek het ’n lang dag agter die rug.

MAX:Ek beloof ek sal nie ’n druppel drink nie. Ek sal jou nie in die verleentheid stel nie, nie vanaand nie. (Hy drink “sodawater”.)

LENA:Dis nie dit nie. Ek is rêrig móég.

MAX:Jy gun jouself nie ’n kans om mense te ontmoet nie. Ek wil hê jy moet gelukkig wees.

LENA:Ek is gelukkig. (Sy klink allesbehalwe gelukkig.) Rêrig. Baie gelukkig.

MAX:(Hy drink “sodawater”, buig sy hoof.)

LENA:(plaas haar hande op sy skouers; ná ’n rukkie sê sy met geforseerde optimisme) Ek sal die parfuum gebruik – elke dag. En ek sal my hare soms los dra. Én ek is besig om vir my ’n rok te laat maak deur een van die voorste modeontwerpers ... maar wat van Pa? Daar’s duisende eensame weduwees, en wat doen my aantreklike, sensitiewe pa daaraan? Absoluut niks!

MAX:Om seergemaak te word deur die lewe is swaar. Maar Lenatjie, jy moenie ’n lafaard wees soos ek nie. Hou aan veg! (Hy staan op, sit sy arm om haar lyf.) Maak foute en probeer maar weer. Anders leef jy nie rêrig nie. (Hulle stap uit.)

WILHELMUS:Wat is sý probleem?

MAX:(kom haal sy bottel whisky) Anders leef jy nie rêrig nie ... (Hy stap weer uit.)

ENGELA:Sy vrou kon sy drinkery naderhand nie meer verduur nie. Sy het gewag tot Lena begin skoolhou, en toe in ’n woonstelletjie ingetrek. Gehoop dit sal Max tot besinning bring.

WILHELMUS:En?

ENGELA:(weemoedig) Dit het Max net méér laat drink. En Lena was bitter teleurgesteld in haar ma. (Sy sug.) Ná twee maande in die woonstel, net toe sy besluit het om terug te keer na haar man en dogter, is sy een oggend in haar tuintjie dood. Beroerte.

WILHELMUS:Waar’s sy nou?

ENGELA:Hier. Sy’t amper dadelik vlerke gekry.

WILHELMUS:Dan moet daar vir my ook hoop wees?

ENGELA:(terg hom) Kan jy harp speel? (Sy vat ’n harp en speel iets moois.)

Die Potlooddief en die engel

Подняться наверх