Читать книгу Saartjie Omnibus 7 - Bettie Naudé - Страница 12
4
ОглавлениеGoedhartige Saartjie
Maar die periode is nie vol pret nie. Afgesien van die feit dat die kinders hard werk, gebeur daar absoluut niks nie.
Die seuns kan nie weier om vrae te beantwoord nie – al wil hulle ook hoe graag. Ou Duifie vra nie een enkele vraag nie. Sy skryf ’n paar oefeninge op die bord en sê hulle moet dadelik aan die werk spring.
Dit is besonder stil in die klas. Die meisies praat nie, want hulle het besluit om die onervare onderwyseres soveel moontlik te help en hulle in haar klasse te gedra. Die seuns praat ook nie. Hulle het mos besluit dit sal ’n goeie manier wees om die juffrou te tart. Hulle gaan ook nie antwoord as sy vir hulle ’n vraag vra nie.
Maar sy vra niks nie. Die seuns is teleurgesteld. Hulle kyk vies na mekaar.
Galpil is natuurlik die viesste van almal. Dit is vir hom ’n persoonlike saak. Ou Duifie het hom mos een keer verniet vir twee dae laat detensie kry!
Hy voel die onderwyseres wil hom uitoorlê deur nie vir die klas vrae te vra nie. Hy sit vies hieroor en nadink.
Galpil wonder nou of hy nie miskien ook moes voorgestel het dat hulle glad nie enige werk vir die juffrou doen nie. Maar, dink hy, dit sou miskien gevaarlik gewees het. Dan sou sy vir die hoof moes gaan sê het – en hy sou hulle dan sweerlik almal op detensie gesit het.
Nee, dink Galpil, hul kans sal nog kom wanneer Ou Duifie weer begin vrae vra. Dan sal hulle haar wys.
Die jong juffrou sit by die tafel en staar ingedagte voor haar uit. Al is hierdie lawaaierige klas vandag so stil, weet sy alles is nie pluis nie. Sy kan dit sommer aanvoel.
Juffrou Nortjé wens sy kan die graadneges se vertroue wen. Sy wonder hoekom hulle nie van haar hou nie. Sy is seker hulle het iets teen haar, anders sal hulle mos nie altyd so ’n bohaai in haar klas opskop nie. En vanoggend het hulle ’n nuwe streek gehad. Hulle het haar siel probeer uittrek deur aanhoudend net te sê: “Ek weet nie, Juffrou.”
Maar nou is die klomp so doodstil dat sy half ongemaklik voel. Die meisies lyk soet, so soet soos engeltjies. Die seuns lyk egter boos, al sit hulle ook doodstil en werk.
Die onderwyseres wonder wat sal gebeur as sy nou vir een van hulle ’n vraag moet vra. Sal die leerder vir haar sê: “Ek weet nie, Juffrou” en haar dan stom en onverskillig aankyk?
Ou Duifie besluit om liewer nie so ’n kans te vat nie. Sy sit nou weer soos so dikwels deesdae en wonder of sy die regte ding gedoen het om ’n onderwyser te word. Maar sy wou nog altyd, van sy klein was, so graag onderwys gee.
Juffrou Nortjé kyk na die klas. Haar oë rus ’n oomblik op Saartjie. Die rabbedoe voel dit aan en kyk op. Dan glimlag sy vriendelik. As Saartjie glimlag, glinster haar oë en daar verskyn twee bekoorlike kuiltjies in haar wange. Nou glimlag Ou Duifie onwillekeurig ook. Dit laat haar beter voel dat een van die meisies so vriendelik is – en dit nogal die een wat altyd ’n voorbok is as dit kom by moeilikheid maak in die klas.
Juffrou Nortjé begin moed skep. Sy sê vir haarself sy moet net aanhou en uithou. Eendag sal sy nog hierdie klas se vertroue wen.
Die periode loop sonder enige voorval ten einde. Toe die klok lui, sê Ou Duifie: “Julle het julle vandag so goed gedra dat ek nie vir julle gaan huiswerk gee nie.”
Die kinders is in hul skik. Galpil brom egter hulle het hulle net goed gedra omdat hulle nie kans gekry het om iets anders te doen nie. Hy sê ook vir sy twee boesemvriende Gert en Piet dit is glad nie so wonderlik van haar om nie vir hulle huiswerk te gee nie. Dit vergoed nog nie vir die strafwerk wat hulle gister verniet gekry het nie. Verder is sy natuurlik te lui om hul antwoorde na te sien – dis hoekom sy nie vir hulle huiswerk gee nie. Sy dink net aan haarself, nie aan hulle nie. Dit is in elk geval hoe Galpil redeneer.
Sy vriende steur hulle min aan sy redenasie. Hulle is maar net te bly Ou Duifie het nie vir hulle huiswerk gegee nie en om die waarheid te sê, is Galpil ook baie verlig.
Aan die einde van die skooldag, toe Lynnekom se leerders in die bus huis toe ry, vra Saartjie smalend vir Galpil wat net voor haar sit: “Hoekom was julle ouens ná pouse so stil in Ou Duifie se klas?”
“Sy’t nie vir ons vrae gevra nie,” antwoord Galpil vies.
“So val die helde!” sê Saartjie spottend.
“Probeer jy snaaks wees?”
“Ek probeer nie – ek is,” sê Saartjie glimlaggend.
Galpil het omgedraai toe sy met hom praat. Hy sien die mooi kuiltjies in Saartjie se wange en haar perfekte wit tande. Sy is darem vreeslik mooi, dink hy. Dis nou maar wors. Net jammer sy is so ’n verkeerde entjie mens.
“En wat gaan jy daaraan doen?” vra Saartjie en glimlag nog steeds vriendelik.
Galpil sit so aandagtig na haar en kyk en droom so oor hoe mooi sy is dat hy skoon vergeet wat hy vir haar gevra het of waaroor hulle praat.
“Hè?” vra hy nou bot.
“Ek sê ek is snaaks. So wat gaan jy daaraan doen?”
“Ek sê net jy moenie probeer om met mý snaaks te wees nie,” brom Galpil. “Dis al wat ek sê.”
“En as ek probeer – wat dan?”
“Wag maar net, jy sal sien.”
“O.”
Saartjie speel heerlik toneel. Sy kyk na Anna en Lina wat proes van die lag op die bankie langs haar en sê: “Ek is nou so bang dat ek nooit weer sal probeer om snaaks te wees nie. Die Groot Held van Papbroekland het mos gepraat.”
Anna en Lina skater nou soos hulle lag. Gert en Piet wat langs Galpil sit, kan ook nie hul lag inhou nie.
Galpil lyk bekaf. Hy kyk vies na Saartjie en sê: “Jy moenie my name en goed noem nie, hoor!”
“En as ek dit doen? Wat sal jy dan doen?” vra Saartjie vermakerig.
“Wag maar net,” antwoord hy dreigend, “jy sal sien.”
Saartjie kyk hom uitdagend aan. “Ek sê weer – jy’s die Groot Held van Papbroekland!”
Galpil gluur woes na haar. Hy weet self nie wat dit is wat sy sal sien nie. Sy is ’n meisiekind en hy kan mos nie aan ’n meisie slaan nie. As sy nou ’n seun was, dan het hy haar kesj lankal vir haar gegee en dan sou sy ’n ding gesien het – of liewer hý, want die sý sou dan mos ’n hý gewees het!
Maar Saartjie is ’n sy en nie ’n hy nie – en boonop nogal ’n pragtige sy met bekoorlike kuiltjies in haar wange as sy glimlag. Wat kan Galpil doen?
Hy brom nou maar net iets van meisiemense wat dink hulle is snaaks en aspris moeilikheid soek omdat hulle weet ’n man kan nie aan ’n meisie slaan nie.
Al mompel hy dit onderlangs, hoor Saartjie, Anna en Lina hom duidelik.
“Jy’s nie ’n man nie,” sê Saartjie smalend. “Jy’s ’n ou vrotvel!”
“Hè?” Galpil swaai weer om en gluur selfs nog woester as vroeër na haar. Hy bal sy vuiste onwillekeurig. Sy gaan nou sowaar te ver.
“Dis wat ek sê, ja,” herhaal Saartjie kil. “Jy’s ’n vrotvel van ’n papbroek omdat jy almal teen Ou Duifie opsteek. Sy’s net ’n arme, weerlose vrou – dis hoekom jy die moed het om dit te doen. Jy’s te bang om dit met een van die mansonderwysers te waag.”
Galpil wil weer verduidelik dat nie een van die ander mans- óf vroueonderwysers hom en hul klas al ooit so onregverdig soos juffrou Nortjé behandel het nie, maar dan bedink hy hom. Dit help tog nie om met Saartjie te stry nie.
Hy sê nou net vies: “Ek wil nie met jou praat nie, maar ek sê net vir jou een ding – ek en die ander ouens sal vir Ou Duifie ’n les leer! Sy gaan nog jammer wees sy’t by ons kom skoolhou!”
Dan draai Galpil sy kop en kyk weer voor hom. Saartjie kan nou maar te kere gaan en sê net wat sy wil. Hy weier om verder te luister.
Maar Saartjie bly stil. Sy besef dit sal nie help om Galpil verder uit te trap nie. Sy wil hê hy moet afsien van die plan om Ou Duifie se lewe so te versuur – en hy sal dit beslis nie doen as sy aanhou om hom sleg te sê nie.
Saartjie besluit om ’n ander taktiek te volg. Sy sal later ernstig oor die saak moet nadink.
Dié middag is Saartjie se pa ook aan die eettafel. Hy is ’n chirurg en die dae wanneer hy nie by die hospitaal in die stad is nie, werk hy in Lynnekom waar hy ’n spreekkamer in die hoofstraat het.
Die hele gesin sit aan tafel, behalwe Saartjie se twintigjarige broer Kris. Hy is ’n mediese student aan die universiteit en kom feitlik nooit vir middagete huis toe nie.
Saartjie eet ingedagte. Sy dink aan wat sy kan doen om Galpil te laat afsien van sy plan om die wêreld vir Ou Duifie moeilik te maak. Sy weet as hy dit los, sal al die ander seuns ook. Hulle volg hom mos altyd. Dit is nie omdat hy slim is of ’n sterk persoonlikheid het nie. Nee, dit is bloot omdat hy sterk gebou is en goed kan baklei.
Maar hoe dit ook al sy, hy is die leier en as sy hom kan oorreed dat die graadneges hulle beter in Ou Duifie se klas moet gedra, sal die juffrou baie gelukkiger wees. Soos sake nou staan, is die arme onderwyseres diep ongelukkig. Saartjie kan dit duidelik sien en sy wil Ou Duifie help, maar hoe gemaak as Galpil en sy vriende nie saamspeel nie?
Saartjie is natuurlik so gretig om die jong juffrou te help omdat haar gewete haar pla. Sy was ook altyd een van die lawaaimakers in die klas – maar daardie dae is nou verby! As ’n onderwyseres – bloot omdat sy saggeaard en nog onervare is – nie dissipline kan handhaaf nie, dan moet die leerders eerbare mense wees en haar help, eerder as om dinge vir haar nog moeiliker te maak.
Dit is hoe Saartjie nou oor die saak sit en nadink. Sy hou so van die woorde “eerbare mense” dat sy dit onwillekeurig fluister.
“Wassit met jou?” vra Apie wat langs haar sit.
“Hoekom?” Saartjie kyk na hom.
“Vir wat sit en praat jy so met jouself?” Apie wikkel sy sproetneus. “Is jy mal, hè?”
“Moenie laf wees nie,” sê Saartjie saaklik en begin weer eet. “Ek het sommer hardop gedink.”
Apie brom dat enigiemand wat aan tafel hardop sit en dink in plaas van eet, ’n paar skroewe los het.
“Is Ma se kos nie lekker nie, of wat?” vra hy.
“Natuurlik is dit,” antwoord Saartjie.
“Nou hoekom sit jy dan hardop en dink, pleks van eet?”
“Maar ek eet mos.”
Apie draai sy kop en sien sy suster eet wel. Hy het niks meer te sê nie. Hy eet weer lustig verder.
“Hoe gaan dit deesdae met die klavierlesse, Saartjie?” vra haar pa skielik. “Ek hoor jou nooit meer oefen nie.”
“Ek oefen nog, Pappa,” sê Saartjie, “maar nie so gereeld nie. Ons kry baie huiswerk en goed, Pappa weet.”
“Lynnekom se klavierwedstryd is oor twee weke,” sê dokter Baumann. “Jy sal hard moet begin oefen as jy weer in jou afdeling wil wen.”
“Hoekom, Pappa? Dis mos maar dieselfde klomp wat verlede jaar teen my gespeel het. Ons speel nou net in ’n hoër afdeling. Ek het hulle laas keer maklik gewen, so ek sal vanjaar weer.”
“Jy’s lekker wintie, hè!” sê Apie.
Jan en Martha Baumann glimlag.
Dan sê dokter Baumann: “Ek was vanoggend by die nuwe gesin – die Eksteens – wat hier ingetrek het. Hul babatjie is siek, maar dis gelukkig nie ernstig nie. Nadat ek vir die kleintjie medisyne voorgeskryf het, het ek eers saam met die ouers tee gedrink. Hulle is baie vriendelik en gasvry.”
Saartjie wonder wat dit alles met haar musiek te doen het. Sy hoef egter nie lank te wonder nie.
Haar pa sê: “Die Eksteens het ’n dogter wat in Bloemfontein op skool is en hulle dink sy’s die wonderlikste klavierspeler in die hele wêreld. Die meisie het glo al baie eerste pryse op kunswedstryde verower. Haar pa laat haar spesiaal vir die naweek kom om aan Lynnekom se klavierwedstryd deel te neem. Hy sê dis tyd dat die Lynnekommers sien hoe speel ’n ware kunstenaar. Soos ek verstaan, speel jy en die meisie in dieselfde kategorie, my kind.”
Saartjie het natuurlik al by die kreupel dogtertjie Clara gehoor hoe wonderlik haar suster Carolina klavier speel. Dit was toe Clara by Muggie en Anna kom kuier het.
Haar ma onderbreek haar gedagtes. “Het jy toe nie vir hulle gesê jou dogter het ook al baie eerste pryse gewen nie, Jan?” vra Martha Baumann.
“Nee, ek het net gesê sy speel nie te sleg nie,” sê dokter Baumann droogweg.
“Jy moes hulle vertel het Saartjie se foto was in feitlik al die koerante regoor die land omdat sy so goed klavier speel,” sê Saartjie se ma en kyk trots na haar.
“Dit was onnodig,” sê dokter Baumann. “Ons weet mos hoe goed is Saartjie. Ek wou nie ’n ophef oor haar maak terwyl hulle die hele tyd so oor hul eie kind gesels nie. Ek kan sien daardie twee, veral die pa, lewe net vir hul dogter se sukses. Sy hele gesig verhelder sommer as hy haar naam noem.”
“Dis vreemd,” sê Saartjie fronsend, “dat hulle almal so baie van daardie meisie dink. Clara, haar kreupel sussie, het vir my en Anna en Muggie ook vertel hoe wonderlik haar suster is – en dan het haar gesiggie ook so opgehelder.”
“Dis seker maar gesinstrots,” sê mevrou Baumann.
Apie het die hele tyd gesit en eet, maar ook geluister. Nou sê hy: “Ons is nie so nie.”
“Haai,” sê sy ma verbaas, “is jy dan nie trots op jou suster se klavierspel nie?”
Apie kyk na Saartjie. Daar is ’n vies uitdrukking op sy ondeunde sproetgesig. Dan sê hy prontuit: “Nee, haar spelery gee my ’n pyn op die maag, kos dis net ’n geraas!”
“Apie!” berispe Martha Baumann. “Jou taal!”
Apie kyk verbaas na sy ma.
“Wat’s verkeerd, Ma?”
“Die enigste ‘kos’ in Afrikaans is die kos wat ’n mens eet.”
“Ja, maar daar’s ’n woord biekos, Ma,” verduidelik Apie. “Maar ek en my pêls sê sommer altyd ‘kos’, want dis korter en makliker.”
Sy ma kyk met ’n sug na sy pa. Daar is ’n glimlag om Jan Baumann se mondhoeke. Dan begin hy vir Apie verduidelik daar bestaan glad nie ’n woord soos biekos in Afrikaans nie, daarom bestaan die afkorting kos ook nie. Daar is wel ’n Engelse woord “because” en dit is seker die woord wat Apie-hulle gebruik en as biekos uitspreek – maar dit beteken “omdat”, en dit is eintlik die woord wat Apie moes gebruik het.
“Watter woord, Pa?” vra Apie wat aandagtig geluister, maar nie veel verstaan het nie.
“Omdat.”
“O.”
“Ja.”
Apie sal nie waag om dit te sê nie – netnou kry hy ’n oorveeg – maar “kos” is vir hom ’n baie mooier woord as “omdat”. Hy sal egter in die toekoms maar altyd van “omdat” praat wanneer sy ouers in die omtrek is.
Dokter Baumann verduidelik nou verder dat “pêls” eintlik ook ’n Engelse woord is.
“Praat eerder van jou maats of vriende,” beveel hy aan.
“Oukei, Pa,” sê Apie. “Ag, ek bedoel, reg so, Pa.” Dan kyk hy na sy suster en sê: “Ek sê nog steeds – as Saartjie klavier speel, kry ek ’n pyn op my maag.”
Apie kyk tevrede na sy ouers. Daar was tog seker nou niks met sy taal verkeerd nie.
Dokter Baumann sê glimlaggend: “Jou taalgebruik was nou korrek, Apie, hoewel die uitdrukking wat jy gebruik het ’n bietjie kras is – al is dit ook letterlik hoe jy voel wanneer sy speel.”
Apie is vir ’n oomblik doodstil. Hy kan nie kop of stert uitmaak van wat sy pa so pas gesê het nie.
Hy knip sy oë en sê met ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig: “Jissie, Pa, hoekom praat Pa nie sommer plein Afrikaans nie?”
Dokter Baumann begin lag – en sy vrou en Saartjie ook.
Apie eet maar weer verder. Hy verstaan tog nie waaroor hulle nou juis lag nie.
Ná ete gaan Saartjie na haar kamer toe. Sy doen ’n ruk lank huiswerk, maar dan begin haar gedagtes dwaal.
Sy leer geskiedenis. Saartjie glo sy ken die werk en dit is mos nie nodig om hard te konsentreer as ’n mens iets reeds ken nie. Nou sit sy sommer en dink met die geskiedenisboek oop voor haar.
Sy besluit sy sal meer moet begin klavier oefen. Sy het haar afdeling van die kunswedstryd nog elke jaar maklik gewen. Niemand hier in Lynnekom kan by haar kers vashou nie. Dit is sommer net ’n plaaslike wedstryd en daar is gewoonlik nie baie deelnemers nie. Dit sal sowaar ’n skande wees as die meisie van Bloemfontein haar hier kom uitstof.
Nee, dink Saartjie, en vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg. Sy gaan van nou af hard oefen. Daardie Carolina gaan haar sowaar nie klop nie!
Noudat die kwessie opgelos is, sit en dink Saartjie aan die gebeure die oggend by die skool. Sy wil Ou Duifie baie graag help – maar hoe?
Sy wonder weer wat sy kan doen sodat Galpil sy wraakveldtog teen Ou Duifie moet laat vaar. Sy is bang die juffrou word so moedeloos dat sy sommer tou opgooi en by Hoërskool Saamwerk weggaan. Verder sal die hele klas in groot moeilikheid beland as die hoof moet uitvind hoe hulle in Ou Duifie se periodes te kere gaan.
Saartjie moet probeer keer dat dit gebeur. Maar hoe?
Sy draai haar kop effens en sien haarself in die klerekas se spieël. Sy draai haar kop nog meer sodat sy haar hele gesig kan sien.
Saartjie kyk aandagtig na haarself. Sy het ’n effense wipneusie en daar is ’n paar aantreklike sproete op haar neus. Sy glimlag en sien die kuiltjies in haar wange. Sy vee die krul wat op haar voorkop lê met die agterkant van haar hand weg.
Sy wonder of sy mooi is, of liewer – en dit is nou belangriker – of Galpil nog dink sy is mooi.
As hy dink sy is mooi, so sit Saartjie en redeneer, en sy vlei hom en sê hy is wonderlik en kyk met verliefde oë na hom, sal hy so mak soos ’n lammetjie wees. Dan sal hy enigiets doen wat sy vir hom sê. Dan sal hy mos afsien van sy wraakplan – en dan sal Ou Duifie nie meer so swaar kry nie.
Maar hoe kyk ’n meisie met verliefde oë na ’n ou? Saartjie besluit om te oefen. Sy kyk kastig verlief na haarself in die spieël. Haar oë is groot en rond.
Saartjie begin lag. Dit lyk vir haar glad nie mooi nie. As sy haar oë so wyd ooprek, lyk sy soos iemand wat half simpel is. Galpil sal sommer begin lag as sy so na hom kyk – en dit sal mos vreeslik wees.
Nee, besluit Saartjie, sy kan maar daarvan vergeet om met verliefde oë na Galpil te probeer kyk.
Nogtans, sy is darem nie lelik nie, dink Saartjie, en glimlag nou vir haarself in die spieël. Nee, sy is eintlik nogal mooi. Dis seker. Sy moet net doodnatuurlik wees en Galpil vlei, dan sal hy na haar kyk, want dit is mos maar min dat sy so vriendelik met hom is.
Sy sal sag en vriendelik glimlag. En dan sal hy sien sy is mooi en hy sal weer na haar kyk en dan sommer aanhou kyk. En dan, hoop Saartjie, sal hy so mak soos ’n lammetjie wees. Dan kan sy hom vra om haar te help om dinge makliker te maak vir juffrou Nortjé. Sy is seker Galpil sal dit doen as sy wat Saartjie is vir hom mooi genoeg is.
Sy oefen haar sagte, teer glimlag nog ’n paar keer in die spieël en besluit dan om sommer nou op die daad met die sagmakery te begin.
Wanneer Saartjie haar skooldrag uittrek, trek sy gewoonlik sommer ’n kniebroek en T-hemp aan en plak ’n kep op haar donker krulhare. Maar sy doen dit nie vanmiddag nie. O nee, sy wil nou op haar beste lyk. Sy besluit om die pragtige blou rok wat haar ma vir haar gemaak het aan te trek. Die rok pas mos perfek by haar blou oë. Galpil sal haar nie daarin kan weerstaan nie.
Saartjie trek die mooi rok haastig aan en bind ook ’n blou lint in haar hare. Nou trek sy haar mooiste skoene aan en staan doodstil voor die spieël na haarself en kyk.
Sy lyk nog soos ’n rabbedoe, maar soos ’n beeldskone een wat nou vir ’n paar minute van haar lewenslustige vrolikheid vergeet. Net haar blou oë vonkel ondeund.
“Galpil,” sê sy sag vir haarself en glimlag soet, “as jou oë nie uit jou kop peul as jy my sien en hoor hoe vriendelik ek is en hoe ek jou vlei nie, dan eet ek my hoed op – ek bedoel my lint!”
Saartjie loop suutjies en op haar tone tot in die gang, met die trap af en by die huis uit. Sy wil nie haar ma sien nie. Dit sal te moeilik wees om te verduidelik hoekom sy op ’n gewone dag haar heel mooiste rok aanhet. Haar ma sal tog nie verstaan dat sy Galpil gaan sagmaak nie en dit sal te lank vat om te verduidelik hoekom sy dit wil doen.
Sonder dat iemand haar gewaar, hardloop Saartjie met die tuinpaadjie af na die hekkie toe. Sy beweeg soos altyd blitsig – al het sy nou haar beste rok aan. Haar bruingebrande bene vlieg oor die aarde.
By die hekkie gaan staan Saartjie ’n oomblik stil. Sy kyk na die betonplaveisel en sug swaar. Nou sal sy maar weer van die een blok na die ander moet spring. En sy moet versigtig wees dat sy nie aan een van die gleuwe tussenin raak nie, want dan moet sy mos weer van voor af begin.
Saartjie begin spring en sê vir haarself sy moet nou regtig met dié onsinnige affêre ophou. Sy gaan hierdie groot besluit op haar verjaarsdag neem – al vergaan die wêreld ook die volgende dag as gevolg van die feit dat sy haar woord aan haarself verbreek het.
Saartjie spring so outomaties en ingedagte dat sy nie meer in die middel van die blokke te lande kom nie. Sonder dat sy dit agterkom, beweeg sy al hoe nader aan die gleuwe.
Skielik staan Saartjie botstil. Sy kyk mismoedig af na haar voete. Haar regterskoen se punt rus net-net op ’n gleuf tussen twee blokke.
“Agge nee!” sê sy vies. Nou sal sy sowaar weer van voor af moet begin.
Saartjie wonder wat sal gebeur as sy haar voet net so effens skuif. Dan raak dit mos nie meer aan die gleuf nie. Sal die wêreld vergaan as sy dit doen? Sal ’n groot ramp haar tref?
Sy sidder onwillekeurig. Toe sy jare gelede met hierdie onsinnige springery begin het, het sy vir haarself gesê sy sal nooit daarmee ophou nie en sy sal nooit kul nie. As haar voet aan ’n gleuf raak, sal sy weer van voor af begin. Sy het nog altyd gevoel as sy dit nie doen nie of kul, sal daar iets vreesliks gebeur!
En Saartjie voel nou weer so. Sy wil tog nie die einde van die wêreld op haar gewete hê nie. Sy swaai om en hardloop weer terug na die hekkie toe.
Saartjie begin weer spring. Sy wip nou versigtig en sekuur al met die middel van die blokke langs en bly weg van die gleuwe af. Sy wil nie weer van voor af begin nie. As dit moet gebeur, sal sy sommer hardop skree!
Sonder dat haar voete eens naby die gleuwe kom, kom Saartjie uiteindelik by die einde van die betonplaveisel.
By Anna-hulle se huis loop Saartjie effens gebukkend teen die heining. As Anna in die tuin is, moet sy Saartjie nie sien nie. Sy sal honderde vrae vra omdat Saartjie so mooi aangetrek is. Daar is nie nou tyd daarvoor nie en dit sal dinge net moeiliker maak. Anna sal wil saamkom om die sagmaakproses dop te hou en dit sal alles bederf.
Saartjie loop versigtig al teen die heining langs. Toe sy by die opening kom waar die hekkie is, loer sy eers gou by die tuin in. Sy sien niemand nie. Dan spring sy rats verby die hekkie en loop aan die ander kant weer versigtig al teen die heining langs.
Sy is nou by die hoek waar die heining ophou en slaak net mooi ’n sug van verligting toe ’n skril stemmetjie sommer hier reg by haar sê: “Haai!”
Saartjie wip soos sy skrik. Sy kyk vinnig na die heining langs haar. Drie vuil gesiggies loer deur ’n gat daarin na haar. Dit is Muggie, die kreupel dogtertjie Clara en Muggie se pop Trienkie.
“Haai julleself,” groet Saartjie en gee ’n verbouereerde laggie.
Muggie en Clara kyk met groot oë na haar. Dan sê Muggie: “Gaan jy kerk toe, of wat?”
“Nee. Dis mos nie Sondag nie. Ek gaan sommer kuier.”
“Vir wie?”
Saartjie voel lus om te vra wat dit met Muggie te doen het, maar dan bedink sy haar. As sy Muggie afjak, sit die kleintjie dalk so ’n keel op dat Anna en almal in die omtrek sal uitkom om te sien wat aangaan. Muggie kan mos vreeslik te kere gaan as sy nie haar sin kry nie – en Saartjie … sê altyd sy is seker Anna se sussie het ’n blikkeel.
“Ek gaan sommer kuier,” sê Saartjie weer en glimlag vriendelik.
“Vir wie?” wil Muggie weer weet.
Clara knik met haar kop om te wys sy wil ook weet. Muggie sien hoe Clara se kop op en af beweeg en druk Trienkie se kop ook so op en af. So ja, nou is dit mos duidelik hulle al drie wil weet vir wie Saartjie gaan kuier.
“Sommer vir ’n … ’n vriend van my …”
“Wie?” kom Muggie se onverbiddelike stem weer – en die drie koppe kom al nader aan Saartjie.
Skielik vererg Saartjie haar. Hoekom sal sy dat twee sesjarige meisietjies en ’n pop haar so domineer? Laat Muggie maar ’n keel opsit as sy wil.
“Dit het niks met julle te doen vir wie ek gaan kuier nie,” sê Saartjie vies en stap vinnig weg.
Muggie sit nie ’n keel op nie. Sy kyk Saartjie net vererg agterna en mompel iets van mense wat miskien mooi klere dra, maar nog steeds nie ordentlike maniere het nie.
Clara, die nuwe meisie wat gewoonlik so spraaksaam is maar nog nie iets gesê het nie, sê skielik vir Muggie: “Weet jy hoekom sy so mooi aangetrek is?”
“Nee – hoekom?”
“Omdat sy ’n kêrel het!”
Die twee kleintjies kyk na mekaar en begin lag. Hulle weet nie wat presies dit beteken as ’n meisie ’n kêrel het nie, maar nogtans – dit is vir hulle baie snaaks.
Nou begin skree die twee hard, asof in een skril stemmetjie: “Saartjie het ’n kêrel! Saartjie het ’n kêrel!”
Sy hoor hulle duidelik. Saartjie byt op haar onderlip. Dan stap sy vinniger om van die gegil af weg te kom. Sy begin draf – en dan hardloop sy.