Читать книгу Tienerharte 3: Hartedief - Cecilia Steyn - Страница 10
Lisa
ОглавлениеMarkus se woorde wat hy in my oor gefluister het kom weer by op: “Gee my broer ’n kans, Blondie. Hy’s ’n goeie ou.” Maar wat sal Estian van my dink as hy weet wat ek onder my bed wegsteek?
Estian gee vir my water sodat ek die pille kan drink. Hy staan steeds met die salf in sy linkerhand. Is hy te skaam om dit aan te smeer?
“Jy moet seker maar die salf aansmeer of hoe? As jy nie wil nie, sal ek my kamermaat vra.”
“Nee, natuurlik nie. Ek sal. Um, draai om,” sê hy. Estian vat my hare versigtig en bondel dit oor my skouer. Net toe hy my T-hemp oplig, lui die deurklokkie.
Ek kyk na Estian. Dit sal Dewald wees. Ek wens skielik ek kan nog langer hier bly.
“Jammer,” sê hy. “Jy sal maar jou kamermaat moet vra. Dewald sal my nek omdraai as hy sien ek vat aan jou kaal rug.” Ek lag net.
Ons vat gelyktydig aan die deurhandvatsel. “Gee my asseblief ’n kans om jou beter te leer ken?” vra Estian skielik. Sy hand is warm op myne. Hy kyk ernstig na my en ek sluk hard. Sy blik laat my hart wild jaag.
“Oukei,” sê ek amper opgewonde. Hoekom voel ek soos ’n laerskooldogtertjie? “Hier is my nommer.” Ek vat die pen wat langs ’n notaboek op ’n tafel by sy voordeur lê.
“Mmm … ek het dit klaar,” sê hy verleë. “Ek het nog net nie die moed gehad om jou te bel nie.”
Daar is weer ’n klop aan die deur. Ek glimlag. Hy het nog die heeltyd my nommer? Ek skryf my nuwe nommer op die papier. “My nommer het verander. Bel my,” sê ek.
Estian vat die papier uit my hand en kyk daarna asof dit sy waardevolste besitting is.