Читать книгу Waar onthou begin - Connie Luyt - Страница 7

TWEE

Оглавление

DIT IS ’N SATERDAGMIDDAG LANGS DIE EMMARENTIADAM. Dis die einde van die somer, die blare het al begin val. Ek ruik die dam se water, groen en oeroud. Moerassig.

“Wat lees Pappa?” Ek is moeg stilgesit, die gras kielie my bene en ek bly krap-krap om my enkels.

“Ek lees van ’n dogtertjie wat baie lank gelede doer in Kuruman grootgeword het. Haar naam was Mary Livingstone. Wat weet jy van David

Livingstone?” Hy kyk oor sy bril na my en sy oë is sag en ek weet hy gaan my nie dom laat voel nie.

“Hy het mos die Victoriawaterval gekry?”

Hy lag, laat sy hand sak om ’n koekie uit die mandjie tussen ons uit te haal en ek lees die terg op sy gesig. “Wel, dit was maar altyd daar, nè? David Livingstone was ’n ontdekkingsreisiger, die eerste wit man wat dit gesien het en die magtige waterval ’n naam gegee het en daarom so beroemd geword het dat hy selfs in Westminster Abbey begrawe is.” Hy kou die koekie en kyk weer af. “Maar van sy vrou, die een wat hom so ondersteun het, weet mens bykans niks nie. Asof sy bloot ’n naskrif tot sy lewe was. ’n Skaduwee in haar eie storie.”

“Wel, sy het beslis vir Pappa beïndruk – jy kyk vandag skaars of die visse byt!”

Hy pluk ’n slag aan sy lyn en glimlag. “Hulle is nie honger nie, maar ek is. Wat van ’n toebroodjie?”

Terwyl ek kos uithaal, lees hy verder.

Ek en Pappa is al so gekonfyt in ons ritueel op Saterdae, ons pak amper sonder woorde in. Die visgerei, die vorige Saterdag al skoongemaak en netjies weggepak in die stoepkas, word uitgehaal en teen die trap neergesit. Die pap is vroegoggend al gemaak en in twee bakkies gegooi, rooi gekleur en geel gekleur met bietjie rissiepoeier by, Pappa se geheime resep. ’n Ekstra bakkie vir erdwurms moet vinnig ingepak word voordat Mamma dalk sien. Sy gril en wil niks van ons visvangery weet nie.

My werk is om die koffiefles vol te maak, die broodjies in die koekblik te sit met twee appels en Mariebeskuitjies, en alles in ’n mandjie te pak saam met ons laphoede en ’n boek vir elkeen. Want dit is nie net die saamsit langs die dam met ons stokke gestut voor ons, die lyne ver in die water ingeskiet, wat ons deel nie; Pappa leer my ook van die wonder van boeke.

Mamma hou nie van lees nie.

“Hei, Elfie, jou stok roer. Vat gou!” In die opwinding van inkatrol en die vis in die net vang, vergeet ek van Mary Livingstone en onthou eers weer die aand in my bed van haar toe ek terugdink aan die dag.

“Vertel my van Mary Livingstone, Pappa?” vra ek, toe hy kom nagsê.

“H’m, weet jy wat, ek sal vir jou ’n stukkie lees, dan los ek die boek by jou. Volgende jaar as jy eers in die hoërskool is, gaan jy te groot wees vir stories, maar kom ons lees dit vir oulaas saam!”

Hy lees nie elke aand nie, soms nie eers elke week nie. Mamma roep uit die sitkamer, kla sy sien hom so min, sy wil eerder met hom gesels, dan trek hy sy skouers op, vryf my hare deurmekaar en sê met ’n knipoog nag.

Is dit juis dáárom dat ek so baie aan Mary gedink het, hoekom sy so in my kop ingeklim het, hierdie dogtertjie van Afrika wie se mamma ook kwaai was en wie se pappa haar held was?

Op ’n somermiddag sit ons drie buite die agterdeur op ’n kombers op die gras. Dit ruik na die suurlemoenboom se blomme, na son, na tevredenheid. Daar is skoenlappers en liewenheersbesies en klein akkedissies. Pappa lê op sy rug, hou sy sigaret se rokie lui dop. Die son laat Mamma se hare blink. Ek onthou rooi waatlemoenskywe op ’n blou bord. En hoe ek my taai vingers, soet van die waatlemoensap, aflek. “Vertel my weer hoe julle ontmoet het, Mamma?”

Sy sit met haar rug teen Pappa se bene en draai ’n lok rooi hare al om haar wysvinger. “Jou pa het een oggend ingestap in die koöperasie en voor my by die toonbank kom staan. ‘Ek is Hannes Rademeyer, ek is ’n verkoopsman van kunsmis en jy is verseker die mooiste meisie in Warmbad.’ Dit was,” sy loer onder haar kuif deur agtertoe, na Pappa, “instant liefde.”

Hy sit regop en soen haar op haar wang.

“Hoe oud was Mamma?”

“Agtien. Ek het toe al ’n jaar daar gewerk. My pa het gedink standerd agt is ver genoeg vir ’n meisiekind om skool te gaan, en toe die ding met my boetie …” Sy sug en my pa vryf met sy duim oor haar arm. “Nou ja, toe hy weg is, het my pa die plaas verkoop en ons het op die dorp kom bly. Ek was maar te bly oor my werk.”

“Watse ding met Mamma se broer? Waarheen is hy?”

“Amerika toe, maar ek wil nie daaroor praat nie.”

Pappa neem by haar oor en vertel van die geel rok wat sy aangehad het en van haar rooi hare wat soos ’n koper kroon was en dat hy gewéét het sy is die son wat hy in sy lewe wil hê; hy het haar sommer binne ’n paar weke gevra om te trou. My pa se oë trek skrefies en ek wonder of dit van die rook is wat hy uitblaas of van die manier waarop hy na Mamma kyk.

“En wat het Mamma se pa en ma daaroor gesê?”

Sy maak haar oë toe asof sy nie wil onthou nie. “Hulle het van hom gehou, maar voordat hy ouers kon vra het my pa ’n beroerte gekry, en my ma, wat ’n hartlyer was, is kort daarna oorlede. My pa kon nie meer praat nie, kon nie loop nie, en hy is ’n paar maande daarna ook weg.”

“En Pappa? Waar het Pappa grootgeword?”

Pappa druk stadig sy sigaret dood, blaas die laaste rokie uit. “Hier in Johannesburg. In Kensington. Onthou jy ons het eendag na my ouers se grafte in Wespark-begraafplaas gaan soek?”

“So ek het nie meer oupas of oumas nie? Nie eers ooms en tannies nie?”

Daar val ’n skaduwee oor Mamma se gesig. “Nie eers een nie. Jou pa se broer is dood in ’n motorfietsongeluk en van my broer weet ek niks nie.”

“En toe trou julle, Pappa?”

“Op jou ma se negentiende verjaardag. In die NG kerk in Mentzstraat in Warmbad. Daar was nie baie gaste nie en daar was net tee en koek agterna in die kerksaal, maar dit was die beste dag van my lewe. Natuurlik net tot jy gekom het!” Hy kielie my kaal voete.

Op ’n halfmaantafeltjie in die gang staan ’n geraamde troufoto van my ouers. Mamma dra ’n baadjiepak met so ’n skewe hoedjie op haar kop. “Dit was te kort na my ouers se dood – dit sou nie reg gewees het om ’n fancy trourok te gaan koop nie,” het sy gesê toe ek haar daaroor uitvra. Op die foto lyk sy jonk en ernstig. Pappa se pak het lapelle so breed soos sy glimlag.

“Waar het julle toe gewoon?”

“Ons het eers in my ouers se dorpshuis in Warmbad gebly, toe kry jou pa bevordering en ons kom koop toe saam hierdie huis. Ek het met my erfporsie die deposito betaal en ek wag nou nog vir die groot huis in Linden wat jou pa my belowe het!”

Het ek my verbeel dat ’n skaduwee my pa se gesig vlugtig verdonker het? Of was dit net ’n wolk voor die son?

“Ons bly mos in die kleinste huisie in Johannesburg,” het Mamma dikwels half spottend, half verwytend gesê.

“Dis net ’n tipiese Berea-huisie, klein maar met lekker stoepe voor en agter,” verdedig Pappa dan. “Maar wag net tot my skip inkom, dan koop ons ’n groot, grênd huis … ”

Ek kyk na die huis. Nee. Dit is my huis. Ek is lief vir my huis. Vir die twee slaapkamers, die krakerige houtvloere, die swart en wit teëls in die badkamer en die groen linoleum op die kombuisvloer. Oral is daar onthou. Die appelkoosboom langs die agterdeur waar ek en Pappa vrugte pluk om konfyt mee te kook, die trappies wat oplei na die voorstoep, met krulmuurtjies aan weerskante waarteen ek my speelgoed kleintyd laat afgly het. Die kaggel in die sitkamer waar Pappa in die winter vuurmaak en my kamer met die pienk gordyne. My beste foto is een wat Pappa van my en Mamma geneem het toe ek nog ’n baba was. Ons staan op die stoep. In die glas van die voordeur se venster is sy weerkaatsing, die kamera voor sy gesig.

Ek lê terug op die kombers en wonder oor Mary. Was sy ook so gelukkig? Ek is dertien en het nog net ’n paar maande in die laerskool oor, en dan gaan my lewe seker baie verander.

Toe het hoërskool nie so baie aan my lewe verander nie. Ek en my beste maat, Mara, stap steeds elke dag skool toe, ek doen steeds huiswerk by die lessenaar in my kamer waarop Pappa die letters EVR uitgekrap het, en ons gaan vang steeds Saterdae vis by Emmarentiadam.

“Ons gaan vakansie hou hierdie winter!” kondig Pappa aan toe hy skemertyd in die koue huis instap.

Mamma frons. “Hannes?”

“Ja, Frieda, ek is moeg om koud te kry en ek het vir ons ’n week by Afsaalwoonstelle in Amanzimtoti bespreek!”

Ek en hy dans al om die kombuistafel terwyl hy vertel van die groot visse wat ons gaan uittrek. Mamma lag tog later saam.

Ons ry uit Johannesburg weg op ’n oggend toe die grasperke wit van die ryp lê en ek draai myself in ’n kombers toe op die agtersitplek. Maar in Natal is dit warm, die son skyn, die dae is vol sand en see en roomys en lag. En visvang op die rotse.

Die dag toe alles verander het was blou. Die lug. Die see. My pa se oë. Eers daarna het ek verstaan dat blou ook ’n emosie is.

Dit was ’n windstil vroeë oggend.

“Ag asseblief, Mamma, toe? Dis die laaste dag. Pappa het klaar ja gesê. Ek wil net nog een keer probeer vir daai groot vis. Vandag is die dag wat ek hom gaan vang! Toe, seblief?”

“Ag tog, jy kan ook so aanhou, Elfie. Ek is nou al moeg vir die heeldag se visvangery. Ek dog dis ’n strandvakansie. Nee wag, Hannes, dit help nie om my nou te wil kielie nie, die vakansie is om.” Sy skud ’n handdoek uit, twee harde plukke sodat fyn sand oor die vloer waai. “Toe, gaan nou maar. Onthou net ons moet tienuur uit wees en Johannesburg lê nog ver.”

Pappa druk ’n soen op haar wang. “Ons sal nie lank weg wees nie. Kom, Elfie, die vakansie is nog nie heeltemal verby nie.”

Die sand is koel onder my voete, die lug vars en sout, die see blinkblou. Toe ek omkyk lê ons spore twee rye in die klam sand. ’n Rooi strandsambreel en gestreepte handdoeke wag vir swemmers. ’n Man loop verby met ’n swart hond aan ’n leiband. Nog een loop, soos ons, met sy visstok oor sy skouer rotse toe. Bokant ons swiep en duik seemeeue.

Daar is reeds ander vissermanne op die rotse, maar ek is die enigste meisiekind. Ek kan sonder hulp aas aansit en sien uit die hoek van my oog Pappa se glimlag toe ek die lyn oor die golwe uitskiet.

Die see trek ver terug en ek moet skiet gee aan my lyn. Ek trap skeef en toe ek opkyk rys ’n reusebrander voor ons op.

“Pasop, Elfie! Jy staan te naby!”

Dit was sy laaste woorde.

Van daar af onthou ek net grepe. Die skielike gepluk aan my stok, die skok van die val, die water, die visstok wat uit my hande ruk, die slag van die brander teen die rotse, my pa se hand wat gryp en mis, die bloed aan sy kop, die angs in sy oë, die soutwater in my mond en uiteindelik vreemde arms onder my lyf wat my op die sand neerlê.

Lank nadat ek al die seewater uitgebraak het en ten spyte van die kombers oor my, bly ek aanhoudend ruk. Dit voel asof ek versmoor tussen die gedrang van mense. Nuuskierige gesigte, hande wat aan my vat en bene wat te naby staan. Die suur braaksel in my mond, die seesout aan my lyf, die reuk van sonbrandolie en sweet maak my al hoe benouder. Sand krap in my onderklere. Die snye op my arms en bene brand. My keel is rou.

’n Man hou my pols vas, druk ’n stetoskoop teen my bors. ’n Vrou gee vir my iets warms in ’n pienk plastiekkoppie aan. “Drink dit, daar is baie suiker in.”

Almal praat gelyk, maar ek verstaan niks behalwe die angs in my binneste nie.

“Yslike golf van nêrens gekom … ingeduik agter sy dogter aan … tweede golf teen die rotse geslaan … Jan het haar gegryp … arme kind …”

En toe, bo die stemme uit, bo die gedruis van die see, bo die seemeeue se gekras, styg die gehuil van ’n vrou op tot dit al is wat ek hoor. Ek druk my hande in die sand om op te kom, maar my bene wil nie saamwerk nie. My vingers sluit om iets klein en stekelrigs. Eers toe ek opgehelp is deur onbekende hande maak ek my vuis oop. Dis ’n veer wat in my palm lê en ek druk dit weer vas asof dit my gaan anker.

Die mense maak ’n pad vir my sodat ek kan gaan na waar die vrou so huil. Sy lê met haar kop op my pa se bors.

“Mamma.” My stem skor asof ek erg verkoue het. Sy kyk nie op nie. Ek vat aan haar skouer, maar sy hou nie op huil nie. Uit die wond in my pa se kop vloei bloed wat die sand onder hom verkleur.

Ver weg hoor ek iemand roep: “Sy gaan omkap! Vang haar.”

Hoe ons weer by die vakansiewoonstel uitgekom het, weet ek nie meer nie. Hoe ons deur daardie dag en daardie nag oorleef het, weet ek ook nie. Elkeen in ons eie kamer, met smart as ons kussing en verskrikking ons kombers. ’n Ystervuis wat my hart toedruk sodat ek sukkel om asem te kry, die reuk van die see wat meng met die sout van my trane; die gedruis van die golwe wat met elke instroom en terugtrek my selfverwyt eggo: as … as … as …

Eers die volgende oggend praat my ma. “Hoekom moes jy weer gaan visvang, Elfie? Ons kon nou by die huis …” Haar stem breek en my hart ook.

Dis jou skuld. Dis jou skuld dat jou pa dood is. As hy nie agter jou aan ingespring het nie. As hy jou nie wou red nie. As. As.

Ons gaan sit die tasse in die motor. Oral volg oë en fluisterstemme ons. Nuuskierig, vol medelye. “Foeitog … ja, dis hulle, siestog.”

Toe my ma rukkerig wegtrek, hoor ek ’n man sê: “Arme vrou. Minstens het sy nog haar dogtertjie.”

Minstens.

Minder.

Minste.

Ek lê op die agterste sitplek met ’n strandhanddoek tot oor my kop getrek en vee my trane met die punt af tot dit later te nat is.

“Mamma.”

“Elfie, ek moet konsentreer op die pad. Later.”

“Maar Mamma …”

“Nie nou nie.”

Daardie stil rit terug na die huis in Berea gee die toon aan vir wat op my wag. Sy trek die motor in die motorhuis in en sluit die agterdeur oop. Ek hoor haar al die pad in die gang af snik tot hulle kamerdeur agter haar toegaan. Die geluide van haar hartseer volg my uit die huis tot in die voortuin. Op die krapperige wintergras onder ’n blaarlose witstinkhoutboom huil en huil ek ook. Tot ek leeg is.

Die dop van die Elfie wat ek was, staan op, pak die kar uit, dra die tasse in na die huis wat stowwerig en benoud ruik. In elke kamer kruip verlies uit die hoeke. Hoe is dit moontlik dat sy wegwees soveel meer is as ons hierwees?

Later stoot ek haar kamerdeur oop. Sy lê met haar rug na my, Pappa se kussing in haar arms. Ek het ook nooit geweet hartseer het ’n reuk nie, maar die kamer is vol daarvan.

“Hier’s tee, Mamma.”

Haar kop skud nee.

“Mamma.” Haar skouer skram weg van my aanraking. Tee stort op haar bedkassie, maar ek kan nie deur my trane sien hoeveel gemors het nie.

Ek was toe tog nie leeg gehuil nie.

Ek, Elfrieda Vanessa Rademeyer van Alexanderstraat 54 in Berea, Johannesburg, was veertien jaar, agtien weke en een dag oud, toe my lewe op 6 Julie 1980 vir altyd verander het.

“Kom ons rus eers, Pixie. Wag net hier.” Dokter Stewart se stem klink vir my asof dit van ver af kom.

Sneesdoekies lê in balletjies verfrommel om my stoel, in my skoot. My neus is seer afgevee, my oë dik gehuil en die pyn van daardie tyd is soos ’n kloppende seer in my.

Hy kom terug met ’n skinkbord en The story of Mary Livingstone. “Tee en roosterbrood. Dis wat jy nou nodig het.”

Hierdie oomblik wil ek altyd onthou. Die warm tee. Die sagtheid in sy oë. Die omgee.

“Jy weet, Pixie, Mary Livingstone se lewe het ook drasties verander toe sy jonk was. Onthou jy wat gebeur het?”

“Ja, toe sy nege was moes sy van haar ouers en alles wat sy geken het, weggaan.”

“Kan ek vir jou daardie deel van die verhaal voorlees?” vra hy en ek knik. Doen hy dit om my te kalmeer?

Mary

TWEE

Eendag kom Ma-Mary na haar. “Mary, gaan roep vir Ann en kom hier na die voorkamer toe.”

Met Ann se hand in hare vasgeklem, staan Mary voor hulle pa en ma. Ma-Mary kyk na haar man, draai na Mary en Ann. “Ek en jou pa het besluit om julle na die skool in Salem te stuur. Ek kan nie meer alles doen wat ek hier moet doen met die huishouding, die twee ander kleintjies, julle pa se sendingwerk en dan nog vir julle probeer skoolhou ook nie.”

’n Koue voor-winterse wind trek deur die voorhuis en dra die reuk van die Batswana se vuurtjies by die oop venster in. Mary kyk af na die beesmisvloer en knip-knip haar oë om trane terug te hou. Nee. Nee. Sy wil nie weggaan nie.

“Mary, kyk vir my,” haar ma se streng stem laat haar met betraande oë opkyk, “dis nie ’n straf nie. Julle moet geleerd kom sodat julle eendag julle mans kan help soos ek julle pa help met sy werk. En julle moet leer om die ongekerstende barbare van hierdie land te kan leer lees en skryf sodat hulle die evangelie kan verstaan en gered kan word. Jy, Mary, sal ’n goeie onderwyseres maak, jy kom klaar so goed met hulle oor die weg.”

“Waar is die skool?” Mary se keel is so dik, haar woorde is skaars hoorbaar.

“Dis by Salem, naby Grahamstad. Dis ver, baie myle weg van Kuruman, maar ek het aan verskeie mense geskryf vir raad en almal beveel die skool hoog aan. Daar is ’n goeie koshuis en die skoolhoof, meneer Matthews, is blykbaar ’n uitstekende leermeester.”

“Kom kyk hier Mary.” Haar pa rol ’n kaart oop en wys vir haar waar Salem is. “Dis ver, ons gaan lank reis om daar te kom.”

“Hoe lank?”

“Maklik vyf of ses weke.”

En met daardie woorde wéét Mary die lewe soos sy dit geken het, is vir altyd verby.

“Mary,” haar pa se diep sagte stem laat die trane opnuut oor haar wange loop, “jy gaan dit geniet, jy sal sien. Daar is baie ander kinders, jy gaan lekker vriende maak en jy is mos slim, jy sal die skoolwerk sommer gou baasraak. En dan sal julle ma dalk ’n bietjie rus kry.”

Mary weet goed haar ma kom feitlik nooit tot rus nie. En verwag dat almal om haar ook net so besig moet wees. Daar is altyd werk om te doen in die huis, die kombuis, die tuin, en alles moet eksie-perfeksie wees. Mary se ore het al dikwels getuit soos sy raas kry omdat sy eerder by die spruit wil speel as om vloere spieëlblink te vryf met lappe om haar skoene vasgemaak of om vrugte te skil wat dan ingemaak word in bottels wat soos soldate in rye op haar ma se geskropte rakke moes staan.

“Mevrou Moffat, jou huis is so gerieflik, so skoon en netjies, dis ’n plesier om hier te oornag.” Hierdie woorde is meermale deur besoekende sendelinge uitgespreek en Mary het dan opgelet hoe haar ma se wange gloei en haar oë blink. Sy en haar sussie het vroeg al geleer dat hulle idee en hulle ma se idee van skoon nie altyd ooreenstem nie. Anders as Ma-Mary wat in Engeland grootgeword het in ’n huis met diensmeisies, is Mary en Ann van vroeg al geleer om in die huis te werk, om te was en selfs te stryk, om tuin te maak, naaldwerk te doen en met vele ander take hulself bruikbaar te maak. Die twee dogters het so dikwels as wat hulle onder Ma-Mary se oë kon uitkom, ontsnap en in die tuin verdwyn om met die kinders van die plaaslike Batswanastam wegkruipertjie te speel, of saam met die Boesmantjies om ’n vuur te sit en houtdiertjies te kerf.

“Ek en Ann sal harder werk,” pleit Mary, haar oë smekend op haar pa gerig. “Ek sal die ander kinders leer lees en skryf.”

Haar pa trek haar nader, en soen haar op haar kop. “Maar jy, my slim kind, moet méér weet en ons kan jou nie self leer nie. Jy gaan die skoolwerk baie geniet en dit sal goed wees vir julle.”

Mary sluk haar trane en lig haar ken. Sy weet sy het nie ’n keuse nie.

Die tyd waarin Mary grootword maak nie voorsiening vir opstandigheid of die regte van kinders nie. Ouers se woord is wet en kinders moet gehoorsaam wees.

Tog is die saadjie van rebellie in Mary geplant tydens die lang reis na Salem. Hulle gaan eers suid van Kuruman af, soek dae lank na ’n deurgang oor die Oranjerivier waardeur die osse kan kom, trek al langs die kant van die Karoo (die plek wat die Khoisan “Die Groot Niks” noem), sukkel oor geswolle rivierlope en deur klipperige bergpasse en vir die eerste keer sien Mary en haar sibbe sneeu op die verre bergpieke.

Aanvanklik is die reis ’n groot avontuur, maar die slakkepas van die ossewa raak vervelig. Ma-Mary is heeltyd besig om weg te pak en oor te pak en uit te pak en verwag van Mary om met alles te help. As dit nie aartappels skil is nie, is dit skottelgoed was of die kleintjies met speletjies besig hou.

Haar pa se rustige stories en die uitspannings langs die pad om vuur te maak en koffie te brou is die hoogtepunte van die dag. Ma-Mary het van die begin af geweier om uit die wa te klim voordat ’n vuur aangesteek is en die ketel gekook het. Dit is Mary en haar pa se werk om te sorg vir vuur en vir koffie. Dit is middel winter, die nagte bitter koud, en soggens vroeg moet Mary eers deur ’n yslaag breek om water te kry om te kook. Tog is daardie tye saam met haar pa iets wat sy lank sou onthou.

Dit reën vir dae aaneen in die Klein-Karoo en die kinders sit soos nat hoenders in die wa. “Mary, dink iets uit wat julle kan doen. Jy is die oudste, leer hulle om te tel of lees weer vir hulle uit die Bybel.”

“Ek wil nie, Ma. My kop is seer, ek is moeg.”

Ma-Mary lig reeds haar hand om Mary te klap, toe haar pa van voor roep, “Kom gou julle, hier is iets aan die kom!”

“Wag, Mary, ek wil eers met jou praat. Jy gaan ook eendag ’n vrou wees en jy moet nou al leer wat jou belangrikste werk is. Jy moet alles, in alle omstandighede kan hanteer. Daar is nie iets soos ek wil nie, ek is moeg nie. Verstaan jy my?”

“Ja, Ma-Mary.”

Buite die wa het die reën opgehou, maar in die mistigheid is daar ’n vreeswekkende geruis wat al harder word. Spookgedaantes doem uit die newels op. Honderde, derduisende springbokke, soveel dat dit onmoontlik is om hulle individueel te sien, hardloop asof hulle aangedryf word deur ’n magiese malligheid. Die aarde bewe onder die aanslag van hulle hoewe en Mary en haar familie klou met groot oë aan die kante van die wa om nie uit te val nie. Die onrustige gemaal en geloei van die osse skommel die wa gevaarlik heen en weer.

“Ek het al gehoor van die jaarlikse trek van springbokke, maar ek het nooit gedroom ek sal dit self sien nie.” Haar pa se verwonderde stem laat die vrees in Mary bedaar, maar sy moet haar boetie en sussies kalmeer en saam met haar ma hardop bid vir oorlewing terwyl die gedruis uur ná uur voortduur.

Toe dit uiteindelik stil word, skyn die son flou deur die stofwolk wat deur die vloedgolf bokke opgeskop is en lê ’n spoor van verwoesting voor hulle. Bome is versplinter, bosse en gras is platgetrap. Van skilpaaie is net stukke dop oor en van hase en ander klein diertjies net klosse vel en hare hier en daar te sien. Verminkte bokke lê om hulle gesaai.

As dit nie was vir die groot bome waaronder hulle teen die reën geskuil het nie, was hulle wa seker flenters, maar genadiglik het die springbokke weerskante van hulle geswenk en hulle soos op ’n eiland gespaar.

“Ek sal dit nooit kan vergeet nie,” fluister Mary vir haar pa. “Dis die ergste ding wat ek ooit sal beleef.”

“Ons is gered, ons is nog almal hier. Dit, Mary, is ook die wonderlikste ding wat jy ooit sal beleef.”

Nadat hulle die oorblywende osse bymekaar gekry en weer ingespan het, gaan die moeisame tog voort. Die wa skommel deur die veld totdat hulle uiteindelik, ná ses weke, Grahamstad se grasdakgeboue in die verte sien.

Selfs Ma-Mary moes twee keer sluk toe sy die lang slaapsaal sien wat haar dogters met twintig ander meisies moet deel in die koshuis van William Henry Matthews se Methodist School op Salem, sowat twaalf myl van Grahamstad af.

“Dis so ’n mooi dorpie, Mary,” troos haar pa op sy rustige manier, “weet jy dat Salem se naam uit Genesis in die Bybel kom? Dit beteken vrede en,” hy gooi sy arm wyd oop, “kyk net die vredige heuwels en valleie en veldblomme alom. Julle gaan gelukkig wees hierso, jy sal sien.”

Mary hou haar pa styf vas, maar draai haar kop weg toe haar moeder haar vir oulaas wil soen. Sy hou haar trane terug, Ann se bewende handjie in hare, tot die wa met haar ouers om die verste draai in die pad verdwyn het, toe trek sy haar skouers terug en stoot haar ken vorentoe terwyl die trane oor haar wange af streep.

Skool bestaan uit slegs een teksboek: die Bybel. Hulle leer skryf deur Bybelversies te kopieer, leer lees en onthou deur dit op te sê, leer somme maak deur hoofstukke en verse bymekaar te tel, leer teken deur illustrasies vir Bybelstories te maak. Geskiedenis en Aardrykskunde is vanselfsprekend en Psalms sorg vir sangklasse.

Die ander dogtertjies sien neer op sendelingkinders, noem hulle “white Africans” en spot Mary oor haar outydse klere. Hulle is afgunstig op haar goeie punte in somme en haar vermoë om teksverse te onthou. Sy leer om ’n stoïsynse gesig na die wêreld te draai en haarself in ’n denkbeeldige kleed van onverskilligheid toe te draai.

Sy is baie eensaam.

Eers drie jaar later kom die nuus dat haar broer Robert ook na die skool op Salem op pad is. Mary kan nie wag nie, maar dis net Ma-Mary wat hom bring.

“Waar is Pappa?”

“Hy werk aan sy vertaling van die Bybel in Tswana en kon nie saamkom nie,” antwoord haar ma.

Mary is verslae.

Eers ná haar ma se vertrek, met die wete dat die Oranjerivier in vloed is en sy alleen die gevare van die lang tog moet trotseer, besef Mary hoe braaf haar ma is. Dalk is dit juis hierdie voorbeeld wat Mary later in haar lewe sou noop om die moeilike reise wat haar man van haar verwag het, aan te pak.

Ek kyk op na dokter Stewart. “Mary het nie haar pa verloor soos ek myne verloor het nie, maar dit het dalk so gevoel? Sy het hom daarna bitter min gesien.”

Dokter Stewart glimlag. “Ja, jy is reg, ek het gewonder of jy die verband sou sien. Sy het haar pa verloor, en haar ma ook tot ’n mate. Kan jy jou indink hoe erg dit moes gewees het om op nege so ver van jou familie weg te gaan? Kan jy onthou hoe jy gevoel het kort ná jou pa se dood?”

Ek dink oor sy woorde. Mary se verhaal het kalmte gebring, ’n klein bietjie afstand van die rou pyn van my herinneringe.

Elke uur van die twee weke ná daardie Sondagoggend toe my pa dood is, het verbygaan met te veel van alles. Te veel onthou, te veel seer, te veel trane, maar veral te veel verwyt. As ek maar net nie weer wou gaan visvang nie … as ek nie so naby die kant gestaan het nie … as ek net … as ek net met my ma kon praat.

Oor en oor het ek elke oomblik van daardie Sondagoggend herdink. Soos ’n film rol die prentjies deur my kop. Soms sien ek in kleur die spore op die sand, die blink van die son op die see, die ander vissermanne op die rots, Pa se duim-in-die-lug-glimlag toe ek my lyn ver uitskiet, die brander, die val, die skrik. Dan onthou ek weer net in grys. Sien ek hom gly. Sien ek sy oë. Die vrees daarin. Die wond.

Soms begin ek van voor af, ’n sirkelgang sodat die rolprent anders moet eindig. Dan sien ek agter my ooglede hoe hy my aan my baadjie terugtrek en styf vashou terwyl die brander oor ons breek. Ons bly staan op die rots. Saam.

Daardie beeld is die ergste. As … as.

Mense kom klop aan met skewe koppe en seer oë, met bakke kos, bosse blomme en onbeholpe woorde, maar kom nie verder as die voordeur nie. Mamma sê stroef dankie, skud haar kop wanneer hulp aangebied word en staan weg. Sy sit die blomme op die eetkamertafel by die ander rangskikkings neer sonder om daarna te kyk, druk die kos in die yskas en gaan weer terug na haar kamer. Selfs tannie Annie, haar beste vriendin, kom nie verder as die voordeur nie. Die dominee moet buite op die stoep vir ons bid.

Haar pyn maak haar soos ’n dier wat sy gebied wil beskerm, ’n ystervark wie se penne niemand naby toelaat nie. Die geweld van haar hartseer maak my bang.

Ure lank dwaal ek in en om die huis rond. Staan ek voor die foto waarin sy weerkaatsing in die venster agter my en Mamma sigbaar is. Is dit al wat oor is – net ’n weerkaatsing van wie hy was?

Ek ruik hom in die badkamer, in die gang, in sy stoel. Lifebuoy-seep, Old Spice, en Tiger Balm vir die rugbybeserings aan sy knieë. Agter die verfblikke op die rak buite op die stoep kry ek ’n pakkie met ’n paar van sy Lexington-sigarette in en bêre dit in my laai. Langs ’n stoel in die sitkamer lê sy werkskoene en ek sit dit in my kas saam met die blou blokkieshemp wat hy gedra het die laaste aand by die see toe ons by Wimpy gaan eet het. Saans haal ek die hemp uit en hou dit vas om my trane mee af te droog, laat dit teen my stoel se kussing lê sodat ek my verbeel hy sit daar. Dan gesels ek met hom. Saggies, al is Mamma se kamerdeur steeds heeltyd toegetrek.

“Onthou Pappa wat jy gesê het toe jy jou skoene uitgetrek het die aand voordat ons see toe gery het? Jy het nog so oor die rooi merke op jou voete gevryf. ‘Lekker,’ het jy gesê, ‘môre kan ek my voete in die sand druk en in die seewater loop. Ai, ek wens ek hoef nooit weer hierdie veters vas te maak nie.’ Onthou jy? Het jy ooit gedink jou wens sal waar word? Toe jy vir my sê ons moet vir oulaas gaan visvang, het jy gewéét, Pappa?”

Party aande is dit asof daar iemand in my kamer is. ’n Vae gedaante wat soos mis kom en gaan. Eers is ek bangerig, maar dan is dit asof ek getroos voel. Nie meer heeltemal so alleen nie. Ek word wakker met die gevoel dat iemand aan my wang geraak het, maar as ek my palm daarteen druk is my vel yskoud. Lank sal ek wakker lê, my oë op die gleuf tussen die gordyne waar die agterstoeplig flou deurskyn en wag vir die grys engel om deur te glip. Partykeer kom hy en dan bewe ’n ligskynsel in die kamer. My lyf word warm en my hart klop vinnig. “Wie is jy?” wil ek fluister, maar ek kan nie. Dan verdwyn die lig en ek bly wanhopig wonder of hy een nag vir my gaan sê hoe dit met my pappa gaan.

Mara, my beste maat vandat ek kan onthou, klop een oggend. “Kom, Elfie, voor die vakansie verby is gaan ek vir jou ’n milkshake by Taki se kafee koop. Gaan vra gou jou ma.”

“Dis oukei, sy slaap.”

Ek hoop sy word wakker en wonder waar ek is. Worry oor my.

Sy mis my nie eers nie.

Dis asof sy hulle slaapkamer om haar getrek het, soos ’n trooskombers. Daar is nie plek vir my nie, al probeer ek tot haar deurdring.

“Mamma, praat met my! Asseblief?” Twee maal kruip ek, stukkend gehuil, in die diep nagure agter haar rug in, sit my arms om haar.

“Elfie, gaan terug na jou bed toe. Ek moet alleen wees,” mompel sy elke keer.

Na die tweede poging loop ek uit en gaan sit in die sitkamer. Dit is koud en ek trek my bene styf teen my lyf op en lê my kop op my knieë neer. Ek huil nie. In my binneste vorm ’n klein, harde klontjie. ’n Kwaadheid wat ek nie verwag het nie. ’n Woede wat my op my tande laat kners en my hande in vuiste laat klem. Hoe durf my pa doodgaan? My alleen laat met ’n ma wat my vir sy dood verkwalik en nie vir my omgee nie? Hoe durf hy? Agter my oë begin ’n pyn brand. ’n Rooiwarm brand wat my selfbejammering op daardie oomblik laat verdwyn. Eerder hierdie kwaadheid as die hartseer.

Daardie nag skrik ek kort-kort wakker met trane op my wange en vae, donker nagmerries wat vervliet nog voor ek hulle kan vaspen. Vroeg, toe die lig nog grougrys is, skrik ek wakker. Daar is iemand in my kamer.

“Pappa!” Hy sit op die stoel, effens vorentoe gebuig, sy hande in mekaar tussen sy knieë soos hy altyd saans gesit en luister het wanneer ek vertel het hoe my dag was. Dis te donker om sy gesig te sien, maar dit is na my gedraai. Ek hoor sy stem, al is daar geen geluid in die kamer nie. “Moenie so hartseer wees nie. Moenie kwaad wees nie.” Toe smelt hy weg.

“Pappa … Pappa, wag!”

Ek spring op, sit die lig aan. Daar lê net ’n hemp oor ’n kussing en ’n paar skoene onder die stoel.

Saans in my kamer sit ek my klein transistorradio sag aan en luister na Radio 5. Pappa het vir my die radio gee vir my verjaardag.

“Toe ons jonk was, het ons skelmpies Sondagaande na LM Radio geluister om die Hit Parade te hoor. Die uitsending was maar krakerig en mens kon dit nie harder draai nie, want dan hoor jou ouers en ons mag nie op Sondae popmusiek geluister het nie. En nou kom Radio 5 en neem die ou LM Radio oor en saai uit hier naby ons, en jy kan na al die nuwe musiek luister net wanneer jy wil.”

“Net nie te hard nie,” het Mamma laat hoor.

Hy het soms in die deur gestaan en saamgesing met “Yesterday’s hero”. Nou is my deur toe en ek luister alleen na “Mississippi” en “Lucille” van Kenny Rogers; “Don’t cry for me Argentina” laat my huil en ek sit dit af as Thelma “Don’t leave me this way” sing.

My Afrikaans-juffrou het verlede kwartaal die klas vertel van ’n boek van Henriette Grové, Jaarringe. “Ek dink julle sal hiervan hou. Dis twaalf kortverhale, party is ontstellend, maar hulle laat mens dink. Probeer dit in die vakansie lees.”

Ek het haar gevra oor die titel. “Wel, jaarringe dui nie net bome se groeiproses aan nie, maar maak ook patrone, kringe in die lewe van mense. Dis die afbakening van ’n tyd, ’n aanduiding van ’n groot verandering wat jou lewensloop kan verander.”

My eerste jaarring dui dan op die dag toe my pa dood is. Die einde van kindwees. Van die lewe soos ek dit geken het.

’n Week ná die begrafnis begin ek met my derde kwartaal in standerd ses. Mara en ek stap saam skool toe soos elke oggend vandat ons op laerskool was. Ryp kraak onder ons voete waar daar grasperke op die sypaadjies is en ons vingers verkluim selfs in wolhandskoene om die handvatsels van ons skooltasse. Daar is die kenmerkende winterreuk van rook en ou vuurtjies in die lug.

Mara se asem maak wit wolke soos sy vertel van haar klein pes van ’n boetie wat haar enigste lipstiffie gevat het om ’n rooi streep op sy krieketkolf te maak. Ek maak asof ek luister, maar iets druk my stembande toe. Al probeer ek hoe hard om nie daaraan te dink nie, sit my hartseer te vlak en moet ek bly sluk en sluk. Karre ry by ons verby, daar is die geraas van toeters, van stemme, van fietswiele wat verbyflits en ek weet nie hoe ek hierdie dag gaan omkry nie.

Tydens saalopening vertel juffrou Goosen vir die hele Helpmekaar Meisieskool van Elfrieda Rademeyer se pa wat so tragies gesterf het terwyl hy aan die Suidkus visgevang het. Asems word ingetrek, nekke gedraai, koppe geskud. Is dit hoe dit voel om te wens die aarde sluk my in? “Toemaar, Elfie, jy gaan oukei wees,” fluister Mara en druk my hand. Op pad klas toe kan ek die nuuskierige kyke en gefluister nie ignoreer nie. Ook nie die geklop van my hart en die vuis wat my lugpyp toedruk nie.

“Ek gaan net gou kamer verlaat – sê vir juffrou ek kom nou.”

My trane in die toilethokkie is nie net oor die jammerte in almal se oë of oor die ellende in myself nie, maar oor die wete dat alles nou anders is. Vir altyd.

Die bankbestuurder bel, Mamma moet hom gaan sien. Sy kom terug en maak haarself in haar kamer toe en wil daardie aand weer niks eet nie. Oplaas haal ek ’n porsie van iemand se hoenderdis uit die yskas, maak dit warm en gaan sit buite in die koue op die agterstoep se trappe totdat my tande klap en die trane op my wange verys.

Ná skool die volgende dag stap ek in die huis in en kry Mamma by die eetkamertafel. Sy het van die bakke blomme wat nog heeltyd daar staan eenkant toe geskuif en sit aan die koppenent van die tafel met papiere voor haar. Ek knip my oë vinnig om my oombliklike woede te sluk. Dis mos Pappa se plek. Die sieklike reuk van blomme, veral dié wat al slymerige stele in groen water gemaak het, laat my naar voel.

“Hoekom gooi Mamma nie die blomme uit nie? Dis so … dit beteken niks nie … en dit het vrot geword. Ek kan nie meer daarna kyk nie.”

Mamma lig haar kop op asof sy die blomme vir die eerste maal raaksien en kyk my skerp aan. “Jy kon dit mos al self gedoen het.” Haar groen oë is donker en die vel daaronder lyk rou en gekneus, haar lippe is droog en bleek sonder die Dusty Rose-lipstiffie wat sy gewoonlik dra. Sy skud haar kop en kyk weer af na die papier voor haar. Haar rooibruin hare lyk dof en haar skouerknoppe bult in die swart trui wat sy nog byna elke dag dra.

“Frieda, jy eet nie, jy kan nie so aangaan nie,” het tannie Annie gesê toe sy eergister hier was en Mamma haar uiteindelik ingelaat het. “Jy en Elfie is ewe tengerig.”

Buite die venster is dit bewolk en swaai boomtakke in die wind wat saam met ’n koue front in Johannesburg aangekom het. Gewoonlik sou Pappa vuurgemaak het in die baksteenkaggeltjie, maar nie een van ons sal eers probeer om dit te doen nie. Asof koudkry deel moet wees van ons ellende.

Ek is sommer moerig. “Wanneer kry ons die televisiestel terug? Pappa het gesê die mense het dit kom haal om dit reg te maak. Die kinders by die skool sê daar is nuwe programme en ek weet—”

“Kom sit, ons moet praat,” val sy my in die rede. “Ons moet besluit wat om nou te doen.”

“Wat bedoel Mamma?” ’n Droë blaartjie verkrummel tussen my vingers.

“Die televisiestel kom nie terug nie. Jou pa het nie die paaiemente betaal nie. Ons gaan ook nie langer hier kan bly nie.”

“Wat! Hoekom nie? Dis dan ons huis.”

“Elfie, jou pa, jy weet hoe hy was … almal se vriend, altyd vrygewig, altyd reg om ander te help … jy weet hoe hy ons bederf het met geskenkies en uiteet …” Sy vee haar hand oor haar gesig en kyk verby my na die nuwe donkerblou sitkamerstel. “Hy het nooit vir my nee gesê nie.”

Ek weet hoe hy was. As hy maar net daardie Sondag vir my nee gesê het.

“Luister nou mooi. Jou pa het geld voorgeskiet vir mense wat hom nie terugbetaal het nie. Hy het dit vir my weggesteek en ons huislening aanhou vergroot. Hy het geld by die bank geleen om ons op vakansie te vat. Hoe hy dit wou terugbetaal, weet ek nie, want hy het al sy polisse opgeroep en oral skuld gemaak. Daar is nie meer lewensversekering nie, net ’n klein pensioen waarvan ons nie sal kan lewe nie.”

Ek hoor die woorde, ek sien haar lippe beweeg, maar dis asof sy in ’n vreemde taal praat. Sy kyk nie eers na my terwyl sy praat nie, maar lyk asof sy woorde aflees wat teen die verste muur geskryf is.

“Wat beteken dit alles?”

“Die huis moet verkoop word vir die skuld. Ek sal moet gaan werk.”

“Waar gaan ons bly?” Ek hoor die bangheid in my stem. Vee met my vinger deur die krummels van die blaartjie.

“Ek sal iets soek. Jy kan my help. Daar is advertensies in die koerante vir plekke te huur. Ons moet die Star koop, en die Beeld.”

Die hol kol in my maag word al groter. “Is daar niemand wat ons kan help nie?”

“Jy weet mos ons het nie familie nie. Nee, ons sal maar net moet verkoop en kyk of daar iets gaan oorbly ná al die skuld betaal is.”

Haar gesig verstrak, sy pers haar lippe op mekaar en ek herken dieselfde woede in haar oë wat ook in myne skuil.

“Maar wat van skool? En Mara? En … ”

“Dis nou genoeg, Elfie, ons het klaar gepraat. Ek sal soek vir iets in die omgewing, maar as dit nie anders kan nie, sal jy van skool moet verander … Dit help nie om jou asem in te trek nie, ons het groot moeilikheid. Daar is net nie geld nie. Ek is vir niks opgelei nie, en jou pa wou nie gehad het ek moet werk nie, so ek het geen ondervinding nie. Ek sal hopelik iewers in ’n winkel werk kry. Agter ’n kasregister. Dis nou maar hoe dit is.”

Sy spring op, skuif haar stoel so hard teen die tafel aan dat een van die blombakke aftuimel en in skerwe op die blokkiesvloer breek. Haar gesig word rooi en ek hoor haar hakke in die gang af klik-klak en die kamerdeur toeklap. Ek bly agter met die reuk van vrot water in my neus en stukkies droë blare aan my vingers.

Ek gaan die volgende oggend skool toe sonder dat ek haar weer gesien het. Heeldag sluk ek aan die knop in my keel. Die laaste periode in Afrikaans gebeur iets vir die eerste keer ná daardie Sondag by die see. Dit gebeur toe Jurie Deysel, in antwoord op juffrou se vraag oor wat die idioom “uit die veld geslaan” beteken, ewe ernstig antwoord: “Dis wanneer ’n krieketspeler ’n ses slaan, juffrou.” Die klas is histeries. Juffrou ook. Ek ook, en die bevryding daarvan is vir ’n oomblik wonderlik. Tot ek skielik agterkom die trane in my oë is nie meer van lag nie. Ek gaan huil in die toilet verder. Ek mág mos nie lag nie?

Ons word ’n maand gegee om uit te trek. Alles gebeur so vinnig, dis asof ek weer in die see geval het en rondgestoot word deur die onstuimige golwe, hulpeloos teen die mag van omstandighede waaroor ek geen beheer het nie.

Mamma wys my die stringetjie pêrels wat sy geërf het, haar ma se trouring en die paar juwele wat Pappa vir haar gegee het, voordat sy dit in ’n houer sit om te gaan smous. Sy kyk nooit direk na my nie, haar lippe bly dun getrek, die frons op haar voorkop al dieper en sy praat net met my as dit nie anders kan nie.

“Onthou hierdie goed, Elfie. Dit was jou geskiedenis, dit kon jou erfenis gewees het.”

Onuitgesproke verwyt. Onmeetlike skuldgevoel. Onmiddellike woede.

“Ja, Ma.” Ek is te kwaad om meer vir haar Mamma te sê. Mamma klink te sag, te lief.

“As Pappa nog hier was, was ons seker in dieselfde penarie en sou ons ook niks gehad het nie,” mompel ek op pad na my kamer.

Sy klap die voordeur toe.

Toe sy later terugkom, is daar ’n effense blos op haar wange. “Elfie, ek’s terug. Kom hoor hier.” Ek dra my wiskundeboek saam, ek moet iets hê om aan vas te hou.

“Ek het werk gekry by ’n juwelierswinkel in Rosebank en ’n woonstel gesien wat ek kan bekostig. Dis op ’n busroete na Rosebank en sommer net om die hoek van jou skool. Alles in een middag. Ek kan dit nog nie mooi glo nie.”

“So dis hier naby?”

“Nee, dis in Linden. ’n Ou blok, maar die kamers is groot en daar is ’n tuin.”

“Linden? Ek is in Helpmekaar, Ma.”

“Net tot die einde van die maand, Elfie. Ons moet al twee opofferings maak. Dit kan nie anders nie.”

Die ystervuis om my hart is terug en my naels druk halfmane in my handpalm. Ek laat val die boek, voel hoe duiselig ek is toe ek opstaan.

“Ma kan my mos skool toe bring van daar af.”

“Ek het die gebruik van die kar net tot die twintigste. Die paaiemente is al vir maande nie betaal nie en hulle het my net tot dan uitstel gegee. Ons moet pak en soveel as wat ons kan solank soontoe trek. Die woonstel staan op die oomblik leeg.”

Wat het jy aan ons gedoen, Pappa? wonder ek vir die soveelste keer.

Terwyl ons eet, of liewer terwyl ons in ons borde krap, vertel my ma van die winkel in Rosebank waar die eienaar wat haar goedjies gekoop het, vir haar sy sakdoek gegee het toe sy begin huil en aangebied het om haar die woonstel, een van drie in die blok wat hy besit, te gaan wys. Hy het toevallig ’n verkoopsdame gesoek en haar summier aangestel. Daar is ’n ligtheid in haar stem. Iets wat lanklaas daar was. Ek trek my oë op skrefies en kyk na haar. Ma is, ten spyte daarvan dat sy te maer is en daar swart kringe onder haar oë lê, seker nog ’n mooi vrou. En sy is nog jonk – skaars twintig jaar ouer as ek. Wie is hierdie man wat vir haar werk en ’n blyplek gegee het?

“Hoe lyk hy?” wurg ek uit.

“Mister Cohen? Stokoud. Seker naby vyftig. Sy vrou was ook daar, sy is omtrent behang met juwele, ringe aan elke vinger.”

Die ystervuis verslap en ek wil-wil glimlag, maar dan onthou ek van die nuwe skool en kyk af na my bord waar die maalvleis se vet gestol het soos die speeksel in my mond. Ek stoot die bord driftig weg. Ma se oë rek, maar sy sê niks. Asof ek nie eers meer ’n aanmaning werd is nie.

Ek wil die laaste dae nie onthou nie. Die kartondose waarteen ek my tone stamp in die gang, die smerige mannetjie wat kort-kort vir Ma oogknip en alles wat ons nie kan hou nie in sy bakkie laai. Hy betaal te min vir die grassnyer en Pappa se gereedskap. En sy visvanggoed. En die stoepbank en die braai. En die amateurradio waaraan hy naweke gewerk het. Daar gaan my pa. Toe die meubelwa opdaag, is daar amper niks van hom oor nie.

Mara reël vir my ’n afskeid by Taki se kafee. Die lemmetjiemelkskommel word dik in my keel en al die meisies huil, selfs Carmen wat net winkelklere dra en nog skaars twee sinne met my gepraat het.

Snags kom troos die vae gees my nie meer in my kamer nie. Ek het Pappa se hemp en skoene reeds ingepak en die stoel staar nou verwytend terug na my. Die flou lig van die agterstoep is weg, want die gloeilamp het geblaas en Ma het dit nie vervang nie. Die lig is uit ons lewe.

Die woonstel in Linden is op die eerste vloer. Dit is groot, ja, maar dis vreemd. Die blou sitkamerstel staan anders, lyk anders, en die gordyne is te kort. Daar is nie plek in my kamer vir al my boeke nie, ek pak hulle in hopies op die vloer langs die lessenaar wat Pappa vir my gekoop het toe ek tien geword het. Toe ek en hy met sy knipmes my voorletters in een hoekie uitgekrap het. EVR.

Ons het ’n week tyd om kartondose uit te pak, gordyne te hang, meubels reg te skuif en skoolklere te koop voordat ek na my nuwe skool, Hoërskool Linden (Helpmekaar se aartsvyand), moet gaan. Amper moet ek nog in my ou skoolklere gaan.

“Ek het doodeenvoudig nie genoeg geld nie, Elfie. Ek kry eers oor ’n maand my salaris en ek kan nie glo hoe duur ’n eenvoudige skoolrok is nie. ’n Vrou in die winkel het vir my gesê ons moet by die skool se klerebank gaan kyk.”

So eindig ek met te groot skoolrokke, ’n sak van ’n kleurbaadjie en die woorde van die vrou wat ons gehelp het wat aanmekaar in my kop draai. “Siestog, kind, jy is darem klein vir die hoërskool – sterk staan, anders gaan hulle oor jou loop.”

“Jy sal maar net móét aanpas en inpas, Elfie.”

Ag Ma, los dit net.

Nou weet ek hoe Mary moes gevoel het.

En in my kop hoor ek Pappa se stem: Een ding van Mary, sy het haar ken gelig en die beste van haar situasie probeer maak.

Ek moet ook.

“Dit kon nie maklik gewees het nie, Pixie. Het jy ooit met iemand gepraat oor jou gevoelens?” vra dokter Stewart sag.

Ek kyk op, verbaas om sy stem te hoor. Het ek te lank stilgebly? Ek lig die waterglas na my mond, maar dis leeg. Ek blaas ’n los krul van my voorkop weg, vee oor my gesig. Merk dat die spreekkamer vol skaduwees is, die son besig om te sak.

Hy skink vir my water, skakel ’n lamp aan en druk my skouer voordat hy gaan sit.

“Is jy moeg? Ons kan môreoggend aangaan.”

“Waar was ek?”

“By jou nuwe skool.”

“Ek sal aangaan. Dis waar ek Veda geword het.”

Hy ruil die bandjie in die bandopnemer. Wag.

Ek sien deur die venster hoe die wolke pienk word, dink oor wat hy my gevra het. “Nee, dokter, ek het met niemand gepraat nie. Niemand sou verstaan nie. Ek moes my skuld alleen dra.”

Ek kyk weg van sy gesig, ek wil nie meer huil nie.

Die oggend van my eerste dag by Hoërskool Linden staan ek vroeg op en kyk lank na die vreemde bome buite die venster, luister na die voëls en sien hoe die son oor die grasperk aankruip. Ek probeer om my kop skoon te maak. Die gedagtes, die woede, die seer en die angs weg te vee totdat ek niks voel nie.

Ma gee vir my toebroodjies en ’n appel en vee vlugtig oor my hare. “Dis ’n nuwe begin, Elfie. Vir ons al twee. Jy het jou sleutel, nè?”

“Ja, Ma. Bye.”

Ma neem die bus werk toe en ek moet alleen skool toe stap. Een voet voor die ander. Oë op die grond, op elke skewe sypaadjieblok, elke grassprietjie wat tussen die sementkrake deur beur. As iemand met groen skoolklere verbykom, probeer ek myself nog kleiner maak. Uit die niet lig ’n windjie my hare, streel teen my wange en waai ’n fyn wit veertjie op die sypaadjie tot voor my skoolskoene. Ek sit dit in my rok se sak. Dankie, Pappa, dink ek, onthou Boerneef: “Ek stuur vir jou die berggansveer, mits dese wil ek vir jou sê, hoe diep my liefde vir jou lê.” Ek voel trane in my oë brand, maar ek pers my lippe op mekaar, haal diep asem en loop deur die skoolhek in Sesdestraat.

Alles lyk anders, ruik anders en ek word al hoe kleiner totdat ek later soos ’n mier voel wat agter ’n paal in die vierkant probeer wegkruip vir die massa kinders wat daar saamdrom. Ek is in standerd 6C ingedeel en my eerste periode is in klaskamer 32. Almal sit al toe ek die klas kry.

“So, jy is die nuwe meisie. Gaan sit sommer daar agter langs Annatjie.”

Is dit die seuns wat die klas so anders laat lyk en ruik en klink? My hart klop te vinnig en ek moet my hande aan my skoolrok afvee. Ek wil nie hier wees nie.

Ek sit skaars, toe sê die juffrou: “Staan asseblief op en sê vir ons wat jou naam is.”

“Elfrieda Rademeyer.”

“Sê weer jou naam, ek kon nie hoor nie.”

Die knop in my keel druk my stembande toe. Die dertig paar oë wat op my gerig word ook.

“E-el-f-frieda.” Hier en daar giggel iemand.

“O, Veda. Veda Rademeyer. Welkom in die klas. Kom sien my na die tyd om jou boeke te kry.”

Die klas fluister onder mekaar tot juffrou hulle stilmaak en werk uitdeel. Toe gaan sy uit. Onmiddellik spring ’n seun op wat lyk of hy in matriek moet wees, staan met sy hand bokant sy oë asof hy iets in die verte soek. Soek dan kamma al laer en laer.

“Wie’s da? Wie’s da? O … dis Veda!”

“Veda! Wie’s da? Veda!” koor sy vriende saam.

Die juffrou staan skielik in die deur. “Wat gaan hier aan, klas? Sit, Stefan! Skaam jy jou nie dat jy die nuwe meisie so teister nie. Gaan aan met julle werk.”

So word Elfie toe Wie’s-da-Veda.

As ek ’n nuwe naam het, gaan my lewe ook nuut word? wonder ek. Toe nie.

Ek hoor te duidelik hoe die dogters onderlangs lag oor my te groot skoolklere, hoe die seuns spot oor my maer bene: “Wednesday-bene … when’s dey gonna break?” Die meeste pouses sit ek alleen in die biblioteek of huiwer op die rand van ’n groep wat my ignoreer. Die ergste marteling is om terug te stap woonstel toe met ’n giggelende groep voor of agter my.

Soms lê daar ’n veertjie in die tuinpaadjie na die woonstel en ek bêre elkeen in ’n Sharps Toffee-blik. Elke middag moet ek diep asemhaal voor ek die voordeur oopsluit. Dit bly ’n vreemde plek waar ek my eie hartklop in die stilte hoor. Die reuk van Ma se haarsproei hang nog in die lug, die kort gordyne lyk armoedig, die stowwerigheid van ’n plek wat heeldag toestaan krap in my neus, die drup-drup van die kraan in die kombuiswasbak tel die sekondes af.

Party dae gooi ek my tas neer en gaan lê op my bed sonder om eers ’n venster oop te maak of ’n glas melk te drink. Ander dae sit ek my radio hard aan, stoot die skuifdeur na die balkon oop en laat die son inkom. Daardie dae gee ek nie om om die aartappels op die kombuistafel te skil of tafel te dek vir aandete nie.

Waaroor praat ons, ek en Ma? Sy is soggens voor my by die huis uit, netjies in haar werksdrag, ’n swart pakkie met ’n wit bloes, haar hare in ’n rol agter haar kop, haar grimering swaar as sy gehuil het in die nag, ligter as sy goed geslaap het. “Tatta, onthou asseblief om die hoenderstukke in die oond te sit vanmiddag.” “Moenie vergeet om ná skool tamaties te koop nie. Ek los geld op die tafel.” Sulke gesprekke. Saans kom sy moeg en geïrriteerd huis toe. “Kon jy nie ten minste jou eie koffiebeker uitspoel nie?” “Ek het jou dan gevra om die nat wasgoed te gaan ophang!” “Sit neer daai boek en kom help kos maak.” “Tel op jou voete, jy slof.”

So bly ons noodgedwonge in een klein spasie saam, terwyl die afstand tussen ons al groter word.

Nou is dit ek wat saans my kamerdeur toemaak. Soms huil Ma in die laatnag, dan druk ek die kussing oor my kop sodat ek haar nie kan hoor nie. Ek kan haar tog nie troos nie. Ek wag nog elke aand vir my grys engel. Hy kom nie. Dit, eerder as ons lewe, ons huis, my skool, is my grootste gemis.

Vandat ek kan onthou, was ek bewus daarvan dat ek Pappa se poplap is. “Hallo, my spesiale prinses,” was sy groetwoorde toe hy saans tuis kom. Dit was vir my wat hy geterg en gekielie het, vir my wat hy met ’n knipoog ’n pakkie lekkers agter sy oor of uit sy mou getoor het, vir my wat hy Saterdae gevat het om te gaan visvang. Hy was die een wat my tandarts toe geneem het toe ek tandpyn gehad het, my dokter toe gevat het toe ek waterpokkies gekry het. Het ma tóé al nie van my gehou nie?

Met my sakgeld koop ek ’n plastiekfotoraam waarin vier foto’s kan pas. Die een van my ma wat my vashou toe ek ’n baba was met Pappa se weerkaatsing in die venster, een wat ’n straatfotograaf van my en Pappa geneem het die dag toe ons stad toe was. Een van Pappa met sy groot visvangs en ’n swart-en-wit prentjie wat ek uit ’n tydskrif geknip het van ’n pa en dogtertjie wat saam visvang.

Ek wys vir Ma. Sy draai haar kop weg. “H’m,” is haar antwoord.

En ek bly wonder: is daar ooit ’n einde aan verlange?

“Ek moet hierdie naweek ’n verkoopskonferensie bywoon. Ek het tannie Annie gebel, sy sal jou kom haal, dan kuier jy en Mara ’n slag saam voor julle eksamens begin.”

Dit is te vreemd. Ek en Mara is vreemd vir mekaar. Sy en Carmen is nou beste pêlle en hulle het al twee ouens wat saam met ons gaan fliek en saam gaan milkshakes drink. Ek is die simpel vyfde wiel aan die wa wat aan niks kan dink om te sê nie en bloedrooi word as een van die seuns in my rigting kyk.

Wat sien hulle? ’n Plankdun ou meisietjie met rooi hare en groenblou oë en sproete oor haar neus, wie se arms en bene nie altyd wil saamwerk nie.

Mara babbel aanmekaar oor Peet. “Wat dink jy van Peet? Ek en Peet … Peet sê … Peet vra … Peet … Peet … Peet.” Sy dra nou bloese met valletjies en stywe langbroeke en omlyn haar oë met ’n swart potlood sodat sy soos ’n nagapie lyk.

“Kom ons gaan stap,” stel ek Sondagoggend voor. Dis laat September, die lenteson spikkel deur die groen-groen blare van bome wat ek so goed onthou. Die geur van jasmyn hang om ons. Sonder dat ons so besluit, beland ons in ons ou straat en gaan staan voor ons ou huis. Daar is ’n rooi kar in die inrypad, ’n blou fiets op die grasperk. Helder geblomde gordyne hang voor die sitkamervenster en die stoep is vol potte met varings in.

“Kan ek julle help?” vra ’n vrou in ’n pienk sweetpak met ’n serp om haar kop gedraai, ’n besem in haar hand.

Mara trek my aan my hand weg. “Nee dankie, tannie. Kom.”

Afsluiting. Koebaai Berea.

Ek is tegelyk bly en hartseer toe haar ma my die Sondag huis toe neem.

Daardie Desembervakansie is ek heeldag alleen in die woonstel en word als uiteindelik te erg. Aan die begin het ek gedink ek sal môre beter voel. Ek het nie. Kon nie ophou huil nie. Dit was asof ’n gordyn om my toegetrek het sodat ek wou versmoor tussen die donker voue. Alles ruik na hartseer, so klam en muwwerig. Ek staan nie op nie, my lyf is net te swaar om tussen die lakens uit te sleep. Ek ruik myself, sweterig, suur, drassig soos rivierwater. Ek weet nie meer hoeveel dae laas ek gebad of hare gewas of selfs tande geborsel het nie. Ek word vuiler, meer flodderig en ellendiger en donkerte lê soos ’n swaar gewig op my.

My pa is weg.

Toe verloor Ma haar humeur.

“Jy staan nóú op. Of ek sleep jou hier uit. Sies man, dit ruik erger as ’n boemelaar se vodde hier binne. Kom nou! Op is jy. Die badwater is ingetap en ek gaan jou persoonlik kom skrop! Komaan, Elfie, liewe Vader, jy het sweerlik die helfte van jou gewig verloor. Nee-nee-nee. So kan dit nie aangaan nie. Jy kom môre saam met my werk toe. En jy gaan vanaand éét. Hoor jy my?”

Dit gaan tog daarna beter. Die donkerte om my wyk stadig, sekerlik danksy die pille wat die dokter na wie Ma my in haar etenstyd geneem het, gegee het. In die plek daarvan bly ’n grysheid, ’n enersheid agter, wat maak dat ek oor niks bly is nie, oor niks hartseer of kwaad is nie. Dit is makliker so.

Dokter Stewart leun vorentoe en skakel die bandmasjien af. “Ek dink ons moet nou halt roep. Jou kans gee om eers bietjie te rus.”

Met my hand oor my oë probeer ek my asemhaling reguleer soos die fisio’s my geleer het: tong teen jou botande, trek vir drie tellings lug in deur jou neus, hou vir vier tellings en blaas dit deur jou lippe uit.

Hy vat my hand weg en lig my ken. “Pixie, jy is gedaan. Ek gaan nou vir ons kos bestel en as jy klaar geëet het, klim jy in die bed. Ek gaan vir jou iets gee om te slaap en môre vroeg gaan ons aan met hierdie gesprek.”

“Maar—”

“Ek dink ek weet wat jy wil sê. Moet ons nie jou ma probeer kontak nie? Onder normale omstandighede het ek dit reeds gedoen, maar ek wil eers die volle verhaal hoor. En jy is gedreineer, jy moet eers weer energie opgaar. Reg so?”

San is aan diens en help my stort en nagklere aantrek. “Ek is so bly jy het alles onthou, dat jy weet wie jy is, maar ek kan sien die herinneringe het jou baie ontstel. Ek het vir jou kakao gemaak, drink dit en rus nou.”

“San, wag. Ek moet vir iemand sê, sit eers hier by my.” Nie eers haar kalmte kan die ontsteltenis in my stilmaak nie. “Ek kán nie alles onthou nie. Ek weet nie hoe ek hier gekom het nie. Dis soos ’n deur wat toegegaan het en die laaste ding wat ek onthou is my matriekeksamen, daarna is daar niks. Niks!”

“Pixie, luister vir my, dis absoluut normaal. Mense wat in ’n motorongeluk was kan dikwels niks van die botsing onthou nie, selfs rugbyspelers wat ’n erge kopstamp kry, kan nie agterna onthou hoe dit gebeur het nie. Die brein skakel outomaties af, so lyk dit vir ons, om ons te beskerm teen die skok en trauma van wat gebeur het. Mettertyd sal daar dalk dinge terugkom na jou toe. Maar vir nou is dit genoeg dat jy so ver gekom het.”

Seker, ja. As ek net eers met Ma gesels het. Sy sal seker weet hoe ek in Durban beland het.

San sit die daklig af, skakel my nagliggie aan. “Maak toe jou oë, ek sit hier by jou tot jy slaap. Nag, Pixie.”

“Jy lyk sommer beter vanoggend. Goed geslaap?” vra dokter Stewart toe ons die volgende dag in sy spreekkamer sit.

“Ja dankie, dokter. Ek voel vanoggend ligter en ek wil graag klaar vertel sodat ons my ma kan bel.”

“Ek ruil net die band in die masjien, dan begin ons. Kry solank tee en koekies.”

“Nee, dankie. Ek moet eers met jou praat. Dokter, sê my eerlik – gaan ek ooit onthou hoe ek voor daardie kar beland het?”

Hy kom sit op sy hurke voor my, vat my hande in syne en kyk my vas in die oë. “Ek kan dit nooit belowe nie, maar ek het ’n vermoede ek gaan afleidings kan maak sodra ek alles van jou weet. En ek belowe jou een ding, ek gaan saam met jou soek totdat ons uitgevind het wie jou so mishandel het. Jy moet net onthou jy is nie alleen nie. Nee … moenie huil nie, ek het nie meer tissues nie!”

Ek drink tog tee en lag selfs vir die grappie wat hy maak nadat ek sê ek voel minstens nie meer onsigbaar nie. “Het jy gehoor van die pasiënt wat by die psigiater kom en sê hy voel asof niemand hom raaksien nie? Toe sê die dokter, ‘Hè? Het iemand gepraat?’ ”

Toe die tee klaar is, knik hy vir my. “Is jy reg om te begin?”

“Ek is.”

Ek het ’n jaar lank antidepressante gedrink. Dit het gemaak dat die eerste Kersfees ná Pa se dood, my verjaardag einde Februarie, die hartseer van herfsblare, die eerste herdenking van daardie Sondag in Julie in Amanzimtoti, Ma en Pappa se verjaardae en troudag, die ergste koue van die winter, die lentereuk van die jasmyn wat teen Lindenhof se muur groei, my goeie rapport en Ma se bevordering tot hoofverkoopsdame kom en gaan sonder dat ek emosioneel daaroor raak. Alles bly kleurloos, skakerings van grys.

Tussen my en Ma lê dieselfde grysheid. Ná my insinking in Desember toe ek minstens vir ’n paar dae gevoel het asof sy my werklik raaksien en tog dalk nog vir my omgee, het sy net ná Nuwejaar een oggend vroeg in my kamer gekom en Pa se blokkieshemp op my stoel gesien. Ek het dit uit my kas opgediep oor Kersfees en, nadat ek dit nat gehuil het, dit platgestryk, oor my stoel gehang en weer saans met hom begin gesels.

“Wat gaan hier aan? Waar kry jy die hemp? Wat maak jy daarmee?”

“Ek het dit gebêre. Dit help as ek te veel verlang.”

Haar gesig vertrek, haar oë blits. Toe draai sy om en ek hoor hoe die voordeur agter haar toegaan.

Het my ma nog ’n hart? Hoe kan sy wegstap en op die bus klim en gaan werk en nie een woord vir my sê nie? Hoekom práát sy nie met my oor Pappa nie? Vandat sy my vertel het dat hy ons onversorg agtergelaat het, het sy nog nooit weer sy naam genoem nie. Wil sy hom nie met my deel nie? Was ek dan verkeerd om te dink dat sy tog vir my omgee toe sy my dokter toe vat? Toe sy vir my ’n horlosie gee vir Kersfees?

In die jaar ná my pa se dood het ek net een ding vir seker geweet. My ma kan my nie vergewe nie. Sy blameer my vir sy dood. Wens sy dit was eerder ek wat teen die rotse vasgeslaan is? Eerder ek wat in die Wespark-begraafplaas begrawe lê? Ek lees Elisabeth Eybers se “my hele lewe lank sal ek moet boet” en ek wonder of ek sterk genoeg is.

In daardie tyd vind ’n kopskuif binne my plaas. Ek is op my eie. Ek is alleen. Hoekom moes Pappa doodgegaan het? Ek is nie vir hom kwaad nie, hy het my dan probeer red. Maar ek is kwaad vir die Here. Ek kan nie, wil nie verstaan hoekom Hy my verlaat het nie. Hy stuur nie eers meer die engel nie. Die verlatenheid sit soos ’n gewas in my binneste, ’n harde klont.

Dinge gaan beter in die jaar daarna. Ma koop met Mister Cohen se hulp ’n tweedehandse oranje Datsun 1200. Met haar verhoging huur sy ’n televisiestel en ek kan Three’s company kyk en by die skool daaroor saampraat, “Let’s get physical” neurie, en saam oe en aa oor Charles en Diana se soen op die balkon ná hulle troue. En saans kan ons die televisie aanskakel en die gebrek aan kommunikasie tussen ons maskeer. Ons lag soms saam vir ’n komedie, maar ons gesels nie. Ek luister nuus op my radio, kyk nuus op ons klein televisiestel en praat in my kop met Pappa daaroor.

My geskiedenisonnie, ou Lange, lig sy wenkbroue en prys my op sy lomp manier omdat ek weet wie Lech Walesa is wat veg vir die regte van werkers in Pole. Sku om weer uitgesonder te word, steek ek nie my hand op toe hy vra wie weet van Operasie Protea in Angola nie. Ek hou al meer vir myself.

Ek doen min of meer wat Ma my vra, sy sorg vir skoolgoed en bring soms klere of lap huis toe, maar die kleremaak en aanpas is vir ons albei ’n straf en later gee sy geld sodat ek vir myself nuwe tekkies of ’n begeerde ruffle-belt by Linden Bazaar kan koop. Saans eet ons by die eetkamertafel, kos wat sy koop en beplan en ek moet maak, maak ons beurte om skottelgoed te was, sê iets oor die weer, die nuus, die werk, die skool, maar praat nooit ooit oor die hart, die hartseer, die alleenwees, die verlatenheid nie. En nooit kyk sy direk na my nie, altyd skrams, praat so half oor my kop of verby my skouer. Sondae ná kerk ry ons begraafplaas toe om van die Just Joey-rose wat sy in die tuin by Lindenhof gepluk het op Pappa se graf te sit. Die soet reuk maak die binnekant van die kar vol hartseer.

“Jy is elke naweek met jou neus in ’n boek, of aan die teken. Kuier julle klomp dan nooit saam nie? Annie vertel dat Mara elke naweek by ’n partytjie is.”

“Ag Ma, ek is nie in die ‘in’-groep nie en buitendien is ek nie lus vir die simpel partytjies nie, ek wil eerder werk aan my kunsprojek wat volgende week moet in wees.”

Uit die hoek van my oog sien ek hoe sy frons en haar kop skud, maar ek trek my kamerdeur ferm agter my toe en sit my radio kliphard aan. Een … twee … drie … vier …

“Sit sagter, Elfie!”

Net voor Kersfees word ek wakker met die wete dat daar iemand in my kamer is. Ek klem die laken tussen my vuiste vas, styf teen my hart. Blaas my asem rukkerig uit. In die hoek van my kamer skyn ’n vae lig en weet ek dis my engel.

“Pappa?” My stem skaars meer as ’n asemteug. Daar is geen antwoord nie, maar ek hoor in my kop hoe hy sê: “Ek is oukei.” Dan verdwyn die lig en ek los my laken en krul myself in ’n vraagteken en wens ek kan ook oukei wees.

So kom ek deur standerd sewe en standerd agt sonder om raakgesien te word, met min woorde, minimale kontak met onderwysers, met enkele vriende en vriendinne – die skames en slimmes en onsportiewes, dié wat boeke lees en musiekinstrumente bespeel en vir wie handelsmerke op hulle klere of skoene onbelangrik is. Die randeiers.

Steeds praat ek en Ma net oor wat aan die rand van ons dae lê, gesprekke wat tussen enige twee vreemdelinge ook sou kon plaasvind. Die weer, die twee ander verkoopsdames in die juwelierswinkel, ’n wiskundetoets, ’n skooluitstappie, hoe duur tamaties geword het. Saans in my bed peil ek versigtig die woedekol in my binneste, dink oor die woorde wat ek iewers gelees het: ’n Hart wat vol woede is, het nie plek vir iets anders nie, veral nie vir liefde nie.

In standerd nege is daar ’n skooltoer Wildtuin toe en Ma dring daarop aan dat ek moet gaan. Uit die bus waai ek effens vir Ma wat my kom afsien het op haar vry Saterdagoggend. Sy draai om en stap weg voordat die bus vertrek en ek waai maar verder vir die ander ma’s en pa’s wat nog wag.

Elke oomblik van daardie week voel ek asof ek asem ophou – dis ongelooflik hoe alles met my praat: die veld, die gras wat geel waai in die wind, die wonderskone bome met massiewe geknoetste stamme langs die rivierlope of in die kampe, die mopanibosse naby Skukuza, die olifant by Pretoriuskop, die vuurtjies wat saans brand, die sterre, die stoflug en stofpaaie – is dit hoe verliefdheid voel? “Africa’s kiss tastes of dust,” onthou ek ’n aanhaling uit ’n boek van Jan Smuts, en ek verstáán dit. Kan ek nie maar wegkruip en hier agterbly nie? Ek wil nie teruggaan nie. Die beste van dié week is die diep besef in my dat ek gelukkig is, dat ek wéét ek wil iets in my lewe doen waar ek in die veld kan wees, waar ek hierdie verwondering met ander mense kan deel. ’n Veldwagter dalk? Ek hou vas aan daardie gedagte asof dit ’n kleinood is, en die toekoms lyk nie meer so grys nie. En ek dink baie aan Mary wat ook so na aan die veld gelewe het.

In die lente van standerd nege word ek vroeg wakker met ’n swaar, dowwe pyn op my maag. Ek weet wat dit is toe ek die bloed sien – Ma het my ’n jaar terug al ’n boekie gegee: Wat meisies moet weet – maar ek skrik nogtans.

“Ma, Ma, kan jy gou hier na my kamer toe kom?”

Haar oë skiet vol trane. Hoekom? “Ek gaan haal vir jou doekies en ’n pynpil.”

Sy bring tee en sê ek hoef nie skool toe te gaan nie. Dan is sy seker tog bietjie lief vir my?

Ons eet die aand slaai en hoenderstukke wat sy gemaak het. “Ek is bly jy voel beter, Elfie. Nou is jy ook groot. Dis nie lekker nie, maar dis maar deel van vrouwees.”

“Ja, seker, maar dis nogal seer. Elk geval, dankie vir die kos, Ma.”

Sy glimlag en rol haar skouers.

Dis nou of nooit. My hartklop versnel, my hande skielik sweterig.

“Ma,” ek maak keel skoon, “dis nou al amper drie jaar. Ons praat nooit daaroor nie. Eintlik praat ons nooit oor enigiets belangriks nie.”

Die eerste keer in ’n lang tyd kyk sy my vol in die gesig, haar oë wyd gerek. My ma is mooi. Haar vel is glad en helder, haar hare weer dieprooi met die hulp van bokskleursel op ’n Vrydagaand elke paar weke, haar figuur viets. Sy is nog nie eers sewe-en-dertig nie. Jonk genoeg om nog uit te gaan, dalk weer te trou? Is daar dalk al iemand? Is dit die rede vir die sagtheid wat ek vandag in haar raakgesien het?

“Dis seker nie nodig om so dramaties te wees nie. Ek probeer net my bes.”

“Ek wil net weet hoe gaan dit regtig met Ma.”

Sy kyk oor my kop, praat weer met die muur daar agter my, maar minstens práát sy. “Daar is nie ’n dag wat ek hom nie mis nie.” Sy vryf oor die tafelblad, heen en weer, met haar plat hand. “Hy was die liefde van my lewe … hy was sag … jy weet mos hy het nooit hard gepraat nie, nooit geraas nie. So anders as my pa.” Sy trek die altyd teenwoordige potjie handeroom nader en masseer ingedagte haar hande. Die laventelreuk se bekendheid troos. Buite die oop skuifdeur toeter ’n motor en ver weg roep twee vroue oor en weer vir mekaar in Sotho. Hier binne wil ek skaars asemhaal.

“Dit was maar my broer se dinge wat my pa so gemaak het,” sê Ma stadig. “Boeta was die erfgenaam, die kind wat al my pa se mislukte drome moes waar maak. Maar hy was anders. Hy wou nie rugby speel nie, het nie in die boerdery belanggestel nie, wou eerder saam met ons ma koeke bak. Hy was bang om teen die windpomp uit te klim, het aspris misgeskiet as pa hom gedwing het om te gaan jag, het heeldag geteken en sy prente teen sy kamer se mure geplak. Eendag was my pa so kwaad vir hom, toe skeur hy al die tekeninge af. My broer het vir maande daarna nie met hom gepraat nie. My pa het al harder en kwaaier geword.”

“Was hy … hy was seker gay?” vra ek versigtig.

“Daai tyd het ek nie geweet van gay nie, maar my broer was nie net kunstig nie, hy was ook anders. Seunsgoed was vir hom sleg en hy het dit nie maklik op skool gehad nie. Tot sy matriekjaar, toe ’n nuwe onderwyser by die skool aangekom het. Boeta het skielik verander, sterker geword, opgestaan teen my pa en net ná die eindeksamen aangekondig hy gaan saam met die onderwyser Amerika toe. My pa het hom met ’n sambok by die deur uitgejaag.” Sy sug en lig haar wenkbroue. “Nou ja, dit was ook die einde van my skoolloopbaan, van die plaas en van my ouers se gesondheid.”

“En wat het van hom geword?”

“Jare nadat jy al gebore is, het ’n ou vriendin van my ma, wat in die poskantoor in Warmbad gewerk het, vir my ’n brief aangestuur wat Boeta uit San Francisco gepos het. Ek het teruggeskryf, vir hom vertel ek is getroud en het ’n kind, maar hy het nie geantwoord nie. Ek wonder of hy nie dalk daardie vreemde longsiekte gekry het waarvan die koerante skryf nie. Dit kom glo veral onder jong mans in San Francisco voor. Vir al wat ek weet is hy ook dood.”

’n Traan rol teen haar wang af. “Jy wil weet hoe dit met my gaan, Elfie. Ek oorleef. Net-net. Ek was so gelukkig saam met jou pa. En alles is sommer net weggevat.” Haar gesig word hard, haar lippe dun getrek. “Dit moes so anders gewees het.” Vir ’n sekonde of twee kyk sy na my en ek verbeel my nie die flits van woede wat op my gerig is nie.

“Dis laat,” sy staan so vinnig op, die stoel kantel, “ek moet nog baie doen. Nag, Elfie.”

Nag, Ma.

Dit was nie aspris nie, Ma.

Ek verander daarna, groei selfs agt sentimeter. Pas uiteindelik in my skoolrokke. Die moontlikheid dat ek ook ’n vrou kan word, staar my in die gesig in die lang spieël in Ma se klerekas en ek voel skrikkerig oor die veranderinge in my lyf en in my kop en die vreemde bewustheid van my heupe wat swaai as ek loop en die warmte wat my gesig verkleur as ek sien hoe anders Rob Steenkamp, wat altyd teen my wedywer om eerste te staan in geskiedenis en biologie, na my kyk.

Waar ek altyd kon wegkruip in my klein kokon, voel ek nou blootgestel. Van daardie Sondag in Julie af, weet ek ek kan myself net beskerm as ek niemand naby aan my toelaat nie. Dit is amper met trots dat ek niks van myself gee nie, dat niemand in hierdie nuwe skool iets van my weet nie, afgesien van die punte wat ’n onderwyser nou en dan vir die klas uitlees.

Toe Ma vroeër die jaar oueraand toe is, het sy agtergekom ek word beskou as die stil enetjie en is sy aangemoedig om my meer te laat sosialiseer.

“Ag los my uit, Ma. Jy kan raas as ek swak punte kry, maar nie omdat ek nie lus voel vir lawwe partytjies en ‘beste vriendinne’-praatjies en skinderstories nie.”

Tog wonder ek of ek nou anders gaan word. Gaan hierdie transformasie, die ontluiking van ’n papie na ’n skoenlapper, die volgende jaarring in my lewe inlei? Onrus roer in my. Asof niks klop nie, alles effens van balans is. Veral toe Rob Steenkamp in die biblioteek na my toe kom en vra of ek ná skool saam met hom by Spiros se kafee ’n melkskommel sal gaan drink.

Ek kry skaars die “oukei” uit. Verwens die warmte wat van my nek af opstyg en oor my gesig sprei. “Kry jou by die hek in Vyfdestraat,” sê hy en gee my boarm ’n drukkie, waarvan ek die tinteling voel tot die skoolklok lui.

In daardie tyd lees ek weer in die boekie wat my pa vir my gegee het oor Mary Livingstone se eerste liefde.

Mary

DRIE

Mary is amper sestien en word aangestel as ’n koshuisleier van die meisieskoshuis. Jacob Carruthers is leier van die seunskoshuis. Vir die eerste keer stap sy alleen saam met ’n seun, al is dit net na Mister Matthews se kantoor toe. Vir die eerste keer praat ’n seun direk met haar, al is dit net oor reëls en regulasies of koshuiskos.

Mary raak teen haar beterwete verlief. Ek is tegelyk warm en koud in sy geselskap, skryf sy in haar dagboek. As hy met my praat, gloei my gesig en as hy langs my stap bewe ek heeltyd. En nog meer romanties verklaar sy: Ek wil verdrink in sy bruin oë wat soos bergpoele lyk as die son daarop skyn.

Eendag roep Mister Matthews hulle albei, frons bekommerd. “Mary, jy en Jacob moet hierdie twee kinders na dokter Gush neem. Hulle het al twee ’n hoë koors en lyk nie goed nie. Ek is bang al die kinders word siek.”

Dit was al sterk skemer toe hulle terugloop. Hulle het die siek kinders by die dokter gelos. Dit is vroegherfs en daar hang die rokerigheid van houtvure in die lug. Uit een van die huise waar hulle verbyloop kom die reuk van uie wat braai en êrens lag ’n kind onbevange. Die klank van toonlere wat op ’n klavier geoefen word, laat Mary huis toe verlang. Sy is so bewus van die seunslyf langs haar, sy moet haar skouers doelbewus agtertoe trek om kalm te word.

“Dit klink of skarlakenkoors baie aansteeklik is,” praat Jacob oplaas.

“Ek het klein Jo-Anne se hand heelpad vasgehou. Siestog, sy het so gehuil toe die dokter sê sy moet daar bly.”

“Ek het gesien jy is so gaaf met haar.”

Hitte styg op van Mary se hals tot in haar haarwortels. Gelukkig is dit donker.

“My ma glo aan heuning en suurlemoensap om alle siektes gesond te maak. En rou uie. Ek dink ek moet vir die dokter heuning vat,” verander sy die onderwerp.

“Waar kry jy heuning?”

“Ek weet waar daar ’n verlate byenes is in ’n hol krans daar agter die skool.”

“Sal jy my gaan wys? Sommer môremiddag?”

Toe sy bietjie lank stilbly omdat sy nie kan praat nie, sê hy: “Ons moet dit so gou as ons kan vir die dokter vat.”

“Ek kry jou by die agterhekkie ná skool,” sê sy gesmoord.

Dit is koud en die wolke hang laag toe hulle mekaar die volgende dag by die hekkie kry. Mary stamp haar skoen teen ’n klip in die paadjie waarlangs sy al dosyne kere gestap het. Sy vergeet van die lae tak net voor die krans en raak kortasem terwyl Jacob haar hare uit die takke moet losmaak.

“Ons moet gou maak,” sê sy, “hier kom reën.”

Met stokke krap Jacob en Mary die heuningkoeke los tot in die emmer wat hulle saamgebring het. Die koeke is al swart van ouderdom, maar steeds gevul met heuning so soet dat dit hulle kele brand.

“Dit is so lekker, ek kan dink dit maak mens sommer dadelik gesond,” sê Jacob terwyl hy sy vingers een vir een aflek. “Te veel hiervan sal mens dalk siek kan maak,” lag Mary en vee haar taai hande aan die rotswand af.

Hy is opeens by haar en druk haar vas teen die krans, sy lyf hard teen haar. Sy proe die heuning op sy lippe en vir ’n oomblik is sy so verbaas dat sy doodstil bly staan. Toe druk sy hom weg en vou albei haar vuiste voor haar mond, haar oë verskrik op hom.

“Ek is jammer, Mary. Ek het gedink jy hou van my.”

Toe sy nie antwoord nie, sê hy half binnensmonds, “ … want ek hou van jou.”

Sonder ’n woord tel sy die emmer op. Sy weet nie hoe om te antwoord nie. Sy kyk op na hom en hy soen haar weer saggies voordat hy sy hand om hare vou oor die hingsel van die emmer. So, sonder woorde, stap hulle tot waar hulle die skool se dak kan sien.

Dit begin sag reën en hulle hardloop verder tot by die hekkie. “Ek sal die heuning later na die dokter vat. Sien jou môre.” Hy druk haar voorarm vlugtig en verdwyn in die mistigheid wat saam met die reën gekom het. Sy bly staan, die wonder van haar eerste soen soos ’n veld vol skoenlappers in haar binneste. Alles ruik anders, lyk anders, ís anders. Lyk sý anders? Gaan almal aan haar gesig sien hoe sy voel? Is sy nou ’n slegte meisie? Erger nog, dink hý nie dalk so nie?

Sy weet sy is nie meer dieselfde Mary as wat sy gister was nie. Sy is dan gesoen.

Hulle sien mekaar dikwels, maar hy soen haar net een keer weer agter die koshuis. As hy vir haar kyk bloos sy, as hy vir haar glimlag klop haar hart vinniger. Sy sukkel om haar glimlag wat kort-kort soos die son tussen vlieswolke wil deurbreek, te beteuel. Haar lyf voel anders, ligter, asof sy sweef. Haar oë kyk anders en alles is mooi en sy lag haarself wakker in die nag. Sy wens soms sy kan iemand vertel van Jacob, maar meestal koester sy die gedagte aan hom en aan sy lippe op hare soos ’n kosbare geheim wat sy nooit wil deel nie.

Ek en Rob is al van standerd agt af saam in die geskiedenis- en biologieklas en ons gesprekke was altyd oor werk of die onnies, maar dis eers in ons matriekjaar wat daar ’n nuwe element inkom. Rob kan verbasend lekker gesels.

“My ma wil hê ek moet ’n dokter wees, maar ek wil eintlik ’n navorser word – ’n kuur uitvind vir kanker, of kindersiektes uitwis … so iets, klink seker simpel.” Hy speel met die strooitjie, trek sirkels in die melkskommel se skuim.

“Glad nie, Rob, jy kan dalk eendag ’n tweede Chris Barnard wees.”

Sy glimlag is soos sonskyn. “En jy, Veda, wat wil jy met jou lewe doen?”

“Ek wil ’n veldwagter word en stories skryf, dalk eendag ’n boek?”

“Waar gaan jy swot?” vra hy.

Op daardie oomblik stap van die ander matrieks by die kafee in en hoef ek nie te antwoord nie. Ma het klaar gesê daar’s nie geld vir verdere studies nie, tensy ek ’n beurs kan kry of nauurs gaan leer.

Ek hou van Rob, en ek weet hy hou van my, maar dit voel nie soos ’n romanse nie. Ek voel gevlei eerder as verlief. Ons het vir ’n paar weke aan die begin van matriek gaan melkskommels drink, saam gesit by atletiekbyeenkomste, pouses gesels en in die klas oor werk gepraat. Toe nooi hy my na sy ouers se huis vir sy verjaardagete. ’n Vrydagaand. Net ek.

Ek trek die rok aan waarin ek aangeneem is en Ma draai my hare in ’n Franse rol agter my kop en leen vir my haar pêreloorbelle. “Dit pas mooi by die roomkleur van jou rok.” Ek voel mooi.

Rob dink ook so. “Sjoe, jy lyk mooi!” sê hy toe hy my kom oplaai in sy ma se Mercedes.

Ons ry op teen Northcliff se hang uit tot amper heel bo op die koppie. Asof die dubbelverdiepingpilare by die ingang, die groot voordeur en die marmervloer en -trappe in die ingangsportaal nie al genoeg was om my heeltemal verbouereerd te laat voel nie, laat sy ma, in ’n lang, groen satynaandrok, se groetwoorde my bietjie selfvertroue heeltemal verbrokkel.

“Is jy nou Veda? Goeiste, maar jy is klein teen Rob. Ai, seun, het jy nie vir haar gesê ons trek aan vir aandete nie? Aandklere, nie kerkklere nie.”

“Kom kyk die uitsig,” stuur Rob my uit na die stoep – wat seker twee maal groter is as ons hele woonstel. Soveel weelde het ek nog nooit gesien nie. Selfs Rob is anders, styf en gespanne. Ek besef glashelder dat ons net sowel op verskillende planete kon bly – ons wêrelde is onversoenbaar.

Ek het nog nooit so baie messe en vurke gesien nie, kon skaars die geregte wat een na die ander deur blanke kelners bedien is, baasraak. Die wyn proe suur, maar ek wil nie lyk asof ek wyn nie gewoond is nie en vat weer ’n slukkie, net toe Rob se pa sy lang relaas oor die ekonomiese vooruitsigte van ons land te midde van sanksies onderbreek om met my te praat.

“En toe, juffrou, wat dink jy hou die toekoms vir Suid-Afrika in?”

Alles trek toe: my verstand, my are, my keel. Ek stik so dat een van die kelners my na ’n kleedkamer moet begelei. Tussen marmer en spieëls en goue krane soos swane sit ek op die toiletdeksel en wonder of ek deur die venster kan uitklim. Teruggaan kan ek nie. Ek het so ’n gek van myself gemaak en nou het my kerkrok nog rooiwynvlekke ook op. Ek moes nooit gekom het nie.

“Veda? Voel jy al beter?”

“Rob, kan jy my asseblief huis toe vat?”

“Maar … my ma het spesiaal ’n verjaardagkoek laat bak. Wil jy nie net daarvoor bly nie?”

“Asseblief, Rob?”

Ek gaan vra darem verskoning, sê ek voel nie lekker nie, maar dankie vir alles.

Ons ry in doodse stilte terug Linden toe. Hy hou in die straat stil en draai na my toe.

“Ek is jammer, Veda, my ma is so—”

“Sjuut.” Ek hou my vinger voor sy mond. “Ek pas nie by jou nie, ek is jammer.”

Voordat ek die deur kan oopmaak, trek hy my nader en soen my. Sy stem is skor en hy vryf aanhoudend oor my arms. “Ek hou van jou, Veda. Jy is slim en jy weet van dinge. Anders as meeste van die ander matriekmeisies kan jy gesels en … jy is … Asseblief, wees nog my vriendin?”

“Oukei, ons bly vriende. Nag, Rob.” Voordat hy sy deur oop het, het ek al teen die paadjie afgehardloop en teen die trappies op.

Ma het lank ná my eers by die huis gekom van haar werksfunksie en ek het, toe sy die volgende dag vra, vertel van die oorweldigende weelde van die huis. Niks oor my oneervolle vertrek nie. Ook nie oor my eerste soen nie. Die soen wat my lank laat wakker lê het, laat wonder het wat Pappa sou gesê het. En hoekom ek nie meer opgewonde is nie. Gaan ek ooit in my lewe myself toelaat om lief te wees vir iemand? Gaan die vrees om daardie persoon te verloor sterker wees as die moontlikheid van geluk?

Ons praat nog, ek en Rob, ons bly vriende, maar ek het nie eers vir hom gesê ek verjaar vandag nie.

Ek is agtien. Niemand by die skool weet nie. Niemand wens my geluk nie. Dit is maar net nog ’n dag. Maar ook nie. Vroegoggend het ’n grysblou veertjie op die paadjie voor my gelê en heeldag het die las van my gedagtes, my onthou, my hartseer op my skouers gelê, totdat ek skaars my tas kon optel om huis toe te loop.

Nou sit ek hier by die gedekte tafel en wag vir Ma. Sy is laat. Vanoggend net ná ses het sy my skouer geskud. “Wakker word, Elfie, ek wil net geluk sê voor ek gaan. Ek moet vroeg by die winkel wees. Ek bring jou geskenk vanaand. Bye, ek bel vanmiddag.”

So anders as Pappa wat my altyd wakker gesing het. Hy het van verjaardae gehou. Ballonne opgeblaas en vir Mamma gevra om ’n spesiale koek te bak. Moeite gedoen. Presente weggesteek. Rympies op papiertjies geskryf sodat dit ’n skattejag geword het.

Eerste wenk: KYK IN DIE LAAI, DAAR WAAR JY VIR MY TOTSIENS WAAI.

In die laai onder die sitkamervenster nog ’n papiertjie: LIG DIE DEKSEL OP EN KYK WAT KOOK IN DIE POT.

In die kastrol is die briefie waarop staan: NOU WORD JY WARM, LIG OP JOU ARM. En daar op die rak bokant die stoof steek ’n pakkie in rooi geskenkpapier uit.

Gille van plesier, hy wat uit sy maag lag. “Só moet ’n verjaardag mos wees,” sou hy elke keer sê. “Mens moet lag, sodat jy heeljaar vrolik kan wees. Jy mag nooit huil of kwaad word op jou verjaardag nie.”

Pappa.

Trane dam op agter my oë. Heeldag al. Saam met die gewig wat my wil smoor. Maar ek mag nie vandag huil nie.

Ma het laatmiddag gebel, uitasem geklink. “Ek gaan bietjie laat wees, ek bring sommer vir ons ’n wegneemete.” Ek verjaar, Ma, kan jy nie maar vandag liewer vroeër terugkom nie?

Haar wange is bloedrooi toe sy teen skemer instap, haar oë onnatuurlik blink. “Skuus, Elfie, ek moes wag dat Sam jou geskenk klaarmaak. Kyk, ek hoop jy hou daarvan.”

Uit die SC Jewellers-boksie kom ’n dun silwer ketting met ’n plaatjie in die middel waarop ER 18 gegraveer is. Dis mooi. Ek ruik iets vreemds aan haar toe sy dit om my nek vasmaak. Iets soos naskeermiddel. Ma?

Ek moet iets sê, maar my tong is te dik in my mond en ek weet ek gaan huil as ek praat.

“Hou jy daarvan?”

Ek knik my kop op en af, weet my oë swem in trane.

“Kom ons eet, ek is nogal honger.” Sy maak die houer oop en dadelik ruik ek dit.

“Ma weet ek eet nie vis nie.”

“Ag, die hoenderplek was al toe, en die viswinkel langsaan het so lekker geruik. Kom nou, dis heerlik.”

Ma weet ek eet nie vis nie. Die woede is witwarm in my. My hele lyf bewe.

“Ma wéét ek eet nie vis nie. Sal nooit vis eet nie. Ma weet hoekom, maar Ma respekteer my nie!”

“Elfie—”

“Nee, Ma, ek het Veda geword. Elfie bestaan nie meer nie. En dis nog net hierdie jaar wat ek hier bly. Ek het werk gekry smiddae by Linden Bazaar en as ek matriek het, sal ek weggaan en hoef Ma nooit weer na my te kyk en te weet wat Ma verloor het nie. Ek gaan kamer toe.”

Voor ek die deur toeslaan, hoor ek hoe sy sê: “En dit oor vis?”

Sy kom groet nie voor sy die volgende oggend werk toe gaan nie. Kom terug met hoender. Sê niks oor die vorige aand nie. Asof dit nie gebeur het nie. Vertel van haar dag, vra uit oor myne. Ek dek die tafel af, was die borde, maak my skooltoebroodjies en bly wonder oor hoe mense kan praat sonder om enigiets van werklike betekenis te sê.

Ek werk twee middae ’n week en Saterdagoggende in Linden Bazaar, spaar die meeste van my salaris getrou in my Poskantoorspaarboekie en vra net vir Ma vir die nodigste skoolbenodighede.

“Jy sit heelaand met jou neus in jou boeke, jy het niks van jou matriekjaar nie. Ek hoor daar is ’n matriekkamp. Ek sal die geld gee as jy wil gaan.”

“Nee dankie, Ma. Ek moet sorg dat ek ’n goeie matriek kry.”

Dis net wanneer ek my verdiep in my boeke wat die gewig wat my wil platdruk effens skiet gee.

Waar onthou begin

Подняться наверх