Читать книгу Sink - Brett Michael Innes - Страница 4
Proloog
Оглавление—
Dis dalk die laaste keer dat ek hier sit.
Net om dit te dink, is vir Rachel al byna te veel. Sy maak haar kop stil, want nou moet sy vir oulaas al die kleure en reuke en die gevoel van die strand om haar inneem. Sy kyk na die seegroen water waar die vissermanne die wind in hulle seile laat bol om hulle dau’s terug te stuur land toe. Dit lyk na nog ’n dag waarop hulle met niks terugkom nie. Die middagson weerkaats op die wit sand en dié blink lig laat lyk dit of alles om haar splinternuut is.
Daar’s net ’n paar strandbrakke en kinders in die rondte, want die dorpie se mense is in hulle grashutte waar hulle vir die hitte probeer wegkruip of wag dat die vis eendag weer byt. ’n Paar seemeeue hang oor die water en ’n ent langs die strand af sien sy ’n vrou wat kokosneute bymekaarmaak wat in die nag afgeval het.
Rachel het in haar ag-en-twintig jaar op aarde hierdie strand platgestap. Sy ken dit soos die palm van haar hand en het gesien hoe dit verander. Eers was dit net ’n klein ou vissersdorpie wat veilig beskut is deur die Bazaruto-eilande, maar toe word dit die vakansiebestemming Inhassoro. Toe kom die toeriste met al hulle geld en dinge verander vir die mense. Maar in Februarie en Maart van 2000 tref die sikloon Leon-Eline hulle land naby Beira en kom daar ’n seisoen van vloede, hongersnood en armoede. Hulle swaarkry word eers deur die res van die wêreld raakgesien toe Sofia Pedro in ’n boom bokant die vloedwater kraam.
Dit was tien jaar gelede toe Rachel agtien was en die jare daarna was ’n tyd van swaarkry vir haar mense. Die vakansieoorde het later weer op hul voete gekom, maar die gewone mense is nie so gelukkig nie.
Met toe oë luister Rachel na die bekende geluide om haar: die diep dreuning van die branders wat breek, dan die kabbelinkies teen die strand in ’n ritme wat diep uit die hart van die see kom. Bo die lied van die golwe hoor sy die vissermanne na mekaar roep, halwe woorde waai na haar toe.
Haar pa was een van hulle tot hy sy been seergemaak het; daarna het hy werk gekry as netregmaker, daardie selfde nette wat hy tevore vroeg soggens ver oor die donker see uitgegooi het.
Die sikloon het die see leeggesuig. Eers was visvang die manier waarop die dorpie se mense oorleef het, maar nou het dit gemaak dat hulle nie vooruitkom nie. Want nou sit hulle steeds heeldag op die see in hulle dau’s en dan kom hulle dag vir dag met leë nette terug. Dis die hoop wat hulle aan die gang gehou het, maar daardie hoop is ’n gif.
Rachel trek haar asem diep in. Die skerp soutreuk van die see en die paar visse wat wel gebyt het, meng met die geur van varsgebakte pão wat op die lug aangedryf kom. Toe sy twaalf was, het sy saam met haar ma en die ander vroue by die mark gesit waar hulle die heerlike vars broodrolletjies verkoop. Haar ma het altyd vir haar die eerste pão van die dag gegee en hoe lekker was dit nie om die warm broodjie oop te breek en te sien hoe die stoom in die lug optrek nie! Nou is dit net die rykes wat pão kan bekostig en daar is nie meer verniet brood vir die kinders wat heeloggend in die mark hand bygesit het nie.
Sy lek haar lippe af, maar daar is niks anders te proe as die sout seelug nie. Sy sit die laaste skyfie van die nartjie wat sy besig is om te eet in haar mond. Sy byt dit oop en voel die soetskerp ontploffing van die sap in haar mond. Anderdag was dit ’n alledaagsheid, nou is so ’n vrug iets spesiaals. Haar ma het dit vir haar gegee as haar laaste ontbyt op Inhassoro.
Met haar oë steeds toe voel Rachel die klam hitte van die son, maar ook die koel seewind op haar natgeswete gesig. Sy grawe met haar tone in die sand, deur die kors wat die oggendson uitgebak het tot by die klam laag dieper af, voel-voel na die water wat die gety agtergelaat het.
Sy sit haar hand op haar maag en voel hoe warm en ferm die vel onder haar hemp is. Dit sal nog ’n paar weke wees voor ’n mens enigiets kan sien, maar sy weet reeds binne-in haar is dit anders. Sy kan voel sy is nie meer alleen in haar vel nie, dat iemand daar binne aan die groei is wat apart en onafhanklik van haar is. Die besef maak haar bang, maar inspireer haar ook. Dit is haar gedagtes en haar drome vol.
Dit is oor dié mensie dat sy Inhassoro verlaat, sodat die siel wat haar liggaam tydelik gebruik, ’n kans in die lewe sal hê of ten minste dan ’n beter een as wat haar toebedeel is. Sy laat haar familie, haar huis en haar strand vir dié lewetjie agter en gaan na ’n plek toe waar sy nog nooit was nie.
Dit is egter nie net om haar ongebore kind se onthalwe dat sy wil weggaan nie. Haar ouers is nou oud en kan nie meer die pot aan die kook hou nie. Sy het in Inhassoro werk gesoek, maar daar is niks wat die moeite werd is nie. Sy is ’n paar maal met die bus Maputo toe en het weke lank daar ook gesoek. Sy het elke keer voor dooiemansdeur omgedraai of die betaling was net soveel as wat sy hier in die vismark kan verdien.
Mosambiek het niks gehad om haar te bied nie en sy sou ’n plan moes maak voor haar kind gebore word. Geen mens sal ’n swanger vrou in diens neem nie, dus weet sy sy moet nou spring voor haar maag begin wys.
Toe Rachel haar oë oopmaak, sien sy by haar voete ’n kauri-skulp, sy bruin spikkelporselein half toe onder die wit strandsand. Sy het al duisende van dié skulpe in haar lewe gesien en hulle teruggegooi in die see of juweliersware daarvan gemaak, maar om die een of ander rede laat dié een haar weer kyk. Miskien is dit al die emosies waarvan haar hart vandag so vol is, of dalk die begeerte om aan iets vas te hou wat “huis” beteken, iets wat nie sal verander nie – sy leun vorentoe en tel dit op.
Sy stof die sandkorrels af en bekyk dit. Dit lê glad in haar hand, warm van die son en omtrent so groot soos ’n kleinerige pruim. Sy draai die eiervormige skulp om. In sy plat wit onderkant is ’n spleet met stomp tandjies. Sy hou die skulp voor haar mond en blaas jare se sand uit. Iets wat eens ’n lewende ding onder die waters van die oseaan was, is nou hier in die holte van haar hand.
Rachel sit die kauri-skulp in haar sak en kyk een laaste maal uit oor die see voor sy omdraai en strandlangs na haar ouers se hut begin stap. Haar sak is gepak. Al wat nog oor is om te doen, is groet en bushalte toe gaan.
Sy is op die punt om Mosambiek te verlaat. Sy is op pad Johannesburg toe.