Читать книгу Tienerharte 4: Hartsnaar - Cecilia Steyn - Страница 7
Sophia
Оглавление“Wat maak jy?” vra ek skoon verward toe ek en Noah gelyktydig aan my sak se band vat. Ons het nou net Fisies geskryf. Hy raap my sak op en gooi dit oor sy skouer. Ek kyk senuweeagtig rond. Wat sal die ander kinders sê?
Noah is weird vandag. Vanoggend toe ek by die huis uitstap, het hy eienaardig na my gekyk. Dit het gevoel of daardie somersdagblou oë my vaspen. Ek het gedink hy kyk seker vir iets agter my, maar daar was niks.
“Ek dra jou sak,” sê hy en bly stap. Hy lyk belaglik met my swart en pienk skouersak van Pick Pocket met die groot pienk tossel op.
“Ek kan dit sien, maar hoekom? Dis mos nie swaar nie,” sê ek benoud. Noah gee lang treë en ek sukkel om by te bly.
“Dalk voel ek net heldhaftig, oukei?” Sy woorde laat my stop. “Sien dit as my goeie daad vir die dag.”
“Heldhaftig?”
“Ja, Soph, daai ding wat ’n ware gentleman doen.” Ek bars uit van die lag. Noah is ’n geek, nie ’n gentleman nie.
Toe tref dit my! Noah is verlief. Dis al wat die skielike aanval van mooi maniere kon veroorsaak.
Hy bly net woordeloos loop en kyk nie eens om nie.
Dit moes seker een of ander tyd gebeur het.
“Dink jy nie as jy ’n meisie wil beïndruk, moet jy eerder háár sak dra nie?” vra ek. Ek stamp hom met my skouer toe ek hom uiteindelik inhaal. Noah klem sy kake opmekaar en kyk na my. “Uit daarmee! Wie’s sy?” karring ek opgewonde. “Is dit Leonora?” vra ek gretig. Ek het al gesien hoe sy na hom sit en staar in Wiskunde.
Hy brom net iets en skuif sy bril hoër op teen sy neus. Ek kan nie uitmaak wat hy sê nie.
Op pad na sy kar staar die kinders ons behoorlik aan. Ek kan net dink hoe ons vir hulle moet lyk.
By Noah se nuwe swart Jeep Renegade stop hy. Dit was sy geskenk omdat hy uiteindelik sy lisensie gekry het. Dis glo een van die veiligste karre op die mark volgens sy pa. Noah is immers hulle enigste kind.
Hy hou my sak vir my.
Ons vingers raak vlugtig aan mekaar toe ek dit by hom vat. Hy pluk sy hand weg asof sy vingers aan ’n vlam geraak het. Ek byt nie, wil ek vir hom sê, maar los dit eerder. Skielik voel my lippe droog. Ek lek vinnig daaroor toe ek inklim. My arme pel het die skoot omtrent hoog deur, hy’s skoon jumpy.
In die kar maak Noah asof niks gebeur het nie.
“Hoe’t jy geskryf?” vra hy onskuldig. Ek sug. Gaan hy nou sowaar my vraag ignoreer?
“Ek weet nie, die vraag oor stroombane het my ’n bietjie gewen.” Wat ek nie vir Noah sê nie, is dat ek oor Liam gesit en dagdroom het. Toe onthou ek opgewonde waar ek al daardie koperkleurige hare gesien het. Dit was die aand by Aandklas saam met Lisa en Estian. Liam is die hoofsanger van die band wat vir Spoegwolf geopen het. Hulle naam is op die punt van my tong, maar ek kan nie onthou nie. As Noah daardie aand saam was, sou hy nou geweet het, maar dit was toe sy ma so siek was. Hulle liedjies was so cool. Ek is seker Noah sou ook daarvan gehou het.
“Jy sal nooit raai wie Liam is nie,” sê ek om die onderwerp te verander. Toe Noah by die skoolhek uitry, trap hy skielik briek. Verbeel ek my of was dit net toe ek Liam se naam genoem het?
“Wie?” vra hy. Vir wat trek Noah vandag sy mond so styf?
“Hy’s in ’n band. Die aand by Aandklas, toe jy nie kon gaan nie. Dis waar ek hom gesien het.”
“Mmph,” is al wat hy grom. “Is dit hoekom jou hare vandag anders lyk? Vir hom?”
Ek frons. Dis ’n vreemde vraag. “Dalk.” Meer as dit sê ek nie. “Iets fout daarmee?” Ek dra my hare vandag in groot los krulle wat in ’n poniestert vasgemaak is. Vir ingeval Liam dalk vandag hier by ons skool ingestap kom. Simpel. Ek weet.
Ek voel aan my ponie, maar alles is presies waar dit vanoggend was.
Noah maak keel skoon. “Nee, dis net anders as gewoonlik.”
Ek kyk deur die ruit in die kantspieël en vryf deur my kuif. Noah sit die radio aan en draai die volume harder. Een of ander klassieke musiek.
“Wanneer deel ons die goeie nuus met jou ma-hulle?” vra Noah toe ons by Val de Vie se sekuriteitshek stilhou.
“So gou moontlik, sommer vanaand. Jy kan by ons kom eet. Dan kan ons ook saam begin leer vir Chemie.” Noah se blou oë flits vir ’n oomblik weer na my voor hy skielik wegkyk. ’n Mens sou dink ek het iets verkeerds gedoen.
“Cool,” sê hy toe ons halftwaalf voor my huis stilhou.
“Ons moet net nie te laat opbly nie. Ek wil vroeg balletoefening toe gaan. Sommer ’n dubbele klas bywoon.”
Noah knik net.
“Is jy oukei?” vra ek nou regtig bekommerd.
“Ja, natuurlik. Hoekom vra jy?”
“Nee, dis sommer niks. Seker my verbeelding.” Dalk is dit iets oor sy ma wat hy nie sê nie, maar ek glo nie. Ons deel alles. Ek sal net vanaand aan hom moet karring tot ek uitvind wie die gelukkige meisie is wat my pel se hart gesteel het.