Читать книгу Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai - De Wet Hugo - Страница 10
Оглавление6
Miek stap by die kombuis in terwyl Lisa se woorde deur sy kop maal. Waarvan het sy gepraat? ’n Nar met skerp tande? Hy’t gedink sy sou iets van die monsterhond sê. ’n Bose nar klink angswekkend genoeg om hom te laat wakker lê, maar op sý bangmaakskaal kom dit nie naby ’n massiewe hond met gloeiende rooi oë en vlymskerp tande nie.
Hy gaan sit by die kombuistafel. Daar’s weer daardie kriewelrige gevoel dat hy dopgehou word. Skielik gryp iets sy bene vas en hy skop onwillekeurig daarna terwyl hy opspring en sy knie hard teen die tafel stamp.
Sy vyfjarige sussie klim al snuifend onder die tafel uit en haar oë word tranerig.
“Jy’t my geskop!” skreeu sy en hardloop huilend na haar kamer.
Miek is dadelik spyt. Hy weet sy het maar net met hom probeer speel. Hy sal haar nooit aspris seermaak nie. Maar op die oomblik voel hy te verslae oor wat Lisa hom vertel het om te gaan kyk of sy sussie oukei is.
Sy ma kom by die kombuis ingestap. “Wat het nou gebeur? Hoekom huil Jana?”
“Sy’t onder die tafel gesit om my skrik te maak en toe ek opspring, het sy per ongeluk seergekry,” antwoord hy en laat sy kop moedeloos in sy arms sak.
Sy ma frons. “Toemaar, sy sal oukei wees,” sê sy en kom sit oorkant hom. “Maar wat’s fout met jóú, Miek?” vra sy bekommerd. “Ek kan sien jy’s nie jouself nie.”
Miek kyk op na haar en skud sy kop.
“Uit daarmee,” dring sy ma aan. “Ma’s weet wanneer hulle kinders hulle nodig het.”
“Ma sal nie verstaan nie,” sê Miek en trommel gespanne met sy vingers op die kombuistafel.
Hy kan sien sy ma se kop werk nou oortyd. Dis hoe haar gesig lyk as sy besig is om ernstig oor iets te dink. Sy gee ’n suggie en kyk hom direk in sy oë.
“Miek … word jy geboelie?” vra sy kalm.
Miek rek sy oë. “Nee, Ma! Glad nie,” antwoord hy en sien hoe sy ma haar asem verlig uitblaas.
“Goed, oukei dan. Ek het gehoop dis nie dit nie. Maar wát is dit dan?” Sy sit haar hand op syne. “Jy weet mos jy kan my enigiets vertel.”
As hy haar nie nou gaan vertel nie, sal hy dalk nooit weer die moed hê nie.
Hy sug diep.
“Ma, ek hoor en sien … goed.”
Hy weet sy ma is die tipe ouer wat hard probeer om oopkop en ondersteunend te wees. Hy byt sy lip en wag vir haar reaksie.
“Wat hoor en sien jy?” vra sy sagkens.
Miek huiwer. “’n Hond,” antwoord hy en voel hoe sy ore warm word.
Sy ma knik stadig. Hy weet presies wat nou in haar kop aangaan. Sy dink hy stres nog oor die hond wat hom gebyt het toe hy vier jaar oud was. Hy wil haar vertel sy’s verkeerd, maar dit gaan dinge net erger maak as hy nou sê hy dink hy word deur ’n monster geteister.
Sy ma vryf haar hande, ’n diep plooi tussen haar wenkbroue. “Miek,” begin sy saggies, “ons sal vir jou hulp kry …”
Miek sit vinnig regop. “Ek’s nie mal nie, Ma!”
Sy ma gryp sy hande vas. “Natuurlik nie, my kind. Ek sal dit nooit dink nie. Jy’s net onder geweldige druk met die trekkery én die nuwe skool.”
Miek kreun gefrustreerd. Hy wil eintlik by die kombuis uithardloop, maar hy dwing homself om stil te sit.
“Luister,” gaan sy ma voort terwyl sy sy arm vryf, “ek het toevallig vanoggend in die Vreesbaai Herald ’n advertensie gesien van ’n sielkundige wat spesialiseer in kinder- en tienerbehandeling. Dit sal mos nie skade doen as jy hom een of twee keer gaan sien nie. Wat sê jy?”
Miek is nie lus om na sy ma te kyk nie. Hy’s kwaad, maar nie seker of dit vir homself, vir die nuwe dorp of vir sy ma is nie.
“Doen dit vir my, asseblief,” sê sy pleitend.
Miek glimlag stram. Hy weet sy ma bedoel goed. Dit sal nie nou help om haar te ontstel nie.
“Oukei, ek sal daaroor dink,” sê hy.
Sy ma staan op. “Dankie, my kind.” Sy gee hom ’n drukkie voordat sy stil by die kombuis uitstap.
Miek kyk haar agterna, en toe sy met die trappe op verdwyn, laat sak hy sy kop in sy gevoude arms op die tafel. Hoekom het hy iets gesê? Nou het hy vir homself nog groter probleme veroorsaak!
Miek maak sy oë toe en probeer diep asemhaal. Maar in die stilte van die kombuis hoor hy skielik weer ’n vreemde, maar ook bekende geluid. Hy sit gespanne regop en luister. Dit kom uit die besemkas langs die wasbak aan die ander kant van die tafel. Hy staan versigtig op en begin stadig agteruit beweeg in die rigting van die voordeur.
Die geluid raak nou harder en duideliker. Dit klink soos ’n knor, of eerder …’ n brul!
Hy swaai om en storm by die deur uit.