Читать книгу Sink - Brett Michael Innes - Страница 7
Hoofstuk 3
Оглавление—
Maandag 7 April 2014
Rachel staan in die kombuis met die stuk papier waarop haar lys take neergeskryf is. Die vier weke wat sy weg was, het ’n berg werk veroorsaak wat sy nie vinnig afgehandel sal kry nie en sy maak haar klaar vir ’n moeilike week.
Terwyl sy weg was, het die Jordaans se gewone chaos byna handuit geruk. Die lys is in Michelle se netjiese handskrif, maar toe sy die papier omdraai, is daar ’n gekrabbelde boodskap. Sy herken Chris se handskrif: Welkom terug, Rachel. Ons het ’n afspraak by die dokter, maar op die lys sal jy alles sien wat gedoen moet word. Jou salaris is in die koevert. Chris & Michelle.
Rachel tel die koevert op van die kombuistoonbank en maak dit oop. Die R100-note is in ’n netjiese stapel. Sonder om dit te tel, weet sy dis haar maandelikse loon van R4 500 wat volgens Suid-Afrikaanse standaarde nie sleg is nie, veral omdat die Jordaans haar verblyf en Maia se kleuterskool dek. Hulle was nog altyd vrygewige werkgewers en daarom kon sy haar ouers in Mosambiek onderhou en nog elke maand so R200 of wat spaar, as daar geen noodgevalle was nie.
Maar nou voel hulle vrygewigheid aangetas, asof die geld in haar hand ’n goedkoop uitkoms is.
Uit gewoonte skakel Rachel die ketel aan en terwyl sy wag dat die water kook, begin sy die stapel skottelgoed afspoel en in die skottelgoedwasser pak. Dit lyk asof elke enkele mes, vurk, bord en beker wat die Jordaans besit in die wasbak is, terwyl ’n hoop wegneemkoshouers en pizzabokse langs die vullisblik ’n storie van hul eie vertel.
Sy skakel die eerste lading aan en gooi kookwater in haar beker terwyl sy die broodblik oopmaak om te kyk of daar enigiets te eet is. Met haar roetine wat daarmee heen was, het sy die afgelope tyd nie ontbyt geëet nie en eerder soggens dertig minute langer bly lê. Die broodblik is leeg. Sy gee nie regtig om nie. Saam met haar roetine het sy ook haar eetlus verloor. Wanneer sy wel geëet het, was dit omdat sy geweet het sy moes en nie omdat sy wou nie.
Rachel gaan sit op haar gewone plek in die ontbythoekie en kyk soos altyd oor die tuin uit. Die winter is beslis aan die kom. Die gras is nog groen, maar dis omdat Richmond drie maal per week natspuit eerder as dat die tuin hom teësit teen die seisoen. Binnekort sal bruin en geel skakerings oorneem, kleure wat altyd vir haar so mooi was teen die blou van die Hoëveld se lug in die winter.
Rachel sien nie uit na nog ’n koue seisoen nie. Sy kyk hoe ’n goue blaar loskom van die eikeboom wat hom tot hiertoe gevoed het en afdwarrel na ander blare wat reeds in die swembad dryf. Die swembad was altyd kristalhelder, maar nou is dit ’n effense groen skynsel aan die kry. Sy onthou Chris het op ’n keer vir haar verduidelik dit gebeur altyd na baie reën of wanneer die seisoen draai. Uit die hoek van haar oog sien sy Richmond by die pakkamer uitkom met die blaarvanger.
Rachel stoot haar stoel terug en staan vinnig op. Sy wil nie hul gebruiklike stil gesprek deur die venster hê nie. Nie vandag nie.
* * *
Hulle sit in dokter Pieterse se kantoor. Michelle kyk op haar iPhone hoe laat dit is en toe na Chris in die stoel langs hare. Hy knipoog vir haar en sy glimlag effens. Sy het pas haar eerste skandering gehad en sy voel nog die oorblyfsels van die jellie wat die dokter aangesmeer het voor sy stafie heen en weer oor haar plat maag beweeg het. Toe die dowwe grys beeld op die skerm verskyn, het dokter Pieterse die hartklop, posisie, grootte en asemhaling van die baba nagegaan terwyl Chris foto’s geneem het. Hy wil dit gebruik vir hulle aankondiging later vandag op sosiale media.
Hulle het al vir hulle ouers en ’n paar hegte vriende vertel, maar nog nie “amptelik” iets op Facebook gesê nie, want hulle wou eers wag vir die skandering. Chris wil dit graag op ’n oorspronklike manier doen. Hulle speel met die idee van ’n foto van ’n broodjie wat in die oond bak, of net die ultraklankfoto self. Chris het die verpligte selfie van hulle twee geneem tydens die skandering, Michelle met ’n breë glimlag, al het sy nie fantasties gevoel nie.
Sy is dankbaar die afspraak by die ginekoloog is op Rachel se eerste dag terug, want dit gee hulle ’n goeie verskoning om nie by die huis te wees nie. Chris, daarenteen, is nie te gelukkig daarmee nie – hy wou gehad het hulle moes daar wees sodat sy welkom kan voel.
Michelle sit haar iPhone weg en kyk oor die lessenaar na dokter Pieterse wat besig is met ’n dringende oproep van een van haar ander pasiënte. Terwyl sy luister hoe die dokter raadgee, wonder sy of sy ook een van daardie pasiënte gaan wees wat haar ginekoloog bel oor elke pyntjie en gewaande krisis.
Die gesprek kry nie einde nie en die dokter beduie ’n verskoning met haar oë, wel wetend dat die oproep inbreuk maak op hulle afspraak. Sy werk vanuit die Sandton Mediclinic en is een van die topginekoloë in Johannesburg. Haar geduld met die vrou op die foon stel Michelle egter nogmaals gerus dat sy in goeie hande is. Sy is al ’n paar jaar by dokter Pieterse en sy vertrou haar. Die vrou het hulle begelei deur die fisieke en emosionele mynveld wat paartjies deurswoeg wat sukkel om swanger te raak. Michelle hou haar dop toe sy die gesprek begin afsluit; die professionele fasade wyk nie vir ’n oomblik nie. Sy dink skielik daaraan dat sy nou in ’n vertrek is met die twee mense wat haar lyf van binne en buite ken – een as geneser en die ander as minnaar.
“Jammer hieroor.” Dokter Pieterse sit die telefoon neer en draai na hulle. Sy tel hulle lêer op en kyk na die aantekeninge wat sy vroeër gemaak het. “Ek weet julle wag al baie lank vir hierdie baba, dus gaan ek baie reguit wees,” sê sy. “Ek is bekommerd oor die baba se hartklop. Dis effens swak en jou bloeddruk, Michelle, is heeltemal te hoog.”
Michelle neem die inligting in en wag dat die dokter voortgaan.
“Ongelukkig is medikasie nie ’n opsie nie, dus sal ons moet kyk na maniere om jou leefstyl aan te pas. Hoe gaan dit by die werk?”
“Werk? Dis besig, maar dis mos maar hoe dit is met bemarking.”
“Baie stres?”
“Nie meer as ander mense nie.”
“Kyk, hoë bloeddruk het dikwels te make met stresvlakke en dieet. Gegewe jou ouderdom en die data wat ek hier het, sal jy minder moet werk.”
“Hoe so? Halfdag werk?”
Michelle verstaan nie wat sy hoor nie. Sy los Chris se hand, leun vorentoe en wag op ’n verduideliking. Die dokter huiwer, asof sy tyd nodig het om haar woorde agtermekaar te kry sodat haar pasiënt kan begryp.
“Ek bedoel, jy moet heeltemal ophou werk.”
Michelle sit terug en probeer die inligting verwerk. Sy is stom van skok. Ses maande van nie werk nie? Waar ander mense ses maande se huisrus sou verwelkom, klink dit vir haar soos ’n tronkvonnis. Sy kyk na Chris wat sit en grinnik.
“Jy ken my vrou glad nie, dokter Pieterse.” Hy sit sy hand op Michelle se skouer. “Dis ’n vrou dié wat haar skootrekenaar saamgeneem het op ons wittebrood. Mauritius toe.”
Dokter Pretorius vind dit nie snaaks nie.
“Ek dink nie my werk is die probleem nie,” protesteer Michelle. “Ek ken baie vroue wat sonder probleme tot op agt maande bly werk het. Ek kan nie net ophou werk nie.”
“Michelle, wil jy hierdie baba hê?”
“Natuurlik! Watse vraag …”
“Dan is die kry van hierdie kind nou jou werk. Jou voltydse werk vir die volgende ses maande.”
Die dokter se stemtoon laat geen twyfel dat dit nie ’n voorstel is nie.
* * *
“En nou kan ek nie eens meer koffie drink nie.” Elke woord drup van Michelle se frustrasie.
Hulle sit by een van die houttafels by The Whippet, ’n eetplek in die hart van Linden wat ’n trekpleister is vir mense soos hulle.
Chris drink selfbewus aan sy Americano. Hy weet sy vrou wag dat hy iets sê en hy moet sy woorde tel. Wanneer Michelle so raak, soek sy altyd iemand om mee te baklei en as sy dit nie kan doen met mense vir wie sy kwaad is nie, gebruik sy hom maklik as haar slaansak.
“Hoekom bestel jy nie vrugtesap nie? Of ’n bottel water?” stel hy versigtig voor.
“Jy weet ek haat water.”
Chris sug en begin lees die spyskaart sodat hy nie hoef voort te gaan met die gesprek nie, maar hy kan voel hoe gluur sy hom aan. Hy kyk op en soos hy gedink het, is sy nie beïndruk met hom nie.
“Wat?” vra hy en Michelle skud haar kop.
“Wat gaan ons doen? Jy weet ons het albei ons salarisse nodig om deur die maand te kom. Daar’s geen manier dat my maatskappy my ses maande betaalde verlof sal gee nie.”
“Ek weet nie,” sê hy en sit die spyskaart neer. “Ek is seker ons sal ’n plan kan maak.”
“Dis nou vir jou ’n fantastiese houding.” Sy sit woedend terug in haar stoel.
Die kelnerin kom nader en vra of hulle enigiets wil eet. Chris kyk na Michelle, maar dié ignoreer die vraag. Hy bestel ’n tramezzini met spek en eier en gee die spyskaarte terug vir die kelnerin. Hy kyk weer na Michelle. Hy kan behoorlik sien hoe haar emosies onder die oppervlak kook en probeer hom indink hoe sy moet voel. Hy kyk af en sien die grys hond waarna die restaurant vernoem is tussen die tafels deurloop op soek na ’n stukkie oorskiet wat iemand vir hom wil gee.
“Ek dink dokter Pieterse het dit baie duidelik gestel.” Chris se stem is sag en simpatiek.
Hy wag dat die klippie die water tref. Hy bestudeer Michelle se gesig. Sy kyk op en haar oë blink van die trane wat sy met alle mag probeer binnehou.
“Dis maklik om te sê as jy nie die een is wat dit moet doen nie.” Sy doen haar bes om haar stem egalig te hou.
“Moenie, jy’s nou onregverdig.”
Michelle kyk weg. Om te breek deur die muur wat sy tussen hulle opsit, leun Chris vorentoe en vat haar hande wat op die tafel rus in syne vas. Hy moet vir haar sy hart wys.
“Ons sal dinge kry wat jou help om die tyd om te kry. Ons sal …” Die sin word afgesny deur die kelnerin wat sy broodjie bring. Chris bedank haar en begin dokter die eiers met sout. “Is jy seker jy’s nie honger nie?”
Michelle skud haar kop.
Chris neem ’n hap van die tramezzini. Michelle was reg; hulle sal nie hulle leefstyl kan voortsit met net sy salaris nie. Die waarheid is dat sy nog altyd meer as hy verdien het en dit het niks aan sy ego gedoen nie, maar nou kan hy sien dat hulle hulself in ’n hoek vas geverf het. As Michelle fisiek nie in staat is om ’n salaris te verdien nie …
Maar geld, weet hy, is nie die enigste probleem nie.
Rachel se naam is nog nie genoem nie, maar Chris weet sy is een van die redes waarom Michelle nie aan die huis gekluister wil wees nie. Hy kan haar nie blameer dat sy so voel nie, maar hy kan nie aan ’n manier dink om daarby verby te kom nie. Hulle kan Rachel nie afdank nie en hulle sal haar beslis nie geldelik kan help as hulle iemand in haar plek aanstel nie.
Sy iPhone biep en hy sien dis een van sy kollegas. Hy glimlag terwyl hy aan ’n gevatte antwoord dink.
“Ek sal my werk môre laat weet,” sê Michelle nors.
Chris kyk vinnig op en knik terwyl hy tik.
“Ek sal eers die Franse veldtog moet klaarmaak, maar ek sal vir hulle sê ek sal by die huis daaraan werk.”
* * *
Rachel kyk nog een maal na die skoon kombuis en dan na die muurhorlosie. Dis vyfuur. Sy wag al heeldag dat die voordeur oopgaan sodat sy die eerste weersiens met Michelle agter die rug kan kry. Hier is sy egter steeds met ’n groeiende benoudheid oor daardie ongemaklike oomblik. Sy besluit om maar kamer toe te gaan, skakel die gangligte aan, sluit die veiligheidshek agter haar en vat die paadjie na die oprit.
Sy besef sy het vergeet om die vullisdromme in te bring van die straat af. Sy stap vinnig na die syhekkie. Die twee groot dromme wat iewers gedurende die dag deur die munisipaliteit leeggemaak is, staan op die sypaadjie. Toe sy buite kom, hoor sy ’n bekende stem agter haar.
“En?”
Sy glimlag en draai om.
“Hallo, Maria,” groet sy haar vriendin. “Ek het jou glad nie gesien nie.”
Maria is van Malawi en sy werk vir die mense langs die Jordaans. Sy is luidrugtig, gebou soos ’n oorlogstenk en die teenpool van Tapiwa, die skraal vrou langs haar. Tapiwa is van Zimbabwe en sy werk by ’n huis ’n ent af in die straat. Sy laat gewoonlik vir Maria die praatwerk doen. Nes met Richmond en Rachel is Engels die enigste taal wat die drie vroue deel, maar met die jare het hulle mekaar leer verstaan met ’n uitdrukking hier en daar uit elk se moedertaal sodat daar vandag ’n gemaklikheid tussen hulle is.
Die drie vriendinne stap saam na die hoek waar hulle hul tuismaak op die gras tussen die straat en ’n hoë huismuur. Rachel se alleentyd is vroeër wanneer sy tee drink in die kombuis of haar middagete eet onder die groot ou eik, maar haar kuiertyd is saans met Maria en Tapiwa langbeen op die sypaadjie.
Soos die meeste huiswerkers in Suid-Afrika word hulle nie toegelaat om vriende te nooi na die huis waar hulle werk nie omdat dit ’n veiligheidsrisiko vir die eienaars kan inhou. Die beste plek is dus die sypaadjie, waar hulle in hul uniforms sit en skinder oor die dag se dinge tot die son ondergaan en elk na sy eie kamer toe gaan.
Rachel lê op haar maag en Maria en Tapiwa sit langs haar in die laaste warmte van die sakkende son. Die gedruis van die spitsverkeer is hoorbaar.
“En?” herhaal Tapiwa Maria se vraag. “Hoe was jou eerste dag terug?”
“Hulle was nie hier nie.”
Maria grinnik. “So dit was lekker.”
“Daar was baie om te doen.” Rachel sug en vryf haar moeë oë. “Ek dink nie hulle het ’n vinger gelig terwyl ek weg was nie.”
“Hulle weet seker nie eens waar die skottelgoedseep is nie,” sê Maria en die ander twee lag, want die kanse is goed dat die grap waar is.
Hulle lag nog toe hulle hoor hoe die Jordaans se elektriese hek begin oopskuif. Hulle sien Chris se Z4 voor die hek wag. Sy venster gaan oop en Rachel sit regop sodat sy met haar werkgewer kan praat. Sy sien Michelle in die sitplek langs hom, haar oë weggesteek agter ’n sonbril. Sy kyk anderkant toe en Rachel wonder wat gebeur het om haar in so ’n bui te sit.
“Hei, Rachel,” sê Chris. “Ek’s jammer ons kon nie vanoggend hier wees om jou terug te verwelkom nie. Hoe’t dit gegaan?”
“Alles is skoon, meneer Jordaan,” antwoord sy.
Chris lyk verbaas dat sy hom meneer noem, maar die hek is klaar oop en hy moet inry voor dit begin toemaak. Hy waai vir haar. Daar is elektriese hekke wat nie toemaak as ’n motor of ’n mens nog besig is om in te kom nie, maar die Jordaans het nie daardie opsie gekies nie, want hulle het gedink dit sou beter wees as kapers nie kan keer dat die hek toegaan nie.
Rachel kyk die motor agterna tot sy dit nie meer kan sien nie. Toe draai sy na Maria en Tapiwa wat haar fyn sit en dophou het om te probeer agterkom wat sy voel. Die drie vroue sit nog ’n rukkie in stilte.
Toe praat Rachel.
“Sy verwag,” sê sy sag.
“Wat?!” roep Maria en Tapiwa gelyk uit.
Rachel knik, maar sê niks verder nie. Hulle sit doodstil en kyk na die spoggerige motors wat verbyry.
“Dit maak my siek,” sê Maria na ’n rukkie.
“Wat?” vra Rachel.
“Dat jy agter daai mense skoonmaak.”
“Dit is wat dit is, Maria.”
“Ek weet, maar dit maak my nog altyd siek.”
Rachel sug en tel ’n droë takkie tussen die gras op. Sy begin breek dit in kleiner stukkies. Maria en Tapiwa kyk hoe sy die stukkies eenkant toe gooi.
“Ek kan nie bekostig om trots te wees nie, my beursie is te leeg,” sê sy na ’n ruk en gooi die laaste stukkie van die takkie eenkant.
* * *
Michelle stap voor Chris die huis in en haal haar sonbril af sodat sy die plek kan inspekteer. Sy loop eers kombuis toe en sien die afgelope weke se gemors is vervang deur netheid en alles is silwerskoon. Sy stap vinnig deur die res van die huis en sien die vertrekke is gestofsuig, hulle bed is skoon oorgetrek en die vreeslike bondel wasgoed is gewas, gestryk en opgevou.
Uiteindelik, dink sy, ’n bietjie normaliteit.
Op pad terug kombuis toe sien sy Chris se das en skoene in die gang lê, maar sy ignoreer dit. Sy kry haar man by die yskas met ’n bier in sy hand. Sy kyk hoe hy ’n sluk vat en na die ontbythoekie toe stap.
“Ten minste is die huis weer aan die kant,” merk Michelle op en maak die yskas oop om te kyk wat hulle vir aandete kan eet. Toe Chris nie antwoord nie, draai sy na hom en sien hoe hy na die swembad in die laaste strale van die son sit en kyk.
“Jy kon haar maar gegroet het toe ons ingery het,” sê hy, sy oë steeds op die toneel buite.
Michelle maak die yskas toe en praat met sy rug. “Ek het haar nie gesien nie en toe’s ons al halfpad met die oprit op.”
Sy wag dat Chris haar teëgaan, maar hy swyg. Hy vat nog ’n slukkie bier. Sy kyk hoe hy die bottel op die tafel neersit en sien hoe die kondensasie op die gebleikte hout neerdruppel. Sy stoot ’n drupmatjie na hom toe en hy draai sy kop effens. Stadig tel hy sy bier op en sit die bottel op die matjie.
Michelle maak weer die yskas oop en haal ’n hoendergereg van Woolies uit.
“Kan ek help?”
“Ek’s reg.”
“Oukei.”
Michelle hoor die kombuisdeur oopgaan.
“Waarnatoe gaan jy?” Sy draai vinnig om.
“Ek wil die swembadwater toets. Dit lyk nie lekker nie.”
“O.”
Sy begin hulle aandete regkry. Dis nou al weke dat haar lyf vreemd voel, asof sy alles in volkleur ervaar en nie meer logies kan dink nie. Dit voel soos strome van te veel emosie wat oor haar spoel en haar duiselig en tranerig laat voel. Sy haat dit om te huil. Sy het haar sonbril heelpad huis toe opgehou net vir ingeval.
Dokter Pieterse se nuus was nie goed vir haar delikate gemoedstoestand nie.
Sy wou hierdie baba al so lank hê en noudat die kans daar is, wens sy sy kon meer opgewonde wees. So baie het gebeur vandat sy gehoor het sy is swanger. Sy kan nie help om te wonder of alles beter sou wees as daar nie ’n baba op pad was nie.
Sy kan haar nie indink wat in Rachel se kop aangaan noudat sy weet sy wat Michelle is, is swanger nie. Sy is nie onbewus van die ironie nie, maar die afgelope paar weke het sy dit reggekry om enige skuld wat sy dalk kon voel, weg te steek agter werk en besig wees. Maar nou, nou word sy tot stilstand gedwing en kan sy die stem in haar kop nie ignoreer nie.
* * *
Tussen die spinnerakke in die pakkamer grawe Chris rond op soek na die swembad se toetsstelletjie. Hy kry die stowwerige stelletjie uiteindelik tussen tuingereedskap en vat dit swembad toe, waar hy begin voorberei om die water te toets. Hy kniel en skep water uit die yskoue swembad, voeg ’n druppel chloorneutraliseerder by plus vyf druppels rooi oplossing om die bad se pH vas te stel. Toe voeg hy ander druppels by om die water se suurgehalte te bepaal. Terwyl hy wag dat die kleure tot stilstand kom, tel hy die kaart op om sy lesings met die standaard te vergelyk.
Niks lyk verkeerd nie, maar die swembad se kleur is nie reg nie. Hy skud sy kop en dra die stelletjie terug pakkamer toe. Chris weet nie regtig veel van die swembad se onderhoud nie, hy weet wel dis te vroeg in die seisoen dat die water so af lyk. Môre sal hy weer toets en kyk of hy nie meer wys word nie. Hy kan altyd ’n kenner se hulp inroep, maar iets dwing hom om die probleem self te probeer oplos. Sy pa het altyd vir dié dinge gesorg toe hy ’n kind was en hy wil wys hy is in staat om dieselfde te doen.
Hy wil net terugloop huis toe, toe die boodskap deurkom. Hy grawe sy foon uit sy sak en sien hy het ’n “Friend request” op Facebook. Hy maak die app oop. Anja, die rooikop in sy kantoor. Hy glimlag oor die feit dat sy eerste kontak gemaak het. Hy wil nie te gretig lyk nie en doen eers niks nie. Hy kyk na haar profiel en sien sy het pas in die Drakensberge geklim saam met ’n groep vriende – #topofthemountain.
Hy hoor Michelle roep uit die kombuis.
* * *
Michelle skrik wakker. Haar hart is op hol. Sy kom halfpad regop en kyk vervaard rond in die skemer slaapkamer. Wat was daardie geluid? Sy ruk aan Chris se arm.
“Wat gaan aan? Wat’s dit?”
“Daar’s iets hier buite. Luister. Dis soos … ’n geskree. Kan jy dit nie hoor nie?”
Michelle staar bewegingloos na die venster. Chris sit regop en probeer agterkom wat hy hoor. Dan sak hy terug en trek die duvet weer tot onder sy ken.
“Wat? Wat is dit, Chris?”
“Dis net die Kreepy, Michelle.” Hy klink ligweg geïrriteerd.
“Is jy seker?” Dit lyk of sy steeds verwag hy moet opspring en iets doen. “Ek het dit nog nooit gehoor nie,” voeg sy beskuldigend by.
“Natuurlik het jy,” sê Chris en pof sy kussing om verder te slaap. “Dit gebeur wanneer dit in die hoek vassit en te na aan die oppervlak kom. Gee dit vyf minute, dan val dit terug in die water.”
Michelle gluur hom aan, ontevrede dat hy niks daaraan gaan doen nie en op die punt is om terug te glip in sy gebruiklike diep slaap. Hy haal reeds stadiger asem. Sy moet haar inhou om hom nie te skud nie.
Die geskree raak al erger en die waansinnige klank weergalm deur die huis.
Sy haat die swembad.
Toe hulle huis gesoek het, was die mooi swembad ’n trekpleister, maar toe hulle eers ingetrek het, het sy besef hulle gebruik dit gans te min om al die harde werk om dit skoon te hou te regverdig. Dit is eintlik net ’n reusagtige waterfokuspunt wat lankal ’n grasgroen, stink poel sou geword het as dit nie vir Richmond was nie. Verlede jaar het hulle dit selfs oorweeg om die ding toe te gooi en ’n dek daar te bou, maar toe sê Chris hy wil hê sy kinders moet met ’n swembad grootword en sy het sy redenasie aanvaar.
Hy het goeie kleintydherinneringe van hoe hy wag dat sy pa huis toe kom en dan swem hy en sy broers saam met hom. Chris kan nie wag om dit saam met sy eie kinders te doen nie. In die somers van sy kindertyd was daar altyd water naby. Hy het al gesê dit sou selfsugtig wees om sy kinders dit te ontneem net omdat ’n swembad harde werk is.
Michelle maak haar oë toe en wag dat die slaap haar weer oorval. Sy probeer die Kreepy se aaklige klank uitdoof.
* * *
Rachel lê in haar bed met die kussing teen haar maag vasgedruk. Kon sy maar aan die slaap raak. Maak nie saak hoe styf sy die kussing vashou nie, dit kan net nie die plek volmaak waar Maia se kloppende hartjie so perfek ingepas het nie.
Die Kreepy sit al weer vas. Die skril suigende, skreeuende geluid weergalm in haar ore.
Maia is nou al meer as vier weke weg en elke nag word sy wakker met die verwagting dat sy haar kind voor haar lyf gaan voel, Maia se vlak asemhaling soos sy teen haar ma se bors aandruk. Dit is die enigste oomblikke waarvoor Rachel nou leef, dié tussen slaap en wakkerword wanneer sy in haar hart glo Maia leef nog. Dit is in hierdie oomblikke, voor haar verstand ingryp, dat sy heel voel. Maar dan lig die lomerigheid en word sy herinner aan die waarheid, die waarheid dat die kind wat sy geskep het, die mens wat binne-in haar gegroei het, vir altyd weg is.
Sy druk haar gesig diep in die kussing en begin huil, bodemlose geluide wat meng met die geskree van die Kreepy en wegkwyn in die koue nag.