Читать книгу Tienerharte 3: Hartedief - Cecilia Steyn - Страница 12

Lisa

Оглавление

Dit voel of ek nie die pedale vinnig genoeg kan trap nie. My hart hamer teen my ribbes en my bene voel soos jellie. Al wat ek nou wil doen, is by die huis kom. Die deur agter my sluit en wegkruip. Het Thomas my nuwe nommer in die hande gekry of is dit hulle? Die boodskap op my foon wys unknown number. Lafaards.

Estian dink seker ek is stapelgek omdat ek net so opgestaan en uit Bohemia geloop het. Maar na daardie boodskap moes ek net wegkom. Dit het my net weer herinner om nie nou by iemand betrokke te raak nie. Hoe kon Estian my so vinnig laat vergeet het wat regtig in my lewe aangaan?

Uitasem draai ek by ons straat in. My hart voel of dit uit my keel wil klim. Buite die woonstelkompleks staan ’n reusagtige ou met ’n bleskop. Hy leun teen sy motor se kattebak terwyl hy op sy foon praat. Twee motors voor hom sien ek nog ’n persoon wat in ’n rooi kar sit. Op die straathoek is ’n paar tieners op hulle skaatsplanke besig om toertjies te doen. Enigeen van die ouens kon die boodskap gestuur het.

Toe ek by die kompleks se hek indraai, lig die veiligheidswag vir my die valhek. Ek knik net ’n dankie en ry haastig deur. Veilig binne die kompleks sit ek net my fiets teen die paal. Ek sluit dit nie eens nie. Ek wil net in die woonstel kom.

’n Laaste keer draai ek na die straat. Die bleskopman en sy kar is weg. Waar het hy so vinnig heen verdwyn? Daar kruip ’n rilling teen my ruggraat af. Ek probeer normaal lyk terwyl ek na die trappe stap, maar toe my voet aan die eerste trap raak, klim ek hulle twee op ’n slag. Nader aan die woonstel ruk ek tot stilstand. Ons voordeur staan op ’n skrefie oop. Ek weet ek het dit vroeër vanaand gesluit. Nikki is by Keanon. Was hier iemand gewees? Is hulle dalk nog hier?

Stadig trek ek ’n diep asemteug in. Ek skraap al my moed bymekaar en stap nader. Ek stoot die deur versigtig oop. Die woonstel is stikdonker. My vingers voel bewerig teen die muur na die ligskakelaar. Die boodskap van netnou kom weer by my op. Dit het net een woord gevat om my wêreld op sy kop te keer.

Stellenbosch?

Dit beteken net een ding. Hulle weet waar ek is.

Eindelik kry ek die lig aangeskakel.

“Jy’s vroeg terug.” Nikki se stem laat amper my hart uit my borskas spring.

“Verdomp, Nikki,” sê ek kortaf. My hande vlieg outomaties na my gesig.

“Vir wat skrik jy so?” vra sy en lag.

Ek sluk hard, probeer glimlag, maar kry dit nie reg nie.

“Hoekom sluit jy nie die voordeur nie?” vra ek ergerlik vir haar. “’n Mens weet nie watse kreature hier rondloop nie!”

Nikki frons. “Ek’s jammer, oukei. Ek het ’n kopseer gehad en vroeër teruggekom. Die wind moes dit seker oopgewaai het of iets.” Omdat jy dit nie gesluit het nie, wil ek vir haar skreeu, maar los dit eerder. “Ek lê sommer net hier in die donker met my oë toe. Niks sal met ons gebeur nie, daar is mos ’n wag hieronder.”

Ek druk die voordeur agter my toe en maak seker dat dit gesluit is.

“Ek’s jammer,” sê ek. “Ek het net geskrik.” Nikki knik. Ek vryf oor my voorkop voordat ek na my kamer stap.

In my kamer sluit ek ook die deur agter my. Ek stap na my venster en pluk die gordyne vinnig toe. Dan trek ek een effens weg om te sien of iemand dalk die woonstelle dophou, maar daar’s niemand nie.

Moedeloos gaan sit ek op my bed. Hoe lank gaan ek so kan lewe?

Ek voel steeds soos ’n skurk omdat ek Estian net so in Bohemia gelos het, maar al die ergste scenario’s het by my opgekom. Ek sonder ’n kop. Estian met ’n koeël tussen sy mooi groen oë. Daar’s nie ’n manier hoe ek hom hierby kan betrek nie.

Ek hurk op my knieë langs my bed. Toe ek die tas oopmaak, lê die pakkie steeds waar ek dit gelos het. Dis tyd om ’n ander wegsteekplek te kry, maar waar? Die seeppoeierboks in my badkamer sou dalk werk. Of die roomysbak in die yskas. Nee, dis simpel. Ek draai in die rondte in my kamer. Ek het dit!

Ek krap in my rugsak vir my materiaalskêr. Die metaal voel koud onder my vingers. Ek gaan lê op die vloer langs my bed op my rug. Versigtig sny ek die onderkant van die bed se basis oop. Ek druk die pakkie sorgvuldig in en werk die basis weer netjies toe. Dit sal my ten minste ’n bietjie meer gerus laat voel, maar die eerste prys is om dit net terug te gee.

Na ’n warm stort sien ek daar is al tien boodskappe van Estian op my foon. Ek wil dit so graag net ignoreer. Die laaste ding wat ek wil doen is om hom by die gemors, wat ek ’n lewe noem, te betrek. Ek moes nooit saam met hom uitgegaan het nie. Wat het my besiel? Ek het dan besluit ek gaan nie nou by iemand betrokke raak nie. En nou hou ek ook nog van hom. Baie.

My vinger streel oor sy laaste boodskap.

Estian is regtig bekommerd oor my. Ek kan nie onthou wanneer laas ’n ou oor my besorg was nie. Die feit dat hier iemand is wat wil seker maak ek is oukei, gee my so ’n warm gevoel om my hart. Ek sal nie omgee om so ’n persoon in my lewe te hê nie. Maar dis lagwekkend, moet ek myself herinner. More moet ek vir hom sê ons kan niks meer as vriende wees nie.

Ek is regtig fine, dankie. Kan ek dalk more ’n draai by jou maak?

Sy antwoord kom dadelik:

Natuurlik. So drie-uur se kant. Bly jy’s oukei. Lekker slaap en sterkte met jou eerste dag.

Ek klim in my bed. Vir wat soos ’n ewigheid voel, bly slaap my ontwyk. Ek’s nie eens seker of dit ’n goeie idee is om net vriende met Estian te wees nie, maar iets in my binneste laat my dink dit sal nie so maklik wees om van hom af weg te bly nie.

Tienerharte 3: Hartedief

Подняться наверх