Читать книгу Padmaker - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 7
TWEE
ОглавлениеBy die eerste garage waar sy Springbok binnekom, gooi sy brandstof in. “Visser se Verblyf?” vra sy vir die petroljoggie nadat sy teruggekom het van die klein, koel geboutjie waar die toilette is. Dis ’n bekende plek waarvan sy al gelees het – te ver verkeerd kan sy nie gaan nie.
“Net af in die pad, so regs, en dan reg boontoe en dan om die eerste hoek. Oorkant die kafee. Mevrou sal sommer sien.”
Maar hy beduie haar skoon uit die dorp en teen ’n kop uit. Dit kos terugry en nog ’n paar keer se vra voor sy by Visser se Verblyf-en-Koffiehuis uitkom. Sy sleep die tas aan die een hand, gooi die rekenaar se band en haar handsak se slinger oor haar stywe regterskouer.
Visser gaan wys haar self die kamer. Sy sien hoe hy sy maag opsigtelik intrek en sy bolyf regop druk. Sy gryswordende kop glinster in die son toe hy voor haar uitloop tussen die wit geboutjies met die blou vensterrame en buitegeute deur. Daar is ’n paar trappies om te klim. Hy tel haar tas op met ’n houding van “kyk wat kán ek nog” en sit dit voor die deur neer.
Aan die oorkant, anderkant ’n baksteengeplaveide binnehoffie, lê ses of sewe rondloopkatte. Maar spekvet, asof iemand vir hulle kos aandra.
“Wat doen jy nou eintlik, en hoe ry jy dan so ver van die huis af?” vra Visser toe hy oorkant haar kom sit nadat sy haar goed gebêre en in die restaurant ’n bord pasta bestel het.
Hy het die cy-registrasienommer raakgesien, registreer sy. Sy blou oë skitter met ’n plattelandse nuuskierigheid en sy kan sien daar is nog dinge wat agterin sy kop gedink word. Iets in die blink van sy oë, die waterigheid waarin die blou irisse rondswem, maak haar onrustig. Êrens roer ’n herinnering aan haar kleintyd. Die lang, toegeboude stoep in die huis in die Boland, die figuur in die stoel in die skemerte, die asem wat soet maar donker ruik, ’n draadhekkie in die ringmuur wat maak dat sy nie kan wegkom nie.
“Ek skryf ’n boek,” sê sy op die ingewing van die oomblik.
Van die padkampe waar hulle gebly het, van die oppak en wegtrek, van mense wat deur jou kyk, want eintlik bestaan jy nie – daarvan sal Visser nie weet nie. Met die blinkwarm dae wat op die sinkdakke brand, wat afkoel en kraak in die nag, die opgeefsels wat in die rooigrond leef, daarmee het hy niks te make nie. Met haar boetie met sy laphoedjie op pad na die skoolkonsert, met Ma-Kinnie met die mooi wye rokke met die dun middeltjies; haar pa met sy overall, sy hande vol olie en ghries – want sy liefde lê by die enjins, al sit hy bedags op die padskraper … Sý, langs die opgaartenk by die klein agterstoepie in net ’n wit frokkie en kortbroekie.
Dit is die eerste opslaanhuis wat sy onthou, êrens naby die Oranjerivier. Sy was klein; die ander was groot. Selfs Oubie wat sy nóú weet toe ook maar ’n kind was, was iemand na wie sy, ’n dogtertjie van twee voet en ’n bietjie, kon opsien.
Party dinge was waar sonder dat sy toe of ooit daarna daaraan getwyfel het. Die rivier wás oranje. Skemeraand wanneer haar ma of pa haar klaar gebad het, was die water troebel, en onder in die sinkbad was die afsaksel grinterig, oranjebruin.
Hoe hulle op Kakamas gekom het, kan sy nie onthou nie; net dat hulle weggegaan het.
Haar ma het die breekgoed ingepak. Sy het gewonder of haar pa die houtbottels waarmee hy en die ooms saans in die sand gespeel het, ook gaan toedraai en saamvat. Waarheen hulle op pad was, het sy nie geweet nie; haar ma het gesê by die nuwe plek sou die jukskeispelery hopelik ophou. Ma-Kinnie wou nie saam met tannie Griet wat langsaan gebly het, langs die gate met die gelyksagte sand gaan sit om te kyk hoe die regop penne omval nie.
Toe sy in die kombuis kom, is Kanys Haas en Jakoba Bok wat partykeer kom vloere skrop het, by die tafel besig om te help om koppies en borde in kartondose te pak.
Nie só nie.
’n Klomp kere het haar ma al van die koppies of bakke uitgehaal en op ’n ander manier ingesit sodat dit nie teen mekaar moes kap nie.
Sy klim op die houtkissie om ook te help, maar haar ma sê sy moet afklim, sy staan in die pad. Sy loop uit by die sifdeur, sleep die kissie agter haar aan. Op die agterstoepie is dit ’n bietjie koeler as in die hardboard-huis. Die skool het al gesluit; Oubie speel albaster saam met klein Sammie van oom Sam en tannie Griet.
Watse bure sal ons nou weer kry? Van langs die sinktenk hoor sy hoe haar ma tussen die toedraaiery deur met haarself praat. Griethulle was ten minste vir ’n keer opgevoede mense vir bure. Maar haar ma weet nie van Dina van tannie Griet wat vir haar sê hulle moet wegloop en gaan kyk wat die mense by die kampong anderkant die draad maak nie.
Kanys Haas kom op die stoepie uit, op haar tone, wikkel-wikkel, nuuskierigmakerig. Sy haal ’n ding wat in papier toegefrommel is agter haar rug uit en hou dit na haar toe uit.
“Jy moet nie vir my vergeet nie,” sê sy. Haar oë is swart korreltjies wat net-net onder ’n geel kopdoekie uitsteek. Agter haar het Jakoba Bok ook by die deur uitgekom. Sy is ouer as Kanys en kwaaier, maar die dogtertjie het gevoel hoe lekker sag sy is toe sy haar optel en een keer in die rondte gedraai het.
“Ons het dit saam vir jou gekoop. Om uit te eet as jy daar in die ver plek bly. Kyk bietjie wat is in die sak.”
Sy vat die pakkie by Kanys. Haar vingers bewe sodat die papier skeur.
Uit haar hande glip die ding en val op die grys sement – die presentbordjie met die wit aan die binnekant, en die twee groen randjies rondom. Reg voor haar voete val die een stuk, en toe breek die groot stuk ook nog in twee kleiner stukkies.
Haar ma kom by die deur uit.
“Gooi dit maar in die drom,” sê sy vir Kanys. “’n Mens kan nie nog stukkende goed ook saamry nie.”
Langsaan kyk tannie Griet op van waar sy besig is om die jakobregops met hulle stywe rooi en pienk blaartjies nat te spuit. Bo-op die dammetjies lyk dit soos die koffie met melk in wat haar mahulle drink as daar die slag kuiermense kom.
Sy sien hoe Visser haar sit en dophou, sien hoe hy met sy teelepel in die koppie roer en dit aflek, dit weer in die koppie druk en sy tong effens na buite druk om dit om die lepel te vou. Sy is lus om op te staan en te loop, hom te sê hy moet sy speletjies vir homself hou. Maar sy los dit. Terwyl hy haar vertel van sy klippe, allerhande gesteentes wat hy van oor die hele Afrika versamel, en wat mense selfs van oor die wêreld heen na hom toe aanbring, kyk sy af in haar koffie. Sy probeer om in die vloeistof die silhoeëtte van vroeër terug te roep.
Hoeveel dae daarná dit was voordat hulle eindelik daar weggegaan het, weet sy nie. Wanneer sy terugdink, onthou sy dit as ’n deurmekaar tyd wat rooi en swart was. Behalwe vir die stukkende skerp groen-en-wit stukke van die bordjie.
Daar was meer as een keer mense wat kom groet het. Die inmekaar ou man wat hulle as oom Boelie geken het, was ook op pad weg as sy reg onthou. Hy en sy vrou het kom groet, daar in die voorhuis tussen die kartonne ingepakte goed.
Daar was ’n klop aan die voordeur. Sy het op die bankie geklim, deur die venster gekyk en haar ma geroep. Oom Boelie se vrou het die kombersie styf oor haar bene getrek toe hulle in die voorhuis gaan sit. Dit het nie gelyk of sy warm kry nie.
Die tannie het in ’n stoel met wiele gesit, en die oom moes haar stoot waar sy wou wees. Dit was nog lig toe hulle gekom het, net ná werktyd; haar pa se hande was nog nie spierwitskoon soos wanneer hy dit saans klaar geskrop het nie.
Waar sy op die vloer gesit het, het haar geel rokkie opgeskuif tot bokant haar knieë. Sy het geweet haar ma sou raas as ’n mens haar kleinbroekie kon sien, maar sy het die rok nog hoër opgetrek. Die sweet het die binnekant van haar bobene laat brand wanneer hulle teen mekaar skuur.
Die tannie het gekyk na haar boetie wat met sy driewiel om en om die voorhuistafel gery het. Haar gesig het gelag en haar oë was groot en baie bruin, maar haar hande wat om die teekoppie gevou het, was wit soos die punte van ’n mens se naels.
Haar ma was soos die kleur van bruinbrood; sy en haar boetie was soos die sandgrond buite op die werf. In die huis met die sinkdak en die masonite-mure was dit so warm dat mens móés uit. Buite het die son gebrand.
Wanneer die gaasdeur oopgegaan het, het haar ma dit gehoor van waar sy ook al in die huis was. “Sit op jou hoed, Katrien, jy brand nog pikgitswart!” het sy geroep.
Voordat sy kon uitgaan, het haar ma die bandjies wat weerskante aan die hoed vasgewerk was, na mekaar toe getrek en dit styf om haar keel vasgeknoop. Die materiaal het haar vel geknyp.
Ál om die houttafel het die driewiel geknierst. Haar ma het nie geraas nie. Die grootmense het gelag terwyl Oubie ry, maar die klanke het haar ore gebrand wanneer hy om die draaie gaan. Sy het verder weg gaan sit op die bont tapyt, in die hoek, waar die gordyn ’n groot ronde punt maak sodat sy daaragter kon wegkruip.
Oubie was al in die skool; hy was haar slimkop, het haar ma gesê. Soggens het tannie Griet en Dina met die rooi-en-wit kolletjiesrok saam met haar en haar ma geloop tot waar die twee seuntjies deur die draad moes klim. Sy het bly kyk na hoe haar boetie wegraak op die ver grondpaadjie tussen die bossies en die sand op pad skool toe. Smiddae het haar ma geluister hoe hy sy les lees en gekyk of sy letters mooi aan die lyntjies raak waar dit moet. Partykeer het sy sy hand gevat om hom te help om die o’s en die a’s toe te maak waar hy hulle begin het.
Toe die skaduwee van die peperboom oorkant die pad by die huis in val, het oom Boelie ’n geluid in sy keel gemaak. Hy het sy koppie neergesit en dié van die tannie versigtig by haar aangevat sodat sy nie hoef te beweeg nie.
Dit was die eerste keer dat sy die tannie van die oom met die grondboontjies gesien het.
Haar pa het ook opgestaan, gehelp om die reisdeken saggies om die tannie se bene te vou sodat die oom haar by die deur kon uitstoot. Aan die onderkant van die kombersie het twee sagte skoentjies uitgesteek; aan die bokant het hulle bont tosseltjies gehad.
“Is dit slippers, Tannie?”
Sy het haar hand vinnig oor haar mond toegeklap; die woorde was uit sonder dat sy kon besluit om hulle te sê. Haar ma het na haar gekyk met haar kinders-moet-gesien-en-nie-gehoor-word-nie-oë. En sy het gehoor hoe sy in haar kop sê: Pantóffels, Katrien!
Haar pa het die stoel aan die voorkant opgetel en die oom het aan die agterkant gelig sodat hulle die tannie eers by die twee trappies kon afdra. Die oom het gelyk of hy nie so ’n swaar ding kon optel nie, al was die tannie maar klein. Sy gesig het rooi geword toe hy by die trappies afloop.
By die voorhekkie het haar pa die oom gehelp om die stoel daardeur te wikkel sodat dit nie skraap nie. Haar ma het op die stoep bly staan toe die rolstoel in die grondpad af ry, tussen die klippe deur, bo-oor die gate, rondom die stukke stokke wat die bure se kinders al weer in die pad laat lê het en waaroor sy so kwaad kon raak. Wanneer haar ma kwaad was, het sy gebewe.
“Maar aan mý dink jy nie!”
Haar ma se gesig was rooi en vol kreukels toe haar pa weer by die stoeptrappie opkom. Sy het haar hande oor haar oë gehou en kamer toe geloop. Agter haar het die deur hard toegegaan.
Visser sit haar nog só en kyk. “Jy raak sommer so onder my oë weg,” sê hy. “Dit lyk my jy dink ver dinge.”
Sy knik, bedoelende om hom af te skrik, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking. Sy moet haar arm uittrek onder die sweterige palm wat hy vertroulik op haar lê.
“Roep maar as jy nog iets warms nodig het – gee ’n luitjie na die binnetelefoon, dan kom ek.”
Sy loop weg, onderdruk dit om óm te kyk na waar sy weet hy haar agterna staan en staar. Aan die een kant wil sy hom selfs jammer kry. Die man met sy oormoedige attensies, sy behoefte om nog aantreklik te wees, tóg nog ’n vrou te kan bekoor.
In die kamer oorweeg sy dit om van die blou slaappille te sluk waarmee sy die afgelope maande al aan die slaap moet raak wanneer die onthou haar snags nie wil laat los nie. Maar sit dit weer terug in die botteltjie. Sy moet probeer om die verlede vierkantig in die gesig te kyk, juis om nié weg te kruip nie.
Op Springbok het die herfs ’n vlies van koue spinnerakke oor die oggend gespin. Die droom en dink van die nag sit stywerig, seer, in haar arms en bolyf. In die skemer oggendlig is haar hande so bewerig dat die kookwater oor haar arm spat toe sy dit op die mengsel van Nescafé en Cremora gooi. Dit ruik nie soos oggendkoffie moet ruik nie, maar sy het die kafeïen nodig. Die soet reuk van die pienk Germolene-salf wat sy uit die buisie druk om oor die brandplek te smeer, meng met die geur wat uit die koppie kom en sy voel hoe haar gesig trek.
Uit die harde plastiek in die boks met Ouma-beskuit haal sy ’n groterige stuk met ’n ronde kop. Met die beker in die een hand en die beskuit in die ander skuif sy terug onder die duvet in; klim dan eers weer uit en maak die gordyn heeltemal oop. Op die muur van die binneplaas sit ’n swart kat wat na haar staar sonder om ’n oog te knip.
Die monde vol koffie wat sy vat, word ál groter, die beskuit wurg in haar keel. Sy voel die warmte teen haar tong en in haar keel brand sonder om te proe. Die droom, haar bene wat weier om ’n tree te gee, die koffertjie met die sak papiere vol woorde – dit jaag haar én trek haar aan sodat sy voel asof sy midde-in ’n orkaan staan, onmagtig om self haar rigting te kies.
… slagoffer, verskeie simptome … grensgeval persoonlikhede … tagtig persent vroue …
Sy gaan draai die stort oop, sluk die laaste koffie in die beker weg en gooi die droesempies met die beskuitkrummels in die wasbak af; was die beker en emaljebak skoon uit.
Niemand sal iets oor my kinders sê nie!
Sy voel Juli se oë op haar: Genade, Ma, dis darem seker nie nodig nie … Ma betaal mos. Sy antwoord haar met die enigste verweer wat sy het: Dis nie dat ek dit wíl doen nie, my kind, dis die mag van die gewoonte. Jy kan nie weet hoe dit was nie. Die smal paadjie is vir my nie met palmtakke nie, maar met witgebleikte doeke uitgelê; ’n voet mag daarop nie ’n stofspoor getrap het nie.
Toe sy klaar ontbyt geëet het, staan Visser by die ontvangstoonbank. Sy blou hemp beklemtoon die kleur van sy oë en die blik daarin.
“Weet jy,” sê hy, “ek het netnou by jou kamer se trappies opgestap. Toe hoor ek die water in die stort loop, toe klop ek maar nie.” Hy kyk haar glimlaggend aan; wag dat sy iets moet sê. Kyk of sy opgewasse is teen hom.
Sy probeer. Maar haar “o so?” klink in haar eie ore lamlendig; nie ironies of koketterig genoeg om so ’n gesprek te hanteer nie.
“Ja, en toe ek weer met die trappies afloop, toe dag ek: Wat sou sy nou gedoen het ás ek geklop het?”
Sy voel uit haar vaarwater. Onderskat sy hom nie? Is die “kom ons speel ’n speletjie” wat hy kamma wil aanvoer nie net ’n aanloop tot die werklike sinistere wat sy aanvoel nie – dit wat onder die spel versteek is nie? Maar sy antwoord hom tog, probeer hom wys sy skrik nie, al hoor sy Ma-Kinnie, Sebastiaan én die Here God se stem in haar ore weerklink.
“Nee, ek weet nie. Hoe kan ’n mens ooit weet hoe jy op iets sou reageer as dit nie regtig tot by daardie punt gekom het nie?”
Asof dit iemand anders se sin is, hoor sy die gemaakte lag in haar stelling, maar ook die onsekerheid.
Visser se oë het die kleur aangeneem van die persblou ametisklippe wat op die uitstalrak lê en glinster. “Sal ons nie gaan kyk nie?” vra hy. “Dan kyk ons wat gebeur?”
Sy stem laat haar dink aan die viesige harigheid van die groen of oranje kleedjies wat mense in die sewentigerjare bo-op die paneelborde van voorstedelike karretjies gegooi het.
Toe sy die dorp uitry, nog ontstem, lê daar ’n groot bottel yswater wat Visser saamgegee het onder op die vloer aan Juli se kant. “Vir die wis en die onwis,” het hy gesê. “Laat weet maar as jy hulp nodig het …”
Soos sy verder wegry, nader kom aan dit waarheen sy gedwing word, raak die vlaktes rantjiesveld en klipkoppies. Wat is dit wat die man met haar wil hê? Het sy met dít wat sy destyds op die stoep in die Boland ervaar het, so ver anderkant nugtere oordeel geskuif dat sy almal, elke man, sal wantrou?
Verby Aggeneys lê Vioolsdrif noorde toe. Sonder dat sy dit besef, skud sy haar kop, maar sy voel weer die effense hoofpyn waarmee sy opgestaan het. Vioolsdrif laat haar die groot en growwe hande sien: Oupa s’n, Ma-Kinnie se pa, wat die Stradivarius-viool kon laat huil. Nie dat sy toe geweet het wie Stradivari was nie, maar haar skramse kinderrespek vir haar oupa het op dié naam berus. Totdat sy van beter geweet het – dat hy gejok het oor die viool – en dat sy hande nie net aan die snare gepluk het nie …
Links staan ’n kleinerige huisie met ’n geprakseerde aangelapte voorkant met drie spits geweltjies. Verlate. Eens op ’n tyd miskien besonders in dié wye en droewe land. In die kilometers agter en voor haar lê hopies klipstapeltjies soos ’n seuntjie se speelgoed wat hy laat lê het toe sy ma hom geroep het om te kom eet.
Kamasoas. Uitkyk.
’n Hele ent anderkant Aggeneys loop ’n man met ’n bondel aan ’n stok oor sy skouer.
Voor haar strek die pad reguit so ver as die oog kan sien. Wanneer sy in die truspieëltjie kyk, sien sy: Die pad wat vorentoe loop, loop net so ver terug.
Net verby Namies staan ’n paar manne met oranje werkersoorpakke onder ’n afdak hulle middagtoebroodjies en eet.
Op pad na Pofadder maak die grond hopies soos uitgeryste souskluitjies. Teen die sinkdak van die skuurtjie langs ’n groot plaashuis weerkaats die son skerp en sy moet pluk aan die stuur.
Juli, praat sy na die sitplek langsaan waar sy die bruin hare in haar verbeelding onder die kombersie teen die kant van die motordeur sien uitsteek, jy moet my help om kop te hou!
Sy moet omtrent vier gewees het daardie tyd voor hulle weg is van Kakamas. Elke plek waar hulle gebly het, het ’n eie kleur en ’n eie reuk gehad. Die dag van die tannie met die kombersie het geruik na oranje en geel stinkblomme – afrikanertjies, het sy later geweet. Oom Boelie en die tannie met die slippertjies het ál verder in die grondpad weggeraak.
Toe het sy haar ma se gesig gesien. Baie dinge het sy gesien en gehoor wat haar kop snaaks laat voel het. Soos haar ma se oë wat ver weg kyk, na iets vorentoe, of iets terug, iets wat hulle nie kon sien nie.
Ná daardie dag het hulle oom Boelie en sy vrou nooit weer teëgekom nie, al het daar dikwels mense van die een padkamp na die ander getrek en al het party mekaar ná jare weer op ander seksies van die padbouwerk gekry. Maar die tannie in die stoel het verdwyn. Nie net omdat sy haar nooit weer gesien het nie, maar asof die vrou uit ’n kiekie geknip was, sodat sy haar júis onthou het vanweë die gat wat daar gesit het.
Oubie was die beste. Die mees geliefde. Dit het sy geweet vandat sy haar verstand gekry het, al het sy die woorde daarvoor nie geken nie. Toe haar pa haar ma binnetoe gehelp het nadat die oom en tannie die dag by die hekkie uit is, het haar ma se voet oor die drumpel gestruikel. Oubie het van die stoep af ingekom en by haar gaan staan. Sy het haar arm om hom gesit; haar oë het gelyk of daar straaltjies aan hulle agterkant afloop, soos die druppels wat sy gesien het die keer toe die reën teen die ruite van die kombuis afgerol het.
Deur die sleutelgat in die kamerdeur het sy geloer hoe haar pa die gordyn met die donkergroen blokke toetrek en ’n kussing onder haar ma se kop inskuif dat sy beter kon lê. Teen die kussing was die hare wat uit haar bolla geval het swart en krullerig. Anders as haar eie reguit hare.
Ai, my vrou, het haar pa gesê. Hy het sy arm om haar skouers gesit. Toe hy uitkom en die deur saggies agter hom toetrek, het dit gelyk asof iemand met ’n potlood strepe langs sy neus en mond af getrek het.
Binne-in haar maag het iets omgekeer wat ná daardie dag nooit weer teruggedraai het nie. Alles was swart soos die kamer waarin haar ma gelê het. Die volgende oggend het sy gesien hoe haar boetie in die donker oor die werf skool toe loop nadat haar pa werk toe is. Sy het in die kas in haar kamer gaan klim. In haar hand was die brood wat hy haar gegee het voordat hy sy trommel gevat en by die kombuisdeur uitgeloop het.
Anderkant Blomhoek maak die pad honderde blink, swart slangetjies – is dít die spesiale soort teer waarvan haar pa vertel het? Die warm, amperse pik waarmee die krake opgevul en ’n pad waterdig gemaak is sodat dit langer kon hou?
Die motor ry stamperig op die pad Pofadder toe. Sy voel ’n soort leedvermakerige trots dat dit nie ‘haar’ mense is wat dié pad gebou het nie, dat dit ná hulle tyd was. Toe sy die dorp binnery, is dit agter ’n groot bakkie wat Bulperd-trailers agterop adverteer en ’n sleepwa agter hom aansleep.
Links lê die bruin woonbuurt en eertydse lokasie.
Blyvooruitsig. Bont geverfde huisies en groentetuintjies waarin daar met wisselende welslae groente vir ’n eie bestaan in die stowwerige grond groei.
Die kerk op Pofadder is van klip; hier en daar staan kokerbome op die oop stuk grond rondom die kerkgebou. Voor die woonhuis aan die oorkant is grootoog-sifdraad soos dié wat sy uit haar kindertyd onthou.
Sy ry regsom, verby die Proe-’n-Bietjie Eetkafee; daar is niks wat ’n mens trek om die naam te beproef nie. Aan die linkerkant staan Jesus het jou lief naas a.n.c. op ’n huis se tuinmuur uitgebasuin met geel spuitverf.
Sy hou stil, gaan koop ’n blikkie Coke by die vuil kafeetjie waar bruin kinders buite rondom ’n speletjiesmasjien saamdrom. Sy sit hulle ’n rukkie en bekyk nadat sy weer in die kar geklim het. Kaalvoet, dungewaste Pep-klere. Vuil, stowwerige voete.
Julle moet leer, julle moet êrens kom, het haar ma gesê.
Sy ry met ’n ompad die dorp uit; haar gesig en bors voel ’n bietjie koeler ná die koeldrank.
Ek weet nie wie ek die dag die jammerste gekry het nie, Mamma, praat sy hardop met die toegedraaide ruit waarteen ’n vlieg irriterend vasvlieg, oploop, afval, en weer van voor af begin zoem – vir Pappa met die seer stem of vir jou nie. Jy het gehuil oor die tannie in die stoel; dit is wat my oë kon sien. Maar die jare het my anders geleer. Ek weet nou meer van hoe jy ís, maar dalk is dit eerder die hoekom wat my hierdie pad laat ry, wat my laat soek na die legkaartstukke wat ek in my kindertyd nooit bymekaar kon kry nie. Al wil ek eintlik alles wat jy is, wegsny met ’n Minora-blade soos dié waarmee Pappa hom soggens geskeer het.
Die dag toe jy self van die hekkie moes terugloop na die voorstoepie, in plaas van die lam vrou te wees wat gehelp moes word, is ’n leeftyd verby. Dié nag toe Pappa nog lank buite bly sit het, en die rooi kooltjie in sy pyp die enigste ding was wat die koue sementgevoel op my maag ’n bietjie warmer gemaak het.
Oral langs die pad staan vertikale chevron-borde. Veral op ’n stuk aarde wat reguit en eenvoudig lyk, ry ’n mens maklik van die pad af. Die doringbome en pienk kriedoringbossies langsaan raak meer. Links wys ’n padbord na Onseepkans. Verder boontoe lê Namibië. Reguit aan, nie meer te ver nie, is Kakamas, plek van die warmte en die sinktenk by die agterstoep, waar Oubie sy ken oopgeval het op die plank waarmee hy teen die stoep afgegly het. Dáár waar die tannie met die wielestoel verdwyn het.
Verby Nous. Droëgrond. Êrens anderkant ’n onbekende grens is ’n plek met die naam Weltevrede.
’n Paar keer moet sy swenk om ’n dooie jakkals of nou onherkenbare wilde dier in die pad mis te ry. Onlangs het Sebastiaan vir haar aangehaal uit die koerant – die groenes het ’n nuwe gier: wat jy in die pad vir dood optel, mag jy eet. From grill to grill. Sy het haar vervies dat hy selfs net die soort banaliteit vir haar geléés het.
Een-een begin die wingerde langs die pad opdoem. Geel en vlamoranje blare teen die middagson, sementblaaie tussenin waar
die sultanas gedroog word. Soet vrugte uit die bar woestyn.
Die robot waar sy Kakamas binnery, skyn tegelyk rooi en groen.
Die vrou by wie sy blyplek bespreek het, kom haal haar te voet by Bon Appétit toe sy haar selfoonnommer skakel. Sy is middeljarig, met ’n netjiese gereelde-Vrydag-kliënte-kapsel. Aangenaam. Sonder fieterjasies en aansitterigheid.
“Gee jy om as ons sommer met jou motor ry, asseblief? Myne het ek vanoggend by Kakamas Motors gelos, dit moet gediens word, maar dis nog nie klaar nie.”
So ver as wat hulle deur die breë hoofstraat en die woonbuurte met hul palmbome ry, vra die vrou haar uit, geïnteresseerd in dit wat ’n vreemde vrou uit die Kaap op die dorp kom doen.
Die boekskryf-storie het ’n uitweg geword wat noodsaaklik blyk. Sy sal daarby moet bly. Hoe meer dinge mense kan en wil vertel, hoe makliker word haar soektog dalk.
“Kakamas is destyds begin om werk te gee vir die armblankes,” sê haar gasvrou toe hulle in die sitkamer met sy blou gestoffeerde balen-klou-stoele sit. “Dit was swaarkrytye daardie. Ek het dit nie self beleef nie, maar ek ken ’n paar mense wat jou meer sal kan vertel van vroeër. Ek is nou al lank hier, maar van heel vroeg se dinge weet ek self nie; is ook maar ’n inkommer soos die mense sê. Ek sal bel en hoor met wie jy nog kan gesels. Dan kan jy hulle môre gaan opsoek en hoor wat hulle te sê het; hier is nog heelwat van die ouer garde.”
Dis nog vroeg in die middag. Die son sit nog ver van die horison, maar sy wens sy kan in die kamer kom. Die boeke en papiere wat sy ook ingegooi het terwyl Sebastiaan haar staan en bekyk het, lê en wag in die kattebak van die motor. Dit wat haar fassineer én laat gru.
Toe sy die deur van haar woonstelletjie teen die garage eindelik agter haar toemaak, trek sy haar nagklere aan en gooi die kombers oor haar voete. Nie dat dit koud is nie, maar sonder iets oor haar kaal voete so op ’n bed, het sy nog altyd sonder verweer gevoel.
Sy trek die pak papiere uit die koevert, blaai tussen die stukke waarvan sy die krammetjies losgemaak het; trek lukraak een uit. Sy sit dit weer neer, staan op en haal die bottel Chateau Libertas wat sy van die huis af saamgebring het uit die houer wat op die tafeltjie staan. Sy breek die kurk. Onhandig. Moet ’n tweede keer probeer om die res van die prop uit die bottel se nek te kry.
Ai Má tog!
Sy lig die glas met die lou wyn in ’n gesondheid!-gebaar na Juli. Op jou, my kind – op óns.
Sy tel die artikel weer op, maar sit dit ná ’n rukkie eenkant, laat haar oë oor ’n ander een gly.
Buite is dit steeds dertig grade, vyfuur op ’n herfsmiddag. Maar hier binne slaan die hoendervleis op haar uit. Sy lees, teen haar sin:
Reeds vroeg met sulke gedrag … nie geïdentifiseer voor heelwat later nie … kinders … ’n manier om gehoor te word … optrede wat vasgelê word … pasiënt se lewe geheel en al oorneem …
Dit was die film wat sy gesien het wat haar op hierdie spoor gebring het – The Night Listener. Nog voordat tannie Ousus haar laat weet het haar ma is weg, en voordat die vrou met die onbeholpenheid in haar stem van wieweetwaar gebel het om te sê sy weet waar haar ma is.
Die vrou in die film wat die berader by ’n radiostasie snags aanhoudend gebel het, het vertel van haar siek seun en hulle probleme; elke keer was daar iets nuuts, iets ergers, iets wat die berader nog meer radeloos gemaak het. En toe: die vrou se weerstand daarteen dat hy persoonlik met hulle in aanraking kom.
Dis van toe af dat sy dinge begin naspeur het; dat sy Henry by sy spreekkamer gekontak het. Begin het om haar ma se optrede deur die jare terugskouend anders te interpreteer.
Tog, voordat die vrou haar die dag op die plaas gebel het om te sê haar ma is veilig en sy leef, wou sy haar nie soek nie, nie sien nie. En nou ook nie, nie werklik nie. Bang om uit te vind dat sy haar hele lewe lank bedrieg is.
Sy skuif die artikels terug in die sak met die boeke waaraan sy ook by die huis begin lees het, hoor hoe haar gasvrou die hond wat aan haar buitedeur krap, bestraf: “Áf, Tsjaka!”
“Jy moet kies, Katrien,” het Sebastiaan gesê die aand toe hy die pos van die dorp af gebring en die groot koevert met nog meer artikels van Henry af voor haar neergesit het.
“Óf hierdie belaglike obsessie wat jy oor jou ma het, óf om ’n lewe hier saam met my te hê. Ek kan nie langer met ’n halwe vrou saamleef nie.”
Die straatlig skyn by die venster in toe sy die leeslamp afskakel. Sy weet te min, en tog is dit reeds te veel vir haar begrip. Haar verstand kan dit verstaan, ja, maar die binnekant, daar waar haar geheue en haar hart sit, daar moet sy ruimte skep, haarself uithol om plek te kry vir hierdie gedagtes. En vir ’n nuwe lewe met Sebastiaan. As dit nog moontlik is. Vir hom is dit reg – of weg. Soos dit vir haar ma was.
Die windjie wat deur die kantgordyne roer, bring die reuk van oorpak en ghries en olie. En sy sagte rasperige stem: Soveel dinge het verbygegaan, my kind. Die meeste van die ou masoniteopslaanhuisies waar ons gebly het, bestaan lankal nie meer nie. Maar die onthou, dít is wat belangrik is – dis die onthou wat maak dat jy weet jy leef.
Haar pa het sy bene met die wit oorpakpype onder die tafel ingeskuif toe haar ma sy koffie voor hom op die groen panelite-tafel neersit, en háár op sy skoot getel. Vanoggend was die eerste keer dat haar ma weer uit die kamer gekom het.
Só op sy knie ruik sy die son en die grond en die olie van die grader waarmee hy werk. Sy weet die tyd wanneer haar pa by die huis kom, is hare. Al sê haar ma hy bederf haar tot in die afgrond.
Partykeer wanneer hy nog baie werk het in die groentetuin, gaan staan sy styf langs hom terwyl hy die warm koffie in die pie-ring gooi en dit so stoom-stoom drink. Dan val ’n straaltjie son deur die skrefie in die gordyn wat haar ma toegetrek het sodat die meubels nie verbleik nie, en sy gryp met haar hande na die stoffies. Sonsterretjies wat uitkom wanneer haar pa huis toe kom.
Maar nou gaan hulle na ’n ander plek toe en sy weet nie hoe dit gaan wees nie. Sal daar nog blink spikkeltjies in die middag skyn?
In die nagte sien sy hoe die tannie van oom Boelie wat haar pa met die wielestoel gehelp het, opstaan en na haar toe loop; hoor sy hoe die tannie sê dis nou iemand anders se beurt om in die stoel te ry.
Haar pa staan op. Hy tel die houtbottels wat hy skeie noem en waarmee hulle na die penne in die sand gooi, op. Hy vat om haar ma se lyf. “Kom, Kinnie, loop saam daar na die baan toe. Wanneer sien ons nou weer die ander? Môre, oormôre is ons weg, en dan’s dit te laat.”
Van buite af hoor sy hoe die ander kinders lag en speel in die bome en in die sand skuins agter die kamphuise. Die ander tannies sit partykeer daar met hulle koffiebottels en toebroodjies, en dan gee hulle vir haar en Oubie ook ’n lekseltjie.
Daar is ’n klop aan die deur. Haar ma maak die bodeur oop. Oom Sam met sy ronde blink kop kom tot by haar pa, vat hom om die skouer en wil hom nie los nie. Hy trek aan hom dat hy moet opstaan, en sy moet afklim. So, met haar pa aan sy arm vas, loop hy na waar haar ma weer op die kartondose met ingepakte huisgoed begin skryf het.
“Vir oulaas, Japie man,” sê hy. Hy kyk na haar ma se kant toe: “Jy ook, Hanna, toe wat? Griet en Marie sit al klaar daar op die bankies langs die kant.”
Sy hoor iets van “oulaas” en “tot siens”, van “later almal saam help pak”. Sy sien hoe haar ma se mond styf trek, maar sy sit darem die pen waarmee sy skryf neer en gaan gooi water in die sinkbadjie in die badkamer en sê uit die hoek van haar mond: “As jy wil saamgaan, was jy eers jou gesig en jou voete, Katrien!”
Oor die drumpel val nog ’n stukkie son, en haar ma wys vir haar pa na die deur toe. “Toe, gaan julle maar!”
Deur die oop badkamerdeur sien sy hoe haar pa uitloop en hoor hoe hy saam met oom Sam lag. Die voorhekkie piep toe hulle uitgaan.
“Wag vir ons, ons wil ook saamgaan!” skree Sammie en Oubie uit die motorhuis.
Haar ma gee vir haar ’n handdoek aan. “Droog jou voete goed af. Ek trek net iets beters aan.”
Sy draai om in die bed. Dis warm hier in die woonstelletjie met sy lae plafon. Dít onthou sy nog: die verskriklike warmte van daardie tyd. En dat iemand geskree het. Maar die tussenin, dít wat gebeur het voordat haar pa haar uit die badjie gehaal en haar voete sommer so met sy sakdoek afgevee het, daarvan weet sy nie.
Haar pa se gesig was wit. Witter as die enemmelbeker waarmee haar ma water in die badjie gegooi het. “Kom, Katrien, kom ons gaan help gou vir Mamma,” het hy gesê en haar voete afgedroog.
Op die agterstoepie het haar ma gelê met die rooi rok wat soos ’n groot blom oor die sement geval het, haar een been onder haar ingevou. Sy het op haar hand gebyt en die huil het langsaan uitgekom. Haar kop het heen en weer gedraai soos sy gekreun het.
Die sonbesies in die doringbome het ál harder geskree. Haar ma se rok het groter en groter geword. Rooier. Totdat daar niks ander kleure rondom was nie.
Sy het die kissie waarmee sy op die agterstoepie gespeel het voordat haar pa vyfuur huis toe gekom het, eenkant sien lê. Sy het gesien hoe kyk haar ma na haar. En na haar pa wat die kissie van die stoep afgehaal en eenkant neergesit het. Toe het hy haar ma opgetel en in die groen Zephyr met die wit dak in die motorhuis gaan neersit. Hy het omgekyk na haar en Oubie: “Tannie Griet sal by julle bly tot Pappa terug is van die hospitaal.”
Dit was laat toe hulle die aand by die huis gekom het.
“Die been is darem nie gebreek nie,” het haar pa vir tannie Griet gesê, “maar die dokter het haar enkel verbind. Ag, ek verwyt myself. As ek nie jukskeibaan toe gegaan het nie, het ons verder ingepak en geëet en gaan slaap. Nou moet ek vir Kinnie met twee krukke op Queenstown by die nuwe huis laat intrek.”
Oubie het gaan slaap, maar sy het in die kombuis bly sit toe haar pa haar ma kamer toe gehelp het. ’n Rukkie daarna het hy haar kom haal. Hy het haar teen hom vasgehou toe hy haar bed toe gedra het. Toe sy in die bed lê, het hy die laken saggies oor haar toegetrek en onder haar ken ingedruk.
“Pappa se Katrien. Jy ruik net so na melk soos die ou klein hondjies van oom Sam se labrador wat nog aan hulle ma drink. Jy moenie bang wees nie, hoor, een van die dae is Mamma weer reg.”
Hy het oor haar kop gestreel, vir ’n lang tyd, en sy het gehoor hoe hy praat, hoe hy sê dat sy net sulke wit haartjies het soos “dáárdie enetjie”. Sy kon niks terugsê of vra nie. Sy het haar kop onder die kussing ingedruk sodat sy nie die middag se skree kon hoor nie, maar sy wou nie haar oë toemaak nie.
Uit die nag, agter haar oë, het die rooi rok van haar ma ál verder oor die stoepie uitgewaai. Dit het nat geword en oor die kante van die sement begin drup; oor die werf het dit geloop, uit by die hek en deur die draad. Dit het ’n rooi rivier geword.
Aan die een kant het sy gestaan, en ver aan die ander kant die vrou wat haar ma was.