Читать книгу Saartjie Omnibus 7 - Bettie Naudé - Страница 6

1

Оглавление

Die graadneges

Die graadneges is hard besig om te werk. Hulle skryf ’n opstel oor die maan.

Saartjie Baumann trek ’n netjiese streep onder haar skryfwerk en lees dan met ’n tevrede glimlag weer wat sy oor die maan geskryf het.

Dit is vir haar ’n pragtige opstel. Sy het die romantiese sy van die maan beklemtoon en ’n hele paar groot woorde gebruik. As sy nie omtrent volpunte hiervoor kry nie, dan weet sy sowaar nie. Dit sal bewys, dink Saartjie nou, dat juffrou Nortjé nie net g’n benul het van hoe om dissipline in ’n klas te handhaaf nie, maar ook dat sy nie weet wat die verskil tussen ’n goeie opstel en ’n swak een is nie.

Saartjie is veertien – amper vyftien. Soos ons haar lankal ken, is sy ’n regte rabbedoe. Sy het helderblou oë en donker krulhare en is ’n baie mooi meisie. Selfs seuns wat niks van meisies hou nie dink so. Sy het ’n paar oulike sproete op haar effense wipneusie en as sy glimlag, verskyn daar ’n kuiltjie in elke wang.

Die kuiltjies is juis nou weer daar. Saartjie glimlag terwyl sy lees hoe die pragtige maan se sagte glans die hele aarde soos ’n towerwêreld laat lyk en hoe dit nou tyd is vir verliefdes om hande vas te hou en in mekaar se oë te verdwaal.

Saartjie wonder of die onderwyseres hierdie meesterstuk van haar gaan waardeer. Sy kyk ingedagte na die juffrou wat voor by die tafel sit en huiswerk nasien.

Die kinders se bynaam vir juffrou Nortjé is Ou Duifie. Hulle weet nie eintlik hoekom hulle haar so noem nie, maar dit is hoe sy onder hulle bekend staan.

Ou Duifie is nog baie onervare. Dit is haar eerste aanstelling hierdie en sy sukkel maar om die woelige klomp seuns en meisies in die beroemde Hoërskool Saamwerk te beheer.

Die klas is nou besonder stil omdat die tieners daarvan hou om ’n opstel te skryf oor verliefde paartjies wat in die maanlig wandel.

Saartjie het hare klaar deurgelees en sit nou sommer net en rondkyk. Langs haar sit haar vriendin, Anna Strydom.

Anna woon langs Saartjie in Lynnekom. Hulle het mekaar ontmoet toe hulle albei nog in hul stootwaentjies was. Van daardie eerste dag toe hulle hul armpies na mekaar uitgesteek het, is hulle al maats.

Net agter Saartjie en Anna sit hul ander vriendin, Lina Rens. Lina bly ook in Lynnekom en sy het Saartjie en Anna leer ken toe hulle nog op laerskool in graad vier was. Die drie vriendinne is bekend as Lynnekom se Drie Muskiete.

Saartjie glimlag terwyl sy skielik aan iets dink. Dit is nie meer lank voor haar verjaarsdag nie. Sy gaan omtrent al die kinders in Lynnekom vra om na haar partytjie toe te kom. Hoe meer mense sy nooi, hoe meer presente gaan sy mos kry!

Die onderwyseres kyk op en toe sy sien ’n hele paar kinders sit en gesels nou, vra sy: “Is julle klaar?”

“Nee!” skree ’n groep seuns van agter uit die klas.

Saartjie dink dit is ongemanierd om ’n juffrou so te antwoord, maar Ou Duifie berispe nie die seuns wat sommer so op haar gegil het nie. Sy gaan net weer aan om huiswerk na te sien en die klomp seuns hou aan gesels.

Juffrou Nortjé het aan die begin van die kwartaal hier by Hoërskool Saamwerk kom skoolgee. Sy is om die een of ander rede nie juis gewild nie. Dit is nie omdat sy kwaai is nie – inteendeel, dit is miskien omdat sy te saggeaard is. ’n Leerder hou daarvan dat ’n onderwyser vriendelik moet wees, maar ook streng. Ou Duifie is nogal baie gaaf, maar glad nie streng nie – dit is amper asof sy witvoetjie by die kinders soek. In haar klasse maak die leerders feitlik net soos hulle wil.

Partykeer skree sy hard vir hulle om stil te bly, maar hulle steur hulle min daaraan. Haar geraas gaan by die een oor in en by die ander een uit.

Sy gaan juis nou weer aan die gil: “Is julle klaar? Bly stil!”

Daar is ’n lawaai soos die leerders hul opstelboeke aangee na die kinders wat voor in die rye sit. Niemand antwoord op die juffrou se vraag of hulle klaar is nie. Dis mos ’n simpel vraag, voel hulle. Sy kan mos sien hulle is klaar.

“Jy weet, Anna,” sê Saartjie vir haar vriendin langs haar, “dit lyk vir my Ou Duifie se senuwees is al klaar gedaan. Sy gaan dit nooit tot die einde van die jaar uithou nie.”

“Sy weet nie hoe om met kinders te werk nie,” sê Anna en skud haar kop. “Hoe meer sy skree, hoe minder luister ons na haar.”

Juffrou Nortjé is te saggeaard om dissipline te handhaaf en die klas het dit vinnig agtergekom. Daarom het hulle, veral die seuns, haar siel begin uittrek en dit is toe dat sy die gewoonte aangekweek het om op hulle te skree.

Die kinders het egter gou agtergekom haar geskree en dreigemente beteken niks nie. Die nuweling is te skrikkerig vir die hoof, die onderhoof en ander senior personeellede om die leerders by hulle te gaan verkla. Ja-nee, hulle maak met haar feitlik net wat hulle wil.

Eendag, dink Saartjie, gaan daar nog groot moleste in Ou Duifie se klas wees.

En dit kom gouer as wat Saartjie gedink het!

“Is daar nog opstelboeke wat moet ingedien word?” skree juffrou Nortjé bo die lawaai van die klomp kinders wat nou niks het om te doen nie.

“Nee!” skree die groep seuns wat agter in die klas sit en die eintlike moeilikheidmakers in arme Ou Duifie se klasse is.

Saartjie kyk vies na hulle. Met ’n tipiese gebaar vee sy met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy hou niks daarvan dat die seuns so onbeskof met die juffrou is nie. Hierdie hele klas gaan eendag nog in groot moeilikheid beland!

Onder die rumoerige seuns agter in die klas is daar ook drie van die voorstad Lynnekom af. Hulle was jare lank saam met Saartjie, Anna en Lina op laerskool.

Die leier van die drie seuns – en hy lyk ook na die leier van die groep wat daar agter so ’n lawaai maak – is Lodewyk le Fras de Waal. Niemand noem hom egter ooit op sy doopnaam nie. Nee, almal behalwe miskien die onderwysers noem hom Galpil.

Galpil se twee boesemvriende is Gert Bakker en Piet Heyns.

“Haai, Saartjie!” skree Galpil nou toe hy sien sy kyk na hom. “Hoe’s dinge, ou perd?”

Hy het die slegte gewoonte om ’n ieder en ’n elk as “ou perd” of “pêrre” aan te spreek. Saartjie hou niks daarvan nie.

Galpil was eenkeer kastig haar kêrel. Die kys – soos hulle die verhouding genoem het – het net ’n dag of twee gehou. Toe het Saartjie hom afgesê. Wie wil nou gekys wees met iemand wat jou gedurig “ou perd” noem?

Saartjie antwoord nie op Galpil se vraag oor hoe dit met haar gaan nie. Sy kyk hom net vies aan. Hy en sy twee vriende, Gert en Piet, en die ander seuns daar agter maak so ’n geraas dat ’n mens maklik kan dink daar is nie ’n onderwyser in die klas nie.

Die kinders is nou besig om hul boeke in hul tasse te pak en die lawaai word selfs nog erger.

“Bly stil! Hou asseblief op raas!” skree juffrou Nortjé.

Niemand steur hulle egter aan haar nie.

“Ek gaan julle nie laat loop voor julle stil is nie!” skree Ou Duifie nou nog harder. Sy klink skielik regtig kwaai.

’n Hele klomp kinders hou nou hul monde en probeer om die ander ook stil te maak. Saartjie is een van hulle.

“Galpil!” skree sy vererg. “Sjoes!”

“Hè, ou perd?” vra Galpil laggend. Maar dan bly hy nogtans stil. Die ander seuns kom ook tot bedaring.

“Ek gaan julle nie laat loop voor julle nie absoluut doodstil sit nie!” sê die jong onderwyseressie nou. Dit lyk of sy baie na aan trane is.

Daar is ’n geweldige geraas soos banke geklap word terwyl die kinders gaan sit.

Die klok lui vir die einde van die periode. Die graadneges moet klasse verwissel en besef dat hulle nou na meneer Burger toe gaan vir algebra. Hy is ’n senior onderwyser en baie kwaai. Hulle sal dit nie waag om by hom so die gek te skeer nie!

Die leerders is baie bang vir Ou Grompot. Hulle weet hulle sal gestraf word as hulle laat by sy klas aankom en kom effens tot bedaring.

“Ek is moeg vir die alewige lawaai,” sê Ou Duifie. “Julle bly hier sit tot julle doodstil is.”

Die kinders raak nou rustiger. Dié wat nog praat, word deur ’n “sjuut” van die ander stil gemaak. Hulle is bang Ou Grompot gaan hulle straf as hulle laat by hom aankom.

Die klas is nou uiteindelik heeltemal stil. Die jong onderwyseressie kyk na hulle. Sy lyk bleek. Al sit hulle stil, sê sy nog nie hulle mag gaan nie. Die minute gaan verby. Die kinders begin onrustig word. Hulle ken vir Ou Grompot. Hy sal nie die verskoning aanvaar dat juffrou Nortjé hulle agtergehou het nie – en as hy dit wel aanvaar, sal hy hulle straf omdat hulle so in haar klas lawaai het!

Die klomp sit nou so stil dat jy ’n speld kan hoor val. Hulle is al ’n hele paar minute laat vir Ou Grompot se algebra, maar Ou Duifie laat hulle nog steeds nie gaan nie.

Die leerders word al hoe meer onrustig. Dan staan Galpil op en sê: “Juffrou, meneer Burger gaan ons velle van ons lywe afslag as ons laat by hom aankom.” Die res van die klas knik met hul koppe en dit is duidelik dat hy namens almal praat.

“Dit kan my nie skeel nie!” sê die onderwyseres. “Julle sal sit tot ek julle laat loop.”

Die kinders kyk haar vies aan.

“Dis onregverdig,” brom Galpil en gaan sit teësinnig.

Die kinders lyk nou regtig bekommerd. Hulle wil nie hul velle van hul lywe afgeslag hê nie. Ou Grompot is ’n moeilike man wat feitlik altyd in ’n slegte bui is. Hy aanvaar nooit enige redes of verskonings nie.

Ná die leerders nog ’n minuut of twee roerloos gesit het, sê juffrou Nortjé: “So ja, nou kan julle gaan.”

Vinnig, sonder om te babbel en te lawaai, staan die kinders op en stap in ’n mooi, netjiese ry by die klaskamer uit.

Hulle loop so vinnig moontlik na meneer Burger se klaskamer toe.

“Ek sê julle ouens,” fluister Saartjie oor haar skouer vir Anna en Lina wat agter haar stap, “vandag is daar groot moeilikheid.”

En Saartjie is reg. Hulle is diep in die sop!

Die graadneges stap gedwee by meneer Burger se kamer in. Hy staan in die deur.

Ou Grompot is ’n bejaarde onderwyser en al jare lank hoof van die wiskundedepartement. Sy bruin oë is wakker en kwaai. Hy het digte wenkbroue en ’n bruin bokbaardjie. Hy skree nooit op die leerders nie. Maar as hy koel en kalm praat en sy oë vlam kwaai en hy speel so met sy bokbaardjie, dan weet die kinders hy is op sy gevaarlikste. Ja-nee, hulle is baie bang vir hom.

Die leerders staan nou netjies en eerbiedig langs hul banke. Meneer Burger staan voor die klas. Hy speel-speel met sy bokbaardjie. Sy oë skiet vonke.

Saartjie is ’n monitor in die klas. Sy sluk en sê dan: “Goeiemôre, Meneer.”

Die hele klas wens die nors onderwyser nou ’n goeie môre toe.

Hy sê vir ’n hele paar oomblikke nie ’n woord nie. Hy streel net sy bokbaardjie. Dan sê hy skielik kil: “Dis nie môre nie – dis middag.”

Party kinders dink dit is ’n grap en hulle moet lag om te wys hulle waardeer dit, daarom gee hulle ’n effense verbouereerde laggie.

“Bly stil!” bulder Ou Grompot.

Die klas is tjoepstil. Die onderwyser se oë dwaal oor hulle. Sy welige wenkbroue beweeg effens op en af.

“Dit sou nog oggend gewees het,” sê hy sissend, “as julle betyds was. Hierdie klas moes om vyf voor twaalf begin het. Dit is egter nou vyf oor twaalf. Waar was julle?”

Dit is ’n direkte vraag en die onderwyser verwag ’n direkte antwoord. Die kinders kyk na Saartjie. Sy moet antwoord. Sy is mos die klasmonitor. As Ou Duifie so ’n vraag gevra het, sou hulle sommer almal die antwoord uitgebulder het. Maar dit is nou nie sy nie, dit is Ou Grompot.

“Meneer, ons was in juffrou Nortjé se klas,” sê Saartjie. Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar voorkop. Sy voel glad nie gemaklik nie. Sy hou nie van die kwaai manier waarop die onderwyser haar aankyk nie. Sy hou ook nie van die manier waarop hy sy bokbaardjie staan en streel nie. Dit is ’n gevaarteken.

Saartjie hoop maar net Ou Grompot bestorm haar nie sommer en gee haar ’n oorveeg nie! Sy is nie alleen skuldig nie. Almal is mos. Sy doen maar net die praatwerk.

“So,” sê die onderwyser, “julle was in juffrou Nortjé se klas?”

“Ja, Meneer,” sê Saartjie.

“En dit,” kom die onderwyser se stem nou woedend, “terwyl julle hier in myne moes gewees het!”

Saartjie besluit om liewer niks hierop te sê nie. Dit is mos duidelik dat hulle in juffrou Nortjé se klas was en hulle kon dit nie help dat sy hulle daar gehou het nie. As Ou Grompot iemand wil kwalik neem omdat hulle so laat is, dan moet dit mos Ou Duifie wees. Hy moet met haar gaan skoorsoek, nie met hulle nie. Dit is wat Saartjie dink, maar sy sal dit natuurlik nooit waag om dit vir hierdie kwaai onderwyser te sê nie.

Die ander kinders dink ook almal so, maar hulle sê ook nie ’n woord nie. Hulle is te bang vir meneer Burger. Al is hy al redelik oud kan hy nog steeds soos blits deur ’n klas vlieg en jou regsien voor jy nog kans het om te probeer keer. Hulle het dit al baie gesien.

“Julle was tien minute laat,” sê die onderwyser nou en sy stem is koud en kil. “Daarom bly julle vanmiddag tien maal daardie tien minute ná skool. Kom hier na my klaskamer toe. Ek sal vir julle werk gee. Sit!”

Die kinders maak so terwyl almal hard besig is om die som in hul koppe uit te werk. Tien maal tien minute is ’n honderd minute. Dit beteken hulle moet sowaar een uur en veertig minute skoolsit!

Die leerders sal dit nie waag om iets te sê nie, maar hulle is baie vies. Hulle voel dit is onregverdig. Hulle sou mos nie laat gewees het as Ou Duifie hulle nie so lank daar in haar klas gehou het nie!

Hulle vergeet gerieflikheidshalwe dat die juffrou dit gedoen het omdat hulle so ’n lawaai gemaak het en nie na haar wou luister nie.

Die klas werk hard aan die algebra-probleme wat meneer Burger vir hulle gee. Hulle moet hul opgekropte gevoelens maar wegsteek. Daar is niks wat hulle nou aan die saak kan doen nie.

Dit lyk of Galpil, die een wat die grootste lawaai in juffrou Nortjé se klas opgeskop het, die een is wat nou die grootste grief het. Elke slag as Ou Grompot sy rug na die klas draai, fluister Galpil vir die klomp om hom dat dit onregverdig is. Hy kry egter nie kans om baie te kla nie. Die onderwyser hou hulle fyn dop.

Ten einde raad skeur Galpil ’n vel papier uit ’n oefeningboek. Hy maak asof hy die algebra-probleme sit en doen, maar skryf eintlik ’n briefie. Galpil kyk elke nou en dan op om te sien of daar nie gevaar is nie, of Ou Grompot nie miskien stilletjies nader kom en hom bekruip nie.

Die onderwyser staan egter nou voor die klas by die venster en uitstaar.

Galpil skryf die briefie klaar en lees dit dan tevrede deur:

Ek sê dis onregverdig. Al die pêrre wat ook sê soos ek sê, moet hul name hier teken. Dan gaan ons iets aan die saak doen!

Dan teken hy sy naam spoggerig hieronder:

Galpil de Waal

Wanneer hy klaar is, kyk hy op. Hy rus met sy arms op die papier, want hy sien die onderwyser het omgedraai en kyk na hom.

Galpil frons met sy hele sproetgesig en probeer die indruk skep dat hy baie diep oor die algebra nadink. Dan glimlag hy effens asof hy die oplossing vir ’n probleem gekry het en maak of hy in sy boek skryf.

Al het meneer Burger na die seun gekyk, het hy aan iets anders gedink en hom nie eens raakgesien nie. Die onderwyser draai nou om en kyk weer by die venster uit.

Galpil slaak ’n sug van verligting.

“Lees, teken en gee aan,” fluister hy vir Piet langs hom.

Piet maak so en gee die vel papier dan aan vir die seun wat net voor hom sit. Hy doen dieselfde en gee dit daarna weer vir die een wat langs hom sit.

So trek Galpil se briefie deur die hele klas. Almal lees en teken dit.

Saartjie is eers nie seker of sy moet teken, of nie. Sy dink ook dit is onregverdig. Ou Duifie moes hulle gestraf het en nie Ou Grompot nie. Hy moet die juffrou kwalik neem dat hulle laat was, en nie vir hulle nie. Maar Saartjie besef ook hulle verdien om gestraf te word omdat hulle so ’n lawaai in Ou Duifie se klaskamer opgeskop het – en dit maak mos nie eintlik saak wie die straf uitdeel nie. Sy teken die versoekskrif (as ’n mens dit so kan noem) nogtans.

Die hele klas het dit nou geteken. Almal wonder of Galpil al aan iets gedink het om te doen. Wat kan hulle aan die situasie verander? Ou Grompot sal nie eens na die leerders luister as hulle probeer verduidelik dat dit onregverdig is om hulle te straf nie. En as hy miskien na hulle sou luister, sal hy die een uur en veertig minute waarskynlik opskuif na twee uur en veertig minute!

Nee, dit lyk nie asof daar enigiets is wat hulle aan die saak kan doen nie. Maar nogtans, Galpil sê hulle gaan optree. Hy moes seker aan iets gedink het. Hulle sal vanmiddag hoor wat dit is.

Ná skool stap die graadneges vies na meneer Burger se klaskamer toe. Hulle is allesbehalwe lus om nou vir ’n uur en veertig minute weer algebra-probleme te sit en doen. Maar wat kan hulle doen?

Terwyl hulle na die klaskamer stap, vra hulle Galpil wat die “iets” is wat hulle gaan doen. Hy brom net dat hy nog daaroor dink en hulle later sal sê. Galpil frons diep om vir hulle te wys hoe ernstig hy nadink. Hy is seker dit maak ’n goeie indruk.

Dit is egter glad nie die geval nie.

Saartjie mompel vir haar vriendinne dat Galpil natuurlik nie die vaagste benul het wat hulle te doen staan nie. Wat kan hulle aan die situasie verander? Hulle is gestraf en of dit nou regverdig is, of nie – hulle moet die straf uitdien.

En dit is wat hulle nou doen.

Die kinders sit en werk weer algebra-probleme uit. Ou Grompot het vir hulle ’n swetterjoel van die goed gegee.

Hy sit voor in die klas en doen nasienwerk.

Later word die onderwyser moeg en stap by die klaskamer uit. Hy hoef mos nie detensie te doen nie.

Die leerders is nou alleen in die klas. Hulle wonder of Ou Grompot miskien net hier voor die klaskamer op die stoep staan en rook. Die graadneges werk maar verder. Hulle begin nie sommer gesels en baljaar nie.

Dit is stil in die skool. Al die kinders is huis toe, behalwe dié wat in hierdie een klaskamer sit en strafwerk doen.

Saartjie kyk op en dan by die venster uit. Sy sien meneer Burger onder op die rugbyveld. Hy het gras op ’n paar kaal kolle geplant en maak seker dit groei.

Dit beteken dit is veilig om nou te gesels.

“Heng, ouens, ek is honger,” sê Saartjie vir die kinders wat naby haar sit.

Hulle stem almal met haar saam.

“Om te dink ons kon nou lekker gesit en eet het,” sê Marie.

Almal stem heelhartig saam.

Saartjie wys vir die kinders die onderwyser is onder op die rugbyveld. Hulle besef dit is nou veilig om te praat en die klomp raak weer rumoerig.

Die graadneges kla steen en been oor hoe onregverdig dit is dat hulle moet sit en algebra doen terwyl die res van die skool al by die huis is.

“Het jy aan iets gedink, Galpil?” vra Lina skielik. Sy is ’n lang, skraal meisie met twee lang vlegsels wat op haar rug hang.

Die klas word stil. Hulle wil hoor of Galpil al met iets vorendag gekom het. Hy sit met ’n fronsende voorkop en beduie met sy een hand hulle moet hom nie lastig val nie. Hy dink nog.

“Wat help dit om nou aan iets te probeer dink?” sê Saartjie smalend. “Ons is amper al klaar met die strafwerk.”

Galpil spring regop.

“Ons kan niks meer aan die strafwerk doen nie,” sê hy. “Maar iemand moet daarvoor betaal!”

“Hoor-hoor!” skree Piet en Gert, Galpil se twee boesemvriende. En omdat die drie gewild is onder die seuns, skree die ander nou ook: “Hoor-hoor!”

Dit is duidelik dat almal wil hê iemand moet boet omdat hulle ná skool moet bly.

“Wie is die iemand en hoe gaan ons die iemand laat betaal?” vra Saartjie nou.

“Die iemand is die een wat ons so in die moeilikheid laat beland het,” kondig Galpil aan. “Stem julle pêrre saam?”

Die seuns stem almal saam. ’n Klomp meisies knik ook laggend kop. Dit is lekkerder om so te sit en ginnegaap as om algebra te doen.

“En weet julle pêrre wie daardie skuldige iemand is?” vra Galpil nou dramaties.

“Natuurlik weet ons!” skree al die seuns saam. “Dis Ou Duifie!”

Dit was oor juffrou Nortjé dat hulle laat by Ou Grompot se klaskamer aangekom het en dit is daarom dat hulle nou ná skool op hierdie heerlike, sonnige middag moet sit en algebra doen.

“So hoe gaan ons haar terugbetaal?” vra ’n hele paar seuns feitlik gelyktydig.

“Ons moet dit op ’n slim manier doen,” sê Galpil. “So slim dat ons nie weer gestraf word nie.”

“Hoe gaan ons dit regkry?” wil Saartjie weet.

“Ek het nou net aan iets gedink,” sê Galpil tevrede.

Almal vra hom wat dit is. Hy lig sy hand vir stilte en sê dan: “Luister nou mooi.”

Die kinders stel baie belang. Hulle spits hul ore.

Galpil vertel nou dat hy ernstig oor die saak nagedink het.

“Is dit hoekom jou voorkop so geplooi was?” vra Saartjie en glimlag soet.

Galpil kyk agterdogtig na haar. Hy wonder of sy miskien probeer om snaaks te wees.

“Ja,” sê hy nors en gee haar ’n vies kyk. “En moenie my weer in die rede val nie.”

“Ek het maar net gewonder,” sê Saartjie met ’n onskuldige gesig.

Galpil besluit om haar te ignoreer. Hy vertel nou van die plan waaraan hy gedink het om Ou Duifie te laat boet vir die feit dat hulle verniet gestraf is.

Volgens hom moet hulle die onderwyseres woedend kwaad maak – so kwaad dat sy sommer by die klas uitstorm, maar nie by die hoof kan gaan kla of hulle kan straf nie. “Want,” sê hy met ’n glimlag, “as ons nie weet nie, dan weet ons mos nie.”

Die kinders lyk effens dronkgeslaan. Hulle volg nie mooi nie.

“As ons wat nie weet nie?” vra Saartjie.

“Enigiets wat sy ons vra!” sê Galpil en lyk hoog in sy skik met homself. Hy vryf sy hande in die lug voor hom en glimlag breed.

Die klomp verstaan nog steeds nie. Galpil verduidelik nou. Hy sê hulle moet van môreoggend af almal doodstil in Ou Duifie se klas sit en glad nie raas nie. Hulle moet hulle perfek gedra, maar as sy ’n vraag vra – al is dit ook die maklikste een in die wêreld – dan moet hulle net sê hulle is jammer, maar hulle weet nie wat die antwoord is nie. Sy gaan later so woedend word dat sy sommer by die klas sal uitstorm.

“Maar onthou,” sê Galpil en lig sy hand weer om die gebabbel wat losbars stop te sit, “ons moet saamstaan. As sy vir enigeen van ons ’n vraag vra, dan moet daardie een net opstaan en sê: ‘Jammer, Juffrou, ek weet nie.’ Verstaan julle?”

Ja-nee, almal verstaan. Die kinders hou nogal van hierdie plan om Ou Duifie terug te betaal omdat hulle gestraf is – verniet, volgens hulle.

“Maar julle moenie lag as julle antwoord en sê julle weet nie,” sê Galpil. “Dit sal alles opmors. As sy vir een van julle ’n vraag vra, moet die perd net met ’n sedige gesig sê: ‘Jammer, Juffrou, ek weet nie.’ Dis al. En die ander pêrre, moet ook nie lag nie.”

Die kinders weet nou almal wat hulle moet doen. Saartjie voel nie te gelukkig oor die hele affêre nie. Maar dit sal nogtans groot pret wees.

Sy kyk by die venster uit en sien meneer Burger aankom.

“Kywie, ouens!” sê sy vinnig. “Hier kom hy!”

Die leerders begin almal weer hard aan die algebra-probleme werk.

Toe meneer Burger by die klas inkom, is dit vreemd stil. Hy kyk peinsend na hulle en speel-speel met sy bokbaardjie. Hy wonder of die kinders die hele tyd so stil was. Hulle het nou al ’n uur gesit, so daar is nog veertig minute oor.

Ou Grompot voel egter nie meer lus om sy tyd hier te mors nie. Hy is nou ook honger.

“Is julle klaar?” vra hy.

Die leerders sê dit nie, maar die uitdrukkings op hul gesigte is duidelik te lees. Hoe kan hulle nou al klaar wees? Die meneer het vir hulle ’n magdom probleme gegee om uit te werk.

“Nou ja, gaan doen die orige probleme by die huis,” sê hy tot almal se verbasing. “Julle kan gaan.”

Die klas is hoog in hul skik. Hulle sal die werk tien keer eerder by die huis gaan klaarmaak. Dan kan hulle ten minste eet terwyl hulle werk. Hulle is nou al moeg van so honger hier sit.

Met ’n “Goeiemiddag, Meneer!” is die graadneges vinnig by die deur uit.

Die Lynnekom-kinders stap na die bushalte toe. Galpil, Gert en Piet loop laggend voor Saartjie, Anna en Lina uit.

Die Drie Muskiete is nie so luidrugtig soos die seuns nie. Hulle loop en gesels oor die les wat hulle juffrou Nortjé gaan leer.

Saartjie voel nie te gelukkig oor die hele affêre nie.

“Hoekom nie, Saartjie?” wil Anna weet. Sy is effens mollig en het ’n ronde, vriendelike gesig. Anna en Lina is net so oud soos Saartjie. Anna doen altyd alles wat die rabbedoe sê, maar Lina maak gewoonlik eers beswaar as Saartjie die een of ander kattekwaad voorstel, hoewel sy dan gewoonlik later geesdriftig saamspeel.

“Omdat dit vir my lyk of dit dalk ’n bietjie gemeen kan wees.”

Lina dink glad nie dit is gemeen nie. Sy sê sy stem ’n honderd persent saam met Galpil. Dit is Ou Duifie se skuld dat hulle onregverdig gestraf is en sy moet daarvoor betaal.

“Ek hoop net nie,” sê Saartjie en sug effens, “ons beland in nog groter moeilikheid as vandag nie.”

Dit is natuurlik presies wat gaan gebeur, maar die kinders weet dit nog nie!

Saartjie Omnibus 7

Подняться наверх