Читать книгу Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes - Страница 5

2

Оглавление

Dit was laat in ons standerdsewejaar dat ek een Vrydagmiddag in die agterplaas ’n vriend van my se been flenters geskiet het met ’n tuisgemaakte bom. Maandag word dit voor die hele skool afgekondig. Lekker vir my. Die skoliere word gewaarsku om nie met plofstowwe en chemikalieë te speel nie. Daarna word ek na die skoolhoof se kantoor ontbied.

By die kantoor wag Nakkie en Bok alreeds voor die deur. Hulle is Vrydag gevang stokkiesdraai. Ons kry elk ses houe met ’n rottang. Toe ons uitstap, is daar respek vir my in Bok en Nakkie se houding. Die feit dat ek mense se bene afskiet, het my aansien in hul oë laat kry. Ons stap na die kleedkamer toe en vergelyk die blou hale oor ons boude. Net daar sluit ons ’n verbond. Fok skool. Skool is sommer kak.

Daardie middag onttrek ons ons aan die skool se waterpolospan, onder groot protes van ons spanmaats en ten spyte van dreigemente van ons afrigter. Ons sluit aan by ’n buitemuurse waterpoloklub en kry plek in die B-span. Spoedig speel ons wedstryde teen myners op die Oos-Rand, spanne van weermageenhede en studente. Ons is skoolseuns wat teen groot manne speel. Ons raak fiks en taai. Teen die einde van standerd nege is ons ’n hegte, onoorwinlike driemanskap.

Na skool gaan doen ek my eie ding. Bok studeer argitektuur en breek vroueharte. Hy vestig hom as argitek in die Kaap en verskyn elke week met ’n ander meisie aan sy arm. Nakkie doen sy diensplig en word ’n valskermsoldaat. Hy is vir agtien maande in Angola en is nie heeltemal dieselfde toe hy terugkom nie. Na sy diensplig verwerf hy sy industriële duiklisensie en word ’n diamantduiker in Port Nolloth. Toe ek ’n paar jaar gelede saam met Nakkie vakansie hou in Knysna, vertel sy meisie ons op ’n dag dat sy swanger is. Hulle is ’n maand later getroud.

Vir die volgende twee weke kuier ek saam met Nakkie en die diamantduikers van Port Nolloth. Ek gaan saam uit op die bote en sien hoe manne gruis van die seebodem pomp. Dit word gesif totdat die diamante tussen die fyn gruis verskyn.

As die see rof is, gaan vang die manne snoek of kuier hulle in die kroeg. Dit is harde manne wat harde werk doen. Almal lyk dieselfde. Lang hare en baarde. Wolmusse en truie teen die Weskus-koue. Daar word kwaai gedrink. Almal het ongeneeslik diamantkoors. Almal hoop vir die jackpot, die dag wanneer jy ’n diamantpyp onder die see raak pomp. Dit is die dag wanneer jy ophou duik. Dan pak jy jou goed, roep Port Nolloth en die Weskus vaarwel toe en gaan vestig jou op ’n rustige vissersdorpie, maak ’n seekosrestaurant of ’n viswinkel oop en begin ’n normale bestaan voer. Vir die oorgrote meerderheid is dit ’n dag wat nooit kom nie.

Een oggend vroeg kom Nakkie se duikmakkers hom haal. Die see het kalmeer en hulle moet gaan duik. Ons groet en hy spring agterop die bakkie op pad kaai toe. Later neem sy vrou my na die taxi-staanplek. Ek klim op ’n minibus en sit my reis voort.

Die lang pad van Stoffel Mathysen

Подняться наверх