Читать книгу Padmaker - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 8
DRIE
Оглавление“Nee kind, jy praat darem nou van te lank gelede, amper veertig jaar. En dié mense, hulle het maar eenkant gebly. Ons het nie eintlik met hulle te doen gehad nie.”
Tant Gertie is een van die oudste inwoners van Kakamas het Yolanda, haar gasvrou, gesê en selfs vir haar ’n afspraak gemaak.
En hier sit sy nou by die vrou met die navy-en-wit pakkie waarvan die plooitjiesromp om haar bloubeaarde enkels vou. Daar is ’n waardigheid aan haar wat niks te doen het met geld of besittings nie. Haar gesig is dié van iemand wat die lewe een dag op ’n keer aangepak het. Geduldig, moedig.
Die lig val deur die Venesiese blindings van die woonstel se voorkamervenster, maak strepies op die vierkantige bruin en geel kussings. Die tannie se teekoppies is fyn, dun randjies teen die lip.
Sy kan al in die tagtig wees, maar daar is nog lewe in haar oë, beweging in die beduie van die hande.
“Ek staan nog elke oggend vyfuur op, dan hou ek my godsdiens. Dan begin my dag. Daar is soveel wat ek nog het om te doen; ek kan nie dat die aandson oor my toesak en my ledig kry nie.”
Maar wat dan van die pád? Onthou sy iets van die werkery? Die mense het tog die pad Upington toe geteer? En wat van die brug daar waar die dorp uitloop Keimoes se kant toe?
Op die wang wat wegdraai, by die venster uitkyk, lyk die vrou se rimpels soos die jaarringe in ’n ou, deurgesaagde boom. “Kyk, kind, my man is mos dood in daardie tyd waarvan jy praat. Die kinders was klein …”
Tussen die slukkies warm tee en die gemmerkoekies deur daag daar by haar ’n besef van die vrou se noodwendige realisme, iets waarmee sy self nie altyd rekening hou nie. ’n Mens tel die manna op soos wat dit soggens vir jou op die grond lê. As jou man dood is en jou kinders almal nog op skool, dan maak jy klere, jy sorg dat jou kinders nie honger is nie, jy kyk dat die boerdery nie tot niet gaan nie. Jy vee jou eie werf. Dan het jy nie tyd om te kyk na lorries met gruis wat verbyry nie – al is dit ook daardie einste lorries en masjiene wat ’n pad maak om jou oorlede man se perskes na die naaste depot te neem.
Toe sy vir die vrou tot siens sê, weet sy: ’n Mens aanvaar te veel, kyk te vlak en net voor jou eie voet. Dis sy wat na skuldiges soek wat Ma-Kinnie gemaak het soos sy is. Mense wat hulself met opset eenkant gehou het van die eenvoudige padmense met hul vlietende trekbestaan.
Die tannie staan in die koelte onder die papajaboom en wuif haar agterna. Sy onthou meteens die woorde wat die veroordeelde hoofkarakter in The Reader aan haar eertydse jong minnaar gesê het:
I always had the feeling that no one understood me anyway, that no one knew who I was … And you know, when no one understands you, then no one can call you to account.
Maar die woorde is eerder ontstellend as dat dit haar troos. Dit laat haar in die war. Wat dan van haar ma – moet sy haar dit dan ook alles kwytskeld?
Van bakboord na stuurboord is ’n kort afstand; land oor land is baie verder. Kilometers se ry in die warm son. Yolanda het gepraat van ’n man wat ’n werkswinkel het. Dalk onthou hý iets, weet hy waar die kamp gestaan het. Maar daar’s niks. Hy vee sy ghrieshande teen die agterkant van sy denimbroek af. “Nee, Mevrou, ek weet nie van sulke mense wat hier was nie.”
Hy stuur haar na ’n man wat vroeër begrafnisondernemer was in die Kakamas-omgewing – ’n Jooste van die plasie Skuinslê. Haar pa sou sy kop agteroor gegooi het van die lag oor die naam.
Sy moet soek tussen die vele afdraaipaaie na groot plase, hoewes en arbeidershuise. Die bordjies is nie altyd goed sigbaar nie, en sy moet twee maal omdraai voor sy uiteindelik die regte plek sien. Die kronkelpaadjie lei na ’n wit huis met ’n groen dak. ’n Kleinerige trekker en twee bakkies staan langsaan voor die waenhuis.
Aan die kant van die huis hou sy stil. Op die voorstoep staan ’n ou enemmelbad wat aan die voorkant uitgesny is sodat dit as sitplek kan dien met ’n dik, blou, opgestopte matraskussing bo-op wat die hele badbank vol lê. Sy wens sy kan daar gaan sit, net uitkyk oor die riete langs die rivier; dít wat deur die jare tot stof geraak het, herskep tot ’n vaste beeld.
Die man wat die deur oopmaak, lyk half deur die slaap. Sy steil, grysbruin hare lyk of dit verlê en net vinnig platgevee is toe die klop aan die deur kom. Sy vrou kom agter hom verby, bekyk die besoeker vlugtig voor sy groet en haar innooi.
“Goeiemiddag, kan ek help? Kom binne, dis koeler in die sitkamer.”
Sy kry die indruk dat die vrou wil intree vir die man, asof sy hom moet beskerm. Toe sy agter hulle na binne stap, sien sy hoe sy hom aan die arm vashou voordat sy langs hom op die bank gaan sit.
Sy vra voel-voel. Wéét hy iets van die pad wat gemaak is?
“Jááá …”
Hy herinner hom so ’n tyd. Aan hoeveel makliker dit was om daarna die druiwe en perskes weg te ry. Maar aan die mense self? Nee, nie van ’n lewende of dooie padmaker weet hy iets nie.
“Daar is nie een van hulle wat ek nou ooit uitgelê het nie. Dié mense, ek weet nie of hulle juis eintlik kerklik was nie.”
Sy vrou tik saggies met haar hand op sy been, vermanend. “Páppa …”
Hy skrik, kry ’n verleë trek om sy mond asof ’n skooljuffrou hom op iets ergs betrap het; vee deur die yl deurmekaar hare en toe oor sy mond asof hy die woorde wil wegvee.
“Ag ekskuus, dis nou nie, ek bedoel …”
Sy stel hom gerus. Dis goed, sy verstaan. Sy wou maar net weet of hy iets onthou. Aan kerklikheid het sy lankal nie meer soveel nie. Elkeen glo soos hy wil, elkeen dink hy is reg.
Voor die ouetehuis waarheen hulle haar beduie, staan die appelkooskleurige just joey-roosbome nog vol blomme. Om die stamme is hoë walletjies met ’n graaf gegooi. Soos tóé, dink sy. Dis outyds, niemand doen dit vandag meer so nie. Haar pa het ook rondom die boompies wat hy geplant het, damwalletjies gemaak om die water binne te hou.
By oom Jakob en tant Maggie wat uit hulle kamer kom en saam met haar op die groen rottangstoele onder die veranda kom sit, loop sy aanvanklik ook ’n bloutjie. “Nee, sulke mense … ek kan nou nie …”
Die man trek sy oë op skrefies soos hy probeer onthou, vat sy ken tussen sy voorvinger en duim vas.
Sy vrou sit skielik vorentoe; haar voete trap vas teen die vloer. “Wag, daar ís iets wat ek nou skielik onthou. Eenkeer, daar was ’n vrou, haar kind was by my in die klas. Hulle het gesukkel met die skoolgeld, dit herinner ek my.”
Sy sit en kyk hoe die prentjie vir die oumens in die lens skuif, hoe die viewmaster dimensie gee aan die paaievrou met die sloffies en die lang, slierterige hare: “Sy was natgesweet. Sy’t die hele ent geloop skool toe, het sy gesê. Haar rok, die onthou ek nog, was dun van die was. Wat die kleur was, weet ek nie, maar dit het deurgeskyn.”
Dit kon tannie Jakkie of tannie Leen of tannie Hartjie gewees het, hoe sal sy weet. Nie dat sy so iemand onthou nie, maar daar wás sulke tannies – ook op die ander plekke waar hulle gebly het. Vroue wat by die huis kaalvoet geloop en nie omgegee het hoe hulle lyk nie. Dié wat Ma-Kinnie sloeries genoem het.
“Sy’t aan my klasdeur kom klop; buitekant bly wag tot ek self gaan oopmaak het. Ek het nie geweet wie dit is nie – die mense het nooit met die skool te doen gehad nie, dié ook dat ’n mens niks van hulle geweet het nie. Maar sy’t gesê sy kom daar van onder af, sy kom die geld bring.
“Sy’t nie ’n handsak gehad nie, sy het haar hand voor by haar rok ingesteek. Die geld was tussen haar onderklere gebêre.”
Sy wens haar ore kan toeslaan, nie verder luister nie. Dat sy nie hoef te sien nie, nie hoef te voel hoe die note – warm, nat en klewerig van die sweet – in die hand van die onderwyseres gedruk word nie. Óns was nie so nie, wil sy sê. Mý ma …
Miskien is dit beter, genadiger om te hoor: “Ons het nie met hulle te doen gehad nie.” Dalk moet sy omdraai, reguit terugry na Sebastiaan, na die veiligheid van ’n plaas, daar waar die meetsnoere ten minste vir hom in mooi plekke geval het.
Toe die twee wil opstaan om saam met haar te loop na die motor, bedank sy. “Nee, asseblief, moenie in die son uitkom nie. Ek loop sommer gou.” Sy steek haar hand uit om hulle te groet. “En dankie.”
Dit kom moeilik. Judaswoorde. Sy wíl nie dankie sê vir wat sy pas gehoor het nie.
Toe sy wegtrek, staan hulle haar en agternakyk; die vroutjie regop en in haar skik dat sy nog soveel kan onthou.
By Bon Appétit gaan eet sy ’n wildspasteitjie en drink ’n glas water. Dis amper twaalfuur, maar daar is nie mense in die eetplek nie. Agter in die restaurantgedeelte is dit donker, maar koeler as voor waar die supermark is. Sy trek haar voete uit die sandale en laat rus hulle op die klipvloer, bly dat sy alleen kan wees agter die afskorting onder die rietdakkie.
Toe sy later die middag aankom by die kliphuis waar die oudskoolhoof se vrou woon, is sy moeg van vra, van niemand wat ’n vinger kan lê op ’n huis, ’n mens, ’n werkswinkel uit daardie tyd nie. Die skoonseun van die familieplaas digby die dorp maak vir haar die deur oop. ’n Boer wat reguit van die lande af dorp toe gekom het. Natgesweet onder die moue van sy kakiehemp.
Dis iemand wat haar broer se ouderdom kan wees, dalk ’n klein bietjie ouer. Sy hare raak min oor sy voorkop, en sy gesig het warm dae in die son verduur. Hy ry saam met haar na waar hy meen die kamp gestaan het, en die jukskeibaan.
“Maar die huise het verspreid gestaan,” sê hy, “klompies-klompies bymekaar, nie as een groot eenheid nie. Daarvan is ek amper seker. En eenkant was ’n plek waar hulle die teer aangemaak het. Die kampseuns se voete was altyd vol swart kolle soos wat hulle in die teer geloop het.”
Iets in haar wil-wil kliek. Die klipkoppie waarlangs hulle geloop het wanneer sy, haar ma en tannie Griet van langsaan soggens ’n entjie gestap het saam met haar broer, die rugsakkie al wippende teen sy lyf. Daar is iets wat sy onthou van ’n dag van ’n konsert. Rooikappie en die wolf. Tóé het hulle die hele ent pad geloop; tussen die mure van die skool gesit en kyk hoe die lelike dier die ouma opvreet.
Hoe is dit om ‘reg te onthou’? Dis ’n vraag wat ál meer in haar kop opkom.
Sy laai die man weer af, dankbaar vir die eerste konkrete herinnering wat sy gekry het. ’n Plek om na terug te keer.
Terwyl sy wegry, sien sy hom in die truspieël by sy vrou en skoonma staan. In haar kop hoor sy die ou vrou: “Sou dit nou een van dié mense wees wat hier gebly het? Maar sy lyk darem nie té …”
Hóé lyk ’n kampmens, Pappa? wil sy vra. Kan jy, as jy eenkeer daar gebly het, weer ’n gewone mens word?
Sy ry terug na die buurt waarheen die man haar geneem het, neem ’n paar foto’s van die stuk grond waar die jukskeibaan was.
Ma … ai, Ma, wat hoop Ma nou eintlik om te kry? Sy voel hoe die oë ongelowig van langsaan na haar kyk, hoor die laggie in haar kind se stem.
Toemaar, Juli, nog net gou ’n kiekie van die plek waar die man sê hy dink die huise gestaan het.
Dínk, ja, Ma. Ma kan nie alles op dínk wil grond nie. Op die ou end het Ma net ’n klomp verbeelding bymekaargemaak!
Waar die huise volgens die man was, is die ags se kerk nou, met bo teen die nok die leuse: Waar Eenheid Is, Is Krag. Amper iets soos die ou Ex Unitate Vires.
Verder agtertoe staan ’n afgeskilferde ou asbeshuis. Of dit deel was van die kamp, weet sy nie, maar dit is in dieselfde verbeeldinglose styl opgerig as die huise waarin sy grootgeword het: sinkdak, enkellaag-mure, vierkantige venstertjies. Kleinhuisie buite, eenkant teenaan die motorhuis. Ook van sink. Rou grond rondom. En hier het iemand met moed baie jare gelede ’n dadelpalm geplant wat teen droogte uitgehou het.
Op die werf hardloop twee bruin dogtertjies met stywe vlegseltjies. Die kleinste enetjie hink, gaan staan, trek ’n duwweltjie uit haar voet en hardloop verder.
Sy roer haar been, die voet by die petrolpedaal. Van die vorige dag af is die dowwe pyn waar die sweersel was, weer kort-kort daar.
Wat is “die verlede” eintlik? wonder sy. ’n Onthou wat alles onder een dak saamvat, kan dit nooit wees nie.
Sy wil vroeg ry die volgende oggend, sê sy vir die vrou met die grys hare nadat sy by die huis gekom het. En sy wil sommer nou-nou gaan inkruip.
Maar Yolanda is lus vir praat. Sy het ’n handdoek om haar kop en sy maak haar gas sit op die bal-en-klou-stoel: “Ek kom nou! Gaan net gou my hare droogblaas. Hier, kyk solank in die fotoalbum. My man se foto’s. Hy was ’n voorste jagter in die kontrei.
“En ek wil jou nog vertel, daar is goed wat jy moet weet. Wat jy in jou boek kan skryf.”
Sy laat haar oorhaal. Ma-Kinnie se werk, die ingedrilde ordentlikheid. Sy kyk na die wildsbokkoppe teen die mure, die foto’s van die man met sy gewere en sy trofeë. Toe die vrou terugkom, is haar hare netjies in ’n bob gekam en daar is lipstiffie aan die mond. Die storie oor haar en haar man se lewe bly uitrol.
Keer op keer probeer sy die gesprek terugdwing na wat sý wil weet, na iets wat haar op ’n spoor sal bring. Na skrapse sinnetjies wat sy deur die dag opgetel het – die brug by die rivier, daar waar die swart man met ’n kruiwa sement afgeval het tydens die werkery, na wat daaragter gesit het, na dit wat daarná gebeur het. Hoe sou dit die padbouers beïnvloed het; hoe sou die Kakamassers daaroor gedink het?
“Nee,” sê Yolanda. “Ek het mos later gekom; het nog nooit eens gehoor daarvan nie. Dit was seker nie van belang nie.”
Sy trek haar asem in, stik in die glas sodawater wat die vrou vir haar geskink het. Hoes, sodat Yolanda haar met ’n plat hand ’n paar klappe tussen die blaaie gee.
Één ding bly haar by toe sy uiteindelik by haar kamer kom en gaan bad: die strekking van die woorde bo die ingang van die ou koringmeule, geskryf vir die boere wat hul koring wou laat maal: Hier sal jy nie uitgaan voor jy die laaste oortjie betaal het nie.
Toe sy die volgende oggend vroeg wil ry, is haar gasvrou ook op, turkoois broekpak aan, ’n plastiekbakkie met ’n toebroodjie in haar hand. Vir die pad.
“’n Mens weet nie wat kan gebeur nie, en na Keimoes toe is dit tog nog ’n entjie. Maar daar is iets wat ek vergeet het. ’n Duitser wat twee jaar gelede by my oorgebly het, het my daarvan vertel.”
Sy neem die broodbakkie en laat haar die omhelsing van die vrou ongemaklik welgeval. Sy is haastig; daar is nog Queenstown in die Oos-Kaap wat wag, Steynsburg … Te veel tyd kan sy nie bestee aan elke plek nie. Daar is haar verantwoordelikheid teenoor Sebastiaan. En Juli.
Maar pleks van by die robot regs te draai op die pad wat sy eintlik moet kies, ry sy tog eers reguit oor – in die rigting van die begraafplaas. Sy het met die storie van Yolanda se gas van vroeër niks te doen nie, maar dit kan wees dat van die padmense van vroeër daar begrawe kan wees. Oom Sam, oom Boelie … Al weet dié Jooste wat die lyke uitgelê het, niks van die padmakers van daardie tyd nie.
Dit is ’n klein kerkhoffie, een wat nie meer gebruik word nie. Links van die pad af lê dit, skuins teen die wal op.
Sy parkeer die motor in die stukkie skaduwee van ’n boom, klim uit. Die grond is sanderig onder haar voete en sy gly terwyl sy teen die skuinste opstap. Tussen die sementstene deur soek sy, kyk op die kliphoofde van die grondgraffies of sy iets kan sien wat bekend lyk.
Daar was baie kindersterftes vroeg in die negentienhonderds. Meer as een keer is kinders sommer twee-twee in een graf begrawe. Johanna Esterhuisen, Jacoba Esterhuisen. Twee sustertjies seker, drie jaar en vier jaar oud, die sterfdatums drie dae uitmekaar. 1934. Depressietyd.
Sy loop tussen die hopies deur. Hy het die goeie stryd gestry, die wedloop voleindig …
Samuel van Huyssteen. 1928-1965. Soos hy geleef het, het hy gesterf. Oom Sam? Die man is jonk dood. Wat was oom Sam se van? Dalk kan sy haar broer later bel; miskien onthou hy iets meer.
Oom Boelie moet al oud gewees het in die tyd toe sy hom as klein dogtertjie gesien het. Maar sy doopnaam het sy ook nooit gehoor nie.
Sy soek na die grafsteen wat volgens Yolanda soos ’n boomstomp lyk – dit waarop ’n man verbitterd sy wrok teen die dorp laat skryf het.
Hy was siek, het sy gesê. Volgens die Duitser wat glo ’n agterkleinseun of iets van hom was. Sonder geld. Sy goodfor by die winkel was uitgeput. Selfs ’n botteltjie Lennon’s Hollandse Medisyne wou hulle hom nie gee nie. Niks om te help om sy koors te breek nie. Geen genade vir ’n man wat die laaste oortjie nog nie betaal het nie.
Sy kry die steen, lees die bitter grafskrif: Siek en lydend, verdruk en vervolg …
Anders as vir Yolanda ontroer dit haar nie. Trouens, dit maak haar kwaad. Te veel herinner dit haar aan die stem uit haar eie kinderjare: Ééndag sal julle jammer wees, eendag sal dit te laat wees.
Sy klim terug in die kar, sit eers om die sand wat by haar skoene ingekom het uit te skud. Die waaierband van die motor skree toe sy wegtrek. Sy hoop nie die ding breek nie; wie dra vandag nog sykouse om dit te vervang?
By die robot, wat steeds onverklaarbaar tegelykertyd bestrawwend rooi en toegewend groen is, draai sy links, ry uit die dorp, oor die brug.
Êrens het haar pa op ’n dag ook ingedraai by ’n klein kerkhof. Hulle het Boland toe gery, verby Cookhouse, waar die rook uit die huisies se skoorstene in die vroeë oggend haar laat dink het dít is waar die plek sy naam vandaan kry.
Hulle was van Queenstown af op pad tannie Ousus toe. Dit moet die einde van haar eerste skooljaar gewees het. Haar ma was ontevrede. Hulle kon ’n korter pad gery het: “Dis ou koeie, Japie, jy moet vergeet.”
Maar die kar het nogtans soontoe geloop. Sand-flats toe. By Paterson was daar lemoenbome.
“Ek móét gaan, Kinnie,” het hy gesê. “Nog altyd was ek te bang, maar ek moet dit sien, daar waar sy lê. Al is dit net een keer.”
Hulle het in die kar bly sit. Die ruite was toegedraai, want die stof het op die baba gewaai.
Haar pa het by die hekkie ingegaan; hy het kleiner geword tussen die regop, donkergroen bome. Sy het hom deur die venster gesit en dophou, bang dat hy weg sou raak en nooit weer terugkom nie. Maar hy hét, al het dit vir haar gevoel of dit minstens ’n hele dag was dat hy daar tussen die grafstene gestaan het.
Die hele lang ent Boland toe het hy in die spieël bly kyk. Terug.
Toe hulle by tannie Ousus-hulle op die plaas aankom, het niemand in die motor nog gepraat nie. Haar ma het vir Lenie, wat die jaar vantevore gebore is, vir tannie Ousus gegee om te bekyk. Oubie het uit die kar gespring, bly om weg te kom uit die stilte, en saam met Jacobus weggehardloop oor die sandgrond van die plaas by Slanghoek waar haar Oupa en Ouma toe ook gebly het.
Dit was baie lank daarna, sy kon al ver in haar laerskooljare gewees het, toe haar pa haar vertel het van die kind. Hy het die groentetuin skoongeskoffel aan die kant van die huis by Kraaifontein waar hulle toe gebly het. Dít was ’n vastigheid. Die baie verskillende plekke waar hulle gebly het, die nuwe mense wat bygekom het, die oues wat weggeraak het en wat sy nooit weer gesien het nie, het haar dikwels kriewelrig en bang gemaak. Maar altyd het haar pa maar weer sy tuintjie gemaak waarin hy boontjies en wortels en beet geplant het. Daar kon sy hom kry wanneer sy klaar was met haar huiswerk en sy nie langer tussen die mure kon bly nie. Daar het hy met haar gepraat of sy ’n grootmens was.
Sy het by hom gaan sit, op die naaf van ’n ou wiel wat teen die kant van die muur gestaan het; gekyk na die boontjies se groen blare en die tamaties wat rooierig begin deurskyn het.
Sy het hom vertel van die juffrou wat met haar geraas het omdat haar hare olierig was; gesê het dit is vuil. En dit wás nie. Haar ma het juis haar hare met klapperolie ingevryf sodat die skilfers kon weggaan, dat sy skóón kon wees. Dit was vir haar baie erg dat die juffrou so sleg van haar kon dink.
“Hoe maak ’n mens as iemand goed dink wat nie reg is nie, hmm, Pappa?”
Haar pa het die tuinslang verskuif, by haar kom staan en sy hand op haar skouer gesit: “’n Mens dink maar jou eie dink, my kind. Reg of verkeerd.
“Ek weet nie of ’n mens ooit weet wat gaan in ’n ander se kop aan nie. Ook nie eens as jy met iemand getroud is nie. Wat jy dink en wat jy wens, dit is dinge wat op ’n plek binne-in jou gebeur waar ander mense nie inkom nie. Goeie dinge, daaroor kan jy nog met ander praat, ja, maar daardie goed wat by jou bly spook, dit bly in ’n plek van sy eie in jou lyf. ’n Mens staan maar jou hele lewe apart.”
Die water het begin deursyfer onder die walletjie wat hy gemaak het; hy het die graaf gevat en meer grond opgehoop sodat die water eers die voortjie goed kon volloop. Toe het hy op sy hurke langs haar kom sit, begin om haar te vertel van die Paaie, hoe hy daar begin werk het nog lank voor sy mens was.
“Dit was in 1953, die elfde Maart – jou ma het die datum nog neergeskryf in ’n boekie wat sy met bruinpapier oorgetrek het. Dit was ’n dag waaroor al twee van ons bly was. Ja, ook jou ma. Dit was ’n lewe wat sy darem geken het, met jou oupa wat sy lewe lank ook op die pad gewerk het voordat hulle daar by tannie Ousus-hulle gaan bly het.
“Sy het die aand op die bed so teen my kom sit en haar arm nog om my nek gesit. Sy het na badseep geruik. Ons het al twee geweet: Hier is nou ’n nuwe begin vir ons saam.
“Toe kom ek net van die Spoorweë af en ek weet van die Paaie niks. Maar ek kon bestuur en ek het ’n lisensie gehad vir die groot lorries. Hulle sit my toe daar op Keurbooms op die waterlorrie. Ons was ’n paar maande daar; het sommer by jou ma se ma en pa geloseer. Maar toe kry hulle my nodig op Sand-flats, en ons kry ’n eie huis daar.
“En hoe kon ek weet van dit wat moes gebeur, Katrien? Iets wat my lewe so omver sou gooi. My gedagtes, hulle kon nooit weer reguit loop nie, nie met die onthou nie …”
Haar pa het stilgebly; die water het aan die onderkant van die voortjie begin uitloop. Hy het oor die doringdraad om die erf weggekyk, asof hy kon sien tot daar waar hy dink. Eers ná ’n lang ruk, toe die deur van die huis langsaan klap, het hy weer onthou dat sy daar was.
“Ek was skaars vier-en-twintig,” het hy gesê. “Ons was nog nie ’n jaar getroud nie; Oubie was net op pad. Dit was einde November, amper Desember – in Januarie sou hy gebore word. ’n Hele kampseksie moes Sand-flats toe skuif en die mans moes vooruit gaan om die blyplekke uit te meet en die paaie tussen die huise te maak.
“Daar was ’n onrustigheid in die nuwe omgewing. Maar die mense was ook bly oor die pad wat sou kom. Daar was dié wat ons padmakers nie eintlik daar wou hê nie, maar hulle het ook geweet, al kry elkeen van ons maar ’n klein salarissie, sáám maak ons almal tog ’n verskil aan die winkels en die skole. Die bietjies geld van elkeen op so ’n seksie kan ’n dorp op ’n manier taamlik laat vooruitgaan.
“Ons het begin om die kamp op te slaan aan die kant van die dorp. Eers uitgemeet vir die drie rye woonhuise onder, en dan ’n oop stuk sodat dit effens apart kon staan van die kantore en die werkswinkels aan die bokant. Tussen die rye uitgemete erwe het ons die grondstraatjies begin skraap. Eers met die stootskraper om alles min of meer gelyk te maak, die bossies en boompies wat in die pad staan uit te stoot, en dan met die grader wat gladder skraap en netjies maak. Ek was toe nog op die waterlorrie, en dit was my werk om die grond elke keer tussenin nat te spuit.”
Haar pa het sy sakdoek uitgehaal, sy neus gesnuit en die sakdoek stadig opgevou en teruggesit. Meteens het hy gesien hoe die water deur die grond breek en vinnig die tuinslang na die volgende akker versit waar die groenbone reeds klein wit blommetjies aan die ranke begin maak het.
Hy het daar bly staan, versigtig die blare opgelig om onder hulle te kyk of daar nie dalk al jong boontjies was nie.
“En toe, Pappa?”
Sy wou hóór wat hy dink.
Hy het opgekyk. Daar was iets in sy manier wat haar laat dink het aan die kere dat hy Lenie opgetel en gewieg het toe sy nog ’n baba was.
“O ja, die water vir die lorrie … die water moes ek heel aan die ander kant van die dorp gaan haal, deur die dorp ry, en weer terug tot by die plek waar ons werk; daar was nie water naby die plek waar die kamp gebou moes word nie.
“Die dorpskinders was tog so opgetoë toe die groot masjiene die eerste dag in die hoofstraat af gekom het. Kort voor lank het ’n hele swerm van hulle om die grader en bulldozer gedrom.Toe ons eers begin met die werk het hulle smiddae ná skool agter ons aangehardloop. Ook agter die waterlorrie met die spray-bar aan, deur die dorp, tot by die waterpunt, en dan weer terug tot waar die kamp sou staan. Uitasem, rooigesig, sulke kleingoed van sewe, agt jaar en nog ouer. En dan, die seunskinders van so elf en twaalf jaar wat by die kamp staan en wag het om aan die masjiene te vat, om na die groot wiele en die enjins te kyk.
“Ek onthou so goed, my kind, hoe ek bo in daardie waterlorrie gesit het, hoe vol dit in my binnekant was van alles wat vir ons reg loop. Jou ma wat binnekort gaan kom, ons eerste huis waarin ons gaan bly, ons eerste kind wat gebore gaan word. En ek dink: Eendag, dan hardloop dié enetjie ook in hierdie stofstraatjies rond …”
Op daardie oomblik het sy gewens sy was die oudste, die eerste kind. Die een aan wie haar pa so gedink het, gesien het hoe sy ook in die straat sou speel. Maar toe het hy weer langs haar kom staan.
“In my regterspieël kon ek die kinders sien wat agternahardloop. Ek kon hulle nie hoor nie, maar aan die oop monde en hulle gesigte wat lag, het ek geweet hoe hulle jil en raas.
“Die dogtertjies het moeg geraak en uitgesak en onder die bome gaan neerval, maar die seuns wou nie bes gee nie. Al wat hulle wou doen, was rondhardloop en pret maak – wie sal dan ook nie nuuskierig wees oor sulke groot lawaaimaakmasjiene as jy ’n kind is nie?
“Maar háár het ek nie gesien nie …”
Haar pa het weer stil geraak. Die voortjie was nog nie volgeloop nie, maar hy het sommer die pyp verskuif en hom so gedraai dat hy half met sy rug na haar gestaan het. Uit sy broeksak het hy sy pyp gehaal en dit gestop; met sy vinger die tabak vasgedruk. ’n Gebaar wat sy geken het sonder dat sy dit hoef te gesien het.
Eers toe hy ’n paar trekke aan die pyp gevat het, het hy teruggedraai na haar.
“Dit was die ene sand waar ek die pad moes natspuit; ek moes om die draaie, so met die oop venster, my oë knyp teen die wind en die sandwarrels. Dit het so gewaai dat ek net hier voor my kon sien.
“Toe hardloop daardie kind, ’n meisietjie van so ses jaar, mos ook saam met die waterlorrie. Sy spring en gryp vas aan die linkerkantste deur. Ek kon haar nie sien nie – ek was alleen in die voertuig – en daar was nie ’n spieël aan die linkerkant nie. Haar hand moes gegly het. En sy val.”
Haar pa se stem was so sag dat sy hom amper nie meer kon hoor nie. Sy het vorentoe gesit, die naaf laat kantel sodat sy nog nader kon kom.
“Dit was of daar skielik ’n duisternis mense om die waterlorrie gestaan het. Mense wat skree, mense wat waai en beduie. Ek het nie geweet wat aangaan nie, maar ek stop en klim uit.”
Hy het sy keel skoongemaak, ’n paar keer; sy kop heen en weer geskud, vergeet van die pyp wat in sy hand gloei.
“Daar, agter die agterwiel van die waterlorrie, het sy gelê. Dit was Du Toit wat die rekenmeester by die bank was, se kind.
“Ek het geweet sy is dood. Hier binnekant het ek geweet dit sal nie help om haar te probeer asem gee of om die dokter te laat kom nie.
“Die son het op haar geskyn, so ’n geel rokkie met blommetjies het sy aangehad, so sien ek dit nog voor my; haar bene en arms vol stof en modder van die water van die lorrie. En daar was niks wat ek kon doen nie.
“Ek het oor haar gaan buk. Haar gesiggie het nog ’n skriktrek op gehad en uit haar oog en haar neus het daar bloed gekom. Al wat beweeg het, was daardie wit haartjies wat oor haar gesig gewaai het.
“Iemand het haar ma daar aangebring met ’n kar. Sy het uitgeklim en voor my kom staan en met haar hande in vuiste teen my bors geslaan: ‘Dit is wat jý oor ons gebring het in hierdie plek! Mag jy in jou lewe ook voel hoe dit is om ’n kind te verloor!’”
Haar pa het die pyp in sy mond gesit en sy kon aan die knop by sy kakebeen sien hoe hard hy op die steel byt voordat hy weer kon praat.
“Nooit, Katrien, het ek dit vergeet nie. Ék het haar dood veroorsaak. Toe die polisie daar was en als opgeskryf het, het ek by die voorman in sy bakkie geklim en saam met hom na die enkelkwartiere toe gery. Ek het nie kans gesien om daardie dag weer in die lorrie te sit nie.
“Maar die lewe gaan aan; ek moes kos op die tafel kry. Ek het my probeer uitlig bo die donkerte van die kind se dood. ’n Paar keer het ek probeer om met Du Toit te gaan praat, met hom en sy vrou. Maar hulle het met stywe gesigte gesit; hulle het my nie eens gehoor nie. Ag, ek kon hulle ook nie kwalik neem nie.
“Op die ou end het ek maar ’n verplasing gevra. Ek kon dit nie meer uithou om daardie man teë te kom nie en te weet: Dis ek wat die lig uit sy oë weggeneem het.
“En ek was bang dat daar iets met jou ma en met ons kind kon gebeur, iets wat die straf wat my toekom, sou bring. Dit was nie maklik nie, my kind. En nog steeds, steeds kom dit maar altyd weer boontoe, die meisietjie en die skrik op haar wit gesiggie. Die vloek wat die kind se ma oor my uitgespreek het.
“Eers toe Oubie die dag gebore is – en dit was ’n moeilike geboorte, jou ma het swaar gehad – het ek iets gesien van ’n lewe wat voortgaan. Daardie dag het ek geweet: Hierdie lewe ís die moeite werd. Wie, en hoe, en wat jy is. ’n Mens moet aanhou, al is die pad ook lank, al is dit hard. Ek het weer ’n bietjie moed gekry. Maar ook ’n nuwe vrees daarby. Vir die kind wat ek gekry het, vir julle wat ná hom gekom het; vir jou ma.”
Sy onthou haar ma soos sy soms in die stoel onder die flou lig in die kombuis gesit het, haar hande besig met die stopnaald, fronsend by die swak lig. Klein. Versonke in haar eie wêreld waaroor sy nie praat nie; doof vir dit wat haar pa vertel. Maar altyd aan die heelmaak, aan die skoonmaak, asof sy iets van haarself ook wou afwas.
Aan die linkerkant langs die pad is ’n bord wat na Namibië wys, en voor ’n wit-en-blou arbeidershuisie hang ’n bruin vrou haar wasgoed op. Helder spatsels geel en rooi. Alles wat kan toemaak, is drabaar.
Regs lê Soverby. Blokmyself.
Oor rsg klink Valiant Swart se stem: Wie gaan eerste omdraai, wie gaan laaste bly? Dis ’n vreemde landskap vir jou en my …
Toe sy die ruit oopdraai en stadiger ry, ruik sy die soet nágeur van die sultanas en die Kakamasperskes van die somer.
Juli, sê sy, en haar hand vat na die sitplek langs haar, ons moet sorg dat óns herinneringe ’n mooier boek sal wees om uit te lees.
Die sap het langs haar ken afgeloop toe hulle uit die warmte van die noorde weggery het Queenstown toe. Haar ma het nie gepraat nie, ook nie geraas nie, net kort-kort oor haar been gevryf en met toe oë teen die kant van die deur geleun. Die krukke met die swart ore het agter tussen haar en haar boetie gestaan.
In die truspieëltjie het sy haar pa se oë gesien. Hy het sy sakdoek met sy een hand uit sy broeksak getrek en agtertoe vir haar aangegee om die nattigheid om haar mond af te vee.
“Kyk mooi na die waterwiel wat die bakkies water uitgooi,” het hy gesê. “Kyk hoe blink dit in die son; elke môre skep die wiel vir ons weer ander water uit.”
Of hy dit presies so gesê het, met die stukkie filosofie daarby, weet sy nie. Dalk het sy haar eie dink daarby aangelas namate sy ouer geword het.
Sy voel in haar swart baadjie se sak, vat die gladde rooskwartsklip raak wat Visser haar in die hand gedruk het voor sy die oggend uit Springbok weg is. “Vir stres – ek kan sien jy het iets nodig om jou te kalmeer,” het hy gesê. “Maar ek kan jou self ook help as jy wil, ek het mos helende hande …”
Sy het gegril vir die pienk palms wat hy na bo gedraai het en probeer om die hande van destyds op die stoep uit haar gedagtes weg te weer. Maar sy het die klip nogtans in haar sak gedruk. En nou, nou soek sy die kalmte wat uit die kwarts moet kom.
Op haar maag is ’n kol, ’n lam gevoel wat niks met honger of siek wees te doen het nie.
“Dis jou solar plexus,” het die homeopaat op Stellenbosch ’n keer gesê nadat sy Juli gaan aflaai het. “Dis daar waar al jou senuwees bymekaarkom.”
Sy knyp haar linkeroog toe; probeer soos so dikwels vantevore vasstel hoeveel sig sy werklik het in die ander een. In die waas sien sy nie hoe die vragmotor voor haar sy flikkerlig aansit nie. Haar remme skree toe sy amper in hom vasry. Die motor ruk tot stilstand.
Sy druk met haar hand op haar maag – dis hiér waar sy haar ma kan hoor, selfs sien. ’n Vrou wat oorbuk om haar lyf in die spieël by die wasbak te bekyk, wat haar kind roep om te kyk na die snye oor haar maag. Wat die klein handjie vat en in die vore van die letsels druk: Vóél …