Читать книгу Tienerharte 4: Hartsnaar - Cecilia Steyn - Страница 9

Sophia

Оглавление

“En as die tafel so mooi gedek is?” Pa soen my op die wang en sit sy dokterstas op die ou riempiesbankie in die eetkamer neer. Ek skuif die messe en vurke vir oulaas reg. Die kaggelvuur kort hout. Vinnig prop ek nog ’n paar stompe in. Alles lyk perfek vir my paai-sessie.

“Ek het iets om julle te vertel,” sê ek en haal my skouers vrolik op. As ek hulle almal in ’n goeie bui kan kry voor ek die nuus breek, sal dit dalk help. Toe ek vir Ma sê ek het nuus, het sy in die kombuis begin woel en werskaf. Sy neurie selfs. Dit maak my op my senuwees. Haar opgewondenheid is dalk omdat sy dink ek’s by een van die universiteite hier vir medies aanvaar.

Toe die voordeurklokkie lui, spring ek op. Dit is seker Noah. Vandag toe hy aan my been gevat het, het sy hande net so … lekker gevoel, nes ek gedink het dit sal. Ek skud my kop. Wat dink ek tog? Dat dit lekker was? Nee, genade.

By die voordeur is dit nie Noah nie, maar Markus. “Hi,” sê hy met ’n bottel sjampanje in die hand. “Ek hoor ons het iets om te vier.” Hy lig die bottel en glimlag. Wat op aarde? Agter hom kom Lisa en Estian ook aangestap. Is dit Ma se toedoen?

My maag maak skielik ’n draai. Hier kom moeilikheid. Nou het ek ’n skare toeskouers terwyl ek die moeilikste ding in my lewe moet doen. Ek het gehoop dis net ek en Noah wat saam met Ma en Pa gaan eet. Maar dalk is dit goed so. My broers is nog altyd aan my kant. Dalk kan hulle help as Ma … Nee, Sophia, moenie so dink nie! Miskien aanvaar sy dit maklik. Sy hou darem al van Lisa. En dit sê baie.

“Kom in, julle.” My stem kraak effens.

“Moenie toemaak nie,” hoor ek Noah se stem agter hulle. Dankie tog. Wat sou ek ooit sonder hom doen? Hy druk my arm sag toe sy wenkbroue vraend lig. Is hy nou ook bekommerd, nes ek?

“Sterkte, Soph,” sê hy en ek sluk teen die knop in my keel.

“Kom sit sommer aan,” roep Ma vanuit die kombuis.

By die tafel sit ek oorkant Noah. Sy blonde hare is netjies met ’n paadjie na die kant gekam. Sy blou T-hemp loer onder sy grys hoodie uit. Was sy oë nog altyd so kobaltblou? Noah sien ek kyk na hom en skuif sy bril hoër teen sy neus op. Die woorde in wit letters op sy hemp laat my glimlag. Never trust an atom, they make up everything. Noah lyk soos ’n soet seun. Iemand wat enige pa by sy dogter sal toelaat. Nee wat, vandag toe hy aan my bobeen gevat het moes per ongeluk gewees het. Noah sal nooit so iets aspris doen nie.

Die sjampanjeprop wat Markus laat skiet, ruk my terug na die aaklige taak voor my. Hy skink vir almal ’n bietjie. As hy geweet het wat my nuus is, sou hy nie so vinnig gewees het om die bottel oop te maak nie.

Toe ma haar vurk teen die rand van haar glas klingel, sak my moed in my skoene. Hier kom dit …

“Dankie dat julle gekom het. Ons klein Sophia word so vinnig groot en vandag het sy uitsonderlike nuus gekry. Ek is seker sy sal my vergewe, maar ek kon my nuuskierigheid nie hou toe sy sê sy het nuus nie. Ek het na haar e-pos geloer en gesien dis iets waarvoor ons al so lank wag. Sy is by haar pa se alma mater aanvaar! Geluk, Sophia. Ek en jou pa weet sommer jy sal ons trots maak.” Ma lig haar glas.

Almal se gelukwensings raak hol klanke in my ore. Wanneer is ek vir medies aanvaar? Noah raak liggies met sy voete aan myne. Asof dit genoeg is om my nou te troos. Dit voel of ek nie suurstof kry nie. Nes toe ek klein was en asma gehad het.

Ek vryf oor my seer nekspiere. Die e-pos moes seker vandag gekom het. Ma wou niks weet toe ek aan die begin van die jaar vir haar probeer verduidelik ek wil nie ’n dokter word nie. Gelukkig het ek ’n ander e-posadres geskep toe ek aansoek gedoen het by die Royal Ballet School. Een met ’n wagwoord.

Ek trek my asem diep in en spring op. Die stoel se pote skree toe dit oor die teëls skuur. Ek hou my hand in die lug om die gelukwensings te stop. Hoe gouer ek my eintlike nuus met almal deel, hoe beter.

“Hoewel dit wonderlike nuus is, is dit nie die nuus wat my so opgewonde het nie.” Die stemme om die tafel raak stil. My oë kry Noah s’n. Hy knik. Sy blou oë wat agter die bril uitloer, is gerusstellend. “My nuus is dat my droom om by die Royal Ballet School in Londen te gaan dans, waar kan word!” sê ek met entoesiasme in die hoop om almal op te sweep. “Ek is aanvaar vir hulle somerskool. Dis net vir twee weke. In ons skoolvakansie nogal. Is dit nie fantasties nie?” Ma trek haar asem skerp in. “Pa en Ma moet net ja sê en die toegangsfooi betaal.” Ek byt my lip onseker.

Pa spring op en druk my styf teen hom vas. “Geluk, my kind. Dis wonderlik,” sê hy. Ek sien hoe kyk Markus en Estian na mekaar.

“Dis oor drie weke,” sê Ma verbyster. “Hoe gaan jy binne drie weke ’n visum kry?”

“Natuurlik kan jy gaan, Sophia,” sê Pa. Hy soen my op my kroontjie. Ma se oë blits soos messe in sy rigting, maar hy ignoreer haar. “Daar’s gelukkig iets soos ’n prioriteitsvisum, Lien. Hoe dink jy maak die rugbyspelers wat op kort kennisgewing Engeland toe moet gaan?”

Ma klik haar tong en vou haar arms. “Onder geen omstandighede nie, Rupert. Dink jy nie ons moet eers hieroor praat nie? Wil jy nou sowaar jou dogter, wat ’n maand gelede ontvoer is, stoksielalleen op ’n vliegtuig Londen toe stuur?”

“Ma, Soph sal oukei wees.” Markus vat haar aan die arm om haar te kalmeer. Sy ruk los.

“Nee, Markus, sy sal nie oukei wees nie. Sy het winterskool. Sy’s in matriek!” Ma gryp haar bors vas en gaan sit weer. “Ek sal dit nie toelaat nie. Jou toekoms as dokter is baie belangriker as jou ballet, Sophia. Jy kan nie ’n lewe daaruit maak nie. Wanneer gaan jy dit in jou kop kry? Ek moes dit jare terug al stopgesit het.”

“Lien,” sê Pa kwaai. “Dis nou genoeg.”

“Wanneer het jy aansoek gedoen? Hoe het jy aansoek gedoen?” karring Ma steeds. Haar hande bewe. My oë flits vir ’n oomblik na Noah. Daar’s nie ’n manier hoe ek hom in die moeilikheid sal laat beland nie.

“Dis nie belangrik nie, Ma,” sê ek. “Ma sal nooit verstaan wat dit is om ’n droom te hê nie. Ma is die een wat altyd sê mik vir die sterre.”

“Verstaan ek nie? Wat ek verstaan, is dat daar baie kinders is wat alles vir daardie mediese keuring sal doen, juffroutjie. Kinders wat dit graag wil hê.”

“Nou laat hulle dit kry! Ek wil nie ’n dokter word nie. Ek wou nog nooit. Ek kan nie eens na bloed kyk nie, dan wil ek omkap.” Arme Noah en Lisa. Hulle het front row seats vir Ma se tantrum. Ek moes nooit vir Noah so by ons familiedrama ingesleep het nie.

“Sophia …” sê Ma, maar Pa keer haar.

“Ek sê mos dis nou genoeg, Lien!”

Estian staan op en gee my ’n druk. “Geluk. Ek het nog altyd geweet jy kan. Gaan wys daai klomp Engelse hoe ’n mens eintlik dans, sus.”

“Dankie, Estian.” Ek is so dankbaar vir die res se ondersteuning.

Ma storm met die trappe boontoe. Met ’n slag slaan haar kamerdeur toe. ’n Stomp skuif in die kaggel en maak ’n klapgeluid. My skouers ruk soos ek skrik.

“Sy sal oukei wees,” sê Pa. “Estian, Noah, help gou vir Lisa – kry julle die kos dat ons kan eet.” Toe hulle opstaan, sê Pa weer: “Jy sal net moet seker maak jou punte is baie goed. Anders sal ek nooit die einde hiervan hoor nie, Sophia.”

“Ek sal, Pa. Ek belowe.” Ek sit my arms om sy nek en soen sy wang.

“Is jou paspoort in orde?” vra hy. Ek knik. “Bring later die bankbesonderhede na my studeerkamer. Ek betaal dit sommer nog vanaand vir jou oor. En dan sal ons Maandagoggend gou aansoek doen vir daardie visum.”

“Dankie, Pa.” Ek druk hom weer styf vas. Die ergste is verby. Of is dit?

Tienerharte 4: Hartsnaar

Подняться наверх