Читать книгу Kinnes - Chase Rhys - Страница 8

5

Оглавление

NICOLE

Toe ek daai oggend wakker skrik, wil ek’ie uit my kooi uit klimmie. Ek trek die komberse oor my kop en dink an allie dinge wat by die party verkeerd kan gaan. Ek gannie in fit nie. Ek ken nie eers die twins nie. Hulle is Derick se vriende, nie myne nie. Daar sal baie mense daar wees, en nie een van hulle sal met my praat nie.

My ma bring vir my scrambled eiers en ’n koppie tea. Sy’t ’n roos in ons tuin gepluk en langs my bord gesit. Sy is obviously meer excited oor die party as ek.

“En nou? Hoekom kry ek dan breakfast in bed, Mummy?”

“Vandag is ’n big day vir jou, Nicole. Is by time dat jy oek ’n bietjie ytkom. Maak jy ees jou kos klaa dan kom kyk jy die surprise wat ek vir jou gekry het.” Sy’t my present gaan haal terwyl ek nog geëet het, sy kon nie wag nie.

Toe het sy ’n groot pakkie op my bed kom neersit. “Ek het jou ’n outfit gekoep vir vanaand. En Coco kom later om jou hare uit te blow.”

Uit die pakkie haal sy soe ’n sparkly, high collar, frilly wit rok uit. Losse sequence val op my bedding.

“Nee, Mummy, ek kannie daai ansit vir vanaand nie.”

“En hoekom nie? Wiet jy hoe stunning gan jy lyk?”

“Thank you, but ek het klaar my outfit uitgesit.”

My ma gee die klere op my dressing table display ’n vuil kyk. “Waa gan jy met boring leggings en ’n dik jersey innie middel van somer? Jy moet mos nice lyk, die rok is lekke airy.”

“But ek gaan lyk soes ek trou by ’n birthday party.”

“Okay, dan jou gat oek! Hou jy maa vir jou soes ’n plain Jane. Ek sal Sondag self die rok antrek kerk toe.” Sy vou dit weer op en druk dit terug innie sak.

My ma hettie hele oggend op my nerves gewerk met al haar questions.

“Nou wie is die nuwe vriende wat jou na ’n party toe invite het? Drink hulle? Wanner kom hulle visit? Waar bly hulle? An watse congregation behoort hulle?”

Ek was dankbaar toe sy finally three o’clock vannie huis af loep vir haar choir meeting. “Oh ja, ek het Coco se geld innie spicekas gesit.”

Coco was laat, ek het self my hare gewas. Sy’t eers past five angekom, haar peroxide-hare het wild gestaan. “Sorry, baby, ek is nou net klaa met ’n anne customer. They got a pitbull by their house. En my client is self bang virrie hond. Ek moet nou vi haa broe gewaggit om hys toe te kom ommie hond agte te sit. Jou ma sê vi my ek moet jou mooi maak vir ’n party? My anne client gan oek na ’n birthday vanaan. Ek dink issie selle party soes joune. Daa byrie twins mos, nuh? Hulle’t mos ’n pool daa, ooh ek is jelly, ek wens ek kan saamgan, ek was lanklaas by ’n lavish event.”

“Hi, Coco. Come in.”

“Thank you, baby, ooh ek sien jy’t klaa jou hare gewas, fabulous girl. Nee, die jol klink soesit ’n groot ding gan wies, nuh. As ek nou net ’n bietjie jongere gewiesit sal ek saam gegatecrash het. My client sê dan nou vi my daas ’n DJ en ’n stage en live performances en alles. En apparently hettie mense kiste, kiste biere gekoep. Ooh, ek lus nou vir ’n koue een. Het julle niks hie nie? Ooh ja, ek vegiet dies mos ’n holy house. Wanne kô jou ma trug? Het julle ’n two-prong plug vi my hairdryer?”

Coco praat baie, sy is loud, hectic. Elke keer as sy an my kop raak, het ek haar energy opgetel. Toe sy klaar met my hare was, het ek gevoel ek vibrate.

Ek was ready. Ek het alleen innie voorkamer gesit ennie clock oppie muur dopgehou. Ek het myself opgewerk vir hoe vinnig die tyd loep. Ek was soe anxious om party toe te gaan. Ek kon voel hoe klop die fear van my hart af en skiet op in my bors. Op na my keel waarit vassit totdat ek verstik. Die Fear versprei oor my gesig, maak my oë traan. Dan drop dit vinnig, gaan weer deur my bors en pool in my longe. Ek kan net na asem snak.

Toe my ma die voordeur oepemaak, het daar ’n breeze innie huis gewaai, my jersey het vas an my arms gestick. Ek het regdeur my top gesweet, die wol was nat.

“Haai, nee man, Nicole. Kyk hoe’t jou hare alwee gemince. Weet jy hoeveel ek vir Coco betaal het? Jy waste mos nou my geld.”

Die tyd virrie party het gekom but ek kon myself net nie buite kry nie. Ek hettie heeltyd my oë vir myself gerol, en hard gesug. Ek het geweet ek disappoint vir Derick.

“Het die party nie al lankal beginnie? Het hulle gesê hulle gan jou kom optel?”

“No, Mummy.”

“Nou vi wat wag jy? Kom, ek loep saam jou na die party toe, jy moet net confident wies wanne jy daa inloep, jy groet vi ammel, especially die mense wat jy nie ken nie. En smile –”

“Mummy, just leave me alone, please.”

“Excuse me! Met wie dink jy praat jy? You’re suppose to leave me alone tonight, maar hie sit jy nog altyd, soes ’n nat kat in my voorhuis. Soe baie moeite gedoen vi jou vi vanaand en jy wys my jy gooirit net soe trug in my gesig.”

My ma het die voorhuis se lig afgesit en haar kamerdeur hard agter haar toegeklap. Ek het in die donkerte bly sit.

Maandag by die skool het almal gepraat vannie rap song wat Derick by die party perform het. Die popular group in ôsse skool het my daai oggend innie passage surround. Hulle’t nog nooit met my gepraat nie. Dit was nogals overwhelming.

“Nicole, where were you then for the rap?” Tammy was besig om haar skool skirt om te rol soedat dit korter kan sit. “Hy’tie song vi jou gededicate.”

Rolanda was oek daa innie bondel. “Did you see the video?”

Ek het my kop geskud. Rolanda Angelique Fisher dink sy is ’n Cape Kardashian met haar steil hare; sy het geen filter nie. Ek het al eenkeer gehoor hoe sy vir ’n teacher sê haar neus is te lank om soe bushy eyebrows te het, sy moetit reg pluck, wantit lyk soes pubic hair.

Rolanda se lang naels het clicking sounds op haar phone gemaak. Sy’t die screen sideways gedraai en dit voor my gesig gehou.

Daar staan Derick, in ’n wit vest en swart skinnys. I didn’t know he had such big arm muscles. Die lig skyn op sy kep en die shadow cover die boenste helfte van sy gesig, net sy lippe steek uit. Die twins staan in position om te dans agter hom, koppe gesak en hande voor hulle gevou. Klein groen disco-dotjies vlieg oor Derick se liggam.

Daar is ’n stoel langs hom. “I’d like to dedicate this song to a very special girl. Ek’tie song vi haa geskryf. I’d like to bring her up here to join us on stage.”

Hy vee die stoel af. “But she’s a little shy so I need everyone to cheer om haa comfortable te lat voel. Ladies and gentlemen, please welcome Nicole Lamb.”

Die mense innie audience klap hanne, but die camera skud soes Rolanda lag. Ek dink nie Derick kan gesien het met die strobe lights wat in sy oë skyn nie.

“Nicole, don’t be shy. Come up.”

Die video het my hart laat sink. Ek het op my tong gebyt om die pyn êrens anders te voel. Lameez is nou oppie screen, haar rooi bra steek uit deur haar lace top. “She’s not here!” skree sy.

Rolanda se stem echo: “Sy issie hierie!”

“Now start the song!” Lameez se nasal stem op die video het my ore seer gemaak. “You can mos dedicate it to me. Moet ek oppie stage kom sit?”

“Oooh!” Die crowd hou van daai idee, but Derick smile net, skud sy kop en dra die stoel affie stage.

Toe beginnie DJ die song, en die twins doen hulle choreography. Hulle twerk basically net regdeur die song. Hulle twerk op alles: oppie vloer, op mekaar, op Derick, even onderstebo teen die muur. I mean, they are good, but hulle moves gannie mettie song ie. It is a love song. Every line rhymes with my name. Die way Derick sy heupe met die beat move is ansteeklik. Hy sing die chorus: “I love you, Nicole, please show me your soul.”

Ek het na die screen gekyk en gesmile.

“Okay, that’s enough, die teachers confiscate nemma wee my phone.” Rolanda het haar phone weggetrek ennie video afgesit.

Ek wou nog anluister. Lameez het met ’n oep mond haar bubblegum gekou, en my van kop tot tone bekyk met ’n frons op haar gesig, asof dit die eerste keer in haar lewe was wat sy my sien. “Nou koppel jy en Derick?”

“Kom Nicole, spoeg ôs nat! Hoe lang speen julle twie dan?” Rolanda het ’n strand of hair wat an haar lipgloss vassit afgetrek.

Ek hettie geweet wat om te sê nie. Ek het senuweeagtig gegiggel. Lameez het ’n bubble geblaas, die hele gang het vir ’n sekonde soes watermelon geruik.

“Ek kannie gloe is nogals jy wat hom soe weg van sy vrinne hou ie.”

Aisha het na asem gesnak asof sy ’n groot discovery gemaak het. “Yoooh, is waa, nuh, ôs sien hom’ie meerie.”

Ek het gevoel hulle staan bo-op my. Keanu was hier in my gesig – die enigste ou in die popular girl crew. Hy is die ergste, hy is viscious met ’n insult.

“Ooooooh,” rek hy mos soes altyd sy woorde uit as hy praat, “ôs het wee vegiet. Die niggie is mos ’n sturvy girl, sy gannie nog met ons wil gayle ie, sy kappit mos net stil. Ek wonne net as sy met Derick innie bedroom oek soes Mr Bean is.”

Die girls het gelag en vir Keanu high-fives gegee. Ek het saam hulle gelag, en eers agterna kwaad geraak.

“Ek en Derick is net vriende.”

Ek het vir Keanu uit die pad uit gestamp met my skouer. Ek kon hulle agter my hoor, hulle’t gegil vannie lag.

Lameez het nog geskree: “Haai, where you going, Nicole? Ôs kan jou tips gie, some of us know what Derick likes!”

Derick wassie by die skool daai dag nie. Interval het ek alleen innie library gaan sit.

Innie klas het die kinders heel oggend na my gepoint en met mekaar geskinner. Ek kon nie al die oë op my handle nie. Ek het na die skool-secretary, Charmaine, gegaan. Sy het my ma gebel.

“Ja, Aunty Carol, sy sit nou hie innie kantoo. Nee, sy lykie te bad ie …”

Ek’t in haar oë gekyk en gemaak dattie smile stadig van my gesig verdwyn. Ek het my oë agtentoe gerol, my kop gesak en dit effens geswing.

“Ja, Aunty Carol. Sy’t gesê sy’t ’n kopsee but sy lyk eintlik ’n bietjie gesyp, to be honest.”

Miskien het ek te veel angesit? I’m not used to lying to people. Ek het my duime boe my temples gevryf.

“Nee, ek joke maa net … Nee, sy rykie soes wynie … ek bel maa net wan dies die eeste kee wat ek kan onthou dat Nicole sê sy’s siek, en sy’s mossie ’n kin wat ansit- tie … Ek dinkie sy kannie skooldag klaamaakie. Kan ieman vi haa kom optel? Okay, ek sal haa sê. Goodbye.”

Ek kon nie vir Charmaine in haar gesig kykie. Sy’t my opgehelp. “Kom, jou ma sê jy moet hys toe loep. Sy issie nou innie skiemie. En sy sê jy moet soelank die hoene ythal, wan sy gan vi jou sop maak.”

Daai aand sit ek innie lounge en sukkel om innie hitte die warme bak chicken soup te eet. My ma maak dit altyd wanneer ek siek is, maak nie saak watter kwaal ek het nie. Sy was innie bad en sy’t haar kerse en Sade Greatest Hits-CD saam haar badkamer toe gevat. Ek het geweet sy gan lank wees. Die ruik van die lavender-kersie wat sy angesteek het, was soe overwhelming ek het net laventel geproe toe ek die sop eet.

Ek het kombuis toe gegaan om dit af innie drain te gooi voor my ma klaar was. Toe iemand skielik aan die voordeur klop, skrik ek en my bak val in die zinc. Die sop spat orals op die counter.

My ma skree vannie bad af: “Nicole, is jy alright?”

“Yes, Mummy, I’m just washing up.”

“Het jy soe vinnag klaa geëet?”

Daar is niks lappies om die sop op te vee nie. Ek moet my hanne gebruik.

“Yes, Mummy, the soup was so nice, thank you.”

Iemand klop weer annie deur. Wie sal dan nou dié tyd vannie aand kom visit? As dit een van my ma se kerkmense is, kan hulle wag. Ek tap koue water en druk met my vingers die stukkies hoener en mielies in die drain af. My hanne is nog nat toe ek die voordeur oepmaak.

“Derick!” Ek is soe bly om hom te sien dat ek harder praat as wat ek wou. Ek sit my hanne oor my mond.

My ma skree vannie badkamer af: “Huh? Wat sê jy?”

“Niks, Mummy.”

Derick haal ’n stuk hoenervleis van my wang af. “Good evening, Nicole.”

Dit wassie eerste keer wat ek vir Derick sien met ’n bietjie van ’n moustache. En sy borshare het by sy wit vest uitgesteek. Ek het af na sy bene gekyk, hy’t shorts gedra en sy bene was net soe vol hare. Derick is rêrag ’n mooi man. Toe onthou ek ek staan daar in my gorilla slippers en ’n ou nighty. En oh my word, ek hettie geskeerie.

Ek maak die deur ’n bietjie toe en steek my liggam daaragter weg. Ek praat saggies but vinnig: “Derick, jy wassie by die skool vandag nie. Ek het vir jou gesoek. Wat maak jy hier? As my ma nou uittie bad kom en sien my boyfriend staan hier, gaan sy haar kop verloor!”

Derick het sy oë wyd gerek. “Boyfriend?”

“As sy enige man by haar huis sien, especially after dark, dan gaan sy –”

“I like that. Boyfriend sounds nice!”

Hy’t obviously nie gerealise in hoeveel danger hy actually was nie. “Derick, ek is serious! Jy kannie hier wees nie, my ma gaan –”

Hy’t sy vinger op sy lippe gesit en afgebuk om iets voor die deur op te tel. Dit was ’n kleine potplant.

“Dies vi jou. Ek wil net dankie sê, for everything. Ek willie vi jou blomme gie nie, wan blomme is dood. Soe hie is ’n plant. It’s just starting to bud … like our relationship.”

Ek kon hoor hoe sluk die bad se drain my ma se water.

Ek het vinnig die plant gevat. “Thank you Derick, bye Derick. Gaan jy skool toe kom môre?” Hy’t sy kop geknik en vir my ’n soentjie geblaas. Ek het die deur toegemaak en vinnig na my kamer toe geloep. Ek hettie plant op my windowsill gesit.

Die next oggend was ek nog lekker besig ommie plant water te gee. My ma was op pad om washing te gaan hang, en ek waai nog vir haar deur my venster. “Morning, Mummy.” Toe sy my sien, val haar mond oep. Sy lat die wasgoed net daar in die sand val en hardloep na my kamer toe. Sy gryp die koppie uit my hand en gooi die water in my gesig.

Ek was soe geshock. Ek kon nie my gesig afvee nie want my ma het my kop in haar hande gehou en diep in my oë gekyk. Then she started sniffing me. Ek was bang.

“Mummy, en nou?”

“Sies! Van wanne af roek jy?”

“Roek? Nee, Mummy, ek het nog nooit ’n cigarette in my lewe geroek nie!”

“Nie entjiesie, Nicole!” Sy’t my kop gedraai na die plant wat Derick my gegee het. “Dai!”

“Praat Mummy vannie fynbosplant?”

Toe sê sy my: “Nicole, moenie vi my flousie. Ek mag ’n kêksuster is, maa ek weet tog hoe lyk boem!”

I didn’t know Derick gave me a dagga plant! Hy’t al die blare afgesny ennie blomme het vir my soes ’n protea of ’n ding gelyk. My ma is daar uit met my plant.

Daas baie dinge wat ek nie van Derick geweet hettie. Ek het hom confront en gevra as hy dagga roek om inspiration vir sy skryfwerk te kry. “I used to but nie meerie, nou’s jy my muse, Nicole,” het hy gesê.

Wanneer my ma soe smiddags haar kerkbesigheid moet gaan uitsort, dan het Derick skelmpies by my kom kuier. Maar hy sit agter innie yard because I swear my ma kan ruik as iemand wat sy nie ken nie in onse huis was.

Toe ek gebore is, het my pa vir my ’n tyre-swing annie lukwartboom in ôsse yard vasgemaak. Dit het laag gehang but Derick het gehou van daar sit. Elke keer as hy swing, hettie kleine geel vrugte vannie takke af gereën. Ons het ’n game gespeel waar ons rondom my tuin hardloep en mekaar mettie lukwartpitjies gooi.

Derick se wiskunde was nou nie soe kwaai nie, maar hy was goed met woorde. Ek was geïnteresseerd in hoe hy begin het. Hy’t oppie swing gesit en my vertel daar wassie nog TV in sy huis nie, soe hy het gelees vir fun.

Hy’t gesê sy ma het oek baie gehou van lees. “Wanne sy sober was, het boeke haa aandag gekry. My ma was brilliant. Sy kan ’n dik boek in ’n dag geliesit. Ek kan nog altyd ie soe vinnag soes sy liesie.”

“Het jou ma al jou werk gelees?”

“Nee, Nicole, is net jy wattit al geliesit. You’re my first.”

Toe ek hom vertel van Mr Snuggles het hy vir my gesê sy eerste memory is hoe sy ma hom innie aand buite oppie pavement geborsvoed het. Hulle’t onder ’n straatlig gesit sodat sy haar boek kon lees.

“Die lektric was sieke alwee af by ôsse hys.”

Derick het vir my gesê hy was nog ’n laaitie toe hy besef het as hy skryf dan disappear hy. “I can feel relief. Maakie saak wat gan an daabyte nie, wanne ek skryf, voel ek safe. I can rest on the page.”

Derick het altyd ’n pen op hom gehad, tucked behind his ear, but he never had any paper. Een middag was ek besig om innie kombuis vir ons lunch te maak, toe ek deur die venster sien hoe krap Derick in ons vullisblik. Hy soek my ma se entjieboksies. My ma roek mos daai groot bokse cigarettes, the thirty pack. She calls it ’n bybel.

Hy kry toe drie boksies wat hy omdraai soedat die wit gedeelte boentoe wys. En hy gebruik ’n stuk van sy bubblegum ommie bybels aan mekaar te plak.

Toe haal hy sy pen agter sy oor uit en skryf die gedig wat my gunsteling geword het:

Come!

Come dish you a plate.

Skep vir jou nog vannie pain, is Divine!

Alles is Divine!

Divine attepel en ywe.

Divine Father who art in Pollsmoor. Hello, what’s your name?

Divine body of the Mother jolling oppie jaat,

Divine tik-lolly innie een hand,

Divine asthma-pompie innie anne.

Divine smokkie.

Divine mert.

Divine dagga,

Divine groenpyp,

Divine witpyp,

Divine silwersak,

Divine Ocean View.

Divine Atlantis.

Divine Eerste Rivier.

Divine Retreat.

Divine Delft.

Divine Lavender Hill.

Bloederige barakat.

Kô ek sit gou ’n stuk suffering in ’n Tupperware vi jou take-away.

Kinnes

Подняться наверх