Читать книгу Tienerharte 3: Hartedief - Cecilia Steyn - Страница 6

Lisa

Оглавление

Toe ek by ons woonstel instap, pluk ek angstig my foon uit my handsak. Musiek speel in Nikki se kamer. Verlig lees ek die boodskap van vroeër. Dis van Megan. Megan en Dewald wil hê ons moet vanaand gaan fliek.

Ek was so bang dit was weer Thomas. Al weet ek Thomas kan my nie meer in die hande kry nie, knaag hier ’n vrees aan my binneste.

Dankie, maar ek kan nie. Miskien volgende naweek? laat weet ek vir Megan.

Ek hou nie van jok nie, maar daar’s nie ’n manier hoe ek met my seer rug vir meer as ’n uur in ’n teater gaan sit nie. Daarom jok ek nie regtig nie. Ek weerhou net die volle waarheid en hoop sy vra nie uit nie.

Goed dan, laat weet sy.

Ek voel nogal skuldig, want Megan is baie gaaf. Sy is die beste ding wat met Dewald kon gebeur het. Ek moes geweet het Stefan se sussie sal net so gaaf soos hy wees. Ek ken vir Stefan ook van skooldae af. Hy en Dewald is nou al vir baie lank vriende. Soms wens ek ek kan net vir Dewald die waarheid vertel. Maar hy swot regte en kan tog so oorbeskermend wees … Ek weet sommer hy gaan uitfreak.

In my kamer sluit ek saggies die deur agter my toe. Ek trek die groot leertas onder my bed uit. Versigtig draai ek die nommers op die slot. Die sluitmeganisme glip oop.

My hande bewe.

Stadig trek ek die ritssluiter oop en lig die paar truie wat bo lê, haastig uit.

Voor my is die grootste fout wat ek nog ooit in my lewe gemaak het. Elke dag maak ek seker dis steeds daar. Sover het niemand al na my of die pakkie kom soek nie, maar dis nie te sê hulle gaan nie. Dis net ’n kwessie van tyd, en as hulle kom, is dít wat hier voor my lê, al wat ek het om mee te onderhandel vir my vryheid. Al manier hoe ek ’n normale lewe sal terugkry.

’n Klop aan my kamerdeur laat my ruk. “Lisa, kan ek inkom?” vra Nikki opgewek.

“Net ’n oomblik,” keer ek inderhaas. Ek trek die tas se ritssluiter weer toe en maak seker die slot is behoorlik gesluit. Ek stap na die deur en sluit dit saggies oop voordat ek die handvatsel draai.

“Jy sê my nie eens jy’s by die huis nie. Komaan, ek kan nie wag om dit te sien nie!” sê sy opgewonde.

Nikki wals by my kamer in. Haar oranje kuif wip oor die een kant van haar gesig. Nikki het donkerpers hare wat in ’n moderne bob bo haar skouers hang, net haar kuif is helder- oranje. Haar naels is swart geverf. Sy is baie klein en fyn gebou en dra net denims, T-shirts en sneakers. ’n Groot swartraambril omraam haar mooi bruin oë.

Nikki is al in haar middel twintigs. Sy het nie onmiddellik na skool begin swot nie. Sy het net eendag genoem dat Keanon vir haar klasse betaal. Sy sal my seker die hele storie vertel as sy reg is. Haar arms is vol getatoeëer en sy het twee piercings … Ek het liewer nie verder uitgevra nie.

“Jy was reg, Keanon is die beste,” verseker ek haar. “Ek is mal daaroor.” Ek sluk hard. As ek net myself kan oortuig om so sterk te wees soos die panther wat nou my rug versier.

“Was dit baie seer?” vra Nikki besorg.

“Dit was oukei.”

“Was Keanon toe darem ’n gentleman?” vis sy. Ek wonder hoekom sy my dit sou vra?

“Ja, natuurlik. Is hy nie altyd nie?” vra ek spottend.

“Ek wonder net partymaal oor al die meisies wat daar inkom vir tatoes.” Sy skud haar kop. “Dit moet seker tog vir hom ’n versoeking wees.”

Ek vat Nikki aan haar skouers en kyk haar in die oë. “Jy het niks om jou oor te bekommer nie, oukei?” Nikki knik effens. “Hy kon nie uitgepraat raak oor jou nie.” Dis die waarheid. Toe Keanon begin met my tatoe, het hy my vertel hoe talentvol Nikki is. Hy wil haar ook leer tatoeëer.

“Dankie,” sê sy. “Kom ek help jou. Ons moet seker die plastiek afhaal, of hoe? Buitendien kan ek nie langer wag om dit te sien nie!”

Ek kyk op my horlosie. “Jip, ons kan. Ek dink in elk geval dit raak nou sweterig. Dit jeuk verskriklik,” sê ek.

Ons stap badkamer toe. Nadat ek my hemp oor my kop getrek het, help Nikki my om die plastiek af te haal.

“Sjoe,” sê Nikki, en bekyk my vel van nader.

“So?” vra ek. “Wat dink jy?”

Nikki bly vir ’n oomblik stil, voordat sy antwoord. Hou sy nie daarvan nie? “Lisa, iets is fout.”

“Wat bedoel jy?” wil ek angstig weet. Ek loer oor my skouer na die beeld in die badkamerspieël. Die tatoe was dan netnou nog perfek. Die spieël is te klein. Deksels. Ek kan net ’n stuk by my skouer uitmaak, maar die deel wat ek sien, gee my skoon die rillings.

“Die tatoe is cool, maar jou vel … Dis rooier as wat dit moet wees.” Nikki vat saggies aan my rug. “En vuurwarm,” sê sy.

“Is dit nie dalk net die plastiek nie?” vra ek senuweeagtig.

“Ek glo nie.”

Nikki vat haar foon en bel vir Keanon. Sy verduidelik vir hom hoe dit lyk. “Thanks, baby,” sê sy vir hom.

“Keanon sê jy sal by ’n dokter moet uitkom. Klink vir hom of jy allergies is.”

Ek knik. Ek sal vir Dewald moet bel. Hy gaan in elk geval een of ander tyd van my tatoe uitvind.

Hoekom nie sommer vandag nie?

Tienerharte 3: Hartedief

Подняться наверх