Читать книгу Sink - Brett Michael Innes - Страница 8
Hoofstuk 4
Оглавление—
Februarie 2014
Rachel, Maria en Tapiwa sit op die sypaadjie in die skaduwee van ’n moerbeiboom en werk deur ’n sak ou klere wat Michelle vir Rachel gegee het. Hulle het van die vet vruggies gepluk en het moeite om die ryk rooi sap nie op die klere te laat kom nie. Maria hou een van die bloeses teen haar bors; dit is heeltemal te klein vir haar.
“Ontwerpersgoed, nè?”
Die ander twee lag. Rachel geniet dit om te sit en kyk hoe hulle kies en die sak al leër raak.
“Vat iets vir Rita ook,” sê sy en druk nog ’n moerbei in haar mond. Dit is vir haar lekker om haar rykdom met haar vriendinne te deel.
“Siestog, sy kan bly wees sy’s nog hier.” Maria probeer haar gesig koud waai met ’n koerantpamflet vol van Game se naweekwinskopies. “Hulle raak nou baie kwaai met die Mosambiekers, weet jy dit? Hulle soek ’n brief van die Elliotts om te sê sy werk vir hulle en sy woon daar.”
“Hoeveel tyd het hulle haar nog gegee?” vra Rachel.
“Ses maande.”
Die vroue sit in stilte hul moerbeie en eet en sien skaars die spoggerige motors van die buurt voor hulle verbyry.
“Rebecca is verlede week teruggestuur,” vertel Tapiwa. “Die mense vir wie sy werk, het Kaap toe getrek en sy kon nie ander werk kry voor haar visum verval het nie. Toe kom die polisie daar na die taxi-plek waar sy sit en wag en hulle sien haar papiere is oud en hulle sit haar in die vangwa. Twee dae daarna, toe’s sy by die grens.”
“Wat?” roep Maria uit. “Nie eens kans om haar goed te kry nie?”
Tapiwa skud haar kop en Maria brom onderlangs iets in Chichewa, haar huistaal.
“Waar’s haar mense?” vra Rachel.
“Inhassoro.”
“Maar dis waar my ouers ook is! Dis nou al lank dat dit nie goed gaan daar nie.”
Rachel kyk af na haar sel en toe sy sien hoe laat dit is, staan sy op en vee die gras van haar uniform af.
“Ek moet nou vir Maia gaan haal.”
“En hoe gaan dit met haar by daai ryk skool?” vra Maria met ’n grinnik.
“Ag, sy’s te jonk om te verstaan.” Rachel strek haar lui uit en glimlag. “Siestog, sy vertel vir almal van ‘ons groot huis met die swembad en alles’ en hoe sy ’n meerminpartytjie vir haar verjaardag gaan hê.”
“Wat is ’n meermin?”
Rachel trek haar skouers op. “Die een of ander meisie wat onder die water woon. Sy’s in stories wat wit mense vir hulle kinders vertel. Sy wil nou glad leer swem oor die meerminbesigheid.”
Dit laat die ander twee uit hulle maag lag. Toe staan hulle op en begin hulle goed bymekaarmaak. Hulle moet ook terugkom by die werk.
“God het jou geseën met goeie mense,” sê Tapiwa. “Jy’s die enigste huiswerker van wie ek weet wie se baas vir haar kind se skool betaal.”
Rachel trek haar gesig. “Wel, as jy die gemors sien wat ek elke dag moet skoonmaak, dink ek hulle sal haar nog universiteit toe ook moet stuur.”
Die vroue lag en slaan elkeen hulle eie rigting in. Rachel stap vinnig by die syhekkie van die Jordaans se erf in. In haar kamer stroop sy haar uniform af en trek jeans en ’n blou hemp aan wat sy by Michelle geërf het. Sy begin teen ’n taamlik rustige pas stap, want sy kan nie natgesweet by Maia se kleuterskool aankom nie. Netnou vra een van die ma’s vir haar of sy moes stap omdat haar motor gebreek het of iets.
Maia het geen idee dat sy anders as haar maatjies by Jollyjammers is nie. Rachel is wel deeglik daarvan bewus. Daar is geen manier dat sy haar kind sou kon gaan haal in haar huiswerker-uniform nie. Net soos die wit kinders in Vader Krismis en die Paashaas glo, wil sy hê haar dogtertjie moet so lank moontlik in dié fantasie glo. Sy weet Maia sal swaarkry as die ander ma’s haar as “die huiswerker se kind” sien. En sy sou jok as sy nie erken dit is lekker om as ’n mens beskou te word deur die einste soort mense wat haar gewoonlik net as ’n funksie sien nie.
Rachel kom tien minute na die komhaaltyd by die skooltjie aan; dit is spesiaal so beplan sodat sy nie te veel met die ander ma’s te doen hoef te kry nie. Geselsies kan net lei tot vrae, en te veel vrae sal lei tot die waarheid, en hoewel sy nie deel van hulle wêreld wil wees nie, wil sy hê hulle moet dink sy is.
“Kyk, Mama!”
Rachel hoor die stemmetjie voor sy haar sien. Haar dogtertjie kom van die skoolhek aangehardloop met haar pienk rugsakkie al wikkelend aan haar skouers. Sy buk af om vir haar ’n drukkie te gee, maar Maia kan skaars wag om vir haar te wys wat sy in haar hande het.
Dit is ’n Barbie-pop met lang blonde hare en helderblou oë, soos die een op haar rugsakkie, maar pleks van lang, dun bene het dié een ’n visstert met blink blou en groen skubbe, weliswaar al ’n bietjie afgeleef. Met ’n sug staan Rachel regop en vat die pop by haar kind.
“Jy weet mos jy mag nie speelgoed van die skool af huis toe vat nie, kindjie.”
“Maar dis nie die skool s’n nie, Mama! Abigail het dit vir my gegee!” vertel die dogtertjie opgewonde.
“Kom, ons moet dit terugvat.”
“Maar dis myne!”
Rachel is nie lus vir stories nie, sy vat haar aan die hand en stap terug skoolhek toe sodat sy die pop vir die juffrou kan gee. Halfpad soontoe word sy in haar spore gestop deur ’n replika van die pop in haar hand, Monique – minus die meerminstert – en haar bypassende dogter, Abigail.
“Rachel!” Monique leun vorentoe en soen Rachel kaplaks op die wang. “Dis so lekker om jou te sien!”
“Hallo, Monique,” sê sy selfbewus en hou die pop verleë na haar uit. “Is dit Abigail s’n? Dit klink my Maia dink sy het dit vir haar gegee.”
“Maar sy hét!” Monique glimlag trots in haar dogter se rigting. “Sy het só baie Barbies en toe Maia vir haar vertel sy het nie een nie, wou sy dadelik vir haar een van hare gee. Ons probeer ons kinders leer om mededeelsaam te wees en kyk net hoe goed werk dit!” Sy gee ’n rinkelende laggie.
Voor Rachel ’n woord kan uitkry, steek Monique haar hand diep in haar ontwerpershandsak en trek ’n kaartjie uit met Maia se naam in glinstergom voorop.
“Hierso. Dis volgende week Abigail se verjaardagpartytjie en ons hoop regtig Maia sal kan kom.”
“Dis ’n Frozen-partytjie, Mama!” Die kind pluk die kaartjie uit Rachel se hand. Sy het ’n vae idee wat dit is, want sedert die fliek Frozen lyk dit of alle dogtertjies ’n obsessie het met alles wat koud en winteragtig is. En almal wil natuurlik so ’n partytjie hê. Daarby is daar die temaliedjie wat aan die begin nogal oulik was, maar ná honderde herhalings ’n amper onuitstaanbare geraas van meisiestemmetjies geword het. Maia is voor in die koor.
Rachel kyk af na haar kriewelrige dogter en weer op na Monique. Sy is nogmaals verstom oor hoe haar gewoonlik gehoorsame en aangename kind se persoonlikheid verander wanneer sy tussen haar maatjies is. Dan word sy ’n neulerige kind wat maklik ’n vloermoer gooi as sy nie haar sin kry nie.
“Dis by Papachinos,” sê Monique, “daardie kindervriendelike plek in Bryanston. Jy ken dit seker?”
“Nee,” sê Rachel, “maar ek hoor dis so lekker.”
“Ek is net so dankbaar ons hoef nie meer in die Spur te sit nie. Onthou jy hoe dit altyd die enigste plek was waarheen mens jou kinders kon neem as jy wou gaan uiteet?” Monique rol haar oë.
Rachel glimlag en sit haar hand fermer as wat nodig is op Maia se skouer. “Ons gaan beslis probeer om daar te wees.”
“Ons sal ook iemand daar hê om na die kinders te kyk sodat ons mammas darem ’n kuier kan inpas – jy weet, met ’n glasie of so?” Monique knipoog vir haar.
“Baie dankie.” Rachel begin wegdraai. “Ons moet nou gaan, maar ons sal jou voor die einde van die week laat weet.”
Sy is verlig om te sien hoe Monique ’n ander vrou gewaar vir wie sy ’n uitnodiging wil gee, vir Abigail aan die hand vat en op haar hoë hakke wegtrippel. Rachel gee die Barbie terug vir Maia. Sy wonder of sy nou vir haar moet verduidelik oor geskenkies van maatjies, maar besluit dit kan wag tot later.
Sy haal Maia se rugsakkie af, vat haar hand en die twee begin die stadige staptog terug huis toe deur die stil voorstedelike strate. Af en toe ry ’n motor verby hulle, maar die meeste van die tyd is dit net hulle twee.
“Abigail het vandag op die verjaardagkind-stoeltjie gesit,” vertel Maia en kyk skaars op terwyl sy die lang Barbie-hare streel. “Haar mamma het blou Frozen-kolwyntjies vir die hele klas gebring.”
“Dis lekker, my kind.”
“Sal jy dit vir my ook bring wanneer ek verjaar?”
“Ek is seker ek sal kan.” Rachel is te moeg om ’n ander antwoord te gee, want vir ’n stryery het sy nie nou krag nie. Sy weet die lys dinge wat sy vir Maia sal moet verduidelik, raak al hoe langer, maar anderdag, nie nou nie.
“Bloues?”
Rachel glimlag en knik. Die rugsakkie is meteens baie swaar in haar hand.
Maia gil van plesier. “Wag, Mama,” sy sê en hou die pop na haar uit. Toe trek sy haar trui uit en bind die moue om haar kop. Terwyl Rachel staan en uitwerk wat dit is wat die kind probeer doen, swiep Maia die trui oor haar skouers en kyk met ’n breë glimlag op haar gesiggie op na Rachel.
“Kyk, Mama!” roep sy triomfantelik. “Lang hare net soos ’n prinses!”
Rachel kan nie help om te glimlag nie. Maia kam met haar vingertjies deur haar “hare” en begin al om haar ma hardloop terwyl sy luidkeels Frozen se temaliedjie in haar soet hoë stemmetjie sing.
“Kom hier, jou lawwe ding!” Rachel gryp haar handjie en begin aanstap. “Jy’s dalk ’n prinses, maar hierdie diensmeisie moet nou terugkom by die werk.”