Читать книгу Waar onthou begin - Connie Luyt - Страница 6
EEN
ОглавлениеDAAR IS WATER OM MY. Swaar water wat my na onder druk.
As ek net my oë kon oopmaak, maar ek kan nie.
My lyf is lam, my kop ’n leegte, maar ’n oerbewustheid dwing my om te veg teen die gewig wat my platdruk.
Ek spartel, beur na bo, maar nes ek opkom sak ek weer terug, die donker newels in.
Toe ek uiteindelik my oë oopforseer is alles uit fokus, skaduwees wat kom en gaan.
Eers lê ek doodstil, hoor ’n gesuis. Is dit in my kop? Buite? My oë is halftoe, ek is bewus van lig, maar kan niks uitmaak nie. Weet nie waar ek is nie. Weet net die water wat op my gedruk het is weg.
Nou voel dit of water in my longe en keel opstyg. Dit bruis al hoër tot ek voel ek wil versmoor. Ek kry nie asem nie, my tong is dik. Ek probeer my hand oplig maar kan dit nie beweeg nie. Newels kom en gaan saam met die golwe in my bors. Deur die gesuis in my ore hoor ek my asem. Hortend, blasend asof die lug uit my longe gesuig word. Angstig. ’n Gedagte wil-wil vorm, daar is ’n oomblik van helderheid voordat dit weer verdwyn. Die water wyk, die lug bol in my longe, en asof daar ’n skakelaar in my bors aangesit is, begin my hart galop.
Waar is ek? Wie is ek? Ekweetnie. EKWEETNIE!
Ek hoor ’n deur oopgaan, kyk in die rigting van die klank. ’n Skim kom in. Die gedaante in wit se vingers sluit om my pols. Ek dwing my oë wyer oop.
“Jy is sowaar wakker!” sê ’n vrouestem.
“Wa … wa … wa …?”
“Jy is in die hospitaal. Lê net stil. Als is reg.” Ek hoor nog klanke, maar ek verstaan nie wat die vrou sê nie. Ek probeer my kop lig maar dis te swaar.
Nog ’n skim staan langs my bed. ’n Man – dit weet ek darem. Hy skyn lig in my oë en hou ook my pols vas. Ek wil wegtrek maar ek kan nie. My asemhaling raak al vlakker en sweet loop teen my lyf af.
“Sy is uit die koma, maar dit gaan nog ’n ruk neem voordat sy heeltemal by is,” sê die man.
—
Toe ek weer wakker word is dit donker. Weer swem ek teen die drukking van diep water, sukkel ek om bo uit te kom en dan, skielik, is ek wakker.
Ek hoor ’n geluid. Was dit ek? Ek kyk om my rond, sien wit mure, ’n wasbak. Die man is weer in die kamer. Hy buk oor my, skyn weer lig in my oë en vryf oor my gesig. Sy hand sluit sag om my arm en ’n warmte vou om my. Sy stem is sag, maar ek verstaan nou elke woord, asof die newels in my kop opgelos het en ek helder kan dink, al kan ek my oë nie fokus nie.
“Hallo, ek is bly jy is wakker. Ek is dokter Michael Stewart en ek is ’n neuropsigiater by hierdie hospitaal, een van die dokters wat jou behandel.”
“Waasj—” My tong wil nie die woorde vorm nie.
“In Addingtonhospitaal in Durban.”
“Hoe … hoe …”
“Jy is raakgery en het ’n ernstige kopbesering opgedoen. Jy is al meer as drie maande hier by ons. Kan jy vir my jou naam sê?”
Te beangs om te praat, probeer ek my kop skud, maar dis seer.
“Toemaar, lê net, ek sal vir jou vertel wat ons van jou weet. Jy het ingekom op ’n Donderdagmiddag so net ná twee. Dit was …” hy kyk na iets wat in die ligkol langs my bed is, “op 8 Desember.” Ek weet met ’n klein prik van sekerheid dit was ’n papier waarna hy gekyk het. Ek wéét iets. “Dit is vandag 28 Maart. Kan jy iets van die ongeluk onthou?”
“H’m-’m.”
“Jy het voor ’n motor ingehardloop. Behalwe die harde stamp teen jou kop het jy jou bekken gebreek en jou linkervoet ook. Daardie beserings is al feitlik gesond, en noudat jy wakker is, gaan al die ander dinge ook regkom.”
“Ma … ma … wiesj?”
“Wag nou, klein Pixie, word rustig, jy sal mettertyd onthou, kom ek sit by jou tot jy slaap.”
“Môre, môre! En hoe gaan dit met die slapende skone?” ’n Kort, ronde meisie in wit staan langs my, haar glimlag soos ’n sonstraal. “Hallo, Pixie!” lag sy. “Jy is seker dood van die honger, ek bring nou-nou vir jou kos. My naam is Monja en ek en jy gaan nog groot vriende word.”
“Pie-pieksjie?” Ek verstaan alles wat sy sê, maar ek kan myself nie verstaan nie. In my kop is daar net ’n groot wit niks. Asof die water weggetrek het en ’n vloedvlakte agtergelaat het.
“Ons noem jou so. Ons het besluit jy lyk soos ’n Pixie met jou kort rooi krulletjies. Soveel mooier as die swart hare waarmee jy ingekom het. Ons moes dit natuurlik als afskeer vir die operasie.”
“O– op– rasj?”
Die deur gaan oop en ’n man in ’n wit jas kom in.
Monja kyk op. “A, dokter Stewart, kyk, ons pasiënt is wakker.”
“Dankie, suster Combrink, ek sal verder met haar gesels.”
Sy hand op my arm bring dieselfde rustigheid as vroeër en ek lees in sy blou oë ’n sagtheid, ’n kalmte wat ook in my kom lê en die benoudheid in my stadig laat wegsypel.
“Ek … niksj,” wurg ek uit.
“Dis normaal dat jy tydelik amnesie of geheueverlies sal hê ná ’n TBB.”
“Tee … be … e …”
“Traumatiese breinbesering. Dit beteken dat jou ernstige kopbeserings jou mediale temporale lob, daardie deel van jou brein wat jou geheue beheer, aangetas het. Ons noem dit retrograde amnesie. Die goeie nuus is dat dit meestal tydelik van aard is en dat jy kort-kort iets gaan onthou. Jy moet net geduldig wees.” Hy glimlag en vee oor my voorkop.
“Dis baie soos ’n legkaart, los stukkies wat saamgevoeg moet word voor dit ’n geheelbeeld vorm. Omdat jou brein so geswel was, moes ons jou in ’n geïnduseerde koma plaas en jy het nou vir ’n paar maande rustig geslaap terwyl jou brein herstel het. Ek gaan jou help. Ek sal elke dag hier wees. Ons gaan baie gesels en kort voor lank gaan jy weet wie jy is en hoe jy hier beland het. Al wat ek vra, is dat jy my moet vertrou.”
Hy praat rustig voort en al begryp ek min van sy woorde, word die angs in my stil en luister ek met toe oë.
“Ek gaan binnekort met toetse begin om die aard en omvang van jou geheueverlies te ondersoek sodat ons planne kan maak om jou onthou terug te kry. ’n Fisioterapeut sal vir jou oefeninge kom gee sodat jy weer kan leer loop. ’n Spraakterapeut en arbeidsterapeut gaan jou kom help om jou spraak en korttermyngeheue te verskerp.” Hy glimlag. “Amper soos skool.”
Suster Combrink bring vir my ’n skinkbord met ontbytkos. Sy help my om regop te sit. Die kos proe soos saagsels en die knop in my keel is te groot om te sluk. Ek wil heeltyd naar word, maar sy sny die blokkies roosterbrood nog kleiner en praat my moed in om weer te probeer.
Ek word vir x-strale gestuur en terwyl ’n verpleegster my soontoe stoot, hou ek my oë heelpad styf toe. Die lawaai, die mense, hulle voetstappe en stemme, die geklap van deure en die geluid van my bed se wieletjies maak my so angstig dat ek skaars asem kry. Ek is seker mense kyk na my, praat oor my.
Toe ek weer in my kamer lê, stel ek my voor hoe die gesprekke oor my rankers maak en al hoe verder versprei. Stories wat stertjies bykry, wat verdraai, versier, opgetooi word.
Is ek nou net deel van hulle storie noudat ek nie meer my eie storie het nie?
Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Is ek regtig niemand? Trane loop ongehinderd oor my wange, ek vee dit nie af nie.
Die dag ná die x-strale kom twee meisies in donkerblou sweetpakke in.
“Goeiemôre,” groet die een, “ons is fisioterapeute en ons gaan jou weer sterk maak. Volgens die x-strale het jou bekken mooi aangegroei met al die rus, en ons gaan jou help om weer op die been te kom. Jy gaan nie van ons hou nie, maar glo my, jy het ons nodig.”
Hulle trek my op sodat ek regop sit en beweeg my tot op die rand van die bed. Sweet tap my af, ek bewe onophoudelik, my asem raas soos dié van ’n moeë hond.
“Oukei,” sê die een met die lang blonde vlegsel, “dis genoeg vir vandag. Môre probeer ons om jou tot by die stoel te kry.”
Ek huil weer. Trane van swakheid, van uitputting, van pyn. Maar meestal van verskrikking. Hoe kan ek niks onthou nie?
Dit raas later buite my kamer, ek hoor stemme, voetstappe, trollies. Ek wil Monja daaroor vra toe sy vir my tee bring, maar my tong wil nie die woorde vorm nie. Ek beduie met my hand en my oë.
“O, die geraas? Dis nou besoektyd en dis die pasiënte en hulle mense wat so gesels.”
Ek druk my hand teen my bors, vra met my gesig of hier iemand vir my was.
“Niemand, klein Pixie, dis asof jy uit die lug geval het.” Haar oë word ook vol trane. Sy druk my hand, vee my gesig af met ’n waslap en sit by my tot ek weer slaap.
Dokter Stewart is langs my bed toe ek wakker word. Hy hou ’n handspieël voor my gesig.
“Wat sien jy, Pixie?”
’n Vreemdeling met kort rooi krulle, gesonke groenblou oë, net vel en been, staar na my. Ek weet nie hoe ek voorheen gelyk het nie, maar ek weet dis nie hoe ek behóórt te lyk nie. In die spieël word my oë al groter en ek stamp dit weg.
Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Hoekom het ek voor ’n kar beland? Hoekom soek niemand na my nie? Het ek dan nie mense in my lewe nie?
“Kyk hierso. Hierdie silwer ketting was om jou nek toe jy ingebring is. Die letters E R en 1 en 8 is op die plaatjie gegraveer. Het jy dit gekry toe jy agtien geword het? Verjaar jy dalk op 1 Augustus? Is jy dalk nommer een van agt kinders? Of dalk is daar agtien ander E R’s?” Hy glimlag, maar ek kan nie. Ek dink nie ek wéét hoe om te glimlag nie.
Ek kan nie slaap nie, wil nie eet nie. Die verpleegsters was my, voed my, stel my druppe en neem my bloeddruk. Hulle bring vir my nagklere en toiletware, borsel my hare en smeer room aan my hande en voete.
Ek moet leer woorde vorm, klanke maak. Eers is my stem hees, en sleep my tong. Die s’e, p’s en b’s is moeilik, my brein weet wat ek wil sê, maar my tong wil nie saamwerk nie. Die spraakterapeut bly rustig, maar klap sommer hande toe ek uiteindelik ná ’n halfuur se gesukkel, “Ek nou moeg” uitkry.
Die fisio’s kry my met ’n gesukkel en gehuil van my kant af op die been en hou my vas terwyl ek versigtige treë tussen twee balke probeer gee. Ek is hulpeloos, afhanklik. My voet wil nie trap nie, my hak het ingedraai en as gevolg van die lang tyd wat ek gelê het, het die gebreekte bene skynbaar skeef aangegroei. Daar is geen gevoel in my voet nie. Ek kan nie die grond onder my voetsool voel nie.
Ek huil te veel. Dokter Stewart kom elke dag, partykeer sommer ’n paar keer. Toe ek soort van kan praat, lees hy vir my lyste woorde, vra my om dit te herhaal, gee vir my eenvoudige syfers om op te tel, wys my kaarte met kleure tot my oë toegaan en ek nie meer kan nie.
“Jy het goed gevaar, Pixie. Ons noem hierdie die Glasgow-maatstaf en dit toets jou oogkoördinasie, jou motoriese of bewegingsresponse en jou verbale vermoëns. Ons gee punte uit vyftien en jy het verbasend goed gedoen. Dis dikwels so dat pasiënte met jou tipe geheueverlies se verstandelike vermoëns onaangetas is. Ek dink jy is ’n baie slim jong vrou.”
Jong vrou? Hoe oud is ek?
Nou en dan verras hy my met ’n skuins vraag: “Wat was die kleur van jou skoolrok?” of “Is jou boetie ook so goed met wiskunde?”
Ek raak ’n paar keer opgewonde as iets wil-wil deurskemer. Maar dan sak die moedeloosheid weer oor my wanneer dit my ontwyk. “Gaan ek ooit onthou, dokter?”
“Dis baie moontlik, Pixie. Ek kan vir jou voorbeelde uit mediese tydskrifte wys. Dit sal gebeur, wees net geduldig. Jou herinneringe gaan stadig van die hippokampus af skuif na die stoorplek in die korteks en jy gaan heel moontlik eers dinge uit jou vroeë kinderjare onthou. Ek het vir jou ’n boek en ’n pen gebring. As jy voel jy kan, wil ek graag hê jy moet daarin skryf. Sommer net hoe jy voel, wat jy dink. Ook enigiets wat jy dalk onthou.”
“Ek sukkel om te skryf, die arbeidsterapeut sê ek moet eers net teken.”
“Teken vir my enigiets wat in jou kop kom. Ek loer weer later in, dan wil ek ’n glimlag sien!”
Ek sit met die boek styf teen my bors gedruk, sonder ’n idee wat om te skryf of te teken. Daar is net ’n groot leegte in my kop. Maar ek wil die dokter nie teleurstel nie. Is hy vir al sy pasiënte so goed? Soos ’n pa … nee, daarvoor is hy gans te jonk. Soos ’n ouer broer.
“Hoe oud is dokter?” glip die vraag uit.
“Amper twee-en-dertig,” antwoord hy en sy oë glinster, “dalk twee maal jou ouderdom.”
Hoe kan ek nie weet hoe oud ek is nie? wonder ek, maar sê niks nie.
Die dae kom en gaan, ek kan skaars onthou of dit Dinsdag of Donderdag is. Geleidelik word my lyf sterker. Ek kan beweeg, en al kan ek nie loop sonder om op ’n kierie te steun nie, kan ek praat, kan ek oefen om te skryf. Nie eers my handskrif lyk bekend nie. Het ek vantevore regop of skuins of agteroor geskryf? Ek let nou meer op na waar ek is en wat om my aangaan in die sale op die sesde vloer. Ek skrik nie meer as ek iemand vreemds in die gang sien nie, huil minder en slaap beter.
Kos proe nog nie lekker nie, daar is ’n vreemde smaak in my mond, soos metaal. Soos toe ek my vinger met ’n mes raak gesny het en dit in my mond gesit het. Wanneer was dit? Waar was ek? Hoekom het ek dit gesny? Ek onthou nie. Nog iets wat by die gewig in my binneste gevoeg word. Het ek dalk regtig uit die lug geval?
Een laataand skrik ek wakker van ’n vreemde geluid. Iemand wil by my venster inkom! Dan word die geluide ’n aanslag, soos ’n getrommel, al vinniger en vinniger. Dis reën. Ek sukkel hinkepink na die venster en skrik vir die gesig wat na my terugstaar. ’n Vreemde, opgeloste gesig met reëntrane wat daaroor stroom. ’n Gesig wat reflekteer hoe ek oor myself voel. Diep hartseer. Sonder buitelyne. Ontheem, kom ’n woord in my kop op. Ontwortel. ’n Onbekende wasige skaduwee van die meisie wat nou Pixie is. Ek stoot die venster oop en laat die reën op my hand val en vee oor my gesig. Ek bestaan, ek is nie net ’n skim nie. Met die gedruis van die reën raak ek tog later aan die slaap, maar my drome is vol mense en woorde en ou liedjies wat ek wil-wil onthou.
Die nuwe nagsuster, Kirishna, is pragtig. Ek verkyk my aan haar blink swart hare wat soos ’n waterval teen haar rug afgly wanneer sy dit oorvleg. “Dis kokosneutolie – alle Indiërvroue gebruik dit, oumas vertel vir ma’s en ma’s vertel hulle dogters. Ek sal vir jou bring, dan vryf ons dit môreaand in.”
Op die plek weet ek, ek het nie ’n ouma geken nie. Gaan ek net onthou wat ek nié het nie?
Dokter Stewart het tot nog toe al my vrae omseil, maar Kirishna vertel wat sy weet. “Jy het blykbaar uit ’n woonstelgebou daar naby die hawe in Point Road gekom. ’n Man met wit hare het na jou gegryp, maar jy het in die pad ingehardloop, reg voor die kar in, so ’n geel Cortina. Gelukkig het hy nie vinnig gery nie, anders was jy nie nou hier nie. Ons moes die arme motoris vir skok behandel.”
“Hoe het ek hier gekom?”
“’n Ambulans wat op pad terug na die hospitaal was, het twee motors agter die Cortina gery. Hulle het jou dadelik gestabiliseer en ingelaai – vir jou en die motoris. Die x-strale het gewys jou bekkenbeen is op ’n paar plekke gebreek en jou voet het baie seer gekry toe die kar daaroor gery het. Jong, dis ook maar goed jy was bewusteloos, want die dokters moes vinnig werk met jou.” Kirishna streel oor my hand, asof sy die impak van haar woorde wil verminder.
“Aanvanklik het hulle jou in ’n koma gesit sodat jou fraktuur gesond kon word en die swelling op jou brein kon sak. Dit het natuurlik gehelp met die genesing van jou beserings. Eers later het die dokters besluit om op jou te opereer. Dis tóé wat jou hare afgeskeer is.”
“Het niemand my kom soek nie?”
Sy druk my hand. “Die polisie het ’n foto van jou kom neem en dit is in koerante geplaas. Ek weet nie of iemand jou sou herken het nie. Dalk moet ons nou weer ’n foto laat neem.”
“En die woonstel? Die man met die wit hare?”
“Die polisie het uitgevind twee jong mans het die woonstel gehuur. Toe hulle ingetrek het, het die opsigter gesien hulle dra ’n meisie met swart hare in. Die witkopman het gesê dis sy siek suster. Die polisie vermoed dit was jy. Maar die dag ná jou ongeluk was daar geen teken van hulle nie. Die woonstel was leeg.”
Kirishna stoot haar stoel effens weg, vou haar hande saam voor haar mond, so asof sy bid, en hou my stip dop met haar donker oë. Daar het iets in die kamer ingekom, ’n waaksaamheid, ’n onrustigheid. Iets wat sy nie wil sê nie.
Ek hoor ’n trollie se wiele in die gang, die gedempte stemme van die nagpersoneel, ’n sirene ver onder in die straat. Iets strook nie en ’n frase val my by: “Something is rotten in the state of Denmark”. En ek wéét dis William Shakespeare en Hamlet en ek ken dit. Ek ken dit!
“Kirishna.”
Maar sy praat bo-oor my fluisterstem. “Jou bloedtoetse het gewys jy is vol dwelms, ons het nie gedink jy sou leef nie. Onthou jy niks daarvan nie? Jy was so bang vir ’n inspuiting, ons het gewonder of jy teen jou sin ingespuit is.”
Hoe verwerk jy dit? Die vrae draai om en om in my kop. Hoekom het ek uitgehardloop? Wie was die man met die wit hare? Hoekom het ek dwelms in my bloed gehad? Is ek dalk aangehou? Wat het vooraf gebeur?
Daardie nag droom ek van ’n venster wat nie wil oopgaan nie en van ’n afgrond waaroor ek val en val en val. In die newels van verdraaide lakens en sweet en my hart wat in my keel klop, onthou ek nog iets. “A dream itself is but a shadow.” Ek weet weer dit kom uit Hamlet en ek lê lank stil, maar ek kan my brein nie verder laat onthou nie.
Dis die begin van my nagmerries. Van kamers vol swart spieëls waarin duiwels met lang kloue en vuur in hulle oë oor en oor weerkaats word. Van hoe ek hardloop en hardloop in lang gange sonder deure of vensters. Sonder einde. Van water waarin ek wegsak – dit is die ergste.
Dokter Stewart luister geduldig, stel my gerus dat dit normaal is, dat dit my onderbewuste is wat aan die werk is. Maar ek vertel hom nie alles wat in my kop aangaan nie, hoe donker my gemoed is nie. Hoe ek bly dink dat ek geen begin het nie en al wat oorbly, is om ’n einde te maak nie. Hoe ek dink en dink, probeer onthou, probeer klou aan die dinge wat vir my bekend is. Ek weet hoe om ’n mes en vurk vas te hou, hoe om te praat, hoe om dankie en asseblief te sê. Ek kan lees en praat, ek weet dis duiwe wat op die vensterbank sit, ek weet dis die see buite die venster, skepe wat op die horison lê. Hoe kan ek dan nie weet wat my naam is nie? Hoe kan ek nie onthou waar ek vandaan kom nie? Wie my al hierdie dinge geleer het nie? Is daar niemand wat genoeg omgee om my te soek nie? Ek het niks. Niemand. Nêrens om heen te gaan nie. Niemand wat my sal mis as ek nie meer bestaan nie. Dit sal beter wees as ek nie meer bestaan nie.
Baie aande, nes ek aan die geroesemoes van stemme en beweging in die hospitaal aflei dat dit besoektyd is, kom dokter Stewart by my sit. Vertel hy my van dinge wat in en om die hospitaal gebeur het daardie dag. ’n Busongeluk wat Ongevalle op hol gehad het, ’n drieling wat gebore is, die hysbak wat vasgesit het tussen twee vloere, die see se onstuimigheid sodat groot skepe nie in die hawe kan inkom nie. Ek luister, maar dis alles vreemd vir my. Ek glimlag vir ’n grappie, maar ek kan nie lag nie. Het ek ook vergeet hoe om dit te doen?
Vandag, skryf ek in my boek, het ’n veer van een die duiwe wat op die vensterbank koer ingewaai. Ek het dit in my handpalm vasgehou en dit het my hartseer gemaak, maar ek weet nie hoekom nie. As ek maar net my brein kon vat en skud tot al hierdie los flardes bymekaarkom en ek kon weet. Dis asof ek ’n storie wat ek iewers gehoor het probeer onthou, maar die details bly vaag en die storie se buitelyne is sag en vormloos.
“Ek sal nie môre kom inloer nie, ek gee klas by die Universiteit van Natal en daarna moet ek uitry plaas toe. Sal jy vir ’n dag of twee sonder my kan klaarkom?” glimlag dokter Stewart.
“Plaas?”
“Dis ons familieplaas aan die Noordkus naby Umhlali. Die plaas se naam is Kolobeng. My suster en haar man woon daar. Sy het ’n perdeskool en ons verbou suikerriet en het ook met koffie begin boer. Dis die mooiste boompies en die bessies begin nou rooi word en—”
“Sê weer die plaas se naam?”
“Kolobeng.”
Ek ken daai naam. Ek herken daai naam. ’n Skaduwee huiwer aan die rand van bewussyn. Sweet slaan op my uit, maar ek is yskoud. Die onthou sit so naby, ek druk my oë toe, pers my lippe op mekaar, maar al wat kom is trane van frustrasie.
“Die naam kom van ’n huis wat David Livingstone vir sy vrou gebou het, doer in die Kalahari naby Botswana,” sê hy. Hy druk my hand en skielik is daar ’n prentjie in my kop.
“My pa … hy het vir my uit ’n boek oor Mary Livingstone gelees. Hy het op die stoel gesit, ’n boek in sy hande, ek onthou dit. ’n Vaalgroen boekie met goue letters op. Ek onthou dit!” My asem kom rukkend uit, ek bewe, ek ruk.
“Dis wonderlik, Pixie. Maak jou oë toe en sien die prentjie in jou kop. Waar was dit? Was dit koud of warm? Aand of dag? Hoe lyk hy? Het hy ’n naam?”
Maar die onthou het vervliet soos ’n borrel in die wind.
Ek wéét nie.
Minstens het ek ’n pa. Of is hy ook weg?
My volgende onthou was langer, beter, duideliker.
Suster Kirishna het met rooi oë vertel van haar oom en sy seun wat verdrink het die vorige dag, ’n golf wat hulle van die rotse afgeslaan het. Die prentjie in my kop was oombliklik daar. “My pa,” hyg ek, die emosie oorweldigend, “my pa het verdrink.” Hoe wéét ek dit? Dan is daar weer niks. Nee. Nee … nee. Ek wil onthou, maar ek wil ook nie. Die angs en hartseer wat my oorval is te enorm om te hanteer. Sy gee my ’n kalmeermiddel, sit by my en streel my hare tot ek slaap.
In die vroeë grou uur voor die nagdonkerte begin wyk, is ek helder wakker. Daar staan ’n grys figuur by my bed. Ek is glad nie bang nie, al weet ek dis nie een van die nagpersoneel nie. Hy praat nie, maar ek hoor hom tog duidelik sê: “Moenie bang wees nie. Jy gaan regkom.” Ek probeer regop sit om beter te sien, maar toe ek weer kyk, bly daar net skaduwees in die kamer oor. Dit was hy. Pappa. Hy het gesê ek gaan regkom. Ek gáán. Maar waar is hy? Wie is hy? Waar is hy nou?
Ek hou van die nuwe arbeidsterapeut, ’n stewige blondekop wat van Estcourt af kom. Daar straal iets uit haar, ’n onverstoorbaarheid wat my rustig maak. Sy maak nog ’n herinnering oop. Sy bring klei om beelde mee te maak, krale om in te ryg, papier om collages te plak en stukke leer om sleutelhouers mee te maak. Maar dis eers toe sy verf en papier bring en dit aan ’n esel vasmaak, dat ek weet.
“Ek skilder. Ek kán skilder! Ek is goed daarmee. Ek kan ’n onderskeiding kry, sê juffrou.”
“Wat is die juffrou se naam?”
Ek kan nie onthou nie.
Dokter Stewart se besoeke is die hoogtepunt van elke dag. Asof ek ’n sesde sintuig of x-straaloë het, weet ek wanneer hy naby is en hou ek my asem op tot ek hom sien. Hy sit nie meer sy hand op my arm nie, maar sy glimlag en sy stem maak my warm. Hy bring dikwels vir my iets saam, ’n pakkie lekkers, ’n kunsboek, ’n skaakbord. Laatmiddag, nadat sy spreekure verby is, leer hy my skaak speel. Een middag bring hy ’n potplant, ’n plantjie wat ek onmiddellik herken.
“Dis ’n viooltjie!” En ek weet, ek wéét dit het op ’n vensterbank gestaan en ek het blare wat bruin geword het afgebreek en daar was iemand wat langs my gestaan het. “Maar ek kan nie onthou wie nie,” huil ek by dokter Stewart.
“Dit kom aan, die flitse van herinnering neem toe. Jy sal nog onthou.”
“Jy lyk soos Gregory Peck,” lap ek eendag uit.
Ek bloos sommer, maar sy oë rus skerp op my.
“Hoe weet jy hoe lyk hy? Het jy sy flieks gekyk? Saam met wie was jy?”
Ek skroef my oë toe, probeer so hard om te sien, maar dis net ’n skaduwee. Trane van frustrasie wel in my oë op.
“Moenie huil nie, Pixie,” troos dokter Stewart. Jy vorder goed. Byt net vas.”
Ek kry dit nie altyd reg nie. Soms oorweldig woede my. Ek gooi die arme fisio met ’n boek, stoot ’n skinkbord met kos so hard weg dat dit op die vloer val, hamer my kneukels rou teen die muur van frustrasie en een keer skree ek selfs vir dokter Stewart om my uit te los. Dit laat my ook nie beter voel toe hy vir my probeer verduidelik dat dit normaal is nie.
Waaroor het ek gedink in hierdie tyd? Het ek gebid? ’n Man het eendag na my toe gekom, ’n Bybel onder sy arm, en in ’n diep, welluidende stem vir my vertel dat Jesus my liefhet en dat my gebede my weer sal gesond maak. Ek het lank nadat die man uit is, gewonder of Hy my nog raaksien. As ek nie weet wie ek is nie, hoe sal Hy weet? Ek het probeer bid, ek het tog geweet hoe, maar dit het nie gevoel asof iemand luister nie.
Oor en oor het ek my geheue en my omgewing gefynkam, op soek na iets wat my kan sê wie ek is. Toe ek iemand in die gang sien met ’n rooi-en-wit gestreepte T-hemp, lyk dit bekend, ek dink ek het ook so een gehad. Maar waar? Wanneer het ek dit gedra? Waar was ek? Waar ís ek?
Die verpleegsters begin vir my boeke bring toe hulle hoor ek lees graag. Eers kan ek skaars op die storielyne konsentreer, maar soms resoneer iets by my. Soos wanneer jy iets lees en skielik is dit bekend en jy wéét wat gaan gebeur. Maar wanneer ek dan verder lees, is dit weer onbekend en sak die grysheid weer oor my toe.
Meestal is ek onbetrokke, asof ek in ’n kapsule lewe, in ’n storie sonder ’n begin en waarvan ek die einde nie kan voorsien nie. Ek leef net hier in die middel, dag vir dag, nag vir lang nag. Ek besef ek hang tussen twee wêrelde, maar dit is tog vredig op hierdie sesde verdieping, waar ek hoog en op ’n afstand kan afkyk op die see anderkant die besige straat vol motors en mense, en los staan daarvan. Ek is beskut en veilig en al weet ek nie wie ek was nie, is “Pixie” soms vir eers genoeg.
Ek teken en verf en dit word die terapie waarvan ek die meeste hou. Net dan voel ek rustig, voel ek dat ek weet wat ek doen. Ek skilder wat ek buite die venster sien, maak klein stillewes van dinge in my kamer: twee rooi appels op die vensterbank, ’n waslap en ’n koekie seep, ’n skulp wat Kirishna vir my gebring het, maak potloodsketse van die verpleegsters.
Een aand bring ’n sproetgesigsuster met ’n groot glimlag vir my my pille. “Goeienaand, ek is suster Susan de Wet, almal noem my San. Hoe gaan dit vandag met jou?”
Sy is lank en stewig gebou, haar gesig sterk met mooi helderblou oë. Sy kom baie nagte by my sit in die nanag as dit ook in my binneste donker word. Soms sonder om veel te sê, soms met stories oor haar grootwordjare op ’n plaas naby die Groblersbrug-grenspos. Sy vertel van hulle naaste dorp, ’n klein plekkie met die naam Baltimore waar daar stories uitbroei waaroor die boeregemeenskap weke lank praat. Van haar ma wat die beste bakker in die kontrei is en haar twee broers wat sterk genoeg is om vyftigkilogramsakke meel op een skouer te dra, maar sulke sagte harte het dat hulle voëltjies wat uit die nes val, sal optel en versorg.
Nadat sy weg is, lê ek by die venster en uitkyk. Die donkerte wyk stadig, die lug word grys en my hart wil bietjies-bietjies breek omdat ek nie weet of ek ’n familie het of nie.
Dokter Stewart en die susters het my familie geword. Hulle warmte en omgee het ’n kokon om my gespin en al weet ek dat ek tog nie vir altyd hier kan wegkruip nie, is dit vir my onmoontlik om my ’n ander bestaan in te dink.
Veral een sonder dokter Michael Stewart.
Sy glimlag laat die son in my opkom. Sy stem is diep en rustig, sy oë sag, vriendelik. Ek hou hom dop by die verpleegsters en ander pasiënte en verwonder my aan die gemak waarmee hy met almal omgaan.
“Kom nou, suster De Wet, dis omdat jy al weer daardie Kalahari-kyk in jou oë het dat jy my nie sien kom het nie.” Sy oë sal lag, sy glimlag sal blom en San sal die lêers optel en met ’n ekstra huppel in haar stap voortgaan.
Ek sien hom in die gang, sy arm om die skouers van ’n kromgetrekte ou vrou. Ek luister hoe mooi hy met haar praat, sy sakdoek vir haar aangee en hoe sy haar kop lig en vir hom glimlag, en ek weet sy voel anders. Hy het haar, soos almal om hom, beter laat voel. Die intense manier waarop hy luister na elkeen wat hy teëkom, uitvra na elkeen se omstandighede, of dit nou die portiere of pasiënte is, en die glimlag waarmee hulle wegstap, teken elke dag ’n duideliker prentjie van Michael Stewart se menslikheid.
Hy is lank, sy hare is donker met ’n rooierige skynsel en sy oë is blou. Sy wenkbroue is ruig, soms staan daar los haartjies uit wat maak dat ek op my hande moet sit omdat ek dit so graag wil platvee. Sy hande is mooi, sy vingers lank en hy is nooit lomp of ongemaklik nie. Nie soos ek nie.
Ek struikel gereeld. Val oor my kierie, stamp teen deure, trollies, selfs teen van die personeel. Ek bloos, stamel, stotter. Voel baie simpel.
“Wat gaan van my word?” verwoord ek eendag die angs wat my snags wakker hou.
“Met jou toestemming kan ons weer ’n foto aan die plaaslike koerant stuur om te kyk of iemand wat jou ken dalk na vore sal kom. Maar intussen bly jy net hier. Ek beskou jou as ’n gevallestudie … nee wag, dis nie weird nie, dis net dat amnesie nog so ’n oneksakte veld is, so dit is vir my ’n wonderlike geleentheid om dit te bestudeer. Ek skryf alles op wat met jou gebeur sodat ek as ek ooit weer ’n pasiënt met geheueverlies kry, dalk beter sal weet hoe om dit te behandel.”
Een oggend vroeg kom hy in my kamer in.
“Kyk wat het ek gister tussen my pa se boeke gekry.” Hy hou ’n dun vaalgroen boekie met verbleikte goue letters op die buiteblad na my uit. The story of Mary Livingstone. “Is dit die boek wat jy onthou het?”
Daar is ’n roering in my, so asof ’n asem oor warm tee blaas, ligte golfies wat oor die oppervlak van my gedagtes rimpel. Asof die boek in my hand iets veel meer as die woorde op die voorkant uitstraal. Ek sluk en sluk. Weet ek moet antwoord, maar die woorde stol in my keel.
“Ek het dit gisteraand deurgelees. Dis die verhaal van ’n merkwaardige vrou. Ek hoop jy gaan dit ook so vind. Sien jou later.”
“Dankie,” mompel ek uiteindelik, maar hy is reeds weg, buite hoorafstand.
Heeloggend voel ek vreemd, asof daar iets los is in my, asof ek nie op enigiets kan konsentreer nie. Ek is ongedurig met die fisio, wil nie in die tuin agter die hospitaal gaan stap nie, stoot my bord kos halfgeëet weg. Die gedagte aan die groen boek is heeldag daar. Drie keer, dalk vier keer, tel ek dit op, sit dit weer neer. Eers ná ete, toe dit stiller word in die gange en die son in my kamer inskyn, gaan sit ek in die regop stoel langs die venster met die boek in my hande.
Mary
EEN
Mary se verhaal begin in die eerste helfte van die 1800’s toe Suid-Afrika nog amper onbekend onder Westerlinge was, toe die woord “Afrika” ’n bekoring ingehou het vir Europeërs. Veral in Engeland is mense begeester om die onbekende kontinent te verken, heidene te bekeer en beskawing te bring aan ’n ongerepte land.
Die binneland van Suid-Afrika was onherbergsaam, sonder paaie of kaarte. Enkele brawe reisigers het die omgewing om Kaapstad verlaat om die binneland te gaan verken. Hulle het selfs dorpe gestig en die Griekwastamme probeer bekeer. Uit die binneland van Afrika het enkele stamme uit die noorde al verder suid getrek, maar ver uitmekaar gebly.
In 1816, iewers in die suide van Engeland, besluit Robert Moffat, ’n lang, aantreklike jong man met ambisie om meer as ’n tuinier op ’n klein dorpie te wees, om ’n sendeling te word. Hy slaag die eksamens van die London Missionary School en word na Suid-Afrika gestuur. Sy verloofde, die klein, bekwame Mary Smith, volg drie jaar later, en ná hulle troue in Kaapstad reis hulle maande lank in ’n skommelende ossewa tot in Griekwastad. Aanvanklik bly hulle in ’n riethut tussen die Batlapangstam, slaap op strooimatrasse op die vloer en kook oor ’n oop vuur terwyl hulle wag vir toestemming om ’n sendingstasie by Kuruman te begin.
Hulle eerste kind, ’n dogtertjie, word in April 1821 in die riethut gebore. Hulle noem haar Mary. En haar ma word outomaties Ma-Mary, volgens die Batlapangtradisie om ’n ma na die oudste kind te vernoem. Ma-Mary moet die krulkopdogtertjie probeer versorg in ’n hut met misvloere, baie vlieë en goggas.
Uiteindelik kan hulle intrek in ’n behoorlike kliphuis wat deel uitmaak van die sendingstasie op Kuruman. Robert Moffat herlei water met kanale vanaf die Kuruman Oog se standhoudende fontein vir die bouery, vir die vrugtebome en groente wat hy plant en, nadat hulle huis gerieflik ingerig is na Ma-Mary se hoë standaarde, vir die kerk van klip en riete wat hulle tot stand bring. ’n Kerk wat ’n duisend siele kan huisves en waar die ou Skotse psalms deur suiwer Afrikastemme vervorm word om lieflike harmonieë te maak. Klein Mary word in hierdie goed georganiseerde huishouding groot en praat gou Setswana en selfs die Boesmans se taal beter as Engels.
Asof ’n duisend voëls in my brein losgelaat word, oorval die kennis my. Die boek val op die grond. Ek druk my palms teen my slape, want dit voel asof my kop gaan oopbars.
Herinneringe stroom deur my en vul elke hoekie van my brein, my hart, my verstand. Te veel. Te veel van alles. Ek hoor ’n hoë, dun gehuil, besef nie dat ek die geluid maak nie.
Kirishna is dadelik by my. “Pixie! Wat is fout? Praat met my?” Sy hardloop deur toe, keer dokter Stewart voor. “Dokter, kom gou!”
My keel trek toe, ek kry nie asem nie. Kan nie praat nie. Voel die prik van ’n naald en sak weg in die niks. Maar die niks is nie meer niks nie. Die niks is iets. En selfs in my beneweling weet ek dit.
Hy sit langs my bed toe ek wakker word. Werklik wakker word. My hande bewe dadelik, my oë flits van hom na die deur na die venster.
Hy sit sy hand op my arm, soos daardie eerste keer toe ek hier wakker geword het, en weer maak die warmte daarvan my minder angstig. “Kom, sit regop. Ek begryp dat jy verward en oorweldig voel, maar dis ’n wonderlike ding wat gebeur het, Pixie.” Hy help my na die stoel by die venster waar ek gesit en lees het.
“Dit was die boek. Dit was Mary wat my laat onthou het.” Selfs my stem klink vir my anders. Nie meer Pixie se stem nie.
“Vertel my. Wat in die boek het jou laat onthou?”
Ek blaas my asem uit. Waar begin ek?
By die boek. By Mary Livingstone.
Maar ek bewe te veel, my kop is vol fladderende, krysende voëls, woorde vlieg ook heen en weer sonder rigting, sonder plan. My mond gaap soos ’n vis s’n, maar al wat uitkom is my asem wat horterig bly blaas.
Al wat helder en duidelik in my kop is, is my pa se gesig. En bloed.
Dokter Stewart help my op. “Stap saam na my spreekkamer toe, daar sal ons nie gesteur word nie.”
As hy my nie aan my elmboog vasgehou het nie, het ek soos ’n dronk mens gesteier, want ek kan skaars my kierie vashou. Monja kom verby en haar oë rek, sy kyk op na dokter Stewart, loop toe vinnig verder.
In sy spreekkamer gee hy vir my ’n glas water aan, laat my op ’n gemaklike stoel in die geselshoekie sit en neem oorkant my plaas. “Ek gaan ons gesprek opneem op hierdie bandopnemertjie, sodat ons agterna daarna kan luister. Reg so?”
Ek knik seker, ek weet nie. My kop is vol los drade, soos ’n spinnerak wat versteur is. Waar begin ek?
“Kom ons begin met jou naam,” antwoord hy my onuitgesproke vraag.
“Elfrieda Vanessa Rademeyer. Maar ek het twee ander name ook. My pa en ma het my Elfie genoem en my laerskoolmaats ook, maar na … na …” my kop sak in my hande, die herinnering aan daardie dag te oorweldigend, “… in die hoërskool het hulle my Veda genoem.”
“Is dit wat jy wou hê?”
Moenie my nou al ontleed nie, dokter, wag tot jy my storie gehoor het, dink ek, maar sê dit nie.
Hy gee vir my die houer met sneesdoekies aan, leun dan terug in sy stoel. “Vertel my van die boek. Waar jy was toe jy daarvan gehoor het. Hoe dit gelyk het, wie by jou was, wat jy gedoen het.”
Ek bewe, ek huil, ek praat en praat. “Toe ek klein was het my pa vir my so ’n kartonbuis met glasstukke in gegee, ’n kaleidoskoop het ek later geleer, maar ek het dit my towerstok genoem. Elke keer as ek dit draai, was daar ’n ander prentjie. Ek voel nou ook so, asof ek draai en draai, maar die stukke bly nooit bymekaar nie.”
“Onthou jy ek het vir jou gesê dit is amper soos om ’n legkaart te probeer bou?”
“Ja, dit voel so, behalwe dat daar te veel stukke weg is en ek weet nie eers hoe die finale prentjie lyk nie. Ek weet nog steeds nie hoe ek in Durban uitgekom het nie. My onthou rafel iewers in matriek uit. Het ek eksamen geskryf? Ja. Ek onthou ek het. Maar nie of ek deur is nie. Kan ons uitvind? Sê nou … sê nou …”
Dokter Stewart hou aan vrae vra.“Waar werk jou ma? Het julle ’n telefoon by die huis? Kan jy jou eksamennommer onthou?”
Stadig, sukkelend, probeer ek my gedagtes orden, terwyl ek my oë op die bandmasjien op die tafeltjie tussen ons hou. Die magdom inligting wat skielik my brein oorgeneem het, is oorweldigend. Nes ek wil begin, oorval nóg ’n herinnering my, maar ek kry nie kans om daarby stil te staan nie, dan is die volgende verskrikking daar.
“Wees rustig. Vat jou tyd en kry een van die draadjies wat nou in jou kop los spin vasgevat, en begin daar.” Sy stem bring tog kalmte en ek maak my oë toe, luister na die geluide om my. Die gekoer van duiwe naby. Die geruis van verkeer ver. Sy asemhaling in die stil kantoor. My asemhaling. Die wieletjies van ’n trollie wat kir-kir in die gang afgestoot word, die veraf gesels van twee vroue.
Met die sneesdoekies vee ek eers oor my gesig en my handpalms en lig dan my kop.
“Ek moet by my pa begin.”