Читать книгу Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé - Страница 8

2

Оглавление

Moleste

Saartjie sit penregop in die bed. Sy dink diep en ernstig na. As sy die brief verloor het en haar pa vind dit uit gaan daar groot moeilikheid wees. Hy het mos gesê dis ’n baie belangrike brief.

Haar pa sal so kwaad wees dat hy glad nie eens na haar sal wil luister as sy hom vra of sy saam met Anna-hulle Durban toe kan gaan nie. As sy die brief nie kry nie, kan sy maar vergeet van die blou see, die blou lug en die wit sand.

Sy móét dit eenvoudig kry en pos – al gebeur wat ook al!

“Mooi dink, Saartjie,” prewel sy vir haarself.

Sy gaan stap vir stap deur alles wat sy gedoen het ná sy die brief gekry het. Sy sien hoe haar pa die brief vir haar gee om te pos. Sy het dit in haar hand vasgehou.

“Hierdie een,” sê sy onwillekeurig en kyk na haar regterhand.

Toe het sy met die brief in haar hand by die huis uitgehardloop. Op die sypaadjie het sy van een betonblok na die ander gespring, met die brief nog steeds in haar hand. En toe sy by Anna se huis van die grond af gespring en op die trap net onder die stoep te lande gekom het, het sy die brief ook nog in haar hand gehad.

Daarna is sy by die huis in en na Anna se kamer toe. Daar het sy op die bed neergeval.

“Nou weet ek!” sê Saartjie skielik hardop.

Haar gesig straal van verligting. Sy onthou nou hoe sy nog na die brief gekyk en gesien het dis nat van haar hand se sweet. Toe het sy dit op die tafel neergesit – op Anna se boek waarin sy huiswerk vir Ou Nukke gedoen het.

Dit beteken die brief is veilig, dink Saartjie. Sy sal Anna môre by die bushalte sien en dit dan kry en gou pos. Al is dit so ’n belangrike brief sal dit darem seker nie die einde van die wêreld wees as dit net een ou daggie later gepos word nie.

Saartjie voel nou baie beter. Sy lê weer gemaklik in haar bed en dink aan die sorgelose dae wat sy en Anna by die see gaan deurbring.

Die volgende oggend is sy vroeg op en stap bushalte toe. Sy gaan nie by Anna langs nie, want oom Louis laai haar gewoonlik op pad werk toe by die bushalte af.

Saartjie stap na Lynnekom se hoofstraat toe. Dit is maar ’n kort entjie – te kort om met ’n motor te ry – en dis mos goeie oefening om te stap. Dit is ook nie nodig om Anna by die huis te sien nie, want sy sal die brief mos by haar hê en dan kan Saartjie dit gou in die rooi posbus gooi.

By die bushalte staan daar al ’n hele paar Lynnekommers wat leerders aan Hoërskool Saamwerk in die stad is.

“Haai!” groet hulle en Saartjie roep vrolik: “Haai julleself!”

Sy lyk pragtig in haar blou skooluniform met die arendwapentjie op.

Lina Rens en Gail Smith staan eenkant en gesels met Lodewyk le Fras de Waal en sy twee boesemvriende, Gert Bakker en Piet Heyns.

Hierdie drie seuns het saam met Saartjie, Anna en Lina hier in Lynnekom grootgeword. Lodewyk is die drie se leier. Niemand noem hom ooit Lodewyk nie. Sy bynaam is Galpil.

Saartjie hou nogal van Galpil. Sy wens net hy wil die slegte gewoonte om ’n ieder en ’n elk “ou perd” of “pêrre” te noem nou afleer.

Gail is Engelssprekend en gaan na ’n beroemde Engelse hoërskool vir meisies in die stad. Sy woon nou al ’n hele paar maande hier en die Lynnekommers hou van haar. Haar Afrikaans is al amper net so goed soos haar Engels.

“Waar’s Anna dan?” vra Saartjie en is dadelik bekommerd.

“Die perd het hier in ’n kar verbygery,” antwoord Galpil.

Saartjie kyk met verlangende oë na die rooi posbus aan die paal langs haar. Sy wens sy het die brief nou gehad sodat sy dit kon pos.

Maar dit maak darem nie te veel saak nie, besluit sy. Sy sal die brief by die skool by Anna kry en dit dan daar pos.

Die leerders staan nou en praat oor watter huiswerk hulle gedoen het en watter nie. Saartjie is in haar skik. Sy kan nie sien dat sy vandag in die moeilikheid sal kom nie. Sy het al haar huiswerk gedoen en ook hard geleer.

“Ek wens ek was jy,” sê die sterkgeboude Galpil met sy growwe stem. “Ek het nie eens na ’n boek gekýk nie.” Hy skud sy kop hartseer en vertel dat hy gister glad nie kans gekry het vir skoolwerk en sulke klas goeters nie, want hy het die hele middag in sy bootjie op die spruit gaan roei. Toe hy by die huis kom, was dit al donker en hy was so pootuit dat hy omtrent dadelik gaan slaap het.

Die bus hou stil en die lewenslustige klomp borrel in. Galpil, Gert en Piet sit deesdae graag naby aan Saartjie-hulle. Hulle weet mos die meisies het hul eie buskaartjies. Daar was ’n tyd – die eerste paar dae van die jaar – toe die kinders nog nie buskaartjies by die skool kon koop nie en hulle kontant in die bus moes betaal. Toe het die drie seuns maar ver van die meisies af gebly. Hulle was bang hulle moet miskien vir Saartjie-hulle betaal.

By die skool nael die leerders deur die groot hekke speelterrein toe. Saartjie en Lina soek na Anna.

“Daar’s sy!” sê Saartjie toe sy hul maat by die hoofgebou se trap sien afkom.

Sy en Lina hardloop soontoe.

“Sjoe!” sê Anna en sug swaar. “Ou Nukke is vir jou moeilik! Ek het my huiswerk vir haar in die personeelkamer gaan gee en sy’t oor haar knypbrilletjie na my geloer en toe gebulder: ‘Laat dit weer gebeur dat jy iets ’n dag laat ingee!’ Ek sê vir julle, ek het koue rillings langs my ruggraat af gekry!”

Saartjie staar haar maat verslae aan. Dan stamel sy: “Het … het jy ’n brief in jou huiswerkboek gekry?”

“’n Brief?” Anna se gesig trek op ’n plooi. “Watse brief?”

Saartjie se hart klop vinnig. Sy vertel hoe sy die brief – ’n baie belangrike brief – moes gaan pos het, en toe het sy dit gistermiddag daar op die tafel in die kamer op Anna se boek neergesit.

“Is jy seker?” vra Anna. “Ek het niks gesien nie.”

“Natuurlik is ek seker,” sê Saartjie beslis, maar sy voel onseker. Sê nou sy het haar dit verbeel dat sy die brief op die boek neergesit het?

“Ek was ook daar,” sê Lina, “maar ek kan niks van so iets onthou nie.”

“En ek het die boek vanoggend net toegemaak en in my skooltas gesit,” sê Anna. “Ek het nie gekyk of daar ’n brief in is nie. Wie soek nou so iets in ’n huiswerkboek?”

“Veral as ’n mens niks eens daarvan weet nie,” kom Lina vir Anna op.

“Bly stil, julle twee,” sê Saartjie en sy lyk baie bekommerd. “Ek dink.”

Anna en Lina hou gehoorsaam hul monde. Hulle sal maar kyk hoe Saartjie dink. Hul vriendin gaan sit op ’n bankie. Sy byt effens op haar onderlip en met die agterkant van haar hand vee sy ’n krul van haar voorkop weg. As sy die brief nie kry nie, sal sy vir haar pa moet sê sy het dit verloor – en dan is daar groot moeilikheid. Dan kan sy maar van Durban vergeet.

Sy móét die ding eenvoudig kry! En dit ís in Anna se huiswerkboek. Saartjie is nou doodseker daarvan. Anna het die brief natuurlik net nie gesien toe sy die boek toemaak nie.

“Dis definitief in jou boek,” sê Saartjie beslis.

Anna en Lina kyk na mekaar en skud hul koppe. As Saartjie so sê, dan is dit seker maar so.

“En sê nou dit ís daarin?” vra Lina. “Hoe gaan jy die brief uit die boek kry?”

Saartjie dink ernstig hieroor na. Juffrou Necker is ’n onderwyseres wat groot vrees by die leerders inboesem. Hulle noem haar Ou Nukke omdat sy altyd so vol draadwerk is. As sy net so oor haar knypbrilletjie na jou loer – sonder om eens ’n woord te sê – dan skrik jy jou al klaar boeglam.

Lynnekom se rabbedoe besluit sy kan nie vir Ou Nukke die brief gaan vra nie, want dit is Anna se boek. Anna sal die juffrou moet vra.

Anna sien hoe ingedagte Saartjie haar aankyk en begin baie ongemaklik raak. Dit is asof sy Saartjie se gedagtes duidelik kan lees.

“Aikôna,” sê Anna vinnig, “dit help nie eens jy vra my nie! Al sleep jy my ook na Ou Nukke toe gaan ek nie vir haar sê daar’s ’n brief in my boek en ek wil dit graag hê nie. Aikôna, dink aan iets anders. Ek wil nie my kop van my lyf afgebyt hê nie.”

“Maar ek het nie ’n woord gesê nie,” keer Saartjie gemaak verbaas. “En ek het jou niks gevra nie.”

“Wel, ek weet wat jy dink,” sê Anna net bot. “Maar ek gaan dit nie doen nie.”

Saartjie sug net en mompel iets van mense wat kastig jou vriende is, maar laat jy net vir hulle vra om ’n klein dingetjie te doen soos om ’n brief in die personeelkamer te gaan haal – dan sien jy hulle is nie ware vriende nie. Sy mompel dit hard om seker te maak Anna hoor alles.

Anna en Lina hoor albei goed wat sy sê, maar dit maak nie ’n indruk op hulle nie. Lina sê net lakoniek: “Hoekom gaan vra jy nie self vir Ou Nukke nie?”

“Ek?” vra Saartjie verbaas. “Julle weet mos daai juffrou het niks tyd vir my nie. En buitendien, dis mos nie my boek nie …”

“Maar dis jou brief,” sê Anna vinnig.

Saartjie weet nie wat om hierop te antwoord nie, dan brom sy vinnig dat dit nie haar brief is nie, maar haar pa s’n: ’n belangrike brief wat sy moes gepos het. Sy besef Anna – en selfs Lina – gaan haar nie help nie. Hulle is albei te skrikkerig vir Ou Nukke. Veral as die juffrou in so ’n nukkerige bui is soos vandag.

En om die waarheid te sê, is Saartjie self net so skrikkerig. Sy wil ook nie haar kop van haar lyf afgebyt hê nie. Ou Nukke het haar en Anna juis al eendag daarvan beskuldig dat hulle mekaar met hul huiswerk help. Sy sal wil weet hoekom die brief in Anna se huiswerkboek is en wat dit daar doen. Dit wil sê ás die brief ooit nog daarin is, dink Saartjie en sug moedeloos.

Nee, besluit sy. Sy gaan ook nie vir Ou Nukke vra nie – sy sal ’n ander plan maak.

“Ek gaan kyk of ek die stel boeke miskien vanoggend in die hande kan kry en dan in Anna se boek kyk en die brief uithaal.”

Anna en Lina stem volkome hiermee saam. Dis die beste wat Saartjie kan doen. Hulle sê dit nie, maar hulle is baie verlig. Hulle is mos nou buite gevaar.

“Ons hoop maar net die brief is daarin,” sê Lina lakoniek.

“Dis nie nodig om te hoop nie,” sê Saartjie beslis. “Ek wéét dis daar.”

Die klok lui en die drie stap na die kant van die gebou waar die leerders in rye moet inval.

Anna en Lina loop opgeruimd en gesels. Saartjie dink hoe sy die huiswerkboeke in die hande kan kry en die brief uit Anna s’n kan haal sonder dat Ou Nukke dit agterkom.

Dié oggend in die klas is Saartjie nog meer oortuig dat sy dit nie kan waag om Ou Nukke reguit te vra of sy die brief uit Anna se boek kan kry nie. Die kinders het die onderwyseres nog nooit in so ’n omgekrapte bui gesien nie. Niks is na haar sin nie en haar bytende sarkasme laat krimp meer as een van hulle ineen.

Met verlangende oë kyk Saartjie meer as een keer in Ou Nukke se klas na die stapel boeke op die tafel. Dit is die huiswerkboeke. In een van daardie boeke is haar pa se baie belangrike brief.

Die klas is besig met ’n Engelse taalles. Saartjie sit en hou duim vas dat Ou Nukke dalk een of ander tyd die klas moet verlaat. Dan sal sy gou opspring, Anna se boek gryp en die brief uithaal.

Maar Ou Nukke bly in die klas en sy word net al kwaaier en kwaaier.

“Lodewyk!” gil sy en loer oor haar knypbrilletjie na Galpil.

Saartjie byt op haar onderlip om nie hardop te lag nie toe sy hoor hoe Galpil wat in die ry net langs haar sit, brom: “Pêrre, nou’s ek in die dinges.”

“Het jy iets gesê, Lodewyk?” kom Ou Nukke se stem vererg.

Die seun skud sy kop.

Juffrou Necker gluur hom streng aan. Sy is seker hy het nie die werk wat sy vir huiswerk gegee het, gedoen nie.

“Het jy die grammatikareëls geleer?” vra sy.

Galpil knik sy kop en glimlag. Ja-nee, hy het beslis. Hy staan so ’n bietjie nader aan Saartjie se bank. Sy is mos slim. As Ou Nukke hom ’n vraag vra, moet Saartjie help.

Ou Nukke praat Afrikaans, behalwe as sy met die eintlike les besig is. Dan is alles in Engels.

“Do you agree that there should be complete agreement of subject and verb?”

Arme Galpil lyk skoon dronkgeslaan. Sy vriend Gert wat langs hom sit, brom iets van ’n uitklophou.

Galpil kyk vinnig na Saartjie. Hy sien sy knik haar kop om te beduie die antwoord op die vraag is ja.

Nou knik Galpil ook heftig kop en sê: “Yes, me agree.”

Die juffrou loer agterdogtig oor haar bril na Saartjie. Sy is nie seker nie, maar sy vermoed die meisie het vir Galpil gehelp. Saartjie kyk met ’n onskuldige gesig na die onderwyseres en glimlag vriendelik. Ou Nukke sê net “Huh” en dan gluur sy weer oor haar knypbrilletjie na Galpil.

“That is correct,” sê die juffrou. “The subject and verb must agree.”

Galpil glimlag breed. Dis mos wat hy gesê het. Hy kyk ook so effens oor sy skouer na die kinders agter in die klas. Hy hoop hulle luister mooi sodat hulle kan hoor hoe slim hy in Engels is.

“Now, what happens,” vra Ou Nukke, “if two nouns are connected by ‘as well as’?”

Galpil sluk. Hy frons om te wys hoe ernstig hy nou dink. Hy skuif nader aan Saartjie se bank. Met ’n pleitende blik in sy oë loer hy vinnig na haar.

Saartjie ken die antwoord, maar sy kan hom nie help nie. Die onderwyseres kyk stip na haar. Galpil kug weer en frons nog meer. Hy maak ’n paar kuggeluide asof dit hom sal help om vinniger te dink.

“I am waiting,” sê juffrou Necker kil. “I explained this work yesterday in class and you had to learn the rules at home.”

Galpil glimlag maar bra floutjies en loer na Saartjie se kant toe. Sy sit net voor haar en uitstaar. Dit is te gevaarlik om hom nou te probeer help. Die seun kyk pateties rond. Is daar dan nie iemand anders wat kan hand bysit nie?

Die meeste van die kinders kan hom nie help nie, al wil hulle ook. Hulle het nie ’n benul hoe dit die werkwoord beïnvloed wanneer twee naamwoorde in Engels met “as well as” verbind word nie.

“I shall write it on the board,” sê die onderwyseres en tel ’n stukkie kryt op. “If you still can’t answer my question – there’ll be trouble!”

Die “there’ll be trouble” laat almal na asem snak.

Die juffrou skryf op die bord.

“Help, Saartjie,” fluister Galpil en hy buig benoud oor na haar.

“Die werkwoord moet met die eerste naamwoord ooreenstem,” sê sy vinnig.

“Hè?” Galpil buig weer oor na haar, want hy het nie mooi gehoor nie. “Hè, wat sê jy?”

“Die werkwoord moet met …” Skielik is Saartjie tjoepstil. Ou Nukke het omgeswaai en kyk haar nou kwaai aan.

Maar Galpil het niks agtergekom nie. “Hè?” fluister hy. “Sê gou weer, toe.”

Saartjie probeer met haar kop vir Galpil beduie dat Ou Nukke nie meer skryf nie, maar suutjies op hulle afsluip.

“Praat, Saartjie!” sê Galpil hees. “Moenie soos ’n houtpop daar sit nie.”

“En wat,” klink Ou Nukke se skril stem skielik reg agter hom op, “moet Saartjie vir jou sê?”

Galpil ruk soos hy skrik. Dan gee hy ’n verleë laggie.

“Sy – sy moet sommer ’n bietjie praat, juffrou weet … sommer ’n bietjie praat …”

“Waaroor?” kom die onverbiddelike stem weer. Galpil antwoord liewer nie. Hy staar nou maar net voor hom uit en probeer lyk soos ’n martelaar wat onskuldig is aan enigiets waarvan enigiemand hom beskuldig, maar nogtans sy straf sal verduur sonder om te kla!

Dit is só stil in die klas dat mens ’n speld kan hoor val. Ou Nukke is die hele oggend al in ’n slegte bui en haar bui is nou nóg slegter.

“Saartjie,” sê sy kwaai.

Saartjie sluk en staan vinnig op.

“Het jy vir Lodewyk gehelp?” vra Ou Nukke en haar stem is ysiger as ysig.

Saartjie aarsel ’n oomblik. Sy is effens bleek. Sy vee onwillekeurig met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop en dan sê sy eerlik: “Ja, juffrou.”

“Sy’t my probeer help, maar ek kon niks hoor nie,” sê Galpil.

Die onderwyseres staan en dink of sy hulle sal straf of nie. Hulle kyk haar al twee smekend aan.

“Hoekom het jy nie jou werk geleer nie, Lodewyk?”

“Juffrou sien, die ding is só – ek en ’n paar pêrre het ’n bootjie gemaak en toe met die ding in die spruit gaan roei. Die tyd het vreeslik vinnig verbygevlieg – en toe ons sien, is dit al donker. Toe sê ek: ‘Pêrre, ons moet weg wees. Ek moet vanaand nog tot laat aan daai Engelse reëls en goete leer.’ Toe’s ons huis toe, juffrou sien, maar toe was my arms so seer van al die roeiery dat ek nie die boek kon optel en oophou om te leer nie. En toe het ek maar gaan slaap, juffrou – want wat help dit om net so te sit en nie te kan leer nie, kos why jy’s te moeg?”

Die kinders lag almal – maar nie te hard nie. Saartjie grinnik ook. Vandat Apie die woord “kos why” begin gebruik het, doen al die seuns in Lynnekom dit.

Juffrou Necker glimlag ook effentjies – net so by die een mondhoek.

“Kan jy nie behoorlik Afrikaans praat nie?” berispe sy die seun. “’n Mens noem ander mense nie ‘pêrre’ nie. En wat vir ’n woord is ‘kos why’?”

Galpil kyk haar effens verbaas aan. Sy gee vir hulle Engels en sy verstaan dit sowaar nie!

“Dis die Engelse woord vir ‘omdat’, juffrou,” verduidelik hy. “Kos why.”

“Jy bedoel seker ‘because’?”

Galpil knik sy kop. Dis presies wat hy bedoel!

“Wel, vanmiddag gaan jy nie weer met jou bootjie op die rivier vaar nie,” sê die onderwyseres en vervolg smaaklik: “Jy gaan hierdie taalreëls leer en ek gaan môre seker maak jy ken dit. Verder moet jy vir straf die volgende oefeninge doen.”

Ou Nukke neem Galpil se potlood en maak in sy Engelse grammatikaboek ’n regmerkie langs een oefening, en toe nog ’n oefening, en toe nóg een!

Die seun kyk geskok na die drie lang oefeninge wat hy moet doen en mompel verslae: “Jislaaik!”

“Het jy iets gesê, Lodewyk?”

“Nee, juffrou,” sê Galpil vinnig. “Nie eintlik gesê nie.” Hy wil tog net nie nóg ’n oefening bykry nie.

Juffrou Necker draai nou na Saartjie wat die hele tyd gedwee gestaan het. Sy probeer half glimlag, maar dit help nie veel nie. Ou Nukke bly haar kwaai aangluur.

“Kan jy die vraag beantwoord?” vra sy.

“Ja, juffrou.”

“Then tell me,” en juffrou Necker slaan oor in Engels, want die les word mos nou weer hervat, “what happens if two nouns are connected by ‘as well as’?”

“Then the verb must agree with the first noun,” sê Saartjie vinnig, want sy het die werk geleer.

“Can you give me an example?”

“A woman, as well as her three children, has been killed,” sê sy glimlaggend. Dit is die voorbeeld wat in die boek is – sy onthou dit nog goed van gisteraand af toe sy geleer het.

“That’s good,” sê Ou Nukke. “Now sit down and don’t you dare try and help anybody else again.”

Saartjie sit vinnig en knik vriendelik. Sy sal dit beslis nie “dare” nie.

Die onderwyseres lyk nog steeds omgekrap. Saartjie besluit sy voel net soos Anna – al sleep hulle haar ook na Ou Nukke toe gaan sy haar nie reguit vir die brief vra nie. Ná hierdie voorval sal dit dom wees. Sy sal maar net stil en soet in die klas sit en vir die res van die dag so ver moontlik uit die juffrou se pad bly.

Die onderwyseres verduidelik nou verder vir die klas wat met die werkwoord in Engels gebeur wanneer twee naamwoorde met “as well as” verbind word.

Almal luister aandagtig. Hulle kan sien hulle moenie vandag met Ou Nukke sukkel nie. Saartjie kyk stip na die stapel boeke voor op die tafel. Anna se boek is tussen hulle en die belangrike brief wat sy vir haar pa moes gepos het, is in Anna se boek.

Ou Nukke praat eenstryk deur. Dit lyk nie vir Saartjie of sy die klas selfs net vir ’n paar oomblikke allen gaan los nie. Sy gaan nie kans kry om gou op te spring en die brief te kry nie.

Toe die klok uiteindelik lui om die einde van die periode aan te kondig, gee meer as een leerder ’n sug van verligting. Die onderwyseres tel die pak boeke op en stap uit.

“Daar gaan my laaste kans,” sê Saartjie moedeloos.

“Gaan jy haar nou vir die brief vra?” wil Anna weet.

“Dink jy ek’s mal?” snou Saartjie haar toe. “Sy sal my kop van my lyf afbyt. Jy kan mos sien in hoe ’n bui is sy.”

“Hoe gaan jy die brief dan kry?” vra Lina wat net agter Saartjie en Anna sit.

“Ek gaan vra om kamer te verlaat,” sê Saartjie ingedagte, “en dan gaan ek personeelkamer toe. Miskien het sy ons boeke daar gaan neersit voor sy na die ander klas toe is.”

Die kinders lag en gesels nou terwyl die klas vir die volgende onderwyser wag.

Net Galpil is doodstil. Hy sit en werk aan die eerste oefening wat hy vir strafwerk gekry het. Hy wil mos vanmiddag weer met sy bootjie op die rivier gaan roei.

“Ek’s besig, pêrre, baie besig,” sê hy net elke keer as een van sy maats met hom wil gesels.

Saartjie werk haar plan mooi uit. Sy weet Ou Nukke is die volgende periode by die matriekklas op die boonste verdieping en sy sal hulle graadagts se boeke mos nie soontoe saamvat nie. Sy weet ook die onderwyseres maak altyd tussen periodes eers ’n draai in die personeelkamer voor sy na die volgende klas toe gaan. Saartjie is seker sy het die boeke nou eers daar gaan neersit.

Toe die meneer wat vir hulle Duits gee inkom, vra Saartjie of sy kamer mag verlaat. Sy knipoog vir Anna en Lina toe sy by die deur uitgaan.

Saartjie stap met die lang gang af. Voor die personeelkamer se deur gaan staan sy stil. Sy kyk eers vinnig regs, dan links en dan weer regs. Daar is niemand te bespeur nie. Dan hou sy haar oor teen die deur. Haar oë is groot en sy luister aandagtig. Sy hoor nie stemme binne nie. Dit lyk nie of een van die personeellede nou ’n vry periode het nie.

Net om doodseker te maak, klop Saartjie sag aan die deur. Niemand antwoord nie. Sy klop weer, dié keer harder. Daar is nog steeds nie antwoord nie.

Saartjie se hart bons. Sy maak die deur oop en glip vinnig in. Die personeelkamer is verlate.

Sy maak die deur agter haar toe en kyk met groot oë rond.

Op ’n lang tafel aan die kant van die vertrek staan ’n hele paar stapels boeke wat die onderwysers nog moet merk.

“Nou net gou speel,” sê Saartjie by haarself en beweeg vinnig na die tafel toe. Sy kyk na die boonste boek op elke stapel, maar kry nie die stapel waarna sy soek nie.

Haar hart klop al hoe harder. As iemand haar nou hier moet vang!

“Dis hy!” sê sy opgewonde toe sy by die heel laaste stapel kom. Dit is haar klas se Engelse opstelboeke!

Saartjie lees die name op die boeke. Sal Anna s’n nou sowaar heel onder wees? Sy is halfpad deur die stapel toe sy skielik voetstappe hoor. Hulle kom personeelkamer toe.

Saartjie kyk verwilderd rond. Dan vat iemand aan die deurknop en sy spring agter ’n afskortinkie teen die muur in. Daar hang twee swart gordyne voor die afskorting. Sy beland tussen ’n klomp jasse en baadjies.

Saartjie leun met haar rug teen die muur. Sy waag dit skaars om asem te haal. Sy hoor die voetstappe naderkom en knyp haar oë styf toe. Sy hoor hoe iemand ’n stoel wegtrek en by ’n tafel gaan sit.

En dan is dit stil, behalwe vir haar hart wat soos hamerslae in haar ore klink.

Saartjie Omnibus 3

Подняться наверх