Читать книгу Tienerharte 4: Hartsnaar - Cecilia Steyn - Страница 6
Noah
ОглавлениеVoor Sophia-hulle se huis staan haar ma se indrukwekkende roostuin nou blaarloos. Die takke uitgestrek soos voëlverskrikkers hier op Val de Vie. Die bergtoppe waarin die landgoed toegewikkel lê hier in die Paarlvallei is al spierwit van die sneeu.
As dit nie was vir die fynbos, wingerde en wild nie, sou ’n mens kon dink jy’s in Kentucky, Amerika. Met die perdestalle, polo-ponies en die statige wit huise voel dit soms so. My ouers het glo hiernatoe getrek vir my onthalwe, sodat ek ’n gebalanseerde lewe kan hê. Ek dink dis die storie wat Pa vir Ma gespin het omdat hier ’n gholfbaan van wêreldklas is.
“Ons is eintlik mal om in die koue te draf,” kom Sophia se stem soos ’n vrolike melodie die paadjie afgesweef. Ek glimlag soos ’n idioot. Iets wat ek deesdae doen wanneer ek haar sien. Haar opgewekte stem het seker met haar goeie nuus te doen. Dis al wat haar boodskap gesê het. My grootste vrees is dat sy vir my gaan sê sy’t iemand ontmoet. Ek is Soph se skouer om op te huil as haar verhoudings nie uitwerk nie. Ek is dáái ou.
“Ons ís mal. Ek dink ons moet eerder in die huis gaan sit en couch potatoes word.” Sophia skreef haar oë vir my en my hart klop ’n deuntjie van sy eie.
Ek is verlief op Sophia. Sy is die mooiste meisie ooit. Maar hoe creepy is dit wanneer jou lewenslange pel nou skielik verlief is op jou? Daarom mag sy liewer nie weet nie.
“Jy weet ons doen dit eintlik vir jou. Dis al hoe ’n mens jou agter daardie laptop uitkry. Buitendien, oefening is goed vir ’n mens.”
“Sê wie?” spot ek. Ek weet Soph bedoel goed en ek sal enige tyd vat wat ek alleen saam met haar kan kry.
Sophia het ’n pienk hoodie met ’n ritssluiter aan en een van daardie stywe oefenbroeke wat my gek maak.
Sy buk en raak haar tone om op te warm. Haar gespierde bene is duidelik sigbaar. Ek sluk vinnig ’n kreun voor ek wegkyk. Begeerte resoneer deur my lyf soos die klank van my viool se snare wanneer ek daaraan pluk. Voor Januarie sou ek nie eens aan Soph en mooi bene in dieselfde sin gedink het nie, maar nou is dinge anders. My gevoel vir haar het oornag verander. Eintlik net in ’n middag.
Ek moes foto’s van haar neem. Sy het so flippin sexy gelyk in daardie rooi tutu. Ek kon nie wegkyk nie. Deur die kamera se lens was elke spier duidelik sigbaar. Haar fyn, lang arms, haar sexy bene. Swaar grimering. Ek moet eerder nie nou daaraan dink nie …
Blitsvinnig verskuif ek my blik na haar ore. Sy het die oulikste pers earmuffs aan. Toe sy weer regop kom, gryp sy my T-hemp se soom. Haar kneukels raak liggies aan my maagspiere en my hart mis ’n slag.
“Seriously?” vra sy vir my.
Op my hemp staan I know HTML (how to meet ladies). Haar lag klim ’n oktaaf hoër voordat sy ’n sagte snorkgeluid maak. Ek trek spesiaal vir Soph die hemde aan, net om haar te hoor lag.
“Wat?” vra ek. “Dis mos waar.” Ek knipoog vir haar. Net jammer sy sal niks daarvan dink nie. Vir haar is ek net nog een van haar broers. Hel weet wat Estian en Markus aan my sal doen as hulle moet weet waaraan ek deesdae dink as ek vir Soph sien. Nie dat hulle hulle hoef te bekommer nie. Van meisies vry weet ek absoluut niks. Ek het nog nooit eens ’n meisie op ’n date gevra nie, wat nog te sê een gesoen.
Toe Sophia begin draf, kyk ek betower hoe haar swart poniestert heen en weer swaai. My vingers jeuk om daardeur te trek. Haar agterstewe pas perfek in die stywe oefenbroek wat sy aanhet en ek kyk liewer na die berge in die voorgrond. Hoe lank gaan ek dit nog kan hou om so naby aan haar te wees sonder dat ek aan haar vat soos ek graag wil?
“Gaan jy my nou jou nuus vertel?” vra ek en begin ook draf.
“Ek gaan, maar nie hier nie.” Sy kyk verleidelik oor haar skouer na my. “Kom jy?” vra sy met ’n giggel.
Sophia dans deur die lewe op haar eie ritme. Elke ou in Gimmies beny my omdat ek en sy pelle is. Sy’s die enigste meisie wat ek ken wat versot is op Star Wars. Dracula is haar gunstelingvampier, nie Edward Cullen nie. Haar groot groen oë is my gunstelingplek op aarde.
Van die ouens in my klas het al vir my gesê hulle wil ook só ’n pel hê. As hulle net weet watse torture dit is. Ek wens ek het die guts gehad om haar te vertel hoe ek regtig oor haar voel, maar ek wil nie ons vriendskap opdinges nie. As ek weird raak, is dit presies wat sal gebeur.
Ek val langs haar in terwyl ons verby die speelgrond draf. Op die swaaie is ’n outjie besig om ’n dogtertjie te stoot. Hulle lyk na goeie maats.
Toe ek en Sophia klein was, het ons saam boom geklim. Sy het saam met my karretjies gespeel en ek saam met haar pop. Ons teepartytjies was epic. Ons ma’s was vriendinne van skooldae af.
Toe my ma vroeër vanjaar met kanker gediagnoseer is, wou Sophia haar hare sowaar afskeer. “Hokaai,” het ek vinnig gekeer. Al is dit vir ’n goeie cause. Hel, ek wil nog eendag my vingers daardeur trek … Toe skeer ek my kop kaal om haar tevrede te stel.
Sy slaan my teen die skouer. Toe ek opkyk, beduie sy in die rigting van die kinders. “Kyk daai twee,” sê sy.
Ek lag. “Nes ons.”
“Jip. Sy’s ’n gelukkige meisie, nes ek.”
My hart sing in my lyf oor die kompliment.
“Kom ons stop gou hier, dan praat ons.” Vir ’n oomblik klink haar stemtoon heeltemal te ernstig. Dit maak my skrikkerig.
Ons gaan sit op die bankie langs die speelgrond.
Ek draai na haar. Sy kyk weg in die kinders se rigting. Sophia vermy altyd iemand se oë as sy hulle iets moet vertel wat hulle gaan seermaak. My hart sak in my skoene.
“Ek het vandag ’n e-pos gekry. Hulle wil weet of ek nie tog die somerskool wil heroorweeg nie,” sê sy en haal haar skouers op. Sy wag vir my reaksie. Toe sink haar woorde in.
“Londen? Die Royal Ballet School?” vra ek na ’n paar sekondes. Ek trek my asem verlig in. Dankie tog dis nie ’n ou nie!
“Jip.” Sophia se mooi mond trek op in ’n kurwe. “Ek’s so opgewonde. Dis een klein stappie nader daaraan om eendag ’n prima te wees. Maar ek voel sleg omdat jy nie ook sal kan kom nie.”
“Dis fantastiese nuus, Soph!” Ek kan die geesdrif in haar oë sien. Voor ek kan keer, slaan ek my arms om haar nek. Haar sagte kurwes druk teen my lyf en ek wonder of sy kan voel hoe my hart uit ritme klop.
“Gee jy regtig nie om nie? Ek meen, dit was ons albei se droom.”
“Nooit! Jy maak my al vir jare gek hieroor. Ek sal kwaad wees as jy die kans kry en nie gaan nie. Ek kon nie verstaan hoekom jy jou aansoek gekanselleer het nie.”
“Want ek wou nie sonder jou gaan nie.”
“Jy kan regtig. Ek gun jou dit.”
“Belowe?” vra sy en hou haar pinkie vir my.
“Belowe.” Ek vou my pinkie om hare nes toe ons klein was.
“Dankie, Noah!” sê sy en trek my nader. Sophia soen my vlugtig op my wang. Ek dink nie ek wil ooit weer my gesig was nie. Dis die beste dag ooit. Behalwe vir die feit dat ek haar vir twee weke nie gaan sien nie, maar daaraan gaan ek nie nou dink nie.
Sy staan op en begin weer draf. Ek val langs haar in.
“Dit sal my ook baie help met die voorbereiding vir my solo-seël eksamen,” begin sy weer uitasem praat. Dis al wat nou in Sophia se kop aangaan en dis dalk goed so. Dit koop my ’n bietjie tyd om die moed bymekaar te skraap om haar te vertel hoe ek oor haar voel, voor sy iemand kry in wie sy dalk belangstel. “Wie weet, dalk kry ek ’n voet in die deur en kan ek volgende jaar in Londen by die geselskap aansluit.”
Ek en Sophia beplan die ding al saam vandat ons die idee in ons koppe gekry het. Dié jaar toe ons uiteindelik inskryf, was dit soos ’n hou teen die ribbes toe my ma skielik siek word. Wie sou Ma help as Pa nie daar is nie? Al sou dit net vir die week of twee wees wat die spesiale somerskole aangebied word.
Dit wat ’n mens daar kan leer is ontsettend waardevol. Maar ek sou gaan omdat Sophia wou gaan. Musiek is nie heeltemal wat ek met my lewe wil doen nie. Wat ek eintlik wil doen, is om die mees asemrowende rekenaarspeletjie te ontwerp wat die mensdom nog gesien het.
“Wanneer gaan jy?” vra ek, te bang om die antwoord te hoor.
“Die eerste twee weke in Julie.”
“Dis oor drie weke.”
“Ek weet nog nie of ek definitief gaan nie, ek moet nog my ma-hulle sê. Jy weet hoe is sy. En ek sal moet aansoek doen vir ’n noodvisum.”
Sophia se ma beter haar net toelaat. Maar as tannie Lien haar sin kry, sal Sophia eendag ’n dokter word.
“Wil jy nie maar by wees as ek hulle vra nie? Jy weet, safety in numbers. Dit sal dalk help dat my ma nie haar toys uit die kruiwa gooi nie. Dalk oorreed jou charming persoonlikheid hulle.” Haar groen oë pleit by my.
“Sure. Ek sal jou hand kom vashou.”
“Dankie, Noah. Jy’s die beste pel,” sê sy en stamp my teen die skouer. Pel. Hoekom haat ek die laaste paar maande daardie woord? Sophia trek met ’n spoed weg, met my agterna. “Laaste by die stalle is ’n buckethead!”
Ons draf deur die fynbos op die paadjie wat al langs die rivier verby die wingerde kronkel. ’n Skielike gil laat my opkyk. Dis Soph. Voor haar is ’n karamelkleurige perd. Die dier lig sy pote en Sophia gee vinnig ’n tree agteruit. Reg teen my vas. Ek vou my hande om haar bo-arms om te keer dat sy nie val nie. Sy sit haar hand teen haar bors.
“Flippit,” sê sy.
“Is jy oukei?” vra ek.
Sy sluk hard. “Ek het net baie groot geskrik. Dis al. Ek’s oukei.”
“Hokaai,” sê die ou op die perd en trek die toom stywer. Die perd laat sak sy voorpote en skud sy kop. “Jammer, julle. Hy’t net geskrik.”
Sophia staan nou met haar hande op haar knieë om haar asem terug te kry. Sonder dat ek dink, vryf ek oor haar rug.
“Hy het geskrik?” vra ek moerig. “Ons het geskrik.” Dammit, die perd kon in ’n oogwink vir Soph raakgetrap het.
Die ou op die perd se rug skuif sy Aviators oor sy koperkleurige hare. Hy het ’n stywe swart broek aan. Die hempskraag is effens opgeslaan. Nes ’n polospeler. Dis seker wat hy is. Hy lyk ’n bietjie soos prins Harry, en skielik bars die gedagte soos ’n atoombom in my kop. Ek hoop nie Sophia sien ook die ooreenkoms nie.
“Ek’s regtig jammer,” sê hy. Die perd kou aan ’n grashalm wat langs die paadjie groei.
“Wel, hierdie is ’n voetpad, dis nie vir perde nie,” sê ek steeds vies.
“Ek sê mos sorry.” Die ou skud sy kop effens nukkerig, nes sy perd. “Sê asseblief vir my hierdie is nie jou ou nie?” Hy gluur na my voor hy na Sophia kyk en glimlag.
“Natuurlik nie,” sug sy. Sy steek sowaar haar hand uit en vryf die perd se kop. Verdomp.
“Dis my pel, Noah, en ek is Sophia.”
Die ou hou sy hand vir Soph. Sy vat dit sowaar.
“Hi,” sê sy en gee ’n senuweeagtige laggie. Dit kan nie goed wees nie. Soph is nooit op haar senuwees as dit by ouens kom nie.
“Hi. Ek is …” As die ou sê Harry, gaan ek net hier ’n kat skiet. “Liam.” Dankie tog. “En dié is my goeie vriend, Chewbacca.”
Ek sien hoe Sophia se oë ophelder. Dit lyk skoon lemmetjiegroen van waar ek staan.
“Wat ’n cool naam. Ek’s mal oor Star Wars,” glimlag sy.
“Ek ook,” sê Liam. “Chewbacca is my favourite karakter. Wie’s joune?” Vir ’n oomblik kyk hy stip na haar.
“Rey,” sê sy. Liam knik en kyk nie weg nie.
“En ek’s mal oor R2-D2,” chip ek vinnig in. “Kom, Sophia. Jou ma gaan bekommerd raak en ons moet nog gaan Fisies leer.”
Ek vat haar aan die hand toe sy net bly staan. En sy skrik wakker asof sy in ’n trans was. Dis nie cool nie.
“Ons moet gaan,” sê sy. Ek begin solank draf, maar draai om toe ek agterkom sy staan nog.
“In watter skool is jy?” vra Liam vir Sophia.
“Paarl Gimnasium.” Sy draai om en draf agteruit om seker nog ’n kyk van die ou in te kry. Blikskottel. Dis ’n gemors.
“Baai, Sophia!” roep Liam toe hy met die sonsondergang begin weggalop.
“Sjoe, hy lyk nes prins Harry. Het jy hom al voorheen hier rond gesien?” vra sy toe sy weer langs my inval. Groot gemors.
“Nee, nog nooit gesien nie.” Ek sluk harder as wat ek moet.
Ek sal net vir Sophia moet sê hoe ek oor haar voel voordat sy weggaan, en voordat sy weer vir Liam raakloop. Dis te sê as ek die moed bymekaar kan skraap.