Читать книгу Padmaker - Christine Barkhuizen-le Roux - Страница 9

VIER

Оглавление

“Om weg te gaan van Kakamas af was soos om weg te gaan uit die land van melk en heuning, soos die Bybel sê.”

Haar pa het dikwels terugverwys na dié tyd. Miskien, het sy later gedink, het hy sy laaste stukkie jonkwees daar ervaar, so saam met die mans op die jukskeibaan. En miskien het daar met hom ook iets gebeur daardie middag op die agterstoepie toe haar ma geval het.

“Graagste wou ek nog daai stuk pad klaarmaak na die Augrabiesvalle se kant toe. Later, eers in ’67, is dit oopgestel, en toe was ons al lankal weg.

“Maar ’n mens moet gaan waar hulle jou nodig het – jy kon nee sê, ja, maar dan is jou kans volgende keer daarmee heen. Ek wou my opwerk, ek wou vir julle die beste gee wat ek kon.”

By Keimoes draai sy weg sonder om die hele dorp deur te ry. Oral langs die pad is wingerd en nogmaals wingerd.

Toe sy die naam Kanoneiland sien, weet sy dit kan nie meer ver wees na Upington toe nie. Bezalel? Van dié wynlandgoed het sy al gehoor, maar met alles waaroor sy die afgelope tyd gelees het, klink dit vir haar meer soos Beëlsebub.

Klippunt. Kalksloot.

Kameelmond.

Een van haar pa se lawwe liedjies wat hy gesing het wanneer hy hulle aan die lag wou kry, was dié van die wonderlike donkie wat in die sand rol en koerant vreet. Sy voel hoe die lag in haar opkom. Hier in die noorde het hulle sowaar vir die ou langoor ’n monument opgerig.

By ’n wegneemkafee waar die volgende belangrike rugbywedstryd in groot bordkrytletters op die buitemuur geadverteer word, hou sy stil. Die plek ruik na sigaretrook. Die man by die toonbank se oë is rooi. Sy vrou kom vorentoe geslof. “Ons het nou net oopgemaak,” sê sy verskonend. Teen die muur wys die horlosie halfnege.

Sy neem die koffie met die melk wat sy laat warm maak het en loop kar toe. Uit die koevert op die agtersitplek trek sy die foto’s wat tannie Ousus saamgegee het. Haar oupa en ouma se troufoto met ’n wit kartelrandjie om. Haar ouma lag skuins op na die lang man aan haar sy.

“Jou oupa het haar sy Irish Beauty genoem,” het Ma-Kinnie vertel wanneer sy soms op ’n Sondag met die fotoblikkie gesit het.

“Wanneer Pappie nugter was, het hy haar sommerso onder sy arm ingedruk, so klein was sy.”

Haar ma se stem het ál sagter geword: “Later het net die blou oë gebly, maar hulle het sleg geword van saans sit met ander mense se heelmaakgoed. En dan was daar die bondels wasgoed wat sy vir die ryk mense gedoen het; êrens moes sy geld kry – wat hy verdien het, het Pappie deur sy keel gegooi.

“Ons moes hard werk, ek die hardste van almal. Ousus en Issie en Ens, hulle het gesorg dat hulle laat van die skool af huis toe kom. Ek was die een wat jou ouma gehelp het – en wat het ek daarvoor gekry?”

Sy is moeg. Die gedagtes wat in haar kop bly maal, maak dat sy nie bedags of saans ordentlik kan ontspan nie. Hoe word ’n mens gereduseer van ’n Ierse skoonheid tot ’n wasvrou? Is dit iets wat met jou gebeur? Of gee ’n mens self die toestemming om op jou te laat trap?

By Kleinbegin, ’n paar kilometer anderkant die palms van Upington, kom ’n skilpad aangeloop, gaan staan in die middel van die pad toe sy nader kom; trek sy kop in. Sy hou stil en tel hom op, sit hom aan die kant van die pad neer. In die veld staan van die groot miershope waarna sy as kind ure lank kon sit en kyk.

Die miertjie waarvan haar pa in die Bybel gelees het, dis aan hom dat sy gedink het – en aan Langoor, die lui donkie van die sub a-leesboek – wanneer haar pa vertel het hoe hy hom opgewerk het, een klein treetjie op ’n slag. Sonder ophou.

Die masjiene was toe vir haar almal net groot en geel, met reusewiele. Later, hoe meer kere hulle getrek en hoe ouer sy geword het, het sy beter verstaan.

“Ek het onder begin, my kind,” het haar pa gesê. “Eers die waterlorrie, en toe die padroller. Jy weet mos, daardie vragmotors wat ’n spray-bar agter het en die hele pad kan natsproei. Dié het ek eers gery. En daarna die groot ou platrollers wat die grond vasstamp. Sonder die vasrol kan ’n mens nie ’n teerpad bou nie.”

Sy het hom gehelp om die houtstompies wat hy gekap het op ’n hoop te pak agter die motorhuis, daar waar die draad tussen hulle en oom Swannie se huis was. Haar ma het met haar krukke langsaan op die agterstoep van die nuwe huis op Queenstown gesit.

Die stukke hout was nog nat in die middel, daar waar die byl deurgegaan het. Sy het haar neus daarteen gedruk en gesnuif. Dit het suur geruik.

“Oppas tog, jong, dat jy nie splinters in jou hande kry nie,” het haar pa gesê. Hy het gekyk na waar haar ma met Lenie in die arms sit, en toe weer na haar.

“Ná die padroller, Katrien, toe het ek die bulldozer gekry. Daardie groot, growwe ou lem om mee te werk. En daarná eers die padskraper. Ek moes leer daarvoor, maar daar is amper niks lekkerder as om saans by die tafel te sit en kyk hoe werk die binnekant van die masjiene nie, daar waar ’n gewone mens nie onder die kap kan sien nie.

“Niks in die lewe kom vanself nie, my kind. ’n Mens moet jou kant bring as jy êrens wil kom. Ek het vroeg uit die skool gegaan, maar leer kon ek darem nog altyd. Port Elizabeth, daar by die see, dit was die plek waar ons die eksamens moes gaan skryf.

“En die dag dat jy daardie padskraper kan krý, as dit jý is wat hoog op daardie sitplek kan sit en afkyk op hierdie stuk grond voor jou waar nou nog niks is nie, en jy weet, oor ’n paar maande lê hier ’n pad wat swart en glad en veilig is – dan is jy trots.

“Die padskraper is die hoogste van al die masjiene, dis nie sommer enigeen wat op hulle kan gaan sit nie. ’n Mens moet die werking van die masjien van die ding ken, ook dié wat later uitgekom het met hidrouliese krag en waarmee ’n mens nog groter en harder soorte werk kan doen.”

Rouliese-kouliese-smouliese-touliese – die woorde wat haar pa gesê het, het soos ’n rympie geword wat in haar kop omrol en omrol. Sy het gesien hoe loop ’n toktokkie oor die hout en haar pa aan die hand vasgegryp.

“Nee wat jong, vir hulle hoef jy nie bang te wees nie,” het hy gesê.

“Kyk …”

Hy het die swart hardedopgogga met die grillerige pote afgehaal, op die grond neergesit en toe met ’n stukkie hout langs hom op die grond getik. Tok. Tok-tok. Tok-tok-tok. Toe wip die gogga met sy agterlyf en hy maak net so: tok, tok-tok, tok-tok-tok.

“Sien jy,” het hy gesê, “as ’n mens mooi luister, hoor jy watter taal die wêreld rondom jou praat.”

Toe het Oubie daar aangekom, gehelp om die hout vinnig op die hoop te pak. Hy het sy arms geswaai en ’n nuwe stompie op die blok gesit en met een hou deurgekap. Agter sy pa se rug het hy vir haar tong uitgesteek.

“Pappa!”

Sy wou vir hom sê, maar Oubie het kwaai na haar gekyk en twee appels uit sy broeksakke gehaal. “Vertel weer van die oom en die vleis, ag toe, asseblief, Pappa!”

Sy en Oubie het teen die houthoop opgeklim. Haar pa het begin om die appels wat van tannie Ousus uit die Boland gekom het en tussen pers papiere in ’n kartondoos toegedraai was, te skil. Lang-lang repies het hy met sy mes afgedraai, totdat die skil gelyk het soos die blink stringe wat in die winkel op Queenstown aan die Kersboom gehang het.

Hulle het geluister asof dit die eerste keer is dat hulle dit hoor. Hulle pa se stories was mooier as enige van dié wat in Oubie se skoolboeke was en waaroor hy hom so groot gehou het.

Hy het weer vertel van hoe hulle partymaal, veral saans wanneer hulle weggewerk het, ’n vuurtjie aangeslaan het en wors gebraai het. “Sommer ’n graaf of twee gevat, dit in die vuur gesteek om hom ’n bietjie skoon te brand en dan die wors daarop gesit en so oor die kole laat lê.”

Oubie het gekriewel: “Maar wat van die óóm, Pappa?”

Haar pa het gelag en oor Oubie se borselkop gevryf. En vir die soveelste keer die storie vertel. Van die voorman wat altyd smiddae die werksmense se kos so kom opeet het op die plek waar hulle gewerk het en hoe oom Sam gesê het hulle moet hom ’n les leer.

Hy het die rooi skil van die eerste appel eenkant neergesit en die afgeskilde appel in die helfte deurgesny. Toe weer in kwarte. Met die vier stukkies nog so in die bak van sy hand het hy die pitte van elkeen een vir een in halfmaantjies met die mes uitgesny.

Vir haar en Oubie het hy elkeen ’n stukkie gegee en self ook een geëet. Aspris stadig, tot hulle twee nie meer kon wag om verder te hoor nie. Toe het hy die laaste stukkie deurgesny en vir haar en Oubie gegee voor hy verder vertel het.

Van hoe oom Sam sy brood met vleis net so vir die voorman gegee en toe hy klaar geëet het, die jakkalsvelletjie agterop die een bakkie gaan haal en voor die man se neus geswaai het.

“‘Ja, hulle sê mos jakkals proe so soet,’ sê oom Sam toe so ewe.” Haar pa het gelag en aan sy pyp gekou. “Die voorman het net daar in sy bakkie geklim en weggetrek dat die klippers spat. Maar so ’n ent verder het daai geel bakkie styfgeskop en ons het gesien hoe staan hy daar gebukkend langs die pad! Laaste sien van die aas na ’n ander man se kos – en nooit ooit iets daaroor gesê nie!”

Nou nog kan sy sien hoe Oubie daar by die stompies portjackson begin hik het van die lag. “Ja, dis goed so, hy wou mos!”

Haar pa het ook gesit en skud daar op die houtstomp en sy het amper van die houthoop afgeval, sodat hy vinnig opgespring het om haar te vang. “Versigtig tog, jong! Netnou kom jy iets oor!”

Haar ma het gemaak asof haar pa ’n grapjas was. Die Tickey in die sirkus. Die een wat oor sy voete val om die mense om hom te vermaak. Sy het sy stories afgemaak as ligsinnigheid, tydmors.

Maar dis nou, noudat Katrien al die stukkies bymekaar pro-beer soek en hulle inmekaar wil pas, dat sy meer begin sien agter sy vertellings. Nie dat hy dit seker so bedoel het nie, maar sonder die stories was die lewe vir hom dalk net te hard en ongenadig. Dalk was die stories die een ander ding behalwe die lág, waaraan hy moes probeer klou om nie in die pas af te gly met die grader nie.

As kind het sy nooit daaroor nagedink nie. Haar ma was die ernstige een, die een wat die reëls gemaak het. Haar pa was die storiemaker. En omgekeerd – hy was ook die een wat geluister het na wat sy vertel. Maar partymaal het sy haar stories in haarself moes wegbêre. Diep, waar niemand dit kon raakhoor nie.

’n Paar keer moet sy stop waar hulle besig is om ’n stuk pad duskant Groblershoop heel te maak; die helderoranje oorpakke van die werksmense soos lemoensakkies in klompies bymekaar. Plek-plek het die teer ’n vreemde, donkerpienk kleur.

Aan die hoeveelheid windpompe kan ’n mens sien hoe droog die land hier is.

Gifkloof. Ditsem. Klein Kanniedood.

Vir elke pomp wat blink met ’n vlerkspan staan, is daar vele wat kaal en sonder vere is, geen water wat met hulle nog gepomp kan word nie. Geraamtes in ’n onherbergsame, oneindige stuk land.

Maar by Lambrechtsdrif is daar groot druiwetrosse op die pilare. Kanaän? Hoe is dit dat party mense optimisties bly ten spyte van teenslae en ander trek ’n kombers oor die kop? Vlietend in die verbyry sien sy ’n vrou met ’n ligblou rok wat buk tussen die agapante langs die wit muur.

Tussen die ou kiekies in haar ma se blikkie het sy eenkeer, nadat sy klaar was met universiteit, ’n negatief gekry waarvan sy ’n foto laat maak het. Die jong Hanna-Kinnie as twintig-, een-en-twintigjarige, wat met ’n geblomde romp en ’n wit bloes teen ’n rots by die see staan. ’n Mooi jong vrou. Maar met haar oë ernstig en haar mond stroef, soos ook op die trouportret toe sy en haar man ’n paar jaar later voor die landdroskantoor op die trappies gestaan het.

Uit die doringbome skiet die middagson spieëlblink vonke. Regs uit die grootpad lê Grootdrink. Ezelfontein daarnaas.

Wanneer Ma-Kinnie oor Oupa gepraat het, was haar oë soos die weerligstrale wat die Oos-Kaap se donkerblou middae in stukke gesny het.

“Nog voor my operasie, tóé al het ek hom uit die kroeg moes gaan haal op Keurbooms! Ek het my so geskaam vir sy af-hempsknope, vir hoe hy daar met sy kop op die toonbank gelê het. Gebaklei. Hy wou nie kom nie; hy het aan my geruk en gepluk, maar die drank was hom oor; ek moes hom huis toe sleep.

“Wanneer hy daarna wakker geword het, het hy my met ’n bloudraad geslaan, geraas sodat jou ouma uit die kombuis geloop het.”

Ma-Kinnie se mond het gehuil.

Sy wou nóg vra, nog weet oor hoe dit was, maar sy was bang. Sy het onthou van die kuier by Oupa-hulle in die huis op tannie Ousus-hulle se plaas. Oupa wat sy skoene sleep as hy kamer toe loop; wat na háár blý roep.

Wanneer hulle na ’n vakansie terug was by hulle eie huis en haar ma-hulle die aand al geslaap het, het sy uit haar bed geklim, gaan kyk na die troufoto wat in die gang gehang het. Swart-en-wit.

Haar pa met sy hoë voorkop en sy breë mond. Sy reguit neus. Haar ma wat nog ’n jong meisie was in ’n ligkleurige tweestukpakkie, ’n roos bo teen die kraag van die baadjie vasgespeld. Skoene met oop toontjies.

Sy het haar ma gehoor van agter die glas: Vir mý was daar nie ’n trourok soos vir Ousus nie. Ek het gehelp met die skuur van die swart stoof. My hande was swart en stukkend in die sagte vleis. Maar Ousus en Issie en Ens – hulle was Pappie se darlings. Dis húlle wat partykeer lap gekry het vir nuwe rokke.

Toe sy by Prieska petrol ingooi, is haar kop ’n roesemoes van al die gedagtes. Prieska beteken “plek waar die bok weggeraak het”, het oom Bennie, haar pa se swaer en tannie Berta se eerste man, gesê toe hulle daardie twee dae by hulle gekuier het.

Terwyl haar ma en die tannie in die voorhuis gesit en gesels het, het hulle buite op die werf gesit, sy en haar pa en haar broer. En die oom wat vertel het van asbesmyne en klippe wat blink en gloei. Van tieroë. Sy het bly omkyk na die doringbome, skrikkerig vir die tiere wat in die takke kon sit.

Die selfoon lui. Missed call. Juli. Nóú kan sy nie praat nie. Die kind sal hoor hoe sy klink, haar mond sal dinge praat wat dit nie moet nie. Later, sy sal later terugbel – as daar regtig iets ernstigs is, sal Juli Sebastiaan darem in die hande kan kry.

Sy druk die foon dood. Skuldig. Maar ’n mens kan net soveel op een dag dink en onthou.

Dis of sy twee paaie gelyktydig ry. Nee, drié. Die stuk blouswart teer hier voor haar op pad Queenstown toe, die onthou van wat werklik gebeur het, en ’n nog heel ander pad wat haar brein dink. ’n Helderoordag-droom. Van Putsonderwater waar sy nooit eens was nie. Van iemand wat haar kop onder die water druk en haar uittrek net wanneer sy haar laaste asem opgebruik het. Wanneer haar kop weer in die water gedruk word, is die lug in haar longe min. Maar haar oë is oper.

Op die wit bed in ’n kamer met wit mure lê haar ma se hare soos ’n Rorschach-vlek teen die kussing. Praat met my, sê hy, die lang, jong man met die stetoskoop. Sy stem is mooi en geduldig. Die stereotipe van al die figure soos hy wat sy as dogter van Ma-Kinnie leer ken het.

Toe die vrou wat sy soveel kere in ’n wit bed gesien het haar mond oopmaak, is dit soos die paddas en spinnekoppe van die stories uit die Kinders van die Wêreld wat uittuimel: Ek het gedink as ek trou, sal ek wegkom van die donkerte, van die reuk van die brandewyn.

… my kinders nooit met ’n skeurtjie laat loop nie. Niemand kan ’n vinger … Ek het die vuilgoed weggeskrop uit die hoeke van die huise waar ander voor my gebly het. Daar waar die krieke by die gate ingekruip het, het ek hulle voorgelê, doodgetrap met my skoen, dit en die kokkerotte wat swart teen die uitlooppype van die wasbak buite die muur gesit het …

… koud teen my bors, die knoppe van die stetoskoop … ag, beter as niks, beter as wanneer ek op my eie bly … niemand wat na my kyk nie, niemand wat vra hoe ek geslaap het nie; niemand om ’n koppie tee … koud-koud-koud. Tot in my gebeentes. Maar die dokter se hand is warm. Ek het my vroeg reggemaak, ek kom nie slordig voor ’n dokter nie.

… ja, kyk, ’n trourok, dis wat ek aangetrek het vir jóú … Jy moet my help, dokter, jy is ál een … my rug brand van die pyn. Voel, vát aan my hande, kyk net die knoppe …

Die motor het vanself onder die karee by die sementstoele en -tafeltjie anderkant Uitvlug gaan staan. Toe sy op haar horlosie kyk, is dit nog vroeg genoeg. Hier tussen die klippe en die stof … dalk kom sy hier nader aan dit wat aan haar ma se arms vreet in die nag, die pyn wat eet soos ’n knaagdier. Die warm lug is sonder genade, sonder ’n wolk wat soos ’n man se hand oor die horison kom om verligting te bring.

Uit die sysakkie van die rekenaar se tas haal sy een van die artikels, blaai daarin rond tot sy die plek kry waar sy laas ophou lees het.

… difficult times, I never had someone to talk to … I could not, I was afraid …

Sy knyp haar oë toe teen die emosie wat uit haar maag opstoot in haar keel; druk met albei haar hande se vingers teen haar ooglede.

Hoeveel keer het sy nie gewonder oor haar ma se onvermoë tot vriendskap nie. Eenkeer, één keer was daar iemand, ’n tannie Doreen. Van haar het sy van tyd tot tyd gehoor toe sy al groter was, maar dit was iemand uit ’n tyd voor háár bestaan. Hartswater se tyd, vóór-onthou-tyd.

Vir die eerste keer wonder sy: Het dié vrou ooit werklik bestaan? Daar is soveel stories, soveel dinge wat sy moet herorganiseer, herdink.

I realized what I was doing, but this was all I knew … Apart from that there was nothing left for me. I craved the caring of people that tucked you in at night … I could not live without …

Sy lees verder, blaai terug. Haar vingers bewe tussen die bladsye. Oor die sitplekke langs haar en onder by haar voete lê die papiere gestrooi soos sy vat en los, gryp na inligting – wegstoot wat sy nie wil sien nie. Hoe kan sy weet of dit wat sy naspeur, reg is? En wat gaan sy daarmee doen? ’n Konfrontasie uitlok? Hulp aanbied?

Hoe help jy iemand wat glo dat niemand haar begryp nie?

Julle verstaan my nie! Julle was nie van jongs af sieklik en onder die mes van dokters nie …

Sy wens sy kon chronologies onthou; dit is moeilik om al die drade bymekaar te hou. Hoe langer hoe meer dink sy aan haar broer en haar suster. Hoe sou hulle daaroor voel dat sy haarself dit veroorloof om in hulle ma se lewe rond te krap? Sy het nooit geweet hoe hulle hul eie verhouding met haar ma ervaar het nie; hoe hulle langs haar geleef het in die opslaanhuisies nie; hoe hulle gedink het nie. Nie as kinders nie, en ook nie as grootmense, het hulle hulself veroorloof om daaroor te praat nie.

Dit was op Kraaifontein dat sy die dag gaan wegkruip het in die geel Nissan-lorrie. Die dag van die standerdvier-toetsboek. Sy het geweet wat kom. Dit was nie goed genoeg nie, en sy het saamgestem, maar sy wou die sien van die afkeuring in haar ma se oë uitstel.

Sy het die boek met die kruisies in rooi ink onder in haar kas ingedruk, bang dat haar ma dit voor die tyd sou kry. Toe haar pa by die huis in Kraaifontein stilhou met ’n vragmotor om te sê daar is ’n probleem by die n1-pad en daar is niemand anders om uit te gaan met die lorrie om die stukkende onderdele op te laai nie, het sy agter die sitplek wat kon opslaan, gaan inkruip. Toe hy inklim en die sitplek met sy rugkant teen haar druk, het sy die olie en die stof van padwerke geruik. Die reuk van haar pa; die vae geur van die rooi, glaserige Lifebuoy-seep waarmee hy hom gewas het.

Eers toe hulle anderkant by die werkplek stilhou, het haar pa van haar bewus geword.

Hy het haar agter die sitplek laat uitklim, sy hand uitgehou dat sy makliker tussen die domkrag en ander gereedskap kon uitkom.

Die son het op haar kop gebrand terwyl hulle tussen die ander lorries en masjiene gestaan het. Hy het geraas. “Katrien, wat jy nou gedoen het, is nie reg nie. Jou ma sal bekommerd wees; ’n mens loop nie sommer net weg van die huis af nie.”

Sy het geweet, ja. Natuurlik het sy geweet, maar sy het mooi gevra: “Asseblief, Pappa, kan ek saamkom? Ek weet … ek is jammer, maar moet my nie nou huis toe neem nie …”

Hy het haar saamgeneem na die opslaangeboutjies en die ooms met die oorpakke, die swart mans met hulle donker klere, die dromme met afvalteer onderin en die gruishope langsaan. Terwyl hulle oor die werf met die geel masjiene loop, het hy gepraat en sy stem was nie meer kwaai nie.

“Kyk ’n bietjie rondom jou, Katrien, daar is soveel dinge wat vooraf moet gebeur, wat net reg moet loop om die stuk pad eindelik begaanbaar te maak. In die aand wanneer ’n mens in die bed lê en jy weet jy het ’n stuk werk goed gedoen, dan is jy moeg, maar tevrede. En om te weet jy ken jou masjien, jy weet hoe sy binnekant werk en waar die ratte draai, jy weet hoe sy lemme moet lig en sak wanneer jy daardie pad oopsny, dit is ’n gevoel wat ’n mens nie vir ’n ander mens in woorde kan vertel nie.”

Hy het haar na die man met die grys broek en wit hemp wat by die roomwit masonite-geboutjie gestaan het, geneem. “Dit is nou my oudste dogter, Katrien, meneer Bezuidenhout,” het hy gesê. “Dit is die eerste keer in my loopbaan dat dit gebeur dat ’n kind van my op die werksterrein kom, en dit sal die laaste wees, maar daar was omstandighede … ek is jammer.”

Hy het met sy regterhand na haar gewys. “Gee Meneer om as ek haar so ’n bietjie hier rondwys voor uitvaltyd?”

Sy het jammer gevoel dat sy haar pa so om verskoning moes laat vra en haar kop laat sak; gekyk na die rooimiere wat heen en weer loop, haar voete geskuif dat sy uit hulle pad kon kom. Dit het gebrand waar hulle byt.

Die ingenieur het ’n tree nader gekom en sy hand na haar uitgesteek:

“’n Kind van Japie Badenhorst het nie nodig om koponderstebo te staan nie, Katrien. Lig op jou kop, jong.”

Sy was verleë, skaam oor wat sy gedoen het. Sy het haar hand ook uitgesteek na die man, nie gewoond om hand te skud nie, maar wetende dat dit die regte ding was om te doen.

Die ingenieur het ’n stem gehad soos dié van mans wat sy soms oor die radio gehoor het. ’n Stem waarvan die growwe kantjies afgeskuur was.

“Jou pa,” het hy gesê, “is die beste padskraperoperateur wat ek nog teëgekom het. Hoe hy die grond vooruit gelykskraap, die camber se bokant presies afrond, en weet hoe hy die gruise daar op die pad moet meng – dit is ’n kuns wat baie min mense hom kan nadoen.

“Jou pa kon ’n beeldhouer gewees het, ’n kunstenaar.”

Hy het haar hand bly skud sodat sy later gevoel het sy wil dit terughê, maar sy was bang om ongeskik te wees terwyl hy bly praat het.

Hy het gepraat van levels en nivellering – goed wat vir haar baie ingewikkeld geklink het, maar sy het haar kop opgelig en hom in die oë gekyk.

Toe hulle terugry, sy nou langs haar pa op die sitplek van die lorrie, het sy hom uitgevra en hy het meer vertel. Van die De Villiers-man wat so lank baklei het – oor die dertig jaar! – dat hulle die grootpaaie verby die dorpe moes laat loop sodat die verkeer in later jare vinnig sou kon loop. En van die lugfoto’s wat die einste ingenieur wat vir haar gesê het om haar kop op te tel, vir hom gewys het.

“Weet jy, Katrien, toe meneer Bezuidenhout daardie foto’s vir my wys, toe ek daardie pad sien, kon weet hoe hy gaan loop, was dit soos Johannes van die Bybel wat gesê het, hy sien ’n openbaring. Want as ’n mens self werk aan die pad, of as jy hom ry, dan kan jy nooit die hele prentjie sien nie, jy kyk maar net hier voor jou vas.

“Maar sonder daardie foto’s en kaarte kan jy niks doen nie. Dis die werk van die opmeters en ingenieurs en sulke mense. En hulle meet hom oor die kortste roete – soos die kraai vlieg. Wat in die pad daarvan kom, dit moet weg. Weggeskiet of weggeskraap.

“Jy en Oubie en Lenie moet aanhou leer, my kind,” het hy gesê, “want dis mense wat geleerd is wat daardie soort werke kry soos dié van die tegniese mense by die tekenkantoor van die hoofkantoor van die administrasie.”

“Vir my is baie van die goed maar net name wat ek gehoor het; goed waarvan die opmeters praat en waarvan ek op my eie ’n idee gevorm het. Die opmeters en die landmeters kry hulle opleiding by die tegniese kolleges en universiteite.”

“Maar Pappa en die ander ooms is die mense wat die pad máák, nè?”

Sy wou nie hê haar pa moes dink die mense by die hoofkantoor is slimmer as hy nie. Hulle wás nie.

Hy het die laaste draai gevat, daar waar hulle moes indraai na die kamp en hulle huis; hy het die lorrie met die stukkende onderdele wat hy teruggebring het eers by die werkswinkel gaan parkeer en sy trommel gekry. Toe hulle die ent in die grondpad na die huis loop, het hy geantwoord: “Ja, Katrien, dit is so, sonder mense wat die pad kan bóú, mense wat hulle hande uit hulle moue kon steek, kan hy nie klaarkom nie.

“Nogtans, jy moet met al die ander mense kan saamwerk. Die mense bó jou én die mense onder jou, want as daar wederstrewigheid is tussen die werkers, dan bou jy drie maal so lank aan ’n stuk pad. Jy moet dit goed hou met die voorman, maar ook met die arbeiders en die mechanics. Met die pikslaners en die besemstoters. Padmaak is ’n saamwerkding.”

Wat die uiteinde van daardie middag se wegloop was, daaraan het sy vir jare nie gedink nie. Gedink sy het dit vergeet. Gehoop sy het dit vergeet. Gemáák of sy vergeet het.

Haar ma het by die tafel gesit, haar breiwerk in haar hande, toe sy en haar pa saam by die deur inkom. Lenie se krulhare was ná die skooldag in ’n netjiese nuwe poniestert vasgebind, styf van haar voorkop af, sodat net ’n paar krulle daaruit losgegaan het. Sy het nie opgekyk van haar leesboek toe hulle inkom nie; haar vinger het net verder onder die letters langs geskuif en haar mond het die woorde hardop geklank.

Haar pa en ma het na mekaar gekyk. En na háár. Ma-Kinnie het niks gesê nie, net dat sy haar gesig en hande moet gaan was, en dat dit amper tyd was om tafel te dek.

Wanneer haar ma niks gesê het nie, en haar bruin oë reguit en swart voor haar gekyk het, het daar ’n koue stuk klip onder haar ribbes ingedruk.

Toe sy haar hande gewas het, het sy onder in haar kas gaan grawe en terug kombuis toe geloop; die toetsboek onder haar ma se oë neergesit. “Sal Mamma my boek teken, asseblief?”

Haar ma het van die breipatroon af opgekyk. “Ek tél,” het sy gesê, en weer afgekyk na die steke op die penne.

Sy het die ry eers uitgebrei, ’n haakspeld gesit in die lang bruin stuk mou wat in haar skoot lê sodat sy kon onthou waar sy laas was.

“Gee maar hier.”

Haar ma het gefrons toe sy die pen vat. “So swak? Vyf-en-veertig? Uit vyftig?”

Sy het haar boek weggeruk. Laat Meneer maar raas; sy sal dit nie laat teken nie. Vyf-en-veertig uit vyftig vir wiskunde – nooit weer sal sy iets vir …

Haar ma het opgestaan van die stoel, haar hand uitgehou om die boek weer te vat, maar sy het omgedraai om kamer toe te loop, die boek in haar tas te druk. Sy’t nie meer omgegee nie. Niks.

“Katrien!”

Haar ma se stem het die klank gehad van die sirene by die skool.

Met die boek langs haar het sy haar voorkant weer na haar ma toe gedraai. Sy sóú dit nie gee nie.

Sy het na haar ma bly kyk, agteruit geloop kamer toe, stadig. Van êrens het die woorde gekom wat sy nie wou sê nie, maar wat vir baie dae en weke en maande in haar binnekant gegroei het: “Mamma is liewer vir Oubie en Lenie.”

En hier, anderkant die plek waar die bok weggeraak het, bokant die kar, hang dit nog altyd bo haar – die vlieër wat soos ’n vlermuis daardie middag in die kombuis sy vlerke oopgesprei het. Die swart van die materiaal, met die woorde van haar ma daarop: “Jy máák daarna.”

Padmaker

Подняться наверх