Читать книгу Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé - Страница 14
5
ОглавлениеSaartjie die rabbedoe
Een aand sit Saartjie in haar kamer en huiswerk doen. Sy het die middag tennis gespeel en het nog haar wit tennisbroekie en -hempie met haar tennisskoene aan.
Sy is nie lus hiervoor nie, maar die huiswerk moet gedoen word – en buitendien, dit maak mos ’n goeie indruk op haar ouers as sy alleen hier sit en werk.
Saartjie is die afgelope paar dae só soet dat botter nie in haar mond sal smelt nie. Sy het groot geskrik met daardie affêre toe sy in Ou Nukke se woonstel was en sy lewe nou ekstra mooi sodat sy haar ouers se toestemming kan kry om Durban toe te gaan.
Anna het vroeër die middag die groot nuus kom vertel dat sy vir die langnaweek saam met haar pa Durban toe gaan.
“Dit was só maklik!” het sy opgewonde vertel. “Ek het daar by my ouers gesit en gesê ek het ’n vakansietjie nodig, want ek het my dié kwartaal amper doodgewerk. My pa het sommer dadelik ja gesê. Hy sê hy sal nogal graag geselskap in die motor wil hê.”
“En wat van my?” wou Saartjie dadelik weet. “Het jy van my gepraat, Anna?”
“Ja, ek het gevra of jy mag saamgaan. Ek het gesê jy’s ook al gedaan van al die huiswerk en goete, en toe sê my pa hy sien glad nie hoekom jy nie kan saamkom nie – as jou ouers natuurlik hul toestemming gee.”
Sover het Anna nog net van haar pa gepraat. Toe vra Saartjie die belangrike vraag: “En wat het jou ma gesê?”
“Sy’t eers ge-huh en ge-ha, en oor allerhande goed gekla. Haar grootste klagte was dat my pa elke oomblik van die drie dae by die konferensie sal besig wees, en wat gaan ons twee kinders dan alleen doen? Ek het gesê ons sal in die see gaan swem en op die strand lê en saans sal ons só moeg van al die swemmery wees dat ons vroeg sal gaan slaap.”
“En toe?” vra Saartjie en luister aandagtig. Sy moet hieruit leer hoe om haar ouers te benader en hul vrae te beantwoord.
“My ma was nog so ’n bietjie onseker en het gepraat van die luukse hotel waar my pa gaan bly. Dis glo net skatryk mense wat die plek kan bekostig. Ons twee sal ons baie goed moet gedra – ‘soos dames’ sê my ma. Dis nie ’n hotel vir ’n gelag en lawaai nie en my ma is bang ons gaan my pa in die skande steek, want hy sal mos net met etenstye daar wees.”
Saartjie sug. “En wat het jy toe gesê?” vra sy en skuif nader aan Anna.
“Ek het gesê Saartjie Baumann is een van ons land se beroemdste snydokters se dogter en sy ken haar maniere. En ek is die dogter van die gaafste ouers wat ’n mens kan hê en ek ken ook my maniere. Ek en Saartjie weet hoe om ons in hoë kringe te gedra. Ons sal stil en stigtelik wees. En toe staan ek op en maak so ’n paar elegante buiginkies, net om vir hulle te wys hoe ons twee sal buig as ons die rykste van die rykes daar in die hotel ontmoet. My pa en ma het albei gelag en ek weet nie hoekom nie, maar my ma se oë het geblink. Toe sê sy: ‘Nou goed, dan kan julle twee maar saam met Pappa gaan. Dis te sê as Saartjie se ouers inwillig.’”
Anna het opgewonde gelag, en Saartjie ook, maar nie té vrolik nie. Sy moet haar ouers nog vra. Sal hulle haar laat gaan?
Toe vertel Anna dat haar ma en sussie die paar dae na hul ouma se plaas naby Vereeniging gaan.
“Ek weet nie wat Muggie gaan sê as sy hoor ek gaan saam met my pa nie,” sê Anna, “maar sy moet maar ’n keel opsit. Ek bly liewer net hier as dat ons heeldag in Durban na haar moet kyk.”
Saartjie het volkome hiermee saamgestem en belowe om die aand met haar ouers te praat.
Dit is hoekom sy nou so stil en alleen hier in haar kamer is. Sy wil haar ouers, wat onder in die sitkamer sit, beïndruk. Sy sal netnou soontoe afstap en haar skouers krom hou en swaar sug en vir hulle vertel hoe moeilik die lewe is en hoe moeg sy van al die huiswerk is. Dan gaan sy skimp dat daar net een ding is wat haar sal regruk – die see. ’n Paar dae by die see en sy sal weer vol lewenslus wees en selfs nog harder kan werk. Anders gaan haar senuwees binnekort ingee.
Toe Saartjie se huiswerk klaar is, sit sy sommer in haar kamer. Sy wil mos nie nou al afgaan nie. Dis té gou. Haar ouers moet eers vir mekaar sê: “Die arme Saartjie werk darem weer laat vanaand!”
Saartjie sit en dink aan die hotel in Durban. Dit sal nie so lekker wees as die hotel nét vol ryk mense is en hulle Lynnekommers nie eers boe of ba mag sê nie. Maar sy en Anna sal darem seker iets kry om saans te doen wanneer hulle alleen is.
Saartjie sien hoe sy en Anna soos twee elegante dames by die swierige hotel instap en hoe die personeel almal sulke buiginkies maak en hulle welkom heet. Sy sien hoe …
Haar gedagtes word onderbreek deur seunstemme onder haar venster. Sy spring op en kyk uit buitentoe. Dit is Apie en sy maat, Bennie. Galpil en sy twee maats, Gert en Piet, is ook by. Die klomp speel rugby met ’n tennisbal. Hulle oefen nou al vir volgende kwartaal wanneer die rugbyseisoen begin. Hulle het seker hierheen gekom, dink Saartjie, omdat die Baumanns die grootste en mooiste grasperk in die buurt het. Maar sy sal gou ’n einde aan die lawaai maak.
Sy stap flink deur toe, maar dan bedink sy haar. Dis mos ’n wonderlike geleentheid om voort te bou op die goeie indruk wat sy die afgelope paar dae op haar ouers gemaak het.
Sy laat haar skouers hang en loop slof-slof by die trap af.
Saartjie kom by die sitkamer in. Sy rek haar uit en sê: “Sjoe, ek het só baie werk. Ek weet nie hoe ek dit langer gaan hou nie. My senuwees … is heeltemal gedaan …”
Dit lyk nie asof hierdie woorde juis ’n indruk op haar ouers maak nie: haar ma brei verder en haar pa gaan aan met sy blokkiesraaisel.
“Nou kom speel die seuns nog op die gras net onder my venster. My senuwees gaan dit nooit hou nie,” sê sy met ’n martelaarstem.
Haar pa kyk vlugtig na haar ma. Albei glimlag en dokter Baumann knipoog vir sy vrou.
Saartjie weet dit nie, maar Anna se ouers was vanmiddag hier om te vra of sy saam met hul dogter en Louis Strydom Durban toe kan gaan.
“Dis natuurlik hoekom Saartjie die afgelope tyd so stil en gedwee was,” het mevrou Baumann gesê. “En hoekom sy so uit haar pad gegaan het om vir ons werkies en gunste te doen.”
Die grootmense het heerlik gelag toe die Strydoms vertel dat Anna se onlangse gedrag presies dieselfde was – heeltemal anders as gewoonlik.
Dokter en mevrou Baumann het geen beswaar geopper nie. Saartjie kan saamgaan. Louis Strydom het dadelik gebel en vir die twee meisies ’n kamer langsaan syne bespreek.
Maar Saartjie weet niks hiervan nie en haar ouers geniet haar toneelspel terdeë.
“Die lewe is moeilik,” sug Saartjie weer. “Hoërskool is nie speletjies nie. Baie werk, verskriklik baie werk. Ek hoop maar net my gesondheid gee nie in nie.”
Haar ouers neem glad nie van haar notisie nie. Martha Baumann brei rustig verder en haar man krap kop oor die blokraaisel. Daar speel ’n glimlag om sy mondhoeke en sy vrou byt op haar onderlip om nie hardop te lag nie.
Saartjie kyk na die twee. Het hulle dan geen simpatie, geen meegevoel met hul enigste dogter nie?
“Ek sê,” sê sy hard, “ek hoop net my gesondheid gee nie in nie.”
“Ek glo darem nie dit sal gebeur nie. Jy lyk vir my baie gesond, Saartjie,” sê haar ma.
“Ja, Mamma, maar Mamma weet nie hoe ek hier binne voel nie. My senuwees is gedaan.” Saartjie wys eers na haar hart, maar dan val dit haar by dat ’n mens se senuwees mos nie daar sit nie en sy wys na haar kop. Maar sy glo ook nie ’n mens se senuwees sit daar nie. Dan laat sy maar haar hand sak.
“Ek gaan die seuns daar onder my venster verwilder,” sê sy en staan op. “Ek kan die geraas nie langer vat nie.”
Sleepvoet en met krom skouers soos wat sy dink iemand sal stap wie se senuwees gedaan is en wat onder baie werksdruk verkeer, stap Saartjie deur toe. Sy loer vinnig oor haar skouer om te sien watter uitwerking hierdie houding op haar ouers het. Maar hulle neem nie notisie van haar nie.
Saartjie besluit sy sal die aanval voortsit wanneer sy terugkom.
Toe sy by die stoeptrap af is, bars haar ouers uit van die lag.
“Ai, dié Saartjie tog,” sê haar ma.
“Ek wonder of sy later moeg gaan word vir toneelspeel en ons sommer direk sal vra of sy saam met Anna-hulle Durban toe mag gaan?” sê haar pa. “Ek kan nie wag om die verbasing op haar gesig te sien wanneer ons vir haar sê ons het klaar besluit sy mag gaan nie. Sy gaan dan besef haar harde werk was alles verniet!”
Saartjie stap om die huis se hoek. Sy staan langs die grasperk en kyk hoe die seuns speel.
Elkeen kry ’n kans om met die tennisbal te hardloop. Die seun wie se beurt dit is, begin aan die onderpunt van die grasperk en moet met die bal nael en dit agter die boom aan die ander kant gaan plant. Die ander vier moet die een met die bal dan natuurlik probeer duik.
Saartjie sien hoe Gert vinnig verby Bennie glip, Apie wegstamp dat hy oor die grond ploeg en dan met ’n oulike systappie vir Piet flous – maar Galpil wag nog vir hom! Die seun probeer om Galpil hardloop, maar sy maat trek soos ’n boog deur die lug en duik hom onderstebo.
“Hoe’s daai, pêrre!” skree Galpil opgewonde. Almal juig. Van die geskree lei Saartjie af dat niemand nog die hele stuk grasperk met die bal afgelê het sonder om hard met moeder aarde kennis te maak nie. Sy voel ’n tinteling in haar are. Sy is lus om ook te probeer. Sy is mos ’n goeie atleet en het haar tennisklere aan, so sy is reg aangetrek om te hardloop.
“Haai!” sê sy hard en stap na die seuns toe waar hulle nou staan en stry oor wie se beurt dit is om volgende met die bal te hardloop.
“Haai jouself!” sê hulle en stry verder.
“Bly stil, julle!” sê Saartjie kwaai en almal sluk hul woorde.
“Wassit met jou?” sis Apie deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.
“Ek kom vir julle sê julle raas te veel. Dit pla my!”
“Oho!” sê Apie smalend. “Dit plá haar, ouens!” Hy lag asof dit ’n groot grap is.
Saartjie kyk haar boetie vererg aan.
“So wat wil jy hê moet ons daaraan doen?” vra hy vermakerig.
“Julle moet padgee – verdamp, verkas!” Saartjie waai met haar hand soos ’n koningin wat haar onderdane gebied om haar alleen te laat.
Maar nie een van die seuns beweeg nie. Apie praat namens almal toe hy sê: “Hoekom? Hoekom moet ons weg wees?”
“Ek het mos gesê – omdat julle te veel raas!” Sy wys na Galpil, Gert en Piet. “Daai drie gaan môre weer in die moeilikheid wees omdat hulle nie huiswerk gedoen het nie. En julle mors in elk geval net tyd, want niemand kry dit reg om met die tennisbal regoor die grasperk te hardloop nie.”
“Asof jý kan,” sê Apie smalend.
“Natuurlik kan ek,” sê Saartjie selfversekerd.
Die seuns kyk na mekaar en begin glimlag. Miskien gaan hulle nou pret hê.
“Probeer jy vir ons pêrre vertel,” sê Galpil, “jy wil probeer?”
“Ja,” sê Saartjie en kyk hom vierkantig in die oë.
“En kan ons jou maar têkkel?” maak Apie seker van ’n baie belangrike puntjie.
“Julle kan probeer, maar julle sal dit nie regkry nie,” sê Saartjie hooghartig. “Julle is gans te stadig.”
Die seuns kyk glimlaggend na mekaar. Hulle gaan hierdie gedoente geniet.
“Hoe lyk dit, pêrre?” sê Galpil. “Sal ons vir Saartjie ’n kans gee?”
Almal dink dit is ’n goeie idee.
Galpil gee vir Saartjie die bal. Die seuns neem hul posisies op die gras in. Sy staan aan die onderpunt van die grasperk. Die ligte op die stoep en die maanskyn maak dat sy duidelik kan sien waarheen om te hardloop. Tussen haar en die boom aan die ander kant staan die seuns nou gebukkend. Hulle is reg om, soos Apie sê, te “têkkel”.
Apie en Bennie is heel voor en ’n entjie agter hulle staan Gert en Piet. Galpil is heel agter, voor die “pale”. Hy het op laerskool mos altyd heelagter gespeel. Hy verbeel hom sy verdediging is rotsvas. As Saartjie verby die ander kom – en hy twyfel of sy sal – is hy nog daar om te keer. Hy gaan haar voete onder haar uitduik – sy wil mos so grootpraat!
Saartjie byt effens op haar onderlip en vee dan met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop weg. Sy wil hulle almal flous. Sy is rats en vinnig en sy het mos al baie rugbywedstryde gesien. Sy besluit sy sal eers na die een kant toe hardloop en dan vinnig van rigting verander – en wanneer hulle omspring en probeer keer, sal sy al weg wees. In elk geval, sy hoop so.
“Kom, Saartjie!” skree Apie wat haar gebukkend inwag. “Komaan! Moenie bang wees nie!” Dan skree hy vir sy maats: “Têkkel haar hard, ouens!”
Saartjie stap ’n entjie verder terug sodat sy op volle vaart kan wees wanneer sy op die grasperk kom. Dan swaai sy om en gee vet!
“Gryp haar! Têkkel haar!” skree Apie.
Saartjie hardloop op volle vaart na die een hoek toe. Apie en Bennie sit haar agterna en dan skielik, sonder om spoed te verminder, verander Saartjie van rigting en skiet agter die twee seuns verby. Hulle stop vinnig en gryp na haar – maar dis mis.
Piet duik na haar toe, maar Saartjie swenk net effens en hy gryp lug en slaan hard op die grond neer. Gert kom vinnig oor om te help, maar aarsel toe Saartjie reguit op hom afpyl en net toe hy dit doen, swenk sy nog steeds op volspoed weg van hom af. Teen die tyd dat hy weer begin hardloop, is sy al ’n goeie paar treë verby hom.
Nou is dit nog net Galpil! Hy kom soos ’n gorilla aangehardloop – grommend en gebukkend. Hy wil haar duik dat sy deur die lug trek soos hy al met meer as een vleuel gedoen het. Sy wil mos so grootpraat!
Saartjie mik na die kant van die grasperk. Sy hou Galpil uit die hoek van haar oog dop en toe, net toe hy met ’n boog deur die lug trek soos hy duik, versnel sy haar pas. Galpil maak hard met moeder aarde kennis – kort agter Saartjie se hakskene. Sy gaan plant die bal laggend agter die boom.
Saartjie kyk geamuseerd na die seuns. Apie voel dis Bennie se skuld dat sy verbygeglip het en Bennie voel weer dis Apie se skuld. Piet lê sommer en rus op die plek waar hy so woes na Saartjie geduik en toe geval het. Gert sit en kla dat hy ’n spier in sy sy verrek het toe hy so vinnig moes vassteek en weer wegspring.
En Galpil, die rotsvaste verdediger? Hy lê en kreun. Hy het sy wind uitgeval.
“Julle lyk soos ’n klomp gewondes op ’n slagveld,” sê Saartjie, die rabbedoe, grinnikend.
Die seuns kom sukkelend en kreunend nader.
“Jissie, sus,” sê Apie en Saartjie kan die eerbied in sy stem hoor, “as jy ’n seun was, het jy vir die skool se eerste span vleuel gespeel!”
“Pêrre,” sê Galpil en hy kreun weer en vryf sy maag, “ek belowe julle – g’n perd het my al ooit só op ’n rugbyveld geflous soos Saartjie nou net nie.”
Gert, Piet en Bennie beaam wat Galpil sê. Hulle is ook nog nooit so uitoorlê nie!
Saartjie kyk hulle uit die hoogte aan. “As julle nog wil rugby speel – of oefen hoe om iemand te vang of te keer of te duik of wat ook al – gaan doen dit iewers anders. Ek is moeg vir julle geraas. Ek het werk om te doen.”
Die seuns maak allerhande verskonings en besluit hulle het nou vir eers genoeg van rugby gehad.
Saartjie stap tevrede weg.
Maar toe sy by die huis ingaan, laat sy haar skouers weer sak en slof met haar voete op die vloer.
“Hulle is nou weg,” sê sy toe sy by haar ouers op die rusbank gaan sit. “So my senuwees kan ’n bietjie rus kry.”
Dokter Jan en sy vrou kyk net vlugtig na mekaar, maar hulle sê niks nie. Dit is ’n rukkie stil in die sitkamer.
Dan sug Saartjie swaar en sê: “Ek moet seker maar weer gaan werk.”
Sy hoop haar pa of ma sal simpatie betoon en sê sy werk te hard – maar nee. Haar ma hou net aan brei en haar pa is nog steeds met die blokkiesraaisel besig.
Saartjie besluit sy moet maar reguit praat. Sy sê: “Pappa?”
“Ja, Saartjie?” Haar pa kyk op na haar.
“As ’n mens moeg is van so vreeslik baie werk en jy voel of jy enige oomblik ’n dinges … ag, ek bedoel ’n senuwee-ineenstorting gaan kry … Dink Pappa nie dis goed dat ’n mens dan vir so ’n paar dae vars seelug moet inasem en in die gesonde seewater moet swem nie?”
“Ja, ek dink dis ’n goeie ding,” sê haar pa. “Dit sal iemand wat so afgerem is goed doen om by die see te gaan rus.”
“Dis wat ek ook dink, Pappa,” sê sy ernstig.
“Hoekom vra jy, my skat?” vra haar ma.
“Omdat ek die een is wat so pootuit is, Mamma,” sê Saartjie. Sy trek haar gesig effens skeef en hoop maar dis hoe iemand lyk wat afgerem is. “Ek dink ek moet bietjie by die see kom om te gaan rus.”
“So?” Haar ma se wenkbroue is vraagtekens, maar daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke.
Saartjie lyk springlewendig, veral nadat sy so woes buite rugby gespeel het. Daar is ’n gesonde blos op haar wange.
“O, jy moet bietjie by die see kom om te gaan rus?” herhaal haar pa.
“Ja, Pappa.” Sy sug weer en kyk met ’n treurige uitdrukking voor haar uit. Sy sit eers ’n hele rukkie so voor sy loer om te sien of haar houding enige indruk op hulle maak.
Saartjie kyk verbaas na haar ouers. Hulle albei is hard besig om hul lag te probeer bedwing. Maar toe hulle sien sy kyk na hulle bars hulle albei hardop uit van die lag.
“Ek verstaan nie wat so snaaks is nie,” sê sy gegrief. “Hier staan julle dogter – julle enigste dogtertjie – ’n mens kan maar sê met haar een voet in die graf, en julle lag daaroor!”
Hulle kan sien Saartjie voel baie gekrenk.
“Ons lag omdat jy so toneelspeel, skat,” sê Martha Baumann. “Jy makeer mos niks nie.”
Saartjie kyk haar ma seergemaak aan.
“Ons weet ook hoekom jy die afgelope tyd so uit jou pad gegaan het om werkies hier by die huis te doen en hoekom jy so ekstra hard geleer het,” sê haar pa.
Sy kyk haar ouers verbaas aan.
“Dis mos maar my geaardheid om hard te werk en pligsgetrou te wees.”
“Miskien, maar jy berei ook al lankal die weg voor om ons te vra of jy saam met Anna en haar pa Durban toe kan gaan,” sê haar pa.
Saartjie het dit nie verwag nie. Sy snak na asem.
“En,” sê haar ma voor sy iets kan sê, want sy kry haar dogter regtig jammer, “ek en Pappa het besluit jy kan maar gaan!”
’n Oomblik sit Saartjie sprakeloos. Dan spring sy op en soen haar pa en ma en sê ’n paar keer na mekaar: “Dankie, dankie, dankie!”
Saartjie is in die wolke. Sy doen ’n paar danspassies en vlieg dan by die trap op.
“Waarheen gaan jy, skat?” vra haar ma.
“Ek wil begin pak, Mamma!” skree sy oor haar skouer.
“Ai, dié Saartjie tog,” sê haar ma net sugtend en tel haar breiwerk op. “Sy gaan eers oor ’n week Durban toe en sy begin nou al pak.”
Die volgende dae gaan vir Saartjie en Anna ekstra stadig verby. Hulle gesels gedurig net oor die drie dae wat hulle in Durban gaan deurbring.
Lina is baie teleurgesteld dat sy nie saam met haar twee maats kan gaan nie.
Apie en Muggie is albei lelik omgekrap toe hulle die nuus hoor. Hulle wil weet hoekom hulle nie ook kan saamgaan nie. Die twee hou gewoonlik niks van mekaar nie en baklei baie, maar hulle voel dieselfde oor hierdie saak. Dit is bitter onregverdig teenoor hulle dat net Saartjie en Anna Durban toe mag gaan.
Anna se ma het Muggie maar gepaai en Saartjie se ma moes vir Apie hanteer. Hulle het hul jongstes belowe hul susters sal vir hulle allerhande dinge van Natal af terugbring.
Toe Muggie naderhand sien al haar geskree gaan niks help nie, het sy maar bedaar en wou sy weet wat hulle alles van Durban af gaan kry.
Apie het ook agtergekom sy gebrom oor “julle sal sien wat julle sal sien” is tevergeefs en begin uitvis oor wat hy te wagte kan wees.
Hy het norserig daarop aangedring dat Saartjie vir hom ’n skulp huis toe moet bring. Een wat ’n mens teen jou oor sit en dan hoor jy die see. Verder moet sy natuurlik ook vir hom lekkers bring. Baie lekkers. Hy wil proe hoe smaak Durban se lekkers.
Dit is uiteindelik die dag voor Saartjie en Anna die pad saam met Louis Strydom vat.
Mevrou Baumann praat lank en ernstig met haar dogter. Sy moet tog soet wees en haar ordentlik gedra.
“Ja, Ma. Ek weet, Ma. Goed, Ma. Ek verstaan, Ma,” sê Saartjie herhaaldelik, maar sy luister nie juis nie. Sy is al dertien en haar ma praat sowaar met haar asof sy nog ’n babatjie is! Oom Louis het gesê hulle moet vroeg ry, want hy wil etenstyd al in Durban wees en sy wil nou gaan slaap.
Vieruur die volgende oggend toet die Strydoms se motor voor die Baumanns se huis.
Daar word vinnig gegroet.
Apie mompel vakerig: “Moenie my skulp en lekkers vergeet nie!”
Die motor trek weg Durban toe.
Anna en Saartjie sit agter. Dis nog donker.
“Julle kan maar ’n bietjie slaap,” sê oom Louis.
Die twee maats kan, ja, maar hulle wil nie. Wie slaap nou as jy op pad see toe is?
Saartjie en Anna sing en lag agter in die motor. Louis Strydom glimlag goedig. Hy hoop maar net die twee maltrappe skok die luukse hotel se inwoners nie te erg of vang te veel kattekwaad aan nie. Hy sug. Mens moet maar vir die beste hoop.