Читать книгу Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes - Страница 4

1

Оглавление

My naam is Stoffel Mathysen. Deur my eie toedoen het ek alles verloor. Ek besluit toe om weg te loop.

Ek het my reis in Kaapstad begin. Twee weke voor my vertrek het ek by my vriend Bok gebly en soos gewoonlik as ons bymekaar is, het dit rof gegaan. Ons het tot die vroeë môre-ure in kroeë en nagklubs rondgelê en met die skuim gemeng.

Toe ek uiteindelik besluit om my voorneme uit te voer en die pad te vat, het Bok my van sy huis in Drieankerbaai na Langebaan geneem. Dit was begin Maart en koud en bewolk. Vir ’n paar dae lank het ek sonder rigting tussen Langebaan en die Weskuspark rondgedwaal. Ek was terneergedruk en onseker.

Nou was dit finaal, te laat om om te draai. Ek het gesmag om terug te draai, terug te keer na my ou lewe: my familie, vriende en na Marissa. Maar alles het onherroeplik verander en ek het geweet daar is geen terugkeer nie. Die grou weer het bygedra tot my somber gemoedstoestand.

Teen die middag van die tweede dag begin die son deur die wolke breek. Ek kry rigting en ek stap, Velddrif se koers in. Die afgelope maande van niksdoen en frustrasie het my vet en lui gemaak. Ek het troos in kafeekos en bier gesoek. My rugsak en stewels is nog nuut en skaaf my. Na ’n ruk blaas en sweet ek. Dit neem lank voor iemand my oplaai.

By Lambertsbaai draai ek binneland toe. Ek wil die Sederberge gaan uitklim. Ek wil kyk of ek in my huidige toestand nog deur die Wolfbergskeure kan kom.

Die paar dae in die Sederberge doen my goed. Ek kom met min moeite deur die skeure en die fisieke oefening maak my lyf weer gewoond aan inspanning.

Vanaf Clanwilliam kry ek ’n geleentheid saam met ’n diamantdelwer tot by Garies. Ek stap die grootste deel van die pad tussen Garies en Kamieskroon. Dis droog. Blomtyd lê nog ver. Vanaf Kamieskroon na Springbok ry ek saam met ’n pakkamer-voorman. Hy nooi my uit om ’n paar dae by hom te bly. Ek aanvaar sy uitnodiging en maak van die geleentheid gebruik om die blase wat my nuwe stewels veroorsaak het, te dokter. Ons gaan speel elke aand snoeker in die Springbok Hotel. Ek speel nie meer so goed soos vantevore nie, maar is tevrede om ’n paar balle te sink voordat hy my wen. Voorheen was hy ’n luitenant in die weermag se pantserkorps en het ’n tenk aangevoer. Tot hulle hom nie meer nodig had nie. Hy haat sy huidige lot as pakkamervoorman. Ons kuier tot laat elke aand in die hotel. Teen die Vrydag bied hy aan om my na my vriend Nakkie op Port Nolloth te neem. Nakkie is my en Bok se ander groot maat.

Die pakkamervoorman laai my af by Port Nolloth se hotel. Daar vertel iemand my dat Nakkie eintlik in McDougalbaai bly, so drie kilometer met die kus langs. Ek stap soontoe. By McDougalbaai moet iemand my nog verduidelik waar sy woonstel is.

“Hoe lykit, my Tjaina?” roep Nakkie uit toe hy my sien aankom. Ons val mekaar om die nek. Agter hom kom sy vrou met hul dogtertjie op die heup uitgestap.

Die lang pad van Stoffel Mathysen

Подняться наверх