Читать книгу Saartjie Omnibus 7 - Bettie Naudé - Страница 10
3
ОглавлениеOu Duifie sê les op
“Sê nou maar,” begin die onderwyseres nou met ’n vraag, “jy sit in ’n vliegtuig wat van Kaapstad af Johannesburg toe vlieg.” Sy glimlag vriendelik. Sy het mos verlede jaar op kollege geleer hoe om ’n les interessant aan te bied.
“Die vliegtuig se kragtige motore is soos musiek in jou ore,” gaan die juffrou begeesterd verder en dit voel vir haar of sy die klas se volle aandag het. “Jy vlieg vry soos ’n voël honderde meter hoog deur die blou hemelruim en daar ver onder sien jy die Hexrivierberge en dan die Karoo se kaal uitgestrekte vlaktes.” Ou Duifie glimlag weer vriendelik. “Dis darem heerlik om so te vlieg, nè?”
Die sedige uitdrukkings op die leerders se gesigte maak dit vir haar moeilik om te besluit of hulle dit geniet, of nie. Sy wonder wat hulle makeer. Gewoonlik sou hulle na so ’n beskrywing van hoe heerlik dit is om in ’n vliegtuig te vlieg almal opgespring het en haar tegelyk van hul ondervindings wou vertel. Selfs dié wat nog nooit in ’n vliegtuig was nie, sou iets te sê gehad het.
Maar nee, vandag is die klas doodstil. Niemand sê ’n woord nie. Niemand lewer kommentaar oor of dit heerlik sal wees om te vlieg, of nie. Hulle sit net tjoepstil en lyk bot. Nie een glimlag eens nie.
Juffrou Nortjé begin half ongemaklik voel.
“Ek sê,” en haar stem klink hees, “dit sal heerlik wees om so te vlieg, nè?”
Niemand antwoord nie. Hulle het niks te sê nie. Hulle sit net stil.
Ou Duifie besef dat dit miskien verkeerd is om so ’n vraag sommer so in die algemeen vir die hele klas te vra. Sy moet dit liewer net vir een leerder vra.
“Dit sal darem regtig heerlik wees om so te vlieg, nè?” sê sy nou vir die derde keer en kyk rond tot haar oë op Saartjie rus. “Dink jy nie so nie, Saartjie?”
Saartjie se hart bons. Dit is ironies dat sy, die een wat nie heeltemal gelukkig was oor die les wat hulle Ou Duifie gaan leer nie, sowaar nou die eerste vraag moet kry.
Saartjie staan op. Dan sê sy, sonder ’n sweempie van enige emosie of ’n glimlag op haar gesig: “Ek weet nie, Juffrou.”
Die onderwyseres kyk peinsend na Saartjie. Sy wonder of die meisie miskien probeer om snaaks te wees. Saartjie kyk met ’n onskuldige gesig na die juffrou. Sy lyk asof botter nie in haar mond sal smelt nie.
“Ek weet nie hoe ’n mens nie kan weet nie,” sê juffrou Nortjé nou kil. “Dit is mos heerlik om te vlieg. Almal hou daarvan.”
Sy wag nog ’n paar oomblikke om te hoor wat Saartjie nou te sê het. Maar blykbaar het Saartjie niks op die hart nie. Sy staan en kyk nog steeds net stip voor haar uit.
“Sit,” sê die onderwyseres vies. Saartjie gehoorsaam met ’n sug van verligting.
Die juffrou kyk nou fronsend na die leerders. Dit is so stil dat jy ’n speld kan hoor val – en dit is al klaar buitengewoon vir hierdie klas. Sy wonder wat hulle makeer en of hulle miskien probeer om snaaks te wees.
“Nou wel,” sê sy en klink sarkasties, “ék dink dis heerlik om so hoog bokant die aarde te vlieg.”
Ou Duifie besluit om nou te vergeet van die interessante aanslag waarvan sy op kollege geleer het en direk vrae oor die werk te vra. Niks moeite wat ’n mens doen, maak tog in elk geval enige verskil aan hierdie hardnekkige klas nie.
“As ’n mens van Kaapstad af Johannesburg toe vlieg,” sê die jong juffrou nou saaklik, “in watter rigting beweeg jy dan?”
Die klas is stil. Al is dit so ’n maklike vraag vlieg daar nie ’n klomp hande in die lug op of skree ’n klomp sommer die antwoord uit nie.
Die onderwyseres wonder of hulle die vraag nie mooi verstaan nie en verduidelik verder: “Wat ek wil weet, is of ’n mens wes, suid, oos of noord sal beweeg as jy van die Kaap af Johannesburg toe vlieg.”
Dit lyk asof die klas nog steeds nie weet wat die antwoord op haar vraag is nie, want niemand sê ’n woord nie.
Juffrou Nortjé besluit om ’n leerder direk te vra en sy besluit op Galpil.
“Lodewyk,” sê sy, “staan op!” Sy is omtrent die enigste mens in die skool wat Galpil op sy doopnaam noem. Hy kom rats op die been en kyk die juffrou met ’n sedige uitdrukking op sy gesig aan.
“As ’n mens van Kaapstad af Johannesburg toe vlieg, beweeg die vliegtuig noord-, oos-, wes- of suidwaarts?”
“Ek weet nie, Juffrou,” sê Galpil.
’n Paar kinders begin giggel, maar word dadelik tjoepstil toe hulle sien hoe kwaai Galpil na hulle kyk. Dit is mos sy meesterlike plan en hy het uitdruklik gesê niemand mag enigiets sê behalwe “Ek weet nie.” Hy het hulle ook ten strengste verbied om te lag of praat. Galpil is die sterkste ou in die klas en niemand soek skoor met hom nie. Die leerders is weer tjoepstil.
“Dis omdat jy nooit in die klas oplet nie, Lodewyk!” snou juffrou Nortjé hom toe. “Dis hoekom jy nie weet nie.” Sy gluur kwaai na hom oor die bril wat op haar neus se punt sit.
Galpil wil net sê dit is nie die rede hoekom hy nie weet nie – om die waarheid te sê, hy ken die antwoord op die vraag – toe hy homself bedink. Hulle het mos besluit om absoluut niks te sê nie, behalwe net: “Ek weet nie.”
“Sit!” beveel Ou Duifie vies.
Galpil maak so. Hy kyk rond en knipoog vir ’n paar van sy vriende.
Juffrou Nortjé besef nou daar is iets verkeerd. Dit lyk mos asof hierdie klas probeer om haar kwaad te maak en te tart. Die vraag wat sy vra, is tog heel eenvoudig en maklik.
“Beantwoord jy die vraag,” sê sy kwaai en wys na Anna wat langs Saartjie sit.
“Ek, Juffrou?” Anna kyk met ’n kastig verbaasde uitdrukking op haar gesig na die onderwyseres.
Galpil en sy vriende kyk suur na haar. Sy is nie veronderstel om enigiets anders te sê behalwe net dat sy nie weet nie. Sy moenie alles nou staan en bederf nie.
“Ja, jy – beantwoord die vraag.”
“Watter vraag, Juffrou?” Anna se goedige, ronde gesig lyk soet en onskuldig.
“In watter rigting lê Johannesburg van Kaapstad af?” vra die onderwyseres wat al hoe kwater raak. Sy het nou skoon vergeet van interessante onderwysmetodes en opwindende maniere om die klas by haar les te betrek.
“Nee, Juffrou,” sê Anna net kopskuddend.
“Nee, wat?”
“Nee, ek weet nie, Juffrou.”
“Sit!”
Anna sit.
“Dis wat jy lankal moes gesê het,” brom Galpil. “Dat jy nie weet nie. Moenie probeer snaaks wees nie.”
Anna hoor die gebrom duidelik, maar sy hou haar doof. Sy en Saartjie sit en giggel. Hulle voel Anna se antwoorde met die onskuldige uitdrukking op haar gesig was ’n baie beter teken van verset as net ’n bot: “Ek weet nie, Juffrou.”
Ou Duifie kyk peinsend na die klas. Niemand sê iets of glimlag nie. Hulle sit stil en kyk haar doodernstig aan. Sy is nou seker hulle beantwoord die vraag met opset nie. Maar wat kan sy doen?
Sy besluit om darem weer te probeer.
“Is daar enigeen wat vir my kan sê in watter rigting ’n mens sal beweeg as jy per vliegtuig van Kaapstad af Johannesburg toe reis?”
Blykbaar is daar nie een leerder in die klas wat haar kan sê nie. Dit is so stil dat ’n mens ’n speld kan hoor val.
Juffrou Nortjé sug swaar. Sy wonder of sy dit nie liewer verkies dat die graadneges praat en lawaai as wat hulle so doodstil sit en nie boe of ba sê of haar antwoord nie.
Ten einde raad beantwoord sy haar vraag dan maar self.
“’n Mens sal noordwaarts vlieg,” sê sy.
Dit is natuurlik glad nie nuus vir die klas nie. Almal weet dit. Hulle wou maar net nie antwoord nie.
Ou Duifie gaan nou vir ’n rukkie met die aardrykskundeles aan.
“Onthou,” sê sy, “as mens na ’n landkaart kyk, is dit baie maklik om te sien waar noord, suid, wes en oos is. Noord is bo, suid is onder, wes is aan jou linkerkant en oos aan jou regterkant. Dis eenvoudig, nè?”
Die onderwyseres kry geen kommentaar uit die klas nie. Hulle sit net doodstil en die een probeer dommer as die ander lyk.
“Sê vir my, Lina,” vra die juffrou en kyk na Saartjie se vriendin, “as jy na ’n kaart kyk, is jou regterkant oos, wes, noord of suid?”
Lina staan op. Dan sê sy: “Ek weet nie, Juffrou.”
“Maar ek het dit dan nou net verduidelik!” Die onderwyseres wat so tengerig is en gewoonlik so sag praat (dis hoekom sy Ou Duifie genoem word) se stem is nou skril en hard.
“Sê jy vir my, Saartjie.”
Lina sit en Saartjie staan op.
Met ’n sagte stem – sy kry die juffrou nogal jammer – sê Saartjie: “Ek weet nie, Juffrou.”
“En jy, Anna?”
Anna staan weer op en sê hierdie keer net: “Ek weet nie, Juffrou.”
“Antwoord jy, Gert.”
“Ek weet nie, Juffrou.”
“Piet.”
“Ek weet nie, Juffrou.”
Dit voel vir die onderwyseres of sy histeries gaan word. Sy vra die een leerder na die ander om die eenvoudige vraag te beantwoord, maar elkeen wat sy vra, kom net regop, sê: “Ek weet nie, Juffrou,” en sit dan weer.
Ou Duifie is nou bleek van woede. Sy weet glad nie hoe om so ’n situasie te hanteer nie. Sy staan voor die klas en gluur kwaai na hulle.
“Julle soek my – en julle gaan my kry. Ek gaan nog net een keer ’n vraag vra – en dan sal julle ’n ding sien!”
Die kinders wonder wat hulle gaan sien. Party voel nou effens skrikkerig. Hulle het Ou Duifie nog nooit so woedend gesien nie. Hulle kyk vlugtig na Galpil. Hy beduie hulle moet vasbyt. Daar is mos niks wat die juffrou kan doen nie. Dis altans wat hy dink – en hoop!
Die onderwyseres se oë dwaal oor die klas. Nie een van die leerders maak nou oogkontak met haar nie. Elkeen hoop maar net sy gaan nie vir hom of haar vra nie.
Dit is nou die groot toets. Gaan hulle deurdruk, of nie?
En dan kom die onderwyseres se oë op Saartjie te ruste. Sy kyk streng na haar en sê: “Staan, Saartjie.”
“O, gonna,” mompel Saartjie en kom regop.
“Ek vra die vraag nou weer.” Ou Duifie wat gewoonlik so saggeaard is, klink nou gevaarlik. “As jy na ’n kaart kyk, is jou regterkant dan oos, wes, noord of suid?”
Saartjie sluk. Haar voorkop is gefrons. Sy dink diep, maar nie oor wat die antwoord op die vraag is nie. Sy weet mos wat dit is. Nee, sy wonder of sy moet antwoord, of nie.
Saartjie vee met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Dan besluit sy dat sy nie die een gaan wees wat eerste tou opgooi nie. Buitendien, Ou Duifie het hulle onregverdig behandel toe sy hulle gister so lank in die klas laat bly het dat meneer Burger hulle gestraf het. Verder is Saartjie ook nuuskierig om te sien wat dit is wat die klas sal sien as hulle nie die juffrou se vrae beantwoord nie.
Saartjie sluk weer ’n keer en sê vasbeslote: “Ek weet nie, Juffrou.”
Die onderwyseres lyk ’n oomblik verslae, maar dan sê sy: “Ek dink jy’s astrant.”
“Nee, Juffrou,” sê Saartjie vinnig. “Ek sê mos maar net ek weet nie.”
“Maar hoe kan jy nie weet nie? Ek het dit dan nou net vir julle verduidelik!”
Saartjie sê niks hierop nie. Wat kan sy sê? Dit is mos waar. Ou Duifie het dit so pas verduidelik en enige idioot weet mos waar die vier windrigtings is. Saartjie hoop innig die onderwyseres gaan haar nou beveel om te sit.
Maar die juffrou doen dit nie. Sy sê: “Laat ek nou sien of jy weer gaan sê jy weet nie.”
Saartjie voel baie ongelukkig. Sy is die een wat nie veel van Galpil se plan gehou het nie, en nou is sy die een wat met die speletjie moet aangaan!
“As ’n mens na ’n kaart kyk,” sê die onderwyseres stadig en duidelik, “is jou regterkant altyd oos. Verstaan?”
Saartjie knik nie haar kop nie en sê ook nie sy verstaan nie. Sy staan en kyk net bot voor haar uit. Haar hart klop vinnig. Sy weet wat nou kom – en dit gaan sowaar moed kos om met Galpil se plan vol te hou.
“Soos ek sê,” verduidelik juffrou Nortjé weer sodat daar geen misverstand kan wees nie, “jou regterkant is oos. So sê nou vir my, Saartjie, watter rigting is jou regterkant?”
Die hele klas kyk afwagtend na Saartjie. Hulle wonder of sy die moed gaan hê om voet by stuk te hou. As sy dit doen, gaan Ou Duifie mos weet sy doen dit met opset en dat die kinders op hierdie manier teen haar gesag in opstand kom.
Saartjie kry haarself jammer. Hoekom moet Ou Duifie nou juis vir háár vra – sy wat glad nie so vuur en vlam soos baie van die ander kinders oor Galpil se plan was nie!
Maar dit is die noodlot. Sy kan nie nou tou opgooi nie.
“Ek weet nie, Juffrou,” sê Saartjie sag.
“Maar ek sê jou dan,” skree Ou Duifie skril, “jou regterkant is oos! Sê nou vir my – wat is jou regterkant?”
Saartjie byt effens op haar onderlip en dan sê sy weer: “Ek weet nie, Juffrou.”
Juffrou Nortjé staan radeloos. Hulle het haar nie op kollege geleer hoe om so ’n situasie te hanteer nie. Dit is nou vir haar duidelik die hele klas het op hierdie manier – deur net aanhoudend te sê: “Ek weet nie, Juffrou” – ’n versetveldtog teen haar gereël.
Om te dink sy het ’n paar maande gelede met sulke hoë ideale by hierdie skool begin werk! Dit is haar eerste aanstelling en sy wou so bitter graag al die leerders – en veral hierdie klas – se vertroue wen. Maar dit lyk nie of sy dit ooit gaan regkry nie.
Ou Duifie het gesê hulle sal ’n ding sien as hulle hiermee aanhou en nou moet sy hulle straf, maar sy het nie ’n benul hoe om dit te doen nie.
As sy hulle by die hoof gaan aankla, sal hy dink sy kan nie ordentlik dissipline handhaaf nie, en hy sal natuurlik reg wees. Haar dissipline is nie goed nie. Sy wonder vir die soveelste keer of sy ooit ’n onderwyseres moes geword het.
Juffrou Nortjé kyk na Saartjie. Dan sê sy net sag: “Sit.”
Saartjie doen dit dadelik. Sy voel sleg. Sy is nou jammer sy het met Galpil se storie aangehou. Sy sou miskien nie so jammer gewees het as Ou Duifie haar gestraf het nie, maar die juffrou het nie. Sy het Saartjie net half moedeloos beveel om te gaan sit.
Saartjie se gewete pla haar nou. Vandat Ou Duifie hier begin het en hulle agtergekom het hoe jonk en onervare sy is, het hulle die wêreld vir haar baie moeilik gemaak.
Die onderwyseres maak keel skoon en sê dan skor vir die klas: “Ek weet nie wat julle wil bereik deur aanhoudend te sê julle weet nie, al ken julle ook die antwoord. Ek verstaan dit nie. Miskien is dit beter dat julle dan maar liewer niks sê nie – glad nie antwoord nie en glad nie met my praat nie.”
Die klas dink die juffrou gaan nou straf uitdeel, maar sy doen dit nie. Sy sê net hulle moet hul boeke uithaal en die aantekeninge oor die kompas oorlees.
Ou Duifie gaan sit voor by die onderwyser se tafel. Sy kyk ingedagte by die venster uit. Sy is moeg en bekommerd. Sy weet nie of sy hierdie klas by die hoof moet gaan aanmeld, of nie. Sy wonder wat sy kan doen om die graadneges se vertroue te wen.
Die klas is nog steeds doodstil. Die veldtog gaan mos nog aan. Galpil het ’n breë glimlag op sy gesig. Hy dink sy plan werk skitterend. Ou Duifie lyk baie onseker van haarself.
Galpil dink skielik daaraan dat hulle die veldtog nog verder kan voer. Ou Duifie het gesê hulle moet stilbly en liewer nie met haar praat nie – en dit is mos ’n goeie plan! Hulle sal glad nie met haar praat nie. Dis mos wat sy wil hê. In plaas van te sê: “Ek weet nie, Juffrou,” sal hulle net eenvoudig niks sê nie. Dit sal mos selfs nog beter werk.
Nou Galpil begin organiseer. Hy skryf op ’n stukkie papier:
Almal moet pouse ’n paar minute in die klas agterbly. Ek wil vir julle iets sê – almal van julle.
Gee die briefie aan.
Galpil
Galpil gee die briefie vir Gert wat langs hom sit. Gert lees dit en gee dit dan vir die seun wat voor hom sit.
So trek die briefie deur die klas – met die een ry op en die ander ry af. Elkeen wat dit lees, kyk vlugtig na Galpil en knik dan kop. Ja-nee, hy of sy sal pouse in die klas agterbly.
Uiteindelik kom die briefie by Saartjie uit. Sy lees dit en sit haar hand dan daaroor op die bank. Sy kyk nie om na Galpil toe nie en knik nie met haar kop om te wys sy sal agterbly nie. Sy sit en dink.
Saartjie wonder watter plan Galpil nou weer in die mou voer. Sy hoop net dit is nie iets om Ou Duifie se lewe nog meer te versuur nie.
Saartjie kry die onderwyseres jammer en is spyt dat sy aan die versetveldtog deelgeneem het. Sy was van die begin af glad nie gelukkig daaroor nie. Ou Duifie het mos nie geweet meneer Burger gaan hulle straf nadat sy hulle ’n paar minute agtergehou het nie. En Ou Duifie was mos reg om hulle hier te hou totdat hulle stilsit.
Die juffrou sukkel om hulle te dissiplineer, daarom raas hulle altyd ekstra baie in haar klas. Maar sy is nog jonk en onervare, so hulle behoort haar liewer te help. Dit sal die eerbare ding wees om te doen. Maar in plaas daarvan doen die graadneges alles in hul vermoë om dinge vir haar so moeilik as moontlik te maak.
Saartjie skud onwillekeurig haar kop. Nee, sy gaan nie meer saamspeel nie. Sy sal wel pouse agterbly, maar sy gaan voorstel dat hulle dadelik met die onsinnige “Ek weet nie, Juffrou”-speletjie ophou. Hulle behoort die onderwyseres om verskoning te vra. Dis wat hulle behoort te doen.
Dan begin Saartjie wonder of Galpil se gewete hom dalk ook pla. Miskien is dit hoekom hy die briefie geskryf het dat hulle almal in die klaskamer moet agterbly. Miskien wil hy hê hulle moet Ou Duifie om verskoning vra.
Saartjie hoop dit is wat aan die gang is. Dan sal sy vir Galpil haar volle ondersteuning gee. Maar as hy nog met die veldtog wil aangaan, gaan sy haar voet neersit. Dan sal hy ’n ding sien wat hy nie graag wil sien nie!
Dit lyk asof hy hom sommer self as hul leier aangestel het. Maar hy moet oppas, hy gaan hom in Saartjie Baumann vasloop. Met ’n tipiese gebaar vee sy met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg.
Saartjie kyk om na Galpil toe. Hy kyk reguit na haar. Hy het juis gesit en wonder hoekom sy so lank stilsit en nie haar kop knik om te wys sy sal pouse agterbly nie. Saartjie knik nou en Galpil glimlag breed. So ja, alles is reg. Saartjie sal hom definitief ondersteun. Hulle kom mos al twee van Lynnekom af!
Saartjie gee die briefie aan en dit sirkuleer verder deur die hele klas.
Toe die klok vir die einde van die periode lui, staan die onderwyseres op en stap uit sonder om enigiets vir die klas te sê.
Die oomblik wat sy buite is, begin die graadneges lag en gesels en mekaar gelukwens omdat hulle Ou Duifie so uitoorlê het en haar so sleg laat voel het.
Saartjie kyk na Anna wat langs haar sit en sê: “Ek hou niks daarvan nie.”
“Ek ook nie,” sê Anna. Sy voel nou ook skaam dat hulle Ou Duifie so getart het.
Lina sit net agter die twee en hoor wat hulle sê.
“Hoekom haar jammer kry?” vra sy. “Onthou, Ou Duifie het daarna gesoek.”
“Ek wonder of sy het?” sê Saartjie ingedagte. “Dis ons wat dinge vir haar onaangenaam maak deur altyd so te raas.”
“Wel, sy kan nie kla dat ons vandag lawaai het nie,” sê Lina en rol haar oë.
Die geraas in die klas bedaar onmiddellik toe juffrou Smith binnekom. Sy is ’n kwaai ouer dame wat Engels gee en die kinders is versigtig vir haar. In haar klasse is hulle tjoepstil.
Ná Engels is dit pouse. Almal wens die periode moet gou verbygaan sodat Galpil met hulle kan praat oor die veldtog teen juffrou Nortjé. Soos die geluk dit wil hê, is die periode ná pouse weer juffrou Nortjé s’n. Dan gaan die pret van voor af begin.
In die Engelse boek wat hulle lees, sê die een karakter: “It’s nice to be nice.”
Saartjie lees hierdie sinnetjie oor en oor. Sy hou daarvan. Dit is lekker om goeie dade te doen, om behulpsaam en vriendelik te wees. Dit is wat daardie eenvoudige sinnetjie beteken.
En hulle was glad nie behulpsaam of vriendelik teenoor die arme jong onderwyseressie nie. Inteendeel, hulle het moeite gedoen om die wêreld vir haar so moeilik moontlik te maak. Maar hulle gaan daarvoor vergoed! Saartjie vee met die agterkant van haar hand oor haar voorkop. Sy sal daarvoor sorg.
Toe die klok vir pouse lui, gee juffrou Smith eers vir die leerders huiswerk. Dan gaan sy by die klaskamer uit. Die graadneges bly almal agter.
Galpil is vinnig op die been en gaan staan voor die klas.
“Mooi so, pêrre,” sê hy en glimlag van oor tot oor. “Ek wil julle gelukwens! Alles het perfek uitgewerk. Ons sal Ou Duifie wys!”
Almal lag en klap hande en wens mekaar geluk. Ja-nee, hulle sal Ou Duifie wys.
Maar dan demp Saartjie die uitbundigheid. Sy sê hard: “Hoekom moet ons Ou Duifie wys?”
Die klomp kom tot bedaring.
“Hè?” vra Galpil.
Saartjie staan nou op.
“Ek vra,” sê sy met ’n kil stem, “hoekom moet ons Ou Duifie wys? Wat het sy gedoen?”
Galpil kyk verslae na Saartjie. Wat op aarde het oor die meisiemens se lewer geloop? Hoekom wil sy nou moeilikheid soek?
“Ons is verniet gestraf,” sê Galpil nou, “en dit was haar skuld.”
“Dit was nie!” snou Saartjie hom toe. “Dit was ons eie skuld.”
“Hè?” Galpil lyk nou nog meer verbaas.
“Ek sê dit was ons skuld. Ons het moeilikheid gesoek toe ons so in die klas te kere gegaan het.” Saartjie word al hoe kwater. “En daar is nog ’n hele paar ander dinge wat ek ook wil sê.”
Saartjie stap nou tot voor in die klas en gaan staan langs Galpil. Die kinders is stil. Hulle wonder ook wat met haar aangaan en wat die “hele paar dinge” is wat sy wil sê.
“Ek dink,” sê Saartjie en wys met haar vinger na die klas, “ons het ons almal skandalig gedra en ons behoort ons te skaam!”
Die klas is stil. Saartjie lyk kwaai. Haar blou oë blits.
“Jissie, ou perd,” sê Galpil verbaas. “Wat het ons gedoen?”
“Jy noem my nie ‘ou perd’ nie, hoor jy!” kap Saartjie kwaai terug.
“Orraait, orraait.” Galpil lig albei sy hande asof hy die vrede wil bewaar. “Bly net rustig.”
Almal sit nou en wag dat Saartjie haar sê moet sê sodat hulle kan hoor wat haar so pla.
En dit is presies wat sy nou doen. Saartjie vertel vir hulle sy het ernstig oor die saak nagedink en hulle is verkeerd om die wêreld so moeilik vir juffrou Nortjé te maak. Hulle het Ou Duifie nooit ’n ordentlike kans gegee nie.
“Maar sy was nog altyd onregverdig,” brom Galpil.
’n Paar van sy vriende gee hom nou hul volle ondersteuning. Hulle voel ook Ou Duifie was reg van die begin af altyd onregverdig teenoor hulle.
“Onthou julle nog,” sê Gert wat langs Galpil sit, “daardie eerste week toe sy hier gekom het, toe Galpil my net gevra het of hy my liniaal kan leen? Onthou julle, hè?”
Die kinders onthou dit. Juffrou Nortjé het haar vererg toe die klas sit en praat in plaas van werk en toe het sy gesê hulle moet dadelik stilbly. Hulle het so gemaak, want hulle het geskrik – maar toe sien Ou Duifie Galpil met Gert praat. Sy het geweier om te luister na sy verskoning dat hy net ’n liniaal wou leen en hom kantoor toe gestuur.
Die skoolhoof was daardie dag in ’n moeilike bui en wou ook nie na Galpil se storie luister nie. Hy het sommer summier vir die seun twee middae detensie gegee. Galpil was woedend en het dit nog nooit vergeet nie.
“Ou Duifie was verward omdat ons nie na haar wou luister nie,” sê Saartjie. “’n Mens kan haar nie kwalik neem dat sy Galpil sommer kantoor toe gestuur het nie. Onthou, dit was haar eerste week as ’n onderwyser. En onthou ook: sy het niemand daarna weer kantoor toe gestuur nie.”
“Sy het nog nooit die kans gehad nie,” brom Galpil. Hy het die hele tyd terwyl hulle gepraat het oor die detensie wat hy gekry het sy bes gedoen om soos ’n engeltjie te lyk.
“Sy het al baie die kans gehad!” snou Saartjie hom toe. “Ons gedra ons altyd soos barbare in haar klas.”
Die kinders voel nou effens ongemaklik. Dit is waar wat Saartjie sê. Hulle gedra hulle baie sleg in Ou Duifie se klas. Sy is onseker en saggeaard en hulle maak misbruik daarvan. Hulle geniet haar klasse die meeste omdat hulle dan die minimum werk doen. Hulle weet sy sukkel om hulle te dissiplineer, daarom skop hulle altyd so ’n groot bohaai op.
Saartjie praat nou ernstig met haar klasmaats. Sy voel hulle is almal op die verkeerde pad deur Ou Duifie se lewe so te versuur. Sy voel dit is onregverdig en glad nie mooi van hulle nie.
“Onthou wat ons netnou in die Engelse boek gelees het,” gaan Saartjie prekerig verder. “‘It’s nice to be nice.’ En ons is glad nie nice met haar nie.”
Baie van die leerders dink Saartjie is reg en hulle voel nogal skuldig. Ander dink weer – soos Galpil nou ook staan en brom – sy praat sommer nonsens.
“Dis miskien wat jy dink,” sê Saartjie bitsig vir Galpil. “Maar ek sê jou, ek speel nie meer saam nie. Ek gaan probeer om te vergoed en Ou Duifie so veel as moontlik te help.”
“Hoe? Deur nice te wees?” vra Galpil smalend.
“Ja!” sê Saartjie uitdagend en kyk hom vasberade aan.
“Wel, dit maak nie saak nie,” sê Galpil. “Een verraaier kan nie die hele storie bederf nie. Ons gaan aan hiermee. Ons sal Ou Duifie wys!”
Galpil lig ’n gebalde vuis om te wys hoe hulle haar gaan wys. ’n Hele klomp seuns (veral sy boesemvriende) skree ook dat hulle die arme Ou Duifie sal wys. Hul vuiste is hoog in die lug.
“Dit het goed gewerk om net te sê: ‘Ek weet nie, Juffrou’,” kondig Galpil nou aan. “Maar ons gaan die aanval nou versterk.”
“Hoe?” skree sy trawante.
“Wag, pêrre!” Galpil hou sy hand in die lug vir stilte. “Ek sal julle nou sê. Luister mooi.”
Almal sit regop en spits hul ore.
Galpil herinner die klas daaraan dat Ou Duifie gesê het hulle moet liewer glad nie meer praat nie. Dit is volgens haar mos beter om niks te sê nie, eerder as om net aanhoudend te sê: “Ek weet nie, Juffrou.”
“So dis wat ons nou gaan doen, pêrre,” sê Galpil hard. “As sy ons ’n vraag vra, sê ons net niks. Ons antwoord glad nie! Wat dink julle daarvan?” Galpil glimlag breed. Hy is hoog in sy skik.
Sy vriende dink dit is ’n wonderlike plan en almal skree dit gelyktydig uit.
Die meeste van die seuns is geesdriftig om met die veldtog aan te gaan – en meer nog, om dit ook nog te versterk. Die meisies is egter nie so seker nie. Hulle kyk almal na Saartjie. Haar woorde het hulle nogal diep geraak.
Saartjie besluit om die leiding te neem. Sy gaan nie toelaat dat hierdie spul barbare arme juffrou Nortjé se lewe hier by die skool so onaangenaam maak nie. Sy byt op haar onderlip en vee dan met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg.
Saartjie lig haar hand vir stilte, maar die seuns lawaai en vertel vir mekaar hoeveel pret hulle gaan hê as Ou Duifie hulle iets vra en almal sit net doodstil en antwoord nie. Hulle wonder of sy miskien in trane sal uitbars. Ja-nee, hulle gaan vet pret hê.
“Sal julle nou stilbly!” sê Saartjie hard met haar hand nog steeds in die lug.
Die klomp kom uiteindelik tot bedaring.
“Ons soek nie weer ’n preek nie, Saartjie!” skree Gert van agter uit die klas. Die seuns klap hande vir hom en lag spottend.
“Julle gaan nie ’n preek kry nie,” sê Saartjie kil. “Julle gaan die waarheid hoor!”
En toe vertel sy hulle kaalkop die waarheid.
“Julle is ’n spul lafaards,” sê Saartjie kil.
“Julle trek ’n saggeaarde jong juffrou se siel uit, maar julle is te bang om dit met een van die ander onderwysers te probeer doen. Julle is papbroeke!”
Saartjie sê die woord “papbroeke” so skerp en bytend dat meer as een seun effens terugdeins.
Sy het duidelik nou almal in die klas se aandag. Hulle sit doodstil.
“Hoekom is julle sulke lae, gemene lafaards?” Haar oë blits weer soos vroeër. “Hoekom weier julle nie om te antwoord as iemand soos meneer Burger vir julle iets vra nie? Omdat julle te bang is! Maar met ’n arme juffrou wat nog onseker is omdat sy nou net van die kollege af kom, hou julle ouens julle kastig grootmeneer, nè?”
Die seuns is tjoepstil, en die meisies ook. Saartjie sê hulle darem nou lelik sleg.
“Julle is pateties!” sluit Saartjie smalend af.
Galpil waag dit ná ’n oomblik van stilte om haar te antwoord.
“Jissou, Saartjie, jy’s darem ’n verkeerde entjie mens!” sê hy ewe gemoedelik. “Dis nie nodig om so goor met Ou Grompot te wees nie. Hy’t ons mos niks gedoen nie.”
“Al het hy ook iets gedoen soos om julle kamtig onregverdig te straf, sou julle nog steeds niks aan hom gedoen het nie,” kap Saartjie terug, “want julle is te bang!”
Galpil begin hom vererg.
“Ons is nie bang nie!”
“Julle is!”
“Ons is nie!”
Die twee skree nou hard op mekaar: “Julle is!” en “Ons is nie!” Dit is asof hulle dink die een wat die hardste gil, gaan die argument wen.
Lina bring hulle tot bedaring toe sy opspring en hard sê: “Bly stil! Wil julle hê die onnies moet almal uit die personeelkamer kom om te kyk wat aangaan?”
Saartjie en Galpil is stil. Hulle staan mekaar woes en aangluur.
Dit is duidelik dat die seuns Ou Duifie nog wil aanhou tart en dat die meisies nou vir Saartjie ondersteun. Hulle voel ook die seuns is sommer lafaards – dit is hoekom hulle op Ou Duifie pik en nie op een van die ander onderwysers nie, veral nie die mans nie.
“Saartjie is heeltemal reg,” sê Anna. “Dis ’n skande dat ons Ou Duifie so sleg behandel het!”
Die meisies beaam dit almal luidkeels, maar Galpil bulder bo-oor almal dat Ou Duifie hierdie straf verdien. Sy het hom en hulle almal verniet in die moeilikheid laat beland. Die seuns stem saam met Galpil. Hulle skree dat hulle Ou Duifie moet wys en haar ’n les moet leer.
Saartjie kan sien dit help nie om so te argumenteer nie. Hulle sal die seuns nie op hierdie manier oorreed nie. Sy sal later met Galpil gesels en sien of sy hom kan ompraat. As hy besluit hulle moet ophou om Ou Duifie so te tart, sal die ander seuns ook so besluit. Galpil is mos sterk en kan goed baklei.
“Is ek reg as ek sê ons gaan nie meer moeilikheid maak in Ou Duifie se klasse nie?” vra Saartjie nou net om weer seker te maak wat die algemene gevoel is.
“Nee!” skree die seuns. Galpil gil die hardste. Hy voeg ook by: “Jy is nie reg nie!”
Die meisies skree weer almal: “Ja, Saartjie is reg!” Haar boesemvriendinne Anna en Lina gil die hardste.
En dit is dan hoe die vergadering – as ’n mens dit so kan noem – ten einde loop. Die seuns gaan met die versetveldtog aanhou en die meisies nie.
Galpil is vies, want nou gaan sy plan natuurlik glad nie meer so goed werk nie. Hy besluit hy sal met Saartjie gesels en haar probeer oortuig sy is verkeerd om Ou Duifie te wil help. Die juffrou is self vir al die lawaai in die klas verantwoordelik. Dis mos sy wat nie dissipline kan handhaaf nie!
Toe die kinders by die klaskamer uit speelterrein toe stroom, wonder die graadneges wat die volgende periode gaan gebeur. Hulle is dan weer by juffrou Nortjé. Die seuns gaan stilbly en weier om enige vrae te beantwoord en die meisies gaan die juffrou se vrae beantwoord en vriendelik met haar wees.
Dit gaan ’n baie interessante periode wees.