Читать книгу Tienerharte 3: Hartedief - Cecilia Steyn - Страница 5
Estian
ОглавлениеOm medies te swot is nie vir sissies nie. Nee, vir daardie MBChB-graad in ’n mooi goue raam teen jou muur, leer ’n mens jou Heer en Heiland ken. Dis juis die rede waarom ek eerder in Stellenbosch bly as op die Tygerbergkampus. Daar’s net te veel afleiding en ek het te hard gewerk om keuring te kry om dit sommer net weg te smyt. Maar vandag is ek dankbaar ek het voet by stuk gehou, anders het ek dalk nie weer vir Lisa raakgeloop nie.
My hart hamer nes die eerste dag toe ek haar gesien het. Sy het so broos gelyk. Dewald het heeltyd oor haar gehover en my nie eens behoorlik kans gegee om met haar te praat nie. En toe ek oor haar uitvra, het almal die onderwerp verander. Megan, Stefan se sus, het skelm vir my haar nommer gegee.
Desember het ek net oë vir Megan gehad, maar sy het haar hart op Dewald verloor. Waaroor ek nou baie bly is, want Lisa is die een vir my. Sy weet dit natuurlik nog nie. As ek myself net sover kan kry om haar te bel, maar sy ken my nie eens nie. Wat sê ek vir haar?
Dis ’n eerste vir my. Ek het nooit gedink daar sal ’n dag kom dat ek nie weet wat om vir ’n meisie te sê nie. Ek’s bang ek sê iets verkeerds en skrik haar af. Al wat ek sover kon doen, is om Lisa op ’n afstand te bewonder. En lyk my ek het haar nou goed die skrik op die lyf gejaag.
Liewer nie, dink ek weer aan haar antwoord. Wat is dit veronderstel om te beteken? Is ek so aaklig dat sy nie eens koffie saam met my wil drink nie? Kon sy nie net gesê het: Nie vandag nie of Dalk ’n ander keer, maar die meisie van my drome het sommer net besluit glad nie.
Ek kyk hoe Lisa afbuk om haar fiets se slot oop te sluit. Sy kyk senuweeagtig om haar rond. Hel, ek moet seker wegkyk. Ek staar oop en bloot, maar ek kan dit nie help nie. Sy is die mooiste meisie wat ek in my lewe gesien het. Haar blonde hare hang tot in die middel van haar rug. En daardie lang bene van haar gee my die wildste gedagtes.
Ek skud my kop. Die volgende oomblik kyk Lisa my in die oë. Uitgevang. Sy frons voordat sy op haar fiets klim en wegry. Fantasties. Nou dink sy seker ek’s ’n stalker.
Ek draf na my kar toe sonder die vitamiene wat ek wou kom koop het. Agter die stuurwiel kyk ek of ek nog vir Lisa sien. Sy ry uit die parkeerarea en ek besluit om haar te volg. Iets wat ’n regte stalker sou doen, sê my gewete vir my.
Ek glimlag net. Lisa Malan maak my nuuskierig, of dalk eerder mal. Sy laat my dinge doen wat ek normaalweg nie sou nie, maar noudat ons paaie weer gekruis het hier op Stellenbosch, kan ek haar nie weer deur my vingers laat glip nie.
Stadig ry ek ongesiens agter haar aan. Sy ry al hoe vinniger. Asof iets haar jaag. Weet sy ek volg haar?
Verdomp, sy kyk so rond, amper ry sy reg voor ’n kar in. Die ou swaai gelukkig betyds uit en mis haar voorwiel net-net. Hy lê op sy toeter. Sy waai net verskonend vir hom.
Lisa draai by ’n bekende gebou se hek in.
Dis waar die Elizabeth Galloway-studente bly.
Ten minste het ek een geheim oor haar ontrafel. Lisa swot mode-ontwerp.
Nou om die res oor haar uit te vind. En ek wil alles weet.