Читать книгу Saartjie Omnibus 7 - Bettie Naudé - Страница 8
2
ОглавлениеDie nuwe intrekkers
Die Baumanns se dubbelverdiepinghuis staan teen die hange van ’n koppie. Saartjie se kamer is op die boonste verdieping. Party aande as sy by die venster uitkyk en die lug is nie bewolk nie, kan sy Johannesburg se liggies duidelik in die verte sien. Dit lyk soos vuurvliegies op ’n donker fluweellap.
Vanmiddag sit Saartjie by die venster en werk. Sy het eers haar gewone huiswerk gedoen en is nou besig met die strafwerk vir meneer Burger. Sy sug swaar. Sy voel ook dit is onregverdig, maar sy neem darem nie soos meeste van die ander kinders vir juffrou Nortjé kwalik nie. Dit is ook nie regverdig nie.
Volgens Saartjie is meneer Burger die eintlike skuldige. Hy moes hulle nie gestraf het nie, want hulle kon nie help dat hulle laat was vir sy klas nie. Juffrou Nortjé het hulle mos in haar klas gehou.
Nietemin, dink Saartjie, sy gaan netnou klaar wees met die strafwerk. En dit sal nogal pret wees om Ou Duifie se reaksie te sien as almal net aanhoudend vir haar sê: “Jammer, Juffrou, ek weet nie.”
Saartjie is hard aan die konsentreer toe sy haar boetie by die trap hoor opkom. Sy kamer is net langsaan hare.
Apie is ’n astrante negejarige outjie. Sy twee voortande skitter in hul afwesigheid. Toe hy hulle verloor het, het hy gesê hy het uit ’n boom geval. Dit was sy storie, en niks kon hom daarvan laat afsien nie. Die feit dat hy ook ’n yslike blouoog gehad het, het sy ma, pa, sy broer Kris en Saartjie egter laat dink hy het met iemand baklei. Maar hy het volgehou dat hy uit ’n boom geval het. Hy weet nie hoe hy die blouoog gekry het nie.
Toe Apie verby Saartjie se kamerdeur stap, skree hy: “Haai, is jy daar?”
“Ja,” sê sy en sug effens. Sy wonder wat hy wil hê.
“Kan ek inkom?”
“Ek doen huiswerk.”
“Ek sal nie lank bly nie,” sê haar boetie en maak ’n paar sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande was.
“Nou kom dan in,” sê Saartjie vies.
Apie maak die deur verder oop en kom sit op haar bed. Hy speel met die punt van sy tong in die opening tussen sy voortande.
“Weet jy wat?” vra hy voor sy suster hom kan vra wat hy wil hê.
Nee, skud Saartjie net haar kop. Sy weet nie wat nie.
“Wil jy graag weet?” vra hy.
Saartjie wonder wat hy haar wil vertel. Sy glo nie dit is juis belangrik nie.
“Ek gee nie om nie,” sê sy. “As jy wil vertel, kan jy. As jy nie wil nie, maak dit nie saak nie.”
Apie wil duidelik graag vertel.
“Nou luister, dan sê ek jou,” sê hy.
“Ek luister mos,” sê sy.
Voor hy begin vertel, wikkel hy sy tongpunt eers ’n paar keer in en uit by die opening waar sy twee voortande vroeër was. Dan sê hy: “Jy ken mos die huis waar oom Piet en tannie Anna gebly het?”
“Ja, die plek staan nou leeg.”
“Dis wat jy dink!”
“Het daar mense ingetrek?” vra Saartjie wat skielik belangstel.
“Ja, dis wat ek jou wou gesê het!”
“Wie is hulle?” wil Saartjie dadelik weet. “Is daar kinders?”
“Net een meisie,” sê Apie. “Sy loop mank.”
“Hoe groot is sy?”
“Net so.” Apie wys met sy hande. Dit is iemand wat jonger en kleiner as hy is.
“Sy’s omtrent so oud soos Muggie,” verduidelik hy nou verder.
Muggie is Anna se sesjarige sussie. Sy is ’n koddige skepseltjie wat vir die Drie Muskiete baie moeilikheid gee. Hulle moet haar altyd saamvat, waar hulle ook al gaan. As hulle dit nie doen nie, sit sy so ’n keel op dat hul oortromme omtrent bars. Dan gee hulle vinnig vir die kleintjie haar sin sodat sy moet ophou kerm en skree. Hulle is seker, soos Saartjie al meer as een keer gesê het, Muggie het ’n blikkeel.
Saartjie stel nou nie juis meer belang in die nuwe mense wat Lynnekom toe getrek het nie. Daar is niemand van haar ouderdom nie.
“Ek het baie werk,” sê sy vir Apie en trek haar boeke nader. Sy het nie tyd of lus om met hom te sit en ginnegaap nie. Hy het haar mos nou al die nuus vertel.
Apie antwoord nie. Hy bly net sit. Hy maak weer ’n paar suisgeluide deur die opening voor tussen sy tande. Hy sit nou by die venster en uitkyk.
Saartjie doen huiswerk. Sy ignoreer haar boetie. Hy gee blykbaar nie om nie. Hy sit mos sommer net.
Skielik sê Apie: “Daar’s die nuwe meisie nou.” Hy wys met ’n vuil vinger deur die venster na Lynnekom se hoofstraat.
Saartjie kyk ook deur die venster. Sy wil mos sien hoe die nuwe meisie lyk.
Op die sypaadjie sien sy Anna en haar sussie, en by hulle is ’n meisie wat omtrent so oud soos Muggie is. Apie is reg – sy loop mank. Dit lyk vir Saartjie of haar een been dunner as die ander een is. Sy wonder wat met die arme meisie gebeur het dat sy kreupel is.
Anna-hulle bly reg langsaan die Baumanns. Saartjie sien hoe Anna, Muggie en die nuwe meisie by die hekkie indraai en met die tuinpaadjie op na die huis toe stap. Muggie en die nuwe meisie gesels kliphard. Anna sê niks nie. Dit lyk vir Saartjie of die twee kleintjies haar nie juis ’n kans gee om iets te sê nie.
“Sy loop snaaks, nè?” sê Apie toe die drie meisies by die bure se huis ingaan.
“Ja, sy was seker in ’n ongeluk, of iets,” sê Saartjie.
Saartjie gaan weer met die strafwerk aan. Hoe gouer sy dit klaarmaak, hoe gouer kan sy ’n bietjie by Anna gaan gesels. Sy wil alles oor die nuwe mense uitvind.
Saartjie vorder egter nie nou meer so goed met die algebra nie, want sy moet haar oë op twee plekke gelyktydig hou. Sy moet na die boek voor haar kyk en sy moet Apie ook dophou. Haar boetie loop nou in die kamer rond en kyk belangstellend na haar boekrak en die foto’s van tennis- en netbalspanne teen die een muur. Saartjie hou hom dop, want sy is bang hy sal iets wat hier in haar kamer rondlê in sy sak prop, en dan sien sy dit mos nooit weer nie.
Apie staan nou voor ’n netbalfoto en kyk belangstellend daarna. Die foto hang bokant ’n kas met ’n klomp laaie. Die boonste laai is oop. Saartjie bêre gewoonlik allerhande rommel daarin. Sy hoef nie nou haar kop te draai om Apie te sien nie. Sy kan hom duidelik in die kas se groot spieël sien.
Saartjie maak of sy werk, maar sy hou Apie dop.
Hy staar ’n rukkie na die netbalfoto, dan laat hy sy kop sak en kyk na die oop laai.
Saartjie weet sommer hy het nou iets gesien waarin hy belangstel. Hy loer oor sy skouer na sy suster. Sy maak asof sy werk, maar hou hom dop.
Dan lig Apie sy hand op en steek dit vinnig by die oop laai in. Toe sy hand weer te voorskyn kom, sien Saartjie hy hou ’n tennisbal vas. Dit is ’n bal wat sy in die laai gebêre het.
Apie loer weer vlugtig na haar, maar kom nie agter dat sy hom in die spieël dophou nie. Hy prop die tennisbal nou vinnig voor by sy hemp in en maak dan vir ’n paar oomblikke weer asof hy in die netbalfoto belangstel.
Uiteindelik sê Apie: “O wel, ek het ook baie werk, jy weet,” en beweeg na die deur toe.
Saartjie glimlag effens. Net toe hy by die deur kom, draai sy om en sê hard: “Haai!”
Apie swaai om.
“Hè?”
“Ek sê haai.”
“Haai wat?”
Apie kyk na haar. Hy hoop maar net sy sien nie die ronding van die tennisbal wat nou teen sy maag lê nie.
“Kom hier,” sê Saartjie en wink hom met haar hand nader.
“Wat wil jy hê?” brom hy. “Ek het ook baie huiswerk, jy weet.”
Hy stap nogtans nader. As hy nou sommer net omswaai en vir die vale weghardloop, sal sy mos agterdogtig word.
Apie staan voor sy suster. Hy vou sy arms en laat rus hulle op die bal om dit weg te steek.
“Wat het jy daar uit my laai gegryp?” vra Saartjie reguit.
Apie lyk baie verbaas. Het sy dan oë agter in haar kop?
“Waarvan praat jy?” vra hy. Om vir haar te wys hy het niks gedoen nie en is heeltemal onskuldig en ook nie bang nie, maak hy nou suisgeluide deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.
Saartjie sê net kil: “Ek vra jou ’n eenvoudige vraag. Wat het jy daar uit my laai gevat?”
Apie kan die affêre glad nie verstaan nie. Hoe op aarde kon sy hom gesien het? Maar sy moes, want sy ruik duidelik lont.
“Hoe weet jy ek het iets gevat?” vra Apie.
“Ek het gesien hoe jy dit doen.”
“Hoe kon jy my gesien het? Jy’t mos nie oë agter in jou kop nie.”
“Dis wat jy dink.”
“Jy bedoel jy het?”
“Natuurlik het ek.” Daar is ’n glimlag om Saartjie se mond.
Vir ’n oomblik glo Apie haar amper. Sy oë is groot. Hy wens Saartjie wil haar kop draai sodat hy kan kyk of daar oë agter in haar kop is. Dan besef hy hoe belaglik dit is. Hy gee ’n verleë laggie en sê: “Jy dink seker jy’s snaaks, nè?”
“Nee,” sê Saartjie en hou haar hand voor haar uit. “Gee terug wat jy daar uit my laai gehaal het.”
Apie aarsel nog. Hy wonder of hy die ou tennisbal maar moet teruggee – of sal hy ontken dat hy dit gevat het? Hy wonder hoe de joos sy kan weet hy het iets uit die laai gehaal.
“Sê nou maar net ek het iets gevat,” sê hy en kyk half vermakerig na haar. “Weet jy wat dit is?”
“Natuurlik weet ek.”
“Nou wat is dit?”
“’n Tennisbal.”
Apie se oë rek groot. Hoe op aarde kon sy hom gesien het? Sy weet sowaar van alles! Hy besluit om die bal maar vir haar te gee. Dit help nie hy ontken hy het dit nie.
Hy druk sy hand voor by sy hemp in en haal die tennisbal vinnig uit.
“Dè!” sê hy. “Vat die ou ding.”
Saartjie sit die bal by haar boeke op die tafel neer.
“Jy sit nie weer jou hande in my laai nie, verstaan?” sê sy en voeg dan by: “Toe nou, weg is jy. Kan jy nie sien ek is besig nie?”
Apie draai om. Hy sal maar loop. Hier is tog niks om te doen nie. En as hier iets te doen is, dan sien Saartjie dit!
Hy draai om en so met die draaibeweging sien hy homself in die groot spieël in die hoek van die kamer. Nou verstaan hy. Saartjie het hom natuurlik in die spieël gesien!
“Jy dink seker jy’s snaaks, nè!” sê hy vies vir haar. Sy tongpunt wip in en uit by die opening waar die twee voortande vroeër was en hy maak vir die soveelste keer sisgeluide daardeur.
Saartjie kyk om na Apie. Hy lyk baie omgekrap. Hy wikkel sy sproetneus nou ook op en af om haar goed te laat verstaan hoe kwaad hy is.
“Hoekom dink ek miskien ek’s snaaks?” vra sy.
“Omdat jy sê jy’t oë agter in jou kop – en jy’t my heeltyd in die spieël gesien! Jy dink seker ek’s ’n pampoen, nè?”
“Ek dink dit nie.”
“Hè?”
“Ek weet dit.”
“Weet wat?”
“Dat jy ’n pampoen is,” sê Saartjie saaklik.
Apie lyk tog te snaaks met sy tongpunt wat so in- en uitwip by die opening in sy ry voortande en sy sproetneus wat so op en af wikkel. Hierdie gebare moet wys hoe woedend hy is en dit moet Saartjie groot laat skrik, maar sy lag net.
Apie wil haar graag op haar plek sit. Hy wonder wat hy kan doen. Sy dreigemente en gesigtrekkery help blykbaar nie. Sy suster lag hom net uit.
Omdat hy nie weet wat om te doen nie, probeer hy nou geheimsinnig lyk en brom: “Toemaar, jy sal sien.”
“Wat sal ek sien?” vra Saartjie laggend.
“Jy sal sien wat jy sal sien,” mompel Apie en wikkel sy sproetneus weer vinnig op en af.
Dan swaai hy om en stap vinnig by die kamer uit. Hy dink hy het haar nou darem ’n bietjie skrikgemaak. Sy gaan lank sit en wonder en bang wees oor wat dit is wat sy sal sien.
Apie se dreigement het natuurlik geen uitwerking op Saartjie nie. Sy skrik nie vir hom nie.
Saartjie werk nog ’n rukkie en dan is sy klaar. Sy besluit om vir Anna te gaan kuier.
Saartjie trek haar skoolklere uit en dra nou ’n kniebroek. Daar is ’n rooi kep op haar donker kortgeknipte krulhare. Sy loop haastig by die huis uit.
By die voorhekkie gaan staan Saartjie ’n oomblik stil. Aan albei kante van die hekkie is die sypaadjie vir ’n hele ent met betonblokke geplavei. Tussen die vierkante is daar stroke sement.
Toe die munisipaliteit hierdie deel van die sypaadjie ’n paar jaar gelede so geplavei het, het Saartjie besluit sy gaan nooit op die beton loop nie. Nee, sy sal altyd spring – van die een blok na die ander – en as haar voet aan die sement tussen die betonblokke raak, sal sy weer van voor af begin.
Saartjie is die afgelope paar maande vies vir haarself oor hierdie onsinnige besluit, maar daar is niks wat sy nou daaraan kan doen nie. Sy moet spring en klaarkry. Sy weet nie hoekom nie, maar sy voel as sy ophou spring en sy verbreek die belofte wat sy aan haarself gemaak het, sal daar iets vreesliks met haar gebeur.
Saartjie sug. Sy besluit sy sal op haar verjaarsdag ernstig oor hierdie simpel besigheid moet nadink en besluit of sy nie maar met die springery kan ophou nie. Sy is dan mos al vyftien en dit is mos nie mooi vir ’n dame om altyd so van die een betonblok na die ander te wip nie. Hoe sal dit lyk as sy eendag dertig of veertig jaar oud is en nog steeds so van die een na die ander moet wip? Nee wat, haar verjaarsdag is miskien ’n goeie dag om daarmee op te hou.
Maar dit is nog nie haar verjaarsdag nie, dink Saartjie. Sy sal nou maar moet begin spring.
Saartjie wip van die een betonblok na die ander. Sy spring vinnig en sekuur. Sy sorg dat sy elke slag in die middel van ’n blok te lande kom – ver van die gleuwe af. Sy wil tog nie aan ’n sementstrook raak en dan weer van voor af moet begin nie.
Sonder om aan ’n enkele gleuf te raak, spring Saartjie van die een blok na die ander tot waar die plaveisel eindig. Dan hardloop sy na Anna se huis toe.
Toe Saartjie by die hekkie kom, sien sy Anna in die somerhuisie in die tuin. Muggie en die nuwe meisie is by haar.
“Haai, julle!” groet Saartjie en stap nader.
“Haai jouself,” groet Anna op die tipiese Lynnekomse manier terug.
Muggie sê ook hallo. Sy het ’n wakker gesiggie en is intelligent – soms te intelligent, voel Saartjie-hulle. Sy is ’n laspos wat altyd onnodige vrae vra en gedurig by hulle wil wees. Saartjie hoop maar net Muggie sal hulle nie meer so lastig val noudat sy ’n maatjie het nie.
Saartjie kyk nou na die nuwe meisietjie.
“En wie is jy?” vra sy glimlaggend.
“Ek is Clara – Clara Eksteen.”
Saartjie kyk na die kreupel meisie. Sy het ’n baie vriendelike gesiggie en wakker bruin ogies. Haar een been is korter en dunner as die ander een. Sy is omtrent Muggie se ouderdom.
“Ons is maats,” sê Muggie nou.
“Dis mooi, Muggie,” sê Saartjie en kom sit op die tuinbankie langs Anna.
Muggie en Clara sit elkeen op ’n stoel reg voor Saartjie en Anna. Muggie hou haar pop Trienkie op haar skoot vas. Die pop kyk ook reguit na Saartjie en Anna.
Die twee ouer meisies voel half ongemaklik. Die kleintjies en die pop sit hulle doodstil en reguit en aankyk.
“Wat’s dit met julle?” vra Saartjie. “Hoekom gaan speel julle nie?”
“Ons is nie lus vir speel nie,” sê Muggie.
Clara knik haar kop op en af om te wys sy stem saam met Muggie. Hulle is nie lus vir speel nie.
Saartjie en Anna kyk na mekaar. Dieselfde gedagte is in albei se oë te lees: Muggie het ’n goeie maat gekry. Dit lyk of Clara net so ’n laspos soos sy gaan wees.
“Weet jy waar bly ek?” vra Clara nou ewe gesellig vir Saartjie.
“Ja,” mompel die rabbedoe. “In die huis langs die pastorie.”
“Dis reg. My pa werk by die stasie. My ma is by die huis en kyk na Dirkie, en my suster is op skool in Bloemfontein. Dis ons gesin.”
“So?” sê Saartjie net. Hierdie meisie kan vir jou gesels, hoor!
“Ons is arm, want my pa word nie baie betaal nie en al die kere wat ek hospitaal toe is, het hom vreeslik baie geld gekos. Maar my suster Carolina gaan eendag baie geld maak, want sy speel wonderlik klavier, want sy is ’n … kuns- … ’n kunsdinges …”
“’n Kunstenaar?” help Saartjie.
“Ja, dis wat sy is – ’n kunstenaar. Sy het al honderde bekers en goed gewen omdat sy so mooi klavier speel.”
Saartjie en Anna kyk glimlaggend na mekaar. Die meisie gesels so aanhoudend dat sy vinnig al haar gesin se geheime gaan uitlap.
“Hoe oud is Carolina?” vra Anna.
“Sy’s al oud,” sê Clara. “Vyftien.”
Saartjie glimlag net droogweg. Sy is self ook binnekort vyftien. Dis mos glad nie oud nie!
Clara vertel nou hulle kom van Bloemfontein af en dat haar ouers Carolina daar in die koshuis laat bly het omdat sy so uitstekend met haar klavierlesse vorder.
“Jou suster is nie die enigste een wat goed klavier speel nie,” sê Muggie skielik. “Saartjie het ook al honderde bekers en goed daarmee gewen.”
“Nie so baie soos my suster nie,” sê Clara en haar gesiggie straal toe sy byvoeg: “Carolina is wonderlik.”
Muggie wil nou weet presies hoeveel bekers Saartjie al gewen het.
“Ek weet nie,” sê Saartjie laggend. “Maar dit is nogal baie.”
Die twee kleintjies begin nou stry nou oor wie die beste kan klavier speel – Saartjie of Clara se suster Carolina.
“Toemaar,” sê Muggie uiteindelik, “ons sal sien. Wanneer jou suster kom kuier, kan Saartjie en sy teen mekaar speel en dan sal ons sien wie wen.”
“Ja, ons sal sien,” sê Clara en voeg sag by: “Maar my suster sal wen. Sy is die beste klavierspeler in die hele wêreld.”
Clara het duidelik ’n baie hoë dunk van haar suster. Sy vertel nou sy het polio gehad en was maande lank in die hospitaal. Toe sy uitkom, moes haar been gemasseer word sodat sy nie so erg kreupel loop nie en Carolina het dit elke dag gedoen.
“En kyk net hoe goed het my suster dit gedoen,” sê die spraaksame dogtertjie. “Vandag lyk my been glad nie te sleg nie, nè?”
Clara wys na die dun gekrimpte beentjie wat ook korter as die ander een is. Sy sal nooit in haar lewe kan hardloop of aan sport deelneem nie.
Daar is simpatie in die Lynnekom-meisies se oë. Saartjie sê vinnig: “Nee, dit lyk glad nie sleg nie. ’n Mens kom dit amper nie eens agter nie.”
Clara se gesiggie straal.
“Die dokters het eers gesê ek sal nooit weer kan loop nie,” sê sy, “maar toe het Carolina my begin masseer. Sy’t my been maande lank elke dag gemasseer en vandag loop ek amper nie eers meer kreupel nie.”
Sy stap ’n entjie weg om vir die Lynnekommers te wys hoe goed sy loop. Saartjie-hulle kry die mank figuurtjie bitter jammer. Sy is heeltemal mank en dit lyk of sy gedurig na die een kant toe wil oorval.
“Hoe’s daai?” vra Clara laggend oor haar skouer toe sy ’n entjie van hulle af is.
“Wonderlik!” sê Saartjie vinnig en sluk hard om ontslae te raak van die knop in haar keel.
“Dis hoe baie my suster my gehelp het,” sê die meisietjie en kom sukkelend weer terug.
“Kom ek gaan wys jou my speelgoed,” sê Muggie.
Clara lyk opgewonde. Sy loop mank-mank saam met Muggie na die huis toe en sê oor haar skouer: “Baai, julle.”
Saartjie en Anna kyk glimlaggend na die twee kleintjies wat so lekker loop en gesels.
“Nou ken ons seker al haar gesin se geheime,” sê Anna.
“Ja,” sê Saartjie en glimlag. “Ek hou daarvan dat Clara haar suster so bewonder. Dis mooi.”
“Maar ek wed jou sy kan nie beter as jy klavier speel nie,” sê Anna.
“Mens weet nooit.” Saartjie trek haar skouers op.
Anna vertel nou dat haar ma Clara se ma jare gelede in Bloemfontein geken het. Sy het vir haar en Muggie gesê om die meisie te gaan haal sodat sy by Muggie kan kom speel. Mevrou Strydom het ook vertel dat die nuwe gesin maar swaarkry.
Die twee meisies gesels nou oor die les wat die graadneges juffrou Nortjé gaan leer. Hulle dink dit gaan skreeusnaaks wees as Ou Duifie vir hulle vrae vra en elkeen wat moet antwoord, sê net: “Ek weet nie.” Hulle wonder hoe lank dit gaan neem voor die onderwyseres uitvind hulle antwoord met opset so.
“Jy weet, Anna,” sê Saartjie peinsend en druk met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg, “dit voel vir my effens gemeen om so iets te doen.”
“Aag wat,” sê Anna ongeërg, “sy het vir moeilikheid gesoek. Dis deur haar dat ons so verniet gestraf is.”
“Ja, maar Ou Grompot het ons gestraf,” verdedig Saartjie, “nie Ou Duifie nie.”
“Maar dis haar skuld dat ons laat by Ou Grompot se klas aangekom het,” sê Anna.
Saartjie sê sugtend dat dit wel so is, maar sy hoop net hulle gaan nie nou in nog groter moeilikheid beland nie.
“Agge nee wat, ons sal nie,” sê Anna. “En dit gaan vet pret wees.”
Dit is wat Saartjie ook vroeër gedink het. Dit gaan beslis groot pret wees. Maar sy kry die jong en onervare onderwyseressie nogtans effens jammer.
Die volgende oggend is die meeste graadneges al vroeg op. Hulle sien uit na die skooldag. Hulle gaan mos baie pret in juffrou Nortjé se klas hê.
Saartjie het die beroemde Hoërskool Saamwerk se uniform aan. Dit is ’n blou rok met ’n blou baret. Die baret sit effens skeef op haar donker krulhare. Sy trek vandag ook haar kleurbaadjie aan. Haar gewete pla haar nie meer nie. Sy kan nie wag vir die pret in juffrou Nortjé se klas nie.
Die Lynnekommers wat leerders by Hoërskool Saamwerk is, ry per bus in stad toe.
Saartjie ontmoet Anna en Lina op die straathoek naby die Baumanns se huis.
“Haai!” roep sy opgewek.
“Haai jouself!” groet die twee oudergewoonte terug.
Die Drie Muskiete stap geselsend na die bushalte toe.
Galpil, Gert en Piet loop ’n entjie voor die meisies. Die drie seuns het ’n leë konfytblik iewers sien lê en hulle loop en skop dit nou al met die sypaadjie langs.
“Vandag is die dag!” sê Lina laggend. “Vandag neem ons wraak!”
“Jy klink bloeddorstig,” sê Saartjie.
“Ek is,” sê Lina. “Ek het tot tienuur gisteraand gesit om daardie algebra vir Ou Grompot klaar te kry.”
Anna sê nou die strafwerk het haar ook ure lank besig gehou. Sy wil ook wraak neem.
In die bus verduidelik Galpil weer vir die graadneges presies hoe hulle te werk moet gaan.
“Ons pêrre sit doodstil in die klas en let mooi op,” sê hy. “Ons is vriendelik en gehoorsaam, maar elke slag as sy jou iets vra, sê jy net: ‘Ek is jammer, ek weet nie.’ Ons sal haar wys. Ek het laas nag niks geslaap nie.” Hy gee ’n paar groot gape om hierdie laaste stelling te onderstreep.
“Hoekom het jy nie geslaap nie?” vra Saartjie. Sy wonder of sy gewete hom miskien pla omdat hy die plan uitgedink het om juffrou Nortjé se lewe vandag so te versuur.
“Omdat ek die hele nag gesit het om Ou Grompot se strafwerk klaar te kry,” brom Galpil en gaap weer.
By die skool herhaal hy sy plan van aksie weer eens vir al die graadneges totdat hy seker is almal weet presies wat om te doen. Hulle kan nie wag om in Ou Duifie se klas te kom nie.
Toe die klok lui en die kinders in rye staan terwyl die skoolhoof ’n paar aankondigings maak, kyk Saartjie na die jong juffrou. Sy staan voor die kinders tussen die ander onderwysers agter die hoof.
Ou Duifie is maar skraal en tengerig. Sy dra ’n bril wat laag op die punt van haar neus sit. Saartjie kry haar jammer. Dit is haar eerste pos hierdie en sy is nog totaal onervare. Sy het nie die vaagste benul hoe om dissipline te handhaaf nie. Saartjie wonder wat sy vandag gaan doen en hoe sy die graadneges se verset gaan hanteer.
Die eerste periode op die rooster is Afrikaans. Die vakonderwyser is ’n kwaai oujongnooi, daarom gedra Saartjie en haar klasmaats hulle goed. Hulle werk fluks en waag dit nie om moeilikheid te soek nie.
Die volgende periode is aardrykskunde en dit is een van juffrou Nortjé se vakke. Toe die klok lui en die juffrou wat Latyn gee by die klaskamer uit is, begin die seuns lag en die meisies giggel. Ou Duifie is volgende en nou gaan die pret begin.
“Stil, pêrre!” sê Galpil. Hy staan voor die klas en hou sy hande in die lug. Toe hulle almal stil is, sê hy: “Onthou nou, ons gedra ons soos engeltjies. Ons maak g’n geraas nie. Maar as sy vir een van ons ’n vraag vra, dan antwoord die een net vriendelik dat hy of sy nie weet nie – en dis al. Ons sal haar vandag wys.”
Die kinders is hoog in hul noppies en knik laggend kop. Ja-nee, hulle gaan haar vandag ’n ding wys. Hulle het boonop baie tyd daarvoor, want juffrou Nortjé is vandag vir drie periodes by die graadneges!
Toe die kinders haar op die stoep hoor aangestap kom, wys hulle vir mekaar om stil te bly. Almal sit nou roerloos.
Terwyl juffrou Nortjé na die klas toe aanstap, wonder sy hoekom hulle nie vandag soos gewoonlik raas nie. Sy wonder of gister se straf toe sy hulle laat stilsit het totdat daar nie meer ’n enkele geluid in die klas was nie, miskien gehelp het. Sy hoop innig dit is die geval. Hierdie klas gee haar hoofbrekens. Sy kan eenvoudig nie beheer oor hulle kry nie. Die jong juffrou sug swaar. Sy wonder of sy nie in die verkeerde beroep is nie.
Toe sy by die klaskamer inkom, staan die kinders beleefd op. Hulle is tjoepstil. Daar is niks van die opsetlike geraas en gestamp van banke wat gewoonlik met die opstanery gepaard gaan nie.
“Goeiemôre,” sê Ou Duifie en glimlag vriendelik. Sy wil tog so graag met hierdie klas vriende maak.
“Môre, Juffrou,” antwoord die klas sedig. Nie een glimlag of klink besonder vriendelik nie. Hulle dink almal aan die strafwerk wat hulle vir meneer Burger moes doen – strafwerk wat hulle nie verdien het nie en waarvoor sy verantwoordelik was. Dit is in elk geval hoe hulle oor die saak voel.
“Sit,” sê die onderwyseres nou en glimlag nog steeds vriendelik.
Die leerders sit. Hulle doen dit ook op ’n buitengewone stil manier. Gewoonlik is daar ’n harde geklap van banke as hulle gaan sit.
“Mmm,” sê juffrou Nortjé tevrede. “Dit lyk mos of hier vanmôre stilte en vrede in die klas is. Dis mooi so – dis hoe dit hoort.”
Niemand antwoord hierop of glimlag eens nie. Hulle sit en kyk haar net met doodernstige gesigte aan.
“Soos julle weet,” begin die onderwyseres met die les, “het ons verlede week die kompas bespreek. Die meeste van julle was nog onseker van die rigtings – die verskil tussen noord, suid, wes en oos – en ek het dit toe verduidelik.”
Juffrou Nortjé kyk na die klas. Daar is ’n effense frons op haar voorkop. Dit is vreemd dat hulle so stil en sedig sit. Gewoonlik is daar so ’n lawaai in die klas dat sy feitlik nie haar eie stem kan hoor nie. Verder sou die leerders teen hierdie tyd feitlik almal opgespring en vir haar gesê het hulle verstaan nie mooi nie en dat sy weer moet verduidelik. Hulle haal mos altyd streke uit sodat hulle nie hoef te werk nie.
Vandag is hulle egter doodstil. Ou Duifie wonder wat aan die gang is. Kon die feit dat sy hulle gister eers doodstil laat sit het voor sy hulle na die volgende klas laat gaan het, sowaar so ’n goeie uitwerking op hulle gehad het? Dit moet seker so wees. Juffrou Nortjé glimlag ingenome. Miskien is sy nie so ’n swak onderwyseres as wat sy gedink het nie.
“Ek dink ek het die vier windrigtings sorgvuldig genoeg verduidelik,” sê sy, “so julle behoort dit te verstaan. Ek gaan nou vir julle vrae daaroor vra.”
Die kinders kyk vlugtig na mekaar. Hulle glimlag nie. Hul oë glinster net ondeund – meer ondeund as gewoonlik. Nou gaan die pret begin.