Читать книгу Die lang pad van Stoffel Mathysen - Christiaan Mathys Bakkes - Страница 8
5
ОглавлениеEk word wakker op my seegrasbaal. Die trok skommel steeds voort. Die dag het goud gebreek oor die woestyn. Vir ’n rukkie lê ek en kyk na die duine wat voor die oop skuifdeur verbydryf. Ek haal my beursie uit my hempsak en vou dit oop. Binne-in vasgespeld is die geelkoperplaatjie met groen letters op. ’n Gevoel van matelose verlies kom oor my.
Anthony Breslin begin roer op sy baal. Hy lig sy kop en knip sy oë. “Is ons amper daar?” vra hy.
“Breslin,” sê ek, “jy is eintlik olraait. As ons in Lüderitz kom, koop ek vir jou ’n bier.”
“Ek drink nie bier nie. Ek rook net boom.”
Die vragmotor trek Lüderitz binne en ek en Anthony spring af by die Zum Sperrgebiet Hotel. Ons gaan binne en sit aan vir ’n hartlike ontbyt teen ’n redelike prys. Vir die personeel en gaste moes ons na ’n eienaardige paar gelyk het, een in ’n helderkleurige uitrusting en die ander in kakie.
Vir die res van die dag drentel ons deur die strate van Lüderitz en besoek besienswaardighede. Dit neem nie lank nie. Ons gaan na die openbare kampplek op ’n klein skiereiland in die baai en rol ons slaapsakke uit aan die voet van die monument vir Adolf Lüderitz, die handelsreisiger uit Bremen, op wie se aandrang Von Bismarck uiteindelik die hawe by Angra Pequena in die naam van Duitsland geannekseer het. Ons besluit om die volgende dag besoek af te lê by Kolmanskop, die spookdorp in die woestyn wat deur diamantdelwers gebou en uiteindelik agtergelaat is. Daarna wil ons terug Keetmanshoop toe ryloop. Anthony wil die Visrivier-skeurvallei verken. Ek wil noord. Windhoek toe.
Om my bak die woestyn in ’n ongenaakbare hitte. Dit is namiddag. Die vel op my bene is rooi geskroei. My hoed is skamele verweer teen die son. Noord en suid van my strek die teerpad loodreguit en eindeloos. Daar is nie ’n skadukol in sig nie. Ek sit kop onderstebo op my rugsak langs die pad. In die verte hoor ek ’n voertuig. Vol verwagting spring ek op. Die klank kom nader. Die spikkeltjie op die teerpad word groter – ’n Mercedes. Ek steek my duim uit. Op ’n afstand sien ek dis net die bestuurder in die kar. Baie plek vir my en my pak. Die voertuig het ’n Windhoek-registrasienommer. Die blonde man agter die stuurwiel draai sy kop nie eers effens in my rigting nie en jaag verby.
“Ag, gaan kak, man!” vloek ek die voertuig agterna.
Gistermiddag het ’n meubelwa vir my en Anthony Breslin op Keetmans afgelaai. Anthony het amper onmiddellik ’n geleentheid Ai-Ais toe gekry. Ek het met die hoofpad verby die dorp gestap in ’n noordelike rigting. Aan die ander kant het ek gewag. Die paar karre wat verbygekom het, het beswaarlik van my notisie geneem. Ek het daar gestaan tot sononder. Toe het ek terug dorp toe gestap. In die verlate woonwapark het ek my op ’n grasperk tuisgemaak.
In die nag het dit begin reën. Toe ek wakker skrik, was my slaapsak al klaar halfnat. Ek het alles opgeraap en in die ablusieblok ingetrek. Daar het ek gewag dat dit moet ophou reën. Slaap het nie weer gekom nie en vir die res van die nag het ek op en af deur die ablusieblokke geloop en vir myself in die spieëls gestaar. In die vroeë môre-ure het ek my derde warm stort geneem en teen halfvyf het ek my pak op my rug gelaai, die dorp uitgestap en langs die pad gaan staan.
Die enkele motors wat verbygery het, het my geïgnoreer. Teen sewe-uur het ’n plaasboer in sy bakkie stilgehou.
“Kom kyk na die kokerbome op my plaas.”
Ons is na sy plaas toe, dertig kilometer buite die dorp. Daar het ons rondgeloop en hy het aan my verduidelik dat die kokerbome op sy plaas baie groter en indrukwekkender is as die kokerbome in die kokerboomwoud nader aan die dorp. Ek het hom geglo. Hy het my kom aflaai langs die grootpad. Waar ek nog steeds staan. Omtrent elke uur kom daar ’n kar verby, gewoonlik met genoeg plek vir my en my rugsak. Maar nie een stop nie.
In die verte kom weer ’n voertuig aan. Dit word ’n bakkie. Die man trek van die pad af. Pine Pienaar is met sy bruin vrou en hulle kind op pad Gobabis toe en ry deur Windhoek. Ek kan agterop klim, sê hy, maar waarsku dat hy nie haastig is nie. Ek laat my nie twee keer nooi nie. Hy maak vir my plek agterop tussen sy bagasie. Nou is ek weer op koers Windhoek toe. Daar wil ek twee dinge doen. Vir werk gaan soek en vir Katrina opspoor.
Dis na middernag toe Pine Pienaar my by ’n woonwapark buite Windhoek aflaai. Ek is doodmoeg. Ek betaal by die ingang vir kampplek en stap in die rigting wat die hekwag my beduie. Iewers vanuit een van die hutte hoor ek musiek en mense wat sing en lag. Iemand hou groot partytjie. Ek is te moeg om my daaraan te steur. Ek soek vir my ’n graskolletjie uit en rol my slaapsak oop. Ek slaap dadelik.
’n Skok ruk deur my bene en my voete voel asof hulle vergruis word. Verward sit ek regop. ’n Minibus vol singende Duitsers ry in die rigting van die uitgangshek. Hulle het bo-oor my voete gery. Ek wil opspring en agterna hardloop, maar my voete is te seer. Ek weet nie of hulle gebreek is nie. Ek sit my tone en wikkel en dit voel asof alles nog funksioneer. Na ’n lang ruk, nadat ek redelik seker is my voete is nie gebreek nie, is die minibus reeds ver weg. Ek skuif my slaapsak verder van die pad af en slaap weer.
Dis Sondagoggend in Windhoek en die strate is doodstil. Ek soek na Katrina. In haar laaste brief aan my, ’n jaar gelede, het sy geskryf dat sy dansklasse gee. Ek besluit om uit te vind waar die teater in Windhoek is en haar dan van daar te probeer opspoor.
’n Sekuriteitswag by ’n bank is baie behulpsaam en verlaat ’n kort rukkie sy pos om my die Nasionale Teater ’n paar blokke weg uit die hoofstraat te gaan wys. My voete pyn nog van die vorige nag. Die teateropsigter is egter kerk toe en ek sê ek sal later terugkom.
Ek dwaal deur die strate van Windhoek. Dis ’n moderne stad met moderne geboue – banke, hotelle, inkopiesentrums. Alles lyk goed versorg. Ek sien selfs ’n Spur. Ek loop na die ou Duitse fort, die Alte Feste. Dis tans ’n museum van die stryd wat die mense van Namibië teen Kolonialisme en blanke onderdrukking gevoer het. Dit vertel van Hendrik Witbooi van die Namas en van Samuel Maherero wat hul teen die Duitsers verset het en ook van die Swapo-helde wat teen die Suid-Afrikaners geveg het. ’n Paar uur later stap ek terug na die Nasionale Teater en klop by die opsigter aan. Hy is egter nog nie terug nie. Ek is honger en onthou die Spur in die hoofstraat.
Ek stap met die trappe op en gaan die dofverligte restaurant binne. ’n Kelnerin neem my na ’n klein tafeltjie aan die agterkant. Ek volg haar tussen die rye tafels deur.
“Stoffel!”
Ek ken dadelik die stem agter my. Ek draai om. Katrina is klein en slank en haar welige krulhare is in ’n poniestert vasgebind. Sy glimlag verras. Sy dra die kenmerkende uniform van die Spur-kelnerin.
“Katrina, ek soek my dood na jou.”
Die volgende oomblik slaan sy haar arms om my nek en ek lig haar van haar voete af. Die restaurantgangers kyk van hul Sondagmaal af op.
“Dis olraait, Susie, ek sal hom bedien,” roep Katrina vir die kelnerin wat by my tafel staan en wag.
“Het jy vir my plek?”
“Natuurlik.”
Toe ek en Bok en Nakkie op ons wildste was, het ons saam met Katrina en haar vriendinne uitgehang. Ons was almal nog studente en ons het mekaar toevallig op ’n partytjie ontmoet. Daarna het ons saam begin weggaan oor naweke. Plaas toe of bos toe. Die foto’s in ons albums vertel van jongmense met wilde lang hare agterop bakkies, met koelbokse vol bier en blêrende musiek. Katrina was in daardie dae Bok se meisie.
Ek en Bok het een nag laat met dronk lywe by Katrina en haar vriendinne se woonstelvenster in Sunnyside probeer inklouter. Daardie nag het Bok twee verdiepings ver geval. Katrina-hulle het nie eers wakker geword nie. Bok het vir twee weke mank geloop.
Uiteindelik het elkeen maar sy eie pad gegaan, maar ons het nog kontak behou. Katrina het rondgetrek en haar bestaan as danseres gemaak. Sy het ’n keer of wat vir my kom kuier in die Krugerwildtuin. Sy is toe Windhoek toe as dansinstruktrise. Toe sy van my teenspoed te hore gekom het, het sy dadelik geskryf. Sy is die enigste persoon in Windhoek wat ek ken en die toevallige manier waarop ons mekaar raakgeloop het, verstom ons albei.
Terwyl Katrina haar skof by die Spur klaarmaak, gaan ek terug woonwapark toe om my rugsak te gaan haal. Ons gaan saam na haar woonstel toe. Dis ’n klein plekkie met een slaapkamer en ’n dubbelbedmatras op die vloer. Die mure is vol plakkate van dansproduksies waaraan sy deelgeneem het. Orals op stoele lê kostuums, leotards en vere rond.
Katrina vertel my van haar lewe. Dit is duidelik dat sy meer as dansinstruktrise is. Sy is so pas bevorder tot hoof van die dansdepartement van die Uitvoerende Kunste-fakulteit by die Universiteit van Namibië. Verder gee sy dansklasse by laerskole en hoërskole in Katatura en Khomasdal. Sy tree op in dansproduksies by die Nasionale Teater. In haar vrye tyd is sy kelnerin in die Spur.
“Ek is so bly jy het gekom,” sê sy. “Ek is doodgewerk en wou al lankal wegbreek. Gee my ’n kans om my dinge af te handel in die week. Dan gaan swerf ek en jy ’n bietjie rond.”
“Dis goed so,” sê ek. “Ek wil self die week ’n bietjie rondvra na werksgeleenthede. En sodra jy dan reg is, Katrientjie, vat ons die pad.”
Die aand gaan ek en Katrina uiteet. Ons kuier weer soos oudae en hand om die lyf stap ons teen laatnag terug woonstel toe. Ons lag oor ’n keer wat ek haar moes huis toe dra omdat sy te veel tequila gedrink het. In haar woonstel val ons op haar dubbelbedmatras neer. Dis toe net daar wat die lus die oorhand oor my kry
Ek skuif agter haar rug in, vee haar donker krulhare uit haar nek weg en soen haar. Sy wip om en sit regop, haar wysvinger waarskuwend omhoog.
“Nee, Stoffel. Lê stil!”
Sy draai haar rug op my en slaap. Verleë draai ek om en probeer ook slaap.
Nege-uur Maandagoggend stap ek by die Natuurbewaringshoofkantoor in. Ek word verwys na die kantoor van die Adjunkdirekteur. Hy onthou my nog van die dae toe ek veldwagter in die Caprivi was. Hy het gehoor wat met my gebeur het en vra my uit. Ek verstrek die rede vir my besoek en hy dink vir ’n oomblik na.
“Jong,” begin hy, “vir ’n Suid-Afrikaner of enige buitelander om nou werk te kry in regeringsorganisasies in Namibië is uiters moeilik. Die beleid is om poste met landsburgers te vul. Ons kan altyd motiveer dat jy voorheen by ons in diens was, maar selfs dan is niks gewaarborg nie.”
“Is u nie bewus van enige ander moontlikhede nie, ’n privaat onderneming wat dalk iemand soek?” vra ek.
“Wag. Daar is iets.”
Hy maak ’n laai oop en begin in lêers rond te krap. Hy haal ’n getikte foliovel uit en lees dit. Dan kyk hy op.
“Ek is ’n paar weke gelede genader deur ’n internasionale organisasie wat verskeie natuurbewaringsprojekte in Namibië aan die gang het. Kaokoveld, Boesmanland, Caprivi. Hulle het ’n opgeleide persoon vir die Caprivi gesoek. Jy ken die Caprivi mos goed. Ek weet nie of hulle al iemand gekry het nie. Hoekom bel jy nie hierdie nommer nie?” Hy skryf ’n nommer op ’n kaartjie.
“Vra om met meneer Horace McAllistair te praat. Neem al jou dokumente na hom toe. Dalk kan hy jou help.”
Vanaf Katrina se woonstel bel ek die nommer. Meneer McAllistair is bereid om my die volgende oggend om tienuur te woord te staan. Ons spreek af om mekaar by ’n kafeetjie in die hoofstraat te ontmoet. Ek sit die telefoon neer en lê terug op Katrina se matras. My kop werk oortyd. Die Caprivi. Stel jou voor ek werk weer in die Caprivi, in die Caprivi langs die Kwandorivier. Dis te goed om waar te wees. Horace McAllistair. Almal wat te doen het met natuurbewaring in Suider-Afrika weet wie Horace McAllistair is. Ek sal hom môre dadelik herken, want ek het sy foto al dikwels in natuurbewaringstydskrifte gesien. Dit is alombekend dat hy ’n groot bydrae gelewer het om die olifante en swartrenosters van die Kaokoveld van uitwissing te red. Hy het daardie verlate woestynstreek deurkruis en die plaaslike gemeenskap van die waarde van die unieke olifant- en renosterbevolking in hulle gebied oortuig. Daarna het hy veldwagters gewerf uit daardie gemeenskappe wat onder die vaandel van die stamowerhede die wild oppas. Sy bewaringsmetodes is as rewolusionêr beskou en het vrugte afgewerp. Hy betrek die plaaslike gemeenskap by die bewaring van die natuurlewe en laat hulle daarby baat vind. Sê nou net hy het vir my werk! Sê nou net!
Ek sit oorkant Horace McAllistair by ’n klein tafeltjie buite Schnijder se kafee. Sy staalblou oë flits heen en weer oor my diensrekord. Hy steun. “Hmm. Indrukwekkend.”
Ja, indrukwekkend totdat ek kak aangejaag het. Moet jy dit nie ook teen my hou nie, dink ek.
Horace McAllistair lees nou deur die getuigskrifte wat ek voor hom neergesit net.
“Hmm,” sê hy weer.
Hy kyk op na my.
“Jy is net die man wat ek soek.”
Het ek reg gehoor?
Hy sug. “Maar ek is bevrees jy is ’n week te laat. Ek het ’n oop pos in die Caprivi gehad. Ek moes dit dringend vul. My beste kandidaat was ’n Amerikaner met ’n graad in plantkunde. Ek het hom verlede week aangestel. Ek is baie jammer.”
My teleurstelling wys ek nie vir hom nie. Ek glimlag.
“Nee, dis niks. Ek het toevallig gehoor van die pos en maar net ’n kans gevat.”
’n Week te laat. Hel. Dit was so amper of ek het weer ’n werk gehad. In die Caprivi en boonop nog vir Horace McAllistair. Dit was te goed om waar te wees.
“Kyk,” sê Horace McAllistair, “ek kan nou niks vir jou doen nie. Daar is geen vakante poste nie. My internasionale donateurs is ook besig om hul fondse te besnoei en die Namibiese regering raak al hoe meer onwillig om werkspermitte aan buitelanders toe te staan.”
“Ek verstaan, meneer McAllistair.”
“Maar met jou kwalifikasies en ondervinding kan ek jou baie goed gebruik in my projek in die toekoms. Wat is jou planne vorentoe?”
“Wel, ek gaan nog vir ’n tyd lank deur Namibië reis en rondvra vir werk. Dan gaan ek verder noord.”
Hy knik.
“As jy nog oor ’n maand in die noordweste van Namibië is, kan ons mekaar dalk op ’n plek ontmoet. Ek moet ’n besoek aan die Kaokoveld gaan aflê en ek sou jou graag wou wys wat ons daar doen.”
“Ek weet nie of ek dan nog in Namibië sal wees nie. Maar ek sal die Kaokoveld baie graag wil besoek.”
“As jy oor ’n maand nog in die omtrek is, bel my, dan kan ons dalk êrens ontmoet.”
“Dankie, meneer McAllistair.”
“Noem my Horace.”
Nadat hy weg is, neem ek my voor om oor ’n maand saam met Horace McAllistair Kaokoveld toe te gaan. Al sou hy nie vir my werk hê nie, sou ek graag my kontak met hom wou versterk.
Teen Woensdagmiddag is Katrina se sake in Windhoek afgehandel. Sy pak vinnig haar rugsak en sluit haar woonstel. Ons het besluit om na Sossusvlei in die hartjie van die Namib te ryloop. Ons wil die sandduine gaan uitklim. Die duine by Sossusvlei is blykbaar van die wêreld se hoogstes.
Ons stap met die hoofstraat af totdat ’n huurmotor ons oplaai en buite die dorp aflaai. Daar wag ons nie lank nie voordat ’n boer ons oplaai en tot by Mariental neem.
Sedert Katrientjie se afwysing die eerste aand het ek nie weer probeer toenadering soek nie. Haar houding teenoor my het glad nie verander nie. Sy was nog net so warm en stralend soos altyd. Sy het maar net toe die reëls neergelê.
Dis reeds laatmiddag toe ons ’n geleentheid agterop nog ’n boer se bakkie kry vanaf Mariental tot op die klein dorpie Maltahöhe. Die eerste skof van ons reis verloop vlot. Teen die laaste lig klim ons af by Maltahöhe se klein hotelletjie. Daar drink ons ’n bier en bestel ’n ete. Later beduie die bestuurderes ons die pad na die kampeerterrein. Dis niks meer as ’n oop stuk grond nie. Tussen die duwweltjies en onder die sterre rol ons ons slaapsakke uit.
Toe die dag breek, stap ek en Katrina by die dorp uit met die grondpad langs na Sesriem. By ’n brug oor die droë rivierloop sit ons en wag. Katrina is baie musikaal en sy probeer my touwys maak op ’n bekfluitjie wat iemand my saamgegee het. Ek is egter hopeloos. Ek probeer “Red River Valley” speel, maar die klanke wat uitkom, is ver verwyderd van die werklike deuntjie. Die musieklesse is rede tot groot vermaak en dit help om die tyd te verwyl. Ek bêre die bekfluitjie en ons sit op die brug en gesels. Die son begin bak en die grondpad is doodstil. Ek raak rusteloos en begin op en af oor die brug stap. Katrina lees ’n boek. Teen middag het daar nog nie ’n kar verbygekom nie.
“Katrina,” sê ek oplaas. “Ons gaan moeilik regkom. Kom ons stap terug dorp toe en gaan vra of iemand nie van ’n geleentheid weet nie.”
Terug op die dorp by die motorhawe loop ons vir Mannetjie Kruger en sy span Nama-padwerkers raak. Hy is ’n kort, ronde mannetjie en kyk ons agterdogtig aan. Hy is half verbaas toe ek met hom Afrikaans praat.
“Ja, ek ry in daardie rigting. Maar eers laat môremiddag se kant. As julle dan nog hier is, kan julle agterop my trok spring.” Hy wys na ’n wit Bedford-vragmotor wat die Namas besig is om te laai.
Ek en Katrina stap met ons rugsakke na die hotel. Ons sit ons pakke neer op die stoep en ek stap na die kroeg en bestel twee Tafel-lagers. Daar is ’n paar blankes in die kroeg en hulle praat Afrikaans en Duits. Dis ’n tipiese plattelandse hotelkroeg. Teen die muur pryk ’n opgestopte koedoekop, ’n groot kleurfoto van Sossusvlei se sandduine en ’n geraamde afskrif van die “Südwest Lied”, die ou Suidwes-Afrika-volkslied.
Ek stap uit met die koue lagers na waar Katrina op die ruim stoep by ’n tafel sit. Ek merk dat daar ’n tweede kroeg aan die verste punt van die stoep is. ’n Bakkie vol Damaras stop voor die hotel en klim uit. Hulle beweeg in die rigting van die kroeg waaruit ek so pas gestap het. Die hoofkelner, ’n Nama, kom uit en keer hulle. Hy beduie na die kroeg aan die einde van die stoep.
“Die Damaras en Namas drink daar. Hierdie is die Boere se kroeg.”
“Wat bedoel jy?” vra die voorste Damara verontwaardig. Dis duidelik dat hy nie van hier kom nie. “Daar bestaan nie meer so iets soos die Boere se kroeg en die Damaras se kroeg nie. Dit is die Demokratiese Republiek van Namibië.”
Die Nama-kelner verduidelik geduldig. “As jy vandag moeilikheid op Maltahöhe wil hê, dan moet jy in die Boere se kroeg gaan drink.”
Buite bak die son en vir ’n oomblik oorweeg die groep Damaras om weg te ry, maar dan kry hul dors die oorhand en hulle stap brommend by die ander kroeg in. Ek en Katrina kyk onderlangs vir mekaar. Na vyf jaar van Namibiese onafhanklikheid het daar op Maltahöhe nie veel verander nie.
Ons bestel ’n tweede rondte en geniet die koelte van die stoep. Niemand in die hotel weet van iemand wat op pad is Sesriem toe nie. Die kliprantjie buite die dorp sidder en dans in die hitte.
’n Ford F 250 stop buite die hotel. ’n Man met ’n leerbroek en kruisbande klim uit, kom by die stoeptrap op, groet ons in Duits en verdwyn in die Boerekroeg. Ek en Katrina sit ons gesprek voort en drink ons bier klaar. Die man met die leerbroek kom uitgestap met ’n krat bier. Hy stop by ons en beduie in Duits en gebroke Afrikaans dat ons saam met hom moet kom. Ons dra ons rugsakke na sy Ford toe. Daar is gereedskaptrommels, pyp en draad agterop sy bakkie en sy hande is skurf. Ons ry saam met hom tot by sy huis.
Hans Stahl bly in ’n klein huisie aan die rand van die dorp. Sy voorstoep kyk uit oor die kliprantjies. Toe hy voor sy huis stop, wag ’n Nama-vrou op ’n bankie by die deur. Hans sluit die voordeur oop en nooi ons in. Die huisie is vol ou meubels en matte, maar skoon en netjies. Die voorhuis hang vol jagfoto’s van Hans, waar hy met sy geweer by platgetrekte koedoes, gemsbokke en springbokke sit.
Hy pak die bier in die vrieskas in die kombuis. Die Nama-vrou bring ’n houtbord met rogbrood, kaas en salami uit en nooi ons om op die voorstoep te kom sit. Sy stel haarself voor as Lena. Ons gaan sit op verbleikte ou bamboesstoele. ’n Groot paar koedoehorings is aan die stoepmuur vasgespyker. Hans kom uitgestap met vier koue Windhoek-lagers en sit een op die tafel voor elkeen neer. Hy lig sy bierbottel. “Prost.” Ons lig ons bottels en drink.
Hans het sewe jaar gelede sy vrou en kinders in Frankfurt agtergelaat en Namibië toe gekom. Hy het hom in Maltahöhe kom vestig en is nou die dorp se nutsman. In sy vrye tyd ry hy Namibië plat met sy Ford en jag hy in die woestyn. Lena het by hom begin werk as huisbediende en spoedig was sy meer as dit. Hy praat hoofsaaklik Duits, maar met Lena se hulp en na ’n paar biere gesels ons aanmekaar.
Die son sak en die kliprantjies om ons word rooi. Die bier laat my ontspan en ons eet brood en kaas. Ek en Hans ruil jagverhale uit. Katrina vertel van dansproduksies. Sy is oorwerk en ek sien dat sy ook ontspan. Elke nou en dan flikker haar groot bruin oë na my kant toe en dan glimlag ons vir mekaar.
Aand word nag en daar word Afrikaanse, Duitse en Nama-liedjies gesing. Hans is uitgehonger vir geselskap en elke nou en dan gooi hy sy kop terug, lag uitbundig en klap sy hande. Ek kan my voorstel dat hy nie baie vriende onder die dorpenaars het nie. Ek vra nie uit oor sy vrou en kinders in Frankfurt nie.
Dis laat toe ons ophou kuier. Hans wys ons die badkamer en neem ons na ’n slaapkamer met ’n dubbelbed. Hy en Lena verdwyn in ’n ander slaapkamer en trek die deur toe. Katrina gaan bad en ek staan buite en kyk na die sterre. Katrina maak klaar in die badkamer en ek spring onder ’n warm stort in. Dis ’n lafenis.
Katrina sit op die bed toe ek die kamer inkom. Sy het ’n lang T-hemp aan. Haar hare is los en sy kyk my van onder haar krulle aan. Ek gaan sit by haar. Sy begin oor my kaal bolyf streel.
“Ek hou van ’n man met littekens,” sê sy.
“Ek dink ek oordoen dit so ’n ietwat,” sê ek.
“Ek dink dis sexy.”
“Ek is nie trots daarop nie, Katrina.”
Sy streel die knoetserige litteken wat oor my regterskouer strek. Met haar voorvinger trek sy ’n lyn oor die beskadigde weefsel, waar my bisepspier eens op ’n tyd was. Haar hand volg die litteken tot waar dit by my voorarm stop. Sy rus haar hand op myne. Met haar ander hand streel sy oor my linkerboarm. Haar hand raak aan my kunsvoorarm. Sy streel die sintetiese materiaal asof dit vlees en bloed is. Sy hou die vlekvryestaalhaak, wat my linkerhand vervang, vas.
“Ek dink dis baie sexy,” fluister sy. Sy laat die band van my kunsarm, wat agter my rug oor my regterskouer vasgegespe is, van my rug afgly. Dan haal sy my kunsarm af sodat die kort stompie onder my linkerelmboog oop sit. Sy skuif die kunsarm eenkant toe en dit val van die bed af.
“Stoffel, dis nie reg om met ’n mens se vriende te vry nie.”
“Ek en jy sal altyd vriende wees, Katrina,” sê ek hees.
Sy trek my na haar toe en hou my vas. Haar mond is nat en sag. Haar liggaam is warm.